Musiek vir beter gesondheid
(Woordtelling : 1054)
Musiek is reeds vir derduisende jare deel van die mens se lewe en die oudste musiekinstrumente word op sowat 40,000 jaar oud geskat. Die gebruik van musiek en klank dateer reeds uit die Antieke Griekse tydperk, en die vroegste verwysing na die gebruik van musiek as terapeutiese hulpmiddel is in ʼn artikel genaamd, “Music physically considered”, gedateer 1789. Dit is egter eers sedert die 20e eeu, na die Tweede Wêreld Oorlog beëindig is, wat musiek amptelik as terapie erken en gebruik word. Tydens die wêreld oorloë is gevind dat, wanneer daar musiek in hospitale gespeel was, soldate vinniger van hul liggaamlike- en emosionele wonde genees het.
Dit is baie jammer dat meeste van ons hedendaagse uitdagings en probleme behandel word deur die voorskryf van medikasie, eerder as om alternatiewe vorme van gesondheidsorg te ondersoek. Dit is nie altyd duidelik of die medici nie die kennis van alternatiewe terapieë het nie, dat dit meer tyd in beslag sal neem as die normale doktersbesoek, of dat die pasiënt moontlik nie die finansies het om verskillende opsies te ondersoek nie. Ongelukkig dek die meeste mediese fondse ook nie alternatiewe vorme van terapie nie, en moet dit dus met kontant uit die sak van die pasiënt betaal word.
Wanneer medici na ander alternatiewe vorme van behandeling as “new age” of “whoo-whoo” verwys, help dit ook nie. Met hierdie sienswyse en die streng riglyne van die mediese fondse, bly daar dikwels net een manier oor: sluk ʼn pil en kom sien my oor ʼn maand.
Musiekterapie is egter ʼn alternatiewe, minder indringende en veilige manier om ʼn spesifieke toestand te behandel. Dit kan baie effektief gebruik word in die behandeling van stres, depressie, probleme om te slaap, en kan selfs jou toleransie tot pyn verhoog. Dit is belangrik om in ag te neem dat musiekterapie selde alleen staan en verkieslik saam met ander terapie toegepas moet word.
Musiek is reeds ʼn groot deel van die meeste se daaglikse lewe. Verskillende tipes musiek het egter verskillende uitwerkings op die brein en nie almal reageer op dieselfde manier nie. Oor die algemeen verminder klassieke musiek stres en angstigheid, alhoewel die rustigheid daarvan vir ander eerder ʼn bron van irritasie kan wees. So ʼn persoon sal dalk eerder Rock musiek geniet, terwyl die vinnige tempo daarvan ander se angstigheid kan vererger.
Die oorgrote meerderheid van terapie steun baie swaar op verbale kommunikasie, dus is musiekterapie meer gepas vir mense wat sukkel om hulself deur woorde uit te druk, veral persone wat aan dimensie, outisme of ʼn breinbesering ly. Diegene wat trauma verwerk, vind dit ook moeilik om hul emosies en die omstandighede verbaal te verwoord. Musiek – oftewel die lirieke – is hier dan ʼn makliker manier om jouself uit te druk as net met normale praat-terapie.
Toestande waar musiek ʼn daadwerklike verskil kan maak:
PDD (Pervasive Development Disorder). Hierdie term sluit in Outisme, Asperger’s sindroom, Deurdringende Ontwikkelingsversteuring, en Rett sindroom, ‘n neorologiese en genietiese toestand wat meisies affekteer. ʼn Persoon wat homself in hierdie spektrum bevind, ondervind dikwels probleme met kommunikasie en sosiale interaksie, en het ʼn verhoogde belangstelling en reaksie op musiek. Musiekterapie mag dan help om so ʼn persoon beter kommunikasievaardighede aan te leer en te help om oor die algemeen meer normaal te ontwikkel.
Dimensie. Dimensie is ʼn toestand wat geassosieer word met siekte of trauma. Verandering kan vinnig of langsaam plaasvind en kognitiewe funksies wat geaffekteer word is besluitneming, oordeel, geheue, denkprosesse, redenasie en verbale kommunikasie. Dimensie het ʼn verandering in gedrag- en persoonlikheid tot gevolg, afhangende van die area van die brein wat geaffekteer word.
Dit word waargeneem dat veral ouer persone met dimensie ’n verlaging in aggressiewe- en geïrriteerde gedrag ondervind, en hul gemoedstoestand verbeter. Musiekterapie kan selfs help om die risiko van hart- of ander brein siektes in demensie-lyers te verlaag.
Depressie. Depressie is ’n gemoedsversteuring wat die persoon se eet-, slaappatroon, en selfs fisiese gesondheid beïnvloed, hoe hy oor homself voel en die manier waarop hy op die lewe se uitdagings reageer. Dit is baie meer as net ʼn gevoel van verbygaande hartseer en eerder ʼn kroniese neiging om die donker kant van die lewe te raak te sien en emosionele pyn op ʼn diep vlak te ervaar.
Daar is bewyse dat musiekterapie, tesame met die gebruik van praat-terapie en anti-depressante, die persoon se gemoed op die langtermyn positief beïnvloed. Studies het getoon dat tydens musiekterapie, volwasse vroue se hartklop en bloeddruk verlaag het, en hul gemoedstoestand verbeter het. Dit word ook positief aangewend in pasiënte wat depressie na ʼn groot operasie ontwikkel.
Angs. Studies het getoon dat mense wat aan angs ly, groot baat by die toepassing van musiekterapie vind. Dit verlaag nie net jou hartklop en bloeddruk nie, maar laat simptome van angstigheid vinniger verdwyn. Musiek affekteer die stres hormoon, kortisol, en wanneer dit verlaag, ervaar die persoon verligting van simptome wat deur angs veroorsaak word.
Slaaploosheid. Dit is te verstane dat ʼn persoon wat aan slaaploosheid ly, ook ʼn gebrek aan energie deur die dag sal ondervind. Langtermyn slaaploosheid kan lei tot depressie, angstigheid, gebrek aan aandag, probleme met geheue en probleme om nuwe inligting aan te leer. Die voordele van musiekterapie kan tot gevolg hê dat die pasiënt vinniger aan die slaap raak, minder versteurings tydens slaap ondervind en groter konsentrasie ervaar deur die loop van die dag.
Afhangende van die individu se persoonlikheid, kan musiekterapie soms ook irritasie veroorsaak, veral wanneer dit nie die persoon se voorkeur luistergenot is nie. Té harde musiek, veral wanneer oorfone gebruik word, kan ook ’n gehoorprobleem veroorsaak.
Musiekterapie is egter nie net die luister van musiek nie, maar ook om ʼn instrument te bespeel, sang en selfs dans. Oor die algemeen hou die mens van ritme en daarom vorm musiek ʼn integrale deel van ons lewens. Dit is slegs een vorm van kreatiwiteit, maar wanneer dit effektief aangewend word, kan dit (emosionele) berge verskuif.
Al is musiek nie die kuur vir enige psigiese toestand nie, kan dit simptome van uiterste stres en pyn verlig en die pasiënt se gemoed verbeter. Musiekterapie bied die geleentheid om kreatief aan hul gevoelens uiting te gee en hul uitdagings te verwerk, veral wanneer die persoon sou leer om ’n musiekinstrument te bemeester. Dit leer jou nie net om kreatief te dink nie, maar is ’n nie-verbale uitlaatklep vir die emosionele probleme wat so baie sukkel om te verwoord.
https://www.psychologytoday.com/us/blog/natural-standard/201306/music-therapy-health-and-wellness
https://www.medicalnewstoday.com/articles/music-therapy#definition
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek