Meneer Adams in Drukkerystraat
“Mnr. Neil moet vir hom cinnamon oil kry; daai goed is goed vir die bors…”
Herbert P. Adams is ‘n lang, skraal, sestigjarige gryskopman met baie merke op sy kerfstok en tronktattoes om dit te bewys. Herbert is ‘n huislose straatbewoner van die die Kaap se onderdorp, maar met sy keur van Afrikaanse taalgebruik, kon hy netsowel jou of my buurman of mede-lidmaat by die ongehervormende kerke gewees het; al is hy nie sogenaamd wit nie.
( Nou dat ek daaraan dink: ek is ook nie juis meer “wit” nie; my velkleur is vêr van my Europese oer-ouers se kalksteengrys af en soms eerder nader aan sommige van ons half-broers en –susters wat die vlakte in die Kaap warm hou.)
Sedert die einde van Herbert se bendedae en tronksitdae is hy ‘n beroeps karoppasser, denker onder bome, leser van ou koerante en ‘n algemene straatvaardige bekende gesig in en om die ou sake persele van die dorp. So het Herbert tydig en ontydig by ons kantoor opgedaag; dan is dit vir ‘n bietjie water, dan vir ‘n pynpil, maar meestal vir ‘n geldjie.
Herbert drink nie meer nie, maar hy speel wel die “perde”. Ses rand op ‘n slag; soms ‘n “Trifecta” en ander kere ‘n “Swinger”.
Aangesien Herbert in sy lewe nog nooit enige resiesperd van naderby gesien het of met die eienaars en ruiters ‘n glasie geklink het nie, moet hy op sy eie wetenskaplike berekenings- en skattingsmetodes staatmaak. Hy kry die perderesiesblad by “’n ander ou in Parow” en nadat hy die affêre bestudeer het, dan tel hy die nommers van die perde en wat nog ookal bymekaar en deel dit deur die nommer op sy ou seldeur en siedaar, hy het sy nommers om perdename voor te soek en sy geld te verdubbel met ‘n wen. ‘n Wen, wat ten spyte van sy somme en skade aan sy geldsak, tot op hede ontwykend bly.
So daag Herbert die een weeksoggend weer by ons werkplek op.
Vanwaar ek in my kantoor sit, kan ek die voordeur sien en as die besoeker by die staalhek genoeg moeite doen, dan sal hy my ook kan sien. Herbert het hierdie rek-en-kyk tegniek gou agtergekom en uit die hoek van my regteroog sal ek dan en wan die lang donker figuur, met sy mus en silwer ken, so al werkende en met min aandag, met ‘n handgebaar groet. Hy sal dan maar bly staan of in die parkeergebied ronddwaal tot ek opstaan en deur toe stap.
“Die sake is weer sleg die afgelope dae Meneer Hennie; die ander ou in Parow het gesê ek moet sy ruite kom was, maar nou is hy nie daar nie…”
Daar is altyd iets wat moes plaasvind of iemand wat nie ‘n werkie of ‘n aalmoes te spare gehad het nie en dis altyd ou Herbert wat daaronder ly. Toe besluit ek…, “Herbert moet ‘n werk kry”.
Sedert daardie dag kom Herbert elke Woensdagoggend ons parkeergebied vir drie ure lank vee. Hy tel die blare op en in ruil kry hy ‘n warm koppie tee en ‘n blou noot. Ons parkeergebied lyk fraai vir ‘n paar uur, ons kantoorgeldjies voel nie armlastig weens die een blou nootjie wat weg is nie en Herbert sorg nou vir sy eie welsyn; al is dit moontlik net hier in Drukkerystraat.
Die verhaal van “Herbert” het sommer net weer vir my ‘n klomp opstandigheid en jammerte in my gemoed oopgeknoop. Hoeveel blou note sal elke klein onderneming vir die mees basiese van tydelike werkskepping beskikbaar hê, indien die personeel elkeen een koppie koffie of tee per dag minder drink? Die voorbeelde is onbeperk, indien die wil daar is.
Of, het dit kultuur geword om mense wat niks het nie, wat “niks” is nie, eerder op ‘n gerieflike afstand te hou of ten beste ‘n aalmoesgeldjie te gee ten einde ons nuut gebore harte te streel met “ek het vir iemand iets gedoen”?
Die sosiale netwerke gil en skreeu oor die skeure in ons mensdom se moraliteit wanneer sogenaamde studente voertuie en geboue aan die brand steek. Ons pluk die swepe van oordeel geregverdig nader want die “land is in ‘n gemors” en ja, almal is sekerlik nie verkeerd nie, maar ongelukkig is almal ook nie baie naby aan reg nie.
Laat my toe om jou saam met my na dié deel van die dorp te neem waar straatwerkers nie die draers van goeie nuus is nie, maar eerder, die draers van goedkoop skrapse vertoonklere en kondome. Laat my toe om jou saam met my te laat stap vanaf ons luukse sedan, verby jillende taxi “guardjies” en swetsende straatverkopers langs uriene deurdrenkte mure en plaveisel. Verby tannies met rottangmandjies met wielietjies sonder veel inkopies in die geel plastieksakke. Hulle maak nie sommer oogkontak nie en stap amper eenkant, net om aandag en moeilikheid te vermy.
En te midde hiervan, kom stap saam met my die apteek binne. ‘n Plek met opgeleide en opgevoede mense in wit jasse. Weet jy wat kan jy daar verwag?
Nie die warm hartlike glimlag en ”wat kan ons vandag mee help” wat jy in ons diensdeurdrenkte apteke in die spogdeel van die voorstad te wagte kan wees nie, nee, hier kyk hulle vir jou tot jý praat. Jou velkleur, kleredrag of goue kaart lig nie hier die sluiers van sosiale ongeregtigheid nie en jy sál net vir jou doepa vra, vat en betaal. Male sonder tal het die apteker die pille van die rak afgehaal, die prys gekyk, vir my gekyk en dan gesê-vra “twenty or forty; the price difference is twenty five rand”?
Hy is daaraan gewoond dat sy kliënte pryssensitief is, omdat hulle nie altyd genoeg geld het nie; hy is ook daaraan gewoond om eers die transaksie daarvolgens te voltooi, voordat die kasregister oopgemaak word en hy is daaraan gewoond dat aangesien sy kliënte nie diens met ‘n goeie glimlag verwag nie, dit nie onnodiglik uitgedeel sal word nie.
Hy maak sy wins en hy betaal sy huis, die karre, die kinders se studiegeld en vliegtuigkaartjies na beter plekke op ander vastelande; hy sal dit so doen tot hy hier klaarmaak en wat dan gebeur, is nie sy of enige van ons se “indaba” nie.
“Mnr. Neil is siek vandag, Herbert. Hy sal seker eers Maandag weer by die werk wees”.
“Ai tog, Mnr. Neil moet vir hom cinnamon oil kry; daai goed is goed vir die bors”… en met dit, hier vandag, voor ons staalhek, het ek menswaardigheid sien kleintjies kry.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober projek