Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
  • Trados pos n nuwe plasing 3 maande, 1 week gelede

    Kalahari
    Soms wonder ek of God lank gedink het voordat hy die Kalahari gemaak het. In Suid-Afrika het hy mooi plekke gemaak. Groenplekke met baie berge en plante. Bly- en speelplekke vir die mense van die land. Saamkomplekke vir die gewone mense.
    God het geweet wie in die Kalahari gaan bly. Mens en dier het Hy geken en gemaak.
    Dit is ʼn spesiale plek met spesiale mense. Dit is ʼn plek waar jy kan gaan om die seer van die lewe en die lelik van die wêreld te vergeet. ʼn Plek waar Hy geweet het jy naby aan hom kan kom. Waar niks jou aandag sal wegneem van Sy grootheid en die skoonheid van sy skepping nie.
    Die voorreg om daar te wees tussen die mense waar die seëninge van God belangrik is. Daar waar mens en dier oorleef op dit wat Hy gee. Hulle vra nie meer nie, hulle vra net dit wat hulle nodig het. Wanneer God dan die seëninge terughou, weet hulle steeds dat Hy groot is en dat alles op Sy tyd sal kom.
    Die Kalahari is al baie in lied en gedig besing. Soms mooi vasgevang in lirieke en woorde. Om egter self daar te wees en dit te beleef, maak alles duidelik. Dan verstaan jy die grootheid van die Skepping baie beter.
    Die rooi sand van die halfwoestyn en die yl plantegroei praat met jou siel. Dit ruk jou terug uit die kunsmatige wêreld waarin ons leef. Jy word geruk uit die wêreld waar mammon koning is.
    Die mense leef eenvoudig, maar hulle is gelukkig. Hulle koop nie die geluk nie, hulle ontvang dit van God.
    Dit is ʼn diep wêreld waar gesprekke waarde het. Dit is nie net gewone niksseggende praatjies nie. Dit het substansie. Dit vra vrae rondom goed wat saak maak. Die oorspronklike mense van die Kalahari is verstaan mense. Skugter en soms eenkant, maar hulle verstaan die lewe. Hulle ken die swaarkry en dan ook die geluk. Wanneer God gee, is hulle nederig dankbaar. Niks is vanselfsprekend nie.
    Hulle vat ook nie meer as wat hulle nodig het nie. Net genoeg. En dan ken hulle die waarde van dit wat God vir hulle daar gegee het. Min, maar genoeg.
    Hulle geloof is sterk. Glad nie Sondag-dominee-preek sterk nie. Hulle weet net dat God daar is en sal sorg, op sy tyd. Kla en kerm hoor jy nie.
    Hulle respekteer alles wat hulle het en dit om hulle wat deur die Hand van God gegee is. Dankbare mense, verstaan mense en deel mense.