Jongste aktiwiteit:

ONTVOER

ONTVOER!

die ware verhaal van Johannes Maartens se ontvoering in Mei 1978

neergepen deur Marthie Swift (Joubert), susterskind van Johannes Maartens

 

ʼn TWEEDE KANS

Sondag 14 Mei 1978.

Ek sit op die kant van my bed, buk af en knoop my skoene se veters. Foksie kom  stertswaaiend van sy slaapkussing om my te groet. Hy vry vir ʼn krap agter die ore en ek doen dit heel gewillig. Ek glimlag as ek daaraan dink dat ek hierdie eenvoudige takies nie voor my hartope-rasie kon uitvoer nie. Dis ʼn glimlag van dankbaarheid oor my tweede kans op die lewe.

Dit was meer as nege jaar gelede in Januarie 1969 toe ek op vier-en-veertig jarige ouderdom ʼn massiewe hartaanval gehad het. Volgens dokter Brand, ons huisdokter, het ek die aanval slegs oorleef oor Jean, my geliefde rooikop. se flinke optrede. Hoe kan ek dit ooit vergeet?

Na die hartaanval was ek chronies moeg. Dokter Brand was raad-op en het voorgestel ons maak ʼn afspraak by dokter Chris Barnard ver-bonde aan die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad. Hy was op daardie stadium oorsee en ek het ʼn afspraak by sy broer, Maruis Barnard. Ge-kry. Hy het ʼn hartoorplanting aanbeveel. Net die heel ernstigste gevalle word daarvoor oorweeg en ek is op ʼn waglys geplaas.

Terwyl ek gewag het op ʼn nuwe hart, het dokter Chris Barnard teruggekeer uit die buiteland en sy broer se diagnose oor my hart be-vestig. My hart was so erg beskadig dat ek ʼn nuwe hart sou moes ont-vang. Dokter Barnard het op daardie stadium pas sy eerste hartoor-planting gedoen en het nog gewag om te sien hoe suksesvol dit sou wees. Hy het ʼn ander opsie voorgestel wat vir my kon werk ook ‘n eer-ste: ʼn dubbele hartomleiding.

Vir ʼn nuwe hart het ek nie kans gesien nie, maar die magtelose moegheid kon ek ook nie meer hanteer nie. Met my geliefde rooikop altyd passievol aan my sy, het ek nie ʼn kat se kans gehad om boedel oor te gee nie. Soggens het sy my uit die bed geboender en stoep toe begelei – selfs die kort afstand stoep toe het my uitasem gelaat.

“Kom my man, ons gaan nie nou opgee nie, die Here sal ons hierdeur ook dra,” was altyd haar bemoedigende woorde.

Om van my stoep af te sit en kyk hoe my oudste seun, Hannes, my boerdery oorneem en bestuur, was bemoedigend en terselfdertyd hartseer. Ek was dankbaar dat hy klaar was met skool en sy weermag-opleiding en my wel kon uithelp.

Die onsekerheid oor die prosedure waarvoor ek moes instem, het my op my knieë gehou. Nagte het ek gebid vir duidelikheid, tot een nag, soos in ʼn droom het ek die versekering gekry dat die Here my deur hier-die groot krisis sou dra, wat ek ook al besluit.

Op 21 Julie 1970 het dokter Chris Barnard en sy span ʼn dubbele hartomleiding suksesvol op my uitgevoer. Buiten vir ʼn geringe terugslag of twee, het ek volkome herstel. Daar is egter ʼn ellelange lys van medi-kasie wat ek moet gebruik, maar ek kla nie. Ek is dankbaar vir die tweede kans op lewe, vir gesondheid en elke nuwe dag – ook vir hierdie dag.

VOORGEVOEL

Soos elke Sondagoggend maak ons gereed om die kerkdiens by te woon. Saam met medegelowiges uit die dorp en omgewing, betree ons die kerkgebou op Rusape.

By die deur steek ek vas. Jean hak by my in en fluister besorg: “En nou my man?”

“Dit voel asof ek op heilige grond staan vanoggend,” fluister ek te-rug en stap na die bank waar ons gesin altyd sit. Eers het ons die hele ry gevul, nou met net Ria en Tersia in die huis maak ons die kerkbank net half vol. Hans, Meisie, George, Pop en Jeanne het die nes reeds verlaat. Daar is dae wat ek die gewoel van my groot gesin mis. Tien-jarige Tertia maak haar langs my tuis en vleg haar arm deur myne.

Ek luister hoe die gemeente sing. Ek sing nie saam nie, wag net – waarvoor, weet ek nie. Die pastoor bid. Die gemeente neem hul plekke in. “Slaan julle Bybels oop by Psalm 91” sê hy en wag ʼn oomblik, “Hy wat in die skuil-plek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige,” dreun sy stem…

Dis my geliefde vers. Hierdie woorde is vir my bedoel. Ek laat sak my kop, lees nie saam nie maar luister aandagtig na die woorde uit die pastoor se mond in ʼn poging om te hoor wat die Here vir my wil sê: Biddend wag ek.

“Here, wat wil U vir my sê? Is U besig om my vir iets voor te berei? Gaan daar iets met my gebeur?” Die hele diens praat ek met die Here. Deur my hartaanval en groot operasie het Hy my gedra en my gesond-heid aan my teruggegee. “Wat wil U vir my sê Here?” bid ek weer sag-gies.

TRAAG OM TE GAAN

Donderdag 18 Mei 1978.

Dis halfvier, ure voor sonsopkoms. Ek is wawyd wakker. ʼn Onrus-tige gevoel klou aan my soos ʼn nat kombers. Ek neem my Bybel en gaan sitkamer toe. Foksie kom lê by my voete. Dit voel asof ek ekstra krag nodig gaan hê vir hierdie dag. Die Bybel val weer oop op Psalm 91.

“Here wát wil U vir my sê. Gaan daar iets met my gebeur?” vra ek weer en lees die Psalm oor en oor, laat my hoof sak en wag. Lank sit ek so en peins. Toe ek weer kyk is dit sesuur.

Ek stap kombuis toe met Foksie al agter my aan, sit die ketel aan en staar ingedagte deur die venster. Die son wil-wil net deurbreek. ʼn Donker wolkbank lê op die oosterkim. Is reën op pad? Die singende ketel onderbreek my gedagtes. Wat op aarde is vandag met my aan die gang? Ek kry nie die gevoel van ongemak afgeskud nie.

Jean slaap nog toe ek die kamer binnekom met ons oggendkoffie. Foksie neem sy kans waar, spring op die bed en maak hom teenaan Jean tuis. Met die skinkbord in my hande, bekyk ek na die rooikroon wat oor die kussing versprei lê. Jean, my Kats, is so pragtig vir my. Fyn plooitjies kreukel die vel in die hoeke van haar oë en mond. Sy lag so maklik, selfs te midde van die spanning wat sy moes verduur met my hartaanval en stadige herstel en nou weer met die politieke onrus. Die laaste maande op die plaas, voordat ons dorp toe geskuif het, was veral spanningsvol. Stadig maak sy haar oë oop.

“Nou toe, as jy so staan en staar, waarna kyk jy?” Sy vryf die slaap uit haar oë.

“Na jou, my skoonheid,” antwoord ek en plaas die koffie langs haar neer. Ek gaan sit op die kant van die bed en slaan my arms om haar warm slaaplyf en soen haar vol op die mond. Foksie probeer hom tussen ons inwurm.

“Maartens, wat gaan vanmôre met jou aan?” Laggend swaai sy haar bene van die bed af, tel Foksie op en groet hom neus teen neus. “Môre, ounooi se honne, laat ek eers my koffie drink. Daar’s nie nou tyd vir ʼn gekafoefel, met een van julle twee nie,” lag sy en vat haar koppie koffie.

Ek bly sit. Drink my koffie stadig, gooi die laaste bietjie in die pie-ring en slurp dit op, ʼn gewoonte van my wat Jean goed ken.

“Wat’s fout Hannes?” Nou is sy ernstig. “Voel jy sleg?” Sy sit haar hand saggies op myne en ek voel hoe haar warmte deur my trek.

“Ek voel nie watwonders nie, my lief, maar ek moet uitry plaas toe. Ek sal daar ʼn bietjie rus.” Ek probeer haar gerusstel met ʼn ligte soentjie op die voorkop.

“Moenie vandag gaan nie. Rus eerder hier by die huis. Jy werk nou al die hele week hard. Ry môre plaas toe.” Daar is ʼn dringendheid in haar stem.

“Nee, my liewe Kats, die tabak moet môre op die mark wees en ek ontmoet Jannie vanoggend op die plaas.” Ek wik nog ʼn oomblik.

“Dan rus ons die naweek en braai ʼn vleisie,” gee sy bes.

Ek trek haar op en hou haar teen my vas. “Ek maak vir ons roos-terbrood en eiers terwyl jy aantrek. Ek sal net na ontbyt ry. Dis Donder-dag en ek moet nog die volk se kruideniersware aankoop en dis ʼn lang lys.” Ek laat haar teesinnig gaan en kyk hoe haar dierbare lyf agter die stortgordyn verdwyn. Hoe lief het ek nie hierdie vrou nie.

“Kom, Foksie, ek en jy gaan maak ontbyt en jy moet ook kos kry.”

Ek maak ʼn draai by Tertia wat nog lê en slaap, toegetrek onder die komberse. Ek buk af, trek die kombers weg en soen haar op haar slaapwarm wang. “Wakker word, pa se meisiekind!” Sy kreun en strek haar arms bokant haar kop uit.

“Móét ek opstaan?”

“Natuurlik, dis nog nie naweek nie!” antwoord ek en vryf haar hare deurmekaar.

Ek stap by die deur uit roep in die gang af: “Ria! Is jy al op!” Hierdie sestienjarige kind van ons het besluit sy het genoeg gehad van skool, werk nou vir Edgars saam met Jean. Op haar “Ja Pa!” draai ek terug kombuis toe om die beloofde ontbyt te gaan maak.

Ria in werksklere en Tertia in skoolklere kom bied hulp aan met die ontbyt. Hulle dek die ontbyttafel en ons het alles gereed toe Jean by ons aansluit. Saam geniet ons ontbyt onder die geklets van ons dogters wat hulleself later verskoon om gereed te maak vir die dag se bedrywig-hede. Ek kry ʼn soen op elke wang van die twee en met ʼn “Sien pappa!” is hulle terug kamers toe. Ek en Jean sit nog ʼn wyle en gesels, rek die saamkuier uit. Ek neem haar hande in myne, soen hulle om die beurt. “Ek slaap oor vanaand, dan is ek sommer môre daar vir die laaiery.”

“Bel my sodra jy daar aankom. Dink jy die paaie is al klaar ge-vee?” vra sy bekommerd. Die paaie word elke oggend gevee vir land-myne.

“Ja wat, teen die tyd wat ek alles klaar gekoop het, sal dit seker tienuur wees. Die veëery is gewoonlik afgehandel teen daardie tyd,” stel ek haar gerus.

Ek staan traag op en trek Jean uit haar stoel op, druk haar styf vas en soen haar. Ek wil haar nie laat gaan nie.

“Bel jou later,” sug ek en stap uit met Foksie agter my aan.

“Hannes, die beskuit!” hoor ek haar roep. Ek draai om en trek haar met beskuit en al weer in ʼn omhelsing, soek haar sagte lippe vir nog ʼn soen, vat die beskuit en stap na my mercedes toe. Die oomblik toe ek die deur oop het, spring Foksie in. Hy bly nie alleen by die huis nie.

“Here, wat is aan die gang vandag?” Die onrustigheid beklem my en ek kry dit nie afgeskud nie.

Toe ek my kom kry is dit na tien. Ek stop voor Edgars in die middedorp, maak al die vensters effens oop en klim uit. Foksie mag nie saam die winkel in nie.

“Genade my man, ek dog jy’s hoeka al op die plaas!” roep Jean verbaas uit.

“Ek het net gou ʼn koppie tee saam met my girls kom drink,” lag ek flou. Jean roep Ria nader en skink vir ons elkeen ʼn koppie tee in die personeelkombuis. Vinnig sluk ek my tee af en sit die koppie neer. “Dankie, my vrou, die koppie is koud, nou moet ek in die pad val.” Ek gee elkeen ʼn druksoen en loop tot by die deur, draai om, haal my cow-boyhoed af en probeer verspot ʼn galante buiging maak.

“Sien julle môre!”

PLAASPAD VAN HERINNERINGE

Dokter Jannie laat my weet hy kon my vandag ook nie op die plaas ontmoet soos ons afgespreek het nie. Ek het gehoop hy sou dit vandag kon maak nadat ons afspraak gister deur die mat geval het. Die diefstal onder sy vee het nou so erg geword dat hy het besluit om liewer te verkoop. Hy het ʼn paar pragtige beeste wat ek by hom wil koop. Hy is nou die enigste dokter op die dorp en kan nie meer so gereeld uitry plaas toe nie. Daar het seker weer iets voorgeval, ʼn siek pasiënt of iets.

My gedagtes gaan terug na 1947, toe ons hier aangekom het. Dit het omtrent oorreding gekos om Jean te oortuig om saam met my in Rhodesië te kom boer. Ons het in Vereeniging gebly. Sy was ʼn stads-japie, deur en deur. Gelukkig het haar liefde vir my en ons eersge-borene die knoop deurgehak. Ek glimlag as ek dink aan hoe naby aan terugtrek ons was toe my Rooikop die plaas sien wat toe net ʼn beboste lap aarde was met net niks daarop nie. Dit het mooi praat gekos.

My oom wat die grond vir my gereël het, het ook vir ons vir verblyf by Stienie-hulle op die buurplaas gereël, totdat ons ons eie gehad het. Stienie het vir Jean alles van die plaas-lewe af geleer. Ons het groot vriende geword.

Ek en ʼn paar werkers het die bos begin oopkap en latte gesny om kleihutte mee te bou. Die werkers was van groot hulp met hulle kennis en vaardigheid om die hutte op te rig. Dit was ons eerste tuiste in die nuwe land.

Met my gesin nou by my, kon ek begin om ʼn baksteen huis te bou. Klein Hans het homself gate uit geniet in die kleigat waaruit ons klei-stene gemaak het. Oor die volgende maande het ons vierslaapkamer-huis stadig maar seker verrys.

Deur die jare is ons geseën met sewe kinders, waarvan die oudste, Hans, twee en dertig is. Almal is al klaar met skool behalwe die jongste, Tersia.

My geweer! Ek het vergeet om my dit te vat. Die terroriste raak al meer aktief en boere móét met hulle gewere rondry. Daaroor wonder ek dikwels. Watter kans het een man met ʼn geweer in elk geval teen ʼn groep terroriste wat onverwags uit die bos voor jou opduik.

Met ʼn vinnige uitswaai mis ek ʼn tak wat dwars oor die pad lê. Dit kom nou daarvan om te sit en droom. ʼn Mens moet wakker wees op die pad as jy wil bly lewe. Die Zimbabwe African National Liberation Army vegters is oral in die bosse. ʼn Tak oor die pad kon ʼn strik wees. Ek ry meer waaksaam verder.

Hoe vinnig het my rooikop nie in ʼn uithaler boervrou en kok ver-ander nie! Niks staan vir haar hande verkeerd nie: van wild bewerk, biltong maak en die heerlikste etes voorberei. Voorwaar ʼn voortreflike vrou, soos die wyse Salomo sou sê, glimlag ek in my enigheid.

“Maartens! Kyk waar jy ry,” maan ek myself, toe ek ʼn groot klip in die middel van die pad net-net mis. Nou is my volle aandag weer op die pad.

Dis nie meer ver van Moringowe, my plaas af nie. Ek hoop en bid die oorlog kry end na die verkiesing sodat ek my familie kan terugbring plaas toe. Jean is so lief vir haar tuin, veral die rose. “My aftreeplaas,” dink ek hardop. Ons het heerlike dae deurgebring langs die waterval. Die huis is so gebou dat ʼn mens vanaf die stoep ʼn uitsig het op die berg en die silwer waterstroom wat dwarsdeur die jaar na benede stort, ʼn lus vir die oog.

My werkers is soos familie. Elkeen op sy eie lappie grond met ʼn groentetuintjie, ʼn skaap, ʼn vark, ʼn paar hoenders en party het ʼn melk-koei. Hulle kry ook daagliks hul kwota melk van die melkery af.

Teen die helling van die berg was Jotam se groentetuin. Hoe mis ek nie die vars groente wat uit sy tuin gekom het nie. Ek het my op ʼn dag lelik vervies vir hom, toe dié aanhou om my te vermaan om nie-mand te vertrou nie.

“Níémand, my kleinbaas, niemand, nie eers vir mý nie, ons kan en mag nie praat nie, hulle moor onder ons tot hulle die skuldige kry. Nee, jy vertrou níémand nie!” Hy was baie ernstig daaroor.

Die mense kom jare al saam met ons, selfs die seisoenwerkers. Dit was ʼn hartseer dag toe Jotam dood is, deur sy dronk vrou doodge-slaan. Ons het hom by die heining begrawe en die kinders het gereeld blomme op sy graf geplant. Dit het ʼn gespottery onder die bure ontlok. Die voorvadergeeste sou ons kwansuis nou oppas. Ai, die mensdom met hul bygelowe.

Die hek doem voor my op. “Dankie Vader vir U beskerming sover, dis net deur genade.”

Al die boere het dubbele heinings en twee hekke. My een hek is ʼn geruime tyd al stukkend. Ek sal dit regmaak na die oes. Ek klim uit ter-wyl ek die omgewing fynkam vir enigiets buitengewoon. Foksie be-snuffel die bekende omgewing. ʼn Oomblik staan ek roerloos, ʼn koue rilling gly teen my rug af. Nee, alles lyk tog veilig. Ek maak die hek oop en stap terug kar toe. Foksie spring in, ek klim in en ry stadig deur die hek; stop, klim weer uit, maak die hek agter my toe. My nekhare staan penorent.

“Ruk jouself reg, Maartens,” spreek ek myself hardop aan, klim in die motor en ry met die kronkelpaadjie tot die tabakstoor voor my op-duik.

Ek buig my hoof. “Rus eerder hier by die huis,” sing Jean se stem in my ore. Ek ril. “By U skuil ek vandag, Vader,” fluister ek en parkeer by die stoor. Dis onrusbarend stil op die werf. Waar is die werkers? Foksie se ore is gespits waar hy kiertsregop langs my sit. Hy grom.

Toe breek die hel om my los!

AK-47 IN MY RUG

Soos sprinkane in ʼn mielieland verrys hulle agter die struike, bosse en geboue en omsingel my – terroriste geklee in burgerlike klere maar met weermagstewels aan, almal gewapen met AK-47 gewere. My hart klop in my keel. ʼn Donker wolk bedek weer die son.

Daar’s nie tyd vir wonder nie. Al vier deure van my kar word oop-geruk en ek word aggressief beveel om uit te klim en my hande te hou waar hulle dit kan sien. Vir ʼn oomblik is ek verlam. Foksie spring by die deur uit hap-hap dapper na die enkels van die terroriste. Hy word met stewels en geweerkolwe afgeweer en gee ʼn benoude tjank toe een hom te hard tref. Ek word hardhandig uit die kar geruk en met ʼn geweerloop in my rug stoor se kant toe gestuur tot my gesig amper teen die stoor-muur druk. Foksie is weer keffend om die voete van die terroriste, reg om my te verdedig.

“Put your hands on your head,” kom die bevel. Hulle begin my deursoek – tot onder my skoene. Die drie dollar wat in my sak was, ver-dwyn in een van die ondersoekers se sakke asook my bos sleutels. Tot my verbasing ignoreer hulle my polshorlosie en trouring. Foksie staan nou op ʼn veilige afstand en kef, weggeskrik deur die kappende kolwe en skoppende stewels.

“Okay, okay, julle het my!” reageer ek in hulle eie taal, vas oortuig dis my eie werkers wat my ʼn streep probeer trek.

“Turn around, and start walking, keep your hands on your head!”

My hart gaan byna staan van skok toe ek omdraai en die vyf mans wat my deur-soek sien, geklee is in kakiegroen militêre uniforms. Beslis nie my werkers nie! Ek kyk rond vir ʼn teken van my werkers, sien nie een nie en moet vinnig aan beweeg toe die geweer in my rug gedruk word met die bevel om aan te stap stoordeur toe.

“Here, is dit waarvoor U my wou voorberei?” flits dit deur my ge-dagtes. “Nee, Here hulle kan my nie hier soos ʼn hond doodskiet nie. Wat sal die mense van Hannes Maartens se God sê van wie hy so baie praat. U is my Redder! Help my! Asseblief!” Die laaste gedeelte smeek ek amper hardop.

“No talking!” beveel een van hulle. My arms is moeg.

“You’re lucky that you did not get out of your car with a gun. We are not taking any chances,” kom dit van die leier af.

Op daardie oomblik weet ek my geweer het nie per toeval vergete gebly nie, want ek klim gewoonlik daarmee in my hande uit en weer-eens dank ek my Skepper. Ek weet ook dis ʼn bestiering dat Jannie dit vandag ook nie kon maak nie.

Met moeite hou ek my lam arms omhoog, dit is nog altyd ’n pro-bleem na die operasie. Ek waag dit egter nie om hulle bevele te ver-ontagsaam nie. Ek sal hul nie ʼn rede gee om my te skiet nie, dit sal moord moet wees. “Here, my arms!” sug ek in my binneste.

“Lower your arms! We won’t hurt you, we just want to talk,” kom dit, tot my verbasing, van agter af.

“Here, U ís inderdaad met my,” prewel ek. Ek draai om om die man te bedank. ʼn Harde pomp van die geweer in my rug laat my vinnig terugdraai en aanstap.

Yskoue rillings gaan deur my as ek dink aan my bure en vriende wat al op hul plase doodgeskiet is. Hartley is net nou die dag hier by my hek doodgeskiet.

Ek vermoed ek word voor die stoordeur verbygeparadeer as deel van ʼn magsvertoon. Die werkers kyk nie op nie, hulle gaan net aan om die tabak te klas, in bondels te bind en op te hang asof daar niks ver-keerd is nie. Alles lyk verstommend normaal. Hoe kan die werkers so rustig voortgaan met hulle werk terwyl hulle omring word deur gewap-ende terroriste? Geen wonder Jotam het gemaan om niemand te ver-trou nie. Die mense moet vreesbevange wees.

Die leier en vier van sy makkers stoot my in die rigting van ʼn skaduboom en begin my ondervra. Foksie bly keffend op ʼn afstand.

“Do you know who we are?”

“Yes! You are terrorists!”

“Freedom fighters!” “Freedom fighters of the Zimbabwe African National Liberation Army, ZANLA!” skree die leier met sy gesig teen myne. “From now on, you will refer to us as freedom fighters!”

Hy begin my oor die mense in die omgewing uitvra. Ken ek die een, ken daai een? Natuurlik ken ek hulle, hulle bly dan rondom my, ek gaan nie vir hulle lieg nie.

Ek dink aan Ben Vermeulen, ʼn man wat nie ʼn vyand in die wêreld gehad het nie. Om die waarheid te sê, die meeste swart boere se hulp met hul oeste en vervoer daarvan mark toe, het van Ben af gekom. Ons het een Saterdag saam van ʼn funksie afgekom. Ben het ʼn reuse pam-poen gewen wat op ʼn veiling uitgeloot is vir fondse vir die ‘Terrorist Victims Fund.’ Hy het nog gelag en gesê hy gaan ʼn jaar daaraan eet. Dit was die laaste wat ek hom gesien het, op pad huis toe is my vriend doodgeskiet. Ek sal altyd wonder, was dit oor die pampoen, of oor die fonds?

“Here, ek wil my gedagtes net op U fokus. Versterk my geloof. U is my skuilplek…”

Blykbaar tevrede ek lieg nie vir hulle nie, beëindig hulle die ondervraery en begin ons huis toe stap, met die geweer wat steeds in my rug pomp. Ek dank die Vader my vrou en kinders is nie by my nie. Tersia is altyd te gewillig om saam met my uit te ry plaas toe, maar vandag is ʼn skooldag.

TUIS IN MY HUIS

“Open the door!” bulder die leier by die voordeur van my huis.

ʼn Groot kalmte neem van my besit. Ek weet ek is nie alleen nie.

“Sir, you have the keys.” Die een met my bos sleutels oorhandig dit aan my en ek sluit oop. Hy hou sy hand uit vir die sleutels en ek gee dit terug. Foksie glip by my bene verby die huis in.

Die spul sak neer op die rusbanke, arms oor hulle borste gevou, voete op die koffietafel. Ek voel hoe die bloed opstoot in my gesig. Dit verg tandekners om nie vir hulle te sȇ om hulle vuil pote van die koffie-tafel af te haal nie.

“Make us food!” kom die kortaf bevel.

“I can only offer you rusks, milk, tea or coffee. The rusks are in the car. There is no food in the kitchen. You can see for yourselves.”

Die bevelvoerder stuur een van sy manskappe om die beskuit te gaan haal en sê ʼn ander een aan om saam met my kombuis toe te stap. My oppasser ruk die kombuiskaste oop, stap spens toe en bekyk die leë rakke. Tevrede dat ek nie lieg nie, staan hy met sy AK-47 oor sy arm en kyk hoe ek die ketel vul, die gasstoof se brander ontsteek en die ketel daarop plaas. Ek gooi ʼn paar teelepels teeblare in ʼn teepot vul dit met kookwater en sit dit op ʼn skinkbord saam met ʼn siffie, bekers, teelepels, koffiepoeier, suiker en melk. Met die skink-bord in my hande en die ketel met kokende water in my oppaser s’n, die AK-47 netjies oor sy skouer drappeer, stap ons terug sitkamer toe. Voete word onwillig van die koffietafel afgehaal om plek te maak vir die skinkbord en ketel. Die manskap kom terug met die beskuit en die arbeiders se kruideniers-ware. Ek vra hoflik wie koffie en wie tee wil hê en voldoen aan elkeen se versoek. In ʼn ommesientjie is die beskuit en drinkgoed verorber.

Die kruideniersware word op die vloer uitgegooi.

“You have food!” beskuldig the bevelvoerder.

“Those belong to the labourers, not me,” probeer ek so kalm as moontlik verduidelik. Tot my verligting word ek nie aangesê om kos te maak met die arbeiders se voorrade nie.

“Unlock your safe!” Met vyf AK-47s in die vertrek, wat kan ek anders doen as om te gehoorsaam? Hulle stap agter my aan met die geweer in die rug na ons slaapkamer toe waar die kluis is. Foksie laat my nie ʼn oomblik alleen nie.

“Keys, please.” Ek steek my hand uit. Die bos sleutels word weer opgediep en ek sluit oop. Hulle sak toe op die oop kluis, kry die .22 geweer en boksie haelgeweerpatrone en verder net dokumente, geen geld nie.

“Where are the money and shotgun?”

“You have already taken the only money I had from my pocket,” antwoord ek.

Skrik laat my lyf verstyf toe die bevelvoerder die geweer na my toe swaai en vra of dit al geld is wat ek het. Ek verseker hom daar is nêrens op hierdie terrein enige geld nie en die haelgeweer is in die stoor en dit word net gebruik om bosvarke mee te skiet wat die lande verniel. “Here, laat hulle my asseblief glo!” bid ek in my kop.

Die bevelvoerder sien Jean se draagbare radio raak en maak dadelik daarop aanspraak terwyl hy smalend na my kyk, “Well, then I’ll take this.”

Die nabyheid van die AK-47s laat my nie eers dink aan stry nie, allermins oor ʼn radio, al is dit Jean se gunsteling metgesel wat sy oral met haar saamdra waar sy werk.

Die foon lui aanhoudend. Ek kan dit nie antwoord nie, hulle hou elke beweging wat ek maak, dop.

“Die noodknoppie,” flits dit deur my brein. Elke huis is toegerus met een en dit is direk verbind met die naaste polisiestasie. Ek vra om die toilet te gebruik en word daarheen vergesel deur ʼn wag wat ʼn ge-weer op my gerig hou.

Hy merk dadelik die instrument teen die muur op en vra waarvoor dit is. Ek ve

duidelik. Hy ruk dit uit en verseker my ek kan my sterre dank ek het dit nie gebruik nie. My hoop vervaag. So, met die foon wat aanhou lui, ʼn oop deur, ʼn geweer op my gerig, kom my privaatheid tot ʼn einde.

Terug in die sitkamer raak die leier onverwags vrygewig met inligting. Hulle het nie net vir my gewag nie, maar ook vir dokter Jannie. Hoe het hulle geweet hy sou my hier ontmoet? Ek kon my ore nie glo toe ek hoor hulle is al drie weke op die plaas nie. Waar op aarde was hulle? Ek was byna elke dag hier.Toe dokter Jannie nie gister of vandag opgedaag het nie, het hulle besluit om met hulle opdrag voort te gaan. Wat die opdrag was, sê hulle egter nie. Ek wonder of hulle die dokter wou ontvoer.

VREEMDE NORMALITEIT

Hulle begelei my terug stoor toe waar ek die haelgeweer aan hulle oor-handig. Die leier roep vyf ander vegters nader en beveel hulle om onder leiding van een van sy adjudante die huis te gaan deursoek vir geld en wapens.

“Instruct the workers about their duties.” Dis ʼn onverwagse op-drag. Die hoop vlam op! As hulle die boerdery so normaalweg laat aan-gaan en tevrede is daar is geen geld of wapens in die huis versteek nie, vat hulle dalk weldrae die pad.

So kalm as moontlik draai ek na die werkers en begin opdragte uitdeel oor die vervoer van die tabak en die volgende paar dae se werksaamhede. Niemand kyk my in die oë nie. En ek hoop steeds die terroriste sal aanbeweeg.

Sou my skaapwagtertjie nie dalk iemand laat weet van die mense op die plaas nie? Jotam se waarskuwing maal deur my kop. ‘Ons kán en mág nie praat nie.’ Nee, hy sou nie

Die leier, met die AK-47 en haelgeweer in sy hande, laat my ironies genoeg verstaan hulle is nie moordenaars nie, hulle veg net om hulle land terug te kry.

“We will fight until we get back what is ours, even if it takes us a hundred years.” Daaroor is hy baie beslis.

Hulle wil weet wat my politieke standpunt is en toe ek praat van ʼn gesamentlike regering, lag hulle my uit.

“No, it is all or nothing! The land belongs to us!” Dit word deur sy makkers beaam.

Ek sidder. Weet ons weermag waarmee hulle te doen het? Die oortuiging dat die land net aan hulle behoort is die dryfveer agter hierdie stryd wat eindeloos kan aangaan. Indien daar nie ʼn ooreekoms bereik word nie, voorspel dit niks goeds vir Ian Smith en sy regering nie, en ook nie vir die wit boere nie! Ek sal hulle nie ʼn rede gee om my te skiet nie!

Terug by die stoor vra een van die leiers my vir my karsleutels. Nie eers my kinders bestuur my motor nie. Met die AK-47 gewere om my, wonder ek nie eens wat hy daarmee wil maak nie. Ek vroetel in my sakke, kry niks, en onthou ek is sondermeer uit die kar geruk.

“The key is still in the car,” lig ek hom in.

“It’s a long time since I have driven a car. You don’t mind, do you?” vra hy ver-makerig.

Die man stap na die kar en skakel dit met groot vertoon aan, trap die petrolpedaal weg en jaag die revolusies op totdat die enjin brul. Ek maan myself om kalm te bly as ek toekyk hoe hy die mercedes al met die lyndraad langs stuur. Dit lyk darem of hy kan bestuur en ek hoop my goed opgepaste kar bly ongeskonde. Of gaan hulle dit vir hulleself toe-ëien?

Dit is eenuur. Die werkers gaan eet. Sou hulle hul kos met die vryheidsvegters deel?

CHAOS IN MY HUIS

Die bevelvoerder en sy adjudante neem my terug huis toe, AK-47 weer in my rug.

“You did not lie to us, after all, there is no money or weapons in your house,” merk die leier op. Sal hulle my nou laat gaan?

Die huis is in chaos, niks maar niks is onaangeraak nie. Die groot geraamde foto van my moeder lê op die vloer en dit lyk of iemand daarop geürineer het. Beddens en banke is omgekeer, kussings en matrasse oopgesny, losstaande kaste omgegooi, laaie uitgeruk, boeke, klere en linne lê verstrooid rond. ʼn Leer staan onder die gapende plaf-onluik. Magtelose woede oorval my. Ek klem my vuiste en byt op my tande.

My oog val op my Bybel wat oop lê op die vloer. “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie,” kom die Bybelvers helder en duidelik voor my geestesoog. ʼn Vreemde kalmte daal oor my neer.

Die telefoon lui onophoudelik en as ek dit telepaties kon antwoord, sou ek. Een oomblik hoop ek hulp daag op, dan bid ek weer niemand daag tog nou hier op nie want dit kan net in ʼn bloedbad ontaard en ék sal die eerste een wees wat sneuwel.

Ek word beveel om kos te maak met bestanddele wat tussen die arbeiders se kruideniersware is. Pap prut later op die gasstoof terwyl ek blikkies pilchards oopsny. Die leier dring aan ek moet saam met hulle om die kombuistafel sit en pap en pilchards eet.

GEEN VOETSPOOR NIE

Terug by die stoor gaan almal normaalweg aan. Ondersteun hulle die vryheidsvegters onder dwang of gewillig? Dis amper vieruur. Gaan die vegters nou verkas? Gaan hulle my hier los?

Die “verwelkomingskomitee” van die oggend van sowat vyftig, elk met ʼn AK-47 oor die arm of skouer, drom saam voor die stoor.

“Let’s go!” beveel die leier en draai na my. “You’re coming with. We’ll bring you back later. If we leave you here you’ll phone the police. If you try anything funny, we’ll shoot you,” antwoord hy my onuitgesproke vrae. Natuurlik sou ek die polisie bel. Die doodsdreigement laat my tweekeer dink oor my plan om duidelike spore te laat of iets te laat val wat aan my behoort vir ingeval die polisie na my kom soek en die honde gebruik. Kan ek hulle vertrou om my later terug te bring?

Op bevel van die leier sprei die vyftig manskappe uit en begin stap. Die meeste manskappe dra ʼn rugsak wat my laat dink dat hulle voorberei is vir lang trektogte. Ek en ses vegters loop in die middel van die formasie, drie loop voor en drie agter my. Tot my verbasing laat hulle Foksie toe om langs my te draf.

Ons stap by die stal verby waar die Friese reeds gemelk is en die werkers die laaste opruimingswerk doen. Sal hulle die melkery volhou? Sal die melk gereed wees vir die tenk-lorrie môreoggend? Ons stap deur die droë mielielande waar ape wegskarrel van hulle gul kosbron; verby my rooi Afrikaners wat teen die koppe wei; deur die droë gras. My voetspore verdwyn onder die voeteval van dosyne ander en ek het geen los item aan my om ongesiens te laat val nie…

“We’ll bring you back! We’ll bring you back! We’ll bring you back!” dreun dit in my kop saam met my voeteval as ons verder en verder van die opstal af beweeg.

 

DIS DAN NOU DIT

Ek weet ek word ontvoer, ek sal my plaas nie gou weer sien nie, indien ooit. Sal iemand omsien na die plaas; toesien dat die harde hande werk en jarelange omsien na die diere nie ten gronde gaan nie?

“Al gaan ek ook deur ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie…” soek ek bemoediging in die Skrif. Die pomp van die geweer in my rug laat my besef ek het my pas vir ʼn oomblik verslap.

Ons loop nou amper op ʼn drafstap. My foksie draf dapper saam, ek wens ek kan ʼn boodskap saam met hom terugstuur om net vir iemand te laat weet waar ek is en ek lewe nog.

Ons kom by ʼn sterkvloeiende stroom aan. Met hul AK-47s bo hulle koppe, begin die vryheidsvegters deur die rivier waad. Foksie steek vas. Ek buk af om hom op te tel. Die stamp van agteraf laat my byna my balans verloor. Foksie maak fyn tjankgeluide. Dis die einde van ons samesyn. Hy kyk my verlate aan. “Huistoe, Foksie, huistoe!” fluister ek en beduie met my hand in die rigting waaruit ons gekom het. Ek bid dat hy sy pad huistoe kry en die werkers vir hom kos sal gee. My arm word afgedruk en die geweer por my aan.

Die werklikheid van my situasie laat my weerloos. Trane loop teen my wange af. Sal ek my mense en hond ooit weer sien? Ek tel my hand op om my sakdoek uit te haal en kry ʼn harde pomp in die rug. Die trane word droog op my gesig. Ek sit my voet in die water, buk af om my ge-sig af te spoel en ʼn mondvol water te sluk, kry weer ʼn stamp van agter en hou aan stap deur die koue stroom.

Ons kom tot stilstand in ʼn mielieland. Die blaaskans kon nie op ʼn beter tyd kom nie. Waterbottels word uit rugsakke gehaal en een word in my rigting gehou. Ek neem dankbaar ʼn paar slukke water. Die skok van wat besig is om met my te gebeur laat my hart vinniger klop. Kop-onderstebo met my arms oor my opgetrekte knieë, trek ek diep teue asem in om my hartklop te probeer normaliseer. Die aantal wagte om my het verdubbel. Hulle sit en staan tussen die droë mielies – geen wegkomkans vir my nie.

Die son sak. In sterk skemer stap ons na die Arnoldine Sending-stasie. Ek skep weer moed. Hier is heelwat mense wat my ken en ek is seker hulle sal die owerhede laat weet oor my. Baie van die vegters wat ek vroeër die middag op die plaas gesien het, is ook hier.

Tot my skok en verbasing ontdek ek hulle werk met die ZANLA magte saam en voorsien hulle van kos en drank. My hoop verflou soos die ondergaande son se lig. Van hierdie mense kan ek ook geen hulp verwag nie.

ʼn Bak pap met eiers word voor my neergesit. In ʼn staat van hope-loosheid bly ek net daarna kyk en kan myself nie so ver kry om te begin eet nie.

“Eat! You will need it for the long road ahead!” beveel een van die aanvoerders my kortaf.

Ek vat ʼn paar happe wat ek met moeite afsluk.“Waarheen nou, Here?” skree dit in my binneste.

VERDER WEG

So negeuur se koers kom ʼn Peugeot bakkie by die sendingstasie aan.

“Put on the jacket!” beveel die bevelvoerder en oorhandig ʼn bruin-erige baadjie aan my. Ek wil nog teenstribbel… “Put it on, it’s your own coat.” Hy lyk effens geamuseerd omdat ek dit nie herken nie.

“May I relieve myself before we leave?” Hoe pateties is dit, ek moet toestemming vra om aan ʼn mees natuurlike behoefte te voldoen. Omring deur ses wagte, word ek ʼn ent die veld ingeneem en ek doen my besigheid onder hulle nuuskierige oë.

Terug by die bakkie klim my ses oppassers agter op die bakkie en ek word beduie om voor in te klim. Die bestuurder klim in en ek kyk vas in die oë van die kassier van die Headland poskantoor.

“Good evening, mr Maartens,” sê hy met ʼn grynslag.

Wat kon ek anders doen as om terug te groet en net my kop te skud. Die bevelvoerder skuif by die ander deur in en ek sit vasgedruk tussen die twee mans.

Ons ry met ʼn plaaspad langs. Rusape se liggies flikker in die verte. Elke beweging wat ek maak word met agterdog beheen. Ek kan nie eens my kop draai sonder reaksie van die bevelvoerder nie. Ek pro-beer uitwerk waar ons is.

Duisende vrae jaag deur my gedagtes: Weet my familie al ek is nie meer op die plaas nie? En Jean, is dit sy wat gebel het? Dink sy die lyne is buite werking? Sal enige een op die plaas my familie laat weet ek is ontvoer? Word ek ontvoer? Sal die vegters my terugneem

plaas toe? Wil hulle my gebruik vir ʼn losprys?

Het ons Magte enige idee hoe ver die kommuniste al ingesypel het? Weet hulle die mense beweeg en werk tussen ons? Besef hulle, hulle het met ʼn goed georganiseerd aanslag te doen? Ons Magte word bestempel as die beste ter wêreld, maar wat ek nou beleef laat my koue rillings kry.

Sal ek die stuurwiel gryp as ʼn ander voertuig ons nader? Ek is desperaat! Nee! Die risiko is te groot. Ons kan verongeluk en die ge-wapende bevelvoerder langs my en die ses oppassers agter op die bakkie bly ʼn dreigende gevaar.

Die bakkie kom tot stilstand. Die bevelvoerder klim uit en slaan die deur agter hom toe. Die mans agterop spring almal af. Die bestuurder draai na my, “Would you like to send a message to your wife? I know her well,” vra hy beleefd. Verbaas staar ek na die man. Is dit ʼn eerlike vraag of is dit om my te ontsenu? Hou hulle my gesin se bewegings dop? Hoe veilig is Jean-hulle in die dorp? Voordat ek ʼn woord kan uitkry word die deur aan my kant weer oopgeruk.

“Get out!” Ek skuifel haastig oor die sitplek by die deur uit. Toe die deur agter my toeklap, trek die bakkie met ʼn vaart weg. Was die aanbod om vir Jean ʼn boodskap te stuur ʼn set? Dis in elk geval nou te laat.

NAGMARS

Hierdie moes ʼn voorafbepaalde bymekaarkompunt wees want ek word weer omring deur sowat vyftig vegters en beveel om te stap. Na ʼn paar kilometer se gestap doem daar weer liggies in die verte op en ek waag dit om te vra, “Which lights are those?”

“Still Rusape, we’ll stay close at first. We know they won’t be looking for us here,” antwoord die bevelvoerder.

Onder van daardie flikkerende liggies is Jean, Ria en Tertia, salig onbewus van wat met my aan die gebeur is. Hulle verwag my môre te-rug en sal eers laat in die dag agterkom iets is nie pluis nie. Die hope-loosheid van my situasie oorweldig my. Wat gaan van my familie word? Hierdie mense ken vir Jean, hulle weet waar ons bly. Dan onthou ek die Bybel maan ons aan om al ons bekommernisse aan die Here bekend te maak. Hy kan beter vir my familie sorg as wat ek dit kan doen. “Hou hulle veilig, asseblief Here,” bid ek.

Daar is nou so vyftien wagte om my wat sorg dat ek niks laat val of enige spore los nie. Wat het van die ander manne geword?

Ons bereik ʼn stat. Weer word die vegters hartlik ontvang en van kos en bier voorsien. Ek kry patats en tee. Slaap hierdie mense nooit nie? Het hulle ons verwag en kos gereed gehou?

“You must eat enough. There is a long journey ahead of us,” be-veel die bevelvoerder.

Geen verdere inligting word verskaf nie. Ek’s ʼn gevangene en ʼn gevangene hoef nie te weet hoe ver of waarheen hy op pad is nie.

Sal my liggaam die ongewone inspanning kan deurstaan? Sonder my gereelde voorskrifmedikasie wat ek na my hartomleiding moet ge-bruik, sal dit ʼn wonderwerk wees, genade van Bo.

“You are safe as long as you do precisely as you are told. Let’s go!” Ek kom stram orent. Kan ek die bevelvoerder glo? So baie ont-voerde boere is al doodgeskiet. My voorneme is om hulle nie op die proef te stel nie.

Ons stap teen ʼn stewige pas. Ek is redelik fiks maar moet uithaal om by te bly. Ons stap deur die veld, deur moerasse en kom by ʼn diep-erige rivier. Vir ʼn oomblik is ek dankbaar ons kan nie verder nie. My verligting is egter van korte duur. Die vegters is verrassend paraat. In die dowwe lig van die groeiende maan word ʼn volgroeide boom op die rivieroewer afgekap en oor die rivier laat val om as ʼn voetbrug te dien – geen rus vir my moeë lyf nie.

Aan die anderkant van die rivier, word ek aan ʼn groep vars voete oorhandig. My span oppassers draai terug. Ons stap voort, steeds teen ʼn stywe pas. My lyf skree vir ʼn blaaskans maar die jong vegters om my beur voort sonder enige verposing. Kan ons nie net vir ʼn paar minute rus nie?

Helaas! Na sowat twee ure se haas onder die sterrehemel wag ʼn derde groep vegters ons in. Hoe en wanneer het hulle hierdie vlug deur die nag georganiseer? Hulle ontsien geen moeite om my by die een of ander bestemming te besorg nie. Wat beplan hulle om met my te doen?

“Water, please,” kom die versugting uit my droë mond. ʼn Water-bottel word in my hand gestop. Sonder veel woorde word ek aan die nuwe groep oorhandig en op ʼn drafstap trek ons voort. My voete is seer, my bene moeg!

“Here, ek’s nie meer jonk nie, hoe gaan ek hierdie pas volhou!” Die Here se antwoord op Paulus se versugting oor sy pyniging skiet my te binne: ‘My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.’ Ek sug gelate in my binneste, “Here, U alleen kan my deur hierdie nag dra,” en bly drafstap om by te hou.

In die flou lig van die sakkende maan struikel ek dikwels en bly lê in die hoop dat hulle my ʼn kans sal gee om te rus. Maar nee, ek word opgepluk en saamgesleep. Ons loop in sirkels en kom weer by die rivier uit. Ek word in die sorg van twee wagte gelaat en die res van die veg-ters stap ʼn ent weg en beduie en gesels driftig. Ek sak op ʼn klip neer. “Hulle is toe nie so georganiseerd as wat ek gedink het nie. Dankie vir die blaaskans, Here,” is my laaste gedagte voordat ek aan die slaap raak.

Ek is dadelik nugter wakker toe twee vegters my hardhandig regop pluk. Hoe lank het ek geslaap? Vyf minute? Wat het hulle be-raadslaging opgelewer? Is ek te veel van ʼn las? Gaan hulle van my ontslae raak? Dis ʼn groot verligting toe hulle ons beveel om te begin stap maar my moed sak in my skoene toe ek die berg voor ons sien. “Moet ons oor die berg? Hoe op aarde gaan ek dit regkry, Here?” flits dit deur my gedagtes.

Een van die jongmanne gryp my pols en trek my agter hom aan. Ek wikkel my los uit sy greep en durf die opdraende saam met die jong vegters aan. Dit raak al steiler en almal moet nou handeviervoet teen die steiltes uit. Ek verwonder my aan die vegters se klimvermoë. Ek trap versigtig om nie skeef te trap en ʼn enkel te swik nie. Ons pad lei ons tot by ʼn steil rotsmuur waaroor ons moet en ek weet nie hoe ek oor hierdie hindernis gaan kom nie. Die een vegter beveel my om aan sy belt vas te hou en te trap waar hy trap. Een of twee keer oorweeg ek of dit nie beter sal wees om net te los en ʼn einde aan die pyniging te maak nie.

Eindelik is ons bo. Ons stap op die kruin oor ʼn redelike gelykte en dan is dit weer bergaf. Die maan het agter ons gesak. Nou is dit rem-rem die steiltes af met net sterlig tot ons beskikking. Krampe in my kuit-spiere laat my neersak in die gras. Ek word onseremonieel orent ge-pluk.

“Keep moving!” kom dit genadeloos van my ontvoerders.

“Regop bly, Maartens, regop bly! My genade is vir jou genoeg. My genade is vir jou genoeg. My genade is vir jou genoeg,” volg ek die rit-me van die versekering. Uiteindelik bereik ons die voet van die berg. Nog nooit tevore was ek so bly om op gelyk grond te loop nie.

In die vallei doem ʼn klompie hutte voor ons op. Onder streng be-waking, word ek eenkant gehou. Ek sak uitgeput neer, verlig om van my bene af te kom. Hoe lank is ek nou al aan die beweeg? Nege ure? Tien ure? Behalwe vir die paar minute se indut is ek al langer as twintig ure wakker. My hele wese smag daarna om met rus gelaat te word.

My verligting is van korte duur. ʼn Nuwe span neem oor. Moeitevol kom ek orent. Wat kan ek anders doen? Wat sal hulle aan my doen as ek weier om verder te stap? Uit vrees vir wat moontlik kan gebeur, val ek in en probeer my bes om in pas te bly. Ons stap vir die res van die nanag tot ons weer ʼn stat bereik. ʼn Silwerstreep op die oosterkim kondig die sonsopkoms aan.

Die hut waarin hulle my versteek is bedompig. Dit ruik na ou rook, maar wie gee om? Einde ten laaste kan ek van my voete af kom! Doodmoeg sak ek op die vloer neer. Wat ʼn verligting! Moeg en seer, voel ek nie eers die harde vloer nie, solank ek net van my voete af is.

Twee wagte bly by my in die hut. Hulle sit regoor my met hulle AK-47s langs hulle teen die muur, lope na die grasdak gerig. Ek oorweeg dit nie eers om te probeer ontsnap nie, hulle sal my platskiet, dit het hulle my immers belowe. Ek wonder nog wat die wagte dink, toe die deur oopgestoot word en ʼn vrou ʼn skottel water voor my kom neersit. Dit het ek nie verwag nie. Kop onderstebo verlaat sy weer die vertrek. Ek skep handevol water en slurp dit op voordat ek van die koel water oor my kop gooi en myself begin afspoel. Ek oorweeg dit om my voete daarin te sit, maar besluit daarteen.

ʼn Ander vrou kom in met sadza en opgekookte hoenderstukke. Ek wag om te sien of die wagte ook kos kry, dit voel aardig om alleen te eet. Hulle beduie ek moet aangaan. Ek buig my hoof en dank die Vader vir Sy voorsiening. Die wagte kyk my agterdogtig aan maar ontspan toe ek begin eet. Uitgehonger val ek weg en verslind die hoenderstukke en pap.

Een van die wagte wat homself voorgestel het as Roy Rogers, kyk my ondersoekend aan. “I did three years of medical training, so you have to tell me when you don’t feel well,” bied hy onverwags aan.

Ek kyk hom half skepties aan maar sȇ nogtans dankie. Hoekom sou hy sy naam bekend maak? Is hy nie bang ek sal hom uitwys as ek weer terug is by my mense nie? Waarom is dit nou juis ek wat ontvoer word? ʼn Mens wens dit niemand toe nie, maar waarom ek, ʼn boer, wat niks met die weermag te doen het nie, wat goed is vir sy mense?

Dis Vrydag, 19 Mei 1978. Uitgeput, kantel ek om en raak aan die slaap.

DIE TWEEDE NAG

Changamire! Changamire! Muka!” Ek voel die gestamp aan my en hoor vaagweg die respekvolle aanspreekvorm en opdrag om wakker te word. Is dit vir my? Waar is ek? My slaapbenewelde brein word stadig bewus van my omgewing, my gepynigde spiere, my been wat slaap en dan die man wat bo my uittroon met ʼn AK-47 in sy hand.

“It’s time to move on!”

Ek kyk met skrefies oë deur se kant toe. Dis al sterk skemer. Stadig kom ek orent op bene wat my nie wil dra nie. Ek gryp na die muur om te probeer regop bly. “Give me just a moment, my leg is asleep.” Ek haal diep asem in ʼn poging om die bloedsomloop in my been aan te help en volg die wagte hinkepink na buite.

Ons val weer in die pad, vyftien vryheidsvegters in gelid agter-mekaar, met my in die middel. Ek trap skeef-skeef op my seer voete. Ons beweeg in die oostelike distrikte van Rhodesië. Dis steiltes op en af tot in die diep klowe, deur spruite en riviere. Jean moet teen hierdie tyd weet iets is nie pluis nie. Sal ons veiligheidsmagte na my kom soek?

By die eerste stat wat ons nader word ek eers eenkant gehou, terwyl hulle beraadslag. Dan word ek nader geroep en geparadeer, gevloek, beledig en verskreeu. Ek hoor hoe die vegters spog dat hulle my kon ontvoer onder die neus van die magte uit. Hulle word luid toege-juig. ZANLA se aansien groei.

Aanvanklik krimp ek ineen onder die vel aanslag. Toe dit by die volgende stat weer gebeur, kyk ek die mense in die oë. Die maan skyn helder genoeg ek kan die haat en waansin sien. Ek dink hoe Jesus gespoeg en gespot is en Hy dit in stilte verduur het, en ek dink aan die psalmis se woorde “wees stil en weet, Ek is God!” Dit word stil in my. Laat hulle maar te kere gaan, ek sal my oë gevestig hou op Jesus, die voleinder van my geloof. Ek moet my kragte spaar vir wat ook al voorlê.

Ek gaan sit op die plek wat vir my aangewys word en nog ʼn ge-dagte skiet my te binne: Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg. “Here, U vra darem nou baie van my,” stribbel ek teë in my kop, “maar as dit is wat U van my verwag, sal ek dit doen,” stem ek teësinnig in. Ek moet soek na woorde en al wat ek uitkry is, “Vergeef hulle!” Later is dit juis dít wat my van myself bevry.

Ons beweeg aan. Het hierdie nag dan geen einde nie? Dit het! Teen vroeg Saterdagoggend eindig ons vlugtog in ʼn stat waar ons van kos en water voorsien word. Ek is verras toe een van die vegters my onderlangs ʼn nuwe tandeborsel en ʼn buisie tandepasta gee. Ek knik net en hoop my barmhartige Samaritaan weet hoe dankbaar ek is. My mond het twee dae laas ʼn tandeborsel gesien, en kan doen met ʼn deeg-like skrop.

Dis Saterdag 20 Mei 1978.

ʼn SPRANKIE HOOP

Soos die vorige nag, beweeg ons die hele Saterdagnag deur. Ondanks die maan wat helder skyn, gaan dit struikel-struikel. Af en toe kry ons kans om water af te slaan. Van privaatheid is daar nie sprake nie. Ons piepie in die bondel, my oppassers met gewere in die een hand.

Hanya!” kom dit skielik van agter af en ons begin hardloop. Wonder bo wonder bly ek by op my gemartelde voete. Waaroor die skielike haas? ʼn Stat duik voor ons op en sonder seremonie word ek in die naaste hut gestoot, twee wagte volg en druk die deur toe. Ek sak in die donkerte af teen ʼn muur, weereens dankbaar om van my voete af te kom. Wat gaan aan?

My oë raak gewoond aan die donker en in die bietjie maanlig wat deur die gleuwe in die hut skyn, sien ek die wit van albei wagte se oë wat stip op die deur gerig is – nie op my nie. Ek hoor ʼn geskarrel buite en onderdrukte gesprekke wat klink soos bevele. Die stat is in rep en roer. Wat is dit wat hulle so onrustig stem? Is hulle onrustigheid dalk goeie nuus vir my?

Die ruskans is van korte duur. Wat die vegters ook al onrustig ge-stem het, is blykbaar nie meer ʼn kwessie nie. Die deur gaan oop en ons word opgekommandeer om in die pad te val. My moed sak in my skoene, ons gaan al verder en verder weg van my plaas af. My arme voete!

Ver in die laagtes hoor ek geweerskote. My hoop vlam op.

“That’s the follow-up!” skree die man naaste aan my beangs.

Nou verander ons kort-kort van rigting maar bly ooswaarts be-weeg. Sal ons magte my vind? Sal die vegters my skiet as dit te ge-vaarlik raak?

Ons sluip verder om ongesiens weg te kom en vorder stadig tot by ʼn volgende stat. Die spanning het breekpunt bereik, vir my ook. Hoe gaan ek uit hierdie situasie verlos word sonder om self in die slag te bly? ʼn Hut, gedeel met twee wagte, word weer my tronksel. Skaars tien minute later word ek na ʼn ander hut verskuif. Dit word die patroon vir die res van die nag. Ek kan naderhand nie meer tred hou of ek tien of vyf minute in ʼn hut was nie of was dit ʼn uur? Daar is nie sprake van slaap nie. Tyd verloor betekenis. Dít word ʼn lang slapelose nag.

 

SO NABY EN SO VER

Sondagoggend, 21 Mei 1978, word aangekondig met die gedonder van swaar geweervuur en die geknal van kleiner gewere en ek wonder of my .22 ook gebruik word. Die sweet slaan uit op die wagte wat my be-waak. Die gedreun van vliegtuie word al duideliker. My kop ruk op. Dit klink of ʼn helikopter oor die hut hang. Die wagte se gewere is op my gerig. Stof in die hut begin dwarrel.

Hulle het my gekry! Die sweet slaan nou ook op my lyf uit en loop teen my rug af ondanks die winterkoue. Sal die wagte my skiet? Ek bal my vuiste en knyp my oë toe, gestaal teen wat ook al volgende mag gebeur. “Here by U skuil ek!” bid ek benoud opgewonde.

Die gehamer van die helikopter verdof. Stadig sak my kop tussen my opgetrekte knieë, my vuiste gebal. Sal hulle terugkom? Magtelose trane loop teen my wange af en plof op die vloer. Al sou hulle my kry, sou my kanse op oorleweing ʼn ronde nul wees!

TYDLOOS

Dis doodstil. Dan hoor ek ʼn trekker. Is ons by ʼn sendingstasie? Deur ʼn dun skrefie sien ek mense rondbeweeg, komberse om hulle gevou en vooroor geboë asof hulle ou vrouens is. Die vryheidsvegters se intelligensienetwerk is effektief en so ook hulle reaksie op die inligting. Hoe anders sou hulle so presies weet wanneer die aanval sou wees en wat om te doen.

Sal ons magte terugkom? Hoekom het die helikopter so lank bo die hut waarin ek was gehang? Het hulle geweet ek was juis op daardie oomblik in die hut? Wat sou my teenwoordigheid verklap het? Het hulle die verskuiwings dopgehou? Oorweldig deur die hopeloosheid van my situasie stoot ʼn knop in my keel op, wat ek verbete afsluk.

Dan, asof daar niks gebeur het nie, bring hulle vir my pap en misbredie. Ek is honger en val weg. Die misbredie is verbasend lekker saam met die pap. En vir ʼn oomblik verskuif die benardheid van my situasie op die agtergrond.

Die son is besig om onder te gaan toe die bevel kom dat ons moet regmaak vir die volgende skof. Ek kom met moeite aan die beweeg. My voete en bene is gedaan van die vorige drie nagte se uitmergelende skofte oor ruwe terrein en deur waterstrome. Die water het sy tol geëis op my skoene en bygedra tot die groeiende aantal blase op my voete.

Terwyl die son se lig agter die heuwels verdwyn, kom die maan in al sy glorie voor ons op. Ons stap op en af oor heuwels bestrooi met hutte. Mense vergader rondom konkas, opsoek na warmte teen die byt in die lug van die naderende winterkoue. Alles lyk so vreedsaam totdat ons op ʼn groep van bykans honderd vryheidsvegters afkom. Om die een of ander rede word ek buite sig gehou, versteek onder bome en gemaan tot stilte. Dink hulle my teenwoordigheid hou vir hulle gevaar in na die onderonsie met die magte? Of gee my teenwoordigheid vir hulle bedingingsmag? Die sweet tap my af, en ek bid…

Die leiers van die twee groepe staan eenkant en gesels en be-duie. Waaroor sou die vergadering gaan? Ek sien hoedat die leier van my wagte in my rigting beduie. My teenwoordigheid is nie meer ʼn ge-heim nie. Is my lewe weer op die spel?

Ons word nader geroep. Dit lyk of my lewe nie in gevaar is nie. Toe ek onder die bome uitgebring word, sien ek dat byna die helfte van die nuwe groep vrouens is en net die mans AK-47s dra. Die vrouens word ingespan om van die vegters se pakkasie te dra. Sou hulle dit vrywillig doen, of word hulle gedwing? Blykbaar tevrede met die uitruil van inligting, verkas die groter groep.

Die bevelvoerder beveel my om my klere uit te trek. Ek kyk hom verstom aan, dis koud en moet ek dit ten aanskoue van almal doen? “Put these on!” Hy gooi ʼn bondel klere voor my neer. Ek begin uittrek, baadjie en hemp eerste, trek hulle hemp aan, maak my broek onwillig los en laat dit op die grond val. Ontstig, vra ek om my eie onderklere, kouse en skoene aan te hou, of altans wat daarvan oorgebly het. Hulle voldoen sowaar aan my versoek. Ek trek die broek wat hulle my gee teësinnig aan. Dis te klein, ek kry die gordelknoop nie vas nie en bid dat die gulp se ritsluiter bo bly. Dink hulle dalk as ek ander klere aan het ʼn snuffelhond my nie sal kan opspoor nie? Wat van ʼn trui of baadjie? Moet ek die koel weer van die laat herfs daarsonder trotseer?

My horlosie word afgevat. Nou is ek tydloos en datumloos. Hulle eis my trouring. Ek verduidelik dit het deur die jare vasgegroei en hulle sou my vinger moes afkap om dit af te kry en byt amper dadelik my tong af. Sê nou hulle doen dit! In die stilligheid vra ek om vergifnis vir die witleuentjie, want eintlik is dit stukkend. Ek wou al die ring groter laat maak het. Genadiglik los hulle dit uit.

ALMAL SPAN SAAM

Teen elfuur die aand kom ons by ʼn groot stat aan waar weer honderde mense bymekaar is, mans, vrouens en kinders. Slaap die mense nie? Hulle praat opgewonde onder mekaar en beduie in my rigting. Een van die vrouens wat soos ʼn leier optree, kom nader en begin my vrae vra. Dit lyk of sy wil uitvind of ek haar dalk eien. Sy gee bes toe sy sien dat ek haar nie herken nie.

“Well, I saw you in Edgars in Rusape when you visited your wife. We know your wife – lovely lady. We buy all our clothes from Edgars in Rusape.”

Hier in die bos word baie dinge vir my duidelik. Hulle werk en leef en bly tussen ons en ons het nie ʼn idee wie aan wie se kant is nie. “Ja ou Jotam, jy was reg. Níémand kan vertrou word nie,” beaam ek sy waarskuwing in my gedagtes.

Daar is ʼn geskarrel onder die mense en ek word inderhaas saam met ʼn klomp vroue en kinders in ʼn hut saamgedrom. ʼn Smeulende vuur gloei in die middel van die hut. Ek kyk op en sien daar’s darem ʼn gat in die dak reg bokant die konka. Ek wil nie vannag omkom van koolstof-monoksiedvergiftiging nie.

Tot die dood toe moeg, gaan sit ek met my rug teen die muur. ʼn Vegter verskyn in die deur met ʼn baadjie en hou dit na my uit. “From that woman,” verduidelik hy. Ek neem dit by hom, verras oor die gebaar en trek dit dankbaar aan. In die flou lig van die gloeiende kole, beduie giggellende kinders met hul vuil gesiggies en snotneusies in my rigting. Die vrouens babbel onder mekaar en wend ʼn poging aan om die kin-ders tot bedaring te bring. Hulle los genoeg ruimte om my, sodat ek opgekrul kan lê. Ek gaan lê met my arm onder my kop, bene opgetrek en sluit my oë. “Dankie vir U beskerming, Here.” Biddend raak ek aan die slaap.

TIENER OPPASSERS

Dit voel of ek skaars aan die slaap geraak het toe ek wakker geskud word. Half deur die slaap word ek onder bewaking na ʼn mielieland ge-neem. Die wagte is nie ouer as vyftien-sestien jaar nie, en dis ʼn rede tot kommer. Die gewere is so groot en swaar, ek wonder of hulle dit kan hanteer. Ek gaan beslis nie probeer uitvind nie.

Geweerskote klink op in die verte. Is dit my mense? Ek vra eerder nie. Die jonges om my spog oor hulle kordaatstukke. Dit laat my hare rys. Ek word gewaarsku om nie eens te probeer hardloop nie, hulle vingers jeuk glo behoorlik. Hardloop! Ek wil sommer hardop lag want loop is al ʼn probleem.

“Here, as hulle op hierdie ouderdom so wreed is wat word tog van hulle?” sug ek in my binneste.

Die sporadiese geweervuur raak al stiller, daar volg ʼn doodse stilte. Ek word weer teruggeboender, die hut in, nou bedompig van al die mense wat daar binne lê en slaap en die reuk van die uitgebrande kole in die konka. Wonder bo wonder sien ek in die maanskyn die oop kolletjie waar ek gelê het is nog onbeset. Ek krul myself weer in die klein ruimte op, maar slaap ontwyk my.

SIRKELS

Maandag, 22 Mei 1978. Dis laat middag. Ek is alleen in die hut. Die deur word oopgestoot en vars lug stroom in. ʼn Vrou bring kos en water. Gulsig drink ek eers van die water, dwing myself om nie alles met een slag op te drink nie maar oor te hou vir later. Ek buig my hoof ʼn oomblik dankbaar vir die kos en begin stadig eet aan die pap en sheba.

Onder die dekmantel van die nag vertrek ons weer. Die jong veg-ters por my aan om vinniger te loop, maar dis onmoontlik, my voete is gedaan. Hulle verlekker hulle in my swakheid en spot met my. Ek sal hulle nie die plesier gee om onder hulle neerhalende gedrag te knak nie. “Hou jou oë op Jesus, wat met jou swakheid medelye het, Maartens,” maal dit deur my kop. Sal ek saam met Paulus kan sê ek het behae in my swakheid, in mishandeling, in nood, in vervolging, in be-noudheid, om Christus wil; as ek swak is, dan is ek sterk? Sal ek tot die dood gehoorsaam bly en my vyande liefhê? (1Kor 12:10)

“Vergewe hulle, Here, en wees hulle genadig,” sug my hart. Vrede daal op my neer en neem die plek van my misnoeë met hierdie onver-antwoordelike jong rekrute terwyl ek moeg voortstrompel. Hopelik sal hulle met die jare wysheid bekom. Na ʼn marteltog eindig ons so teen negeuur se koers by dieselfde stat waar ek Sondag van hut tot hut geskuif is. Ons loop in sirkels…

Dringende voorbereidings is aan die gang. Ek sien in die maanlig hoe jong vrouens, komberse en bondels gereed maak. Hulle vertrek met my en die vegters agterna. Laat in die nag doem ʼn paar netjies versorgde huisies voor ons op en weer is daar ʼn skare. Waar kom hulle almal vandaan? Is dit elke keer dieselfde mense?

Ons beweeg nou in ʼn sogenaamde Mozerewa gebied. Ek merk egter geen teenstand of vyandigheid op nie. Hierdie moet Mugabe ondersteuners wees. Gerugte van hoe die plaaslike bevolking wreed-aardig gedwing word om by Mugabe se Zimbabwe African National Union weerstandsbeweging aan te sluit, doen die rondte. Daar is onder-linge faksies en ondersteuners van verskillende leiersfigure, nie almal is ZANU ondersteuners nie. Maar om die Mugabe beweging openlik teen te staan wanneer ʼn hele stat geteiken word, is so goed as ʼn doods-vonnis.

Weer word ek in ʼn mielieland versteek. Ek verwelkom die blaas-kans om weg te kom van die starende, lawaaierige mense. Ek lê op my rug met my hande onder my kop. Net twee wagte staan wag met hulle AK-47s, die res lê en slaap. Ek kry koud en kan niks daaromtrent doen nie.

Met heimwee dink ek aan my Rooikop, verlang ek na haar reuk, haar sagtheid en warm lyf. Ek wonder hoe dit met my mense gaan, wat van my plaas gaan word. Ek kyk op na die sterre, Jean slaap nou onder dieselfde hemelruim. Ek weet hulle is bekommerd oor my. Die knop in my keel kry ek kwalik afgesluk. Weet hulle ek lewe nog? Verlange vreet my op. “Here, help!” kreet dit in my.

Met die slapende jong wagte om my, ervaar ek opnuut die vrede van Christus in my. Ek bid vir die jongmense hier by my, sluimer in en slaap totdat ek wakker geskud word deur ʼn wag. Die son is besig om op te kom terwyl ons aanstap tot by die volgende kamp.

Dis Dinsdag, 23 Mei 1978.

 REKRUTE

Die kamp wemel van jong vegters wat hulleself ‘Recruits’ noem. Hulle loop vol bravade met hulle AK-47s rond. Die gedagte dat ek aan hulle genade oorgelaat is, hou my op my knieë. Hier is nie sprake van ge-dwonge deelname nie, vir my lyk hulle alte gewillig. Kan ons nie in vrede in hierdie land van melk en heuning saamleef nie? Die land word tog goed bestuur? Wat veroorsaak die diepgewortelde drif waarmee hierdie stryd aangevuur word? Wat die rede ook al is, vir hulle is ek skrikkerig.

Ons tog word voortgesit met my al struikelend tussen die rekrute. Nie ver van die kamp af nie bereik ons ʼn paar netjies geboude hutte. Dit was buiteposte van Binnelandse Sake wat deur die vegters beset is, verstaan ek aan hulle gepraat. Ek word na een van die hutte geneem en beveel om by ʼn tafel plek in te neem. Met groot vertoon word ʼn bandop-nemer nadergetrek en aangeskakel deur ʼn offisier aan die anderkant van die tafel. Hy begin my ondervra:

“Who are you?”

“Where are you from?”

“What do you know about this war?”

“Where is your family?”

“What do you think about us?”

Hulle herhaal vrae tot satwordens toe. En asof dit nie genoeg is nie, speel hulle die opname van die ondervraery oor en oor terug en bulder van die lag. Wat sou so vermakerig wees? Is dit dalk my naïwiteit oor wat agter die skerms in hierdie land afspeel? Dit kos al my selfbe-heersing om myself in toom te hou en nie iets te doen wat ek later kan berou nie, die Vader alleen weet, dit kos genade.

BLAASKANS

Die ondervragingshut word my sel. Ek word nie toegelaat om uit te gaan nie en deel die hut met ses wagte wat kom en gaan, Is ons troepe in die omgewing? Ek word so ingeperk dat ek ʼn bottel moet gebruik om in te urineer. Die stank van ou urine hang naderhand in die lug. Woensdag kom en gaan, so-ook Donderdag. My bene en voete kry ʼn kans om te herstel van die vorige nagte se onophoudelike kastyding. Vrydag word ek darem toegelaat om buite te gaan ontlas met vier gewere om my – dis genoeg om hardlywig van te wees. Ek trek diep teue lug in. Wolke pak saam in die noorde.

ʼn BLIKKIE KONDENSMELK

Laat Vrydagmiddag, 26 Mei 1978, sit ons die tog voort. Ek is net dank-baar om uit die stinkende plek te kom. Tot my verbasing kry ek ʼn blik kondensmelk wat ek in my baadjie-sak druk. Wie sou dit finansier? Die Russe? Die Chinese? Gesteel?

Reën sak onverwags uit – heeltemal buite seisoen. Ons word deurdrenk en ek bibber in my nat klere. Alle tekens van spore word in ʼn ommesientjie uitgewis.

Ons volgende stop is in ʼn groot kamp met nog honderde nuwe rekrute. Weereens wonder ek waar al die mense vandaan kom en of ons magte enigsins ʼn idee het waarmee hulle te doen het? Weet hulle hoeveel kampe met rekrute daar is?

Almal word beveel om nader te staan. Enige iemand wat talm word onverwyld met ʼn AK-47 aangepor om gehoor te gee. ʼn Man geklee in ʼn militêre uniform spreek die nuwelinge toe en vertel hulle wat van hulle verwag word in hierdie oorlog. Daarna val almal in vir oefe-ninge, ek inkluis. Met moeite gaan die boodskap van my brein af na my voete om die bewegings uit te voer. Hoe op aarde hou hierdie maer uit-geteerde kinders dit? Een van die jong rekrute braak byna bo-oor my. “As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop,” kom Paulus se woorde in my gedagtes op. Ek haal die blik kondensmelk uit my sak en gee dit aan hom. Die verbasing en dank-baarheid op sy gesig sal ek nooit vergeet nie. Hy slaan sy hande saam en met ʼn “Ndatenda!” sluit hy aan by die vertrekkende troepe. Ek wonder of hy hierdie oorlog sal oorleef.

 

MY GOED!

Nog moeg van die oefeninge, begin ons weer loop. Ek strompel saam en spook om by te bly. Nanag kom ons by ʼn kamp aan waar ek oor-handig word aan ʼn man met die naam van Mafight. As ek gehoop het om te rus, het ek my lelik misgis.

“Can you keep it up for a short while?” vra Mafight.

“Do I have a choice?” Ek is moedeloos verby.

Die ‘short while’ word ʼn ewigheid. Sonder begrip van afstand hou ons aan met loop totdat ons ʼn doeanepos bereik. As ons by ʼn grenspos is, is ons nou ver van Rusape af. Dis ʼn eenvertrek geboutjie wat deur ʼn enkele kers verlig word. Ek knip my oë om seker te maak dat ek reg sien: my eie klere lê op ʼn hopie langs items wat uit ons plaashuis gebuit is!

“Can I please get rid of these wet clothes?” vra ek met groot ver-wagting. Maar nee! Hulle is nie van plan om dit vir my terug te gee nie en verneem kamstig of ek my baadjie wil hê.

“Yes, please!” antwoord ek dankbaar. Nodeloos om te sê dat ek nie die baadjie gekry het nie.

Moedeloos kyk ek na die kosbaarhede uit ons huis, selfs die .22 is onder die items. Die gevoel van verlies oorweldig my. Hier, tussen niks en nêrens lê van ons besittings – goed wat ons oor ʼn lang tydperk ver-samel, gekoop het met swaarverdiende geld. As ek net my eie broek kon aantrek! Trane van hartseer en frustrasie loop teen my wang af.

Ek word aan ʼn nuwe span wat ʼn paar ouer manne insluit, oor-handig. Tot my ver ligting bly Mafight die leier en neem saam met nog ʼn bevelvoerder beheer oor – ten minste is daar nou meer volwassenes tussen die tiener rekrute. Ons staptog duur die res van die nag. Dis nou al nege dae sedert ek van die plaas af ontvoer is. Ons kom êrens tussen die berge by ʼn stat tot stilstand. Ek en my wagte word in ʼn hut waar mielies gestoor word, geherberg. Doodmoeg, sak ek op die naaste sak mielies neer en raak aan die slaap.

KOS UIT ʼn ONVERWAGTE OORD

Saterdagoggend, 27 Mei 1978.

Dit voel of ek net aan die slaap geraak het toe ek wakker geruk word. Ons kry elkeen ʼn gebraaide mielie en kos uit die Protected Villages of soos die vegters dit noem, Keeps kampe. My seun, Hans, het my vertel van hierdie Protected Villages waarheen burgerlikes wat nie guerillavegters was nie of wou wees nie, verskuif is in 1974. Hulle word oënskynlik daar versorg en bewaak vir hul eie veiligheid. Die rekrute verseker my die burgerlikes in die Protected Villages werk eintlik vir hulle.

“With all the sellouts in one spot, it is easy to get rid of them if they

don’t cooperate,” reken een van die rekrute. Die vryheidsvegters be-

weeg vrylik rond en enige weerstand word wreedaardig onderdruk.

“Oh well, if the Smith army wants to supply us with food, we are not going to argue. We just stop and pick it up as we pass the camps.” Hulle lag tog te lekker. So dis nie net die Russe of die Chinese wat hulle van kos voorsien nie, maar indirek ons eie magte!

“We get caught sometimes, but it is just a matter of time before we are released by our comrades.” Hy klap sy lippe en vee sy mond af met die agterkant van sy hand.

Om te dink ons magte is ʼn klipgooi ver en hier voorsien hulle my nou van kos en hulle weet nie eens ek is onder hulle neuse nie.

Ons vertoef lank genoeg naby die kamp sodat ons klere droog kon word.

Laat middag vat ons weer die pad en ek wonder wat hulle haas is. Ons staptog bring ons by ʼn hoë berg. Die mis begin toesak, gelukkig is daar twee hutte aan die voet van die berg en ons vertoef daar vir die res van die nag.

BERGE OP EN BERG AF

Sondag 28 Mei 1978. My hoop dat die magte my sal opspoor ver-dwyn soos mis voor die son toe ons vroegoggend die berg aandurf. Die son is nog nie op nie maar die kwynende maan verskaf genoeg lig so-dat ons darem kan sien waar ons loop.

Mafight is ʼn goeie organiseerder. Hy verdeel die rekrute in groepe en ek word gereeld van die een groep na die ander verskuif. Een man-skap in elke groep word aangewys om persoonlik na my om te sien en blykbaar te ondersteun as dit nodig is. Hulle klouter die berg sonder moeite uit, met my en my helper wat baie stadiger volg. Met moeite sit ek een gepynigde voet voor die ander. My skoene en kouse is vrot van die water, sweet, sig en bloed. My voete is flenters, my toonnaels sep-ties en afgeskeur tot in die lewe, my hele lyf is seer en ek is tot die dood toe moeg.

“Ag Here, U is my krag en my sterkte.” Ek gly, trap ʼn klip los wat bergaf bons en uitbundig versnel. Die wag gryp my vas en beur voren-toe, boontoe. My voete reageer nie meer op die vorentoe bevel nie. Sal ek nie maar laat los en soos die klip die berg aftuimel nie, wonder ek vir die tweede keer binne tien dae. Ek is so moeg.

“Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie,” flits dit deur my kop.

Net die Here weet hoe ek oor daardie berg gekom het. Die man het aan my bly klou soos ʼn neet en my die steiltes uitgekry ondanks my gepynigde lyf se onvermoeë en powere bydrae. Dit was plek-plek nodig om handeviervoet te klouter. By glibberige steiltes het die wag agter my geklim en letterlik my voete van een vastrapplek na ʼn ander gestuur. Dat hy my nie aan my eie lot oorgelaat het om teen die berg af te tuimel nie, is onverklaarbaar. Om die een of ander rede beur hy met my die berg uit. Watter bevele hulle ook al aangaande my gekry het, word stiptelik uitgevoer.

Bo gekom, wag Mafight en die rekrute ons in. Vir my is daar nie ʼn verposing om die sonsopkoms te bewonder nie. En al sou daar ʼn kans wees, my seer ledemate slurp al my gedagtes op.

Mafight beveel ʼn volgende groep om na my om te sien en ek kry ʼn nuwe begeleier wat dadelik beheer neem. “I’ll walk infront of you and support you with my body on the way down. Just follow in my footsteps,” verduidelik hy sy plan om my bergaf te kry. So pak ons die kuitvreter afdraende aan.

As ek gehoop het om ʼn blaaskans aan die voet van die berg te kry, het ek dit mis. Onder gekom, staan die res van die vegters gereed om aan te beweeg.

Ek strompel tot by Mafight. “Can I rest for a moment?” pleit ek.

“No rest! The Selous Scouts slept on this side of the mountain last night. We have to move on.” So naby en tog so ver! Die ZANLA magte het oë oral en weet van elke beweging wat ons magte maak.

Ek word in die sorg van ʼn ander groep geplaas en op Mafight se bevel beweeg aan. Nerf af, voete flenters, kuite aan die brand, omring deur vegters, strompel ek voort. Die manne is moeg en ongeduldig maar doelgerig op ʼn drafstap op pad na ʼn bestemming. Daar is nie sprake van stop nie. “Here, laat my nie struikel nie, hou my net regop, dis al wat ek vra.”

Ons kom ʼn ouvrou langs die pad teë wat ʼn paar minute se rus bring. Mafight spreek haar gebiedend aan en met ʼn geboë houding, kop onderstebo, strek sy haar twee hande na hom uit en oorhandig haar kosbondeltjie sonder teëspraak. Tot my verbasing gee hy haar pap en boontjies vir my! Hulle self bly sonder kos. Die Vader weet ek is honger, maar ek kry die kos kwalik afgesluk. Ek kyk na die vrou in ʼn poging om my dankbaarheid te toon. Haar gesig bly weggedraai. “Ndatenda,” spreek ek my dankbaarheid hardop uit. Op ʼn kort bevel van Mafight val ons weer in die pad.

LEMOENE EN SUIKERRIET IN MOSAMBIEK

Die volgende dag Maandag 29 ste  is dit weer berg op en berg af. Ons stap nou helder oor dag, slaap in die veld, drink water uit die berg-stroompies, en pak die volgende berg aan op ons leë mae.

Dinsdag, nog ʼn berg troon voor ons uit. Ek herhaal my gebed vir liggaamlike krag om nog ʼn berg uit te klim. My bene voel soos jellie onder my, my voete reageer nie meer op bevele nie, die wag sleep-dra my. Bo gekom, strek die ongelyke kruin van die berg van die noorde na die suide en ons koers oos waar bergaf vir ons wag. Aan die voet van die berg lê ʼn vallei bewerk in ʼn laslappie kombers van landerye.

Toe ons uiteindelik onder kom, juig die rekrute en dans rond van vreugde. Ek gaan sit op ʼn klip en strek my bene voor my uit, gewig van my voete af. Op ʼn afstand sien ek ry op ry groen bome oortrek met oranjegeel spikkels, ʼn lemoenboord! Mafight gee instruksies en die jong klomp storm in die rigting van die boord. Hulle het drie dae laas geëet. My wag bly agter.

Mafight draai na my en lig my terloops in dat ons nou Mosambiek is. Ek gaap hom sprakeloos aan terwyl ek sukkelend orent kom. Is dit waaroor die gejuig en gedans was? Of was dit oor die lemoenboord? Waar het ons die grens oorgesteek? Is ons oor die Bvumba berge? Vader help my! Wat nou? My plaas sal ek nooit weer sien nie en wat van my Rooikop, my dierbare Rooikop, my kinders, familie, vriende? ʼn Gevoel van verlatenheid oorweldig my, ʼn vreemde land, vreemde mense, vreemde kultuur. Die gholfbal is terug in my keel. Gebalde vuiste in my baadjie sakke, draai ek my kop weg sodat hy nie die trane wat in my oë opwel sien nie.

“Lets move, Maartens,” dring Mafight se stem tot my deur.

“Hou my vas, Here, kom my kleingeloof te hulp.” Nou bid ek so ver ek strompel, dis al wat my aan die gang hou, regop hou. My wag bly aan my sy en ondersteun my tot by die boord waar ek op die grond neersak en hy my agterlaat om ook lemoene te gaan pluk. Hy kom na ʼn wyle trrrug en oorhandig twee lemoene aan my. Dis nawels.

Terwyl ek die lemoene afskil hou ek die rekrute dop wat eet so vinnig as wat hulle pluk. Aan wie sou die boorde behoort? Dalk oorblyf-sels van die Portugese se landboubedrywighede? Dan is dit op die oomblik niemand of almal sʼn. Die Portugese is al drie, vier jaar uit Mosambiek uit. Is dit ons voorland ook? Ek koester elke soet skyfie in my mond en sluk die sappige kousels af. Uiteindelik versadig, honger en dors gestil en met rugsakke vol nawels, stap ons verder.

Ons roete lei verby ʼn suikerrietplantasie waar Mafight die rekrute riete laat kap. Met nuwe energie stap elkeen met drie, vier riete onder die arm verder, ontbas dit lit vir lit en kou die soet sap uit. Kousels spat die wêreld vol so ver as wat ons loop.

Mafight sorg op ʼn manier dat die rekrute my nie te veel nie verniel. Hy en die ander bevelvoerder begin vinniger vooruit loop en laat my met die jonges agter. Ons stap ʼn ent verder voordat hulle ons tot halt roep. Ek sak weer op die naaste klip neer. Daar word lank beraadslaag. Ek gee nie om nie, ek kry ʼn kans om te rus.

Dis sterk skemer toe die bevelvoerders weer by ons aansluit. Daar is besluit ons moet hier in die veld oornag. Ek slaak ʼn sug van verligting. Rugsakke sak grond toe en nawels word uitgehaal waarvan twee my kant toe kom. Rekrute sit nou knieë opgetrek en lemoene eet. Som-miges het nog suikerriet oor wat gedeel word. Ek kry ook ʼn paar litte. Ek trek die bas met my tande af, byt ʼn kousel af en kou die soet sap stadig uit. Die AK-47s lê langs die rekrute, ek hou geen ontsnappingsgevaar meer in nie.

Ek maak vir my ʼn holtejie reg vir die koue nag in die buitelug. My lyf smag na rus. Ek lê opgekrul en luister na die Afrikanaggeluide, ʼn jakkals se getjank, ʼn uil, tromme in die verte en raak aan die slaap.

NEGENTIEN UUR ONVERPOOS

Woensdag, 31 Mei 1978. Ons slaap almal totdat die son ons wakker bak. Niemand is haastig nie, niemand is onrustig nie.

Mafight kies twee ouer manne en ses rekrute wat op sy bevel een-kant gaan staan en deel opdragte uit aan die res wat in ʼn groetery ein-dig. Hulle draai om en begin aanstap in die rigting waaruit ons gekom het. Gaan hulle terug Rhodesië toe? Ek staar hulle agterna, as ek ook maar net terug kon gaan, terug na 18 Mei met die kennis wat ek nou het…

Mafight lei ons groep na ʼn bergstroompie waar almal hulle dors les en gesig afspoel in die ysige water. Ek neem die kans waar om my tande te borsel. Ons val eers so tienuur in die pad.

Ek merk ons stap geleidelik opdraende en toe oor redelike gelyke terrein. Ons is op ʼn plato, op pad na die rand daarvan. Mafight beduie ons sal die steilte moet af. Sal ek hier afrol? Daar is nie ʼn manier om aan my lawwe gedagte gehoor te gee nie. Voetjie vir voetjie dryf ek my lyf voort, ondertoe. Uiteindelik onder, stap ons etlike kilometers in die rigting van nog ʼn berg wat ons moet aandurf.

“Nee Here! Nee, daar is nie ʼn manier nie, hier kan ek nie oor nie!” Ek buig my hoof. “Net U weet! My lyf, my siel en gees alles is in ʼn toestand.” Verwese kyk ek na bo. Hoe gaan ek my stukkende lyf oor hierdie berg kry?

Ons pak die lang moeisame pad bergop aan. Vandag kan ek nie sê nie hoe ek bo gekom het nie. Bo val ek plat op die naaste rots en bly lê. Ek sit hierbo danksy bonatuurlike krag, dit besef ek terdeë. Mafight laat val ʼn blikkie boeliebeef langs my, en tot my ontsteltenis wip dit buite my bereik en stort bergaf, hop kort-kort van ʼn klip of rots af, verder en verder. Waar sou hy aan die boeliebeef kom? Bevelvoerders moet voor-regte hê waarin rekrute nie deel nie. Geen wonder hulle het meer sta-mina nie.

“Let’s go!” kom die bevel en ons stap aan op die kruin van die berg. Soos ʼn kind vra ek kort-kort hoe ver nog, want my voete wil nie meer nie. Hulle verseker my dis nie meer ver nie, maar hulle loop en loop met my wat agterna strompel onder die wakende oog van ʼn re-kruut. Daar is nie ʼn pad nie en ek trap versigtig tree vir tree in hulle voetspore. Dan is dit weer bergaf. Plek-plek seil ek op my boude af, my broek skuur deur, my bene, arms en hande is nerfaf. Ons eindig onder die berg in ʼn piesangplantasie. Die piesangbome is hoog en dig, niemand sal ons ooit hier kan sien nie, maar dit maak nie meer saak nie. Ons vleg deur die digte blare totdat ons ʼn tweespoorpad bereik. Dis al sterk skemer.

ʼn Ent verder op hierdie pad kom ons af op ʼn groep mans met wapens en ʼn enkele vrou wat verwese tussen hulle stap. Ons sluit by hulle aan en die bevelvoerders van die twee groepe wissel ʼn paar woorde.

Die vrou kyk my simpatiek aan.

“Are you tired sir?” vra sy. Sy lyk self pootuit.

“Very,” is al wat ek uitkry, want dis nie iets wat ek meer kan wegsteek nie.

“Shame,” laat sy saggies hoor.

Ons paaie gaan uitmekaar en die rekrute sluit by die ander ge-selskap aan. Toe ek later hoor sy is ook ontvoer, wonder ek wie van ons twee se lot die ergste is.

Net Mafight en die twee ouer wagte bly oor. Ons volg die twee-spoorpad, stap deur die nag en kom eers vroeg die volgende oggend tot stilstand. Ons het so negentien ure aanmekaar gestap, geklim, gekruip, geseil, gegly tot hier. Ek is tot die dood toe moeg. Wat nou gebeur, moet maar gebeur! Mafight beduie my in die rigting van ʼn hut, genadig-lik ʼn leë een. Ek sak grond toe, en sluimer in.

Dis Donderdag, 1 Junie 1978, my broer se verjaardag. Sou hy al weet van my ontvoering?

ʼn HOENDER VIR BREKVIS

Ek word wakker van die sonlig wat in die hut inskyn en die gebabbel van vrouens en kinders. Ek maak my oë op skrefies oop en kyk vas teen ʼn klompie vrouens en kinders wat my nuuskierig vanaf die deur aanstaar. “Mhoroi,” wend ek ʼn hees poging aan om hulle te groet. “Mhoroi,” eggo hulle, giggel en laat spaander.

Die wagte beduie my om uit die hut te kom. Ek kom traag orent en volg hulle na buite waar hulle my op ʼn stomp laat sit. ʼn Rukkie later bring ʼn vrou vir ons kassawa om te eet. Dis duidelik nie genoeg vir die vegters nie en een van hulle vang ʼn hoender en draai dié se nek om. Is my kanse enigsins beter as die hoender sʼn?

Die man gee die hoender vir die vrou wat ons kos bring, en sy neem dit na die kookarea waar ʼn driepoot eenkant op ʼn vuur staan met kokende water. Sy sit die hoender kop eerste in ʼn emmer en gooi van die kokende water bo-oor. Ek hou haar dop terwyl sy die hoender ontveer, die binnegoed verwyder en dit opsny. Die hoenderstukke beland in ʼn ysterpot wat sy op die vuur sit.

Intussen staar die kleintjies my steeds nuuskierig aan en enetjie waag dit nader en voel aan my hare. Sy giggel agter twee handjies en skarrel weg. Hulle leef ver van die stede af en het seker nog nooit ʼn

witmens gesien nie.

’n Halfuur later bring die vrou die halfgekookte hoenderstukke vir ons. Die wagte val weg aan die taai maer hoendervleis kou die sap uit elke beentjie. Ek eet ʼn dytjie asof dit van my vrou se Sondagtafel af kom. Ons het skaars ons vingers afgelek toe die bevel kom:

“Come! Let’s go!”

Ek kon my ore nie glo nie! Voor ek my kon kry spreek ek my gedagtes hardop uit. “No way, you will have to carry me.” Ek byt amper my tong af. Vandag skiet hulle jou net hier dood, Johannes Maartens! Die feit dat ek nog lewe, is net genade en nou plaas ek my lewe op die spel met my onnadenkendheid.

Mafight trek my op. “We are almost there,” sȇ hy.

Ek glo hom nie meer nie, want van afstand weet hy niks nie. Met onwillige voete en bene volg ek hom omring deur die ouer manne en ʼn groep Mosambiekse jeugdiges wat majibas genoem word. Ek vertrou hierdie jong mannetjies glad nie.

Naby die kamp is daar ʼn stroom yskoue water. Almal drink water en was gesigte. Ek trek my vodde skoene en kouse uit en gaan staan met my stukkende voete in die water. Pyn trek deur my hele wese. Na ʼn ruk klim ek uit en laat my warm urine oor my septiese voete loop, dis nou die enigste ontsmetmiddel tot my beskikking. Hulle laat my begaan. Ek kyk af na my flenter broek en sien die wit van my maer bene uit-steek. Gestroop van alle waardigheid, dis wat ek is. Die pyn bedaar effens.

“Let’s go!” kom die bevel. Ek gaan sit en trek my kouse en skoene aan. Skeef-skeef soos ʼn krap, begin ek agterna strompel totdat my bloedsomloop weer aan die gang is. Na ʼn paar tree gaan dit effens beter.

“Here, ek weet nie wat U doel is nie. U weet ek kan nie meer ʼn tree verder nie!” My knieë wil-wil knak. Ek bly met moeite regop.

BONATUURLIKE INGRYPE

Ons kom ʼn groep vegters teë, hulle groet net en gaan voort, terug Rhodesië toe. Mafight sê iets vir die jongelinge wat ek nie volg nie en hy en die twee seniors loop vinniger vooruit en laat my agter saam met die majibas. Hulle por my aan, maar daar is nie ʼn manier waarop ek vin-niger kan loop nie, om die waarheid te sȇ, dis ʼn wonder dat ek nog regop is.

Na ʼn staptog van etlike kilometers al agter Mafight-hulle aan, wag nog ʼn groep majibas ons in. Ek word yskoud! Hulle kyk my met openlike haat aan. Kan ek enige genade van hierdie jong Mosambiekers ver-wag? Hulle praat Portugees wat ek nie verstaan nie. Ek kyk voor my uit, oorweldig deur ʼn gevoel van alleenheid.

“If you run, we shoot!” skree die een in gebroke Engels. Wel, daar is nie ʼn kans vir hardloop nie, ek kan kwalik regop bly!

Mafight en die ander draai terug Rhodesië toe en laat my in die hande van hierdie onverskillige majibas. Ek wil agter Mafight aanskree om my saam te vat. Ek sal kruip as dit moet! Ek het net begin gewoond raak aan hulle en verstaan minstens wat hulle praat. “Jou lewe is nie in die hande van die majibas nie,” herinner ek myself.

Die oorneemgroep stap die bos in en ek strompel saam. Twee of drie AK-47s bly op my gerig. ʼn Ent die bos in word ek beveel om te wag. Ek wil kniel en bid, want hulle bedrywighede voorspel niks goeds vir my nie. Is dit die einde? Die ironie is as ek sou kniel, sou ek nie weer op my eie regop kon kom nie. So staan ek met my hoed op my bors en roep die Here aan in my benoudheid, want benoud is ek.

“Here, dankie ek weet U sal omsien na my familie wat ookal vandag hier gebeur.” Ek weier om te glo die God wat ek dien, sal hierdie mense toelaat om my hier soos ʼn hond dood te skiet waar niemand my lyk ooit sal kry nie. “U is my bergvesting. Ek verstaan hulle nie, maar U verstaan hulle taal. Spreek namens my Here. Amen!”

Na wat soos ʼn ewigheid voel, laat hulle my roep en ek skuifel nader.

“Turn around!”

Die gebulder van die leier laat my stadig omdraai. Geskok kyk ek vas in ʼn halfmaan uitdrukkinglose gesigte, vas in die lope van die AK-47s in hulle hande. Dis kinders! Die gewere word met moeite vasgehou, maar hulle teiken is onmiskenbaar! Ek!

Ek staar na die halfmaan oorgehaalde gewere en soos Job van ouds begin ek met die Here redeneer. “Hoekom hier? Hoekom nie op die plaas waar hulle my lyk kon kry nie? Hoékom my tot hier bring?” Ek voel hoe die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan oor my neerdaal. Is daar Engele om my?

“Have you got anything to say for yourself?” kom dit bars van die leier.

Ek skuifel kalm ʼn tree nader.

“Stay where you are, or we’ll shoot! We can hear you clearly!” skree hy benoud.

Ek haal weer my hoed af sit dit op my bors en kyk na bo waar my hulp vandaan kom. Ek smeek nie vir my lewe nie, want dit is op hierdie oomblik in die hand van die Here.

Wat toe gebeur, kan ek nie verklaar nie. Het ek gepraat? Wat het ek gesê? Ek weet werklik nie. Wat die mense gesien of gehoor het, weet ek ook nie. Ek staan in die teenwoordigheid van die Here en wag kalm op die bevel om te skiet.

Sekondes tik verby. Toe gebeur die eienaardigste ding: sonder

enige hoorbare bevel, sak al die gewere soos een man, en almal staan met geboë hoofde.

Die bevelvoerder tree vorentoe. ʼn Bevel word uitgereik en twee mans kom nader en word aangesê om my te ondersteun. Ek voel of ek sweef, en as ek voor my God kon huppel, sou ek.

KONINKLIKE BEHANDELING

Hulle neem my na ’n hut ’n entjie verder. Die hut is skoon. Ek sak neer op ʼn skoon matras, nog nie seker wat aan’t gebeur is nie. Ek weet net ek het die dood in die gesig gestaar en ek lewe. God is goed! Nêrens sȇ Hy ons sal nie deur storms gaan nie, maar Hy belowe Hy sal altyd by ons wees en ons nie bo ons kragte beproef nie. Hier beleef ek dit nou eerstehands. Ek dink Daniël het so gevoel in die leeukuil.

Hierdie mense wat my minute gelede wou doodskiet, dra nou vir my waswater aan. Ek kry water om te drink en ʼn paar lemoene. ʼn Le-moen het in my lewe nog nooit so lekker gesmaak nie.

Die dag is vol verrassings. Hulle bring vir my ʼn radio en stuur ʼn verpleër om my voete te versorg! Die man kyk simpatiek na my voete, ʼn smetterige pappery waarvan die toonnaels nie meer sigbaar is nie. Versigtig begin hy dit ontsmet, bedek die wonde met salf en verbind dit met skoon verbande. Die heeltyd skud hy net sy kop, wat my laat wonder: is dit oor my voete, of oor dít wat vandag in die bos gebeur het? Hoekom het hulle die gewere soos een man laat sak? Het hulle iets gesien wat ek nie gesien het nie? Daar loer een of twee gesigte by die deur in en ek kyk vredevol terug.

Die verpleër gaan uit en kom terug met ʼn paar pynpille wat ek dankbaar sluk. Ek het begrip van tyd verloor. Watter dag dit ook al is, dis laat in die middag en ek word versorg in ʼn skoon hut, op ʼn sagte, skoon matras en ek leef! “Dankie, Vader!”

Ek word aangesê om te rus.

Wat die ommeswaai veroorsaak het, sal net die Vader weet. Skielik kan hulle nie genoeg vir my doen nie. Ek bid vir die mense wat my versorg en vra die Here om my familie te laat weet ek leef nog, op watter manier ook al. Al biddend val ek in ʼn diep slaap vir die eerste keer sedert ek ontvoer is. Ek voel die teenwoordigheid van iemand by my maar daar is geen wag in die hut nie, net ʼn wonderbaarlike vrede en kalmte.

Uitgerus skrik ek wakker toe die wagte voor die deur iemand groet. Die bevelvoerder kom die hut binne. Dis dieselfde man wat my vroeër die dag wou doodskiet. Ek probeer opstaan, maar hy beveel my om te bly lê.

“I learned that you had a rough time?” Hy kyk my ondersoekend aan en begin my ondervra.

“Who are you?” Die frons sny diep tussen sy oë.

“Johannes Maartens,” herhaal ek vir die soveelste maal.

Ek het gehoor hulle noem hom Lo Lee, ʼn naam wat hy glo gekry het na hy sy opleiding in China voltooi het. Anders as die aggresiewe houding van die oggend, lyk die man nou gesteurd. Hy ondervra en ek antwoord. Die ondervraging gaan oor in ʼn geselsery. Ek wys hom my operasiemerk, vertel hom hoe goed die Here my deur ʼn groot hart-operasie gedra het en ek nou feitlik ʼn nuwe hart het.

Hy staar lank na my en vertel sy ouers is ook Christene. “He gave you a good hart for sure!” kom dit ernstig van hom. Sy veranderde houding laat my glimlag.

Op pad uit draai hy terug na my toe. “We are on our way back to Rhodesië.” Hy klink moeg.

“Thank you for saving my life,” kom dit spontaan oor my lippe.

“It is no thanks to us that you are still alive, Johannes, of thát, you can be assured. Believe me!” Weer skud hy net sy kop en stap uit.

Ek het hom nooit weer gesien nie.

TIEKIE

Die majibas irriteer my grensloos. Hulle dreig om vir my ʼn badza te gee sodat ek hulle lande kan skoonmaak soos hulle dit vir ons moes doen. Sal dit enigsins help om hulle daaraan te herinner dis die gewer-skaf op die landerye wat kos op almal se tafels sit en die werkers is betaal vir hulle arbeid?

Genadiglik daag ʼn leier met die naam Tiekie op, en verwilder die jonges. Hy verneem simpatiek hoe ek voel en of my voete beter is. Die gesindheidsverandering wat die mense ondergaan het, is onverklaar-baar.

“Much better thank you,” verseker ek hom.

Hy is daar weg en ek ontvang ʼn paar stewels en sokkies. Sou hy dit gereël het?

Tot my verligting verloop ʼn paar dae van rus in die kamp voordat ek weer kort ente begin stap om die nuwe stewels in te loop. Ek ont-moet Tiekie op een van my staptogte. Hy is verbaas dat ek hom dadelik herken.

“How can I forget the man who delivered me from the troublesome troops,” lag ek en bedank hom vir die stewels en kouse. Hy toon opreg-te belangstelling in my welstand en die toestand van my voete.

“Much better, thank you,” antwoord ek eerlik.

“Rest while you can,” beveel hy in die stap en ek wonder waarom.

DIE VERWESE VROU

Muka! Muka!” Ek word uit ʼn diep slaap wakker. ʼn Donker figuur troon bo my uit. Dis Mafight met twee manne by hom. Deur die slaap kyk ek hom verras aan. Wanneer het hy teruggekom?

“We are in a hurry! Get up!” beveel hy dringend.

“Let me put on my boots.” In my haas sukkel ek om die stewels aan my voete te kry, die manne wag ongeduldig. Met moeite kom ek orent. Ek moet die radio agterlaat en verloor my lewenslyn met die buitewêreld en tyd. My dae van rus is op ʼn end.

Kurumidza! Kurumidza!” por Mafight my aan.

Ons drafstap deur die bos, dit gaan moeilik, my voete is nog nie gewoond aan die stewels nie. Ek wil hulle nie onnodig uitlok nie en pro-beer my bes om by te bly. Dit is ʼn beproewing vir my voete, daar’s egter geen genade nie. So drie, vier kilometer verder kom ons by ʼn bakkie op ʼn grondpad uit. “Get up and lie down!” blaf Mafight die bevele. Toe ek nie vinnig genoeg reageer nie word ek agterop geboender en toegegooi met ʼn stinkende kombers.

Waarom die dringendheid? Sou van ons magte in die omtrek wees? In Mosambiek? Of is ons terug in Rhodesië? Dis moeilik om asem te haal onder die kombers, maar ek is dankbaar om van my voete af te wees. Na wat vir my voel soos ure se gery kom die bakkie tot stil-stand en ek word beveel om af te klim. Vars lug! Ek brand om te weet wat aangaan, mag nie vra nie. Dis nog donker maar ek hoor hoe troepe iewers gedril word, dit moet net voor dagbreek wees, miskien halfses. Ek mis my horlosie. My lewe het verval in ʼn tydlose verwisseling van dae. Dit kan dalk Sondag wees. Maak dit saak? As troepe gedril word moet ons by ʼn opleidingskamp êrens in Mosambiek wees.

Terwyl ek nog besig is om sin te maak van tyd en omgewing, doem Mafight en drie mans uit die donkerte voor ons op. Mafight wissel ʼn paar woorde met hulle en beduie in my rigting. Hulle stap in gelid na my. Die uniforms en houding laat my dink ek het hier te doen met ge-sagsfigure. Hulle halt so twee treë van my af, staan met bene gemaklik uitmekaar, arms intimiderend oor die borste gevou.

Nog ʼn ondervraery begin. Hierdie keer wou hulle onder andere weet waar ek gebore is. Toe hulle hoor ek is in Suid-Afrika gebore, is die volgende vraag hoe lank ek al in Rhodesië is. “Dertig jaar,” antwoord ek. Hulle kyk na mekaar. Word ek as ʼn indringer beskou? Is dit genoeg rede om van my ontslae te raak? Die son is besig om op te kom. Ek raak moeg gestaan en wissel gedurig my gewig van die een voet na die ander. Na nog talle vrae staak die mans die ondervraery, draai om en stap sonder kommentaar weg.

Mafight blaf bevele uit en onder die bewaking van twee rekrute word ek na ʼn ander bakkie begelei. Hulle beduie ek moet agterop klim. Tot my verbasing sit die ontvoerde vrou wat ons ʼn paar dae gelede langs die pad gekry het, toegedraai in ʼn kombers, reeds agterop die bakkie. Sy lyk verwese. Hierdie keer kyk ek haar simpatiek aan en verneem hoe dit met haar gaan.

Sy ignoreer my vraag en merk in ʼn lewelose stem op, “You’re still alive?”

“Yes, only by the grace of God,” antwoord ek. Wat moet hierdie vrou nie verduur nie!

Die rekrute bring vir ons ʼn paar vetkoekies wat beide van ons stadig happie vir happie eet.

Vier rekrute spring agterop die bakkie, ʼn bevelvoerder en be-stuurder skuif voor in en ons vertrek na ʼn onbekende bestemming. Ons vorder nou stadig, elke paar kilometer word daar gestop om pale of takke te verwyder wat die Frelimo’s oor die pad gepak het.

By die een stop vind onderhandelinge plaas. Die vrou, moeg en willoos word afgelaai. Is sy die prys wat betaal word om deur hierdie gebied te ry? Ek kry haar bitter jammer.

DIE ROTSPLAAT

Teen nege uur word ons by ʼn kamp afgelaai. Ek word ingelig ek is hier-heen gebring om verder ondervra te word. Hier is glo offisiere wat ge-konfyt is in ondervragingstegnieke. Wat sou dit beteken? Moet ek my staal vir fisieke marteling? Gaan met my gebeur wat met Hunwick ge-beur het wat deur die Chinese ondervra en gebreinspoel is? Hy was ʼn wrak toe hy eindelik ontsnap het en is dood in die vliegtuig op pad terug na sy ouers in London.

“Here hou my geloof sterk, laat my nie wankel nie,” bid ek saggies toe drie mans na my aangestap kom. Net een man stel homself voor, Mushigwawa. Eers staar hulle my net aan. Ek wag, my blik wyk nie ʼn oomblik van hulle sʼn nie. Hulle vra en ek antwoord. Dis dieselfde vrae oor en oor. Glo hulle my nie, of is dit deel van hulle strategie om iets uit my te kry oor ons magte se bewegings waaroor ek oningelig is? Uiteindelik besluit hulle dis genoeg en roep twee vegters nader.

Mushigwawa en die twee gewapende vegters stap met my ʼn ent langs ʼn rivierloop op tot by ʼn klipplaat. My voete is nog seer en ek kan nie tot bo klim nie, een van die vegters merk dit en help my op. Bo gekom lig hy my in dat dit my voorlopige blyplek sal wees.

“You stay here. This will be your home from now on. We’ll supply you with a tent and blankets.” Hy los my alleen onder toesig van die twee vegters, nou my wagte.

Twee rekrute kom later met ʼn tent en ʼn paal aangestap en begin om die tent op te slaan op die buiterand van die klipplaat sodat hulle darem grond het om sommige van die tentpenne in te slaan. Die orige tentpenne word met moeite in krake in die rotsplaat gekap.

Een van die wagte se naam is Samora. Hy het ʼn baard nes sy naamgenoot, Samora Machel, die president van Mosambiek. Uiteindelik alleen in die tent, sak ek neer op die einakombers, my enigste skans teen die koue klipplaat. Sal ek ooit gewoond raak aan die koue? Voordat ek indut, kom ʼn wag die tent binne en maak hom tuis met sy AK-47 langs hom.

 

EK IS NIE VERGETE NIE

Vroeg die volgende oggend kry ek my seer, koue lyf met moeite van die kombers gelig. Ek beduie vir die wag ek wil water afslaan. Hy volg my na buite en onder bewaking doen ek my besigheid.

Op pad terug tent toe sien ek hulle aangestap kom, sewe manne. Die wagte spring op aandag en salueer hulle. Wat sou dit hierdie keer wees? Waaraan het ek die eer te danke dat senior lede van die vry-heidsvegters douvoordag by my opdaag? Ek hoef nie lank te wag vir ʼn antwoord nie. Dis weer ʼn ondervraery, en dit op my nugter maag! Dis dieselfde vrae en hulle kry dieselfde antwoorde, steeds is hulle nie tevrede nie.

“Here,” skree ek in my binneste, “wat sȇ ek tog vir hierdie mense om hulle te oortuig ek praat die waarheid?” Ek sien uit die hoek van my oog hoe die wagte wissel en Samora weer sy plek inneem.

Hulle dring daarop aan dat ek alles neerskryf. Waar my familie is, wat hulle doen, alles! In ʼn oomblik van dwaasheid en irritasie glip woorde uit waaroor ek onmiddellik berou het: “I will answer your questions, but you can write the answers down yourselves.”

Hulle is in ʼn posisie om enige iets aan my te doen. Vir ʼn oomblik sê niemand iets nie. Ek wag gespanne en net toe ek my woorde wou terugtrek, gee die leier van die groep tydelik toe met ʼn ongeduldige.

“If you know what is good for you, you won’t be this stubborn! We’ll be back tomorrow then you better cooperate!”

Met die dreigement hangende in die lug verkas hulle en ek slaak ʼn sug van verligting. Binne die tent sak ek moedeloos af op my hurke teen die tentpaal, wat wil hierdie mense hoor? Moet ek lieg om hulle basse te red?

Samora kom hurk langs my. “Don’t worry, just work with them, they will not harm you, because the whole world knows you are with us. We told them that you are in good health. I’m not supposed to tell you that,” voeg hy sag by.

Uit ʼn onverwagte oord gaan daar vir my ʼn lig op. Is dit waaroor al die ondervraery gaan? “What must I tell them?” vra ek moedeloos. “They don’t believe anything I say.”

“Well, then you tell me, Johannnes, if you are not important, why on earth is the whole Smith army looking for you?”

“I am just a simple farmer,” sug ek.

“The whole world is hunting for you. That puzzles us the most.” Samora trek die punt van sy baard.

ʼn Warm gevoel omvou my hart. Hulle soek my! hulle het my nie vergeet nie! En as die weermag weet dat ek nog lewe, moet Jean-hulle ook weet!

“Dankie Here, ek is nie vergete nie!”

“HOOGGEPLAASTE”

Met net urine as ontsmettingsmiddel, dokter ek die skrape en snye op my bene en arms sodat dit nie septies word nie. Samora vat my elke dag na die stroompie toe sodat ek kan was. Dit help om met my voete in die koue stroom te staan om die bloedsomloop te stimuleer. Ek is nou so maer ek kan die te klein broek se gordelknoop vasmaak.

Samora verskaf my baie innerlike pret. Hy probeer sy held na-boots op allerhande maniere. Ek hou van hom. Ons sit buite en gesels. Hy blaker inligting uit oor ons magte wat ons glo ʼn paar maal byna in-gehaal het. Dis hoekom hulle my nie glo nie want net ʼn hooggeplaaste in die regering sou soveel aandag kry.

“So you see my friend, that’s why they find it hard to believe you. The Geneva Convention is the only reason why they put up with you. We don’t know how, but they know about you. There are only a few countries that are willing to help us and they are looking for answers. But there is something about you that makes it hard to just shoot you.”

Hy sit eenkant op sy hurke en krap met ʼn stokkie in die grond, sy geweer staan teen ʼn boom, houtgerus dat ek nie sal probeer ontsnap nie. Die ander drie wagte sit ook ontspanne en kuier met mekaar.

NOG VRAE

Twee van hulle kom die volgende oggend weer aangestap en my hart sak in my skoene. Die een neem my eenkant toe en tot my verbasing begin hy my uitvra oor wie van die twee leiers, Sithole of Mozerewa, ek dink die gewildste onder die swartes is.

“I think Sithole has the beter brain,” waag ek dit, “but Mozerewa is more popular among the people.”

“How do you know that?” Hy kyk my stip aan.

“I read papers, listen to the radio and has lived in the country for more than thirty years…” Hy val my met ʼn handgebaar in die rede.

“You are right, Sithole was our man but he betrayed us and Mozerewa is a puppet of the Smith Government,” sȇ hy met minagting.

Genadiglik los hulle my daarna in vrede.

Die dae sleep verby, die etes bestaan uit pap en ʼn blikkie boontjies, partykeer ʼn vetkoek of twee. Op ʼn dag kry ek en my wag elk ʼn gras matjie om op te slaap, dis nie sagter nie maar beslis warmer.

Die kamp is naby die rivier. Snags word daar groot vure gemaak om die wilde diere weg te hou. Die wagte is waaksaam, hulle kan nie skiet nie, die klank trek ver in die nag en net miskien is daar van ons troepe in die omgewing.

DIE MILJOEN DOLLAR BESOEKER

Ek is al ʼn week op die klipplaat. Dit moet die tweede week in Junie wees. In die verte hoor ek samesang. Kan dit die derde Sondag in Junie wees? Of laaste week? Hoelank al weg van die huis af?

ʼn Vreemde wag kom die tent binne en beveel my om uit te kom. Jong rekrute, van so vyftien, sestien jaar, sit op die klipplaat, respekvol in formasie. Voor my staan ʼn lang man met ʼn gesaghebbende houding en langs hom nog ʼn man in militere uniform.

“Do you know who I am?” vra hy my.

Hy kyk my verbaas aan toe ek hom verseker ek weet nie wie hy is nie.

“You múst know me. Ian Smith has put a million dollars on my head for any infor-mation about me, or for my arrest. They have dis-tributed thousands of pamphlets. I can’t believe that you don’t know anything about me. I am is Josiah Tongogara, Chief of Defense of the ZANLA forces.” Hy wys na die man langs hom. “This is my second in command. Smith put ten thousand dollars on his head.”

Ek kry skielik koud en staan nader aan die vuur. “Wel Johannes Maartens, die grootbaas het jou nou gesien, nou is dit jou einde!” ver-werk my kop die inligting. Die man merk my ongemak op.

“Listen,” sȇ hy bedaard, “my orders are to treat you well. If your own people don’t kill you, you are fairly safe. But this is war!” kom die nagedagte.

Die manier waarop hy praat dwing respek af. Hy kyk nadenkend na my.

“There is something about you Johannes, that I can’t fathom.”

Nou is ek verward, wat weet die man van my af? Wat het hulle afgelei uit al die ondervraery?

“I have been keeping an eye on you, ever since you left your farm,” gesels hy nou asof hy my lankal ken. “Your respect for others and your faith is your saving grace. I think we can learn a lot from you. Thanks for helping the sick recrute.”

Hy lyk genaakbaar en ek kry respek vir die man. Hy vra my uit oor my tog sover, maar toe ek hom begin vertel van Rhodesië maak hy my stil.

“I know the whole story. It was my duty to see you safely over the border. How are they treating you now?” vra hy.

Hoewel ek die man nooit gesien het nie, is hy goed ingelig oor elke beweging wat ons die afgelope weke gemaak het. Hy sug en staar lank na my, my oë wyk nie vir ʼn sekonde van syne nie.

“Why is the whole Smith army after you? Who are you? As far as we could find out you’re telling the truth, but the Smith boys are deter-mined to get you back, that is what made us wonder about you. We were adamant to get you safely over the border and were in big trouble more than once. But we ducked them each time and they backed off. Believe me, Johannes, if you would have been killed in one of these skirmishes by your own people, the world would have blamed me! Sorry for the insident earlier. You are my prisoner and I gave them instructions to treat you well and to see to your needs, as far as possible. Do they feed you well?”

Hy is verbaas toe ek hom vertel ek het op pap groot geword en eet enigiets.

“One thing less to worry about,” lag hy. “Have you got enough blankets?” wil hy weet.

“Nee,” antwoord ek vinnig want dit word bitter koud.

“I will arrange for more,” belowe hy. Iets wat toe nie gebeur het nie.

Tongogara maak aanstaltes om te gaan. Die jong rekrute op die klipplaat staan soos een man op. Dis duidelik hulle het groot respek vir hierdie man.

Ndichakuwona gare gare,” groet hy my.

My lewe is op die oog af in hulle hande, maar ek weet God is in beheer. Hy is by my en sal my nie begeef of verlaat nie. Ek buig my hoof en dank die Here vir Sy beskerming. Ek sal hulle nie rede gee om my te skiet nie. Diep in gedagte talm ek buite die tent en skrik toe Samora skielik agter my praat.

“Come on, Johnny, let’s eat, the beans are getting cold.” Hy hou die blik koue bone na my uit en ek grinnik vir sy lawwigheid.

 VRAE VRAE VRAE

Mushigwawa en twee mans daag vroeg die volgende oggend by die klipplaat op. Ek onthou net die een man se naam, McDonald. Hierdie keer kry ek ʼn geskrewe vraelys. Dis dieselfde vrae oor en oor, net anders gestel, wat ek in hulle teenwoordigheid skriftelik moet beant-woord.

Ek doen my bes om hulle nie weer die harnas in te jaag nie. ʼn Mens weet nooit wat hulle aanvang as die leier nie in sig is nie. Ek het nou al gehoor wat hulle met mense doen wat nie wil saamwerk nie – gruwelikhede wat hulle net afskryf as ʼn ongeluk.

Nadat hulle daar weg is met my geskrewe antwoorde, los hulle my weer vir ʼn paar dae uit. Ek mag nie rond beweeg nie en die stilsittery vang my.

Drie dae later daag ʼn nuwe span ondervraers op, glo eksperte opgelei deur die Kubane. Hulle steel die sonskyn uit die dag. Die ge-dagte aan ʼn kennis van ons wat deur hulle gevange geneem en onder-vra is, maal in my kop. Hy is gemartel totdat hy ʼn wrak was en kort na sy ontsnapping dood is. Ek pleit die bloed van die Here oor my.

Die leier van die groep beduie ek moet sit. Ons sit op boom-stompe wat die wagte nader gebring het. Hy neem plaas regoor my, terwyl die ander agter hom stelling inneem met gevoude arms, intimi-derend. Die ondervraery begin.

“Why is the whole Smith army after you?” Ek weet nie.

“Who on earth are you?” Johannes Maartens, net ʼn boer.

Hy kyk my skuins aan en merk op, “Do you think for one moment that the Smith boys will be this patient with us? No! They will torture us until we break! We would not have had it this easy!” antwoord hy driftig sy eie vraag.

Hy staan op, kyk met hande in die sye af na my. “What do you hide from us!” vra hy gefrustreerd. Ek kom ook regop en kyk hom in die oë en antwoord. “Nothing! What I said is the truth and God is my wit-ness.” Alle vrees het my verlaat.

Hy beduie my om te sit en sak self weer op sy stomp neer. Hulle vra en ek antwoord kalm en beslis. Genadiglik kom ook dit tot ʼn einde en hulle vertrek.

SIMPATIEKE ORE

Dae kom en gaan en ons handhaaf ʼn roetine van niks doen wat gevul word met gedagtes oor my verlede, my familie, die boerdery. Sou Hans ʼn oog hou? Waar trek ons in Junie? Hans verjaar die sewe-en twintig-ste. Ek broei oor die land se dilemma; oor die swart bevolking se sien-ing. En dan doen ek oefeninge. My voete herstel en ek kan rondbeweeg sonder enige ongemak. Ek voel verbasend goed en dít sonder my medi-kasie. ʼn Leë boontjieblikkie het intussen my beker geword. Die wagte hou ʼn vuurtjie aan die gang teen die koue en ek kry toestemming om water te kook vir tee wat ek brou van teeblare wat dan en wan saam met ʼn pakkie koekies afgelewer word. Waar die kosvoorrade vandaan kom is nie meer vir my ʼn kwessie nie. Ek geniet net wat ek ontvang.

Samora se stem dring tot my deur waar ek by die vuur sit om die koue uit my lyf te weer, my gedagtes gevul met verlange na my ge-liefdes.

“Johnny, what’s wrong? Are you sick? Let’s go for a walk, and Johnny, jy gedra jou nè,” sȇ hy in gebroke Afrikaans. Hy neem nie sy geweer saam nie, dit maak die uitstappie meer ontspanne.

“What’s wrong? You’re very quiet,” vra hy bekommerd.

“Nee wat,” stel ek hom gerus, “I miss my family, especially my wife and my youngest daughter. She is still a kid and we are close. Hannes, my eldest turns thirty-two on the twenty-seventh and I am not with them to celebrate it. I just wonder how they are doing. But I believe God will take care of them.”

Ek sien die hartseer in sy oë en wonder wanneer laas hy sy men-se gesien het. Dis net die krag van Bo wat keer dat verlange my nie oorweldig nie. Vir dae sit Samora en krap iets op ’n stuk lap en ek wonder of dit net is om hom besig te hou, maar hier in die bos vra jy nie vrae nie.

 

NAGBESOEKERS

Ondanks die feit dat dit ʼn warm streek van die land is, word dit saans geniepsig koud. Een nag skrik ek wakker en voel ʼn gevroetel agter my rug. Ek het niks wat gesteel kan word nie en lê doodstil en wag. My kombers span oor my. Die wag het sowaar agter my rug ingeklim en trek my kombers oor hom! Ek klou vir al wat ek werd is en so lê ons heelnag styf teen mekaar vir ʼn bietjie hitte. Nie een van ons slaap eintlik nie, te bang die ander een gryp die hele kombers. Ek gee nie om om my kombers met hom te deel nie, maar word ruimskoots beloon vir my goedhartigheid met ʼn kolonie luise.

Die volgende oggend is ek aan die jeuk en my lyf is aan die brand. Gelukkig is dit ʼn sonnige dag. Ek gooi my kombers en slaapmat oop in die son. Ek trek al my klere uit. My flenter klere kry ʼn sonbad. Gestroop van inhibisies, staan ek poedelnaak in die son en deursoek my lyf vir luise. Ek sal Samora moet oortuig om my rivier toe te vat vir ʼn behoorlike skrop. Die wagte kyk my geamuseerd aan.

Ek waag dit nie om my bedmaat uit te skop nie. Hy het ʼn AK-47 by hom. Soos ʼn bobbejaanmannetjie begin ek daagliks luise aftrek en doodknyp. Net as ek dink ek is van die laaste een ontslae, is dit weer aand en begin die storie van vooraf. Hoe die luise die wagte nie pla nie, gaan my verstand te bowe. Hulle glo dis ʼn soort gogga wat net snags uitkom en ʼn mens aanval. My dae bestaan uit klere uitrek, oopgooi op die klippe en luise doodknyp. Hoe verlang ek tog nie na ʼn skoon bed, ʼn bad en my geliefde se sagte lyf teen myne nie.

VLEISLUS

As ʼn mens honger is, eet jy enige iets, maar my lus vir ʼn stukkie vleis hang nou behoorlik uit. Ek vra vir Mushigwawa wat die kanse vir vleis op die spyskaart is en hy belowe dat hulle ʼn bok sal skiet. Dit gebeur toe nie want hulle is te bang om te skiet omdat dit dalk ons troepe kan lok as hulle in die nabyheid is. Die kleinwild wei binne ʼn klipgooi van die rotsplaat af.

“Let’s set a trap so we can catch something to eat,” stel ek voor.

“With what?” vra hulle verbaas.

Wel ʼn boer maak ʼn plan. Ek sien hoe hulle bedags garing ryg uit ʼn sak. “Lets use string from the bag,” stel ek voor.

Die strik word gestel en kort voor lank vang ons ʼn dassie. Dit het beter as die beste filet gesmaak. My aansien onder hulle het aansienlik verhoog – dat ʼn witman nou met so ʼn plan vorendag kon kom!

Ek begin verstaan tot watter uiterste ʼn mens sal gaan wat honger is, hoekom op my plaas strikke gestel is. Dit was draadstrikke wat nie gereeld nagegaan is nie en die arme dier spartel om los te kom en beseer homself of vrek in die proses. Ek was woedend as ek op so ʼn dier in ʼn strik afgekom het.

Ons vang nou wel nie ʼn bok nie, maar dassies en tarentale. Wat die strik ook al oplewer is welkom en elke oggend haas ons na die strik om te gaan kyk wat daarin is.

Ek geniet die natuurskoon om my, dis rustig en stil en ʼn mens kan amper vergeet daar is ʼn oorlog aan die gang. Ek het ʼn gemaklike sitklip eenkant waar ek gereeld stiltetyd hou. Op pad na my klip word ek drin-gend teruggeroep deur een van die wagte en beduie om in die tent te bly.

“The situation is not good!” Hy klink benoud.

Tent of klip wat maak dit nou saak waar ek bid? Ek pleit vir ons almal se veiligheid.

So kry Samora my op my knieë toe hy later by my aansluit. Saam met hom is ʼn bevelvoerder, Tsuro, wat nie ʼn woord Engels verstaan nie en Samora tolk so vinnig as wat hy kan.

“The leader has a message for the ‘baas’,” sȇ hy ewe droog met ʼn vonkel in die oog. “He told me to tell the ‘baas’ that the situation is not good, but the ‘baas’ must not worry because they will take ‘him’ out of here.” Hy verkneukel hom oor die ‘baas’ storie.

“You see, Johnny, you are still the ‘baas’.”

Ek glimlag saam, maar bly benoud. Tongogara het my immers gewaarsku oorlog, is oorlog, en daar sal altyd ongevalle wees.

 

DROME EN NAGMERRIES

Dit word toe nodig om my uit die situasie verwyder. Samora en die ander wagte kry opdrag om dadelik met my te vertrek. Ek gryp my slaapmat en kombers en die lap wat Samora in my hand stop en saam laat ons die klipplaat op ʼn vinnige drafstap agter. ʼn Man sluit by ons aan wat dadelik die leiding neem. Op ʼn afstand sien ek honderde rekrute met hulle bondels die bosse in hardloop. Ons word beveel om in die bosse weg te kruip. En dis waar ons bly vir die res van die dag. Ek besigtig Samora se lap. Dis ’n almanak wat hy vir my gemaak het!

Dit word donker en steeds skuil ons. Ek sluimer in en droom ek kom by die huis aan, maar niemand is bly om my te sien nie, almal gaan net hulle gewone gang. Ontsteld ruk ek wakker en vertel Samora van my droom. Hy grinnik. “Draai dit om Johnny, jou mense sal baie bly wees om jou te sien,” lê hy my droom uit. Ek kry kans om hom te bedank vir my waardevolle geskenk.

Die nuwe dag breek aan en ons groepie beweeg sonder die rekrute koes-koes verder en kom tot stilstand in ʼn beboste omgewing waar ons weereens beveel word om buite sig onder die bome te bly. Hier is groot fout. Toe die bevel kom om aan te beweeg, verander ons weer van rigting, hardloop ʼn ent verder voordat ons weer onder ʼn bos moet skuil, hierdie keer ʼn doringbos. Die doring steek en krap maar ons moet dieper inkruip en daar sit ons tot die volgende oggend.

Vroeg-vroeg draf ons verder en verander kort-kort van rigting totdat ons weer skui-ing moet soek.

“Vader behoed ons,” bid ek en verskuif van posisie.

“Don’t move! Not a sound!” fluister een van die wagte.

Ek gehoorsaam en lê doodstil, gelukkig nie vir lank nie. Ons vlugtog lei na ʼn plek waar dik teerpale plek-plek oorkruis gepak is. Die stank van menslike ontlasting hang in die lug. Ons loop naby een teerpaalstapel verby en word begroet deur ʼn reuk wat my asem weg-slaan. Ek gaan nader om te kyk wat die bron van die onwelriekende reuk is en steier terug. Die teerpale bedek gate wat meer as twee meter diep is en uit die dieptes staar lewelose oë uit verhongerde gesigte na bo, hoofde bedek met vuil gekoekte hare – lewende dooies, nes die Jode in Auschwitz! Daar is baie mense in een gat, Here, wat gaan hier aan? Tot watter soort wreedhede is die mensdom in staat? Watter tipe oortreding regverdig dié soort vergelding? Wat doen mense aan me-kaar? Waarvoor? Dis om van te braak. Trane stroom teen my wange af. Ek vee my neus met die agterkant van my hand af. Selfs Samora draai sy kop weg en hou sy maag vas. Ek hurk, maar Samora pluk my regop. Het die leier ons doelbewus by hierdie ‘hell hole’ verby gelei? Ek ruk los uit Samora se greep. Die pale moet af, die mense moet hier uit! Samora gryp my weer aan die arm en sleep my weg van die verskrikking, weg van die menslike afval!

Later vertel die leier hulle is Rhodesiërs wat weier om deel te hê aan die oorlog, wat nie wil saamwerk nie, wat die vegters glo verraai het. Hulle was eers in hutte aangehou maar het glo uitgebreek en pro-beer ontsnap, nou is hulle in die gate. Die nagmerrie gesig bly my dae lank by en ek bid vir al die slagoffers van hierdie oorlog.

Ons vlug, kruip weg en wag. Ek raak sittend onder die bosse aan die slaap en droom van water so helder dat ek die klippe duidelik op die bodem kan sien. Ek word wakker geruk.

”Get down,” fluister die leier, ek sak laer af en lê doodstil.

Ek was nog besig om te wonder hoe die leier weet waar die gevaar is terwyl ek dan niks sien nie of hoe hy weet wanneer dit veilig is om aan te beweeg, toe ons weer opgejaag word vir die volgende skof. Ons draf en verander gedurig van koers, skuil, wag. Doodmoeg sluimer ek weer in en droom van skape wat in groen lande wei. Ek hardloop saam met my broer, Peet, agter hulle aan.

Samora skud my wakker en vra. “What are you muttering in your sleep, Johnny?”

Ek vertel hom van my drome. “I must dream these things because I am thirsty and hungry,” sluit ek af.

“You will be okay Johnny. Clean water and green grass mean life. If the water was dirty and the gras brown, we would have had trouble, believe me,” voeg hy by.

Onwillekeurig dink ek aan Josef wat die drome vir die koning uitgelê het. ʼn Mens gryp voorwaar na elke strooihalm as jy in so ʼn spanningsvolle situasie is, solank dit hoop bring.

“Ja,” beaam Samora, “dit beteken new life!” verduidelik hy so tweetalig.

“Lets go!” kom die bevel en ons begin weer draf.

Ons roete lei oor ʼn heuwel en eindig by ʼn stat. Onmiddellik word ek na ʼn hut bege-lei. Dis donker en bedompig binne, maar ek kan uiteindelik van my voete af kom.

Ons oornag ʼn paar dae in die stat, eet saam met die inwoners en pak die terugtog na die klipplaat aan toe die leier dit veilig ag.

ʼn BESOEK VAN MUGABE

Vroeg een oggend in Julie word ek aangesê om uit die tent te kom. Verbaas staar ek na my besoeker. Dis Robert Mugabe in lewende lywe! By hom is sy adjunk-minister Muzenda en Tongogara.

Ek kry ʼn wilde impuls om te buig maar bedwing myself betyds. Hulle groet en word voorgestel asof ek nie weet wie hulle is nie. Waaraan sou ek die eer te danke hê? Ek wag nie lank vir ʼn antwoord nie. Dis weer vraag na vraag waarop ek al in my slaap kan antwoord.

Mugabe beëindig die vraery met dít wat vir almal behalwe vir my ʼn raaisel is: “Who are you then?” Hy vryf nadenkend oor sy ken. “If you are not that importent, why is the whole Smith army after you?” Hy klink gefrustreerd. Hulle moes seker my antwoorde op die ondervraery goed bestudeer het en niks het sedertdien verander nie.

“I am a simple farmer who loves his country and God is my witness.” Ek kyk hom vas in die oë, “That, sir, is the truth.”

“Well,” stuur hy die gesprek in ʼn ander rigting, “I learned you also love sadza.”

“I grew up in the depression, putu was our staple,” verseker ek hom.

“Johannes, the trap device was a brilliant plan. Dassie meat can be tasteful if you have nothing else to eat,” neem Tongogara deel aan die gesprek.

Dis opvallend dat ek dopgehou word. Hy onthou die komberse wat hy belowe het en vra of ek dit gekry het.

“Nee,” antwoord ek. Hy reël dadelik vir my ʼn jas vir my en die be-vel word uitgevoer onder sy toesig.

“No, Johannes, you’re all right, we don’t have any problems with you. Our main concern is to keep you alive and see to it that your own people don’t kill you.” Tongogara sug. “I wish all of them were like you!” Ek wonder wie die ‘them’ is, maar vra nie.

Ek sal maar nie my mening oor die ontvoering lug nie. Oor die gedrag van die rekrute as die leier nie by is nie, sê ek niks, want ek weet hulle sal dit ontgeld en my rêrig iets ‘per ongeluk’ aan doen. So bedank ek hulle maar net vir die goeie behandeling.

Die jas is groot en oud maar van goeie kwaliteit, afkomstig uit Skotland. Die vegters ontvang skenkings van oral oor. Oor die jas is ek natuurlik baie dankbaar. Die wagte kan nie onder die jas inkruip wan-neer ek slaap nie. Die jas bevry my van die luisplaag en die goed wat saans uit die grond kom, vreet net vir hulle op.

Ek kry twee komberse ook, maar dit is die jas wat my teen die koue beskerm. Die sakke kom handig te pas. Ek bou vir my nood-voorrade op as ons twee blikkies kry gaan een sak toe. ʼn Halwe blikkie boontjies of sardientjies saam met my pap is voldoende. Dis koud genoeg dat die orige helfte nie sleg word in die oop blikkie nie, wat ek dan die volgende dag eet. Die jas se groot sakke word my ‘spens’ waarin ek kos berg vir as ons weer moet vlug.

NOG ʼn ONTVOERDE

Een middag, teen die middel Augustes, kom ek en Samora van ons middagstappie af terug en vind ʼn vreemde jongman wat voor die tent sit. Ek is verheug om in ʼn wit gesig vas te kyk.

“Hannes Maartens,” groet ek bly.

“John Kennerley,” mompel hy bot.

“John Kennerley?” roep ek verbaas uit. “Ons het gehoor van jou

ontvoering en ge-wonder wat van jou geword het?” Nou sit ons twee in

dieselfde bootjie.

Die jongman lyk sleg. Hy is ʼn paar maande voor my ontvoer. Ek het so jammer gevoel vir sy ouers. Die jongman is bleek en maer en heeltemal apaties. Wat het hulle met die arme man aangevang?

Samora vertel my dat hy ʼn paar maal probeer ontsnap het. Nou mag hy net in die tent bly onder streng bewaking. As jy eers een maal probeer ontsnap het vertrou hulle jou nie weer nie.

Die eerste paar dae sit die jongman net. Hy het ’n klein radiotjie en ek vra hom of ek die nuus saam met hom kan luister, hy skuif die radio nader en kyk benoud na die deur. Sou hy bang wees hulle vat dit af? Maar hy moet tog teen die tyd weet as hulle hom tot nou toe toege-laat het, hulle dit nie nou sal vat nie. Ons luister net nuus en die tien uur vervolgverhaal soos twee huisvrouens.

Mettertyd laat hulle hom toe om saam met my buite te kom sit. Ek probeer hom opbeur en gesels met hom, al praat hy nie terug nie. “Ons sal hierdeur kom, ou seun, ons moet net vertrou,” bemoedig ek hom.

Hy kyk my skeef aan asof ek van my lotjie getik is. Dis vir my duidelik hy het sy vertroue in die mensdom en sy geloof in God verloor. Al wat ek nou kan doen is om vir hom te bid en vir die Vader te vra om die seer in sy siel te genees. Hy moes deur ʼn moeilike tyd gegaan het.

Ek gesels met hom oor ditjies en datjies en stadig maar seker lig sy gemoed. Hy eet beter, praat soms, maar bly dadelik stil as hy ʼn wag sien naderkom. Ek stel voor ons sit die battery in die son om dit so lank moontlik te kan gebruik. Hy antwoord nie en ek los hom.

Later kry hy toestemming om saam met ons te stap, natuurlik onder streng bewaking. Die ses wagte irriteer my want ek het gewoond geraak aan net Samora saam met my. Ek moedig hom aan om deel te neem aan die oefeninge. Hy erken naderhand self dis ʼn goeie idee, ʼn hoogtepunt. Stadig maar seker begin hy ontspan.

JOHN SE STORIE

Op een van ons wandelinge vertel ek hom wat ek in die koerant gelees het oor sy ontvoering en voeg by, sy ouers moes seker rasend wees, want dis nou al ʼn paar maande.

Soos ʼn damwal wat breek trek die jong Kennerley weg:

“Ek is die jongste van vier kinders en was nie lus om verder te gaan studeer nie. Ek het by ʼn drukkery in Salisbury werk gekry en wou my vakmanskap daar voltooi.” Hy kyk ʼn slag rond voor hy voort gaan. Die wagte is een links een regs en die res volg ons in gelid.

“Ek het na my ouers verlang en wou die naweek gaan kuier. Daar het egter iets skeef-geloop en ek het my saamrygeleentheid verpas. Dan maar ryloop, besluit ek toe. Dit sou nie die eerste keer wees nie.

“Dit was ook nie lank nie of ʼn swartman met ʼn trok stop en bied my ʼn geleentheid aan. Wel dit was nie vreemd nie, wit en swart het goed klaar gekom..” Hy bly ʼn hele ruk stil.

Ek bedwing myself om nie die stilte te verbreek nie en wag en vir hom om verder te vertel.

“Ons het al ʼn hele end gery toe ons probleme met die trok optel,” gaan hy voort. “Ek was besig om my weldoener te help toe ʼn kar by ons stop en my ʼn geleentheid aanbied, wat ek van die hand wys.” Hy gee ʼn diep sug. “As ek toe geweet het, as ek tog maar geweet het!” Weer volg ʼn lang stilte.

“Na ʼn groot gesukkel, het ons die trok weer aan die loop gekry. Ons het al geselsend tussen Bulawayo en Beitbrug gery, toe ʼn klomp terroriste uit die bosse voor ons in die pad gespring het…”

“Luister seun,” val ek hom in die rede. “Los maar die woord ‘terroriste’ uit, hulle hou niks daarvan nie,” fluister ek sag en is amper bang hy gaan ophou vertel. Hy kyk rond, sien die wagte steur hulle nie aan ons geselsery nie, snork ʼn slag en gaan dan voort.

“Hulle beveel my toe om uit te klim en die drywer word aangesê as hy weet wat goed is vir hom, hy sal stilbly en ry. Hulle was tot die tande gewapen en jy dink nie eers aan stry nie.” ʼn Diep sug ontsnap sy lippe en hy staar die niet in, verlore in sy eie gedagtes. Die maande se ont-berings het beslis ʼn letsel gelaat.

“Ja, ek het nogal dieselfde beleef,” probeer ek die gesprek weer aan die gang kry.

“Ons het geloop en geloop en geloop,” mymer hy. “Later het hulle van die rekrute gestuur om vir ons kos te gaan haal en my met net een wag gelos. Die wag was uitgeput en het aan die slaap geraak. Dis toe dat ek ʼn kans gevat en weggesluip het.” Ingedagte raak hy weer stil. Toe ons terugdraai tent toe, vertel hy verder.

“Ek het gehardloop deur digte bosse, my klere geskeur, my arms en bene gekrap, die bloed het geloop. Oor hoeveel stompe ek geval het, of hoe lank ek gehardloop het, kan ek nie onthou nie.” Stilte, net die geritsel van die wind deur die blare en die gekwetter van voëls en die gesprek tussen die wagte. Sou hy die hele episode herleef?

“Ek was moeg en dors en so dankbaar toe ek ʼn stat voor my sien. Ek het nader gegaan vir water gevra. Hulle was verbaas dat ek Shona magtig is en het my goed behandel. Hulle het vir my water en ʼn vetkoek gebring en beduie watter kant toe die grootpad is. Ek het die water afge-sluk, my gesig afgespoel die vetkoek geëet en rigting gekry grootpad toe.” Hy ril en gaan voort. “Ek was skaars daar weg of ek loop my weer vas teen ʼn klomp gewere. Dit was nie dieselfde groep wat my gevang het nie. Later is ek weer aan die eerste groep oorhandig. Hulle was woedend! Een het my geslaan, geskop en mooi laat verstaan, as ek dit weer probeer hulle my net daar sal vrek skiet.

“Die stat se mense moes glo aan die naaste vryheidsvegters rapporteer oor enige verdagte of vreemde persoon – dis hoe hulle van my geweet het. Hulle het my streng bewaak en rondgejaag soos ʼn dier en kort-kort gedreig om die sneller te trek!” ʼn Rilling gaan weer deur sy lyf.

By die kamp gekom neem hy ʼn diep teug water en sak ingedagte neer.

“Ek het die dood soveel maal in die gesig gestaar. Ek kon geen genade van hulle verwag nie en van toe af was ek nooit sonder ten minste ses wagte nie.” Hy sit met sy arms oor sy knieë en staar voor hom uit.

ʼn BRIEF VAN DIE HUIS AF

Tongogara en sy geselskap daag weer by ons op en verneem na ons welstand. Tevrede dat albei van ons wel is, merk hy teenoor John op: “Young man, you look much better. I see Johannes talked some sense into you.” Hy draai na my toe. “Johannes, here is a letter from your wife…”

Hy kom nie verder nie. Ek spring op, oorstelp van vreugde! Om na soveel lange maande iets van my Rooikop af te hoor! Sy weet ek lewe nog!

“Calm down man, remember your hart,” maan Tongogara toe hy sien hoe opgewonde ek is. “You can’t read it, though, but she wrote that everything is fine at home and on the farm. Who is your doctor?”

“Doctor Brander,” ek kry dit amper nie verby die knop in my keel nie.

“Yes,” sȇ hy, “he also sent us a list of your medication.”

Geen belofte dat ek dit sal kry nie. My mense weet ek leef! Om weer van die huis te hoor na al die maande, dryf my na trane en ek wil alleen wees.

“Dankie Here, dankie,” onbeskaamd loop die trane oor my wange.

Ek asem diep teue lug in om my gevoelens onder beheer te kry en draai na John en poog om hom moed in te praat. “Volgende keer is dit jou beurt om iets van die huis af te hoor.”

“Wat weet jy, man?” val hy onbeskof weg. “Môre maak die spul ons vrek! Ek het al hoeveel maal vir my ma-hulle geskryf, en nog nooit iets van hulle gehoor nie! Dis tydmors! Hulle hou ʼn mens net vir die gek en kry lekker daaroor!” snou hy.

Hy lyk ontsteld en ek probeer nie eers met hom stry nie. Ek het sy nukke al leer ken en aanvaar. Na so ʼn uitbarsting onttrek hy hom ge-woonlik en ek laat hom begaan. Ek sal later weer probeer, hom sover kry om te ontlaai.

Nodeloos om te sȇ, ek het nooit die medikasie gekry nie. Maar wat ons wel gekry het was blikbekers en van tyd tot tyd, ʼn pakkie suiker, koekies en teeblare.

 

JOHN SE STORIE VERVOLG

Een môre nooi ek John weer om saam met my te gaan stap. Die wagte is steeds op hulle pos. Op ons wandeltog bars hy weer uit:

“Hulle het vir meer as ʼn maand rondgetrek met my, my laat loop tot ek nie meer kon nie; my in hutte gedruk, in gate! Man, jy wil nie weet nie. Hulle het daarop aangedring dat ek ʼn soldaat is en niks wat ek gesȇ het, kon hulle anders oortuig nie. Ek het pas die skool verlaat en het in die drukkery gewerk.” Ons stap ʼn hele ruk voordat hy verder vertel.

“Een van die bevelvoerders het my toe aangeraai om liewers te erken ek is ʼn soldaat, dis nou as ek sou weet wat goed is vir my. Moeg vir hulle gekarring, het ek toe maar erken ek is een. Niks het daarna verander nie, so waarvoor ek nou moes lieg weet ek tot vandag toe nie.”

Hy stap nou so driftig dat ek rem moet aandraai.

“Stadig jong, netnou dink hulle ons wil ontsnap,” waarsku ek.

“Ek het ʼn paar maal probeer,” erken hy, “maar soos jy sien is hulle nou op hulle hoede!” Hy is reg! Met die ses wagte om ons met oorge-haalde gewere is daar nie ʼn kat se kans op ontsnapping nie!

Ons twee word vriende. Hy begin my Oupa noem. Vir my is hy ʼn seën uit die hemel. Sy teenwoordigheid verdryf die knaende gevoel van alleenheid.

Ek kon nooit uitvind wanneer Jean die brief geskryf het nie. Ekself word nie toegelaat om te skryf nie, maar is bly vir Kennerly se onthalwe, hulle laat hom toe om te skryf. Ek dink hulle probeer op dié wyse meer oor hom uitvind. Hulle moes uit sy skrywe agtergekom het hy is toe nie ʼn soldaat nie, anders sou hy dit moeiliker gehad het.

RADIOSTORIES, KOEËLS EN BLIKKIESVIS

Die Vrydagaand kry ons nie waswater soos gewoonlik nie. Hulle is be-sig om die hoofkamp te verskuif, want die rivier is glo besig om op te droog. Saterdagmiddag vat hulle ons tog rivier toe. Daar is oorgenoeg water. Hier is iets anders aan die gang.

“John,” fluister ek, “wat wed ek jou hier’s van ons troepe in die omtrek. Hierdie mense weet altyd ʼn dag of twee voor die tyd presies waar die troepe gaan wees. Water is nie die rede vir die trekkery nie. Ons moet op ons hoede wees. Ek vertrou die vrede glad nie”

Dis Sondagmôre, die dertigste Julie. Ek verjaar môre en ek dink met heimwee hoe daar van elke verjaarsdag ʼn bohaai gemaak word. George verjaar die vyfde Augustus en Pop die negende. Ons het soms ons aldrie se verjaardae saam gevier. Die verlange na my Rooikop en familie is intens.

Ingedagte stap ek na die klip waarop John sit en luister saam met hom die halftien vervolgverhaal oor radio Rhodesië. Ek het nou al ge-woond geraak daaraan om saam met hom te luister. Ek was verbaas oor die radio in sy besit en die battery wat so lank hou. John verduidelik dis sy eie radio wat eers afgeneem is en later aan hom terugbesorg is vir sy volgehoue goeie gedrag. Iets waaroor hy steeds verstom is. Hy het op pad huis toe, die langlewe battery in die radiotjie gesit. Ons twee hoop saam die battery sal nog ‘lank lewe.’ Anders sal die son maar moet help.

Na die storie stap ek eenkant toe om te gaan bid, maar die wag keer my, “Where are you going?”

“I just want to go aside and pray,” antwoord ek

“Stay where you are,” beveel hy. Ek sak neer op die klip wat as my stoel dien. In my geestesoog sien ek Jean, Ria en Tertia in die kerk sit en tree vir hulle in, “laat hul vrede ervaar en al hulle bekommernisse op U werp Vader.”

Die geluid van vliegtuie onderbreek my gebed. Die volgende oomblik duik die eerste van vier vliegtuie op ons af. Ons duik soos een man van die klippe af en ‘leopardcrawl’ agter groter klippe in en maak onsself so klein as moontlik, om die waarheid te sȇ, ek het nie geweet mens kan so een word met die aarde nie. Nog vliegtuie duik op die klipplaat af, skote skop stofwolkies om ons op, vonke spat soos van die koeëls die klippe tref. Ons seil van die een klip na die ander. Genadiglik word nie een van ons getref nie. Wat soos ʼn ewigheid voel, het net ʼn paar sekondes geduur.

“John!” skree ek bo die gedreun van die vliegtuie uit, “Is jy okay?”

Arms beskermend oor sy kop lê hy plat op die grond. “Is hulle weg?” Vrees slaan deur in die jongman se stem.

Ons wagte het in al die rigtings gespaander. Net so skielik as wat die vliegtuie gekom het, is hulle weer weg. Sal hulle terugkom?

“Where are you!” roep een van die bevelvoerders.

“Over here!” skree ek terug.

“This is war! You must cooperate and do what you are told!” beveel hy.

Die wagte is terug, gewere gelaai. “Let’s go!”

“Can I fetch my coat?” My versoek word toegestaan met ʼn “Make it quick!”

Ons draf rivierlangs weg van die kamp af waar vrouens rond-skarrel. Swaar gewapende rekrute draf voor en ons en die wagte agter-na, dieper die kloof in. Ons word dieper in die kloof versteek. Die rekrute beweeg aan. Later die middag sluit Tongogara en vier ander mans by ons aan. Hy lyk sowaar bly om my te sien.

“Johannes! You had me worried. I thought the Smith-boys have killed you. I am really glad that you are safe. The whole world knows that you are my prisoner and that you are well. If the Smith-boys have killed you today, nobody would believe that it was not my doing.” Hy vee die sweet met sy hempsmou af.

Hy lyk moeg. Ons magte keer nie terug nie en ons kans op red-ding is daarmee heen. Tongogara-hulle het blykbaar twee dae en nagte geveg en gevlug met niks om te eet of te drink nie, verneem ek. Ek het ʼn paar blikkies vis en ʼn bottel water in my jassakke en bied dit vir hulle aan. Eers weier hy en sȇ hulle mag dit nie doen nie, maar ek dring daar-op aan en gee hom die houtlepel wat hulle vir my gesny het. Honger wen die woordgeveg. Die verbaasde gesigte is in my geheue geëts.

Kennerley reageer afkeurend. “Nou voer jy hulle wragtig en môre skiet hulle ons vrek!” sis hy.

Tongogara vee my lepel af en skud net sy kop.

“Sorry Johannes, you will have to wash this when we get some water. Thank you! This, I won’t forget.” Ek merk, hy gee vir elkeen van die manne by hom eers ʼn slukkie of twee water voordat hyself drink.

Lank staar hy na my, skud net sy kop, groet en vertrek. Dit het my goed laat voel om iemand te help. “Werp jou brood uit op die water, want na verloop van baie dae sal jy dit vind,” kom die woorde uit Prediker by my op en ek vertrou God sal Sy woord gestand doen.

MILDADIG BELOON

Na die aanval, slaan ons kamp op naby die rivier. Dis nou nie net ons en die wagte nie, binne sig is ook vegters, rekrute en vrouens. Van die vroue kom met bondels latte en gras na ons nuwe terrein. Ek hou hulle dop terwyl hulle ʼn koepelvormige raamwerk van die latte maak en stelselmatig van onder af met gras bedek. Hulle handewerk word afge-rond deur ʼn grasmat voor die opening, wat hulle vir die deur gelaat het, te hang. Ons het nou ʼn grashut, grasmatjies en kos genoeg vir almal. Samora laat ons goed verstaan dis ons tuiste vir ʼn lang tyd. Die hoop op ʼn vroeë vrylating vervaag.

ʼn Paar dae later, bring ʼn vegter vir my ʼn hele kas blikkiesvis en ʼn paar pakkies koekies. Die man wat dit bring sȇ Tongogara stuur dit omdat ek my kos met hulle gedeel het toe hulle honger was.

“Sien jy wat die Here kan doen, John? Nou kry ek twaalf blikkies vis en koekies vir die paar wat ek opgeoffer het. Die Here is getrou, ons sàl hier uitkom!” In my hart loof ek die Here vir die demonstrasieles vir John oor Sy getrouheid en vir myself klink die gedagte uit Habakuk op: al sou die Here my nie beloon het vir die weldaad nie, sal ek steeds jubel in Hom, sal ek juig in die God van my heil.

NOG ʼn ONTVOERDE

As ek so vir Kennerly kyk is ek bly dat ons nie ʼn spieël het nie, hy lyk woes en ek seker niks beter nie. Ons word nie meer toegelaat om te gaan stap nie. Ek kry darem toestemming om in ʼn klein sirkeltjie voor die hut te loop en gryp dit met albei hande aan. Ek moet my bloeds-omloop aan die gang hou anders kan ek groot moeilikheid optel met my hart.

Na die aanval is John terug in sy dop. Niks wat ek doen kry hom aan die gesels nie en ek besluit om hom vir eers uit te los. Ek dink ons twee het ewe groot geskrik.

Daar moet nog van ons troepe in die omtrek wees. Die adrenalien belaaide jong vegters is gespanne, met gewere byderhand reg vir aksie. Kan ek dalk ʼn boodskap deurkry? Maar wat sal so ʼn boodskap behels? “Johannes Maartens en John Kennerley leef nog. Kom haal ons hier langs die rivier”. Ons word omring deur tienervegters wat ʼn rede soek vir aksie. Ek sal hulle liewer nie toets nie. Hoe kry ek in elk geval so ʼn boodskap by ons troepe?

Oor die radio word die tienuur storie onderbreek: “Thomas Wigglesworth of the farm Penhalonga was kidnapped from his farm!” Hy was glo ʼn majoor in die weermag.

Dit word nou vir my duidelik! Met elke aanval van ons magte, ont-voer die vegters ʼn boer! Ons wonder nog daaroor toe ʼn selfvoldane bevelvoerder by ons aansluit en smalend aankondig:

“They must know: if they hurt us, we will retaliate time and again!”

Die aanval was glo al die dertigste Julie, so die ontvoering het kort daarna plaas gevind. Dis amper einde Augustus. As die bevelvoerder by die majoor se ontvoering betrokke was en hulle dieselfde roete as met my gevolg het, het hulle gewikkel. Ek probeer die logistieke uitwerk maar kry nie ʼn helder prentjie nie.

Wanneer gaan die oorlog tog end kry? Niemand kan wen nie. Die land word net verwoes! Met heimwee dink ek aan my plaas, die afri-kaners wat markgereed was, die Friese met vol uiers. Word hulle ooit nog gemelk?

“Ag Here, in watter hartseer gemors het hierdie land verval!” Ek laat sak my kop.

Teen die einde van Augustus, getrou aan sy aard en nie ʼn geheim kan hou nie, kom vertel Samora my die majoor word ʼn klipgooi van ons af aangehou.

Samora sȇ nie hoekom nie, maar skielik wil hy ʼn bietjie tee en suiker leen. Sou dit vir die majoor wees? Met ʼn draai vind John uit dit is wel so en los ʼn boodskap in die suiker vir die majoor, ons weet van hom, maar mag hom nie kontak nie.

Ons sien hom soms op ʼn afstand wanneer ons gelyktydig in die stroompie gaan was, en erken mekaar se teenwoordigheid met ʼn onderlangse wuif.

BUITE SIG VAN ONS TROEPE

Dis ʼn maand na die aanval, einde Augustes. September het aange-breek. Almal is nog op hulle hoede. Ons word inderhaas weer onder die bosse versteek. Wat is dit hierdie keer? Rekrute en vrouens vlug in ver-skillende rigtings en soek skuiling buite die kamp.

“Hier’s troepe in die omgewing of hulle verwag weer ʼn lugaanval,” fluister ek in John se rigting. “Ek probeer nog altyd agterkom hoe hulle voor die tyd van die aanvalle te wete kom. Nog nie eenmaal sedert my ontvoering het ons troepe hulle verras nie.”

My woorde was skaars koud of ek hoor die dreuning van vliegtuie. Ons krimp ineen onder die bosse. Waar sou Thomas wees? Ek hoop van harte hy is veilig. Ons wagte lê versteek onder die bosse, hulle geweerlope op ons gerig. Ons troepe sal ons nie kan onderskei tussen die vegters nie. Om ʼn kans te waag is so goed as ʼn doodsvonnis. Die rekrute is ‘trigger happy’, hulle sal nie skroom om te skiet nie. Skote klap. Die kamp word plat geskiet.

“Come on, move!” beveel een gedemp met die geweerloop in John se rug. Ons kruip ʼn paar treë verder onder ʼn ander bos in.

“Get down!”

Ek kan sweer ek hoor iemand na ons roep. Is daar troepe op die grond? Met die geweer op my gerig, bly ek doodstil. Wat sal gebeur as hulle ons wel opspoor? Ek hou my asem op, spits my ore. My gevoel-ens wissel tussen opwinding en angs en die sweet tap my af. Die ge-roep moes ʼn illusie gewees het, gebore uit my desperaatheid.

Ek dink aan ʼn gesprek wat ek met ʼn offisier gehad het. Hy het my verseker die betrokkenes word eers kort voor ʼn operasie daaroor inge-lig. Kan daar spioene onder die beplanners wees? Die paraatheid van die vegters maak dit ʼn sterk moontlikheid.

Dis onheilspellend stil, nie eens ʼn voëlgeluid na die geknetter van die grofgeskut nie. Ons word beveel om te begin stap. Ons roete bring ons weer by die rivier uit. Ons hut is vol gate geskiet, maar staan nog. Ek gaan sit op ʼn klip, dankbaar ons het dit oorleef. Die aanval was fel.

VISCOUNT AFGESKIET

Vir ʼn dag of twee word ons ingeperk – geen uitstappies rivier toe nie, waswater word aangedra. Die derde dag vra Samora weer suiker. John sit ʼn briefie in die suiker waarin hy na Thomas se welstand verneem.

Tongogara besoek ons en bevestig dat die voetsoldate na ons geroep het, maar die vegters het hulle afgeweer — nog ʼn mislukte bevrydingspoging. Die Chinese en Russe het hierdie mense goed opgelei.

Vele kere het ek en Tongogara geredeneer oor die prys wat in die toekoms betaal sal word vir hierdie buitelandse hulp: die land se mine-rale rykdom. Tongogara voer aan hulle is nie kommuniste nie en sal nie die een juk vir die ander verruil nie, maar hulle moet hulp vat waar hulle dit kan kry.

“They will come back for there pound of flesh, mark my words,” het ek ʼn laaste woord ingekry en nie verder gekarring nie. Hy is goeie geselskap en ek wil hom nie die harnas injaag nie.

Daardie aand hoor ek en John oor die nuus, ʼn Viscount is op 3 September afgeskiet en die oorlewendes wreed vermoor. Nkomo, leier van die Zimbabwe People’s Revolutionary Army (ZIPRA) het daarop aanspraak gemaak dis hulle handewerk en is gedoen omdat die vliegtuig vir militêre doeleindes gebruik word. Die ZANLA’s is be-kommerd dit gaan die samesprekings tussen Engeland en die ver-skillende partye in Rhodesië belemmer.

Naar van skok gaan ek eenkant sit en bid ernstig vir ons veiligheid wat die heeltyd in die weegskaal is.

RONDOMTALIE DEUR DIE BOSSE

Nie lank daarna nie kom lig Samora ons in om te ontruim en so begin twee weke se meedoénlose gejaag deur die bosse tot middel September.Ons word op die eerste skof lank en vêr gedryf sodat ons aan die einde van die dag moeg en seer op ʼn oopgegooide tent neerval en slaap voordat dit opgeslaan kon word. Dit voel of ons skaars gelê het toe ons opgejaag word om verder te gaan.

So gaan dit vir dae. My gehawende voete wil nie meer nie en John se voete is ook gaar. Ons word nou weer omring deur groepe majibas maar bly steeds onder die bewaking van die vryheidsvegters en natuurlik Samora wat hom in ons lewens tuisgemaak het. Ons hoor daar het nog ʼn witman bygekom, ons sien hom nie en ook nie Thomas nie.

Die majibas bly om ons draai. Hulle beweeg in groepe nooit ver van die koppie af waar ons nou is nie. Die rede vir hulle teenwoor-digheid word later duidelik: die kosvoorrade word by hierdie koppie gestoor.

Dag en nag word ons voortgedryf. Ons skuil in ruigtes, hardloop deur bosse, word deur takke gekrap, ons klere raak verflenter. Die erg-ste is die koue slapelose nagte. Dood-moeg sluimer ek elke kans wat ek kry in, of dit nou op die harde grond of teen ʼn growwe boomstam is, maak nie meer saak nie. Ek bid sonder ophou vir krag om by te hou by die jong manne. Dit raak weer ’n tydlose, rigtinglose gejaag.

Die uitmergelende vlugtog eindig jou werklik waar na twee weke, terug op die klipplaat! En daar staan twee tente opgeslaan! Ek wil soos ʼn kind huil van verligting! Ons het uiteindelik weer ‘tuis’ gekom! Met moeite onderdruk ek die snik wat diep uit my binneste na bo beur. Moeg en seer val ek neer en slaap op die harde klip asof dit ʼn verebed is. Dis einde September 1978, meer as vier maande sedert ek vir die eerste keer in ʼn AK-47 vasgekyk het.

VERRASSENDE UITSTAPPIE

Die volgende oggend maak Samora ons wakker.

“Come let’s go for a walk,” beveel hy.

“Really?” kan ek nie help om te reageer nie, maar kom tog met moeite orent in weer-wil van my protesterende seer lyf.

Kennerly rebelleer. Hy is te moeg. Samora is onverbiddelik.

“The sun is shining and you are still alive, move it!”

Ek bly stil en konsentreer om regop te bly. Kennerly gehoorsaam brommend. Ons loop in die rigting vanwaar Thomas altyd waai en ek kyk Samora vraend aan.

“Come, meet your neighbours,” sȇ hy droog.

Daar aangekom, ontmoet ons ʼn paar manne onder leiding van Emmerson Mnangagwa, wat later minister van lande geword het. Met hulle het ek vrede, my fokus is op ons mede-ontvoerdes.

Die nuweling onder ons is Jim Black. Ons gedeelde swaarkry gooi alle formaliteite oorboord en ons groet mekaar spontaan met ʼn beer-druk, trane rol vrylik. Ons leef almal nog! Ons is nie alleen nie!

Mnangagwa bekyk die gegroetery en gooi koue water op ons oomblik van kame-raderie, “If the Smith-boys continue with their air attacks, your chances to be released are becoming slimmer by the day!”

Daar word foto’s van ons geneem, glo as bewys dat ons die aanval oorleef het, beslis nie vir die familiealbum nie. Ons is bebaard, maer en in vodde geklee, ons lyk pateties. Nogtans vra ek of ons ʼn af-drukke kan kry en Mnangagwa belowe hy sal toesien dat ons afdrukke kry.

Mnangagwa en sy manne verlaat die geselskap en laat ons in die sorg van ons wagte wat ons laat begaan en ons op ʼn afstand bewaak. Ek vra Thomas uit oor sy ontvoering en dit sit ʼn gesprek aan die gang waarin ons ons beproewinge met mekaar deel. Jim kook water op die wagte se vuurtjie in ʼn geduikte swartverbrande alluminium kastrol en maak tee wat ons uit blikkies drink. Thomas deel vir ons van sy koekies uit, en so vier ons ons ontmoeting op die klipplaat en luister na mekaar se ervarings.

Toe ek hoor hoe elk van hierdie manne se ontsnappogings tot ergelike vergelding gelei het, is ek bly ek het nie probeer ontsnap het nie, maar op die Here vertrou het. Ek sou die behandeling wat hulle moes verduur het, nie oorleef het nie. Sou dit die manier wees waarop sommige ontvoerde boere aan hul einde gekom het?

***

THOMAS SE VERHAAL

Thomas vertel dat hy sy vrou Jennifer, wat baie jonger as hy is, sog-gens vergesel het tot waar sy by die konvooi aangesluit het. Sy het besluit om nog ʼn ruk aan te hou werk in Umtali, terwyl hy aangegaan het met die groenteboerdery.

By die konvooi het hy verneem boere naby hulle is deur die nag aangeval. Hy het dadelik teruggejaag plaas toe en direk by sy werkers aangegaan. Tot sy ontsteltenis was daar nie een nie.

“Ek het my honde dadelik oopgemaak. Hulle het grommend by my verby geblits. Ek het gille agter my gehoor. Toe ek omdraai, het ek in vier oorgehaalde AK-47s vasgekyk en twee vegters wat op die grond lê met die honde wat verwoed op en om hulle te kere gaan. Vegters het agter stapels sakke met groente en uit die lemoenboord gekom, elkeen met ʼn AK-47, en my honde bygekom met geweerkolwe en stewels. Die twee honde was nie opgewasse teen die oormag geweerkolwe se aanslag nie. Hulle het tjankend probeer ontvlug maar is doodgeslaan” Daar is ʼn gepynigde uitdrukking op sy gesig terwyl hy die slagting van sy honde in herinnering roep. Hy vat aan die kant van sy wang waar ʼn duidelik merk sit. “Een van die vegters wat deur die honde bygekom was, het bebloed op my afgestorm en my met ʼn geweerkolf deur die gesig geslaan sodat ek op die grond neergeval het en my bos sleutels uit my hand gevlieg het. Hy het dit dadelik gegryp.” ʼn Diep sug ontsnap sy lippe terwyl hy sy kop heen en weer skud.

“Hulle het my beveel om bome toe te loop. Duisende gedagtes het deur my brein gemaal. Onder die bome is ek deursoek. Tot my ver-basing het hulle die klein rewolwer wat in my beld versteek was, gemis. Ek is beveel om op my rug te lê met my hande onder my kop.

“Een van die manne het wydsbeen oor my kom staan en ʼn bajonet reg oor my linkeroog gehou. Op daardie oomblik kon ek nie ʼn woord uit-kry nie, my stem was weg, ek sou nie eens vir my lewe kon pleit nie. Hulle wou weet waar ek my geld bêre. Toe ek sȇ ek is ʼn arm man en het nie geld nie, was hulle woedend.” Thomas vat eers weer ʼn sluk van sy koue tee.

“Hulle het my teruggevat huis toe. Alles was omgekeer en uitgegooi. Hulle het ons goed in komberse gebondel en weggedra. Tevrede dat hulle alles gevat het wat hulle kon, is ek beveel om te begin stap. Die eerste skof was lank en uitputtend. Toe hulle uiteindelik besluit het om te stop om te eet, het ek moeg langs ʼn denneboom neergesak en in die stilligheid gehoop hulle vergeet van my, tevergeefs! Twee van hulle het langs my kom sit, maar nie te lank nie of ons het weer die pad gevat.” ʼn Hele ruk staar hy in sy koppie.

“Tydens ons opleiding het ons geleer om so gou moontlik te ontsnap. Glo mý, met ʼn oormag moet jy liewer nie probeer nie! Na my eerste poging, het hulle die pistool ontdek. Ek het dit behoorlik ontgeld!” Vir ʼn oomblik lyk dit of hy dit verloor het. “Ek wonder wat de hel ek gedink het, ek met die pistool teen ʼn magdom AK-47s sou kon doen! Hulle het my kaal uitgetrek, my geskop en geslaan. Die een wat my op die plaas deursoek het, het al sy woede op my uitgehaal. Hy het my sonder ophou geskop, geslaan en gespoeg. Ek het net my hande oor my kop gehou en gewag vir die skoot!” Hy sidder.

“You stupid fool! Why are you so stupid? You should have been killed!” boots Thomas die rekruut se woede uitbarsting na.

“Daarna is my hande en voete geboei, my hande agter my rug. Kaal het ek daar gelê onder bewaking van twee wagte, elke deel van my lyf was in pyn.” Hy draai sy kop eenkant toe en sluk, voorkop in pyn saamgetrek.

“Hulle het my aanmekaar uitgevra, maar wou nie glo ek het niks met die weermag uit te waai nie, dat ek afgetree het en met groente boer.” Hy bly vir ʼn  oomblik stil, hervat terwyl hy met sy hande beduie, “Hulle het met hulle eie oë gesien ek boer. Hulle was in die tamatielande, het tamaties geeët en die plante vertrap.”

“Hulle het op ʼn stadium vir my ʼn broek gegee om aan te trek en beveel om langs die hut te gaan sit. Kortstondig was ek ontslae van die boeie, maar voordat ek by die hut uitgeloop het was my hande en voete terug in die boeie. Ek’t uit die hut geskuifel en teen die muur afgesak. Dit het gevoel of my skouer wou afskeur.” Hy wikkel sy skouers. “Ek dog ek kry ʼn hartaanval toe die kleintjies voor my kom paradeer met my medaljes en ook my pa en oupa sʼn, nog van hulle dae in die Engelse Brigades. Die foon wat hulle uit ons huis geruk het, het hulle voor my neergesit, die slinger gedraai en vermakerig vir my gevra of ek met my vrou wou praat.” Die majoor sluk.

“Drink some tea,” moedig Jim hom aan en hy vat ʼn sluk.

“As ek die spul terroriste daai dag kon vermoor, het ek!” sê hy driftig.

“Thomas,” ek tik hom op sy skouer, “praat maar van die vegters, jong, hulle word woedend as ons hulle terroriste noem.” Vir ʼn oomblik lyk dit of ek ʼn mondvol gaan kry oor die vermaning. Hy gaan egter minder driftig voort.

“Toe hulle die naaimasjien, wat ek ʼn maand of drie tevore vir Jennifer gekoop het in ʼn gat gegooi het, het gedink hulle moet my maar skiet en ook begrawe.” Ingedagte vryf hy oor sy polse.

“Ek is nagblind en dit was ʼn stryd om snags deur die bosse te loop. Ons het in sirkels beweeg, weg van die Mosambiekgrens af. Ek het gewonder wat van al die landmyne geword het wat ons magte geplant het om te keer dat hulle maklik heen en weer oor die grens kon kom,” sug hy.

“Op ʼn keer het ons by ʼn troue aangekom. Ek is voor die mense geparadeer, gevloek en geskel, veral deur die een ouman. Die kleintjies het om my gedans en my geskop, die vrouens het gegiggel en luidrugtig kommentaar gelewer.” Hy gee ʼn diep sug. . “Hulle het vir my bier aangebied wat ek geweier het want ek was bang ek sou siek word as ek dit op my leë maag drink. ʼn Ouman het vir my tee aangebied. Daarmee kon ek darem my dors les. Hulle was later almal dronk en het uitbundig gedans. Niemand het hulle aan my gesteur nie en ek het besluit dis nou of nooit! Ek het so onopsigtelik as moontlik opgestaan en om die hoek van die hut geskuif om my net teen ʼn dronk ouman vas te loop. Hy het alarm gemaak en binne sekondes was ek omring deur wagte. My onmiddellike verweer was dat ek ʼn draai wou loop. Hulle het my geglo anders was ek nie nou hier om die storie te vertel nie.” Hy verstil ʼn oomblik en gaan dan voort.

“Die volgende dag het twee bevelvoerders opgedaag en is ek ingelig ek gaan aan die Frelimo’s oorhandig word want ek hou hulle net op.” Hy vryf weer aan die plek op sy gesig.  “So het ʼn tog oor berg en dal begin, deur riviere en bosse tot oor die Mosambiekgrens. Hulle beweeg sonder enige probleme heen en weer oor die grens, vermy landmyne en ons troepe.” Thomas se waarneming bevestig net wat ek reeds weet – dat ons die getalle, paraatheid en intelligensienetwerk van die vryheidsvegters onderskat.

“My tog het in Villa Monica geëindig, waar ek sonder seremonie aan die Frelimo polisie oorhandig is en in ʼn tronk opgesluit is.” Hy ril en sȇ baie sag, “Dit was loutere hel!’’ Hy wring sy hande en kyk af grond toe, vertel gedemp verder, “Die sel was sonder matras of komberse, net kaal sement. Ek het amper gevrek van die koue. Die pap wat julle so eet kon ek nie in my lyf kry nie. Soms was dit net ʼn sny brood en water. Die toilet was ʼn emmer in die hoek, dit het gestink en ek het gebraak tot ek amper ontwater was.” Hy krap aan die merke op sy lyf. “Die onder-vraery het eindeloos aangehou. Hulle wou my eenvoudig nie glo nie.” Hy vat ʼn sluk koue tee.

“Na ʼn week het hulle my met ʼn landrover kom haal en agterop met ʼn kombers toegegooi. Ons het dikwels gestop vir drank of kos. Niemand het ooit agterop gekyk nie. Uiteindelik het ons by Chimoio aangekom en daar het ek Tongogara ontmoet.” Lank staar hy in Rhodesië se rigting.

“Hy het my na ʼn hut gestuur waar ek mediese behandeling ontvang het. Die mediese beampte was geskok oor my beserings en wou weet hoe ek dit opgedoen het. Toe hy hoor hoe die rekruut my onophoudelik geskop en geslaan het, het hy met beslistheid gesê die rekruut moet opgespoor en swaar gestraf word.” ʼn Diep sug ontsnap weer sy lippe.

“Tongogara en Mugabe het my belowe ek kon die Engelse konsulaat kontak en hulle sal Jennifer laat weet ek nog leef. Of hulle haar gekontak het, weet ek nie, maar ek is nie toegelaat om by die konsulaat uit te kom nie. ”

Jim skink die laaste tee uit die kastrol. Ek is verbaas dat hulle ons toelaat om aan te hou gesels. Die gemeensaamheid verdryf die hopeloosheid van ons situasie vir ʼn oomblik en gee my hoop vir die toekoms al weet ons nie wat vir ons voorlê nie.

Ek kyk na Jim wat ingedagte voor hom uitstaar en vra. “En jy my vriend…?”

***

JIM SE VERHAAL

Jim begin vertel, amper asof hy met homself praat.

“Ek het teruggekeer van die buiteland af na ʼn onvergeetlike vakansie en was opgewonde om terug te kom by die werk. Ek het vir die regering gewerk as ʼn bosbouer. Hulle het my voorgelê op pad bosse toe. Daar was skielik baie van hulle in die pad, gewapen. Ek het rem aangeslaan en die bakkie in trurat gesit, maar ek was omring. Golwe van adrenalien het deur my geskokte lyf gepomp. Vreemd genoeg het ek op daardie oomblik gedink dis goed ek het nie ʼn vrou en kinders nie. Ek het altyd gewonder wat word van die mense wat agterbly.” Hy krap aan ʼn merk op sy arm.

“Ek verstaan Shona en het gehoor hoe hulle besluit dat ek na Villa Monica geneem moet word omdat ek dalk sal probeer weghardloop. Met gewere op my gerig is ons daar weg, deur die bosse tot by ʼn jeep. Hulle het my agterop geboender, ʼn kombers oor my gegooi, self agterop gespring en in die proses my byna plat getrap. Ons moes deur die veld gery het want ons het geskud en gestamp dat my binnegoed skoon deurmekaar was.

“Ons is iewers afgelaai en met drie oorgehaalde gewere op my gerig het ek nie ʼn kans gevat nie. Ons is oor ʼn berg, deur ʼn vallei, deur bosse… Julle ken mos die pad.” Hy kyk ons een vir een in die oog.

“By Villa Monica aangekom is ek opgeluit nes jy Thomas, sonder matras, komberse en met die stinkende toilet in die hoek. Die kos was oneetbaar, so vinnig as wat ek dit geëet het, het ek dit uitgebraak! Die ergste was die luise en weeluise, soos julle kan sien is ons opgevreet, dat ons nie ʼn pes opgetel het nie, is ʼn wonder.” Hy is ʼn rukkie stil en hervat dan weer sy vertelling.

“Na ʼn week het hulle my Chimoio toe geneem waar ek vir Thomas ontmoet het. Daar was dit net so erg, maar draaglik omdat ons nou twee was en ʼn kombers gekry het, ʼn onwelriekende dun skans teen die koue!” Vir ʼn oomblik lyk dit of hy weer naar wil word.

“Visblikke en gemufte kos het oral rond gelê, maar die ergste was die onuithoudbare stank uit die latrines wat in die lug gehang het! Thomas het by die offisier gekla oor die haglike toestande sonder enige resultate.

“Baie van die vegters het malaria gekry. Hulle het rondgesit en gelê, hulle koorsige liggame toegedraai in ʼn kombers en is behandel asof hulle griep het. Dié wat gesterf het, is net daar begrawe. Ek het dikwels gewonder of die ouers ooit weet wat van hulle kinders geword het.” Weer swyg hy ʼn lang ruk. “Die lewe het ondraaglik geraak toe Thomas weggeneem is. Maaar voordat ek boedel kon oorgee, is ek hierheen verskuif en was verlig om weer by hom aan te sluit. Ek’t by hom verneem dat hier nog ontvoerdes naby is en dat ons deel in hulle suiker- en teevoorrade.” Hy knik in Samora se rigting. “Emmerson het goedgunstiglik ingestem dat ons julle kon ontmoet,” sluit hy sy vertelling af.

Dit word ʼn dag van ontboeseming. Ons het nie antwoorde oor hoekom ons ontvoer is nie want nie een van ons het iets met die weer-mag te doen nie.

John dra sy klein radio’tjie saam waar hy ookal gaan en toe ons teen vyfuur beveel word om terug te gaan, vra ons of ons die sesuurnuus saam kan luister. Gelukkig is hulle net so nuuskierig soos ons en stem in. En daar sit ons, vier wit Rhodesiërs saamgebondel met ʼn groep vryheidsvegters, almal ewe onwelriekend en luister saam die nuus.

ʼn LIGPUNT

John se radio bly vir ons ʼn lewenslyn na die buitewêreld. Soggens haal ons die bat-terye uit en sit dit in die son om soveel moontlik diens daar-uit te kry. Sover werk dit nog – iets soos die weduwee se kruik. Ons luister net na die halftien storie, die nuus en natuurlik die versoek-program. Ons luister met gespitste ore of ons name op die versoekpro-gram genoem word, net nie John nie. Hieroor was hy van die begin af uitgesproke sinies.

“Ek sê julle, dis tydmors!” Miskien was dit sy manier om teleurstelling te vermy.

So gaan die dae verby, sonder ʼn woord oor ons lot.

WISSELING VAN TOESIG

Samora word weggeneem en daarmee eindig ons relatief vredevolle gevangenisskap. Ons is nou in die hande van onbeskofte rekrute wat beheer neem van ons doen en late. Dit laat my met ʼn warboel van on-sekerheid oor wat hierdie tieners ons kan aandoen. Ek kan net op my knieë gaan en pleit vir ons veiligheid en vir die siele van hierdie jong-mense.

Thomas en Jim het nou van ons radar af verdwyn.

Ons word verskuif na ʼn ander kamp waar die majibas oorneem. Hierdie Mosam-biekse tieners is erger as die rekrute in hulle minag-tende gedrag teenoor ons. Hulle bevelvoerder is ook ʼn tiener en hulle toon geen respek vir hom nie. Ek het rede gehad om onrustig te wees want vir elke geritsel in die gras staan die majibas gereed met hulle AK-47s.

Die aand met ons aankoms in die kamp, beveel hulle ons om langs mekaar te lê. Twee van hulle kom wydsbeen oor ons staan met messe wat hulle dreigend gereed hou. Ek word koud van vrees en bid oop oë:

“Here ek is benoud! U belowe om te antwoord as ons roep en ek roep, Here! By U skuil ek. Ons het net U om aan vas te hou. Hoor my smekinge in hierdie nag, Here, in Jesus se Naam!”

Wonder bo wonder druk die twee majibas hulle messe terug in hulle gordels en staan weg van ons. Hulle beveel ons om te bly lê waar ons is en gooi ons toe met ʼn kombers. Hoekom word ons versteek? Is ons troepe in die omgewing?

Ek luister hoe John sy asem stadig uitblaas. Hy moet net so benoud soos ek wees. “Kalm bly,” fluister ek meer vir myself as vir hom, “ons moet maak soos hulle sȇ.” Ek loer onder die kombers uit. ʼn Paar van hulle staan bo-oor ʼn klein vuurtjie asof hulle dit wil versteek. Twee wagte se gewere is op ons gerig. Die res se aandag is op die bos ge-vestig, gereed vir enige gebeurlikheid. Die wag sien ek het die kombers gelig en sis, “Fique aqui!” Wat dit ook al beteken, dis dreigend genoeg om die kombers weer te laat val.

Ek lê gespanne onder die kombers en probeer uit die geluide om ons agterkom wat aangaan. Ek pleit die bloed van Jesus oor ons. Hy alleen kan ons teen die haatgevulde tieners beskerm. Die minute tik verby en uiteindelik lig die majibas die kombers en beveel ons om aan te beweeg.

ʼn Ent verder span ons in die bosse uit vir die res van die nag. Die tieners maak hulle oral tuis. Wagte word op strategiese punte uitgeplaas. Ek verstaan genoeg van hul gepraat om te besef hulle is paniekerig. Sou dit RENAMO of ons magte wees wat die angstigheid veroorsaak? Wat dit ook al was, die volgende oggend is die gevaar blykbaar weg en ons is terug kamp toe.

HERWAARTS EN DERWAARTS

Ek was nog besig met stiltetyd die oggend van die tiende Oktober toe chaos weer uitbreek! Ons word beveel om inderhaas op te pak, “Seja rápido! Seja rápido! skreeu die tiener op ons. Ons hardloop onder bewaking na die volgende kamp waar ons ZANLA rekrute en vir Thomas en Jim kry. Ons word onseremonieel in die rekrute se sorg gelaat en die majibas vat die pad. Die kamp is klaar opgebreek en ons vier word omring deur rekrute wat ons beveel om te stap. Gewere word in ons rûe gedruk. “Kurumidza!” kom die bevel om ons te haas. Ek probeer my bes om my nie op te werk oor die snuiters se neerhalende gedrag nie.

Ons kom Emmerson teë in ʼn kamp sowat vyf kilometers verder. Hy sȇ dat ons na ʼn beter kamp geneem word. ʼn Jeep kom met ʼn stof-wolk die kamp binnegery en hou by Emmerson stil. Ons word beveel om agterop te klim. ʼn Paar wagte spring saam met ons op en die jeep trek weg na ons volgende bestemming, die rekrute agterna, maar ons laat hulle spoedig agter.

Op pad ontmoet ons ZANLA troepe en hulle spog dat hulle die vorige aand aanvalle op plase in Umtali uitgevoer het.  Bloed stoot in Thomas se gesig op. “Die bliksems!” sis hy amper onhoorbaar. “As my vrou iets oorgekom het, maak ek hulle vrek!” Dan verbleek hy, draai sy gesig weg van ons en staar die verte in. “Ek hoop my  vrou is veilig,” sug hy terwyl sy wange nat word van die trane.

By die ‘beter’ kamp waar ons afgelaai word, ontmoet ons weer vir Tsuro, die een vir wie Samora die ‘baas’ storie getolk het. Ek mis Samora en die relatief normale dae wat ons saam met hom deurgebring het.

Tsuro spreek ons ernstig deur ʼn tolk aan.

“This is war! You must obey orders, your lives depend on it!” Hy huiwer ʼn oomblik. “The situation is not good. You must co-operate!”

Die manier waarop die ʼnot good situation’ hanteer word is om ons voortdurend van die een kamp na die ander te skuif en so verlaat ons die ‘beter’ kamp onder begeleiding van hoogsgespanne vegters en rekrute.

Op ʼn stadium slaan ons kamp op langs ʼn rivier en kry ʼn kans om te was. Dit was ʼn verligting om van die stank, stof en sweet ontslae te raak met behulp van ʼn paar visblikkies waarmee ons die water oor ons lywe stort. Ons verblyf langs die rivier is egter van korte duur.

DONGAS EN SANDVLOOIE

Ons volgende kamp is een wat voorheen gebruik is. Dis vuil, oral lê leë blikke en stukke kos rond. Ons is nou weer in die sorg van die Mosam-biekers wat ʼn groep majibas insluit. Naby die kamp is diep dongas, toegegroei met bome en bosse. Dag na dag word ons soggens in een van die dongas versteek. Die gesittery in ʼn klein ruimte word uitmergelend. Ons mag effens beweeg solank ons koppe nie uitsteek nie. My bene kramp en elke spier in my liggaam trek styf. Thomas sukkel net so. Die twee jonges is ongeduldig en wil-wil amok maak. Ek bid dat hulle sal kalm bly, ons kan nie ʼn konfrontasie bekostig nie.

Na ʼn paar dae kon ons weer gewoon in die kamp leef. Die dae se gesit in die sanderige dongas het gevolge gehad. Ons ontwikkel almal klein wit blasies onder ons toonnaels. Dit is pynlik en jeuk ondraaglik! John het glo voorheen daarmee kennis gemaak, die bron van die ongemak is ‘jigger fleas’, sandvlooie. Ek het nog net daarvan gelees. Die wyfies grawe in die vel en laat net die punt van hul buik bloot en voed op die bloed van hulle gasheer. Hulle swel vinnig soos hulle vol eiers word wat in die omgewing gestort word, waarna die wyfies vrek. Hierdie opgeswelde vlooi moet heel verwyder en verbrand word om die eiers te vernietig, anders versprei dit net verder.

ʼn Majiba het glo vir John gewys hoe om dit uit te wikkel met ʼn doring en dit dan te verbrand. So kom John tot ons redding en word hy die amptelike vlooiverwyderaar. Elke oggend hou ons vlooiparade. John het soms sy frustrasie so op ons uitgehaal en moedswillig die doring laat glip vir ʼn ekstra stekie, veral as hy Jim ontvlooi. Die twee het hulle mes in vir mekaar. Dan was daar die kere wat hy net halfpad was met die tydsame joppie en ons alles net so moes laat om weer in die dongas te skuil. John is beloon vir sy mediese dienste met ons kosbare glukose lekkers wat ons van tyd tot tyd kry en uiters spaarsamig stukkie vir stukkie suig.

STORIES EN VERSOEKPROGRAMME

John het wonderbaarlik nog sy radio en ons luister steeds met gespitste ore na die versoekprogram met die verwagtig dat Leslie, die omroeper, een of ander tyd ons name sal noem in weerwil van John se beter-weterige opmerkings. Ons bly volmoed dat ons geliefdes van ons lot bewus is en van hulle sal laat hoor.

Dan is daar natuurlik die halftien vervolgverhaal. Wie sou kon dink vier uitgevrete mans kon so opgeneem word in ʼn storie. Saans met die sesuurnuus brei die luisterkring uit om die wagte in te sluit en sodoende bly ons op hoogte van die gebeure buite ons klein wêreldjie.

Dis November, die maand waarin twee van my dogters verjaar, Jeanne die eerste en Meisie die vierde. Ek sou wat wou gee om my dogters te kon vasdruk teen my bors. Die verlange na my mense is soos ʼn steekpyn in my hart. Ek is op my knieë en buig laag met my kop tot op die grond. “Ag Here, bewaar my familie, seën elkeen en vul my twee meisie-kinders se nuwe lewensjaar met u teenwoordigheid,” smeek ek.

 

ONDER SKOOT

Die majibas is onrustig. Ek word saam met Thomas in ʼn sloot verder van die kamp versteek. John en Jim word in ʼn ander donga uit die oog gehou. Die twee jonges stamp gedurig koppe en is opvlieënd oor hulle inperking. Ek bid dat hulle nie iets onverantwoordelik sal aanvang wat in ʼn tragedie kan eindig nie.

“Hier is troepe in die omgewing, hoor wat ek vir jou sȇ,” fluister ek vir Thomas.

Ek is nog besig om my sit te kry, toe ons die gedoef-doef van naderende helikopters hoor en kort daarna vlieg die eerste helikopter oor ons. Die digte bosse waaronder ons skuil hou ons buite sig, daar is nie ʼn kans dat ons troepe ons sal sien nie. Ek is deeglik bewus van die AK-47s wat op ons gerig is. Skote klap om ons, en ek maak my so klein as moontlik en bid dat geen koeël enige een van ons tref nie.

Hulle laat sowaar troepe neer! Ons is tussen die duiwel en die diep blou see. As ons opspring, kan of die AK-47s ons bykom of selfs ons troepe.

Die wag naaste aan my sis, “Cale-se! Nenhum movimento!” Ek hoor net iets van ‘movement’ en bly maar versteen sit.

Die troepe loop amper bo-oor ons. Skote klap van alle kante af. “Here bewaar vir John en Jim. Gee hulle kalmte om nie iets onbesonne aan te vang nie en hou U hand oor ons!” bid ek. Daar kom nog drie helikopters oor, dis nou altesame sewe. Die troepe fynkam die area.

Sal hulle ons kry? My bene kramp, ek byt op my tande en haal byna nie asem nie. Sal hulle my skiet as ek opspring? Of sal ʼn AK-47 koeël my eerste tref? Ek kies om dit nie op die proef te stel nie en bly ineengekrimp sit. Thomas is ook heeltemal vooroor gebuig, ek kan hom nie vra of hy okay is nie.

“Hy wat sit in die skuilplek van die Allerhoogste!” fokus ek my gedagtes.

Stilte. Nie ʼn enkele skoot nie. Wat nou? Ons kom stadig orent maar die majibas beduie aggresief met hulle gewere dat ons moet bly sit.

Ons sit nou al ure in die sloot. Alles pyn. Aan die son se stand moet dit so drie-uur wees toe ʼn helikopter weer oorkom. Skote klap in die rigting van die kamp. Mense gil! Wie skiet vir wie? Ek druk my ore toe en bid benoud, “Here bewaar ons en hou tog U hand oor ons twee jong vriende!” Moeg, seer, honger en dors, onder die gerat-tat-tat van masjien-gewere, sluimer ek op my hurke in.

WEGKRUIPERTJIE

Ek word wakker geruk uit ʼn diep slaap. Dis pikdonker. Hoe is dit moontlik dat ek deur al die oorloggeraas kon slaap? Ons word beveel om ons goed te gryp en te kom. Ek kom geleidelik orent. My bene kramp, duiselig gryp ek na die naaste vashou plek, staan vir ʼn oomblik om my balans te herwin. Ek kyk af na my swaar jas wat op die grond lê met le-moensap en water in sakke versteek. Ek oorweeg dit sterk om die jas net daar te los, dit sal my net terughou. Ek spreek my voorneme hardop uit en tot my verbasing tel een van die majibas dit op en begin hardloop. Dankbaar om weg te kom van die dongas af, volg ek die groep op ʼn drafstap tot by ʼn rivierbedding waar ons tot stilstand kom. Ek sou wat wou gee om die stof en sweet van my lyf af te was, maar ons word vinnig onder bosse versteek.

Die ure draal verby voordat ons aangesê word om aan te beweeg. Ek kon my oë nie glo toe ons by dieselfde dongas eindig nie. Genadiglik laat hulle ons onder die bosse op die rivierwal slaap. Vroegoggend word ons weer in die dongas verberg. In die verte hoor ons skote en ons word opgejaag om verder van die geveg af onder bosse in te kruip. So verloop die ganse dag van wegkruipertjie speel. Ek voel naderhand nie meer die gekrap van dorings en takke nie, volg net die bevele, hardloop, kruip weg, hardloop, kruip weg.

Laat daardie aand hoor ons stemme roep. Het hulle ons gekry! Wat van die klomp hier om ons, wat jeuk om die snellers te trek? Wie sal ons eerste skiet? Adrenalien pomp deur my are. Al my gedagtes word oorheers deur my wil om te oorleef.

Die Here alleen weet hoe benoud ek op hierdie oomblik is. “Al gaan ek ook deur ʼn dal van dood skaduwee, ek sal geen onheil vrees nie!” Ek bly sit, wagtend. Toe alles stil raak, verskuif ons na ʼn volgende wegkruipplek.

Dis koud en mistig in die vroeë oggend toe ons weer by die twee jongmanne aansluit. Almal is moeg en stil. Die nag se kruis en dwars hardlopery en skuiling soekery het sy fisiese en emosionele tol geëis. Selfs die jongelinge het die strydbyl begrawe.

Die majibas voel veilig genoeg om ʼn klein vuurtjie te maak en rys te kook wat ontbyt word vir ons vier. Hulle eet selde saam.

DIE RIVIERWAL

Die mis hang dig oor die bos. Ons is skaars klaar met ons karige ete, of ons word aangetree en beveel om ons goed te pak en te kom. Dis ʼn rowwe terrein en ʼn dig beboste gedeelte. Ek spook om by te bly en loop deur onder die gekrap van die takke. Thomas veroor sy balaklawa, sy kaalkop se skerm te teen die son bedags en koue snags. Ons word aangejaag met geen verposing om na die essensiële kopbedekking te soek nie. Die tog gaan voort tot diep in die nag, sonder ʼn blaaskans. As een van ons kla ons kan nie meer nie, word ons telkens verseker dis nog net ʼn kort entjie – ʼn ‘entjie’ met geen einde in sig nie.

Die volmaan  verlig die pad in die bosse effens. Thomas se nagblindheid laat hom dikwels struikel en ek kry hom jammer. In ʼn gedempte toon kom die bevel dat ons moet skuil en doodstil bly. Minute later hoor ons ʼn groep mense verbydraf. Ek is dankbaar vir die ruskans, maar dis van korte duur.

Teen sonsopkoms kom ons by die sytak van ʼn rivier tot stilstand. Die dig beboste wal loop skuins af na ʼn stroompie water wat verskuil is onder die oorhangende takke van die bome. Hulle laat ons teen die wal lê en die majibas teenaan ons tussen ons en die rivier. Hulle lê so na aan ons dat ons naderhand vir die aanvoerders vra of hulle nie net ʼn bietjie verder kan skuif nie. Ons geniet ons persoonlike ruimtes, maar dis van korte duur, hulle skuif weer tot teenaan ons. Bedags hang ons teen die wal en snags slaap ons bo-op die wal, met wagte irriterend teenaan ons. Ek probeer uitwerk wie van ons die slegste ruik.

Intussen het die sandvlooie ʼn fees op ons lywe. Ek het een onder my pinkienael – uiters pynlik. Thomas loop die ergste deur. Hy is oortrek van die goed. Een of baie, dis ʼn ergerlikheid. John is soms steeks om ons te ontvlooi en dit kos mooi praat en ʼn hele paar van ons kosbare lekkers.

Die vetkoeke wat ons so af en toe kry, is ʼn welkome afwisseling aangesien ons etes hoofsaaklik uit pap en vis bestaan. Die jonges wat dit moet bring help hulleself aan ons vetkoeke en sweer ons die dood voor die oë as ons hulle sou verklap.

Thomas is die enigste roker onder ons. Hulle gee hom so af en toe ʼn sigaret. Eendag het hulle vir hom gedroogte groen droë blare gegee om te rook. Dit moes ʼn opkikker gewees het want Thomas het behoorlik op ʼn ‘trip’ gegaan. Ons ander het geredeneer dis dalk die rede hoekom die majibas so onvermoeid kan beweeg op ons lang trektogte. Thomas het dit daarna geweier en onderlangs gegrom as hulle hom nie voorsien van sigarette nie.

Die derde dag vat hulle ons rivier toe om te gaan was. Dit voel verfrissend om die koel water oor my dorre, warm geswete lyf te gooi en die vuil stank af te was. By ʼn gebrek aan seep gebruik ons fyn sand om die skropwerk te doen. Ek spoel my lyf van kop tot tone oor en oor af totdat elke sandkorreltjie afgewas is. Ek vat die kammetjie wat ek saam met die jas geërf het en begin my lang gekoekte hare kam. Versigting om nie die tandjies te breek nie, trek ek die kam deur die boonste laag hare. In my gestoei om deur die koeke te kom, gly my kosbare kam uit my hand en val in die water. Net daar sit ek en tjank soos ʼn kleintjie en dit oor ʼn kam! Of was dit net oor die kam? Deur my trane probeer ek in die troebel water voel vir die kam, onsuksesvol.

Daardie nag slaap ek nie. Ek treur oor alles en almal waaroor daar te treur is. Vroeg die volgende oggend vra ek almal om my net ʼn kans te gee om die kam te gaan soek voordat die water vertroebel word. Twee wagte vergesel my na die plek waar ek die vorige dag gewas het. Ek identifiseer die tak waar ek my broek gehang het, sak langs die water af op my hurke en bekyk die water waar ek gestaan en hare kam het. Sowaar! Daar lê die kam half bedek in die sand! Versigtig om nie die water te vertroebel nie, loop ek nader en haal die kam uit die water. Ek druk dit styf teen my bors vas. Wie het nou ooit kon dink dat ʼn kam my soveel trane en vreugde kon besorg!

Ons gebruik nou enige verskoning om van die beknopte posisie teen die wal weg te kom: maagwerking, waterafslaan, was, enigiets, solank ons net kon beweeg. Ons word net een-een toegelaat om ons posisies onder streng bewaking te verlaat. Alle private aksies vind plaas ten aanskoue van twee gewapende wagte.

Thomas word steeds ondervra. Hulle wil nou eenmaal nie aanvaar dat hy niks met die weermag te doen het nie. Ek begin dink hulle het sy papiere verloor met een van die aanval-le, want nie een van ons ander word weer ondervra nie.

MOERASWATER

Gefrustreerd oor die ingeperktheid en niksdoenery lê ek een middag teen die wal toe die dringende bevel kom, “Move, move, move!”

Onseker oor wat nou aan die gang is, is ek maar te dankbaar om te kon beweeg. Ons bondel blikkieskos en beskuitjies wat ons opgegaar het in ons komberse.

“Hurry up!” word ons aangejaag.

Styf van die inmekaar gesit, hinkepink ek totdat die bloedvloei in my lyf normaliseer en my bene hulle opdrag meer beheersd uitvoer sodat ek vinniger kon beweeg om by te bly. Dis warm en die sweet tap my af. Thomas het ʼn hemp om sy kop gebind om sy bles te beskerm. Ons drafstap ʼn hele paar kilometers voordat die bevel kom om plat te val in die lang gras langs die pad. My lyf jeuk van die sandvlooie en nou ook van die grassade en ek kan nie krap nie!

Die gedreun van ʼn groot trok kom al nader. Een van die aan-voerders staan op en wuif. Blykbaar is hierdie ʼn beplande ontmoet-ingspunt. Die trok kom tot stilstand en ons word beveel om agterop te klim. Daar is sitplekke al langs die kante van die bak. Uiteindelik ʼn rus-kans! Ons verligting is van korte duur. Ons word beveel om plat te lê en word vir die soveelste keer toegegooi met komberse. Jim vloek toe een op hom trap en beur orent om net weer platgedruk te word. Ek haal deur my mond asem om die stank van die komberse te probeer ontduik en hoop ek tel nie ʼn pes op nie.

Baixo! Cale-se!” kom die bevel.

Omtrent twintig majibas spring agterop, steek hulle gewere onder die sitplekke weg en maak asof hulle gewone passasiers is.

“Ons is in Frelimo gebied,” fluister ek aan John naaste aan my.

Cale-se!” sis die wag bokant my.

Ons maak beurte om die kombers effens te lig om asem te kry, maar ʼn voet pomp ons vinnig in die ribbes as hulle dit agterkom. Ons ry oor ʼn hele paar spoorlyne. As ek ʼn kans kry, probeer ek kyk waar ons is. Al wat ek sien is telefoonpale. Dis ʼn nagmerrie rit wat so twee ure duur. Die trok kom uiteindelik tot stilstand en die komberse word gelig. Ek snak na asem. Dankie Vader vir vars lug, heerlike wonderlike vars lug!

Toe ons grond vat, is ons die bosse in en begin ʼn staptog wat ons ure later by ʼn kamp uitbring. Daar ontmoet ons die bevelvoerders, McDonald, Seduce en Lamec.

Ons water is lankal op en ons is dors! Die enigste bron van water is ʼn moerasagtige omgewing van ʼn droë rivierloop waarin hulle gate grawe en die syferwater gebruik vir drinkwater. Hierdie mense moet krediet kry vir die manier waarop hulle in die haglikste omstandighede planne maak om te oorleef.

Ons vul ons bottels en drink lang dorstige teue. Daardie nag word Thomas siek. Sy maag is omgekrap en hy is naar. ʼn Paar maal moes hy ʼn badza gryp en hardloop vir die bos. As dit nie so ernstig was nie, was dit komies hoe Thomas knyp-knyp hardloop, badza swaaiend om ʼn paadjie oop te kap, met twee gewapende wagte kort op sy hakke.

“Move, move, move!” dring dit tot my slaapbenewelde brein deur vroeg die volgende oggend.

Slegs ʼn half kilometer verder, by ʼn groot miershoop, span ons weer uit. Dit word ons nuwe lêplek. Daar sak ek neer, naar, siek en vol krampe. Die water het sy tol ook op my liggaam geëis. Thomas gooi sy kombers langs myne by die miershoop oop en sak neer. Die man lyk sleg.

HOENDER VIR ETE EN MODDERBADDENS

Die adjunkaanvoerder van die ZANLA magte, Fox, kom ons die vol-gende dag besoek. Hy vra ons uit oor ons gesondheid en skud net sy kop vir dit wat hy voor hom sien. Ons lyk sleg. Die water het nie met ons verswakte gestelle geakkordeer nie. Ons is almal hondsiek.

Ek vat ʼn kans en vra of ons ʼn hoender kan kry. Ons het dae laas geëet en met die maagwerkings is ons nou swak, amper ontwater. Hy stem in en toe ons hom vra wanneer, is sy reaksie, “Perhaps tomorrow.” Die hoë koppe verlaat ons en laat rekrute agter onder bevel van nuwe aanvoerders.

Ons kook nou die water voordat ons dit drink. Tot ons vreugde word twee maer kuikens, reeds nekomgedraai, aangedra wat ons self moet voorberei. Inderhaas kook ons water, ontveer die kuikens en laat hulle in die pot prut. Dis benerig maar ons val weg en kou tot die sap uit die bene uit. Ek het Thomas lanklaas so lekker sien eet. John en Jim eet alles: derms, pote, kop die lot.

Ons lywe het lanklaas water gesien en ons word toegelaat om in die rivierloop te gaan bad. As daar nie water in die rivier was by ons vorige oornagpunt nie, waar sou die water nou vandaan kom? Dis toe ʼn moddergat deur die diere getrap is opsoek na water met plasse syfer-water. Ons smeer ons lywe met die modder en maak beurte om mekaar met blikkies vol syferwater af te spoel. ʼn Emmer water sou beter wees, maar nou ja, die stink sweet is af en dit help al.

GROTBEWONERS

ʼn Onaangename verrassing wag op ons na ons modderbad – ons ruskans bly in die slag. Na ʼn karige ete van sadza en hoendersous, word ons aangesê om alles agter te laat en in die pad te val. Ons goed sal glo saam met Lamec kom. Ek glo hulle lankal nie meer nie en ver-steek die lemoensap wat vir ons uitgedeel is in my sak.

Ek word aangesê om die pas aan te gee, glo oor die toestand van my hart. Hoekom sou my hart nou skielik belangrik wees na al die kilometers wat ek hulle tempo moes hand-haaf? Hoe verder ons vorder, hoe meer protesteer my voete en word my pas al traer. Die AK-47s word weer gebruik om ons aan te por. So verloop ure se uitmergelende stappery tot laat in die nag. Selfs die twee jongmanne kry swaar. Ek wend my tot die Here en pleit vir krag terwyl ek my lyf voortsleep.

Nanag sien ons ligte in die verte. Ons loop in daardie rigting, elkeen met sy eie vrese en gedagtes. Die gestaltes om die vure lyk spookagtig. Ons word aangesê om eenkant te sit terwyl hulle gaan onderhandel. Ons word goed bewaak. Ons mag nie met mekaar praat nie daarvoor sorg die wagte. Ons hoop op rus word verydel toe hulle terugkom en ons verby die vure en nuuskierige oë weggelei word op die volgende skof.

Op hierdie been van ons vlug, kom ons af op ʼn groep mense: gevangenes aangedryf deur vegters. Die aanvoerders wissel ʼn paar woorde voordat ons aanbeweeg. Teen sonsopkoms bereik ons ʼn grot in die berge. Ons word die duisternis van die grot binnegedryf tot in ʼn vernouing waar ons in ʼn onuithoudbare stank vasloop en beveel word om te bly staan. Thomas hou sy maag vas. “Net nie hier nie maat,” fluister ek toe ek sien hy wil braak.

Ek kyk dieper die grot in en sien dit word breër, maar ons word nie daar toegelaat nie. Kos word dieper in gestoor. Ons lê-staan teen die rotswande, verduur die stank,muggies, vlieë en rekrute wat in en uit by ons verbyskuur met die kos.

Daardie aand lê ons in lang rye op die ongelyke grotvloer, kry koud en baklei teen die rotte wat oor ons hardloop op pad na die kosbron.

Ons ontdek die volgende oggend die ongure reuk word veroor-saak deur verrotte kos wat deur vorige grotbewoners in die skeure gedruk is. Ons kla by die leiers en die rekrute word aangesê om dit skoon te maak.

“This is not a hotel,” snou die een rekruut terwyl hy dikbek by ons verbyskuur met ʼn sak verrotte kosreste. Later die dag dra dieselfde rekruut vir ons kos aan met die gewilligheid van ʼn kelner, onder die wakende oog van een van die leiers. Ek is maar te dankbaar vir die koue pap en boontjies.

Ons word nie toegelaat om bedags uit te gaan nie en ons dringende besigheid word een-een vinnig buite afgehandel onder streng bewaking. Kos word teësinnig en ongereeld aangedra, meer so as daar nie ʼn bevelvoerder naby is nie.

Ons spekuleer dat ons moet buite sig gehou word oor troepe wat moontlik in die omgewing is. Elke kontaksessie met die troepe vertraag ons vrylating.

Een oggend daag McDonald, Lamec en Seduce by die grot op en dring daarop aan dat John weer sy hele verhaal moet neerskryf. Sy reaksie “Do you know how many times I have done this?” word geïgnoreer en die skryfgoed word voor hom neergesit. John trek die papier nader en skryf. Thomas word ook verplig om sy storie vir die soveelste keer neer te skryf. Hy ontplof! “Do you think a man of sixty six is worth anything in a war? I am old and retired from the army! You know I can’t remember anymore! I said what I said and that is it!” Hy is so driftig dat hulle sonder sy skriftelike verklarings oppak en verkas. Genadiglik spring ek en Jim vry.

TETE TOE

Enoch, die medikus word uit die grot opgekommandeer. Hy gryp sy goed bymekaar en volg die bevelvoerder na buite. Ons probeer vis wat aangaan, maar al wat ons agterkom is dat iemand het hom nodig. Daar was glo gevegte terwyl ons in die grot versteek was. Ons weet nie of dit ongevalle aan hulle kant of ons mense is nie. As ʼn mens sien hoe jonk die kinders is wat hier doodgeskiet word, raak die oorlog al hoe meer sinneloos.

Teen die einde van November klink die bekende “move, move, move” weer op. Jim kom nie verder as die naaste bos voordat hy sy goed neergooi en agter ʼn bos induik met ʼn paar wagte op sy hakke. Sy lyf knak toe hy sy vorige maaltyd uitbraak.

John word beveel om Jim se bondel te dra. Ons draf deur digte bosse. Ek struikel, gryp na Thomas wat voor my draf en saam land ons twee op die grond. Die bevelvoerder beveel toe twee van die rekrute om my en Thomas se goed te dra. Niemand praat teë nie. Ons draf voort.

John slaan neer soos ʼn os toe daar halt geroep word by ʼn jeep wat ons blykbaar verder sal vervoer. Met ons laaste water laaf ons hom. Die dubbele vrag het hom uitge-mergel. Jim haal ons in, doodsbleek. Soos sardiens word ons agterop ingeryg. Agt rekrute voeg hulle by ons geledere. Daar’s nie plek vir ʼn muis nie. Die reuk van ongewaste mens-lywe is verstikkend. Die stof van die grondpad kom lê in ʼn dik laag oor ons hare en gesigte. Ons lang baarde is kliphard gekoek. Ek bekyk die omgewing uit skrefie-oë maar kan nie veel uitmaak deur die stofwolk om ons nie.

Die jeep hou stil in ʼn klein dorpie maar ons word nie toegelaat om af te klim nie. Ek sou wat wou gee om net my bene te strek. Patrick, een van die aanvoerders, kom uit ʼn winkel aangestap en gee vir elkeen van ons twee lemoene en ʼn sap. Skouer teen skouer, sit ons en suig aan die lemoene, ʼn welkome lafenis. Nog twee ure skud ons voort op die rowwe grondpad, voordat ons uiteindelik tot stilstand kom en kan afklim.

Ek rek en strek, makeer die pas en raak my tone om weer my bloedsomloop aan die gang te kry. Ons word beveel om in die bosse te skuil en daar te wag. Die rekrute staan oorgehaal met hulle AK-47, asof ons dit sal waag om te ontsnap.

Ons hoor voertuie naderkom. Twee ambulanse hou stil waar die jeep weggetrek het. Die voorste een het ʼn Rooikruis op. Ons word aan-gepor na die pad. ʼn Lang man kom na ons aangestap. Fox staan ook nader.

“Seeing that you are all sick I brought you a doktor. There is still a long road ahead of us, and we can’t afford to let you slow us down.” Ek wonder hoe ver die ‘long road’ is.

“I am comrade Herbert,” stel die lang man homself voor, “I am a medical doctor,” borduur hy voort en roep my eerste eenkant toe. Hy was die hoof van ZANU se Departement van Gesondheid, hoor ons later. Hy ondersoek my en gee my ʼn houertjie met bruistablette, hopelik met genoeg vitamiene in om my op te kikker. Thomas kry goed vir sy maag sodat hy die Afrika kos beter kan verteer en iets vir bloeddruk. Jim is net geïnteresseerd in my bruistabletblikkie. Dit sou ideaal wees om al die tsetse-vlieë in te bêre wat hy vang as bewys vir sy familie van sy ontberings – as hy hulle ooit weer sou sien.

Na die ondersoeke daag daar weer ʼn jeep op. Met ons agterop, pak ons ʼn rit aan wat ek later sou hoor by die driehonderd kilometer was. Tydens die urelange rit stop ons net een keer. Verlig om ons bene te kon strek, staan ons op ʼn ry en doen ons besigheid ten aanskoue van die klomp jonges met oorgehaalde gewere. Ek maak my longe vol diep teue vars lug.

Ons word met komberse toegegooi elke keer as ons deur ʼn dorpie ry. Ek probeer my asem so lank as moontlik inhou om die stank van die komberse te vermy. Dis bloedig warm!

Ons arriveer so agtuur die aand in Tete. Ons word na ʼn huis ge-neem, waar ons oornag. Wanneer laas het ek onderdak geslaap? Ek is vuil en taai van die sweet en stof. Die rekrute dra emmers water aan. Die Portugese het die watertoevoersisteme gesaboteer voordat hulle gevlug het. Daar is badkamers, maar geen water nie.

Na ons gewone maal van pap en boontjies, ontmoet ons ʼn nuwe aanvoerder Josiah Tungamirai. Hy praat die hele aand politiek. Hy ver-tel ons dat die boere hulle vra wanneer hulle kan plant en of hulle die oeste sal afkry met genoeg mense? Kommunikeer die boere met ZANLA? Praat Tungamirai die waarheid? Wie kan jy vertrou in ʼn oorlog? Waartoe lei hierdie oorlog? Die woorde in Jakobus 4 kom by my op ‘Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, om-dat julle nie bid nie.’ “Here wanneer sal hierdie dinge ophou?” is die ver-sugting in my hart.

WIE IS JY?

Daar is ʼn spieël in die huis. Ek skrik my boeglam toe ek myself daarin sien. “Hemel is dit ek?” Ek herken myself nie. Almal bestorm die spieël en die wagte frons oor die gelag wat uitbars. “Dan stink ons ook nog!” kry John sy asem eerste terug.

Ons kry uiteindelik ʼn kans om te was met skoon water wat my dor

vel verfris en die taai stof en stank afwas. ʼn Skeermes sou nou welkom

gewees het. Ek probeer die ergste koeke in my baard en hare uitkam.

BOSBOUERS WORD NIE ONTVOER NIE

Vroeg die volgende oggend word ons ingelig dat Tongogara op pad is. Hy daag ʼn halfuur later op, groet vriendelik en verneem na ons gesondheid. Hy spreek sy verbasing uit toe hy hoor dat Jim ʼn bosbouer is. Hy moes glo nooit ontvoer gewees het nie. Jim neem dadelik sy kans waar en vra of daar nie gereël kan word dat hy kan teruggaan nie. Tongogara trek egter

net sy skouers op: “What happened, happened and there is nothing we can do about it now.”

HITTE EN PESTE

Die volgende oggend is ons rus op ʼn end toe ons weer op pad is agte-rop ʼn jeep. Ons koers verder noord. Dis dig bebos maar plek-plek is ontboste ooptes met nuwe hutte en kampe. Die jeep rammel voort op ʼn bykans onbegaanbare pad. Dit lyk of die bestuurder die pad ken want hy jaag oor die hobbels en gate en ons klou vir al wat ons werd is.

Toe die jeep tot stilstand kom word ons aangesê om af te klim. Ons is oënskynlik op pad na Tembue, ʼn kamp naby die grens van Zambië. Die res van ons reis word te voet afgelê met ons bondels op ons skouers. Die roete lei ons verby ʼn groot kamp na ʼn rivier vyf kilo-meter verder. Daar is reeds ʼn tent opgeslaan, ons tuiste vir die nag.

Die tentopening het ʼn gaas voor. Daaraan steur die muskiete en vlieë hulle min. Dit plaas ʼn demper op my waardering vir die skoonheid om my. As ons nie so flou geloop was nie, sou nie een van ons seker ʼn oog toegemaak het nie. Dis snikheet en die humiditeit hoog. Sweet klou aan my soos ʼn tweede vel. Ek lê en luister hoe die paddas en krieke in ʼn koor uitbasuin, daar is ʼn Skepper! En Hy is by my te midde van hier-die beproewing. Ek verlang na Jean.

KENMEKAAR

ʼn Nuwe dag breek aan. Die wagte verwissel en ons word met tent en al verskuif. Ek probeer uitwerk hoeveel keer ek die afglope maande ver-skuif is en hoveel stelle wagte ek nou al agter die rug het, maar ek het tred verloor.

Die een aanvoerder, Trevor, was glo ʼn kelner in ʼn nagklub voor hy by die vegters aangesluit het en Seduce was ʼn onderwyser. Albei praat vlot Engels, ʼn pluimpie vir hulle of die Rhodesiese onderwyssisteem. Die medikus Enoch, word vervang met ʼn man met die naam van Africa. Hoewel ons nou beter behandel word, is hulle steeds baie waaksaam.

Partykeer vang die verskriklike hitte die jong rekrute en raak hulle aan die slaap. Dan neem die jong aanvoerder, Captain, hulle gewere af en handig dit by Trevor in. Hulle word dadelik gestraf met twintig van die bestes met ʼn rottang oor hulle boude. Hulle is so maer daar’s nie eintlik boude nie. Ek krimp namens hulle ineen. Hulle vat hulle straf soos ʼn man en raak nie weer op hulle pos aan die slaap nie.

Ons bly lank genoeg deel van dieselfde groep. Die jonges begin teenoor ons ontdooi, raak vriendeliker en vra ons saans uit. By Thomas wil hulle weet van die army. Hy is nie lus om met hulle te praat nie, maar vertel hulle darem een of twee staaltjies. Hulle vra Jim uit oor loopbane in bosbou waarop hy sarkasties reageer.

“Not if you keep me here in the wilderness. How can the Depart-ment of Forestry keep on to exist if you abduct its employees?”

Hulle pla hom nie verder nie. By my wil hulle weet oor God. Ek neem my kans waar en vertel hulle van Jesus. Hulle ouers is glo ook Christene en ek vertel hulle hoe èk Hom beleef, en verseker hulle ek bid ook vir hulle.

Hulle hou van John want hy’s die jongste en speel soms saam met hulle sokker en gesels oor popmusiek en die jongste kunstenaars. Kamma slapende koppe draai om te hoor wat ons bespreek.

Ek bely telkens my moedeloosheid by die Here. Hy weet die niksdoen en gedurige gevlug eis sy tol. Dit voel soos ʼn nagmerrie wat nooit ’n einde kry nie. Ek sien nie my maats ooit bid nie maar hulle respekteer altyd my stiltetyd.

 

BRIEWE EN NOTAS

In een van die skenkings wat vir die vegters beskore was, was bolle wol. Niemand wou dit hê nie en Thomas het gevra of hy dit kon kry. Hy het ure gesit om twee stokkies glad te skraap vir breinaalde en toe ʼn lang strook gebrei met die wol wat hy omskep het in ʼn kussinkie opgestop met ʼn flenter hemp. Dit het ʼn kluis geword vir sy notaboekie en kort potloodjie wat hy in die huis waarin ons tuis gegaan het, opgetel het. Hy maak notas daarin vir as hy eendag ʼn boek wou skryf, of ʼn brief vir sy vrou.

Ons maak van Thomas se skryfgoed gebruik om ʼn brief vir Mugabe te skryf waarin ons vra of ons kan onderhandel vir ons vry-lating. Ons bewoord die brief versigtig en lees dit oor en oor voordat ons dit opvou, in ʼn plastieksakkie sit en in die kussing versteek.

Toe ons een oggend agtuur gestuur word om te gaan was, weet ons hier broei iets. Ons word aangesê om klere te was, wat nie sommer gebeur nie. Dis ure later voordat ons weer in die kamp toegelaat word.

Met ekstra wagte om ons, nader ons die kamp. Ons tent is deur-soek en hulle het in ons persoonlike goed gekrap. Ek weet daar is niks inkriminerend tussen my karige besittings nie en ook niks om te steel nie. Thomas is woedend toe hy agterkom daar is van sy sigarette weg. Hy skop nie ʼn bohaai op nie, gooi net die byna leë houertjie driftig neer op sy deur-mekaar hoop besittings.

Wat sou die gekrap in ons goed vir hulle opgelewer het? Ons wag nie lank op hulle reaksie nie. Die volgende oggend ontvang ons weer ʼn besoek van Trevor en Africa. Hulle wil ons goed kom deursoek. Ek is seker hulle weet van die notas en die brief. Dit is toe so. Hulle het die goed by Thomas gevind en hy word behoorlik oor die kole gehaal. In die proses verloor hy sy notaboekie en potlood. Ek voel skuldig omdat Thomas alleen deurloop, die briefskrywery was ons almal se idee.

Na ʼn paar dae gee hulle Thomas se boekie en potlood terug. Hulle het glo die brief aan Mugabe afgelewer en die ander notas is aan hoër gesag gestuur.

Ek dink hulle het meer oor Thomas te wete gekom deur die notas as met al die ondervraery.

SONDE MET DIE VLIEË

Dis snikheet. Depressie het my hart beet, en Thomas, John en Jim lyk ook terneergedruk. Ons het nie veel om vir mekaar te sê nie en nog minder om mekaar mee op te beur.

Die hoogtepunt van die dag was die rekord aantal tsetse vlieë van honderd drie en twintig wat John in ons tent gevang en doodgemaak het. Die mopanie vlieë is ʼn groter verpesting as die tsetse vlieë. Hulle byt seerder as die perdevlieë, is meer beweeglik en ontwyk John se aanslae. Hoe warmer die dag word, hoe groter raak die vliegbevolking om ons. Daar is geen sprake van rus nie. Ons arms swaai rond soos windmeulens in ons pogings om die vlieë af te weer.

“At least we get some exercise, guys,” is John se moedelose kommentaar. As ons slaapsiekte vryspring sal dit ʼn wonderwerk wees. Boonop is ons ondervoed en ek voel ellendig.

Ek bekyk die spulletjie en wend my tot die Here. “Versterk my geloof, Here, verlig hierdie moedeloosheid wat oor my toesak. Gee my woorde om my maats te bemoedig. Beskerm ons teen die peste wat ons omring. Ek het niks meer om te gee nie, maar ek weet dat U sterkte in my swakheid volbring word.” En soos altyd wanneer ek my lot by die Here bekla, vervul vrede my hart. Ek swaai met hernude ywer na die swerm vlieë rondom my.

HONGERPYNE IN ʼn NUWE BLYPLEK

Kos is skaars, ons kry nou net elke tweede dag ʼn blikkie kos en ʼn be-skuitjie. Ons eet net die helfte en hou die res vir die volgende dag. Daar is nie meer tee nie. Hulle maal suiker fyn, brand dit en maak ʼn soort tee daarvan. Dit proe vir my baie sleg, maar ek drink dit ter wille van die suiker daarin. Ek sweet die minerale in my lyf uit en is besig om te ont-water.

Dan begin dit vir dae aanmekaar reën. Alles in die tent raak klam en begin muf.Snags vier die muskiete fees, en bedags veg ons teen die vlieë. Dis malariawêreld en ons het geen beskerming teen dié siekte nie. Ek bly bid dat ons nie siek word nie.

Toe die voorraadtent afgeslaan word, weet ons dit is tyd vir aanbeweeg. Ons word beveel om alles net daar te los en te kom. Ons pak die tog in die reën aan, sak weg in die modder, stap deur ʼn kamp en oor ʼn klipperige terrein. Gly-gly struikel ons voort en kom by ʼn oop stuk grond aan waar ʼn ambulans vir ons wag. Ons moet agter in. Daar is geen sitplekke nie. Die ambulans gly deur die modder en stamp deur gate. My vleislose boude loop deur en ek probeer die impak verminder deur op my hande te sit. Ons word rond geskud en val van die een kant na die ander kant by gebrek aan iets om aan vas te hou nie. Die enigste ligpunt is ons is uit die reën.

Ons stop om brandstof in te gooi. Die agterdeur gaan oop en ʼn kas met boksies lemoensap word ingelaai. Ons kry elkeen ʼn boksie. Ek drink myne stadig, rol die sap in my mond rond om elke droë hoekie in my mond by te kom en rek die smaakervaring so lank as moontlik uit.

Ons ry reg deur die nag en word die volgende oggend in Tete afgelaai – nie ons bestemming nie. Ons tog vir die volgende uur en ʼn half is te voet deur bosse in ʼn oostelike rigting tot by ʼn oop stuk grond omring deur ʼn afgebrande bos. Dis naby ʼn rivier maar ons mag nie daar gaan was nie. Te veel mense skep glo drinkwater daar.

Tente word opgeslaan en ʼn grasskerm vir die kokery. Genadiglik reën dit nie en die grond is redelik droog. Ons kry elkeen ʼn gras matjie om op te slaap. My gemoed voel soos hierdie godverlate afgebrande bos, met sy pikswart grasstoppel. Ek het net een gebed. “Here hou my staande, laat my geloof nie nou wankel nie!”

Ons word gewaarsku dat dit baie kan reën in hierdie streek. Kort voor lank ervaar ons die werkliheid van die stortbuie toe die reën een nag in emmersvol op ons neerval. Die tent is soos ʼn sif. Die water stroom oral in. Alles word sopnat! Daar is geen sprake van slaap nie. Ons matjies dryf rond in die water. ʼn Offisier loer in en skud net sy kop. Hulle kom terug met en ʼn groot seil en trek dit oor die tent. Dit help, maar alles is klaar deurweek. Toe die wolke die volgende dag uiteindelik voor die son wegtrek, hang ons al ons goed oor takke om droog te word. Dis warm en bedompig.

Minder as ʼn week na die reën staan ek buite die tent en kyk ver-wonderd rond. Die gras spruit lowergroen uit in die afgebrande bos, hier en daar blom ʼn lelie en nuwe blare verskyn aan die verskroeide takke.  “Hoe wonderlik het U nie die natuur gemaak nie! Vol moed steek ek my kop deur die tentopening en nooi die ander drie om saam met my die nuwe groei te bewonder met die hoop dat dit hulle gemoedere ook sal verlig.

Verkleurmannetjies maak hulle verskyning in die bosse en gaan

hulle afgemete gang op soek na muskiete en vlieë. Kleurvolle akkedisse skarrel rond en vries teen ʼn boomstam ten volle gekamoefleer. Die Mosambiekse bosse wemel van insekte en klein gediertetjies. Hopelik sal die klein reptiele help om van die vlieë en muskiete ontslae te raak en die balans te herstel.

Maar dan is daar die mensfaktor. Vir die honger rekrute is die verkleurmannetjies en akkedisse kos. Hulle jag dit en maak ʼn maal daarvan. John eet saam. Ondanks my hongerpyne kan ek myself nie so ver kry om aan hierdie reptieletes deel te neem nie.

Ons bring Desember in hierdie kamp deur. Ons bewegings bly ingeperk. Ons waswater word van die rivier af aangedra en ons was agter grasskerms. Ek gebruik my harttoestand en bloedsomloop om te onderhandel vir ʼn daaglikse wandeling. Hulle stem in en meet ʼn sirkel-roete van so vierhonderd tree af. Ons word toegelaat om die roete daagliks te loop totdat ons moeg is. Soms word ons verhoed om te gaan stap met ʼn

“Sorry, the situation is not good.” Dan hou hulle wag by die tent en ons vang vlieë vir oefening.

DESEMBER KAMPLEWE

Ons sit verveeld in die tent en vlieë vang toe ʼn rekruut met ʼn sak vol goed daar aankom en tot ons verbasing vir elkeen ʼn nuwe tandeborsel, tandepasta en ʼn kam uitdeel luukshede! Dit voel soos Kersfees.

Ons het ʼn stukkie spieël wat John iewers bekom het, nie dat ons daarin wil kyk nie. Jim het ʼn klein skêrtjie waarvan die oorsprong ʼn ge-heim bly. Hy smokkel dit nog altyd saam en hou Thomas se baard daar-mee kort en knip die haartjies in sy neus en ore.

John is baie gesteld op sy voorkoms. Hy kam sy hare en bind dit in ʼn poniestert agter in sy nek vas. Jim met sy woeste baard en pikswart hare lyk intimiderend, die kam doen nie veel aan sy boskaas nie. Ek wikkel die koeke versigtig uit my hare met my nuwe kam en breek in die proses paar tande uit.

Die twee hormoonbelaaide jong mans is steeds voortdurend aanmekaar. Hulle is soos twee bokrammetjies wat mekaar uitsorteer. Hulle het mekaar op ʼn keer letterlik die hare ingevlieg. As dit nie was vir die rekrute wat hulle uitmekaar gekry het nie, het ons sekerlik bloed gesien. Hulle is goed oor die kole gehaal en gedreig met ernstige ge-volge as hulle dit weer sou waag om handgemeen te raak. Ons was amper ons voordele kwyt.

Ons word een oggend nader geroep om vir die eerste keer te deel in een van die oorsese skenkings. Bokse en bokse staan oopgesper, propvol klere. Ek is net so bly soos die rekrute oor twee hemde en twee broeke – hierdie keer te groot. Kan ʼn mens nou soveel vreugde put uit heel, skoon klere?

Ek is verras om te sien hoe eerbiedig die rekrute is. Elkeen kry ʼn kans om sy hand in die boks te druk en iets uit te trek. Of dit nou ʼn bruikbare kledingstuk is, of ʼn vroue kledingstuk met valletjies, dit maak nie saak nie, daar word eerbiedig gebuig en dankie gesȇ. In ʼn japtrap omskep hulle wat hulle ookal kry, in iets bruikbaar.

Een van die rekrute vertel my dat hy ʼn lonende besigheid in Salisbury gehad het met hierdie skenkings, maar die polisie het hom gedurig gevang en dít met ʼn geldige smous-lisensie. Dis toe dat hy by ZANLA aangesluit het. Die jonges het nie ʼn keuse as hulle opgeroep word nie. Dis ʼn bevel en teenstand word nie geduld nie.

Die siekeboeg is nie ver van ons af nie en ons deel in die beperkte mediese dienste wat nie veel meer is as iets vir ʼn maagpyn, kopseer of spierpyn nie. Elke pilletjie wat uitgedeel word, word in die teenwoordig-heid van die  mediese beampte afgesluk, dan kyk hulle nog onder jou tong om seker te maak jy het dit gesluk. Rub-rub is die enigste keuse vir spierpyne.

Die taai hoender wat ons af en toe kry is ʼn feesmaal. Die meeste van die tyd kry ons geblikte tamatiepuree, vleis, boontjies of vis. Jim brou ʼn soort sop daarmee met baie bruinsuiker daarin. Die eindresultate is elke keer verrassend smaaklik.

Ons gekla oor vars vleis het toe nie op dowe ore geval nie. Op ʼn dag bring hulle vir ons ʼn maer bokram. Thomas stel toe voor ons maak hom aan ʼn tou vas en sodat hy ʼn paar dae kon wei en gewig optel. Dinge verloop toe nie volgens plan nie. Die bokram breek los en die poging om hom weer te vang, sorg vir baie pret onder ons sowel as die rekrute. Toe is daar nie keer nie, bok se kind word geslag en gaar gemaak. Ons kon die vleis nie in ons liggame kry nie. Die rekrute het geëet tot die laaste vesel, daar het nie ʼn flenter oorgebly vir die aas-voëls nie.

Die tarentale loop en pik-pik vir kos so naby ons dat ons hulle met ʼn klip kon dood-gooi, of met ʼn kettie omklits. Die rekrute probeer die tarentale skiet, maar dis telkens mis. Ek is verras oor die geskietery. Die kamp moet buite hoorafstand van enige troepe wees. Ek het gewens hulle wou die geweer vir my gee. Kan jy jou voorstel die hoofopskrif in die koerant, “Ontvoerde skiet ’n tarentaal vir sy maats en rekrute!”

Die dae draal verby, ons het nie meer ʼn radio nie, dit het verlore geraak met al die gevlug. Ons het nie ʼn idee wat in die buite wêreld aangaan nie. Al wat ons nou besig hou, is die peste en plae. As dit nie muskiete is nie, is dit vlieë, luise of vlooie. Sal ek ooit weer op ʼn toilet kan sit sonder iemand wat my aanstaar met ʼn geweer in die hand?

Ek mis my Rooikop se sagte lyf langs myne, ʼn warm bad. Waar trek ons in Desember? Samora se almanak het ook in die slag gebly. Tertia moes haar elfde verjaardag sonder my vier. Ek sou wat wou gee om hulle te laat weet dat ek nog leef! Die verlange vreet my op.

OU NUUS

Ons ontvang ʼn klomp ou koerante wat ons van hoek tot kant deurlees en meer uitvind oor die Viscountramp en die mortieraanval op Umtali. Thomas bly bekommerd oor Jenny se veiligheid. Dis die tweede maal wat hy hoor van ʼn aanval op Umtali. Die onsekerheid vou om ons soos ʼn net. Wat gaan hulle volgende met ons doen?

Ek skeur ʼn stukkie van die koerant af toe ek weer bos toe gaan. Gehurk sit ek en lees. “Home for Xmas,” is die enigste woorde wat my oog vang voordat ʼn wag die papier uit my hand gryp. My hart sing en ek neem sommer aan hulle praat van ons.

Vol moed stap ek terug kamp toe, net om te sien die hoofopskrif gaan oor die Suid-Afrikaanse soldate wat in Angola geveg het. Ek huil sommer net daar, vee die trane met my hemp af sodat my maats nie my swakheid sien nie. Om geloof te behou, verg genade op genade. Ek lees die res van die koerant wat vir my skokkende nuus insluit: Stienie en Martin, die twee mense wat ons eerste ontmoet het met ons aan-koms in Rhodesië, ons gehuisves het dertig jaar tevore, Jean gehelp aanpas en geleer het van die plaaslewe, is op hul plaas vermoor. Ons het deur die jare groot vriende geword en die pyn van verlies dwing my op my knieë.

“Here, hoeveel smart moet ons nog beleef? Vir wat! Here, be-skerming ons families te midde van hierdie dwase oorlog.”

VERSIGTIG OPTIMISTIES

Dis ʼn ondraaglike warm dag. Ons sit met kaal bolywe buite die tent en trek al agter die koelte aan. Die bedompige hitte en lastige insekte maak ʼn middagslapie onmoontlik. Terwyl ons steen en been kla oor die hitte en insekplae, kom Trevor daar aan en beveel ons om netjies aan te trek, ons kry glo ʼn besoeker. Uit my klerekas van twee te groot broeke en twee hemde doen ek my bes.

Die besoekers is toe Tongogara, Tungamirai en twee ander man-ne onder begeleiding van ʼn groep rekrute. Ons word beveel om eenkant onder ʼn boom te gaan sit saam met die vier besoekers. Die rekrute gaan sit op ʼn afstand met hulle AK-47s voor hulle op die grond. Ons almal kry sadza en vleis om te eet. Terwyl ons eet, vertel Tongogara daar is nou nog net een fase wat ons moet deur voordat ons vrygelaat word.

Ek wil amper vir hom sê, “Ekskuus?” so groot is my verbasing. Is ons vrylating in sig? Wat verhinder hulle om ons nie dadelik vry te laat nie?

“With due respect, Sir, why don’t you let us go? We are just a nuisance to you.”

“All in good time.”

Thomas brom onderlangs. “Why not just say, ‘Perhaps Tomorrow’?”

Hy lig ons in oor die konferensie wat hulle met Smith gehad het en skud net sy kop toe hy vertel hoe hy vir Smith gevra het of hy die Tongogara vent ken? “Remember,” lag hy, “he is the one who put million dollar on my head.” Nadenkind sê hy, “There I was, standing in front of him! And he didn’t recognise me.” Hy lag lekker as hy sȇ dat hy Smith baie goed ken en so ook sy moeder. “A dear old lady,” sluit hy af.

“I don’t blame Smith for this mess. He is doing for his people what Mugabe is doing for us.” Hy sug swaar en sȇ dat hy net bekommerd is oor al die witmense wat die land verlaat.“They are good farmers, and we are all Rhodesians,” sȇ hy met oortuiging. Hy spreek sy misnoeë uit omdat almal hulle beskou as kommuniste.

“Yes we do receive assistance from them, because we must take help wherever we can get it, and nobody else would help. But that does not make us all communists, I wish you white people would stop this fighting. You can never win this war! Never!” Met hierdie driftige woorde staan hy op, groet en vertrek. Van wat ek hier in die bos beleef, wil ek met hom saamstem. Ons handjie vol wittes het nie ʼn kat se kans teen die oormag nie.

My gemoed is ligter noudat ek weer vol hoop is dat ons voor Kersfees tuis sal wees en ek hou met blye afwagting stiltetyd. Solank ek nie uit die oog verdwyn nie, laat die wagte my toe om my af te sonder om stiltetyd te hou.

SPEEK IN DIE WIEL

Ons troepe voer aanvalle in Mosambiek uit. Dit het ek self beleef. Ons verneem van ʼn groot offensief in Tete wat ons lot verander. Ons probeer vis wat gebeur het, maar kry geen detail inligting nie. Een van die aanvoerders spog net oor nog twaalf gevangenes wat hulle van Rhodesië af gebring het waarvan twee wit is.

Ons hoop om voor Kersfees tuis te wees, verdwyn soos mis voor die son. Aan Tongogara se vertelling het ons verstaan hulle het tot ʼn ooreenkoms gekom en ons was oortuig hulle wag net om te sien of die verskillende partye daarby sou hou. Nou lyk dit of hierdie Tete aanval ons vrylating in die wiele ry.

John verval weer in sy buie. Depressie dreig om my te oorval. Frelimo magte het nou beheer oorgeneem, ook oor ons bestemming. Dit word bevestig deur die Frelimo aktiwiteit om ons. Hulle jag Rhodesiese voetsoldate en ons word gewaarsku om buite sig te bly.

My geloof word tot die uiterste beproef. Daar is nie veel meer wat ek vir my maats kan sȇ om hulle op te beur nie. My eie geloof hang net aan ʼn genadedraad van Bo! “Here, hou my staande.” Ek is siek van ver-lange en onsekerheid.

Op ʼn dag word ons weer aangesê om onsself netjies te maak vir vername besoekers. Vier manne daag later op. Dis Josiah Tungamirai, nog ʼn aanvoerder wat ons nie ken nie en twee Frelimo amptenare. Ons doop die een ‘Fatso’ vanweë sy postuur en die ander een “Specs’ oor sy bril wat potsierlik voor op sy neus sit.

Ons word afsonderlik deur elk van die besoekers ondervra. Die vrae aan my het ek al vele kere beantwoord. Daarna deel hulle ons mee dat dinge nie goed lyk nie en hulle weet nie of hulle iets aan die saak kan doen nie. Ons word weereens gewaarsku om dit nie buite te waag nie. Hulle sal ons weer sien. Dis opvallend hoe die Frelimo’s en ZANLA magte saamwerk – eintlik werk die hele Afrika saam. ʼn Voorgevoel van onheil oorweldig my.

Die aanval op Tete was ʼn keerpunt in die oorlog. Toe Josiah en die twee Frelimo manne die volgende dag aangestap kom, voorspel hulle houding niks goeds nie. Josiah staan met ʼn uitdrukkinglose gesig voor ons, arms oor sy bors gevou. Kortaf word ons beveel om ons goed te kry en te kom. Die rekrute gryp ons klere wat oral oor die klippe gestrooi lê, druk dit in ʼn boks en begin hardloop met ons agterna, met nie ʼn idee wat aangaan nie. Die Frelimo’s praat nie ʼn woord Engels nie en Josiah tolk, verduidelik dat ons nou aan Frelimo oorhandig word en ek kan sweer hy sê saggies: “Sorry.”

Ons verneem ons is op pad Maputo toe. Ek is verward want net nou die dag nog het Tongogara vir John gesȇ hy sal voor Kersfees tuis wees. Wolhaarstories of nie, ons glo Josiah toe hy sê ons is op pad Maputo toe, daar is glo beter kos en blyplek. Ons skep moed en maak weer planne. Miskien kan ons die Engelse Konsulaat kontak en vra of hulle kan onderhandel om ons vrylating te bewerkstellig. Ons kanse om malaria te kry sal ook minder wees as hier in die bos. Dat nie een van ons tot hiertoe malaria gekry het nie, is net ʼn won-derwerk.

DIE LUGHAWE

Ons beur weer deur die bosse met lywe wat dit ontgeld. Ons bene en arms raak bebloed van die gekrap van takke en dorings. Thomas struikel dikwels en word regop geruk en verplig om die pas vol te hou.

Gehawend kom ons uiteindelik by ʼn ontmoetingspunt aan waar twee jeeps wag. Trevor klim voor in die een en beveel ons om agterop te klim saam met ʼn halfdosyn onvriendelike Frelimo wagte. Josiah klim in die ander jeep wat ook agterop volgepak word met vegters.

Ons skommel ʼn hele ent voort voordat ons uiteindelik ʼn teerpad bereik waar ʼn bussie wag waarin ons oorklim. Ek gaan sit met ʼn gevoel van genoegdoening op ʼn sitplek vir die eerste keer in maande.

Kort voor ons Tete bereik, draai ons af by ʼn padaanwyser, “AIRPORT.” Versigtige opgewondenheid vervang die vrees van vroeër. Ons hou onder ʼn boom stil, word beveel om af te klim en in die lang gras te lê. Die ZANLA en Frelimo manne beraadslaag buite hoor-afstand. Dis ʼn geredekawel en die ou vrees sluip met mening terug.

Die Frelimo’s ry weg, net ʼn paar van hulle wagte, Trevor en ʼn ZANLA medic, Alpha bly agter. Trevor doen die tolkwerk. Nie een van ons het water nie. Toe ek kla oor die dors en ʼn erge hoofpyn, kyk die wag my net skeef aan. Dinge lyk nie belowend nie.

Ons lê waar ons lê. Heelwat later sluit nog Frelimo soldate by die groep aan. Hulle vorm ʼn sirkel om ons en beveel ons om te bly net waar ons is. Ek voel in elk geval so sleg dat ek gewilliglik bly lê.

Adrenalien pomp teen my ruggraat af – vrees. Ek haal diep asem en hoor in my gedagtes die vele opdragte in die Skrif wat ons maan om nie te vrees nie. Dis een ding om te sê ek vertrou die Here, dis ʼn ander ding om dit te doen! Ek laat my asem stadig uit en die gevoel van die adrenalien inspuiting verlaat my rugstring stadig.

Heelwat later bring hulle water wat ek met moeite op my maag lê en drink. Die minute tik eindeloos stadig verby voordat ons uiteindelik toegelaat word om regop te sit en tot ons verligting bedien word met yskoue water en kos wat ʼn soldaat gebring het. Ek buig my hoof en dank die Vader vir die water en kos. Toe ek my oë oopmaak sien ek nie een van my maats of die soldate het al begin eet nie. Vuil hande of nie, ek val weg en eet geesdriftig. Wat ʼn heerlike maal!

Die geluid van ʼn vliegtuig wat aangeskakel word, laat ons al vier se koppe soos een man in die rigting van die geluid draai. Ons sit regoor ʼn vliegveld! Natuurlik, dis mos wat op die afdraaipredikant gestaan het “AIRPORT”. Daar staan ʼn vliegtuig groot genoeg vir vier mense – gereed om op te styg! Stadig kom dit in beweging.

John vlieg eerste op en swaai sy arms. Geen geweerloop kan ons nou op die grond hou nie. Ons ander drie volg sy voorbeeld. En daar staan ons vier met swaaiende arms en skree vir ʼn vliegtuig wat onver-stoord oor die aanloopbaan sy gang gaan en opstyg. Totaal onbewus van ons, verdwyn dit die bloute in. Verslae laat ek my arms val en sak neer op die grond. Vier groot mans se arms hang moedeloos oor hulle knieë en trane rol van hulle wange. Miskien sal hulle omdraai en ons kom haal. Ons wag tevergeefs!

KAMP BY TETE

Later word ek en Thomas in een jeep gelaai en Jim en John in ʼn ander. “Ag Vader,” bid ek, “laat die twee jonges asseblief uitmekaar se hare bly.” Ons ry tot naby Tete en stop in ʼn groot kamp. Dis bewolk en bedompig. Ons tent word tussen die soldate sʼn opgeslaan. Elkeen kry ʼn dun spons matras, geen kombers of kussing nie.

Ons vier is net ingeburger in die nuwe omgewing toe dit begin donder en blits en ʼn stortbui uitsak. Die temperatuur daal vinnig en die water sif deur ons tent. Alles raak deurdrenk, ons klere, matrasse alles. Ek probeer die nattigheid van my afweer met my jas wat, dank die Vader, deur al die vlugtogte nog in my besit is. Dit help om my lig-gaamshitte binne te hou. Ons stapel die matrasse opmekaar in ʼn poging om dit droog te probeer hou – tever-geefs. Almal is nat en bibber van die koue. Ek is honger.

Na die stortbui sit ons buite op boomstompe wat oral rondstaan. Trevor is besig om met die Frelimo’s praat. Hy beduie in ons rigting. Die stemme klink aggresief op in Portugees. Waaroor die gesprek ook al was, ons word later met pap en olierige vis bedien. Teen hierdie tyd is ons al so honger dat ons almal sumier wegval en eet, tot Thomas soek vies-vies stukkies vis tussen die grate uit om saam met die pap te eet.

“One way or the other, we’ll convert you to a real African,” spot ons hom.

Hierdie oorlog is tot niemand se voordeel nie. Ek besef hoe skaars kos is toe ek na buite kyk en sien die troepe moet met net pap tevrede wees. Die jong rekrute sit kaal bolywe op die klippe rond en vanwaar ek sit, kan ek hulle ribbes tel. Ek bid dat hierdie sinnelose oorlog ʼn einde moet kry. Hoeveel van hierdie kinders sal hulle ouers ooit weer sien? Sal hulle die onnodige oorlog oorleef?

Na ete beduie die wagte ons moet gaan was. Ek trek my jas uit en sit dit op die stapel nat matrasse neer en gryp ʼn stuk goiingsak om mee te was. Thomas vat sy klein handdoekie wat hy soos goud oppas saam. Deur die modderplasse neem die wagte ons na ʼn sloot wat bruis van die afloopwater na die reënbui. Dis ons wasplek. Ons stroop ons nat klere af en pak dit uit op die klippe onder die starende oë van die wagte, seker nog nooit ʼn kaal witman gesien nie. Ons trotseer die bruisende water, gelukkig nie diep nie. Die goiingsak doen sy waswerk en Thomas se handdoek die afdroogwerk. Ons is weer ʼn slag sweetvry en Thomas sit met ʼn baie vuil handdoek.

Die voertuie is nie meer in die kamp nie. Ons word aangesê om voor die tent te bly sit. Die Frelimo’s en ander troepe omsingel ons. Hulle vloek en skel op ons met wrokkige venyn en gebalde vuiste in die lug. Die woorde ‘assassinos!’ klink op in die kakofonie van stemme en stampende voete. Ons is gewoond daaraan om geparadeer en geskel te word, maar hierdie is ʼn perd van ʼn ander kleur. Die gejil hou aan totdat ʼn bevelvoerder die skare tot bedaring bring met ʼn stortvloed van woorde en ʼn beduiery na ons wat elmboë op die knieë grond toe staar. Die skare ontbondel en gaan uiteen. Hierdie vertoning van haat moet ʼn nasleep wees van die slagting wat hier in Tete plaasgevind het. Trevor beaam my vermoede.

“They think you are the people responsible for the lates massacre and want to know why you are still alive,” verduidelik hy.

Ons vrees vir ons lewens. Hierdie mense sal ons keel afsny sonder om ʼn oog te knip. Hulle het rede vir hulle wrokkige gedrag. Ek verstaan nou hoekom Trevor-hulle ons so goed oppas. Ons hou onsself skaars maar is verplig om ʼn ander geveg aan die gang te sit, ʼn geveg teen ʼn verbete vyand wat geen landsgrense ontsien nie – muskiete!

 

DIE VLIEGTUIG WAG

Drie dae later kom Specs en Fatso aangejaag met ʼn jeep. Dis so drie-uur.

“Your flight is ready!” kondig Specs aan. “Get your things and come!”

Thomas gryp sy gebreide kussinkie en ʼn paar goedjies. Ek klou my jas vas. Jim gooi al ons losgoed in ʼn boks en laat spaander jeep toe. John is kort op sy hakke met sy bosbaadjie oor sy skouer. Ons kan nie vinnig genoeg agterop die jeep kom nie en gee nie om om die ruimte met vier wagte te deel nie. Ons is op pad huis toe! Die opgewondenheid kry totaal die oorhand en ons babbel soos ʼn klomp skoolkinders. Ons is op pad Maputo toe, ʼn tree nader aan die huis. Ons stop in ʼn halfvol-tooide terminaal en word beveel om te wag.

Ons is nou doodstil, elkeen besig met sy eie gedagtes. Aan die manier waarop Specs na ons aangestap kom, merk ek onraad op. Toe kom dit: “There is room for only two on this flight,” kondig hy aan. Die teleurstelling is op almal se gesigte te lees. Wie sal dan eerste gaan? Trevor stel voor dat ek en Thomas eerste aan die beurt moet kom. Vir een of ander rede gaan die Frelimo’s so tekere, tot ons kan verstaan dis ʼn duidelike “Nee!”

“The two youngsters will go first,” kom die bevel.

Jim en John gryp hulle goed en begin hardloop. En daar gaan ons boks onder John se arm en ek wonder of ons ons goed ooit weer sal sien. Ek moes hierdie afgelope maande soveel keer van my karige besittinkies afstand doen dat ek ook hierdie verlies gelate aanvaar.

Trane loop onbeskaamd oor my wange, terwyl ek magteloos toekyk hoe die twee jonges vertrek. Ek draai my gesig weg en probeer myself bedwing. Thomas steek sy hand in die lug maar kry nie ʼn woord uit nie. Hier het beslis ʼn verandering van planne geskied, want selfs Trevor kyk die twee kopskuddend agterna.

Verslae stap ons terug jeep toe. Nie een sȇ ʼn woord nie. My gemoed is vol. Thomas druk sy gesig in sy gebreide kussing. Ek haal my bottel water uit my sak en probeer die trane wegsluk.

Trevor probeer troos: “They will pick you up tomorrow, keep it up!” Trevor is nog besig om ons moed in te praat toe die jeep tot stilstand kom. Ons word inderhaas in die veld versteek. Daar is glo ʼn pad-blokkade vorentoe. Ons bring ʼn slapelose nag deur in die lang gras. Ek wonder of Jim en John nou al ʼn warm bad gehad het en met ʼn yskoue drankie in die hand sit. Hier lê ons in die lang gras waar die muskiete ons opvreet! Gelukkige twee swernote! Dit moes ons gewees het! Die oudstes moes voorkeur gekry het! Ek het ʼn ernstige binnegesprek; herinner myself daaraan dat my lewe in God se hande is; Hy is by my al gaan ek deur ʼn dal van doodskaduwee. Môre gaan ons Maputo toe! Ons is op pad huis toe! Ek sluimer tog in.

Vroegoggend word ek wakker van ʼn geroesemoes om ons. Ons is omsingel deur Frelimo’s. Ek kyk deur slaapbenewelde skrefies oë vas in ʼn AK-47. Trevor verduidelik driftig in Portugees en wys om die beurt na ons en na homself en die wagte. Genadiglik skiet hulle nie, maar deur-soek ons van kop tot tone terwyl Trevor bly verduidelik. Blykbaar te-vrede laat hulle ons teensinnig gaan. Trevor waarsku ons om vir ons eie beswil nie onder hulle oë uit te beweeg nie. As nagedagte belowe hy ons ʼn wassessie in die rivier, waarop Thomas met, “Swim with the crocodiles…” snork.

SIELSGEVEG

Hier in die bos leer ek om dankbaar te wees vir elke stukkie kos. Na twee dae sonder kos, kry ons weer olierige vis, hierdie keer met rys. Thomas kyk vies na die olierige bak. Ek dink terug aan die rekrute wat kaal bolyf, koud en nat, tevrede moes wees met net pap. Ek buig my hoof en dank die Vader vir die kos. Tot my vebasing buig Thomas sy hoof saam met my voordat ons die stukkies vis tussen die grate begin uitvis.

Daardie nag, terug in die tent, voer ons oorlog teen die muskiete. Dit lyk naderhand of ons pokke het. Dit demp egter nie ons opgewondenheid nie. Die volgende oggend spoel ons ons gesigte af met water wat in die ketel oorgebly het, vryf dit oor ons hare en trek ons klere reg. Ons moet darem respektabel lyk as hulle ons netnou kom haal. Die ure draal verby. Niemand daag op nie…

“I told you they won’t come,” beaam Thomas die aand my gedag-tes en voeg sarkasties by, “Perhaps tomorrow!”

Dit begin weer reën. Of ons binne of buite is, maak nie saak nie, ons word nat. Dit reën sonder ophou! Ons praat nie meer nie, skuif net van een nat kol na ʼn minder nat kol. Ek is koud tot op die been.

Dis nou al dae en steeds wag ons!

Ek sit in sak en as, nes Job. “Here, ek voel so verlate en verlore. Hoekom kon ons nie op daardie vliegtuig geklim het nie? Hoekom laat U dit nie ophou reën nie? Hoekom sit ons in ʼn nat tent vasgevang? Hoekom antwoord U nie my gebede nie? Waar is U wanneer ons U nodig het?” baklei ek. Ek skrik vir die intensiteit van my gedagtes. Wie is nou die vyand, die mense daar buite of my eie gedagtes? Ek buig laag neer met my gesig in my hande.

“Here, my Here, by wie anders kan ons skuil? By wie?” Warm trane loop teen my neus af. Die woord ‘lydsaamheid’ wat in die Petrusbrief deel is van ʼn reeks gedragspatrone van God se kinders, kom by my op. Ek probeer die volgorde onthou soos Petrus dit gelys het. Ek weet geloof is eerste op die lys en dat geloof uitloop op goed-heid. Dan is dit ‘kennis’ waaroor ek altyd wonder. Dit moet kennis oor God wees en wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het, immers is dit vir Hom wat ons moet liefhê met ons hele hart en verstand. By die kennis, skryf Petrus, moet ons selfbeheersing voeg en dan kom ‘lydsaamheid’, die woord wat my gedagtes vul, geduld onder moeilike omstandighede, en dis waar ek nou is. Petrus gaan voort deur te sê dat ons by die lydsaamheid godsvrug, broederliefde, naasteliefde moet voeg. Ek speel die woorde oor en oor deur my gedagtes: geloof, goedheid, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug, broederliefde, naasteliefde. Jesus het naasteliefde een trap verder gevat: Jy moet jou vyande liefhê! Het ek die mense hier om my lief? Hoe wys ʼn mens hierdie liefde?

My kragte is min en ek bring die meeste van die tyd in gebed deur. Ek vra vir wysheid en geduld om hierdie beproewing te deurstaan, die beskerming van ons families, vir ons veiligheid. “By U Here skuil ek, op U vertrou ek. My kragte is min, ek is swak! U is my krag en sterkte!” Die onrus bedaar.

Trevor en Alpha kom maak hulle tuis in die tent. Hulle trek van hulle klere uit en druk dit in die gate waar dit die meeste lek. Dit help nie veel nie. Dit reën eenvoudig te veel. Hierdie twee mans het ons twee oues deurgaans met respek behandel, ons beskerm teen die Frelimo’s, uit hulle pad gegaan om ons van kos te voorsien en offer nou selfs van hulle klere op. Ek kan nie anders as om met respek aan my bewaarders te dink nie.

Hulle glo met hart en siel in wat hulle doen, trotseer elke struikelblok en hierdie haglike omstandighede waarin hulle leef sonder ʼn gemor. Daar was al ʼn paar benoude oomblikke waar ek gedink het dis nou klaarpraat met ons, maar Trevor-hulle het ons beskerm, opgepas en gevoed so goed as wat hulle kon. Vir die Frelimo’s is ons die vyand en is ons kanse nul.

Ek is koud, seer, styf en ongemaklik. Moeg tot die dood toe, sluimer ek in en droom ek sit op ʼn klip in die son met ʼn droë jas aan en ʼn beker warm koffie in die hand. Ek word egter hard aarde toe gebring toe ʼn yskoue stroom water op my land – nog ʼn skeur in die tent. Die stroom water deur die tent het ook vir Thomas, Trevor en Alpha op hulle voete. Ek stel voor ons grou ʼn sloot om die tent en omdat ek en Thomas nie uit mag gaan nie, word dit Trevor en Alpha se taak. Ons sien hoe Trevor iets aan die Frelimo’s verduidelik. Die Frelimo’s slaan geen ag op sy woorde nie. Hulle kom die tent weer binne, onverrigte sake en die water bly deur die tent stroom.

Thomas brom weer oor Jim en John wat nou heerlik in die son sit en bak, met ʼn koppie warm koffie in die hand. “We are there seniors, we should have gone first,” brom hy voort. Ek sȇ niks nie…

 

KNAENDE HONGER

Ek hoor vliegtuie land en opstyg. My baard loop omtrent deur – elke keer as ek ʼn vliegtuig hoor land, draai ek dit in ʼn stywer lok van opgewondesenuagtigheid. Telkens moet ek myself daaraan herinner dat my lewe en hoop in die hand van die Here is, al kom ek ook om in hierdie bos. Aan die einde van elke dag sug Thomas: “Perhaps to-morrow…”

Oukersaand: Ek maak my oë toe, sien my familie om die kers-boom in die hoek van die sitkamer; sien hoe hulle die pakkies oopmaak. Ek wonder of daar vir my ook een is. Weet hulle dat ek nog lewe?

“Here!” Ek sak neer, my kop op my knieë, my hande inmekaar gestrengel voor my kop en ek huil my hart voor die Here uit.

Kersdag: Alpha is dagaf en vertrek. Hy belowe om vir ons iets lekkers te bring. Ek het geen verwagting dat hy sy woord gestand sal doen nie. Die son skyn! Ons word toegelaat om die tent te verlaat en ons goed te probeer droog kry waarvan die matrasse die belangrik-ste is. Net toe ek dink ons het die stryd gewen, begin dit teen vyfuur weer sous!

Die nuwe Frelimo bevelvoerder loer by ons in en vra na ons welstand. Ons kla by hom dat ons nat en koud is en twee dae laas kos gehad het. Hy belowe die kos is op pad. Tot my verbasing loop hy uit en grou ʼn sloot om die tent met sy bajonet in die gietende reën. Ons be-dank hom oor en oor, want nou loop die water darem nie meer deur die tent nie. Ons kom egter nie droog nie en is rasend honger.

Thomas lyk moedeloos verby, hy staar net in die niet deur die reëngordyn. Sy sigarette is lankal klaar. Ek kry hom jammer. Hy lyk uitgeteer want hy sukkel om die bietjie kos wat ons kant toe kom in sy liggaam te kry. Ek self voel nie te wat wonders nie. Die daaglikse mus-kietaanslag dra by tot my gevoel van mistroostigheid.

Ek het malaria gehad toe ek in Rhodesië aangekom het en daarvoor sien ek nie weer kans nie, buitendien is my gestel so af dat ek dit seker nie sal oorleef nie. ZANLA het darem af en toe vir ons malaria tablette gegee maar dis lankal klaar. Miskien is dit die rede hoekom nie een van ons tot dusver malaria opgedoen het nie.

My gedagtes dwaal terug na die tyd toe ons deur ZANLA versorg is. Hulle het ons darem af en toe ʼn hoender laat kry, of vleis al was dit in blikkieformaat. Hoe ironies dat ek nou terug verlang na dae wat ek toe as haglik beskou het. Ek is vies vir myself. Ek moes die voorraad wat ek gehad het saamgebring het. Maar nee, ons is mos op pad Maputo toe waar alles beter is! Wie wil nou blikkies saamdra as jy lig kan beweeg?

Sesuur kry ons uiteindelik kos, smaaklose olierige vis en bietjie olie deurdrenkte rys. Hulle het glo ure in die modder vasgesit. ʼn Mens moet eintlik om verskoning vra eerder as om oor die kos te bid, en dit het niks met fiemies te doen nie, dis rêrig sleg!

“Ons Kersmaal,” sȇ ek en begin stukkies vis saam met ʼn paar ryskorrels eet. Ons praat maar min.

LAAT KERSMAAL

Alpha hou sy belofte en kom al singende die dag na Kersfees terug met ʼn bondel komberse, lemoensap, blikkieskos, pakkies glukose lekkers, beskuitjies en driehonderd sigarette vir Thomas!

“Sorry Thomas,” maak hy verskoning, “I could not get matches for you, but we’ll make a plan. I will see what I can do for you,” sê hy met ʼn buiging. Asof dit nie genoeg was om ons op te beur nie, tower Alpha ʼn radiotjie uit die bondel komberse op!

Saam geniet ons ʼn heerlike laat Kersmaal. Ons buig ons hoofde en ek dank die hemelse Vader vir die kos en veral vir die droë warm komberse en radio. Nou kan ons weer na die versoekprogram luister en wie weet, dalk het ons mense ons briewe gekry en hoor ons nog ons name oor die radio. Net miskien! Alpha kry toe wel vuurhoutjies in die hande.

Thomas pak wat ons nie dadelik kan ëet nie terug in die boks waarmee Alpha dit aangedra het. Hy vang ʼn Frelimo soldaat wat homself aan ons kos probeer help en verwilder hom. Na dié insident pas hy die boks op asof sy lewe daarvan afhang. Ons eet die kos bietjie-vir-bietjie om dit so lank moontlik uit te rek.

 

UITEINDELIK – ʼn VLUG WEG VAN DIE KAMP

Dis twaalfuur, die agt-en-twintigste Desember. Specs en Fatso kom gly-gly die kamp binne gery. Ons vliegtuig is gereed. Ons moet alles net so los want waarheen ons gaan, gaan ons niks nodig hê nie. Dit sal die dag wees! So laat ek my nie weer vang nie! Ek gryp lemoensap, glukose lekkers en beskuitjies en Thomas natuurlik sy sigarette. Die res los ons vir Trevor-hulle.

By die lughawe groet Trevor ons en lyk skoon bewoë. “Good luck,” sȇ hy. Die manier waarop hy dit sȇ, laat ʼn snaakse krieweling langs my ruggraat afgaan.

“Maybe we will see you in Zimbabwe,” groet Alpha in reaksie op ons gegroetery en soveelste uitspraak van waardering vir die heerlike feesmaal.

Opgewonde klim ons in die sessitplek vliegtuig. Ons is op pad Maputo toe! Specs en Fatso sit in die middelste ry met ons in agterste een. Die vier Frelimomanne gesels luidrugtig met mekaar in Portugees. Ek is so opgewonde ek vergeet amper om asem te haal.

“Tete lyk verbasend groot vanuit die lug,” dink ek hardop.

Thomas gryp my aan die arm en fluister, “We are not flying in a southern direction.” Ons vlieg noordoos. Wat op aarde is nou weer aan die gang?

“Miskien vat hulle ons Tanzanië toe en laat ons daar vry?” sȇ-vra ek bekommerd. Die vlieëniers lag, praat en rook die lug in die kajuit blou. Ek verstaan nie ʼn woord van wat hulle praat nie. Op die oomblik is enigiets egter draagliker as die dae in die reën en nat tent.

Skielik kry die radio lewe. Die stem wat deur die geknars kom, praat in ʼn vreemde taal. Sou dit Russies wees? Ek voel hoe die vlieg-tuig stadig begin daal. Regs van ons is die see en onder ons lê ʼn groot begrensde terrein met wagtorings. Daar’s geen beweging nie. ʼn Tronk? Ons land op ʼn lughawe waar enkele klein vliegtuie en ʼn paar helikopters staan, geen groot vliegtuig nie. Die plek lyk spookagtig verlate. Ons word ingelig ons is nou in Nampula in die noordooste van Mosambiek.

“Ons land seker net vir brandstof en vlieg dan verder,” fluister ek.

Ons hoop word verpletter toe ons beveel word om uit te klim. Fatso en die loodse verlaat ons, net Specs bly agter. Wat nou! Niemand verduidelik wat aangaan nie. Al wat ons van Specs se enkele Engelse woorde kan aflei is dat hy moeg gewag en honger is.

ONGEVRAAGDE BESTEMMING

Fatso se gewag word beëindig toe ʼn voertuig by ons stilhou waarin ons gelaai word. Ons trek weg en word so te sê dadelik voorgekeer, beveel om uit te klim en beduie om op die weermagtrok wat gereed staan, te klim. Net ek en Thomas en twee Frelimo soldate met oorgehaalde ge-were op ons gerig, is agterop. Wat nou? Ons is beslis nie op pad Maputo toe nie.

Die onsekerheid vreet my op! Ons ry deur ʼn dorp met paar prag-tige huise. Voor sommige van die huise staan wagte. Ander huise is halfklaar soos die Portugese dit gelos het toe hulle die land verlaat het. Ons ry verby barakke, stop by ʼn vulstasie vir petrol en vat weer die pad.

Die drywer jaag op die oop pad soos ʼn besetene. Word ons agter-volg of moet hulle voor donker op ʼn plek wees?

Ons mag nie met mekaar praat nie, die arme Thomas kry amper ʼn koeël deur die kop toe hy ʼn lekker uit sy sak probeer haal. Hierdie wag-te lyk ongenaakbaar. Bandoliere is om hulle lywe gedrapeer, gereed vir aksie. Hulle waarsku ons om stil te sit en nie enige beweging te maak nie. Dis baie gevra as jy van die een kant na die ander kant skommel met niks om aan vas te hou nie!

Na sowat ʼn uur en ʼn half, draai ons oos. Ons ry deur nog ʼn dorpie. Net buite die dorpie is ʼn lang gebou omring met ʼn wit muur. Ons is dui-delik op pad daarheen.

“Must be some kind of resort,” fluister Thomas, sonder om sy kop te draai. Dit kon nie verder van die waarheid af wees nie.

Ons hou stil voor groot hekke. Wagte staan nader en wissel woorde met die bestuurder voordat hulle die hekke oopmaak en ons deurry tot binne die ringmuur. Ons bestemming is ʼn gevangenis!

“Wat nou, Here!” skreeu my binneste.

Bars word ons beveel om af te klim. My bene wil nie lekker saam-werk nie. Hulle deursoek ons en vat alles.Thomas groet sy sigarette. Hulle vat tot my belt en my te groot broek val tot op my knieë. Ek pluk dit op en hou dit met albei hande vas. Wat op aarde is hier aan die gang? Ons staan voor die lang gebou met staaldeure wat oopmaak op ʼn stoep, almal dig toe. Die gemurmel van stemme agter die geslote deure is hoorbaar. ʼn Intense stank hang in die lug. Stemme agter ʼn deur digby, is onderskeibaar. Ek ken daardie aggresiewe stemtoon alte goed.

“Dis mos John se stem?” fluister ek onderlangs.

Ons staan roerloos. Die werklikheid van ons situasie dring tot my deur. Ek wil met alles in my wese wegbeur en die pad vat. Helaas, dis my nie beskore nie. Die seldeur word oopgesluit en ons word inge-stamp. Die oorweldigende stank van ontlasting en ou urine laat my terugsteier, maar die geweerkolf in my rug dwing my na binne.

Dis skemer in die sel, ek haal deur my mond asem. ʼn Klein ven-stertjie bo in die dak laat effens lig in. My oë raak gewoond aan die skemer. Teen die een muur, ʼn armlengte van my af, sit Jim en John elk met ʼn siniese grynslag. In die hoek, verste van die deur af is ʼn stin-kende gat omring met krioelende larwes, brommers vlieg op en af en land weer op die ontlasting in die gat. Die mure is smerig en weeluise kruip in en uit die krake.

Thomas staan versteen, wasbleek! Ek sak neer op die koue nat vloer, kyk vraend na Jim en John. Ek voel totaal verslae en verlate. Dit móét die hel wees, dit kan nie erger nie! My hele wese skreeu uit na God, wat op die oomblik bitter ver voel! Vir die tweede keer in ʼn kort tydjie verlang ek na die vorige haglike omstandighede, reën, muskiete, nat matrasse en klere, maar vars lug! Die twee weke plus in die reën en nat tent, was ʼn fees teen hierdie stinkende bloedbesmeerde, wurm-krioelende helput!

Ek wonder of die Here my wil leer om vergenoegd te wees met wat ook al my pad kruis; dat omstandighede altyd erger kan wees.

“Here, hoor U my nie? Hoe kan ek die mense om my bemoedig as ek self nie rigting of raad het nie?” Met my gesig op gebalde vuiste wend ek my tot ons hemelse Vader. Dit voel of my binnewoorde teen die sementplafon vaslaan totdat my gedagtes verlig word met my gunsteling Skrif: ‘Hy wat sit in die skuilplek van die allerhoogste, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. En ek sal vir die Here sȇ my bergvesting my God op wie ek vertrou. Want Hy sal my red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.’ Op die klam vloer sit ek en prewel hierdie woorde oor en oor. Ek kom tot bedaring en spreek op-nuut my vertroue in die Here in my gedagtes uit, “By U skuil ek, Here.” As bevestiging vir my vertroue in die Here onthou ek Paulus se woorde aan die Fillipense: ‘Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om ver-sadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.’

Ek raak kalm, maak my rug reguit, lig my kop op en kyk die twee jongmanne in die oë. “Om te dink ons het julle beny, omdat ons gedink het julle sit in die son met ʼn koue drankie op die strand, terwyl ons in ʼn muskietnes moes agterbly. Ons het geen idee gehad nie.” Was dit uit genaakbaarheid wat die Frelimo’s die jonges eerste na die helput toe te gestuur het? Die nat van die vloer trek deur my lyf en ek probeer op-staan.

John kyk ons twee oues simpatiek aan: “Welcome aboard” sȇ hy lakonies.

Die sel is klein, te klein vir vier groot volwasse mans. Die gat in die hoek beslaan ʼn groot deel van die spasie. Ons word elkeen toegerus met ʼn smal matras, laken en knopperige kussing – alles reeds gebruik en vuil. Ons stapel die matrasse opmekaar sodat daar loopspasie is.

Slaaptyd pas ons die matrasse met ʼn groot gesukkel in. Niemand wil met sy kop naby die toiletgat lê nie. Ons lê ingeryg langs mekaar, koppe deur se kant toe waar ons ʼn klein spasie oophou vir ons skoene en bekers wat vinnig verwyder moet word as die wagte se sleutels by die seldeur klingel.

Daardie aand slaap ons nie veel nie. Ons ruil wedervarings uit. Van wat ons van die twee jonges verneem, sien ons op teen ons verblyf hier. Kort-kort wil Thomas braak en ek is nie ver daarvan af nie.

“Drink a small sip of water,” beveel Jim aan.

Thomas vra of hulle hulle Kersmaal geniet het nie. Hulle vloek onderlangs. Dit vat ʼn hele ruk om hulle tot bedaring te bring.

Ons is gelukkig om lakens te kon kry want die muskiete maak kleingeld van ons. Ons draai onsself van kop tot tone toe, om te ver-hoed om opgevreet word. Soggens is ons lakens so bloedbevlek dit lyk of ons deur ʼn slagveld geloop het. Ons kla by die wagte en wys hulle die bloedbevlekte lakens en die bytplekke wat lyk soos ʼn maselsuitslag. Ons verduidelik aan hulle ons kan malaria kry en vra vir voorkomende malaria pille.

Die een stank deurdrenkte dag na die ander gaan verby. Die hoogtepunt van elke dag is die tien minute wat ons soggens buite mag rondbeweeg, terwyl ons ontbyt eet. Die eerste paar dae kry ons swart tee en ʼn sny brood. Daarna is dit net koue pap en soms ʼn piesang. Die paar minute in die vars lug is hemels! En dan is daar die middag was-sessies, ook in die binnehof. Tussen ons vier kry ons ʼn emmer water waarmee ons tevergeefs poog om die stank af te was.

MALARIA

Jim kry malaria. Eers bibber hy van die koue, dan pak ons hom toe met al die lakens en kussings, dan ontwikkel hy ʼn hoë koors. Ons water-rantsoen word gebruik om sy koors te probeer breek terwyl ons ander net lippe natmaak. Hempsmoue word afgeskeur en in ʼn beker water natgemaak om sy voorkop mee af te koel. Die stukke lap word weer oor die beker uitgedroog sodat daar water is vir die volgende rondte. Ons laat Jim slukkies water neem om sy koors te probeer afkry. Die wagte verneem hoekom Jim nie uitkom vir die tien minute ontbytsessie nie en trek net hulle skouers op toe ons hulle inlig dat hy malaria het.

Hulle bring tog later vir ons elkeen twee malaria pille en ʼn blik insekdoder.

Ons werk spaarsamig met die spuitgoed om die ergste muskiet-aanslae af te weer. Na elke spuit is daar vir ʼn wyle ʼn skietstilstand tussen ons en die muskiete voordat die volgende aanval weer geloods word. Jim herstel stadig van die malaria aanvalle wat ure lank duur. Hy is swak en kla van hoofpyn.

Dae gaan eentonig verby in die te klein sel sonder ventilasie. Die reuk van insekdoder, koors, urine en ontlasting bly in die lug hang – die ergste bly die ontlasting. Ek bekyk die mure wat besmeer is met weeluiskarkasse. Met ʼn passie verlang ek na die bos, na vars lug. Vergete is al die swaarkry, die koud en die honger wat ek daar ervaar het.

In die stilte van die nag stort ek my hart voor die Here uit. Ek dink aan Paulus en Silas, wat vasgeboei in ʼn sel, lofliedere gesing het. As hulle vasgeboei was, hoe het hulle hulle privaat besigheid gedoen? Met oortuiging kon ek die Here dank dat ek nie vasgeboei is nie.

Ek druk my kop in die kussing om die snikke te demp. “Here, dan-kie ek is nie geboei is nie, maar ek kan die stank, wurms en gemors om my nie meer vat nie!” Ek verlang na my Rooikop se sagte lyf, na die reuk van haar nabyheid. Ek snik so hard dat Jim my aan die skouer vat. “Are you okay, Johannes?” vra hy bekommerd.

“Sorry, I just miss my family,” sug ek. Hoe bemoedig ek die manne hier om my? Het ek nog iets vir hulle te sê, ek wat self worstel om my geloof te behou in ʼn God wat my net al dieper in die dal van dood-skaduwee inlei? Ek moet myself aanhou oortuig dat God nie kan lieg nie. Dat Hy ʼn uitkoms sal bewerkstellig.

KAPOKHANE

Vir middagete kry ons die nou bekende olierige vismengsel met pap, rys of spaghetti, maar meestal pap. Ons is honger genoeg om die kos af te forseer. Ons almal se kondisies is besig om te verswak. Dis veral Thomas, vir wie dit ʼn ewige stryd bly om die olierige vis in te kry, wie se gestel die vinnigste agteruit gaan. Soms kry ons koue pap en blikkies-vleis – honderd maal beter as die visbrousel.

Hulle hou ons weg van die ander prisoniers waarvan hier baie is. Hulle word uit die binnehof verwyder wanneer ons uitkom. Ons kom mettertyd agter die sel langs ons sʼn word deur ʼn Portugees en ʼn kleurling beset.

Een middag toe ons weer uitgelaat word om onsself in die binnehof te gaan was, raak Jim en John aan die baklei. Jim trap op John se voet en dit ontaard in ʼn gestoei om eerste by die emmer water uit te kom. Hulle kry mekaar met die vuiste beet en dit oor ʼn emmer water! Die geveg word kortgeknip deur die wagte wat hulle met behulp van AK-47s uitmekaar kry. Die wagte tree hulle teen die muur aan waar hulle bly staan totdat ek en Thomas klaar gewas het voordat hulle een vir een ʼn wasbeurt kry, nou mak soos lammetjies.

Dis egter nie die einde van die storie nie. Later die aand kom ʼn Frelimo bevelvoerder by ons aan en wil weet wie van ons Chilapalapa verstaan en praat. Ek ken die brouseltaal redelik en tree op as tolk. Hy vra uit oor die geveg vroeër die middag. Ons stel hom gerus dat die vrede herstel is en dat dit net ʼn misverstand was. Hy is nie tevrede nie en wil weet wie dit begin het. Ek is verplig om vir hom te sȇ dit was Jim. Hy bekyk Jim op en af. Jim lyk boosaardig met sy woeste swart baard en deurmekaar hare, ek nie weet wié vir wié bang moet wees nie. Jim het egter geen verweer teen ʼn man met ʼn AK-47 nie, al lyk hy hoe intimiderend.

Die bevelvoerder sȇ dat hy nie sulke gedrag in sy gevangenis sal duld nie en as dit weer gebeur, hy weggevat en sy keel afgesny sal word. Daarmee trek hy sy vinger oor sy keel. “Dan is dit klaar met jou!” beduie hy, draai om en stap weg. Hierdie is nie ydele praatjies nie. Ons is alte bewus van boere wat verdwyn het sonder taal of tyding.

KLEIN GENADES

Later daardie aand vra Jim of hy my ʼn guns kan vra. Verbaas wonder ek wat ek vir hom kan doen in hierdie omstandighede.

“Will you pray for me tonight,” vra hy diep bekommerd.

“I will,” verseker ek hom en voeg by dat ek in elk geval vir ons almal bid. “But tonight I will say a special prayer for you,” belowe ek.

Benoud vra Jim die volgende oggend, “Did you keep your promise, Johannes?”

Ek dink diep binne besef my maats waar ek my krag en uithou-vermoë vandaan kry en ek vra hulle om saam met my te bid. Dis egter te veel gevra, en hulle vra my om maar in stilte die bidwerk te doen.

“You are our spokesman to God. You pray for us!” stem hulle eenparig saam.

“Dankie Here, my maats sien na al die maande tog raad dat dit U

hand is wat ons beskerm. Dankie dat ons U kan vertrou. Dankie vir die

krag om elke dag met nuwe hoop aan te pak!”

Nog ʼn wonderwerk val ons te beurt. Hulle wil die slot aan ons seldeur vervang en ons word tydelik na ʼn groter sel verskuif. Ons het nou spasie om in rond te beweeg en die beste van alles is, daar is nie ʼn toilet in die sel nie en ons moet die buitetoilet gebruik. Ons benut die voordeel ten volle en geniet die vars lug, al is dit onder die wakende loop van ʼn geweer. Dit verg moeite van hulle kant af, want elke keer as ons uitgaan moet die ander gevangenis terug selle toe gaan. Hulle mag ons glo nie sien nie.

In die agterplaas staan ʼn mangoboom. Die bewaarders tel vroeg soggens die beste vrugte wat deur die nag afgeval op. Ons is dood-tevrede met die een of twee wat ons van die grond af kan opraap. Ek koester elke happie van die geurige vitamienryke vrugte.

Na drie dae is ons terug ‘hel’ toe!

Hulle stoot die versterkte deur oop. My moed sak in my skoene. Niks het verander nie. Die brommers draai steeds om die gat in die grond, die larwes krioel die wêreld vol, die stank slaan my asem weg. “Here waar sal ons hulp vandaan kom!” In my gees weet ek daar’s net een antwoord.

Ek is die enigste een met ʼn ekstra hemp, ek rol dit op, buk af en begin die larwes gat se kant toe vee sodat ons plek het om te staan. Terwyl ek vee broei die opstand in my oor hierdie sinlose lyding waar-aan ons onderwerp word. Ons het met die weermag of die oorlog niks uit te waai nie; het jare hard gewerk om die land op te bou, vir wat? Om alles sonder teenstand te oorhandig om deurgebring en verniel te word? Ek druk die hemp in die gat in ʼn poging om die oorloop van larwes te stuit. Dit was ʼn fout. Hulle kruip weer uit en nou het ek nie eers ʼn manier om hulle terug te vee nie.

Thomas raak op sy hurke aan die slaap en skrik met ʼn gil wakker. Hy het gedroom wurms val hom aan en spin hom toe. Jim het nog nie volkome herstel van sy siekte nie. John praat dae lank nie ʼn woord nie. Ons sit net daar en staar na die larwes wat oor alles krioel.

Ek wurg die slegte kos af en haal deur my mond asem om die stank te probeer ver-my! Depressie oorval my. Die oggendverposing in die binnehof bly ʼn ligpunt elke dag en ek gaan telkens sleepvoet terug sel toe. Ek wys die leë vitamienhouer vir die wagte en vra of ons daar-van kan kry. Hulle kyk my net skeef aan.

Ek vra my maats om saam met my te bid, en vir ʼn wonder buig hulle hul hoofde en sluit hulle oë. Thomas sit op sy hurke met sy hande gevou in ʼn gebedshouding, en die trane loop terwyl ek begin bid: “Father, You say where two or three ask something in your name You wil answer. We stand before You, You know about our plight, our weak bodies and the horrific confined space we have to survive in. We trust You to be our strength and that You will help us to survive in spite of the circumstances we are in. Thank You that we can put our trust in You. Amen!” Tot my verbasing koor die ander drie, “Amen”.

Trane loop oor ons se wange. Al wat ons aan die gang hou, is die wil om te lewe.

Jim loer deur die sleutelgat, en met sy rug na ons, begin hy opge-wonde praat: “I got it! Let’s try to make contact with the two guys next to us. I’m sure we’ll be able to get a message through the opening up there.”

“We can scratch a message on the back of the candy wrapper and throw it through,” lewer John ʼn byna entoesiastiese bydrae.

Thomas word aangesê om die krap werk te doen in die waslagie van die papiertjie. Hy krap “English?” op die papiertjie en vou dit op. Jim hou sy twee hande bak, “Okay John, get up and push it through.” Ek bid die Frelimo’s sal dit nie sien nie.

Tot ons verbasing kom hulle antwoord terug, vergesel van ʼn opgerolde vel skoon papier en ʼn potlood! Hulle wil weet wie ons is en waar ons vandaan kom. Ons vind uit die Portugees is in vir geldelike probleme en die kleurling vir huismoles. Hulle praat ʼn bietjie Engels.

Ons verskaf ons name en sȇ ons is Rhodesiese boere. Toe die eerste pakkie grond-boontjies deur die opening ons kant toe kom, kon ons ons oë glo nie. Met groot omsigtigheid verdeel ons die grondboontjies. Ek maal my porsie een vir een fyn tussen my tande voordat ek dit afsluk, my gedagtes by my Januarie dogter, Ria. Hoeveel verjaardae gaan ek nog misloop?

So gaan die weke verby. Pakkies grondboontjies land redelik gereeld op ons vloer, die kommunikasie gaan sukkel-sukkel voort en ons aktiwiteite bly onder die radar. Ons vind uit die Portugees word bedags vrygelaat tot vieruur om na sy besigheid om te sien. Dit ver-klaar waar die grondboontjies en skryfpapier vandaan kom.

Toe ons voel ons is redelik veilig, vra ons die Portugees vir skryf-papier. Hy staan ons versoek toe. Versigtig bewoord ons een brief aan die Rooikruis en een aan die Britse Ambassade en vra die Portugees om dit vir ons te pos. Ons is skrikkerig, want as die briewe in die Frelimo’s se hande beland, weet ons nie wat sal gebeur nie. Maar ons moet net die kans waag.

Ons buig hoofde en ek bid hardop: “Thank you, Father, for the contact we could make with our neighbours and that You will see to it that our letters reach the relevant people. Amen, say all off us.”

OPFLIKKERING VAN HOOP

Dae gaan verby. Ons haglike omstandighede het ʼn samehorigheid onder ons vier bewerk. Een middag hoor ons ʼn voertuig by die hek stop, dit gebeur nie baie nie. Ons al vier probeer in die beperkte ruimte deur dieselfde sleutelgat loer. Ons lag vir onsself oor ons poging om terself-dertyd deur die sleutelgat te loer en staan terug. Gewilliglik maak ons beurte om die loerwerk te doen en terug te rapporteer oor wat ons sien. Toe dit Jim se beurt is gil hy, “It’s Specks and Fatso!” Nou is ons al vier by die deur en druk mekaar amper pap.

“Wag nou kêrels, wag nou. Hulle sal ons nou-nou kom haal,” keer ek.

Die jeep vertrek weer sonder ons. Stadig sak ons tussen die wurms neer en kyk moedeloos na mekaar.

”Hulle sal terugkom,” sê John, ”onthou ons word net in die nag vervoer.” Hy deel die laaste paar grondboontjies uit en sê spotten-derwys, “Kom ons vier dit solank!” Elkeen kry vier grondboontjies en ons bars uit van die lag.

Toe ons weer ʼn voertuig hoor stilhou, kry Thomas ʼn beurt om te loer en herken Darlington van ZANLA in die binnehof. Ek het nooit gedink die dag sal aanbreek dat ons verheug sou wees om ʼn ZANLA offisier te sien nie. Ons het gedink ZANLA het van ons vergeet. Dit bly vir my duidelik dat ZANLA en Frelimo saamwerk. Al wat egter nou tel is dat ons hier moet uitkom!

Weer bid ons saam. “In groot nederigheid buig ons voor U neer en dank U vir die uitkoms. Dankie dat U ʼn verhoorder van gebede is. Amen”

Net voor donker word ons beveel om op te pak. Dis maklik, ons het niks om op te pak nie. Ons kon nie vinnig genoeg uit die sel kom om op bevel in die voorste voertuig te klim nie. Niemand sȇ waarheen ons op pad is nie en dit maak op hierdie oomblik nie saak nie! Ons is weg van die stank en wurms en ek adem diep teue vars lug in.

Ons vra vir Darlington of ons die goed wat hulle van ons afgevat het, kan terug kry. Hulle stop by die Frelimo kantore in Moconto en ons kry sowaar alles terug. Thomas kry selfs sy sigarette is terug. Ek is uiters dankbaar om my belt wat nou al amper twee maal om my lyf gaan, terug te kry. Thomas steek dadelik ʼn sigaret aan.

Ek moet myself knyp om seker te maak ek sit in ʼn jeep, haal vrylik asem sonder om naar te word. Die kol op my maag is weg. Tot John en Jim gesels gemoedelik met mekaar. Ons weet nog steeds nie waarheen ons gaan nie.

Ons kom in Nampula aan en daar geniet ons die beste ete in maande. Vleis en groente!

Ons wou net bly word oor ons vryheid toe ons weer by ʼn kompleks indraai wat verdag na ʼn tronk lyk. Dit voel of ʼn betonblok op my bors neergesit word, nie weer nie! Op bevel klim ek traag uit die voertuig en word saam met die ander drie begelei na ʼn sel. Dis vuil en die sweetreuk van die vorige okkupeerders hang nog in die lug. Hulle moes inderhaas vertrek het, want die vars kosreste lê oral op die vloer. Ek kan my moedeloosheid nie beskryf nie. Ek is verslae! Hoe lánk hierdie keer? Ek sluk die knop in my keel af en neem die res van die omgewing in.

“Wel, kyk na die ligter kant, ouens,” kry ek myself so ver om iets te sê, “hier is darem beddens met matrasse, ʼn toilet pan en die maaiers krioel nie oor die vloer nie.” Hierdie trooswoorde is meer vir myself as vir my maats. Die stank van ou urine en ontlasting is hier ook oorweldigend en dreig om my onder te kry. Gaan ek ooit weer van die reuk ontslae kan raak? Ten spyte van die teleurstellende verwikkeling, slaap ek soveel beter.

DIE HOOP BESKAAM NIE

Die volgende oggend vroeg word ek wakker van ʼn gewerskaf in die binnehof. Oral staan gevangenes rond met pikke en grawe en ek wonder of dit ook ons lot is. Dit mag selfs ʼn welkome afwisseling wees van ons beknopte bestaan in die onwelriekende sel.

Ons kry elk ʼn sny brood en swart tee. Dié keer is die brood vars gebak. Ek adem die geur van die brood in en smul stadig aan elke happie om die smaaksensasie so lank as moontlik uit te rek.

Die seldeur word oopgesluit net toe ons klaar geëet het. Ons moet ons goed bymekaar kry en die wagte volg. Sonder verduideliking ry ons weg in ʼn jeep. Ons pad neem ons deur Nampula, lughawe toe. ʼn Ge-voel van afwagting pak my beet. Niemand sȇ ʼn woord nie. Is dit die oomblik waarna ons so lank uitgesien het? Ons kyk na mekaar met ʼn

vraagteken tussen ons oë en hoop in ons harte.

By die lughawe aangekom, sien ons ʼn paar groot Russiese vliegtuie. Die jeep beweeg stadig tot binne-in een van die kolosse. Vrees vervang opwinding. Dit voel alte veel na ʼn ontvoering. Ons word beveel om uit die jeep te klim. ʼn Afskorting skei ons van die beman-ning. Fatso gaan sit by die bemanning. Specs, Darlington en twee wagte neem hulle plekke by ons in. Ek probeer agterkom of die loodse van Russiese of Oos-Duitse herkoms is.

“On our way to the next prison,” merk Thomas droog op.

Specs verseker ons, ons klaar is met tronke en is op pad Maputo toe. Dié keer glo ek hom nie sommer nie -sien is glo! Hulle het ons nou al soveel kere belieg dat ek nie ʼn woord glo wat hulle sê nie. Tog bid ek dat hulle hierdie keer die waarheid praat.

Specs praat en Darlington tolk. Hy beduie na die plase wat ons deur die luikvenstertjies sien – gesamentlik boerdery soos in Rusland. Verder spog hy oor die baie groot vliegtuie wat hulle deur vriende in Rusland kan bekom. Specs kan maar gesels, solank ons nie in Rusland eindig nie.

So drie en ʼn halfuur later, nader ons Maputo se lughawe. Maputo! Uiteindelik! Sou dit werklik die einde van ons gevangenisskap wees? Hierdie mense se oggend en aand praatjies verskil so dikwels, dat ek alles wat hulle sê met ʼn knippie sout vat. In die diepste van my

binneste, bly die hoop egter vars.

Ons land, die deure gaan oop. Bewoë stap ek na buite, staan ʼn oomblik in die deur, bekyk die blou lug en gaan versigtig optimisties die trappe af. Daar is baie mense op die lughawe. Ons vier staan soos ʼn seervinger uit tussen die netjies geklede, skoongesig burgers van die land. Die groot vliegtuie is egter so ʼn nuutjie, niemand hulle steur hulle aan ons nie, maar bly by die vensters uitkyk en beduie na die vliegtuie.

Darlington, Specs en Fatso verdwyn, en ons word in die sorg van die wagte gelaat wat ons na ʼn wagkamer neem.

Op die wagte se vraag of ons honger is, antwoord ons soos een man, “Ja”.

Vir ʼn oomblik vergeet ons van ons verslete voorkoms. Hulle neem ons na ʼn ander vertrek waar Darlington op ons wag by ʼn netjiese gedekte tafel met silwer eetgery. In die middel van die tafel is daar borde oorlaai met garnale en ander seekosse en vars slaaie. Ons word aangesê om aan te sit en ons laat nie op ons wag nie. Vergete is die netjies geklede offisiere om ons, ʼn kort maar kragtige gebed gaan op, “Dankie, liewe Vader, vir die heerlike feesmaal voor ons. Amen!”

Ons lag en skep ons borde vol kos. Net die gekletter van die eetgerei op ons borde versteur die stilte toe ons wegval en ons vergryp aan die heerlike kos. Ek keer Thomas net betyds toe ek sien hy wil van die kos in sy sak steek.

Dis so ʼn verligting om weer normale dinge te doen. Die wagte bly by ons ter wille van ons veiligheid, lig Darlington ons in. Daar is glo mense wat ons skade sal aandoen as hulle die kans kry en sy werk is om ons veilig by Mosambiek se Departement van Binnelandse Sake te besorg. Terug in die wagkamer verslind ons die beskikbare Engelse leesstof, uitgehonger vir lees!

ʼn Wag kom in en sȇ ons vervoer is gereed. Ek versteen. Waar-heen nou? Hulle stap met ons helder oordag by die hoofingang van die lughawe uit. Ons word in twee verskillende motors gelaai en ry deur die stad. Die venster is wawyd oop en die wind verwaai ons lang deur-mekaar hare. Vryheid! Wat ʼn gevoel!

Maputo is ʼn groot stad. Die geboue is vervalle en verniel deur die oorlog. Daar is ʼn oorvloed van kos en klere beskikbaar wat deur straat-verkopers verhandel word. Hulle ry met ons na ʼn gesiene woonbuurt en laai ons by ʼn mooi huis af – ons nuwe en hopelik tydelike blyplek. Dit moes aan Duitsers behoort het, want oral lê Duitse tydskrifte en speel-goed rond. Sou hulle saam met die Portugese die land oornag verlaat het? In die sitkamer sit ʼn paar offisiere, elk met ʼn whiskyglas in die hand en gesels luidrugtig met mekaar, almal baie ontspanne en tuis. Ons knik bedeesd in hulle rigting, onseker wat ons nou te doen staan.

Darlington kom tot ons redding en beduie vir ons waar ons, ons kan tuismaak. Ek en Thomas deel ʼn kamer. Daar is twee enkelbeddens netjies oorgetrek. Hoe aanloklik! Op elke bed lê ʼn handdoek, waslap, seep, tandeborsel en tandepasta, ʼn kam, deoderant. Die badkamer is verder in die gang af. Gelukkig is daar twee badkamers, ek en Thomas deel en die twee jonges die ander een.

“Los net bietjie warm water, okay!” Redekawel die twee jonges weer, die keer darem in ligter luim.

Ons maak beurte om die badkamer te gebruik. Ek staan met klere en al onder die stort en laat die lou-warm water oor my loop. Vuil modder water loop uit my baard, hare en klere en verdwyn saam met maande se ellende in die drein af. Ek staan daarna en kyk en laat die trane saam die gat afspoel. Ek stroop my klere af en seep dit in, trap dit onder my voete en spoel dit uit, seep dit weer in en vryf die stank daar-uit, spoel dit weer en weer, draai die water uit en hang dit oor die stort-deur. My hare en baard kom nou aan die beurt. Ek seep dit in en vryf en spoel todat die spoelwater skoon is. Met die waslap skuimend van die seep begin ek my lyf van bo tot onder was. Ek skrop myself oor en oor totdat dit voel of my vel aan die brand is, ek skrop elke krieseltjie stank wat dalk iewers aan my kan vaskleef af. Afgedroog, draai ek die handdoek om my lyf, gooi die natklere oor my skouer en stap kamer toe.

Die een na die ander kom die manne uit die badkamer, skoon-geskrop, nat klere oor die arm, handdoek om die lyf. Steeds bebaard met lang hare lyk ons skoongeskrop heel gangbaar. Ons klop mekaar op die skouer en lag.

Daardie aand lê ek op my rug in die bed onder ʼn laken, hande onder my kop en glimlag. “Dankie Here, dankie!” En ek droom van die dag dat ek my geliefde weer in my arms kan vashou.

ʼn NUWE HAARSTYL

Die volgende dag is dit ʼn geskarrel van ʼn ander wêreld. Met klam ver-slonste klere word ons na ʼn spoggerige haarsalon geneem, ene wat ek in my leeftyd nooit sou kon bekostig nie. Ons moet seker ordentlik lyk as hulle ons vrylaat. Ondanks ons skoongewaste lywe en klere, lyk ons vier steeds soos boemelaars. Wagtende klante gaap ons aan. Hulle word gevra om die salon te verlaat. Die klante wat nog onder die skêr is word afgerond, hulle betaal en stap by die deur uit, maar nie voordat hulle ons vraend aankyk nie. Dis nou net ons, die wagte en die barbiere. Ek kan my opgewondenheid kwalik onderdruk. Ons word elkeen na ʼn stoel by ʼn wasbak geneem waar ons hare gewas word. Ek maak my oë toe en geniet die sensasie van vriendelike mense hande wat my kopvel masseer. Wat ʼn salige verandering van die afgelope maande se gestoot en gestamp, dikwels met ʼn geweerloop in die rug. Toe ek in die haar-kapperstoel sit, bekyk ek my beboste gesig in die spieel en wonder wat Jean sou sê as sy my só sou sien. Onder die professionele hande van die haarkapper verander my boskaas in ʼn netjiese haarstyl. Ek prote-steer toe hy my baard wil afskeer waarmee ek by my familie wou gaan spog het, maar daar is geen keer nie, dit moet af.

Die wagte keer ʼn man voor by die deur. Sou dit ʼn klant wees of iemand wat ons kwaad wil aandoen? Hulle bly waaksaam. Ons trans-formasie word een na die ander voltooi. Ons bekyk mekaar, grinnik en toe breek die uitbundige lag uit ons vernielde siele los. Selfs die salon-personeel en wagte begin hartlik saamlag. Ons slaan spontaan ons arms om mekaar se skouers en staan voor die spieels en bekyk die vreemdelinge voor ons deur die lagbetraande oë. Dit voel vir my of die maande se swaarkry en honger saam met ons hare op die vloer lê.

“Is dit soos julle werklik lyk?” lag ek.

Thomas sȇ ek lyk tien jaar jonger. Sonder sy woeste swart baard en boskaas lyk Jim so mak soos ʼn lammetjie. Die haarkapper het Thomas se kop skoongeskeer en nou is hy heeltemal bles. Toe ek John ontmoet het, was hy reeds vier maande in die bos en was sy hare en baard al lank. Nou staan ʼn vreemde, skoongesig jongman voor my wat lyk asof hy pas die skool verlaat het.

“Heng,” sȇ John, “is dit ek?”

Ek is net jammer ek het toe nooit ʼn foto van my bosvoorkoms gekry het soos Mnangwangwa belowe het nie. Ons is op pad huis toe en dis al wat nou tel!

 

DIS AMPTELIK

Daarna is dit paspoorte. Dit sal elkeen van ons elf pond kos, wat nie een van ons het nie. Wat nou?

“Send the account to the Rhodesian Government,” snou Thomas. Ek trek hom aan die mou. “Not now, Thomas, cool it,” keer ek. Dinge moet nie nou skeefloop nie.

Dit neem ʼn hele ruk vir ons bewaarders om die nodige reëlings te tref om ons aansoeke geprosesseer te kry en uiteindelik is dit ook agter die rug.

Terug by die huis, sluit ʼn beampte van die Mosambiekse Departement van Buite-landse Sake by ons aan en sê vriendelik dat hy ook John is en ons hom so kan noem. Ons is nou in sy sorg. Hy ver-seker ons dat ons binne ʼn dag of drie huis toe sal kan gaan. My hart spring amper by my keel uit by die aanhoor van die goeie nuus.

Ons word egter konferensie kamer toe geroep waar Emmerson en Darlington op ons wag. Hulle lig ons in dat dit twee tot drie maande kan neem voordat ons vrygelaat word. Ek druk my ore toe en maak of ek hierdie aankondiging nie hoor nie, maar my mond sê “So be it.” Dit help nie om te protesteer of te argumenteer nie. Iemand lieg weer, ons moet net uitvind wie!

Beampte John staan arms gevou met ʼn ‘ek stem nie saam nie’

uitdrukking op sy gesig, skud net sy kop en beduie ons om hom uit die

vertrek te volg.

Terug in ons kamer, vlieg Thomas my van ʼn kant af in, “How could you agree with them? Two to three months!” Ek dog Thomas verstik van woede.

Beampte John verskyn in die deur. “A promise is a promise,” sȇ hy gerusstellend, “just a few more days.”

As hy nie ʼn man was nie, het ek hom omhels. Ek wil wild op en af spring en dit kos selfbeheersing om myself in toom te hou en te bly sit. In my verbeelding ruik ek al Jean se geur, streel my vingers deur haar rooi hare. Weet sy ek is op pad huis toe?”

“Johannes, we’re going home!” ruk Thomas my terug na die hede. “Sorry about my fit.”

“Forget it, we’re going home!” Ek kan uit my vel spring.

Etenstyd is die tafel weer oorlaai met heerlike disse. Ons is nie meer gewoond aan so baie kos nie en bakke vol kos gaan weer terug kombuis toe. My gedagtes gaan onwillekeurig terug na die rekrute in die bos wat met pap tevrede moet wees terwyl ʼn oorvloed van kos beskik-baar is. Ek maak my oë toe en dank die Vader vir ons daaglikse brood en pleit by Hom om ook na die rekrute om te sien. Ekself kan niks aan hulle lot verander nie.

Na ete word ons aangesê om weer konferensiekamer toe te gaan

en daar te wag – glo ʼn verrassing. Ons het al ʼn hele paar onaangename

verrassings gehad en wag in spaning.

Robert Mugabe, geklee in ʼn deftige langmou safari pak, stap die sitkamer bine gevolg deur sy visiepresident, Simon Muzenda, sekretarisgeneraal Edgar Tekere, Darlington en nog ander grootkoppe. Dis inderdaad ʼn groot verrassing.

Ons staan op en stryk ongemaklik oor ons verslonste klere. Dis die derde keer wat ek Mugabe van aangesig tot aangesig ontmoet. Hy groet ons elkeen met ʼn handdruk en ons steek ons hande ook uit na elke hooggeplaaste wat die sitkamer binnegekom het. Ons staan ongemaklik rond en hy beduie dat ons moet sit voordat hyself op een van die stoele neersak. Daar is nie genoeg stoele nie en sommige van die beamptes maak hulle tuis agter om Mugabe se stoel. Hy sien blyk-baar ons ongemak oor ons verslonsde klere.

“Don’t worry about your clothes, arrangements have been made,” verseker hy ons.

Hy gaan voort en deel ons mee dat ons vrygelaat word om huma-nitêre redes en dat daar geen voorwaardes aan verbonde is nie.

“You are free to go wherever you want and tell the world whatever you want, but rest assured if you ever return to Zimbabwe, there is no guarantee that you will not be kidnapped again.”

Hy sug, “Where will you go?” Vraend kyk hy na ons.

Toe ons almal gelyk sȇ, “Rhodesië,” gooi hy sy hande in die lug

en glimlag. Hy deel ons mee ons sal die volgende dag halfdrie tydens ʼn internasionale perskonferensie aan Amnestie Internasionaal oorhandig word. Dit word op dié manier gedoen om Samora Machel maksimum publisiteit te gee.

Nou wissel hy ʼn paar woorde met elkeen van ons. Hy onthou van Thomas se maag en vra hoe dit nou gaan. Thomas verseker hom dit gaan beter en maak van die geleentheid gebruik en vra of hy sy medaljes kan terug kry. Mugabe lig hom in dat hy daarvan niks weet nie en gee aan Emmerson bevele om op die saak in te gaan.

Hy draai na my toe. “Johannes! The man who gave us a lot of trouble without even knowing it. Hours after you were kidnapped, the whole world was looking for you. Why? We still don’t know! You asked me to send you home, well, better late than never.” Hy gee ʼn droë laggie.

ʼn Paar oomblikke staar hy ons aan, knik sy kop en draai na sy gevolg. So verlaat hy en sy entourage die konferensiekamer en ons bly alleen agter – verlig en opgewonde.

NUWE KLERE

Ons ontmoet die manne van Amnestie Internasionaal: ʼn Engelsman, Malcom Smart en ʼn Hollander, Dick Oosting. Hulle bied aan om ons in ʼn vyfster hotel, die Polana, in te boek tot ons oorhandiging, maar ons ver-kies om in die huis te bly. Na die tronke, wurms, luise en peste is dit vir ons ʼn paleis!

Hulle sal ons help om tot in Johannesburg in Suid-Afrika te kom en daarna is ons op ons eie. Ons sal tot by Komatipoortgrens geneem word en daavandaan per motor verder reis. Ek gee nie om hoe ek daar kom nie, ek sal selfs ryloop as dit moet. My maats maak egter dadelik beswaar.

“Why can’t we fly to Johannesburg?” vra hulle gelyk.

Die volgende oggend kom Darlington die kamer binne waar alvier van ons sit en kuier en versoek ons om net daar te bly en nie te probeer uitgaan nie. Net daar sak ek op my knieë en bid sommer hardop, “Vader laat daar asseblief nie nou iets skeef loop nie.”

Nie een van ons sȇ ʼn woord nie. Almal sit op die kant van die twee beddens met hulle hande gevou tussen hulle knieë, elkeen in sy eie gedagtes vasgevang. Wat is dit nou weer?

“No, guys, we can’t sit here moping,” sê John terwyl hy opstaan, “here we are, ready to go, we only need some finishing touches,” en hy vryf oor sy stukkende broek.

“I wonder if they let our people know that we are still alive?” spreek Thomas sy gedagtes hardop uit.

“My parents will be happy to hear from me,” kom dit van Jim se

kant af. “I wonder if they got my letter. We used to call each other often.”

Hy raak weer stil.

Dis ook my gedagtes. Weet my mense ek is op pad huis toe? So verval ons almal weer in stilte en die minute tik verby voordat stemme in die gang opklink en Darlington en Emmerson in die deur verskyn.

“Okay guy’s, let’s go!” kommandeer Darlington ons op, staan eenkant toe en laat ons een vir een deur.

Half versigtig loop ons by die voordeur uit, die helder sonskyn in en klim in twee spogmotors. Hulle ry stad toe met ons waar ons die winkels invaar en elkeen uitgerus word met ʼn broek en hemp, ʼn stel onderklere, ʼn safari pak, kouse en skoene.

By die huis aangekom, pas ons aan. Alles is te klein. Dis ʼn probleem. Dis laatmiddag en die winkels is reeds toe. Volgens Emmerson is die volgende dag ʼn vakansiedag omdat Mosambiek se Heldedag op ʼn Saterdag val en die regering die Vrydag ook as vakansiedag verklaar het. Gelukkig ken hy die winkeleienaar waar die klere gekoop is en hy oortuig hom om die winkel weer vir ons oop te sluit sodat ons die klere kan omruil.

Ek kan nie slaap nie. Wie kan nou slaap as jy opgewonde, bang en onseker is – alles gelyk? Hoe kan ek my mense laat weet? Skielik kan ek nie ʼn enkele telefoonnommer onthou nie, net my broer op Witrivier sʼn. Miskien is die lyne weer buite werking.

“Vader, laat daar môre asseblief niks verkeerd loop nie. Laat ons families weet ons kom huis toe.” So raak ek uiteindelik in die vroeë oggendure aan die slaap.

DIE PERSKONFERENSIE

Dis die tweede Februarie. Ons word onder streng bewaking na die perskoferensie geneem. Omring deur wagte kom die pers nie naby ons nie.

“Manne julle moet julle humeure in toom hou. Moenie toelaat dat die verslaggewers se vrae julle ontsenu nie. Perskonferensies kan straf wees en alhoewel elkeen van die ver-slaggewers uitgesoek is, moet ons versigtig wees,” waarsku Dick ons.

Wat weet hulle wat ons nie weet nie, wonder ek toe ek opkyk en wagte tot op die dak sien. Dick merk my ongemak op en verseker my dis vir ons veiligheid. Weer probeer ek vis of ons families ingelig is, maar hy praat al klaar oor die reëls en ek bly in die duister.

Dis kameras en bandopnemers net waar jy kyk. Daar is honderde van hulle en vir die eerste keer is ek bly oor die wagte, wat die verslaggewers weghou. Hulle word teruggedruk deur ʼn ry soldate. Dit laat my kriewelrig voel.

Uiteindelik word ons vier plekke aangewys regs van die baie belangrike persone wat elkeen ʼn mikrofoon voor hom het. Na vele toesprake van verskillende ZANLA amptenare draai Mugabe na ons en uiter die lang verwagte woorde op ʼn teatrale wyse.

“We now release these men in the care of Amnesty International, they are free to go!”

Uiteindelik! Die woorde is gesȇ voor die hele wêreld! Ons is vry en omhels mekaar. Ek kyk oor die skare met net een gedagte in my kop: “Jean ek kom huis toe! Dankie Here!” Agter die skare is ʼn skoon helder-blou wolklose hemel.

Toe is dit ons en die pers. Thomas vergeet dat hy nie ‘terroris’ mag sê nie en gebruik dit links en regs in sy vertelling totdat Mugabe hom aan sy hemp pluk.

“Careful, we can always repeat the exercise!” waarsku Mugabe hom.

Blosend vra Thomas om verskoning en Mugabe glimlag, ons weet wat agter daardie glimlag sit; hoe vinnig iets kan gebeur sonder dat iemand iets daaraan kan doen.

Ek verseker die verslaggewers dat ons hier is slegs deur die genade en die beskerming van die Hoër hand. Een verslaggewer vra uit oor my operasie wat hy verneem het die eerste van sy soort was. Sy pa is glo ʼn internis in Amerika en stel baie belang om meer te weet. Hy nooi my om saam met hom koffie te gaan drink en hom my verhaal te vertel nie. My antwoord het hom nie aangestaan nie.

“I prayed all the time for God’s protection. It is only by the grace of God that we are here and I, so much more, because I was without any medication!” Al wat ek hoop is dat Jean die vrylating sien of daarvan hoor!

Ek het genoeg gehad van die pers, ek wil by my mense uitkom!

“Ons is vry!”

263 DAE LATER

Dis Sondagaand agt-dertig, die vierde Februarie. Die vier van ons, ver-gesel deur Dick van Amnestie Internasional, bestyg ʼn tiensitplek vlieg-tuig. Ek wonder of dit veilig is in so ʼn klein vliegtuigie.

Ek gaan huis toe! Om die waarheid te sȇ, ek sal enigiets doen, solank ek tuis kan kom. Opgewonde wring ek my hande inmekaar dat my kneukels wit word. Dick, wat my dop hou, kom nader. “Look Johannes, my job is to get you safely to Johannesburg. Careful man, remember your hart.” waarsku hy en gee my ʼn kalmeerpilletjie om te drink.

Ek glimlag. Dit was die laaste ding waaroor hulle bekommerd was in die bos. Ek ontspan en sluimer in en droom… Ek soek elf pond in die bos, onder die komberse, ek moet dit net kry! Waar is dit? Ek moet by die huis kom… Ek hoor skote, ek hardloop… bosse…, ek sweef… droom voort… O, dis heerlike kos… Waar kry ek die elf pond?’ Met ʼn ruk skrik ek wakker.

Thomas vra bekommerd. “Are you okay Johannes? You must wake up now, we are almost there.”

Nou is ek vies dat ek die pilletjie gedrink het. Ek onthou nie veel van die vlug nie. Ek kyk by die venster uit en sien Johannesburg se liggies onder ons.

Stadig daal die vliegtuig neer parallel met die aanloopbaan totdat die wiele kontak maak met die teerblad en stadig voortbeweeg tot by die terminaal. Die oomblik is amper te groot. Ons kry toestemming om ons veiligheidsgordels los te maak. Die deur van die vliegtuig swaai oop, John gryp my aan my arm en trek my op.

“Come on, Oupa! We are here!” roep hy uitgelate.

Stadig klim ons met die trappies af. Ek is lus en soen die grond waarop ek staan. Jim druk die blikkie neute wat hy by die Mosambiekse lughawe gekoop het so hard dat die deksel daar trek en die neute oor die aanloopbaan spat. Elkeen gewapen met ʼn klein bruin skooltassie met ons aardse besittings daarin stap ons in die rigting van die ont-vangslokaal. Die ongelooflike opgewondenheid grens byna aan vrees.

Die VIP deur swaai oop. Dick staan eenkant en laat ons ver-bystap. My hart mis ʼn slag en ek steek in my spore vas! Met een gil is sy in my arms, ek swaai haar rond soos ʼn tiener, druk my vingers deur haar rooi krulle. Ons bekyk en bevoel mekaar om seker te maak dis nie ʼn droom nie.

“Ons het nie geweet julle sou hier wees nie” sȇ ek uitasem. John storm nader en omhels Jean soos sy eie ouma.

Ons is vry!

Ons is tuis!

Later met ons terugreis na Rhodesië, sit ons teen mekaar. Ek hou haar styf vas.

“Hoe het ek jou nie gemis nie!” fluster ek in haar oor.

“Ek kan nou nog nie glo jy’s hier nie,” koer sy terug.

“Hoeveel kêrels het kom vlerksleep terwyl ek weg was?” vra ek soos ʼn verspotte tiener. Toe weet ek, ek droom nie meer nie! My rooi-kop is hier, vurig soos altyd.

“Johannes Hendrik Maartens!” Sy skuif weg. “En waar dink jy moes ek tyd kry vir rondkyk as ek dag en nag na jou gesoek het!” Haar wange gloei van verontwaardiging. “Van die Rooi Kruis in Rhodesië af, tot by Pik Botha van Binnelandse Sake in Suid Afrika…!”

Ek hou haar styf vas en soen die woorde dood, vies vir myself vir die simpel opmerking.

“Ek wou net seker maak of dit werklik jy is hier langs my!” lag ek in haar hare.

Verwonderd hoor ek dat dieselfde Lo-Lee wat my in die bos wou

skiet, die man was wat aan die polisie kom vertel het dat ek nog gelewe

het en gesond was toe hy my laas gesien het.

***

Van die plaas het niks oorgebly nie, alles is verwoes en gestroop. Die regering het glo nie geld nie, so van vergoeding is daar geen sprake nie.

Ons verlaat die land van melk en heuning na meer as dertig jaar se swoeg en sweet met net die klere aan ons lyf; met my geliefde aan my sy, my vryheid en die wete dat

“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige…”

Woordelys

changamire meneer/sir
muka word wakker/wake up
hanya hardloop
sadza mieliepap
sheba tamatiesmoor
mhoroi hallo
majiba mosambiekse rekrute
badza kapmes
ndichakuwona gare gare sien jou later/see you later
fique aqui bly daar/stay put
seja rápido maak gou
cale-se! bly stil
nenhum movimento geen beweging
baixo! af!/down!
assassinos moordenaars

Marthie Joubert,

Broodrykstraat 343

Pretoria Noord

0182

Marthiejoubert60@gmail.com

0824178780




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed