Jongste aktiwiteit:

Melkbosrant trek.

Melkbosrant trek.

“Jirre Oompie, die nuus het vandag gekom dat die Goewerment onse plek nodig het en dat hulle ons gat skuiwe.” Jiems Basson het gevoel na sy pyp in sy hemp se bo-sak en geklop op sy broekspyp om die sakkie Springbok twak op te diep. “Wat te hel meen jy? Dis seker weer een van julle se skoolstories. Ek het vir jou pa gesê die skool op Omdraai is nie ’n goeie skool nie. Julle moet Noudonsies se skool toe. Dis te minste Rooms.” “Rêrig Oompie, Oompie kan vir Pa gat vra daar by die groot huis. Nuus het vedag gekom terwyl Oompie nog op Renosterkop was.” Jiems sien dat Donald nie lieg nie.
“Wat is hierdie storie wat jou Donald vertel dat ons moet skuiwe. Vir wat?” Jiems kap sy pyp uit teen die hak van sy velskoen. “Die nuus het vedag met die Beewer gekom. Ons moet trek en die Riemvasmakers ook. Die Goewerment wil Riemvasmaak gebruik vir die Weermagte en Melkbosrant vir Augrabies Park gee om renosters aan te hou.” Piet Cloete staan stadig op en trek sy rug reguit.
“Hoe de hel gat die Valle se mense hier kom. Daar is g’n pad hiernatoe nie. Hoe gat hulle oor die Grootrivier kom? Hond se moer ons trek nie.” Jiems Basson kry daardie trek op sy gesig wat Piet laat besef dat dit nie maklik gaan wees om hom oor te haal nie. “Renosters? Is mos nie ons wêreld se goed daai nie. Dassies en jakkalse, ja. Koedoes. Klipbokke. Tierse.”
“Luiperds, oom Jiems.” “Gaan skyt Donald!” Jiems Basson is nie in ’n bui vir lesse van skoolkinders nie.
Jiems Basson loop al knorrende na sy pa se bokkraal toe. Die son is al onder en die ooie laat die lammers suip. Hierdie naweek sal hy die jong kapaters moet uitvang. Hierdie storie dat hulle moet trek sal nog groot ergernis veroorsaak. In sy agterkop was hy altyd daarvoor bang. Stories loop al lank dat die Regering hulle gaan skuif. “Swart kol op die wit laken.” het hulle gesê. As Petrus Engelbrecht net nog gelewe het. “Daai Boer sou dit nie toegelaat het nie. Die Polieste was skytbang vir hom. Hy was self ’n Poliesman en ’n Sap.” Jiems kyk rond en besef dat niemand na hom luister nie. Die bokooie lyk belangeloos. In die verte maak die bobbejane reg vir die nag.
Die dag het aangebreek dat hulle die diere moes verkoop. Dit was mooi kapaters. Sy pa se beste. “Hulle het soveel stof gemaak soos drie mouterkarre toe hulle die pad Omdraai toe vat.” Ryk ou Willie du Plessis het hulle gekoop vir een pond stuk. Mooi kapaters. Die Regering het die prys vas gemaak. “Een pond. Een heilige, God-verdomde pond.” Jiems se pa praat met homself terwyl hy die gereedskap deurkyk.
Jiems Basson het met skrefiesoë gekyk hoe sy pa se mond vertrek. Dit was ’n bitter trek. Sy pa het sy pyp uitgekap teen sy velskoen se hak en omgedraai. Niemand moes die nattigheid om sy oë sien nie. Jiems het dit gesien.
Die storie het hier teen die begin van 1973 sy kop uitgesteek. Die stories het die rondte gedoen dat die Riemvasmakers moes trek. Die Melkbosranters het eerste aan die beurt gekom. Hulle het vasgeskop maar dit was pure verniet. “Onse naelstringe lê hier op die grond, hoekom da so?” Jiems se pa was desperaat om die man van die Regering om te praat.
“Trek sal julle trek.” het die regeringsamptenaar gesê.
“Wat van onse kinders. Hulle is op die skool?” het sy pa teëgeskop.
“Daar waar julle gaan is ook ’n skool.” was al antwoord wat hy gekry het.
“Onse diere?” wou sy pa weet.
“Julle kan annerkant weer koop.” was die antwoord.
“Waar is ‘annerkant’, waantoe gan ons?” het sy pa teruggekap.
Stilte.
“’n Antwoord sal ons ook nooit kry nie.” het sy pa gebrom.
Die Riemvasmakers het geglo dat hulle sal vryspring. “Die storie kom van die Park af. Dis dié lat julle moet trek. Onse God sal na ons kyk. Vader sê so.”
“Asof julle God anderster as onse God is. Ons is ok Roomse.” was Jiems se pa se verweer. Vir Jiems het niks meer saakgemaak nie. Die bokke is verkoop. Die groente is uit die tuine ge-oes. Niks het oorgebly wat hulle meer aan die grond verbind nie. “Wat van onse naelstringe?” was die vraag wat Jiems nie kon antwoord nie.
“Alles is God se wil. Hy sal na ons kyk. Vader het so gesê.” Sy ma was rustig. Sy was altyd die een wat dinge uit ’n ander hoek kon bekyk.
In Jiems se hart het die woede gegroei. Niks sal dit wegneem nie. Wat die Regering aan hulle doen, is nie reg nie. “Renosters! Van wanner af is verkeerd reg? Hond se moer.”
Toe die dag aanbreek dat hulle moes trek is hulle goed op die vragmotors gepak. Die handjievol diere wat hulle kon saamvat het die laaste keer van die Grootrivier se lusern gekry. Op Kakamas Stasie is die trein gelaai en die laaste groet gegroet. Jiems Basson het met ’n swaar hart die trein bestyg. As Sersant Engelbrecht nog gelewe het, het hy agtergebly. As hy ’n plan kon maak met Eliot wat ’n Malawiër is, sou hy ’n plan vir Jiems ook kon maak.
Soos gewoonlik was die kinders opgewonde. Hulle het al meer as ’n week tevore hul laaste skooldag gehad. Vir hulle was alles ’n groot avontuur.
Op Upington het hulle die “lang lyn” gevat Noorde toe. Suid-Wes toe. Die storie het toe al die rondte gedoen dat hulle blyplek gekry het op Khorigas. Terwyl die son sy laaste lig oor die dorre Suide uitstraal, het Jiems Basson die hopeloosheid van sy situasie bedink. Min mense het ooit verder as Kakamas gegaan. Khorigas kon net-so-wel in ’n ander land gewees het. Daar was niks wat hy kon doen nie. As hy sy oë toemaak kon hy nie eens Melkbosrant sien nie. Al wat in sy kop gemaal het, was die brandende huisies teen die Rant. Soos hulle goed gelaai is, is die riethuisies aan die brand gesteek.
Op Windhoek stop die trein sodat hulle die bokke kan water gee. Alles ruik vreemd. Die water proe brak. “Die bokke is die soet water van die Grootrivier gewoond.” laat Jiems se pa van hom hoor. Die vrouens kry sowaar hout om ’n vuur aan mekaar te slaan. Tot die rook stink. Hulle maak kos. Dit laat die onseker gedagtes die wyk neem. Ten minste vir die oomblik. Toe die reuk van gebraaide uie die lug begin vul is dit asof daar nuwe krag vanuit êrens die groepie beetpak. Hulle het nog steeds nie geweet waarheen hulle gaan nie maar gelatenheid het stadig maar seker oor hulle begin neerdaal.
Die volgende oggend stop die trein op Outjo. Vragmotors staan gereed om hul goed te laai. Die veiligheid wat die skommelende trein verskaf het, is summier weg. Die lug ruik anders.
Die Damaras wag hulle in op Khorigas. Die Riemvasmakers kon glad nie die Dameras verstaan nie. Hul taal en gewoontes was hemelsbreed verskillend. Wie met die idee vorendag gekom het dat die Riemvasmakers by die Dameras sou pas het die pot ver mis gesit.
Van pot gepraat. Mieliepap was hul dieet vir die volgende maand. Totdat hulle uie, aartappels en ander groete in die hande kon kry. Die Damaras het nie groente gebruik in hul dieet nie. “Jirrie, die Damaras sal verby ’n vet koedoe stap om ’n mopaniewurm te vang en te eet.” Jiems Basson het min tyd gehad vir die eetgewoontes van die Damaras. “Ons het hulle geleer eet. Regte kos.” Die Dameras het mopaniewurms van die bome afgehaal, die kop afgebreek en die lyf oor ’n stok gesteek. Dan het hulle die hare afgebrand en die wurm effens gebraai. Dit was stapelkos. Jiems het net sy kop geskud.
Na ’n maand het hulle verder getrek en het grond gekry waar hulle werf kon skrop. Selfs te midde van die onsekerheid het hulle weer hul eie plek gehad. Stadig kon hulle weer beeste en bokke aanskaf met die hulp wat hulle van die Regering gekry het. Hulle het stadig geleer om die diere teen leeus en ander ongediertes te beskerm.
Die lewe het stadig weer in plek begin val. Maar saans het die Suiderkruis oor Riemvasmaak gehang. Dan het die beelde in die donker helder geword en Melkbosrant was naby. Saans het hul Hallelujaliedere om die vuur gesing en elkeen sy gedagtes vrye teuels gegee. Vir Jiems Basson was een van die beelde wat diep ingeprent was dié van Petrus Engelbrecht.
Petrus Engelbrecht was ’n ou Polisieman wat op Augrabies afgetree het. Hy was ook ’n SAP. Hy het nie nonsens gevat van iemand nie. Jiems het by hom gewerk. Hy was waterleier, skuitman en regterhand. Sersant Engelbrecht, soos hy genoem was, was ’n Polisieman. Hy het patrollie gery op ’n kameel in die Kalahari. Hy was ook op Steinkopf, Port Nolloth en later op Kakamas gestasioneer. Op Port Nolloth het hy donkiekarre van die hout van ’n ou skeepswrak gebou. Dié het hy verkoop. Hy het ook die skuit gebou waarmee Jiems mense van Riemvasmaak en Omdraai oor die Grootrivier geroei het. Hy het armoede geken.
Hy het ook vir Jiems leer groente kweek. Groot uie en pragtige wortels. Geelwortels en witwortels. Beet, raap en kopkool. Groot Black Diamond waatlemoene.
Jiems Basson het besluit om nie te leer om mopaniewurms te eet nie. Hy het groentesaad van Outjo laat kom en sy eie groentetuin begin. Later het hy soveel verkoop dat hy bekend geword het vir sy groente. Die leeus het nie groente geëet nie en die koedoes kon hy uithou deur doringtakke te pak.
Jiems se pa het een nag net gesterwe. Dit was ’n wolklose nag en die Suiderkruis was helder. “’n Gebroke hart,” het die mense gesê.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Wilma het n geregistreerde lid geword

  • Carlien Lid se profiel foto het verander

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak