Jongste aktiwiteit:

Meisie se Make-up

MEISIE SE MAKE-UP

“Rene waar is jy?” Sy ma se stemtoon laat hom vervaard van die rusbank opspring. “Hier is ek ma” Hy steek in sy spore vas toe sy ma die sitkamer instrompel. “Was ma in ‘n ongeluk? Meisie klik vererg met haar tong. “Nie jy ook nie. Die hele oggend by die kliniek is ek aangegaap en van alle rigtings beloer. Is daar iewers fout met my klere?” Sy draai stadig in die rondte en snak na haar asem. “Hierdie bene van my gaan nog my dood veroorsaak en al wat die staat se perdedokters voorskryf is ‘n klomp pynpille wat mens as lê-pille vir hoenders kan voer om eiers te aborteer” Rene staar sy ma met afgryse aan. Het sy die kluts kwytgeraak of begin sy aan Altzheimer ly.. “Ma… ma lyk soos ‘n spook”
Die drie kleindogters wat in die gang die vreemde “ouma” dopgehou het, vat skielik gillend die pad terug kamer toe. Die woord dood en spook op hulle hakke. Ouma Meisie sit hulle skreeuend van frustrasie agterna. “Het die wereld dan nou heel beserk geraak. Wat gaan met julle aan” Sy slinger met haar pynlike bene tot stilstand. Die tweeling is aan die opgooi soos honde wat gif ingekry het. Sonja die oudste van die drie dogters kruip gillend onder haar bed in. “Pa help… help ons toggie… groot asseblief. Dooie ouma Meisie se gees jaag ons!”
Meisie besef iets is drasties verkeerd. Sy voel-voel aan haar arms, lyf en gesig. Sy kan nie glo sy is dalk dood en wandel nou hier op die aarde rond nie. Vreemd die pyn in haar bene is nie weg nie. Sy het gedink as mens die ewigheid ingaan is alle pyn weg. Sy bekyk weer haar klere. Engele is mos wit, hoekom het sy dan nog haar bont bloesie en blou langbroek aan? Sy besluit daar en dan die dood is nie vir haar nie. Het sy dan nou die poorte van die Hemel verbygegaan oppad na die …. Van skok oor haar heengane storm sy die badkamer in. Voor die spiëel help die prentjie wat sy sien haar byna regtig die hiernamaals in.
In haar haas om vroeg oggend eerste by die kliniek te wees, het sy die karige grimeersakkie verkeerd aangepak. Uit gegrawe wat bruikbaar was. Die leesbril vergete. Sonder elektrisiteit moes sy noodgedwonge maar in die kerslig haar gesig probeer optower. Met die prentjie wat sy nou sien, lyk sy soos ‘n uitgediende kadawer wat voorberei is vir ‘n suurbad. Haar wenkbroue is bloedrooi. Oogskadu en oogomlyning is rooi. Haar wange is helder blou – dit is al kleur wat in verhouding by haar oë pas. Sy verstom haar aan haar pikswart lippe, probeer glimlag maar die gryns lyk of iets haar uit die spieel gaan aanval. Sy tel haar hand op en klap haarself op die wang. Sak byna ‘n floute neer toe Rene agter haar praat. “Was af ma, was… dadelik af, die kinders maak hulleself al nat en voor hulle hulle self bevuil…!”
Daar is nie nog tyd vir kibbel nie. Meisie gryp die eerste beste stuk geel Sunlightseep en begin skrop. Of sy nou tienduisend plooie bykry speel glad nie meer ‘n rol nie. Ten minste waarborg die seep 99.9 persent vernietiging van kieme. Hopenlik blaas die doodsmasker ook die aftog onder geel seep en harde geskrop Haar kleinkinders se lewens is immers op die spel. Toe sy na vyf minute se ernstige geskrop weer opkyk in die spiëel, sien sy dat sy gelukkig uit die dode teruggekeer het. Pure spyse vir die siel.
Dit het dae gevat om die kleinkinders weer mak te kry. Hulle het so sku-sku vir ouma Meisie weer aanvaar en die vreugde op hulle gesiggies oor ouma se oorlewing het sommer die pyn in haar bene heelwat beter laat voel.




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed