Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: OPERASIE BREINBLOK!

Deur Vonnie
Datum gepubliseer: 13 September 2021 Aantal woorde: 663 25 Kere gelees Hou van

As skrywer van toentertyd af, het ek begin verlang na die gemeensaamheid van skrywers en uiteindelik ‘n webwerf in die kuberruim opgespoor en daar ‘n tuiste gevind.

Dit was vir my ‘n voorreg om aan ‘n skrywersfamilie te behoort waar daar woes en onbevange in verskillende genre geskryf kon word. Maar na etlike jare het die tuiste sy deure gesluit en moes ons maar verwese met ons skrywerstjorrietjies rigtingloos van die werf af wegry.

Toe, terwyl ek doelloos in die kuberruim rondswerf, sien ek INK raak en onmiddelik stroom blydskap deur hierdie Afrikaanse skrywersare van my. Soos ‘n rendingsbootjie klief dit deur die woeste see; ‘n reddingstou word uitgegooi en ek vang dit verlangend vas, volg die inkstrepe en word toe deel van die familie saam met sommige van die ander skipbreukelinge.

Maar…ek raak die inkspoor byster, volg my eie kop en slaan etlike kere ‘n ander rigting in en die gevolg? Breinblok!

Tot ‘n paar dae gelede het ek aanhoudend vir myself die vraag afgevra: Hoe op dese aarde het my stresvlak tot so ‘n hoë vlak gestyg? Maar dit het my nie lank geneem om tot die besef te kom van wat besig was om met my te gebeur nie. Het dit eintlik lankal voel kom, maar het maar net voort gestroom.

Aanvanklik was dit eers selfpraat en sommer selfdiagnose ook… Ek het skrywersblok in die ergste graad en basta!

Nê, regtig?

Verskonings, verskonings, verskonings! raas ek toe met myself. Jy het geen simptome van skrywersblok nie, dit is breinblok vrou en niks anders nie. Jy moet begin fokus deur jou skrywerskop te begin skoonkry.

Kyk net hoe lyk jou rekenaarskerm! Dit het met die jare van hoek tot kant só volgepak van leêrs geraak dat die geel daarvan jou oë eintlik verblind! Nugter weet…hierdie “liaseerkabinet” van my het met die tyd saam in so ‘n chaotiese toestand verval dat dit met my kop begin smokkel het en ek seker was dat die skrywersblok-virus stadig maar seker besig was om my plat te trek.

Maar inderwaarheid was dit vir ‘n lang tyd dat ek my skrywersure in een dag so volgepak het dat ek skoon by myself begin verby leef het. Nie net een of twee keer nie, maar sommer etlike kere per dag eers gou gaan kyk of daar enigiets vir my in my epos-bussie is. Dan gou, sonder versuim die google-pad na facebook toe vat en klik…heel eerste die kennisgewings.

Sjoe, kyk net hoe lê die boodskappies ingeryg! Al die groepe waarmee ek daagliks doenig was en dit geluidloos uitgespel het… Lees my! lees my! Skryf my! skryf my!

Klik, klik, klik…

So het ek vir etlike jare aangevoeter, maar ‘n paar dae gelede moes ek aan myself erken dat ek vingervoos, verstandvoos en voeter-aan voos is! Gedoriewaar, iewers moet ek ‘n streep trek, het ek besef.

Ek besoek toe elke groep en een vir een klik en verlaat, klik en verlaat, klik en verlaat ek almal op ‘n streep en distansieër so elke enkele een, totdat net Malherbe Uitgewers (my boeke uitgewers) en INK oorbly.

Aaa…wat ‘n verligting! Nou kan ek op INK fokus en onverpoosd aandag aan my eie skryfwerk gee. Maar, vermaan ek myself: Diep in en uit asem en…fokus my kind! Want jy moet nog jou rekenaarskerm skoonmaak en saniteer… Dit help nie jy was jou hande in onskuld of rittereer nie…

Daar is 83 geel leêrtjies wat vir jou lê en frons! Elke liewe een moet oopgeklik word en alles wat oorbodig is weggegooi word. Dan moet soort by soort geliaseer word!

Ek gaan voortaan op my skryfwerk konsentreer dat die ink so spat. Geen distansiëring tussen my en myself nie, geen hande wat aan die saligheid beloof is en beslis geen meer masker van voorgee nie.

Breinblok?

Nota aan myself:

Wel…bly by jou siening, maak skoon jou skerm, (sal nie help om langer te skerm nie!) kom oor die skok en skryf!

(Kopiereg voorbehou)




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 30
Kommentaar telling: 1

Ek is allereers die trotse skrywer van Afrikaans, my pragtige moedersknie-taal! 'n Gepubliseerde vryskutjoernalis met artikels in van ons Afrikaanse tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie, Vrouekeur en Rooi Rose. Ook digter,  liriekskrywer en komponis. Dus liedjieskrywer van my eie, sowel as ander se gedigte en lirieke en hartstogtelik lief vir musiek en sang. Ek geniet myself gate uit met die skryf van rubrieke, skryf ook verhale en maak ook so nou en dan keel skoon by wyse van 'n lekker ou gorreltjie. En o ja! Na baie, baie jare as skrywer, het ek uiteindelik drie boeke die lig laat sien en is ek nie 'n bietjie trots nie! My biografie Daar huil 'n kind in my, Rubrieke sonder brieke en Gedigte op die vleuels van musiek. Daar...genoeg. Nou moet ek verder aan die skryf kom!

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 136 gaste aanlyn

Bydraes – Argief