ONTDEKKINGSREIS.
Ek het na jou kom soek,
Jou nagevors in elke boek.
Jou geboorteland deurkruis,
en op elke denkbare pad geloop,
myself ook in die Jordaan gedoop.
In die ou stad koop ek groente en vleis,
–vanaand vier ek Jerusalem op reis!
Hier is heerlike vars kruie en speserye
— handevol halva met dadels daarby.
Verwonderd terwyl ek waadpoot deur
die eeu oue Hiskia tonnel loop,
spoel ‘n enkeldiep waterstroom deur
my ougoed ashoop —
alles word nuut in die rots se skoot.
Herbore en deur die tonnel uitgestoot,
breek by Siloam, my lewenskoord.
Vir ‘n oomblik deur die lig verblind,
sien ek bome, sien ek soos ‘n kind.
Ek moet aanhou soek, ek moet jou vind.
Ten laaste gaan ek na die Oliepars.
Hier kry jý my, nog steeds besig om spoor te sny.
Jou oë is sag, die dou op jou hare vars.
Vir só lank het ek jou gesoek.
Jou naam is Ek is…die Boek.
MCDb.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.