Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Koue gebed

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 27 Junie 2022 Aantal woorde: 1753 178 Kere gelees 5

Ek het my hande weer teenmekaar gevryf en warmte binne-in probeer blaas, maar dit was nutteloos teen die ysige wind wat deur been en siel gesny het. Ek het my een hand weer in my jas se hand gedruk, wat klein bietjie gehelp het, en met die ander hand die leisels weer vasgehou. Die hings se asem het wolkies mis gelos sover as wat hy geloop het. Ek het die arme dier jammer gekry want hy het nie die luuksheid van ‘n jas of iets gehad nie. Die koue diskrimineer nie. Dier. Mens. Voël. Insek. Plant. Die winter het genadeloos die hitte van alles en almal kom steel en die dwase wat nie geskuil het nie, het die duurste prys betaal. Ek het gevoel soos ‘n dwaas. Ek het egter nie ‘n keuse gehad nie. ‘n Lewe was op die spel en ek was die enigste een wat die lewe kon red.

Iewers tussen drie- en vieruur – doodsure in die winter – was daar ‘n gehamer aan die plaashuis se deur. Ek het dadelik geweet waaroor die gehamer gegaan het. Lewe en dood. Die eienaar van die geklop was Jakob Tamat. Ek het hom ingenooi en ‘n paar stompies in die koolstoof se maag gegooi om die hitte weer aan die gang te kry. Natuurlik ook die keteltjie aan die stook gekry, want jou buitekant kan nie warm word as jou binnekant nog koud is nie.
“Jakob, wat maak jy uit in die koue? Die koue sal jou vat en jou dood los net daar waar hy jou gekry het.”
“Dok, dis Jantjie. Die koors wil hom nie los nie. Die koors staan buite die deur en klop om Jantjie te vat.”
“Hoe lank het hy al die koors?”
“Van eergister af.”
“Watter ander simptome het hy?”
“Dok, hy hoes en dit klink of sy bors sing. Dis asof hy nie asem kry nie.”
Ek was byna seker dat dit longontsteking was. Met die koudste koue saam het ek baie gevalle van longontsteking dié winter gesien. Dis hoe Jakob se vrou, Maria, ook dood is – toe die winter skaars begin het. Die mense is te arm om ordentlike medisyne te koop. Hulle gebruik sommer allerhande bossies en kruie en goed wat hulle in die veld pluk, maar dit help niks. Penisillien was al wat gehelp het vir longontsteking.
Jantjie was die enigste familie wat Jakob oorgehad het, so ek kon nie net medisyne stuur nie. Ek moes gaan seker maak die kind kry die regte mediese sorg.
“Jakob, ons ry sodra die son opkom. Ons kan nie nou ry nie, dis te koud. Die diere gaan te swaar kry. Kom ons vat jou donkies in skuur toe.”
“Ek kan nie, Dok. Ek moet teruggaan. Jantjie is alleen by die huis. As hy iets moet oorkom as ek nie daar is nie…”
Ek het geweet ek sou hom nie anders kon oortuig nie. Niks kan ‘n ouer keer om sy kind te beskerm nie. Ek het ook geweet die koue kon dodelik wees. As ek ook nou gery het en ek of my het iets oorgekom, sou dit katastrofies wees.
Jakob het die laaste bietjie koffie afgesluk en gemik vir die deur.
“Sit ‘n koue lappie op die kind se voorkop en gee hom van dié.” Ek het ‘n botteltjie Doctor Shoops in sy hand gestop. Dit sou ten minste help vir die kind se hoes en benoude bors. “Dan sien ek jou net-nou.”
Ek het in die deur staan en kyk hoe die man sy donkiekar omdraai, die twee haaks donkies aan die loop soebat en die donker in verdwyn.

Ek het gewag tot die eerste sonstrale oor die randjie loer, toe saal ek die hings op en val in die pad. Ek het kort voor lank die donkies se spore met die karretjie se parallel lyne agterna gekry, en dit begin volg. ‘n Myl of twee toe merk ek een van die donkies het begin sleepvoet loop, en nie veel verder nie het die ander ry spore ook begin strepe trek soos die donkie begin sukkel het. Die vrees vir Jakob en sy donkies se lewens het op en af in my gedagtes gehardloop.
Die tekens van Jakob se reis deur die ysveld het ‘n storie vertel. Plek-plek in die sukkel-loop sand was die donkies se spore verder uitmekaar uit, soos Jakob hulle aangehits het om deur te druk. ‘n Paar plekke in die ryptrap van die winterlandskap het die spore gewys dat ‘n donkie op sy knieë neergesak het. Dan was daar ‘n stel mensespore waar Jakob by die donkie gaan staan het om hom regop te help.
Nog ‘n myl verder, toe die hings oor die randjie sukkel, toe sien ek wat ek gevrees het. Jakob se donkiekar. Eenkant in die eerste sonstrale het een van die donkies gestaan opsoek na die bietjie warmte wat die oggendsonnetjie gebied het. Voor die donkiekar het Jakob gesit met sy hande op die ander donkie wat plat op die grond gelê het. Die donkie het op haar sy gelê en vlak asemgehaal – die mis van haar asem skaars sigbaar. Jakob was in trane.

“Jakob, ek…” Ek kon geen woorde kry nie.
“Dok.” Die man het nie opgekyk nie. Sy hart was gebreek.
Ek het van die perd af geklim, vir ‘n oomblik gewonder wat om te doen, en toe ek nie ‘n antwoord kry nie maar my hand op sy skouer gesit.
“Bid asseblief saam my, Meester.” Hy het met pleitende oë na my gekyk.
Bid vir ‘n donkie? Ek het geretireer. “Jakob. Ek moet by Jantjie uitkom! Ek kan nie nog tyd mors nie…”
Jakob het sy kop geskud en af gekyk. “Dis nie tyd mors nie, Meester,” het hy deur ‘n hernude vloed trane gesmeek. “Dis belangrik. En ek het iemand by my nodig om my sterk te maak.”
Die donkie se lyf het stil geword. Sy het haar laaste asem gegee. ‘n Knop het in my keel gevorm en ek het dit probeer wegsluk, maar dit het hardkoppig bly sit.
Ek het langs Jakob gaan sit, en oor die donkie se lyf gevryf. Die donkie was reeds yskoud. Haar lyf was lankal dood – dit was net haar gees wat haar tot dáár gebring het.
Jakob het my hand gevat. Sy hand was kouer as ‘n blok ys, en ek het dit stywer vasgehou om bietjie van my hitte vir hom te gee. Hy het sy kop gebuig en sy oë toegemaak en ek het sy voorbeeld gevolg.
“Here. Ek weet daar kan nie lewe wees sonder dood nie. Maar Here, dit voel of die dood altyd op die verkeerde tyd kom. Soos ‘n dief kom vat die dood alles wat ek het. Maar Here, wie is ek om vir U te sê wat U moet doen en wanneer U mag neem. Ek is maar net Jakob Tamat.” Die man se stem was eerliker as enige predikant s’n wat ek nog ooit hoor bid het.

“Liewe Heer. Ek stuur haar terug na U toe. Maak asseblief die hekke vir Dassie oop en roep die engele om haar die hemel in te neem. Gee vir haar ‘n ereplek want sy het haar lewe gegee. Sy was ‘n getroue dienaar wat altyd alles gegee het, tot met haar laaste tree. Seën die hande wat haar na U toe stuur. Ek het haar gebreek vir my kind se onthalwe. En Here wanneer dit eendag my beurt is om deur die poorte te stap, laat tog toe dat Dassie saam met Maria daar wag, en my vergesel na U huis toe. Dankie dat U Dassie vir my geleen het.”
Ek het gewag vir die amen. Ek kon die man se smart in sy lyf voel en in sy siel hoor, en dit het my smart ook geword. As ek maar net die helfte soveel geloof as hierdie man gehad het, sou my siel gered wees.
“En Here. As dit U wil is, seën die Dok se hande. Jantjie is al wat ek oor het. Asseblief. Amen.”

Ek het ‘n oomblik in die stilte bly sit. Geen voël of insek het ‘n geluid gemaak nie. Nie eers die winter se ongenadige wind het gefluister nie. Die wêreld het ‘n oomblik stilgestaan om eerbied te betoon aan ‘n donkie.
Jakob het opgestaan, die trane weggevee en met ‘n glimlag gesê “Gaan maar, Dok. Jantjie wag vir jou.”
“Jakob, met my medisynesak op die perd is daar nie plek vir jou nie, anders kon jy saamry. Maar ek sal so vinnig moontlik by Jantjie uitkom en dan vir jou hulp terugstuur.”
“Wees rustig oor my, Dok. Gaan help net vir Jantjie. Ek sal wag dat Bokkie bietjie hitte kry,” Jakob het in die rigting van die ander donkie wat lui-lui loop en wei het, beduie, “en hom voor die waentjie span. Bokkie is sterk. Hy sal my daar kry.”

Vyftien minute later spring ek van die perd af, gryp my medisynesak en storm die gehug binne. Jantjie probeer flou regop sit, maar hy kom nie op nie.
“Wie is daar? Pa? O, dis Dok…” Die kind se stem was sag en droog.
Ek het nader geloop en aan die kind se voorkoop gevoel voor ek sy pols gevoel het. Hy was vuurwarm van die koors, maar dit was nog nie te laat nie. Ek het ‘n gesonde maat penisillien in sy boud gespuit, ‘n nat lap op sy voorkop gelê en die groot wag gewag.
Sowat ‘n uur later praat die kind weer. “Waar’s my pa, Meester?” Die kind was nog swak, maar ek het geweet dat hy sou deurtrek.
“Hy’s amper hier, seun.”
Ek het die stofie met nog hout gevoer en weer my plek op die stoel voor die vuurtjie ingeneem. Die hitte het al goed pad gevind deur my lyf.
Ek skrik toe Jakob skielik agter my praat. “En toe?” Jakob het van oor tot oor geglimlag. Hy het langs Jantjie op die bed gaan sit en die kind styf teen hom vasgedruk. Terwyl hy die kind vasgehou het, het hy saggies begin praat – net-net te sag dat ek kon hoor wat hy praat. Maar ek het nie nodig gehad om te hoor nie. Die man was besig met ‘n gebed. En buite het ‘n donkie gebalk.

Party helde se name sal die wêreld nooit ken nie. Daar sal nooit standbeelde vir hulle opgerig word of liedjies oor hulle geskryf word nie.
Maar ek het hulle name geken. Die Here ook.
Bokkie. Dassie. Jakob.




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Anze

    27 Junie 2022

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2022 Winterlandskap projek

  2. Amanda

    27 Junie 2022

    Hartroerend mooi. Dit is ‘n meesterstuk!

  3. Riaan Palmer

    28 Junie 2022

    Baie dankie @amanda – Dit is ‘n groot kompliment!

  4. Seirdna

    16 Augustus 2022

    Skitterend Riaan

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 65
Kommentaar telling: 37

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

SOLIDARITEIT – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

 

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 151 gaste aanlyn

Bydraes – Argief