Jongste aktiwiteit:

Net een Antjie Krog.

Net een Antjie Krog.

Vroeë lewe en herkoms
Op 23 Oktober 1952 word Anna Elizabeth Krog gebore op Middenspruit, ‘n plaas naby Kroonstad. Sy was die oudste van die gesin se vyf kinders. Daar is drie seuns en twee dogters vir die egpaar gebore. Haar ouers was Willem Krog, ‘n boer van beroep, en Susanna Jacoba Serfontein wat bekend gestaan het as Dot Serfontein, die skryfster. Danie Serfontein, haar oupagrootjie aan haar ma se kant van die familie, was ‘n parlementslid vir Kroonstad.

Onderrig
Sy was ‘n leerling aan die Hoërskool Kroonstad waar sy haar matriekjaar voltooi het. Antjie het reeds van jong ouderdom af belangstelling getoon in taal en digkuns. Van haar gedigte in die skool se jaarblad het vir groot opskudding veroorsaak vanweë die seksuele beskrywings en politieke verse wat as lasterlik gesien. Sy word byna oornag bekend toe Die Beeld van 16 Augustus 1970 op bladsy 5 ‘n artikel plaas oor haar.

“Dorp gons oor gedigte in skoolblad”
Een van ons voorste digters reken haar werk is verbasend goed. Sy lewer
kuns, sê haar skoolhoof, en baie mense kan haar werk nie na behore
waardeer nie. Maar Kroonstad gons oor die sewentienjarige Antjie Krog,
Matriekleerling aan die hoërskool.

Antjie studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en in 1973 verwerf sy haar B.A.-graad met die hoofvakke: Engels, Wysbegeerte en Afrikaans-Nederlands.
As student dien sy op die redaksie van Irawa en Shimla, die studente dagblaaie.

Loopbaan en verdere onderrig

Tydens haar lewe as student aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat ontmoet sy vir Albie van Schalkwyk. Hy was ‘n bekende pianis. Toe hy Kaapstad toe verhuis volg sy hom. Sy word aangestel by Die Burger. In 1973 tree sy in die huwelik met Albie. Daar word vir hulle ‘n seun, Andries gebore in 1974. Die huwelik beland egter gou op die rotse en hulle paaie skei in 1976.
Sy is egter later daardie jaar weer getroud met ‘n ou skoolliefde, John Samuel. Hy was ‘n argitek van beroep. Die huwelik lewer drie kinders op: Susan, Phillip en Willem.

Antjie verwerf ‘n B.A. Honneurs-graad in Engels aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Haar M.A.-graad in Afrikaans verwerf sy aan die Universiteit van Pretoria met ’n verhandeling oor die onderwerp Familiefigure in die poësie van D.J. Opperman. Sy kry ook haar Onderwysdiploma met lof van die Universiteit van Suid-Afrika.

Joernalis en digter

Antjie staan haar plek vol as huisvrou en ma terwyl sy ook onderwyseres is by ‘n hoërskool in Kroonstad. In 1993 vul sy die pos van redaktrise by Die Suid-Afrikaan in Kaapstad. Later word sy aangestel as politieke verslaggewer by die SABC Radio-diens. Sy is ook die verslaggewer wat berig moet lewer oor die werksaamhede van die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK). Na hierdie tydperk in haar lewe skryf sy Country of my skull in Afrikaans. Nadat sy in 1999 bedank het, het sy voltyds begin skryf.

In 2001 is Antjie verkies tot ‘n komitee om die taalbeleid vir die Suid-Afrikaanse onderrig sektor moet bestudeer. In 2004 aanvaar sy die pos van Buitengewone Professor by die Universiteit van die Wes-Kaap. Tydens die tyd lewer sy gedenklesings en verskyn sy ook op televisie.

Sy vier haar sestigste verjaarsdag in Den Haag.

Omstredenheid

Antjie skroom nie om haar ten sterkste uit te spreek teen maatskaplike onreg nie. Sy is dikwels betrokke in polemiek en stamp koppe met vele ander mense. In 1987 bots sy met Ton Vosloo oor die bedanking van die redakteur, Dene Smuts.

In 2003 spreek sy haar uit dat Suid-Afrikaners van verskillende rasse mekaar nie aanvaar nie tydens ‘n simposium van die NG Kerk.

Kritiek teen Antjie

In 2006 word sy beskuldig van plagiaat deur professor Stephen Watson van die Universiteit van Kaapstad. Hy beweer dat haar digbundel met vertalings van Sandigters, die sterre sê ‘tsau’, gebaseer is op sy eie bundel . Antjie ontken die bewering van Watson ten sterkste.

Poësie

1966 – 1970 verskyn Antjie se eerste werk in skoolkoerante en sy wen verskeie literêre kompetisies vir skoolgaande leerlinge.

1970 publiseer sy haar debuutbundel Dogter van Jefta wat hoofsaaklik uit hoërskoolgedigte bestaan oor onderwerpe van liefde, seksualiteit, volk, vaderland en godsdiens

1972 publiseer sy Januarie-suite wat bestaan uit intieme liefdesgedigte, asook die soeke na dinge wat verlore is. Hiervoor ontvang sy die Eugène Marais-prys.

1974 publiseer sy Beminde Antarktika asook Mannin wat handel oor vrouens se belewenisse voor en na die huwelik. Vir hierdie bundels ontvang sy die Reina Prinsen Geerligs-prys.

1979 publiseer sy Otters in bronslaai, ‘n hoogtepunt in haar loopbaan. Dit handel oor die self, huweliksmaat, seksualiteit, kerke en digkuns op verskillende maniere. Hier ontvang sy die W.A. Hofmeyr-prys.

1987 Jerusalemgangers, hier kry sy Rapport-prys.

1990 Lady Anne – die Hertzogprys en is sy ook op die kortlys vir die C.N.A.-prys.
1992 Lady Anne kortlys vir die toekenning van die Helgaard Steyn-prys.

1996 Gedigte 1989–1995 op die kortlys vir die toekenning van die Helgaard Steyn-prys.

2001 Kleur kom nooit alleen nie verkry sy die heel eerste RAU-prys vir skeppende skryfwerk

2004 Kleur kom nooit alleen nie verskyn op die kortlys vir die toekenning van die Helgaard Steyn-prys.

Antjie se gedigte word vertaal in ander tale, onder andere Engels, Nederlands, Italiaans, Spaans, Sweeds en Serwies. Daar is ook toonsettings van sommige gedigte.

Vir die kinders

Alhoewel Antjie meestal fokus op ernstige temas, het sy haar aandag ook gevestig op kinderverse. Hier dink ons aan die bekende Mankepank en ander monsters in 1997 en Fynbosfeetjies in 2010. Sodoende laat sy ‘n ryk erfenis na in letterkunde en skep sy ruimte vir die jonger lesers om op jong ouderdom die skat van poësie te ontdek.

Prosa

Haar veelbesproke boek Country of my skull skryf sy in Afrikaans en Ivan Vladislavis help vertaal dit in Engels. Dit is baseer op die werk van die WVK en beeld onder andere die woorde van slagoffer uit. Vir hierdie werk kry sy in 1999 die Sunday Times Alan Paton Award vir nie-fiksie. Sy ontvang ook ’n toekenning van die internasionale Hiroshima Stigting vir Vrede en Kultuur. Daar word ‘n film vervaardig met die naam van In my country.

Verskeie ander werke uit Antjie Krog se pen sien die lig.

Afsluiting

Antjie Krog is en bly ‘n veelbesproke, invloedryke skrywer in Suid-Afrika en die wêreld. Met haar verskeie pryse en toekennings het sy bygedra tot die bevordering van Afrikaans.

Sy is ‘n stem van hoop, geregtigheid en versoening in ‘n land wat worstel met sy verlede en sy toekoms.

©MarleneErasmus
30/11/2023

(1068 woorde)

Bronne:

www.afrikaans.com/2022/10/25/antjie-krog-n-voelvlug
https://www.dbnl.org/tekst/_ons003199601_01/_ons003199601_01_0079.php
https://dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/4953/Vanschalkwyk_JM.pdf?sequence=3&isAllowed




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed