My talent Woorde 611
My talent
*
Ons almal het ongeveer dieselfde speelruimte hier op die aarde. Ons lewensweë het vier fasette en elkeen oorvleuel die een die ander, sonder dat ons dit bewustelik kan waarneem. Elkeen van ons het die een of ander talent ontvang. Party suurstof verbruikers is tevrede om net die minimum in die lewe op te offer om beslis die meeste te wil ontvang.
Die eerste fase is jou kinderdae: vir sommige tot so vroeg as een of twee jaar toe jy plek moes maak vir ʼn nuwe boetie of sussie. Kinderdae druk jou vinnig uit, want jy is nie meer ʼn baba nie, jy moet plek maak vir die nuweling, wat op jou hake bly. Jy is dalk rebels of minder gewild onder jou kompeteerders in die huisgesin. Jou lewe voel uitgerafel en jy wil net uit hierdie kinderdae ontsnap, want jy dink dit sal beter gaan wanneer jy ‘n adolessent is.
Hoe geil lê daardie toekomsvisie se akker, dat jy enige iets daarop kan verbou? In daardie speelveld is jy dalk beter voorberei. Jy het dalk iets nuttigs uit jou kinderdae geleer om nie dieselfde foute te maak nie. Ongelukkig is daar ook ander wat so dink … om beter te vaar as in die verlore gisters, wat gedurig gefaal het in elkeen se eie perspektief. Môre is onvoorspelbaar in wat dit kan oplewer.
Hoe meer jy dink wat dalk die probleem kan wees … hoekom tyd teen jou draai en jy al minder antwoorde vind … hoe meer desperaat word jy. Hoe groot kan die skok wees as jy uitvind dat tyd jou ontgroei het, selfs in die skoene van onsekerheid wat jy onvermydelik moes dra?
Al die aanmoediging deur jou rolmodelle, het soveel onervare siele van die hand gewys. ʼn Mens bly maar net mens. Baie mense dink: Wat kan jy my leer hoe om my lewe betekenisvol te laat ontwikkel?
Elkeen het al die geykte skaal van talente belewe deur eie ervaring. Hoeveel is die opbrengs in talente: dertigvoudig, sestigvoudig, tagtigvoudig … gewis, nie honderd present nie, daarvoor is ek nie ʼn volmaakte wese nie.
Die lewenswiel se seisoene het jou gedurig vorentoe gedring, tot in die grootmens wêreld. Willens en wetens het jou oë oopgegaan, jy sit met ʼn dertig present slaagsyfer talent, te min om iets in die lewe te wees. Jy besef die lewe is soos ʼn volkome outomatiese fabriek … dit word al meer ʼn pynlike proses van prosessering waaruit jy nie kan ontsnap nie … die lewe is ongenaakbaar en druk jou net al harder na vore. Hier luister niemand na jou vertoë nie. Die lewe se nagemaakte vervoerbande bly net aan die rol, daar is net geen kans om weer van voor af in die lewe te begin nie.
In jou geestelike leefruimte se geil akker … moet jy nie spaarsamig saai nie, want jy weet nie watter saad sal gedy. Wie waarneem en op tye let … sal die ooreenkoms bemerk tussen ons aardse lewe en die van Moeder Natuur.
Deur ons ganse lewe, verwissel ons lewe in verskillende siklusse … tussen goeie en uiterste haglike omstandighede … ʼn tyd van herbesin en self introspeksie. Tyd wag nie altyd op ons om alles weer te ondersoek en te onderskei nie. Gewis, sal daar baie mense graag weer wil gaan delf tussen die slegte en goeie waardes van die lewe … om te herstel en gedy tot volle glorie, lê vir baie mense vir ewig verlore. Niemand van ons weet wanneer daar sulke tye ook vir elk van ons voorlê nie.
Saai met die ideaal om honderdvoudig te oes … nie net om met die minste in die lewe tevrede te wees nie.
©Arnold
14 Mei 2024 om 15:24
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2024 - OOP projek