Jongste aktiwiteit:

101 Wenke vir die skryf van fiksie – Deur Elize Parker
vir

101 Wenke vir die skryf van fiksie – Deur Elize Parker

  1. Tydskrifverhale:

Elke tydskrif het ‘n huisstyl waarby ‘n verhaal moet inpas. So sal sommige tydskrifte net verhale aanvaar waarin die positiewe ‘n rol speel en geweld byvoorbeeld taboe is. Die verhale-afdeling van ‘n tydskrif is nie ‘n plek om ‘n stelling te maak oor ernstige sake soos mishandeling nie. Dit word gewoonlik beter in die tydskrif gedoen met in-diepte artikels. Maar dit is nie te sê dat jy oppervlakkige spookasemtemas moet kies nie. Lees dus altyd ‘n paar eksemplare van ‘n tydskrif om uit te vind wat die huisstyl daarvan is en wat die lesers dus van die verhaleredakteur verwag. Skeur die verhale uit en maak vir jou ‘n lêer van verhale waar jy die verskillende tydksrifte s’n onder verdelings plaas sodat jy dit kan vergelyk. As jy kommersieel wil skryf om aan die lewe te bly moet jy jou mark ken sodat jy nie jou tyd mors deur verhale te stuur vir mense wat dit nie kan publiseer nie. ‘n Verhaal kan dalk uitmuntend wees maar sal nie geplaas kan word nie want dit pas nie in by die tydskrif se etos, verhaleriglyne of lesersprofiel nie.

  1. Woordtelling:

Omdat die woordtelling so belangrik is (van ‘n koffiebreukverhaal van 500 woorde tot ‘n novelle van 5000 woorde tot ‘n romanse van 45 000 of ‘n liefdesroman van 120 000), leen meeste verhale/boeke hul nie tot uitgerekte lewensverhale in sieldodende detail nie, maar meer tot ‘n oomblik in ‘n lewe, gewoonlik dan ‘n draaipunt. Dink daaraan: met 500 woorde kan jy hoogstens ‘n flitslig op iemand se lewe skyn, met 1000 dalk die kamerlig aanskakel, by so 2000 woorde dalk die huis se ligte en met so 5 000 woorde die straatligte daarby sit. ‘n Roman is natuurlik dan ‘n sportstadium met al die spreiligte aan as jy die metafoor wil deurtrek!

  1. Skep van karakters

3.1 ‘n Karakter moet gewoonlik deur ‘n verandering gaan of ‘n lewensles leer, maar moenie dit prekerig maak nie. Meet dit so: is die karakter en sy lewe aan die einde van die verhaal anders as in die begin? Dit keer dat die so what-faktor by die leser intree. Jy weet: ek het nou al die tyd gevat om die storie te lees en so what? Daar het niks gebeur nie.

3.2 Gee heldinne en helde beperkings – hulle moenie te slim, te perfek wees nie – die leser moet ‘n weerloosheid by hulle kan identifiseer. Wrede helde of heldinne is taboe.Vermy te alle tye die “cute” faktor: hou dit vir hondjies en katjies.

3.3 Vermy karakters wat te veel op die verlede hink en pink, en wat wroeg daaroor.

3.4 Hou karakters uiteenlopend fisies en persoonlikheidsgewys en kies selfs name wat glad nie naby mekaar is nie.

  1. Riglyne

Moenie moraliseer nie. Niks verveel ‘n leser meer nie. Onthou lesers word met vele boodskappe gepeper in advertensies, televisie, films en artikels ensoaan – as jy ‘n boodskap wil oordra moet dit oorspronklik, nuut en anders wees en veral enkelvoudig met ander woorde een storie, een boodskap.

  1. Visuele fiksie

5.1 Fiksie moet visueel aangebied word met vele beskrywings omdat dit ‘n tuiste het in ’n visuele wereld en gelees word deur ‘n visueel geletterde leserstal.

5.2 Stel vir jouself as ‘n toets of jy die karakters in jou verhaal sal kan teken volgens jou aanwysings en die plekke waar jou verhaal afspeel. Of is daar dalk ‘n sentrale visuele beeld wat uitstaan soos ‘n spesifieke blom. Gee stemming aan plekke.

5.3 Plekke: Vermy beskrywings oor weerstoestande. Maak seker jy teken prentjies in jou kop sodat jy kan hou by detail en ‘n karakter nie mettertyd van oogkleur verander nie.

5.4 Skryf asof jy ‘n kamera ter hand het en foto’s aan jou lesers bied. Wees meer regisseur van jou verhaal as skrywer. Maar moenie eentonig wees nie: gebruik al jou sintuie met beskrywings.

5.5 Dink daaraan dat jou verhaal nog ‘n stem in ‘n besige wereld is en daarbo moet kan uitstyg in die gesamentelike aanbieding van uitleg en kopie.

5.6 Hoe meer visueel jou verhaal, hoe beter die ervaring vir jou leser.

5.7 Plekke waar tydskrifverhale afspeel hoef nie eksoties te wees nie, maar in liefdesverhale werk dit wel. Wees seker van jou feite as jy skryf oor plekke waar jy nog nie was nie. Dit is ’n lekker manier om ‘n verhaal visueel te maak.

  1. Storielyne

7.1 Gebruik konflik – innerlik en uiterlik maar saai die saadjie daarvoor vroeg in die verhaal.

7.2 Om ‘n leser te boei moet ‘n storielyn niks uitspel nie en ook niks vertel nie maar alles moet met verdrag gewys word, stadig en laag vir laag onthul word.

7.3 Moenie die storie op die verkeerde plek in die storielyn of die verkeerde tyd in die storielyn begin nie. Probeer verskeie opsies.

7.4 Terugflitse werk as jy dit goed kan aanbied maar lekkerleesboeke se lesers hou van chronologiese afloop in stories.

7.5 Wees subtiel en laat jou leser die storie soos ‘n legkaart stukkie vir stukkie pak.

7.6 Die storielyn moet boeiend ontwikkel. Moenie feite uitryg nie. Wys en moenie vertel nie.

  1. Konteks is koning

Gee altyd vlugtig ‘n historiese konteks – verhale/lekkerleesboeke moet ‘n gevoel van werklikheid hê al is dit die ontvlugtingsleesstof van vele. Stories moet geanker wees want jy skryf binne die groter geheel van ‘n leser se wereld.

  1. Waak teen voorspelbaarheid

Moenie op stereotipe karakters staatmaak nie of afgesaagde storielyne herhaal nie. As jy dit al gelees het, het iemand anders dalk ook. Die een ding waarteen alle boekredakteurs waak is juis voorspelbaarheid.

  1. Taalstyl

* Vermy hoogdrawendheid.Gooi veral pretensievolle dialoog weg.

* Sleng kan gebruik word as dit by ‘n karakter pas maar Afrikaans bly meesal suiwer omdat lesers daarop gesteld is.

  1. Stylelement

Humor werk in boeke en verhale maar dit moet subtiel wees en meer dialooggedrewe wees. Platvloers werk nie en die glimlag moet meer versteek wees in die storielyn as direk uitgespel in–jou-gesig wees.

  1. Geloofwaardigheid

Toeval is taboe: wat gebeur moet geloofwaardig wees. Jou leser moet nie dink maar dit is nou toevallig nie!

  1. Perspektief

Hou een perspektief regdeur dit wil sê as jy die derde vertellerstem (hy of sy) gebruik, hou daarby. Die eerste vertellerstem (ek) is baie beperkend.

  1. Struktuur

Struktuur is alles en daar moet daarop gelet word dat die ritme en pas van die storielyn deeglik onder beheer moet bly: dit wil sê moenie ‘n storie te uitbundig volledig aan die begin vertel en die slot afjaag as ‘n nagedagte nie. Kort verhalende gedeeltes in en fokus op gedagtes en gevoelens van karakters. Werk ‘n klein, losse skema uit vir jou struktuur deur die draaipunt te identifiseer en daarrondom die storielyn te ontwerp.

  1. Storieknoop

Die storieknoop (plot) moet ondeursigtig wees dit wil sê jy moet dit so knoop dat die leser dit nie kan raai nie. In sommige verhale en boeke is die storieknoop dikwels belangriker as die karakters. In ‘n liefdesroman is die karakters belangriker. Vermy te veel reflekterende oomblikke deur karakters.

  1. Dialoog

17.1Pasop vir moeë frases of dialoog wat nie werk nie. Lees vir oefening net al jou dialoogstukke na die skryf van die verhaal hardop of laat iemand dit vir jou lees en vra jouself af of jy mense ken wat so praat.

17.2 Mense praat nie altyd in vol sinne nie en selde paragrawe lank.

17.3 Gebruik dialoog om ‘n storie spoed te gee en tussenteks (die stukke nie in aanhalings) om ‘n storie te verstadig. Wissel stemme af en gee hulle verbale stempels.Gebruik elke denkbare leesteken wat jy kan…ellipse, uitroeptekens (ligloop vir te veel), vraagtekens, rustekens, aksente ensoaan. .

17.4 Dialoog versnel die pas van jou verhaal. Tussenteks (wat nie tussen aanhalings is nie) verstadig die gang van jou verhaal. ’n Gesonde balans is nodig.

17.5 Kleurkodeer jou dialoog as ’n oefening (tik dit byvoorbeeld in blou), dan kan jy makliker sien as die balans verkeerd is. Hou jou tydskrifverhaal se pas soos iemand op ’n gesonde drafstap op pad om ’n storie gaan vertel wat sy nie langer vir haarself kan hou nie.

  1. Skryfstyl

18.1 Wanneer dit by styl kom, let daarop om paragrawe te wissel van kort en lank. Ook sinne.

18.2 Hou dit kort maar moenie die werkwoord in die slag laat bly nie. Dit bederf leesbaarheid en vloei.

18.3 Gebruik oorspronklike vergelykings en beeldspraak.

18.4 Verwys na liedjies en gedigte met omsigtigheid.

  1. Titels

Titels word dikwels gekies deur redakteurs om in te pas vir uitlegredes maar kies vir jou solank ‘n werkstitel as ‘n aanwysing – dit is jou opsomming van jou boek of verhaal. Hou dit soos ’n vlaggie bo jou storie en kyk of dit die storie mooi saamvat. Moenie dit prosaies en doodgewoon maak nie. Jy kan maar meer digterlik raak met titels. Daag jou leser daarmee uit. Moenie meer as vyf woorde daarvoor kies nie anders lê dit moeilik uit.

  1. Taal

20.1 Moet jou nie waansinnig bekommer oor spelfoute en taalfoute nie – alle uitgewers versorg in elk geval die taal en grammatika, maar maak dit ‘n saak van eer om ‘n manuskrip so goed versorg as moontlik in te stuur.

20.2 Handhaaf deurgaans die houding dat geen woord in jou verhaal of boek is heilig nie want daar gaan aan jou verhaal en boek verander word – nie soseer omdat daar fout is nie, maar vir uitleg, styl en woordtelling ensoaan. As jy nie hiervoor kans sien nie, moet liewers nie skryf nie. Dit is ‘n produk wat baie mense se goedkeuring moet wegdra, maar wees getroos deur die wete dat jou l of boek deur al die kundigheid net sterker gaan wees as vantevore en onthou dit is jou naam wat by die verhaal staan!

20.3 ‘n Skrywer is nie ‘n eiland nie – jy word deel van ‘n span vir ‘n rukkie wat jou verhaal vir ‘n spesifieke uitgawe voorberei word. Niemand weet hoe lyk die oorspronklike teks nie en dink dit is jou perfekte storie wat verskyn.

20.4 Moenie oor elke veranderde woord ‘n slapelose nag hê nie – vergelyk dit eerder met jou teks en leer daaruit.

    21.Suksesfaktor

21.1Skryf oor dinge waaroor jy omgee en mense waarvoor jy lief is.

21.2 Skryf oor plekke, mense en kwessies waarvan jy niks weet nie sodat jy navorsing moet doen en die proses ‘n uitdaging eerder as gemaksone is

21.3 Skryf oor als wat aan jou bekend is as jy gemaklik is in die ek-stem.

21.4 Moenie volledig skryf oor iets of iemand wat jy ken nie. Die persoon sal dalk nie daarvan hou nie.

21.5 Moenie breedvoerig skryf oor wat jy weet nie. Mens klink maklik te tegnies.

21.6 Moenie in detail skryf wat jy tot die dood toe kon navors nie. Dit raak gou vervelig.

21.7 Moenie uitvoerig skryf oor wat jy kan uitdink nie. Suggereer.

  1. Klankborde

Breinstorm verskeie oplossings by draaipunte in jou storie en kies die mees onvoorspelbare.Toets jou storielyne op mense wat lief is vir lees en let op na hulle reaksie. As hulle die einde ‘n myl ver kon raaksien, is jy in die moeilikheid.

   23.Slotte

23.1 Onverwagte slotte is altyd gewild. Maar hou dit gemotiveer. Plant leidrade.

23.2. Gelukkige eindes is nie ‘n moet nie, maar die meeste lesers vereis ‘n slot met hoop en ‘n oplossing vorentoe.

  1. Emosies

Emosies is die sleutel na sterk verhale maar wys die emosies deur aksies – moet dit nie beskryf nie : moenie sê sy is kwaad nie – laat haar ‘n bord teen ‘n muur gooi.

  1. Afronding

Knoop al jou los drade as jy klaar is deur jou verhaal of boek van agteraf vorentoe te lees en te kyk of jy nie vir jou leser onopgeloste vrae los nie.

  1. Temas

Kies ‘n tema: byvoorbeeld: vriendskap, lojaliteit, ambisie. Wanneer jy ‘n tema kies, kyk na meer kontemporêre temas (globale verwarming) en lewenstemas soos verhoudingstemas (bv. jaloesie ens). Konsentreer op wat in mense se alledaagse lewens aangaan.

  1. Woordgebruik

33.1 Baie skrywers het modale woorde wat hulle oor en oor gebruik, dit wil sê onnodige woorde wat jou woordtelling hoër maak soos egter, maar, ook, wat en dat ens. Vind jou woorde wat jy die hele tyd herhaal en kyk of hulle nodig is.

33.2 Hou jou woordtelling laag sodat jy woorde kan gebruik om die storie rigting en tempo te gee deur te kyk na byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat dalk onnodig is.

33.2. Hoe meer werkwoorde, hoe meer beweeg jou storie. Hoe meer bywoorde hoe harder werk jou werkwoorde. Gebruik een sterk, toepaslike vergelyking eerder as ’n Smartieboks vol kleurvolle en geurige vergelykings wat geen enkele beeld by jou leser laat nie.

  1. Foefies

Vermy foefies soos om iemand in ‘n spieël te laat kyk, iemand iets te laat afluister wat hulle nie moes gehoor het nie of om ‘n ongeluk te gebruik om ‘n storie van rigting te laat verander ensoaan.

  1. Boei jou leser

Moenie jou leser enigsins spaar nie. Neem hom op ‘n wilde wipwaentjierit in die eerste hoofstuk sodat hy op geen manier gou die boek kan neersit en normaalweg met sy lewe kan aangaan nie. Ruineer sy dagboek, laat sy kos aanbrand en verhoudings daaronder ly maar verkry en hou sy aandag.

  1. Waar om te begin

Maak moeilikheid in jou eerste hoofstuk. Skep drama, veroorsaak konflik, stel konfrontasie op en suggereer uitgestelde begeertes. In die eerste toneel moet jou hoofkarakter se lewensgang ernstig versteur word. Ander karakters kan betekenisvolle oomblikke deel in die eerste hoofstuk maar die hoofkarakter moet momentum kry.

.Hoe om te begin

Moenie jou storie saboteer in die eerste hoofstuk met veelvuldige opeenstapeling van intriges nie. Mens maak op hierdie manier gou jou leser ‘n slagoffer wat verward deursukkel na Hoofstuk 2 met die valse hoop dinge sal duideliker word.

  1. Waarmee om te begin

Vermy wasgoedlysies in jou beskrywings in die eerste hoofstuk. Die leser wil nie ‘n een minuut kitsafspraak met jou karakter maak nie. Vermy dus: Sy het lang blonde hare gehad wat sy sorgeloos oor haar skouer gegooi het sodat die goue golf oor haar bruingebrande rug geglip het en haar t-hemp met die slagspreuk “Red die renosters!” met een stadige slag van haar goedversorgde akrielnaels bedek het.

39.Wees billik op jou leser

Tydspronge in een (en nogal die eerste hoofstuk) en perspektiefwisselings moet liefs aan ervare skrywers oorgelaat word. Jy verwag nie van ‘n 100 m-atleet om ‘n marathonkampioen te wees nie.

  1. Vermy die whatever

Miena Moo is ’n Afrikaanse animasiekarakter op televisie en haar slagspreuk is: “Dinge moet beweeg! Beweeg!” Hou dit ook jou leuse as jy tydskrifverhale skryf. Laat dinge gebeur. Kom uit jou karakter se kop en in die storie in. Moenie jou leser dwing om ná die lees van die verhaal te sê “Whatever!” nie.

Deur Elize Parker




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed