Jongste aktiwiteit:

Mei 2022 – OOP projek – Kommentaar en uitslae

INK Mei 2022 Kommentaar en uitslae
Baie geluk aan hierdie 11 lede!!

GOUD.
1ste- No 25. Caren Kearley met Binne seisoen
2de – No 24. Caren Kearley met Leonard se song
3de – No 23 Andries Fourie (Seirdna) met Wegkyker

SILWER.
1ste – No 27. Marlene Erasmus met Vreesloos haweloos
2de – No 34. Loretta Szikra met Kalwerliefde
3de – No 12 Elmarie Nienaber Van Kampen met Liefdesnoer

BRONS.
1ste – No 36. Elizabeth Martie Bezuidenhout met Ek was …
2de -No 6. Hester Steenkamp met Ligtoring
3de – No 35 Elizabeth Martie Bezuidenhout met Sonder

GORRELS. GEEN

RUBRIEKE.
1ste -No 4. Marlene Erasmus met Pa’s waar is julle?
2de – No 3. Driekie Grobler met Die nuwe Normaal
3de -No 1 Hester Steenkamp met ‘n Pleidooi

ARTIKELS.
1ste – No 1 Marlene Erasmus met Die vlermuis

VERHALE.
1ste -No 3 Riaan Palmer met Stemme

KOMMENTAAR:
GEDIGTE
BRONS

3. Die krag van reën
Jou vers is ‘n teer simpatieke kykie in die omstandighede wat andere se lewens onherroeplik verander het. Jou vers is eerlik en eerbaar. Goeie konstruksie en ‘n mooi aanbieding.

4. “ee”
Dit is ‘n interessante vers. Ek neem aan die titel verwys na die voorletters van iets of iemand? Ek weet nie of die rympatroon werklik die beste weergawe is van hoe die vers kan lyk nie, maar dit is net sematiek. Jou vers is steeds keurig.

5. Soekwoorde
Die kruis van die skrywer wat verstrengel raak in die woordloosheid – wat ‘n teenstelling. Die woordkeuses by die aanvang van jou vers is ietwat verwarrend, maar dit dra dalk by tot die hopeloosheid van skrywersblok. Elke skrywer was al daar. Mooi gedoen.

6. Ligtoring
Jou vers is besonders. Dit is asof jy intertekstueel in gesprek tree met die lied van Laurika en Psalm 23. Dit is té ver verwyder van die bronteks om dit werklik as intertekstueel te sien, maar omdat ek baie lees sien ek soms die klein tekens raak. Nietemin. Jou vers is pragtig ontwikkel, die beelde is pragtig en die konstruksie puik. Dankie dat ek in jou mooi vers kon deel.

10. Vrug van die albatros
Aangesien jy tog van selektiewe punktuasie in jou vers gebruik maak en nie ‘n volledige enjambiese aanbieding maak nie, dink ek jy kan meer punktuasie gebruik, en veral tussen al die byvoeglike naamwoorde en beskrywende woorde. Jou vers is besonders, want dit werk en dink buite ‘n “vorm”, maar ek persoonlik dink jy kan bietjie orde skep deur punktuasie sodat die leser ‘n stop- en dinkkans kan kry. Jou vers het my beïndruk. Ek sukkel egter om die titel met die inhoud te versoen. Jy kan my gerus kontak op inkmoderator@gmail.com indien jy verder oor jou vers of my kommentaar wil gesels.

11. Dans van die rookfeë
Jy het op een instansie feë reggespel en dan later nié. Onthou treë word ook met ‘n deelteken geskryf. Ek dink jou vers kan baat by funksionele en nodige punktuasie. Daar is ‘n tsunami van inligting wat beskryf en oorbeskryf en jy kan die leser in die warboel verloor. Jou vers is interessant maar beeldswaar.

30. Vasdans
Die versugtinge en hunkering hierin is meesleurend. Die boom metafoor wat jy gebruik om arms en wind om die dans te beskryf is mooi. Jou vers is egter woordoorbodig en rek soos ‘n spaghetti tot die leser oorversadig raak aan die oneindigheid daarvan. Jy kan ‘n besonders treffende vers aanbied as jy oorweeg om bietjie aan die vleis te sny. Jou vers is egter mooi en ten spyte van my “swaar” kritiek het ek steeds lekker daaraan gelees.

32. Die velde smag
Jou liefdesvers is beeldryk – té beeldryk. Die leser raak verlore in die oorweldigende geryg en dit maak jou vers minder suksesvol. Metafore en beelde in digkuns is ‘n instrument om die skrywer te help om emosies en terme op ‘n nuwe manier te sê, maar die gevaar bestaan dat té veel daarvan die essensie van die gedig verflou.
Minder is altyd meer in poësie. Jy kan oorweeg om hieraan te sny, punktuasie aan te wend en sodoende ‘n meer kompakte en treffende vers te skep. Dankie vir jou deelname.

35. Sonder
Herhaling, as dit funksioneel is, is ‘n besonderse gereedskapstuk in die arsenaal van die digter. Jy het dit baie mooi en suksesvol aangewend. Ek hou van die ritme en die aanbieding wat ‘n metrum van kort luide kanonskote bied. Ek kan sien dat jy elke woord en frase mooi oorweeg het. Jy het jouself baie goed gekwyt van jou taak. Baie geluk met ‘n treffer.

36. Ek was
Wat ‘n uitsonderlike kragtoertjie is hierdie! Jy het ‘n groot “storie” in die spasie van ‘n tiekie vertel. Jou vers is aangegrypend, op die man-af en puik. Dit is ‘n skat in die digkuns.

SILWER

1. Leef
Die lewensfilsofie van “die wiel draai” is ‘n troos vir ons almal. Ek hou van die “les” in jou vers, maar die herhaling, veral in die tweede strofe hinder my oog. Ek sou ook dink dat die meervoud (getye) die vers beter sou laat afskop.

2. Dae
Die vers lees stokkerig. Herhaling van “verby” in die eerste twee sinne pla. Gebruik sinonieme, waarvan daar derduisende in Afrikaans is, soos bv. “vervliet; heengegaan” ens.
Kyk na die voorbeeld:
“die see skommel, branders in gety
gaan aan met brom”
Gedigte is nie nét gedagtes nie, maar eerder ‘n melodies ritmiese aanbieding. Ek weet jy verstaan wat ek sê want jy neem reeds in die Silwer kategorie deel.

7. Omskietliefde
Jy gebruik die mooiste beelde soos “pekelsondes van ons liefde” maar dan begin jy jou vers op ‘n onverstaanbare gehakkel en geproes. Hoekom? Dit is ‘n teken dat jy nie jou vers wéér gelees het voordat jy dit geplaas het nie.
“Ek toe ek jou net sien” is nié netjiese verstaanbare digkuns nié. As jou leser tyd uitkoop om jou werk te lees kan jy seker maak dit is goed versorg.

12. Liefdesnoer
Kyk na die voorstel vir konstruksie van die volgende sin:
Jou weergawe: “teen jou ontvanklike vel
jou my woorde jou eie sal laat maak”
Voorstel: “teen jou ontvanklike vel
my woorde jou eie sal word”
Die “jou, my, jou” in die sin maak dit effe lomp.
Jou vers is pragtig en ritmies. Mooi gedoen.

13. Narsis
Ek neem aan die gebruik van “veil” vervang hier “verkoop of van die hand gesit”?
Dit is ‘n mooi manier om dit te omskryf alhoewel veil vir my persoonlik moeilik dáár lees. Dit neem egter geen trefkrag uit jou vers nie. Die slot is in besonder treffend. Mooi gedoen.

14. Geknakte siel
Ek weet nie of ek in geheel van die herhaling in die vers hou nie. Die eerste en laaste strofe se herhaling pla nie so baie soos die res nie. Ek gee jou die voordeel van die twyfel en beoordeel sodoende. Die inhoud is sterk en die crux van die vers word goed oorgedra. Die gebruik van die ellips (in albei gevalle) is nie funksioneel nie. Dankie vir jou deelname.

15. Skakering in harlekyn
Persoonlik hou ek nie van die herhaling in jou vers nie. Dit verloor trefkrag. Die vers opsigself is goed deurdink maar ek dink sinonieme of metafore sou jou vers versterk. Die titel verwar my ook.

16. Lewensstrome
Jou vers is woordoorbodig en swaar. Die sinne is lank en lomp. In digkuns is minder soms meer en as verstek die beste opsie. Jou vers lees dus moeilik en dit verloor die aandag van die leser.

18. Die liefde onthou
Is die sinkonstruksie in die vers die beste weergawe van wat dit kan wees? Ek het voorbehoud daaroor. Dit is asof die digter my forseer met ‘n oorbeskrywing van die sintuiglike. Die kleur metafore is oordrywend en maak nie ‘n bydrae tot die vers nie. Funksionele redigering kan jou vers baat.

19. Tussen krake
Die vers is ‘n sensoriese oorlading. Daar wil té veel inligting gedeel word wat die vers lank en lomp maak. Redigering kan jou vers baat.

26. Heimwee verlange
Jou swaar titel is onnodig. Heimwee en verlange is sinonieme van mekaar.
Jy maak dieselfde fout in die 3de strofe. Daar is legio sinonieme in Afrikaans en om nie daarvan gebruik te maak nie is bloot digluiheid. Ek wil van jou vers hou maar ek raak vies as ‘n silwerlid op hierdie standaard deelneem.

27. Vreesloos haweloos
Die boks- en kartondorpies wat straathoeke versier ruk my telkemale aan die sluk. Ons dig en paai, reik uit en bid, en tóg bly die seer soos ‘n ettersweer tussen koerantkomberse en loer. Jou vers is so belangrik in hierdie tye waar ons wat meer het, ‘n oomblik moet halt en die gawes waardeer. Ek wonder of jou titel nie ‘n sterker trefkrag sou hê as jy dit as “vreesloos is sy haweloos” kon gebruik nie. Jy doen jou werk as digter as jy die lelik in ons samelewing belig. Welgedaan.

28. Silwer rand
Silwerrand sal een woord wees, in beide jou titel en in die laaste strofe.
Die derde strofe, gevolg deur “maar” en die aanvang van die 4de strofe sal meer funksioneel wees as jy dit so skryf:
“wat in heimwee omvou;

maar

die donder van die weer”
Punktuasie ná “omvou” en “die met ‘n kleinletter.
Die res van jou vers is keurig. Mooi gedoen.

29. Wees stil
Die vers is woordoorbodig en word onnodig gerek tot die breekpunt daarvan. Jou vers sou meer geslaagd wees indien jy gewaak het teen die eindelose herhaling. My aandag was teen die tweede strofe reeds verloor.

31. Saad van liefde
Alhoewel nie veel skort aan ritme en konstruksie in die vers nie, wil dit vir my al te geyk voorkom. Die inhoud is al soveel keer voorheen verpen dat daar geen vars idee daarin is om my opgewonde te maak nie.

33. Radikaal
Jou vers is ‘n antwoord op die nuwe gonswoord van se die tyd. Jy het jou punt mooi oorgedra en ek hou van die vers. Hoe bring jy die titel in verband met die inhoud van jou vers? Waarom het jy juis daarop besluit? Ek hoor graag van jou by inkmoderator@gmail.com.

34. Kalwerliefde
‘n Lieflike ligte vers. Ek wonder of jy nie ‘n rym kon bewerk tussen “dom” en “koms” nie?
Soos: “tussen die sterre
en as die rooidag sou kom.”
Dit sal lieflik wees as jy die rympatroon wat dom en kom kan optel in jou laaste sin. Lieflike vers.

GOUD

8. Ek vra gisteraand vir God
Die titel het my opgewonde gehad, maar die inhoud het teleurgestel. Sekere woordkeuses, die konstruksie en die afwesigheid van goeie metrum het jou vers verniel.

9. Woensdag blues
Herhaling van “ons” in sin 3 pla.
Spelling van “agterstrate” en “Woensdae” stel teleur. Vir ‘n goue lid is dit totaal onaanvaarbaar. Jy het nie jou vers weer gelees voor jy geplaas het nie en dit is blote luiheid.

17. Oggendlied
Ek sou die vers so sluit:
“en op die strand lê jy die veer
van ‘n pienk flamink, vir my, neer.”
Dit sal ‘n sterker slot skep indien jy dit verpersoonlik. Dit bly egter jou keuse. Mooi vers.

20. Weg
Ek hou van die vers. Ek hou veral van die rym wat bewerk word deur “grond, mond en broederbond”. Mooi gepen.

21. Sonkaros
Jou vers sou lof gekry het as jy oranjegeel reggespel het. Spelfoute is ‘n taboe vir goue lede.

22. Albatrosdrome
Ek moes iets gemis het want almal skryf hierdie maand oor albatrosse.
Die gedig is keurig. Dankie vir jou deelname.

23. Wegkyker
Ek ervaar die vers as effe woordoorbodig en oorbeskrywend. Tóg is daar ‘n paar juweeltjies hierin. Die slot sou beter lees as jy die tweede “aan” uitgelos het. Jou vers is andersins keurig.

24. Leonard se song
Het jy Cohan se “dance me to the end of time” as verwysing gebruik? Dit is ‘n pragtige vers. Jy het mooi gedoen.

25. Binne seisoen
Dit is ‘n pragtige kragtoertjie. Welgedaan.

GORRELS

1. Brûe
Die oneindige herhaling van brug en brûe in jou gorrel is steurend. Dit het die lees hiervan baie moeilik gemaak.

2. Die rooi oog in die hoek
Jou gorrel is eerder ‘n kortverhaal. Die storie ontwikkel té vinnig en inligting gaan so verlore. Dit bly ‘n interessante verhaal.

RUBRIEKE

1. ‘n Pleidooi
Ek deel jou sentimente aangaande hierdie en selfs erger dinge wat wêreldwyd aan Moeder Aarde gedoen word. Jou rubriek belig dit en my komplimente dat jy dié verhoog gebruik om jou stem daaroor dik te maak. Die pen is soms magtiger as die swaard. Wat die akademiese in jou rubriek betref, net ‘n paar aanmerkings. Let op die lengte van jou sinne en vermy onnodige herhaling. Jou rubriek lees passievol en keurig.

2. Die lewe se mooi
Jou rubriek is keurig. Leer om jou gedagtes beter te orden. Jou fokus (in hierdie geval) kan nie voortdurend tussen die seisoene spring nie. Belig die dooie winter en beweeg dan aan na die positiwitiet wat die blomseisoen bring. En asseblief, Afrikaans beskik oor die mooiste leksikon dat die stoute “magic” nie plek op die podium moet kry nie. Jou rubriek is mooi versorg.

3. Die nuwe normaal
Jou rubriek is keurig en goed versorg. Waak daarteen dat jy nie gedagtes herhaal nie. Mooi gedoen.

4. Pa’s waar is julle?
Jou rubriek is op die man-af, duidelik en baie goed versorg. Die aanhalings teen die einde gee baie gewig aan jou pleidooi. Mooi gedoen.

ARTIKELS
1. Die Vlermuis
Jou artikel is interessant en BAIE goed nagevors. Jou aanbieding is werklik keurig en dit lees vlot. Jy het die artikel goed versorg en foutloos aangebied. Baie dankie.

VERHALE
1. Die tuiskoms
Daar is sekere akademiese foute in jou vertelling. Aanvanklik begin jy die verhaal in die derde persoon te vertel en dan skielik is dit die karakter self wat die verhaal verder vertel en ervaar. Jy spring tussen tonele sonder dat jy voorbrand maak vir die verandering. Jou karakter is skielik bewoë…hoekom? Het sy die ou man onder die boom sien sit, en hoe sou die karakter weet wat in die ander karakter se gedagtes omgaan sonder dat daar dialoog is. Mia verstaan nie hoekom die reünie op die afgeleë plaas gehou word nie maar dan as sy daar arriveer voel sy skielik tuis? Jou verhaal het baie potensiaal maar daar is baie verwarrende inligting.

2. Die ballade van ‘n ballarina
Die dubbel ontkenning in Afrikaans is ‘n spelreël, veral in prosa. Wat beteken “lasterig”? Wou jy nie eerder “lastig” gebruik nie? Die akuut moet eerder op tróú wees en nie op té nie. Spelling: sjarme. Die verhaal is onversorgd en slordig met lang sinne, tekort aan nodige punktuasie en swak sinkonstruksie.

3. Stemme
Die verhaal is pragtig en die karakter ontwikkeling is puik. Dit belig ‘n kwessie van ons tyd, maar jy het die smaaklik en met sorg vertel. Welgedaan.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed