Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: NET ‘N SIEKTE

Deur Vonnie
Datum gepubliseer: 14 September 2021 Aantal woorde: 1484 20 Kere gelees Hou van

Vrouekeur 4 Februarie 2011 (Benoem vir ‘n ATKV-mediaveertjie)

Mara| skrik wakker. Sy is papnat gesweet. ‘n Gevoel van onbeskryflike angs druk haar keel toe en met ‘n kurkdroë mond bid sy: “Ag Here, help!”

Dié smeking vir hulp van Bo is die wanhoopskreet wat deur die jare elke keer eggo wanneer Mara in ‘n depressiegat val, terwyl paniek haar keel toewurg en sy na asem snak.

Sy het op 18 jaar haar eerste paniekaanval beleef en eers ná verskeie sulke voorvalle is endogene depressie by Mara gediagnoseer – ‘n chemiese wanbalans in die brein. Vir die volgende 49 jaar het hospitalisasie, medikasie, aarvoeding, sielkundige behandeling, skokbehandeling en ook ‘n mislukte selfmoordpoging gevolg. Vandag, op die ouderdom van 67 jaar, bly die swart hond van depressie steeds na haar hakke hap en gryp paniekaanvalle haar steeds aan die keel.

Baie mense noem depressie die stigma van ons tyd, hoewel die mediese wetenskap vandag dit inderdaad as ‘n siekte bevestig. Dit word deur GEMS (Goverment Employees Medical Scheme) as een van die 25 chroniese siektes gelys en deur mediese fondse erken. ‘n Depressielyer sê mense wat aan dié siekte ly, praat nie maklik daaroor nie en is bang hulle word as swakkelinge beskou.

Ruda Landman skryf in die voorwoord van Jeanne Els se boek Ligdans: “As ons almal net makliker, sonder vooroordeel of stigma, daaroor kon praat.”

In Ligdans praat Jeanne self oor “die siekte wat so skrikwekkend kop uitgesteek het” en verwys ook na die stigma daaraan verbonde. “Ek besef nou dat daar ná vele boeke, rolprente en toneelstukke oor dié siekte steeds nie genoeg begrip vir depressie is nie. Nou nog kleef daar ‘n onregverdige stigma aan die siekte en veral aan die mens wat dit het.”

Daar kleef nie ‘n stigma aan siektes soos kanker of hartkwale nie, waarom dan aan depressie as dit ook ‘n siekte soos enige ander siekte is? Dit word tog immers as ‘n chroniese kwaal erken.

Kan dit wees omdat dit met die brein te doen het? ‘n Mens se brein is tog ‘n orgaan soos die lewer, hart of enige ander orgaan, dan nie?

“Ja,” sê dr. Neil Nedley, mediese dokter wat die Depression Recovery-program aanbied en skrywer van Depression, the way out. “Die brein is die mees gekompliseerde struktuur in die menslike liggaam.

“Dit het miljarde senuweeselle en duisende verskillende soorte neurotransmittors. Dit is chemiese boodskappers in die brein met ‘n duisend verbintenisse en ‘n ongelooflike een honderd triljoen sinäpse!”

Dr. Henri Olivier, ‘n psigiater van Kaapstad en kenner op die gebied van angs en geestesongesteldhede, bevestig depressie is ‘n mediese toestand en kan fisiologies verkaar word.

“In die brein is daar chemiese reaksies wat elektriese impulse tussen die neurotransmittors gelei, wat jou denke, gemoedstoestand en emosies bepaal,” verduidelik hy. “Medici noem hierdie komplekse skakeling die ‘limbiese stelsel’. As dit nie reg funksioneer nie, is jy geneties vatbaar vir depressie.”

As dié “emosionele brein” nie reg funksioneer nie, raak jy depressief, want die nodige elektriese impulse tussen neurotransmittors word weens ‘n te kort aan neuro-oordragstowwe nie oorgedra nie.

Daar is op wetenskaplike gebied nie sekerheid oor presies waarom sommige mense se limbiese stelsel nie reg funksioneer nie. Navorsing het egter bevind daar is ‘n noue verband tussen ‘n tekort aan serotonien en depressie. Dit dui op ‘n direkte verband tussen die verlaagde chemiese reaksies van serotonien.

Serotonien word uit triptofaan gevorm, ‘n aminosuur wat in kosse voorkom. Te min serotonien blokkeer die oordrag van impulse ná langdure stres, wat weer die afskeiding van ‘n oormaat adrenalien tot gevolg het.

Adrenalien word deur die byniere geproduseer en word normaalweg onder strestoestande afgeskei vir die liggaam se veg- of vlugreaksie. In die geval van depressie word die serotonien egter deur ‘n oormaat adrenalien afgebreek.

Endogene depressie is dus ‘n chemiese wanbalans in die brein – ‘n tekort aan serotonien – terwyl reaktiewe depressie (deur eksterne gebeure veroorsaak) ook ‘n tekort aan serotonien kan veroorsaak.

Depressie beteken dus daar is te min serotonien wat veroorsaak dat boodskappe in die brein weens vertraagde chemiese reasies nie reg oorgedra word nie. Daarom is jy die een oomblik in die wolke en die volgende oomblik teen die grond. Dit word raak beskryf in Ligdans toe Jeanne in die hospitaal was en ‘n ander depressielyer tydens ‘n gesprek vir haar gesê het: “Die een oomblik voel jy on top of the world. Jy’s op natuurlike Ecstacy. Jy voel jy kan sommer alleen al die wêreld se probleme oplos. En dan skielik. . .bang! Jy kom met ‘n helse slag grond toe. Jy voel geen lewe, geen hoop, geen vreugde nie. Jy’s op die allerlaagste laagtepunt soos ‘n grafiek op die monitorskerm. Die lyn beweeg net liggies op en af en maak sulke askies-tog-dat-ek-lewe-hobbeltjies.”

Volgens die wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ly ‘n geskatte 121 miljoen mense wêreldwyd aan depressie. Minder as 25% het toegang tot doeltreffende behandeling en na raming sal depressie teen 2020 die toonaangewende rede vir werkloosheid en gebrek aan produktiwiteit wees. . .

Daar is egter hoop!

Daar is kalmeermiddels wat angstigheid beheer, slaapmiddels om ‘n slaappatroon te vestig en antidepressante wat die hoeveelheid neuro-oordragstowwe in die brein verhoog. Dit help jou om beter te voel en te funksioneer sodat jy ‘n normale lewe kan lei.

Ronel de Villiers, kliniese sielkundige, sê as jy weens ‘n chemiese wanbalans in jou brein depressie het, kan dit chronies deel van jou lewe bly. “Jy sal moontlik vir die res van jou lewe medikasie benodig om die wanbalans te reguleer,” sê sy.

As jy meer as twee ernstige depressie-aanvalle beleef het, sal jou dokter of sielkundige waarskynlik aanbeveel dat jy lewenslank antidepressante moet gebruik. In uiterste gevalle word skokbehandeling toegepas. Jy kan jouself ook teen depressie pantser deur ‘n gesonde lewenstyl te handhaaf.

Die gevare vir ‘n lyer.

Selfmoordneigings en selfmoord is ‘n wesenlike gevaar en so ook emosionele pyn weens die stigma wat aan depressie kleef.

Prof. Lourens Schlebusch is ‘n internasionale kenner oor depressie en selfmoord en verbonde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal se fakulteit gesondheidswetenskappe. Hy sê die profiel van mense wat selfdood pleeg, word al jonger met kinders so jonk as tien wat selfdoodneigings toon. Volgens hom is die syfers in Suid-Afrika selfs hoër as die globale gemiddelde van 16 selfmoorde gevalle vir elke 100 000 mense.

Selfmoord dra reeds sowat 11% tot die oorsake van onnatuurlike sterftes in Suid-Afrika by. Volgens Diane Malleby, sielkundige verbonde aan die Suid_Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag), moet depressie se onderliggende siektetoestand nie buite rekening gelaat word nie. Minstens 75% van mense wat selfmoord pleeg, is depressielyers en nie alle lyers word betyds gediagnoseer nie,” sê sy.

Volgens Tabitha Hume, kliniese dieetkundige en skrywer van die topverkopers Die X-dieet en Vroue en kos, het navorsing bewys depressie is die gevolg van ‘n chemiese wanbalans tussen adrenalien en serotonien wat ook met vetsug verband hou.

Wanneer serotonienvlakke daal, word daar na koolhidrate gehunker wat dié vlakke vinnig verhoog en jy kan jou aan lekkers, sjokolade en trooskos vergryp.

Tabitha sê koolhidrate soos pasta, lensies, rys en gort is noodsaaklik om depressie teen te werk. Dit help die brein om serotonien te vervaardig.

Volgens ‘n nuwe studie in die American Journal of Clinical Nutrition, is sekere vitamiene ook van kardinale belang.

Daar is bevind dat vitamien B6 sowel as vitamien B12 ‘n kritiese rol in die produksie van neuro-oordragstowwe speel.

Gesondheidsplan vir depressie.

Kos: Eet baie grane, vrugte, groente en neute. Neute as proteïen kan vir neerslagtigheid help. Amandels is ‘n baie goeie bron van ogema-3, wat vir depressie help. Só ook groen sojabone, spinasie en ander groen blaargroentes. As versoeter is vrugtesuiker (fruktose) en heuning beter keuses. Veral vitamiene B6 en B12 verhoog serotonienvlakke op ‘n natuurlike manier. Gebruik dus multivitamiene en ook foliensuur, magnesium en kalsium.

Oefening: Tydens oefening word endorfiene geproduseer wat die funksie van die frontale lobbe van die brein verbeter. Dit verhoog serotonienvlakke en verhinder die effek wat kortisol op die liggaam het.

Sonskyn: Net soos met oefening speel sonskyn ‘n baie groot rol in die produksie van endorfiene, wat depressie en stres verlig.

Vars lug: Endorfienproduksie word ook deur vars lug verhoog.

Water: Drink minstens ses tot agt glase water per dag, en meer as jy gestres voel. Dit kalmeer die senuwees.

Rus: Agt uur se slaap is ideaal.

Matigheid: Hou matigheid voor oë ten opsigte van dieet, water, oefening, sonskyn en rus.

Ék is Mara en ek hoop my storie sal tot die ontkoppeling van die depressiestigma bydra en dat die gesins- en familielede van depressielyers en die samelewing tot die besef sal kom dat depressie inderdaad ‘n behandelbare siekte is. Ook dat ons met die nodige kennis, insig en ondersteuning depressie kan hanteer.

Vandat ek 49 jaar gelede met endogene depressie gediagnoseer is, gebruik ek medikasie om depressie en angsaanvalle te beheer. Ek het ook met die verloop van jare geleer dat ‘n gesonde lewenstyl inderdaad in ‘n baie groot mate ondersteunend is om die siekte te beheer.

Kry hier hulp.

SA Depressie- en Angsgroep (Sadag): 0800 567 567 0f 012 262 6396 *Life Line: 011 7281347 of 0861 322322 *Compassionate Friends: 011 440 6322.

(Kopiereg voorbehou)




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 30
Kommentaar telling: 1

Ek is allereers die trotse skrywer van Afrikaans, my pragtige moedersknie-taal! 'n Gepubliseerde vryskutjoernalis met artikels in van ons Afrikaanse tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie, Vrouekeur en Rooi Rose. Ook digter,  liriekskrywer en komponis. Dus liedjieskrywer van my eie, sowel as ander se gedigte en lirieke en hartstogtelik lief vir musiek en sang. Ek geniet myself gate uit met die skryf van rubrieke, skryf ook verhale en maak ook so nou en dan keel skoon by wyse van 'n lekker ou gorreltjie. En o ja! Na baie, baie jare as skrywer, het ek uiteindelik drie boeke die lig laat sien en is ek nie 'n bietjie trots nie! My biografie Daar huil 'n kind in my, Rubrieke sonder brieke en Gedigte op die vleuels van musiek. Daar...genoeg. Nou moet ek verder aan die skryf kom!

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 103 gaste aanlyn

Bydraes – Argief