Mei 2023 – OOP projek – Kommentaar en uitslae
Baie geluk aan hierdie 9 lede!
WENNERS
GEDIGTE
GOUD
No. 10 Loretta Szikra met Sal jy onthou
No. 30 Andries Fourie met Ingehaal
No. 18 Loretta Szikra met Absoluut relatief
SILWER
No. 24 Zebulon Kochk met Hou moed
No. 17 Zebulon Kochk met Kaktuslewe
No. 2 Marlene Erasmus met Werk is werk
BRONS
No. 3 Pieter Mostert met God dig die skepping
No. 6 Fanus Strydom met Heilige geesgenoot
No. 29 Francois Meyer met Veilig
MENINGSTUKKE
GEEN
RUBRIEKE
GEEN
ARTIKELS
No. 2 Marlene Erasmus met Tina Turner
GEEN
GEEN
VERHALE
No. 3 Fanus Strydom met Beskermengel
No. 6 Hennie du Toit met Die hoenders op oom Piet se plaas
No. 4 Johan Jansen van Rensburg met Dertien minute te laat
KOMMENTAAR
BRONS
- God dig die skepping.
Hierdie is ‘n geweldige interessante gedig. Die gebruik van al die digterme om aksie en reaksie in die skepping te verbeeld is briljant. Ek persoonlik dink tog dat die gedig meer kompak aangebied moet word. Alhoewel alles mooi pas en die gedig slim aangebied is, is die oorweldigende inligting dalk meer van ‘n hindernis as ‘n bydraende faktor. Ek dink daar bestaan genoeg ruimte om die die vers effe te knip sonder om baie van die oorspronklike idee prys te gee. Welgedaan in elk geval. - Tyd is goud
Die gedig se konstruksie is baie swak. Daar is loshangende gedagtes wat kripties aangebied word. Die vloei in die gedig is nie mooi en glad nie en lees dus moeilik. - Hoop
Die gedig is verwarrend. Is daar twee karakters in die vers of verwys die “jy” en “u” na dieselfde? Ek het nie kop of stert uitgemaak wat die digter in die vers wou sê nie. - Heilige geesgenoot
Ek hou van die tipografie hierin. Die gedig is ritmies en die woordkeuses, (alhoewel enkel in sommige lyne) lees deurdag en lekker. Goeie vers. - Kom en maak my skoon
Die punktuasie in hierdie vers is slordig. Die inhoud is ook nie vars en opwindend nie. - My utopia
Die gedig is ongelooflik kripties. Dit lees soos ‘n horde losstaande gedagtes waaruit geen geheel vir die leser vorm nie. Die punktuasie soos kappies op die nodige letters is ook slordig aangewend. Let asseblief daarop om jou werk te lees voordat jy dit aanbied. - Geroes geketting
Hierdie vers is ‘n oefening in presies wat digkuns nie behoort te wees nie. Dit is ‘n kakofonie en ‘n mengelmoes van gedagtes wat rondhang en heen-en-dwars gegooi word net om iets op papier te kry. Ek as leser was teen die derde reël reeds so verward dat die res intimiderend was. Gedigte behoort nie kriptiese telegramme te wees nie, maar eerder ‘n ritmiese samevoeging van die vervullende gedagtes. Ek is jammer om te sê maar hierdie gedig is nie goeie kwaliteit nie. - Offer wat jy vra
In jou vers begin jy in eerste persoon praat en spring dan tussen tweede en selfs derde. Die sinne is losstaande vlegsels wat poog om ‘n geheel te word maar die digter slaag nie daarin nie. Ek dink jy kan hierdie vers redigeer en dit ontwikkel tot sy volle potensiaal. - Wonderboom
Die gedig is keurig. Kyk weer na reël 2 en bepaal of die woordgebruik daar vir jou optimaal is. - Vagevuur
Hierdie vers het baie potensiaal, maar die leser word oorval met rollende massas inligting wat op plekke lyk asof dit bloot net nie sin maak nie. Die gedig se potensiaal kan ontsluit word as jy bietjie hieraan redigeer en nie die nodigheid sien om dit so swaar en lomp te maak nie. - Paspoort na my
Ek het baie moeilik aan jou vers gelees. Die sinne is lank, dit ontbreek aan ‘n besadigende ritme en die gedagtes (woordkeuses) val moeilik op die tong. Jy oorweldig ook die leser met ‘n gros metafore wat nie jou vers werklik steun nie.
19.Voordele en nadele
Die vers is onnodiglik woordoorbodig. Jy kon ‘n baie sterker vers aangebied het as jy nié die nodigheid gesien het om so báie inligting deur jou vers te deel nie.
20.Die waai van wind
Ek dink jou dialoog-vers kon baat by beter beplanning. Alhoewel die gedagte in die vers menslik opreg oorkom, voel die vers woordoorbodig en swaar. Oorweeg om hieraan te redigeer en so die volle potensiaal te ontsluit.
Karoo hoofwegswerwer
Ek het die tipografie in die vers sommer so in die geestesoog aangepas om die lees effe te vergemaklik. Die gedig bevat ‘n legio gedagtes wat effe georden behoort te word. Miskien deur die tipografie aan te pas en staat te maak op funksionele punktuasie kan die vers ‘n sterk impak maak.
21.Warm klanke
Jou vers ontbreek funksionele punktuasie. Die jambiese aanbieding waar nuwe gedagtes in dieselfde sin begin verwar die leesproses. Die vers kan baat by redigering.
25.Triolet: Ekokritiek
Let op spelling. Herhaling hierin is steurend. Loshangende gedagtes lees nie ritmies en vlot nie.
26.Osoonlaag
Ek wil van die vers hou, en veral omdat dit sekerlik ‘n nodige kwessie aanspreek, maar, ek weet nie of die herhaling hierin werklik bydrae of eerder afbreek maak nie. Jy gebruik ook vyf tersette en sluit dan met ‘n kwatryn. Miskien sou eenvormigheid beter wees of dalk kon ‘n koeplet ‘n beter volta tot gevolg gehad het. Die rympatroon is egter suiwer en dit maak die vers ritmies en lekker om te lees.
29.Veilig
Die verpersoonliking van ondermeer “aanvaarding; omgee” wil raak-raak aan geyktheid. Die bootreis metafoor tot betrekking van ‘n persoonlike-of liefdesreis is ook menigmale deur digters gepen. Dit hinder egter nie baie nie. Die suggestie in die derde strofe is smaaklik gedoen.
SILWER
1.My lewenstreë
Die aardsheid (eerlikheid) hiervan is mooi maar jou sinne is werklik té lank. Jy probeer té veel sê en dit laat die leser met ‘n ritmies-versteurde vers. Probeer hieraan redigeer om die sterkste weergawe te ontsluit.
2.Werk is werk
Die spelling van “sjirurg” mag dalk vir die leser verkeerd lyk maar dit is geheel korrek en aanvaarbaar. Die kosbaarheid van elke bydraer tot die arbeidsmark is ‘n mooi idee om oor te dig. Ek dink die vers is keurig genoeg.
13.Gluur
Ek weet ‘n digter skryf nie noodwendig vir die leser om die interpretasie daarvan akkuraat te ontsyfer nie, maar daar moet tog genoegsame leidrade wees sodat die leser die strekking (gedeeltelik of ten volle) van die aanbieding kan volg. Ek, wat baie gedigte lees bygesê, was totaal en al verward deur die gedig van jou. Ek kan niks daaruit put nie en daarom is jou vers vir my vrugteloos. Jy kan my gerus kontak by inkmoderator@gmail.com as jy oor my kommentaar en jou vers wil gesels.
17.Kaktuslewe
Die metafore van die kaktus en iris is vir my treffend. Dit is spreukwoordelik ‘n verwysing na die menslike toestand wat jy dan ook persoonlik hier verwoord. Keurig.
22.Kulemet
Ek weet “kulemet” verwys na een of ander automatiese wapen maar dié aanbieding is nie op silwerstandaard nie. Die karakter spreek die wapen aan eerder as die vabond wat dit beheer. Die hele vers is vir my nie goed beplan en aangebied nie.
23.Waar distels blom
Keurig.
24.Hou moed
Oulike, amper humoristiese vers. Keurig genoeg. Mooi beeldspraak.
GOUD:
10.Sal jy onthou?
Dit is besonders teer met pragtige beeldspraak. ‘n Heerlike vers om te lees. Welgedaan.
16.Ontnugtering
Gaan kyk…spelfoute in die goue kategorie (in elke afdeling eintlik) word nie geduld nie!
18.Absoluut relatief
Obsoleet (alhoewel totaal aanvaarbaar in Afrikaans) is vir my een van daardie gewraakte anglisismes. Tóg, in hierdie geval verstaan en spoor ek jou eintlik aan om die keuse uit te oefen. Dit speel op die tong veral met “absoluut” wat volg. Baie slim en treffende vers. Welgedaan.
- Skrywersblok
Toe ek jou titel lees dink ek: “dierbare berge begrawe my sommer so lewendig met ‘n oormaat suurstof in my longe, want my hulp sal tog nie kom nie…” maar is ek toe effe verras met jou vers. Ek sou die slot so wou lees (wat nét ‘n voorstel is)
“om selfs ‘n enkele woord te skryf:
1-2-3 blok jy my
om aan die korste end te trek.”
Ek hou van jou vers, maar soos dit nou daaruit sien voel ek die slot ontneem die vers aan ritme.
28.Ware liefde
Ek sukkel om die inhoud van jou vers met die standaard van ‘n gouelid te vereenselwig. Die woordkeuses laat veel te wense oor.
30.Ingehaal
In die 4de reël wil jy die klem op óm plaas eerder as op dié. Indien ons in skryftaal na “rondom” verwys is die klem daar belangrik sodat die leser kan weet wat jy regtig bedoel. Die inhoud van die vers is beeldryk en mooi. “Uurglas in die hussekas” is ‘n heerlike beeld. Mooi gedoen.
31.Hoogliedliefde
As ek ‘n randjie in die bank gehad het vir elke keer wat ‘n digter die “hooglied” woord gebruik het, sou ek dalk ‘n goeie hopie bymekaar gehad het. Die inhoud van die gedig is myns insiens geyk en sonder ‘n nodige vars- en nuutheid. Die standaard in hierdie kategorie behoort veel hoër as die deursneë te wees. Ek is effe teleurgesteld in die kwaliteit hiervan.
32.Ek is soos jy
Die gedig sluit vir my baie stomp en ritmeloos. Ek wonder of punktuasie nie in die gedig sou kon bydrae tot ‘n sterker geheel nie.
MENINGSTUKKE
1.My besonderse Mei
Jy skryfsel is keurig. Daar is ‘n effe rondspring tussen gedagtes wat die lyn daardeur nie vlot trek nie, maar die skrywer se waardering vir dié maand word gemotiveer en aangebied.
2.Toe die swart kameel kniel
Ek weet nie of ek van die skryfstyl hou nie. Die skrywer maak kort sinne wat hakkelrig en nie vlot lees nie. Die mening handel oor die dood en word dan ‘n preeksel. Die titel het my opgewonde gehad tot ek begin lees het. Nie die beste weergawe van wat dit eintlik kan wees nie.
3.Wat is jou opskrif?
Ek verstaan wat die skrywer probeer pen het, maar dit is “soos ‘n vaal muurblom op ‘n orgie” [sic] Die skryfsel is onsamehangend en slordig. Ek stel voor jy redigeer die aanbieding om die beste potensiaal te ontsluit.
4.Versoening
Spelling: versoeningsdag
Die skrywer skryf sinne so lank soos die N1 wat van ver in die Noorde tot net so knipseltjie duskant die Paarl draai. Die mening word ‘n preek, en as ek een ding weet van die moderne leser: hulle wil nie bepreek word nie. Die aanbieding is slordig en borduur aan en aan sonder dat ek as leser enige baat daarby gevind het.
5.Dit is Manziville
Ek sou meer inligting oor die plek wou sien in jou skrywe, maar dan, dit is n meningstuk en nie ‘n artikel nie. Die aanbieding is keurig genoeg.
ARTIKELS
1.Mefiboset
In die genre van artikel skryf, rus daar ‘n sterk onus op die skrywer om met nagevorsde feite ‘n aanbieding te doen. Alhoewel die “karakters” in hierdie artikel uit ou geskrifte geverifieër kan word, is die aanbieding meer eerder ‘n meningstuk as ‘n artikel.
2.Tina Turner
Die artikel is interessant, goed nagevors en keurig en netjies aangebied. Welgedaan.
RUBRIEKE
1.Onthou jy nog?
Die rubriek is nie netjies versorg nie. Die gedagtes spring rond en eindig weereens in ‘n preeksel.
2.Winter op die almanak
Die skrywer probeer té hard om metafories te wees en dit laat die leser verward. Loshangende gedagtes waardeur ek geen lyn kan trek nie.
3.Koop nou jou kaartjies
Die titel en die gevolgtrekking van die rubriek staan in sterk kontras met mekaar. Ek weet steeds nie wat die skrywer eintlik met die rubriek wil sê nie. Koop of koop nie…reis of reis nie? Groot gedeeltes hiervan handel oor die gedragspatrone van diere en het met die ander inligting geen verband nie.
VERHALE
1.Skokkende feite oor die moord op Suzue Horn
Die ontwikkeling in die storie is eenvoudig net té snel. Sonder voorskrifte oor die lengte van inskrywings kon die skrywer daardie vryheid gebruik het om beter ontwikkeling te doen. Die verhaal voldoen ook nie aan die verwagting wat die titel skep nie. Dit is van die begin duidelik dat die man verantwoordelik is en dus geen skokkende feite onthul nie.
2.Die gastehuis
Die storie is keurig genoeg. Effe onsamehangend en gejaagd op plekke maar steeds leesbaar.
3.Beskermengel
Interessante storie. Ek het regtig lekker hieraan gelees.
4.Dertien minute te laat
Die verhaal is keurig.
5.Winde van verandering
Ek dink die ontwikkeling in die verhaal is gejaagd wat nie genoegsame tyd skep vir karakterontwikkeling nie.
6.Die hoenders op oom Piet se plaas
‘n Leersame verhaal vir kinders. Dit herinner natuurlik aan Orwell se “animal farm” maar die inhoud is darem in geheel anders.
7.Pietie, ‘n verhaal vir kinders
Oulik en keurig.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.