Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Maart 2021 – OOP projek – Uitslae & Kommentaar

Deur Anze
Datum gepubliseer: 15 April 2021 Aantal woorde: 3258 94 Kere gelees 6

Baie geluk aan hierdie 9 lede!
UITSLAE EN KOMMENTAAR
WENNERS:
GEDIGTE:
GOUD:
1STE: No 25 Anzé Bezuidenhout met In jou is my rus
2DE: No 13 Caren Kearley met Skemer drome
3DE: GEEN

SILWER:
1STE: No 23 Annamarie van der Merwe met In Ocean Basket
2DE: No 21 Andries Fourie met Wolraad Woltemade
3DE: No 15 Loretta Szikra met Agter ons maskers

BRONS:
1STE: No 9 Marlene Erasmus met Die padda
2DE: No 5 Gert Botha met Sy seer
3DE: No 4 Charles Skeen (Tearlach) met Oikos

GORREL:
1STE: GEEN

RUBRIEKE:
1STE: No 1 Driekie Grobler met Geite en feite

ARTIKELS:
1STE: GEEN INSKRYWINGS

VERHALE:
1STE: No 4 Riaan Palmer met Vir Dao Mau
2DE: No 3 Marlene Erasmus met In die kring van sy arms
3DE: GEEN

KOMMENTAAR:
GEDIGTE:
4. Oikos
Pragtige vers met ‘n diep betekenis. Ek wil voorstel dat jy “aan” invoeg vóór “die algoritme” (lyn 9). Dit verleen beter ritme en maak die sin geslyp. Pragtige werk.

5. Sy seer
Dit is ‘n besonderse vers. Hartroerend. Net ‘n paar akademiese opmerkings:
1. Vermy hoofletters in jou vers as dit nie met punktuasie voorafgegaan is nie.
2. As ‘n woord een konsep aandui, soos in hierdie geval, “hartkamers” word dit altyd een woord.
3. Die komma in strofe 4, lyn 3, sou ‘n sterker impak hê as jy dit eerder met ‘n aandagstreep vervang.
Jou ritme en metrum in die vers is besonders en smaakvol. Ek het nêrens gevoel jou probeer die rympatroon forseer nie. Goeie werk. Welgedaan.

7. In donker gehul
Die vers beskryf ‘n gevoel van verlatenheid en depressie. Die beeldspraak is in die kol. Ek persoonlik is ‘n voorstaander van punktuasie, maar in hierdie geval steun ek jou enjambiese aanbieding. Hoekom? In die toestand wat die narrator verkeer, rits en spoel gedagtes teen ‘n malle tempo en daarom is die leestekenloosheid ‘n aanwins. Ek wonder of die meervoud “misoeste” nie beter pas in die derde laaste sin nie? Jou vers is goed ontwikkel en die emosie wat jy geskep het is ongelooflik geslaagd. Welgedaan.

9. Die padda
Jy het ‘n heerlike vers opgedis. Dit verg goeie begrip om komies te skryf, ‘n rympatroon te handhaaf en dit alles sonder om rym- óf komiesgeforseerd te wees. Jou vers is ‘n uitgebreide limiriek en besonders geslaagd. Jy kan jouself op die skouer klop.

10. Gister en nou
Wat dit baie moeilik maak vir nuwe digters is die feit dat daar duisende ons voorafgegaan het. Elke begrip, emosie en gebeurlikheid is al op een of meer maniere gedeel en gepen. Dit maak die uitdaging groot om ou idees in nuwe woordbaadjies te klee. Dit is ‘n moeilike en uitdagende opdrag. Jou vers is mooi, want dit is eerlik, maar, hier kom ons teen die uitdaging te staan: hoe sê ‘n skrywer iets op ‘n nie-geykte manier as dit meerertal reeds gedoen is? Wel, as iemand ‘n maklike resep daarvoor gehad het sou hy/sy skatryk kon word. Dit is ‘n moeilike affêre, maar om relevant te bly en gelees te word, moet die skrywer nuwe konsepte skep vir ou idees. Kyk, as ‘n uitdaging vir jouself, of jy hierdie vers se crux kan behou maar tog met nuwe metafore te voorskyn kan kom. Dankie vir jou deelname.

11. na waters van geluk
Jou vers lok emosie, maar die aanbieding is so kripties en by plekke onsamehangend. Ek lei af dat die Moeder van die gesin “dood” is maar die vers begin op ‘n verwarrende inslag. Ek wonder of jou derde strofe nie eerste geskryf kan word nie. Dit sal die leser dadelik bekendstel aan die rede vir die res van die inhoud. Oorweeg om jou vers te redigeer.

12. Volkome eensgesind
Jy maak gebruik van aangrypende metafore. Jy stel die leser bekend aan lieflike neologismes, maar ek vind dit oordrewe en sonder nodige ordelikheid. Is minder soms meer? Ek wil regtig van die vers hou want daar is ontploffings van skoonheid maar ek voel asof ek in die oerknal beland het. Ek pleit egter: my kommentaar, wat erg krities klink, is gebaar in ‘n goeie plek van leiding en aansporing. Dit moet jy altyd weet. Ek dink jy beskik oor ‘n besonderse stel vaardigheid en talent, en daarom glo ek jy sal opbouende kritiek kan aanvaar. Jy kan gerus aanhou skryf, jou talent is grensloos.

18. Geliefde
Jy maak nie melding van intertekstualiteit in ‘n voetnota nie. Jou vers herinner aan die verwerking van GG Cillié van die tradisionele volkswysie, “vanaand gaan die volkies”. Opgeneem in “Goud in die mond” 1969 deur die Nasionale pers. Jou vers is geheel té na aan die bronteks om melding daarvan te vermy. Stel dit dadelik reg asseblief.

22. kniesterig
Daar is onnodige herhaling en teenstrydighede in jou vers. As die hemel bewolk is, is dit nodig om te herhaal dat dit onder wolke bedek is? Die hemel is bewolk, dit begin reën, maar daar is ‘n geskarrel vir ‘n plekkie onder die son? Verstaan jy waarom ek as leser verward is?

SILWER:

1. Woordmaker
Dat jy daaroor besin, maak die taak half gewonne. Aspirasie is goed, selfondersoek nodig en ‘n strewe na beter is prysenswaardig. Laat ek jou egter maan: jou eie, eerlike stem is waar jy die goud gaan ontgin. Lees wyd, vier keer meer as wat jy skryf, maar onthou, daar is ‘n meester óók in jou.

2. My alles
Dit is ‘n vrye poging tot ‘n akrostigon. Meeste geleerdes sal natuurlik van my verskil, maar ek ervaar tog ‘n vrye speling daarvan. Ek sou wou sien dat die letters meer betrekking sou hê op die onderskeidelike strofes en nie bloot as plekhouers gebruik word nie. Ek dink tog die idee om die vorm so te ontwikkel is ‘n vars aanslag. Daar is ook plekke in die vers waar funksionele punktuasie sou help. Dankie vir jou deelname.

3. Soveel spore
Doornboom? Eerder “doringboom”. Die gedig ontbreek aan ‘n ritmiese vloei. Dit is deurspek met geykte idees en niks meer as wat ‘n leser in duisende ander gedigte sal aantref nie.

8. Optel woorde
Dit is ‘n heerlik, lawwe vers. Jou vers sou baat deur paar komma’s te gebruik ná die baie “my bokkie”. Die bloei en krale strooi verwysing verstaan ek nie, maar dit is ‘n persoonlike waarneming. Die spelling van “gedagtes” is verkeerd. Ek hou van die vers; so asof dit ‘n Namakwalandse liedjie kan word.

14. Ek het jou nie nodig nie.
Strofe 2: gebruik punktuasie om die belangrikheid van die besluit te beklemtoon nl.:
“Ek het afskeid geneem:
van ons,
van jou
en jóú drome
waarin ek versmoor.”
Ook, as jy wil, vervang “jy my” met ek.
Die gebruik van grendels, en dan weer kettings en boeie is effe “oorvermoor”.
Kan mens vaarwel heet? Ek is nie baie seker of die woordkeuse korrek is nie. Die herhaling van “my” in die laaste twee sinne is ook hinderlik.
Die emosionele vers het baie potensiaal. Gebruik die gereedskap in Afrikaans om dit selfs sterker te maak.

15. Agter ons maskers
Ek hou in besonder van die tipografie. Die klem op -SKEEF- is treffend. Dalk kan jy dit selfs meer kragtig maak:
– S
K
E
E
F- of selfs:
– S E F –
K E
Dit is natuurlik nét ‘n voorstel. Die inhoud is sterk bewoord. Die “sarkastiese” vergelyking tussen pretensie (hartseer) wat kleurvol span, is ‘n klimaks. Welgedaan.

16. “Black widow”
Ek het nie veel kommentaar hierop te lewer nie behalwe dat myns insiens die vers sou baat deur die gebruik van toepaslike punktuasie. In die geval van ‘n liriese (dramatiese) vers vind ek die gebruik van leestekens baie doeltreffend. Dit help die leser om te verwyl op nodige oomblikke in die gedig. Jy sal vind, ‘n dans, as dit optempo is draf dansers daardeur maar by die meer ernstige (emosionele) is die tempo stadig. Dieselfde werk vir my met poësie. ‘n Enjambiese aanbieding versnel die tempo en vind die leser nie trapplek in die nodige plekke nie.

17. Die nag het gekom
Hokaai, hokaai!!
Hierdie vers spoel soos ‘n tsoenami en ek is verward om kop bo water te hou.
Ek sal moet dissekteer, uithaal, omdraai, weeg en terugsit.
Hier kan ons nie woerts-warts stil staan nie. Maak jou gordel vas. Ons gaan ‘n rukkie hier wees.
1. Het jy jou vers geproeflees voor jy dit geplaas het?
2. Die gebruik van “as” eerder as “soos” is ‘n anglisistiese gebruik. Engelse praat van “as a flower” maar die korrekte gebruik vir ons is eerder soos, so-as of is.
3. Die nag het gekom en ek is die son. Dit is teenstrydig, tensy die ondergang van die son verpersonifiseer word en dit dus metafories bedoel word.
4. Die voortdurende herhaling van “blom” pla my oor.
5. Lyn 8 se woordkeuses is slordig en verwarrend.
6. Intrigeer is om belangstelling te kweek, te konkel of saam te sweer. Ek dink nie jy het die woord híér in die regte konteks gebruik nie.
7. Die woordorde en keuses hier, is onsamehangend en verwar my totaal:
“hoor tog my
empatie rooi
groen in die gebergtes van jou siel,”
8. Strofes 2 en 3 in geheel is vir my verwarrend.
9. Die aksent op “kòn” moet ‘n akuut (kón) wees en níé ‘n gravis nie.

Ek vind dit jammer dat ek so baie kritiek op hierdie vers moet hê aangesien daar grenslose potensiaal daarin skuil. Die beelde wat jy gebruik is besonder maar in konteks maak dit bloot net níé vir my sin nie.
Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com as jy leiding verlang met die redigering hiervan.

19. digdood
Daar lê vir seker ‘n skat in hierdie vers opgesluit. Ek wil jou tog aanmoedig, as oorweging, om bietjie aan die “vleis” te sny. Jou eerste gedagte by aanlees van my my kommentaar gaan wees, “maar hoe?” Jy mag voel dat elke brokkie inligting nodig is in jou vers, maar dit is nie waar nie. Ek wil jou graag help maar wil jou die geleentheid gee om te vra. Stuur gerus vir my ‘n epos na inkmoderator@gmail.com.

20. Is daar nog hoop?
Die digter is die stem van die mense. Politieke kommentaar is nodig en jy maak jouself verantwoordelik om dit aan te pak. Dit is goed. My kritiek op jou skryfwerk is egter nie ‘n refleksie op jou posisie nie maar eerder oor die akademiese aspekte in jou werk. Dialoog in poësie is seker een van die moeilikste dinge om te doen. Ek persoonlik vind dat prosa reëls van toepassing is. Jou stille gebed of uitroep moet dus in dialoogvorm ingesluit word. Jy sal ook baat vind by die gebruik van selfs meer punktuasie. Dink so daaroor: jou vers is diep oordenking oor die wyse waarop jy die stand van Suid Afrika ervaar, en wil dus tot elke prys versekering hê dat jou gehoor kennis neem. Sonder die nodige ruspose (wat die skrywer moet skep) dwarrel die leser deur jou vers en gaan die crux daarvan verlore. Jammer om ‘n Engelse woord te gebruik, maar “to ponder” is ‘n goeie beskrywing van hoe jy wil hê die leser moet omgaan met jou vers. Jy kan dit alles vermag deur funksionele punktuasie. Dankie vir jou deelname.

21. Wolraad Woltemade
Ek dink, alhoewel Woltemade telke male reeds gelofdig is, is jou vers baie goed. Jy het ‘n variasie in die rympatroon. In die eerste 2 strofes (a a b a) en dan herhaal jy dit weer in ‘n latere strofe. Jy het jou daar goed gekwyt van die taak so dit is nogal jammer jy kon nie die patroon deurtrek nie. Dit neem egter niks weg van jou vers nie. Dit is keurig versorg, lees ritmies en herinner die leser weer aan dié held.

23. In Ocean Basket
Dit is ‘n aangrypende en skerpsinnige vers. Dit is baie slim ontwikkel. Ek het slegs twee voorstelle:
1. Lyn 2: “So óók jy, en my verlange na jou.” [Plaas ‘n aksent op “ook” en voeg ‘n komma in ná “jy”. Die ALT kode vir ó is 162]
2. Laaste lyn: oorweeg om “weer” met verder te vervang.
Baie geluk met ‘n goeie vers.
24. Wou
Ek wil self óók nie kras wees nie, maar hierdie vers het my effe teleurgestel, veral onder die SILWER afdeling. Ek plaas jou vers hieronder en wil uitwys waar die uitdagings vir my lê.

ek sou jou graag wou liefhê [Die assonansie in hierdie sin is mooi, maar dan herhaal jy dit weer in die volgende sin, met of sonder opset, wat eerstens die ritme steur en bloot woordoorbodig is.]
ek’s spyt om dit nou kras te sê [Verwyder “nou” – dis bloot oorbodig]
ons was vir mekaar bloot nodig [Die konstruksie van dié sin is lomp. Ek wil graag ‘n voorstel maak, want dit is nodig om “bloot” te behou. Miskien: “ons het mekaar bloot benodig]
(dit besef ek nou – [hier herhaal jy weer “nou”. Twee mooi alternatiewe vir “nou” is “subiet” of “summier”. Oorweeg altyd sinonieme of alternatiewe in die geval waar ‘n woord soveel keer herhaal.]
t’rugwerkend gebeskou) [Die gebruik van “terugwerkend” hier is nie funksioneel nie. Ook is die verlede tyd vir beskou ‘n lelike gebruik. Ek stel voor: “oorsaaklik beskou”]
so trane is oorbodig [Met die vorige sin maak jy reeds die leser attent op die oorweging dat dit “oorbodig” sal wees. “So” in hierdie geval is dus self oorbodig.]
nou wat jy finaal jou rug draai [Die gebruik van “wat” is verkeerd. Eerder “noudat”
op wat ons saam gesaai
(én saam verdraai)
het [Die plasing van “het” in ‘n eie strofe is onnodig.]
net
(gun my dit tog maar sê) [Die woord- en woordorde is slordig. Niemand praat so nie. Gebruik eerder: “gun my maar hierdie mening ‘n mening, of iets dergliks Of: “gun my om dit te sê”. Dit is ook nie nodig om hier van inversie gebruik te maak nie.]
ek sou jou graag wou liefhê

GOUD:
6. Jou palet
Vir ‘n skrywer wat in die Goue afdeling deelneem is dit onaanvaarbaar as ek daarop moet wys dat “ruïneer” met ‘n umlaut geskryf word. Die ALT kode daarvoor is ALT+0239. Daar is verskeie webwerwe beskikbaar wat die volledige lyste hiervan bevat, daarom is daar geen verskoning daarvoor nié! Ek wonder of ‘n neologisme soos “duisterlikheid”, of’n sinoniem soos “ligloosheid, duisternis” nie ‘n beter keuse sou wees vir die blote gebruik van “duister” teen die slot nie? Ek hou baie van jou vers. Ek gaan jou egter diskwalifiseer aangesien ‘n goue lid nie eens die kleinste foute, soos ek uitgewys het, mag laat deurglip nie.

13. Skemer drome
“Klipsteenstoep” sal een woord wees. Dit is mos een konsep. Ek hou van die idee wat jy gebruik het om die vers te skep. Ek wonder net of funksionele punktuasie nie jou vers sterker sou aksensueer nie. Ek voel die leser behoort nie hierdeur te draf nie, maar eerder die geleentheid gegee te word om die mooi beelde te herkou. Die herhaling van “son” is onnodig. Jy kan dit gemaklik met “lig” of “daglig” vervang. Die vers is mooi. Dankie vir jou deelname.

25. In jou is my rus
Ek wil demonstreer hoe die woordorde in ‘n vers die kragtigheid daarvan verander. Ek plaas jou eerste strofe hier en sal langsaan in hakies die redigering plaas.
in jou handpalm [in die palm van jou hand]
lê my pynbrokkels; [lê my pynbrokkels;]
teer kom bou jy [teer bou jy]
met die splinters [‘n mosaiek –]
‘n mosaiek – [‘n splintermeesterstuk]
‘n meesterstuk [in lym gelas]
gelas met lym

Dit is net ‘n voorstel. Die ritme word verbeter en die klem val op die belangrike plekke. Daar is ook plekke in die vers waar funksionele en nodige punktuasie ontbreek.

GORREL:
Dinge gebeur in drieë…of nie (1)
Spelling: “su” vir “sy”; “speël” vir “speel”. Spelling is dié belangrikste werktuig vir die skrywer. Selfs die kleinste foutjie laat werk slordig lyk. Die gorrel is interessant en lekker om te lees maar spelfoute hou jou van die podium af.

Beesboude en binneblaaie (2)
Spelling: “Spieël” waar die umlaut op die tweede “e” geplaas behoort te word. Spelling is dié belangrikste werktuig vir die skrywer. Selfs die kleinste foutjie laat werk slordig lyk. Die gorrel is interessant en lekker om te lees maar spelfoute hou jou van die podium af.

RUBRIEKE:
Geite en feite (1)
Jou rubriek lees lekker. Ek wil graag ‘n paar dingetjies noem. Indien jy verkeie gedagtes in een sin skryf, gebruik altyd die [;] wat dit net makliker maak om te lees. Ook, die ellips […] is drie punte sonder spesies voor, in die middel of na die gebruik. Dankie vir jou deelname.

Die waarde van vrouwees (2)
Die ellips […] is drie punte sonder spasies voor, in die middel of na die gebruik. Die konstruksie van sinne is baie belangrik. Jy sal nie sien dat daar in die hoofstroom sinne soos joune opgeneem sal word nie, nl.: “reageer vanuit hierdie seerkry- / min selfvertroue- / verkleinerings- / verdedigingsplek.” Dit sou eerder so geskryf word: “reageer van ‘n plek van seerkry, verkleinering, verdediging of ‘n tekort aan selfvertroue.”
Die volgende sin in jou rubriek het dieselfde uitdaging.
“Ek het hierdie storie gehoor. Die skrywer is aan my onbekend.” Weerhou daarvan om inversie te gebruik as dit nie regtig nodig is nie. Spelling: “mooi” nie “moou” nie!
Jou rubriek raak ‘n belangrike feit aan. Almal kan baat by positiewe invloed. Dankie vir jou deelname.

ARTIKELS:
Geen inskrywings.

VERHALE:
Help my (1)
Die verhaal spring so baie tussen die huidige en die verlede dat die leser totaal verlore raak. Die verhaal skort ‘n ernstige redigering. Ek dink die konsep van die verhaal is goed, maar die konstruksie daarvan skort ernstige heroorweging.

‘n Kosbare les (2)
Jou sinne op sekere plekke is té lank. Die leser verloor die draad van die storie.
Spelfoute: “darem”, “vragmotor”, “waarheen”.
Die verhaal het baie redigering nodig. Die konstruksie is slordig, die sinne té lank en dan spring die verhaal tussen eerste en derde persoon. Die standaard hiervan is baie laag. Spelfoute is natuurlik ‘n taboe. Mens skryf ook nie “daai” in pleks van “daardie” nie, tensy dit in ‘n streekdialek geskryf word. Daar is nie behoorlike karakterontwikkeling nie, en sekere feite verwar die leser. Ek gaan een voorbeeld noem. Neem die geval van die dame wat Bertus langs die pad ontmoet. Sy draai haar gesig weg. Klim in ‘n ander motor. Hy vermoed sy is ‘n prostituut. Jare later sien hy dieselfde vrou, op dieselfde plek. Hy verwag sy moet jare terug onthou dat hy met ‘n geroeste motor by haar gestop het. Hy het nie sy mening oor haar verander nie, want die narrator wys dit nie uit nie. Tog, al dink hy steeds sy is ‘n prostituut vir hom sy besigheidskaartjie. Watter bouwerk sou ‘n dame van haar “beroep” gedoen wil hê? Absolute verwarring. Hy herken haar stem op die telefoon alhoewel sy EEN woord met hom gesels het? Die skrywer sê, sy het geglimlag en “dankie” gesê; d.w.s. EEN woord. Dan sê sy dat sy hom nie die ander dag herken het nie? Hoe in die lewe kon sy as hy jare terug vir ‘n oomblik, vanuit ‘n motor met haar gesels het, en sy haar gesig weggedraai het? En nou skielik herken sy hom en hy lyk goed? Verstaan jy waarom ek sê die ontwikkeling in jou storie is baie swak.

In die kring van sy arms (3)
Woordoorbodigheid soos nl.
a. “gesellig en sag” in een sin.
b. Die skrywer herhaal dat sagte musiek in die agtergrond speel.
c. “heel BESTE GUNSTELING”
d. gemmerkoekies…gemmerkoekies
Om ‘n goeie storie te skryf moet ons poog om nie die leser te verveel nie. Sinonieme en selfs neologismes kan help om onnodige herhalings en oorbodigheid te vermy. Jou storie is andersins keurig. Dankie vir jou deelname.

Vir Dao Mau (4)
Dit is ‘n interresante storie. Daar is klein konstruksie probleme maar vir die meeste is die storie leesbaar en het ek lekker daaraan gelees.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 288
Kommentaar telling: 3222

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 2 kleinseuns en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 344 gaste aanlyn

Bydraes – Argief