Jongste aktiwiteit:

MAART 2019 Projek: UITSLAE deur Inkmoderator

Maart Projek: Intertekstualiteit

Wenners:
Gedigte:
GOUD:
1. Sprokieloos – Carma Shaw
2. Arboretum – Carma Shaw
3. My allerliefste – Anzé Bezuidenhout
SILWER:
1. Pop song – Charleine Collins
2. Binnevlug – Caren Kearley
BRONS:
1. Agterprater – Barbara Smit
2. Reddingspan – Ronnie
3. Lynne Lexow Dik sus praat
GORREL:
Geen

ARTIKELS:
1. Bring my die ou-ou tyding – Ano

VERHALE:
1. Die groot aptyt – Ronnie
2. Die drie skapies – Lynne Lexow
3. Teedrink by ouma – Bets Koen

GEDIGTE:
1. Bly by my – Palet
Jou vers is meer in die genre van ‘n pastische, maar jy het heel gerekend omgegaan met die bron teks, alhoewel ek voel dat die vervanging van een woord in ‘n sin eerder kopieëring is en nie werklik intertekstualiteit is nie. Die twee neologismes wat jy as voetnota aandui is dan nie eens deel van jou vers nie?

2. My allerliefste – Anzé Bezuidenhout
Ek knip en plak jou vers hier met “veranderinge”. Jou vers is ongelooflik mooi en ‘n pragtige voorbeeld van interteks. Jou nuutskeppinge is vars. Ek voel egter dat jy met beter woordekonomie ‘n sterker vers kon aanbied. Sien hieronder.
liefsteling, skenk, ja stuur vir my troos;
met mirre uit die dieptes
en sein jou bekoring
in safraangeel koring, kom stuur jou boodskap
in rooi (so helder soos die son)
en hanteer my teersag soos ‘n Noagsduif
omhels my met die groen van ‘n olyfblaar en;
sprei jou vlerke soos engellig – heilig en veersag

sout die brakwater van ons onseker tye
met die roer van jou hand, verkwik my
innerlike met ‘n wit engelsoen en
dra my na die rooi van die wegsakson –
jóú vlerke sal ons dan verder laat vlieg

3. Horeb – Marieta McGrath
Die neologismes is mooi. Ek hou van jou vers en dit is ‘n funksionele en lieflike interteks vers. Ek trap egter klei op sekere plekke met die woordorde. Jou vers is aangenaam.

4. Die slag van Vegkop – Palet
Ek dink jy het interteks hiermee bemeester. Ek dink jy verstaan mooi genoeg wat so ‘n opdrag verlang. Waak egter daarteen dat jou interteks nie ‘n pastiche word nie. Die neologismes is: Hemelse versoek en vlugsand; waar die eerste een nié regtig ‘n nuutskepping is nie en “vlugsand” se betekenis in jou konteks my verwar. Ek hou egter baie van jou vers.

5. Lied van die sondaars – Marieta McGrath
Dit is ‘n ongelooflike slim poging om Spies se “Lied van die kinders” op so ‘n manier as interteks aan te pak. Jou vers is werklik menslik en relevant en die uitleg is interessant en vars. Die tipografie natuurlik verleen van jou bronteks maar jy het dit baie slim weergegee. Die neologismes is vars, interessant en pragtig.

6. Reddingspan – Ronnie
Let op spelling. Die titel: “Reddingspan” met een “s” en nié twee nie. Jou interteks is ongelooflik ontwikkel, en die bronteks is behoorlik aangewend om jou eiesoortige “verhaal” te ontwikkel. Die vers is aangrypend en ek kon nie verhelp om dit ‘n hele paar keer te lees nie. Baie geluk hiermee. Dit is voorwaar treffende digkuns.

7. Kaalvoet vlug – Palet
‘n Paar dingetjies voor ons oor die meriete en die inhoud vn jou vers gesels:
a. Daar is sinne in jou vers wat met hoofletters begin sonder dat dit deur ‘n funksionele en nodige leesteken voorafgegaan word. Dit hoort nie so nie.
b. Jy meld twee neologismes in jou voetnota maar sluit net een daarvan in jou vers in?
Ek dink die inhoud van jou vers is weldeurdag, mooi gekonstrueer en maak myns insiens behoorlik gebruik van die bronteks. Ek dink jy verstaan die konsep van intertekstualiteit en het jou goed gekwyt. Let net op aangaande die akademiese dinge wat digkuns betref dan kan jy jou kuns afrond en vervolmaak. Dankie vir jou deelname.

8. Herinnering – Barbara Smit
Ek dink jy het jou bronteks mooi bestudeer en interteksualiteit mooi bemeester in jou eie aanbieding. Jou vers is skerpsinnig tog verbloem dit genoeg dat die leser dieper moet delf om die werklike betekenis te bepaal. Dankie vir jou deelname.

9. Violet Jansen – Carma Shaw
Jy het die opdrag met ‘n pragaanbieding bemeester. Pragtige vers waarby ek niks meer of minder hoef te sê nie. Baie dankie vir jou deelname.

10. Pop song – Charleine Collins
Hierdie gedig het my treffend geboei. Ek is gaande oor die interteks met die bronteks, wat sonder dat dit op die oog-af so lyk, albei van diep uit die psige van pyn skree teenoor ‘n dowe wêreld. Jy het smaaklik omgegaan met ‘n onderwerp wat maklik skandelik en skadelik geïnterpreteer kan word. Smaaklik. Onoortroffe en puik! Jou neologismes is ook vars en treffend.

11. Dik sus praat – Lynne Lexow
‘n Ongelooflike sterk gedig wat intrigant met die leser omgaan. Ek hou van jou verwerking (interteks) van die bronteks. Die neologismes is treffend en vars. Welgedaan. Ek gaan jou beloon vir hierdie gewaagde en geslaagde poging.

12. Eksamen – Maruscke
Ek verstaan nie die neologisme “regskakos” nie. Dit klink en lees vreemd en hoe ek ookal probeer ek kan dit nie ontsyfer nie. Jy het egter goed intertekstueel met jou bronteks omgegaan. Let asseblief op spelling aangesien dit werklik die ruggraat van goeie skryfwerk is. Dankie vir jou deelname.

13. Winterliefde – Lorraine Smit
Jou interteks is pragtig. Jou neologisme is aangetoon as “goedkooptrui” maar in die vers self gebruik jy “weggooitrui”. Die sin “Jou hart is weggooitrui verrek.” is vir my een van die mooiste beelde wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Sulke sinne is poësie maak my opgewonde oor ons taal en die onoortroffe talent van mense wat digkuns bemin. Pragtige bydrae. Dankie vir jou deelname.

14. Afrika-pyn – Lorraine Smit
Die interteks is amper in skerp teenstelling met mekaar en daarom vind ek die besluit om dié spesifieke bronteks te gebruik ammusant. Ek dink jy het jou goed gekwyt van jou taak en sterk gespeel met die essensie van werk teenoor haat…hoe albei met moeite uitgevoer word. Let op spelling asseblief. Dit is ‘n definitiewe nee-nee as dit by goeie skryfwerk kom. Dankie vir jou deelname.

15. Skemermense – Barbara Smit
Die interteks is skerpsinning omdat jy juis die menslike gedrag met dit van die natuur vergelyk. Jou waarneming in jou vers is duidelik en dit gebruik die bronteks baie oortuigend. Jou neologismes is interessant. Dankie vir jou deelname.

16. Agterpraters – Barbara Smit
Hier het jy bai slim omgegaan met die bronteks, en as ek reg verstaan, agterpraters dui op skinderbekke, om die verwoesting van die mensehand op die aarde en die verwoesting van die mensetong op die geluksaligheid van andere. Jou vers is slim ontwikkel en die bronteks is ‘n besonderse goeie keuse as agterhangsel vir jou eie vers. Ek is werklik beïndruk hiermee. Welgedaan.

17. Sprokieloos – Carma Shaw
Uitstekende intertekstualiteit. Jy het jou baie goed gekwyt van jou taak. Pragtige inspraak. Dankie vir jou deelname.

18. Binnevlug – Caren Kearley
Die briljante teenstelling tussen ‘n “reis om die wêreld” en ‘n “binnnevlug” wat jy as interteks verwerk het is opvallend. Ek hou besonder van die vers wat amper rakelings aan ‘n innerlike storm uiting probeer gee. Jou bronteks en die vers wat jy aanbied is ondersteunend en jou poging is besonders geslaagd. Welgedaan. Dankie vir jou deelname.

19. Arboretum – Carma Shaw
Heerlike interteks met jou bronteks. Hierdie vers van Koos Kombuis is een van my allergunstelinge. Jy het lieflik omgegaan met die bron en ‘n pragtige nuwe vers geskryf. Welgedaan.

20. Ontvlug na jou rus – Cornien Naudé
‘n Lieflike aanbieding wat getrou is aan die opdrag. Jou bronteks is besonder intertekstueel in jou eie werk behandel. Werklik ‘n besonderse poging. Dankie vir jou deelname.

GORREL:
1. Palet
Let asseblief op spelling en die korrekte gebruik van leestekens, ellipse ens. Jou gorrel bevat baie onsamehangende mening en opinie en ek wonder of jy die vraag van die belangrikheid van ‘n mening (al dan nie) suksesvol behandel het?

ARTIKELS:
1. Bring my die ou-ou tyding – Ano
Dit is inderdaad belangrik om ou geskrifte, hetsy religieus of andersins, te beoordeel, oorweeg en te evalueer. Dit is verder selfs belangriker om te besluit (en dan oortuigend en vasberade daarby te staan) hoe hierdie veranderinge of interpretasies in jou persoonlike sfeer gevleg kan word. Laat niemand vir jou ‘n besluit maak oor die afstand tussen traan en die afvee daarvan nie. Ek hou van jou artikel maar sou tog meer bronne wou sien wat jou standpunt ondersteun. Welgedaan egter.

VERHALE:
1. Die drie F’s – Kiekies
Jy het ‘n mooi verwerking van die drie varkies geskryf. Hierdie verhaal van jou beskik oor groot potensiaal om as kinderteks ontwikkel te word waardeur goeie en deugsame lesse geleer kan word.

2. Die geheim van die woud – Palet
Ek lees Hansie en Grietjie té maklik raak want die storielyn is nie baie oorspronklik nie.

3. Drie broers – Ronnie
Mooi ontwikkeling in hierdie verhaal. Dit was ‘n heerlike lees. Jy kan hierdie storie mooi ontwikkel tot ‘n behoorlike kortverhaal.

4. Ligte – Ronel Janse van Vuuren
Ek kon glad nie die bronteks hierin herken nie.

5. Goue hen – Palet
Ek het Jan en die boontjierank hierin herken. Die storielyn was egter vir my té naby aan die oorspronklike.

6. Die drie skapies – Lynne Lexow
Pragtige storie wat mooi lees. Dankie vir jou deelname.

7. Ouma se ridder – Bets Koen
Lieflike verhaal.

8. Teedrink by ouma – Bets Koen
Ek het heerlik gelees. Jy het ‘n besonderse talent vir storie vertel.

9. Die groot aptyt – Ronnie
Ek het heerlik gegiggel met hierdie verhaal. Dit is nie oordrewe komies nie maar daar is plekke waar ek net nie kon help om te glimlag nie. Heerlike vermaak. Dankie.

10. Meisie van die Namib – Martha Poller
Heerlike en mooi verhaal. Liefde bly besonders.

11. Adriaan Wolf se geite – Riaan Palmer
Heerlik. Dankie.

Baie dankie vir almal se deelname.
IM




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Wilma het n geregistreerde lid geword

  • Carlien Lid se profiel foto het verander

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak