Berg-ontspring se see-uitmond
Najade,*
in jou kringloop van see toe wals,
glim vlekloos
die son maan en sterre
om jou akwamarynhals,
weerkaats hoogswangerwolke
skommelend in jou kabbellied,
as die lente haar silwerkruik oorvloedig
oor jou dalingsdepressie
uitgiet.
En in die somer se dooie-rus-blou
bak jou paddavissie-sloepe
uitbroei-lou,
en as die langtoon deur waterlelie
se vleibosriet
sy hoogtraptree paraat afmeet,
word jou waterhondjies
gulsig opgevreet.
Dan,
as herfs se windbeuel-amok
jou can-can-bene hoog in die lug opskop
en jou broekieskant branderwit wys,
hou groot skole vissies
met vinflappende prys,
vervaard hul asems op.
En as sneeukristalle,
Najade,
jou vloei onder vriespunt toelaag,
sterf jou hart se uitbundige klop
in ‘n skyndood sarkofaag.
Maar dan,
in jou stroompiessmelt
se berg-ontspring na see-uitmond,
nocturne-aai as hoogste verbond
altyd weer deur windharp-riet
Najade, so soet
jou ontwakingslied.
©Elizabeth Greef
* Najade beteken waternimf.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
staande applous!! Briljant geskets Elizabeth!!