Jongste aktiwiteit:

Letterkundige terme Woordeboek
vir

Letterkundige terme Woordeboek

Abel spel: Middeleeuse wêreldlike dramatiese spel. In gees verwant

Aforisme: Beknopte stelling waarin ‘n beginsel op kernagtige wyse uitgedruk word

Akatalekties: Word gebruik om ‘n versreël te tipeer waarvan geen lettergreep ontbreek nie en die metriese patron (vlg Metrum), ook van die laaste versvoet, dus voltooi is.

Akkonsonansie: Sien rym

Akroniem: ‘n Akroniem is ‘n afkorting wat as ‘n woord uitgespreek kan word, byvoorbeeld VIGS (Verworwe immuniteitsgebreksindroom).   Wanneer die akroniem as ‘n woord uitgespreek word, word dit ‘n letterklankwoord genoem. Voorbeelde is Avbob (Afrikaanse Verbond Begrafnisondernemers Beperk), Sasol, Absa en Wits (Universiteit van die Witwatersrand ).

BRONNE:  Müller, D en Pistor, S. Skryf Afrikaans van A tot Z. Die essensiële gids vir taalgebruikers. 2011. 2de Uitg. Kaapstad: Pharos Woordeboeke.

HAT: Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 2005. 5de uitg. Kaapstad: Pearson Education. Hierdie bronne kan geraadpleeg word vir ´n volledige lys van gebruiklike Afrikaanse Akronieme.

Akrostigon/Naamvers/Winkelhaakvers: Hierdie ´tegniek´ word gebruik om die titel van die vers letter vir letter te gebruik as die eerste letter van elke nuwe sin.  ´n Eenvoudige voorbeeld:

WINTER

W           anneer die kou´

I              n die leë plekke

N            ouer en nader aankruip verg

T             rek jy my vaster

E             n

R             us ek warm teen jou aan.  ©Eduard Smith (vir INK opleidingsmateriaal ©2016)  

 

Of, as ´n naamvers sou die gebruik wees soos in die voorbeeld hieronder:

ELISABETH

E             lkeen staar

l              angs die waters af

i              n die wete dat jou skoonheid
s             oos waterlelies en
a             lg teen klippe vir my groei
b             eter selfs as die veldblomme
e             n skoulikhede op heuwels;

t              onies en mooi

h             ier by my, om altyd te bly. ©Eduard Smith (vir INK opleidingsmateriaal ©2016)

Daar sou dan geen beperking wees op die ´grootte´ van u vers nie, maar dit sal eerder gelei word deur die titel.  Dit is ook gebruiklik dat verskillende stanzas (paragrawe) gebruik word indien die titel dan uit meer as een word bestaan.
BRONNE: forum.afrikaanseforum.co.za › Digkuns › Digterminologie
: Eduard Smith, So maak ek verse: 2005 (met eksklusiewe geskrewe toestemming)

Aleksandryn: Sesvoetige hambiese vers met rus na die derde versvoet

Allegorie: Om te praat. Dus: om iets te beskryf onder die beeld van iets anders. Die teenoorgestelde van simboliek. Die allegoris wil die waarheid verkondig en gebruik die werklikheid. Sedeles

Alliterasie: ook letterrym of stafrym genoem, verwys na die beginklanke van twee of meer beklemtoonde lettergrepe in ‘n uitdrukking of vers wat dieselfde klink. Alliterasie word dikwels deur digters gebruik om woorde te laat rym.  Alliterasie word soms verkeerdelik beginrym genoem, ‘n term wat nie ‘n vaste omskrywing in die literatuurwetenskap het nie, maar eerder na voorrym of na die stylfiguur anafoor verwys.

Voorbeelde van allitererende woorde:
agter – alles

bedien – gedaan  (let hier dat dit nie noodwendig die eerste letters is nie)

dier – dame

droom – dorp

vriendelike – vriend
heerlik – helder

Alternansie:  Beurtwisseling, afwisseling; veral afwisseling van beklemtoonde en onderbeklemtoonde lettergrepe, van lang en kort lettergrepe, van manlike en vroulike rym in verse: ‘n Kwantitiewe en energetiese alterasie in verse.

Analise: Ontleding

Anastrofe: Die omkering van die normale en verwagte woordorde

Anoniem: Woorde wat dieselfde klink maar verskillende betekenisse het, soos byvoorbeeld:
Die Chinese eet graag rys (1)
Ons gaan hierdie jaar oorsee reis (2)

Verwarring met sulke woorde kom gewoonlik voor slegs as ´n mens praat.  Indien dit geskryf en gelees word is die onderskeid duidelik.

Apokee: Same trekking waarin die laaste klank(e) of lettergreep van ‘n word verval. Voorbeeld: “Dril d’osselywe soos hul draf” (Totius)

Apollo: Griekse god van beskaafde kalmte en redelikheid

Argetipe: Prototipe, oertipe, onderbewuste patron geërf van die voorgeslagte

Assonansie: (Klinkerrym, Vokalerym – (a, e, u, o, i en y) bv. “bak, stap, grap” waar die ´a´ herhaal word. Onthou: in fonetiek kwalifiseer die ‘y’-klank (wat eintlik ‘n diftong is) ook as ‘n vokaal, en kan dus geassonanseer word. Dikwels het die herhaling van spesifieke vokale wat rym (assonansie) in ‘n versreël, die funksie om leesspoed te versnel of te vertraag, daarmee ook spanning of rustige soepelheid te skep.  Die lang klanke oo, ee, uu en aa vertaag leespoed en die kort klanke i, ie , ô, a ( soos in tak) en kort ê (soos in bek ) versnel die leesspoed.
Vir praktiese oorweging om assonansie geslaagd te bemeester, lees u gedig hardop.  Nie elke herhaling van vokale in verslyne is noodwendig assonansie nie, maar slegs dié wat dieselfde KLINK.

Ars poetica: Dit kan in kort omskryf word as digterstaak, digterskuns en poësieteorie.  Dit verg egter ´n meer aansienlike beskrywing.  Ek wil dit soos volg doen: Ars Poetica is ‘n verhandeling oor die kuns van literêre en veral poëtiese samestelling.  Dit sou die akademiese definisie wees, maar vele digters gebruik juis die term as titel in hul werk om weer te gee wat hul eie siening van die kuns en die samestelling van poësie is.  Dit sou dui op rigiede akademiese reels, en hoe die digter dit persoonlik sien en deurgee.  Daar is verskeie voorbeelde beskikbaar sou u dit wil navors.

Artefak: Dit is nie soseer ´n digterm nie, maar verwys eerder na kunswerke en gebruiksartikels wat ouer of antiek is.  Dit sal kan dien vir inspirasie om nuwe en meer moderne digkuns te ontwikkel.

Ballade: Afgelei van die Latynse word ´Ballare´ wat dans beteken.  Danslied
(1) Epiese balade:  Die eerste soort is epies van aard: dit vertel ‘n (dikwels tragiese) verhaal en wel op ‘n snel, springende trant wat min ruimte laat vir besonderhede en breë motiverings. Hier word ‘n direkte, helder taal gebruik, soms ook die direkte rede, vraag en antwoord. Verder word hierdie ballade gekenmerk deur die gebruik van refrein-reëls e.a. herhalingselemente soos kleure en getalle wat aan die liedagtige vertelling iets van ‘n dramatiese en liriese karakter gee.
(2) Romantiese balade: romantiese ballade wat tydens die ROMANTIEK in verskillende lande bewus literêr beoefen is, in Engeland bv. deur Coleridge (“The rime of the ancient mariner”) en Keats (“La belle dame sans merci”); in Duitsland o.a. deur Gottfried Bürger (“Lenore”) en deur Goethe (“Erlkönig”), voorbeelde wat ‘n mens die huiweringwekkende van die ballade laat voel.  Slaan gerus die genoemde verse na om goeie voorbeelde van die digvorm te sien.

Ballades is dikwels 13 reëls met ‘n ABABBCBC-vorm, bestaande uit koeplette (twee reëls) van rymvers, elk van 14 lettergrepe. ‘N Ander algemene vorm is ABAB of ABCB, herhaal in wisselende 8 en 6 lettergrepe.

BRONNE:  Entwistle, W. 1951. European Balladry. Oxford: Clarendon.  Friedman, A.B. 1961. The Ballad Revival. Chicago: Chicago University Press.  Gerould, G. 1957. The Ballad of Tradition. New York: Oxford University Press.  Gummere, F.B. 1894. Old English Ballads. Boston: Ginn.  Jeanroy, A. 1925. Origines de la poésie lyrique en France. Paris: Champion.  Mulder, H.A. 1939. Die ballade. In: Mulder, H.A. Opstelle oor poesie. Pretoria: Van Schaik.  Saamgestel deur A.P. Grové.

Barok: Taalweelde, ‘n liefde vir heroïese voorstellings. Byvoorbeeld Uys Krige se verse in die sin dat die drif die vorm oorheers

Beeld: Die digter dmv raak woordkeuses en treffende beskrywings (beelde) die werklikheid visueel voor die gees roep. Die werklikheid word deur middle van die taal (ritme, klank) opgeroep.

Bewussynstroomtegniek:  Die kuns om die beelde wat woorde in jou gedagtes skep op papier vas te vang

Boerde: Leuen, Poets. Verhalende en grappige gedig, dikwels eroties-satiries van aard.

Bombas: Geswolle, hoogdrawende taal

Burlesk: ‘n Klug, komieklike voorstelling, spottend-ironiese nabootsing wat aan belaglikheid grens.

Cesuur: Ruspunt in die vers

Cinquain: Liriese 5-reëlige digvorm van Amerikaanse oorsprong. ‘n Suiwer vorm bevat eerste reël 2 lettergrepe, tweede 4, derde 6, vierde 8 en vyfde 2. Met ‘n jambiese maat

Cliché:  Beteken letterlik ‘n plaat bevattende ‘n negatiewe beeld waarmee verskillende afdrukke gemaak kan word. Abstrakte woorde wat so baie in poësie of in ander tekste in letterkunde gebruik word weens die trefkrag en betekenisse wat die woorde by lesers kan oproep, sodat die betekenis en trefkrag daarvan eintlik verlore gaan. Dit word dan leë woorde, hol simbole wat jou gedigte onmiddellik in die kategorie van die “kitsch” plaas en die leser onmiddellik laat dink dat jy nie bewus is van wat in hedendaagse moderne poësie aangaan nie. Die leser wil verras word, nie deur jou boodskap of onderwerp nie maar deur die woorde wat jy kies om te gebruik om daardie boodskap of tema of beeld op n vars en nuwe manier oor te dra. Die leser wil sien dat jy selfrefleksief met jou woorde omgaan en dink oor die betekenismoontlikhede van elke woord en hoe dit moontlik by ’n spesifieke tradisie/ poësieopvatting aansluit. Enkele voorbeelde van abstrakte woorde wat volop in gedigte voorkom en wat liefs  vermy moet word aangesien dit reeds “oorbedig” is: “heimwee”, “verlange”, “weemoed”, “hartseer”, “vreugde”, “dankbaarheid”, “gees”, “dankbaar”, “genade”, “hart”, “pyn”, “glo”, “hoop”, “silwer skoon hart”, “uit te reik”, “liefderyk”, “vertroosting”, “flenterhart”, “drome” (veral as dit die abstrakte drome is en nie na ‘n spesifieke droom verwys nie), “beeldskone”, “huiwerend”, “Vaderland” (ook in jou gedig ‘n abstrakte konsep), “waarheid”, “menswees” (veral as dit saam met “gestroop” gebruik word, “trots”, “sielsieke”. Een ander voorstel is dat jy elkeen van jou woorde oorweeg. Moenie te veel konsentreer oor wat jy wil sê (die boodskap wat jy deur jou werk wil gee) nie, maar gaan selfrefleksief met die woorde en beelde wat jy gebruik om. Hoe sê jy wat jy wil sê? Hoe sê jy dit anders as ander digters wat ook oor dieselfde tema skryf? Gebruik jy oorspronklike maniere om die alledaagse te vertaal op papier, sodat die leser verras word met die uniekheid daarvan. Ontwikkel dus jou eie stem in jou digkuns, verbreek die stereotipe (konventionele) grense van woordgebruik.

Collage: Bedekte of minder bedekte aanhalings uit die werk van ander digters met ‘n bepaalde effek in sy gedig voeg.

Copla: Spaanse volksgedig, dikwels vierreëligmet die tweede en vierde reels rymend.

Denotasie: Woordeboekbetekenis – letterlike betekenis. Begripsinhoud, aanwysing deur simbole of tekens.

Dialoog: ‘n Gesprek, tweespraak

Didaktiek: Om te ondderrig, ander te leer

Digerlike Vryheid: Sekere vryhede met die taal wat digters hulle self toeeien in ‘n poging om bv. Moeilike rym- of ritmeprobleme die hoof te bied.

Ditirambe: Bynaam van Griekse god Bacchus (wyngod) god van drank.

Eksplosiewe: Is plofklanke, naamlik: p, t en k-klanke.

Elegie:  Ook ‘n “treurdig” of “lykdig”; en handel oor die dood van ‘n dierbare/geliefde.  Dit kan ook ´n ode wees aan ´n bekende.

Ellips: ( . . . ) Om te laat.

Enjambement: speel ook ‘n belangrike rol in die rymproses.  Dit kom voor waar die sin nie met die laaste woord van die vers eindig nie, maar OORLOOP of OORSPRING na die volgende vers/lyn. Daar is nie ‘n rusperiode of enige leestekens aan die einde van die vers/sin nie. Word veral gebruik om die aandag van die rym af te lei om sodoende die eentonigheid van die rymwoorde soort van te verdoesel / te verlig.

Epetese: Die invoeging van klank of lettergreep in ‘n word, soms ter wille van plastiese effek. Byvoorbeeld:”De meeuwen zwallepten” (J van Looy)

Epiek: Drama

Epigram: Inskripsie, opskrif of byskrif; ook puntdig. Dit wil sê ‘n kort gevatte gediggie.

Epiese poësie(narratief):  Verhalende poësie. Hierdie besondere manier van aanbieding gaan gepaard met ‘n besondere soort onderwerp. In klassieke terme dui epiek op ‘n verhaal waarin grootse figure te midde van uitsonderlike gebeure en in ‘n verhewe vertelstyl uitgebeeld word. Die gebeurelyn ontwikkel eenvoudig en reglynig – alles word afgestem op een sentrale handeling of tema. Die figure kan historiese of mitologiese karakters wees, maar is altyd heroïes voorgestel. Die verteller het die verhaalwêreld vanuit ʼn respekvolle, bewonderende perspektief beskou en sy eie persoonlikheid nie laat deurskemer nie. Oorspronklik het die epiek dan ook baie na aan geskiedskrywing gestaan: albei vorme was ingestel op ‘n geïdealiseerde, luisterryke weergawe van die krisismomente, die heldedade en die kultureelreligieuse gebruike van ‘n volk. Kortliks saamgevat kan die kernelement van die epiek egter gesien word as die VERTELLING van ‘n reeks gebeurtenisse deur ‘n beherende vertellersfiguur.

BRONNE:  Henriette Roos:  http://www.literaryterminology.com/index.php/component/content/article/12-e/307-epiek

Epos/Epe: is ‘n verhalende gedig wat handel oor die roemryke dade van heldefigure, gode of om belangrike gebeurtenisse uit die verlede te beskryf met die doel om bewondering en liefde te verwek vir die hooffiguur in ‘n verhalende trant.

Esteties:  Beteken “die leer rondom die kunssinnige – verander jou digwerk in ‘n kunswerk deur van jou sintuie gebruik te maak.

Eufemisme: Om goeie/sagte woorde te gebruik om ‘n pynlike boodskap oor te dra

Fabel: Verhaal waarin diere/bome in plaas van mense sprekend of handelend optree

Fasiel: Maklik, vlot, inskiklik, meegaande

Fokus: dink drie dimentioneel in beelde – sien verband tussen dinge raak en gebruik dit in jou beskrywings.

Genre:  Tipe/indeling bv. prosa of poësie of letterkunde. (Daar word dus onderskei tussen Poësie, Prosa en Drama wat die hoof-indelings (genres) of kategorieë in letterkunde is.) Trant, styl, kunsstyl, kuns of literatuursoort.

”Hebbelikhede” (Kill your darlings): Meeste digters raak gans en al te verknog aan hulle “hebbelikhede”, soos P.G. du Plessis daardie digterlike gewoontetjies noem. “Kill your darlings”of jou “idols”.  Elke digters het ‘n eie, unieke stem, maar weereens hoekom moet jy net een hê? Spreek in tale, klim onder die vel in van vreemde mense/dinge en beskryf dinge/gebeure op ‘n nuwe, vars en unieke manier. Breek die alledaagse, dikwels afgesaagde deuntjie van jou skryfpatroon (woorde/sinne wat jy lief is om te gebruik en te herhaal in jou werk), gebruik nuwe en vars maniere om iets te beskryf, skep nuwe woorde en beelde.

Haikoe: Japanse liriese digsoort vermoedelik uit die 13de eeu. Bevat drie reels waarvan die eerste 5, die tweede 7 en die derde 5 lettergrepe bevat

Hamartia: Tragedie

Heffingsvers: Waar aksente werklik gehoor word

Hekelgedig: Gedig waarin gebreke of misstande op ‘n skerp of spottende wyse aan die kaak gestel word en die digter sy verontwaardiging uitspreek.

Heksameter: 6-voetige vers, gebruik in die klassieke epos

Himne: Lofsang, ‘n besonderse ode waarin die eer van God op ‘n plegtige wyse besing word.

Hiperbool:  Oordrywing

Homonieme (Eendersklinkend):  is aparte woorde wat hoewel hul toevallig eenders lyk en eenders klink, heeltemal verskillende betekenisse het WAT GEENSINS MET MEKAAR VERBAND HOU NIE — nie eens ‘n FIGUURLIKE verband nie.

Bv: (i)  Ek het my toon gestamp nou is dit is blou en vrek seer.moed. (ii) Die kunstefees gaan die toon aangee vir die jaar se feeste.

Humor: Subtiele balans tussen geestig en werklikheid wat op ‘n gemoedelike wyse weergegee word.. Teenstellings in die lewe bv. Droom en werklikheid

Idioom:  Vaste uitdrukking, segswyse wat eie is aan ‘n bepaalde taal.  Die spesifieke soort taalgebruik van ‘n individu, ‘n geografies bepaalde groep, of ‘n sosiale groep.  So word ook die spesifieke taalbehandeling by ‘n generasie of stroming skrywers as idioom verwys.  In nog wyer sin is idiomatiese gebruik as kwalifikasie vir ‘n grammatikale ‘ of welgevormde uiting , d.i. ‘n uiting wat gemaak is volgens die reëls en standaarde wat die gebruikte (algemene) taal eie is.

BRONNE:  Vryvertaal deur Eduard Smith vir INK vanaf: http://www.literaryterminology.com/index.php/component/content/article/16-i/842-idioom

Idille: ‘n Afbeeldsel. Sange wat die eenvoudige leefwyse beskryf of geïdealiseer word.

Idiosinkrasie:  Die digter se bloudruk of vingerafdruk van sy unieke skryf styl. Spesifieke karaktereienskappe wat jou digstyl onderskei van ander.

Impressionisme: Oormatige gebruik van die teenswoordige deelwoord

Inhoud: Struktuur en vorm van die taal en die formele patron van vers- en strofebou

Inkunabel: Kinderboek/rympies

Inspirasie: Gebruik jou sintuie om dinge te ervaar – hoor, sien, voel, proe, ruik (inspirasie beteken letterlik om in te asem; ekspirasie om uit te asem). Die kreatiewe idee word dus geïnspireer (ingeasem), maar die voltooide gedig (artefak: kunswerk) word eindelik geëkspireer, m.a.w. wat op die ou end van belang is, is hoe jy jou gedagtes op papier uitasem.

Intensiewe vorme of intensiewe adjektiewe: vroeër bekend as versterkte vorme, is byvoeglike naamwoorde in die versterkende graad. Intensiewe vorme word gebruik om ‘n sin trefkrag te gee en die taal op te kikker. ‘n Voorbeeld hiervan is brandarm, wat baie arm beteken. In Afrikaans word intensiewe vorme gewoonlik vas (as een woord) geskryf, met enkele uitsonderings, byvoorbeeld wawyd oop en nugter wakker. Intensiewe vorm is byvoeglike naamwoorde in die versterkende graad bv. Bitter word galbitter

Inversie: Enige omkering van die gewone of verwagte orde

Ironie: Voorgewende onkunde. Bepaalde spraak/word gebruik waarin op spottende wyse die teendeel gesê word van wat bedoel word.

Jambe: Versvoet bestaande uit ‘n swak beklemtoonde lettergreep gevolg deur ‘n sterk beklemtoonde bv. gevaar.

Karikatuur: ‘n Spotprent

Klanknabootsing (Onomatopee): Wanneer klanke of natuurgeluide nageboots word deur taal, byvoorbeeld die “hoe-hoe” van die uil, of: “met dofsware plof, soos koeëls in die stof, kom die eerste druppels neer” (J.F.E. Celliers) sjoef-sjoef waai die wind.

Klimaks: ‘n Stylfiguur waarin ‘n reek bewegings (gegewens) in ‘n klimmende orde gerangskik word ter will van die effek. Dui ‘n hoogtepunt aan, die beslissende moment wat die omkeer is.

Klug: ‘n Kort, snelbewegende en lagwekkende stuk. ‘n gedramatiseerde grap waarin die ruwe en plat word en daad meermale domineer.

Koeplet: Afdeling van ‘n gedig of lied; versgroep van 2 of meer reëls

Konnotasie:  Denkbeeldige betekenis wat meer as een beeld kan verteenwoordig, bybetekenis, gevoelswaarde, implikasie.

Konsonansie: Sameklinkend, eenstemmigheid, harmonie

Konsonant: Medeklinker

Kritiek: Die waardering en/of beoordeling

Kwatryn:  ‘n Gedig bestaande uit 4 reëls. ‘n Kort en kragtige gedig op emosionele en tegniese vlak.

Laaggedig: Verskillende betekenislae  word in ‘n gedig gebruik. Byvoorbeeld biologies, kunsteorie en skeppende gees van die digter

Legende: Dit wat gelees moet word, dui op ‘n vertelling

Lettergreep: is deeltjies van ‘n woord waar ons die woord sou opdeel as ons die woord moes afbreek aan die einde van ‘n reël. Of uit hoeveel dele ‘n woord sou bestaan as mens sou klap vir elke woordgreep. Byvoorbeeld: LEEF het net een lettergreep en kan nie kleiner verdeel word nie – WATER het 2 lettergrepe wa-ter , en TAMATIE het 3 lettergrepe ta-ma-tie. Onthou dat die ë dui op die begin van ‘n nuwe lettergreep so die woord REëN bestaan uit 2 lettergrepe : re-ën.

Limiriek: ‘n Vyfreëlige, humoristiese, pittige versie met ‘n vaste rymskema (aabba).

Liriek:  Dit verwys na die aard van poësie wat “sing” of “besing” en ooreenkomste toon met die lied. Die meeste poësie is liries, en staan teenoor epies of narratief as verhalend, en dramaties as verwysing na drama. (Daar kan egter ook verhalende en dramatiese elemente in gedigte figureer.)

Litotes: Stylfiguur waarin ‘n bewering gemaak word deur die negatief van die teenoorgestelde van die eintlike bedoeling te gee

Metafoor:  Soms ook genome ‘n beknopte vergelyking met die element van vergelyking. Wanneer ‘n verband gelê word tussen twee dinge sonder om die woorde “soos”, of “net soos” of “nes” te gebruik, byvoorbeeld:  “My wintervrou is ‘n klein klein voël”  (Breyten Breytenbach) ’n Metafoor stel groter eise aan ’n mens se verbeelding, dit is meer spontaan en dit het groter ‘plofkrag’. By metafore word, by twee sake van uiteenlopende aard, die een direk en sonder verbindingskakels in die plek van die ander gestel, bv. “sy hart is ‘n ysblok” / “haar soen was koud”

Metrum:  Die opeenvolginge van heffinge en dalinge in ‘n versreël. Heffinge en dalinge is die woorde wat die woorkklemme (lettergreep) dra (heffinge) teenoor dié wat  minder beklemtoon word (dalinge)

BV: ěk / wóu / mў / gán / sě / díg / kŭns / wáag

ŏm / ál / mў / hárt / pўn / úit / tĕ / kláag

Mite: ‘n Verhaal wat ontstaan uit die drang van primitiewe volkere om natuurkragte, dit wat by die mens vrees inboesem (wind, see, storms, donker ens.), te personifikeer en te vergoddelik.

Monografie: Verhandeling oor ‘n enkele onderwerp.

Monoloog: Alleenspraak

Muse: Diggodin, inspirasie.

Neologisme: Woordskepping

Ode:  ‘n Lied waarin ‘n verhewe onderwerp, soos ontsterflike liefde, of die grootsheid van ‘n persoon besing word. In digkuns is “Aan die skoonheid” en “Groot ode” van N.P. van Wyk Louw voorbeelde.

Oksimoron:  Stylfiguur waarby twee teenoorgestelde begrippe met mekaar verbind word. Bv. Onnosele slimkop, Arme ryke.

Palinode: ‘n Rekantasie; ‘n gedig waarin vroeëre beweringe teruggetrek word.

Pantoem: Maleise digvorm wat dikwels die vorm aanneem van ‘n raaisel met ‘n verassende antwoord. Rymskeme abab, maar behalwe die eindrym – wat dikwels met assonansie volstaan – word daar ook meermale klankverbande via die aanvangswoorde van die reels gelê. Soms is die logiese verband tussen die eerste verspaar en die laaste verhul.

Parabel: ‘n Gelykenis, om naas mekaar te werp

Parodie: ‘n Newelied,Ontstaan wanneer die ernstige aard of implikasie van ‘n bestaande werk met ‘n handige greep tot die absurd herlei word. DJ Opperman is ‘n goeie voorbeeld  n.a.v. Weduwee Viljee

Pastiche: Nabootsing van ander digters se digmetode. Mengelmoes of parodie/nabootsing/sameflansing van 1 of meer mense se werk. (Altyd gemerk met: apologie aan)

Personikfikasie: Voorstelling van ‘n ding of ‘n begrip as ‘n person m.a.w. ons gee menslike eienskappe aan lewelose dinge. Langenhoven het die TYD as Vader tyd gepersonifiseer. Byvoorbeeld die wind huil, die lente trek haar bruidskleed aan.

Pleonasme: Omslagtiger as wat nodig is beskryf

Polemiek: Oorlog, dispuut

Polisemie (betekenisveeldheid):  ’n Poliseem is ‘n woord met verskeie maar verwante betekenisse. Die woord polisemie kom van die Griekse woorde poli- wat ‘baie’ beteken, en sem wat ‘teken’ beteken.  Woorde word dieselfde geskryf maar het ander betekenis. Voorbeelde van poliseme:
Die huis is aan die voet van die heuwel geleë.
Een van sy skoene maak sy voet seer.
(In die eerste sin verwys die woord voet na die onderste deel van die heuwel en in die tweede sin verwys dit na die onderste deel van ‘n mens se been.)
Hy het tot by die kruin van die berg geklim.
Sy het die kruin van sukses in haar loopbaan bereik.
Die leer se hoogste sport het gebreek toe hy daarop getrap het.
Sy het die hoogste sport in haar loopbaan bereik.

Polisindeton: Saambindend, woorde word gekoppel deur die gebruik van “en/of”

Pseudoniem: Skuilnaam, vals naam

Realisme: (1) bewuste reaksie aan te dui (2) die liefdevolle en ontdekkende bestudering van die alledaagse werklikheid

Refrein: Om in stukke te breek. ‘n Reël wat telkens, gewoonlik aan die einde van ‘n strofe, terugkeer.

Reisang: Koorsang. Kenmerkende element van die Griekse tragedie wat uit sang ontstaan het.

Retoriek: Valse, oordrewe of verslete beeldspraak was as opsetlike versiering uitgetal word.

Repertoire:  Rykwydte: omvang van talent van ‘n digter.

Retoriek: Mooiskrywery, woordepraal, welsprekendheid, ondeurdagte taalgebruik of verslete beeldspraak – gedig swymel met woorde sonder om die kern van die woord duidelik te weet of ken – maar steeds gebruik omdat dit mooi klink.

Ritme: Die natuurlike beweging veroorsaak deur ‘n bepaalde opeenvolging van geaksentueerde en minder geaksentueerde lettergrepe van die vers.

Rondeel: ‘n Digvorm wat in Frankryk in die 13de eeu ontstaan het. Bevat 8, 11 of 13 vyfvoetigee jambiese reels, gebou op twee ryme, terwyl die beginreël in die middle e naan die slot terugkeer.

Rym: 

Volrym: Onderskei paarrym (aa) byvoorbeeld “meet” en “weet”;

Kruisrym (inhakrym) (abab) byvoorbeeld “nag”, “kus”, “wag”,” rus”;

Omarmde rym (abba) byvoorbeeld “wik”, “los”, “pos” en “tik”;

Slagrym (aaa) byvoorbeeld “rol”, “kol” en “vol”; en

Gebroke rym (abcb) byvoorbeeld “les”, “kos”, “val” en “los”.

Blanke rym is die afwesigheid van rymwoorde.

Halfrym:  Hier onderskei ons assonansie: Herhaling van vokale (a, e, i, o, u, of klanke wat dieselfde klink, byvoorbeeld “ei” en “y”) in twee of meer woorde, byvoorbeeld “wit”, “niks” en “drink”.

Vrye vers:  ‘n Versvorm waarin formele elemente soos rym, metrum en strofebou oorboord gegooi word. Elke vrye vers steun egter op sy eie interne bindingsmeganismes, byvoorbeeld die herhaling van woorde, reëls, frases of klankpatrone. Dit is ‘n gedig met ritme … geen volgorde maar wel rym klanke.  ‘n Vrye vers het:  • Geen rympatroon nie • Geen vaste struktuur nie MAAR ‘n Vrye vers HET: • Keurige woordkeuse • Sterk boodskap • En dis woordekonomies.

Saga: ‘n Historiese verhaal wat op mondelingse oorlewering berus.

Satire (Hekeldig): Dryf fyn die spot met ander deur oordrywings tegniek (sosiale kommentaar)tong-in-die-kies verwysings.

Semantiek (betekenisleer): Waar woorde deur suggestie en assosiasie gebruik word om bv. die mense se emosies te beklemtoon deur woordkeuses

Simboliek: Die saamgooi van nuwe en ou betekenisse

Sinekdogee: Stylfiguur waarby ‘n geheel deur ‘n deel aangedui word, byvoorbeeld: die ouerlike dak vir die ouerlike huis.

Sinergie: Samewerkend.  Die interaksie van elemente wat in kombinasie ‘n totale effek skep (produseer),  wat groter is as die som van die individuele elemente (bydraes) , ens.

Sinetese (sintuigverwarring):  Gewaarwording. Iets wat die sintuie prikkel. Visuele sinestese – waar klanke gesien word, ouditiewe sinestese waar lig gehoor word, gustatiewe sinestese waar lig of klank geproe word Digters plaas dít wat met een sintuig waargeneem word, opsetlik oor op ‘n ander sintuig. Dit maak verse nuut en anders, gelaai met suggestie en betekenis. Bv. ek sien die sagte klanke (hier word dit wat mens ouditief (met gehoor) waarneem dan visueel waargeneem (jy sien wat jy hoor) OF Ek proe die blou van die lug ( Smaak en sien word verwar) In” Bitterbessie dagbreek “ gebruik Ingrid Jonker dit ook as sy skryf van “ papegaai-bont eggo” ‘n Papegaai het bont vere en hier word geskryf sy sien die klank eggo. Eggo is verwarrend want die weerklank kan nie bepaal word van waar dit sy oorsprong het nie, netso deurmekaar soos die papegaai se veelkleurige vere, so sy verstaan nie sy leuentaal antwoorde nie , dis slegs ‘n terugkaatsing van haar eie begeertes wat sy wil hoor.Al hierdie ryke betekenisse kom na vore deur “eggo” en “bont” naas mekaar te sit.  Soos:  ek HOOR die KLEUR, ek RUIK die KLANK, ek SIEN die REUK, ek VOEL die GEUR ens.

Sinkopee: Die uitlaat van ‘n klank binne ‘n word, byvoorbeeld skeemring vir skemering

Sintaksis (Sinsleer): Studie van woorde en sinne in strukture – bepaal die toon van jou gedig wat jou werk uniek maak bv. die omdraai van woorde in ´n sekere verband.  Die Toon en inhoud moet altyd in balans aangewend word; let op klank en woord herhalings.  Die sintaksis van die gedig is in balans met die toon en inhoud van jou werk.

Sintese:  Samestelling, saamvoeging, verbinding, samevatting.

Sinoniem: Woorde met dieselfde betekenis.

Sinopsis: Kort skets, kort samevatting, samevattende oorsig

Skeppende skryfkuns:  Enige kreatiewe vorm van skryfwerk, fiksie, poësie of nie-fiksie.

Sonnet:  Hierdie digvorm het 14 versreëls, 3 strofes x 4 reëls x slot strofe 2 reëls. Met ‘n bepaalde rymskema.

Splinters: Jou gedagtes wat jy neerskryf wat later ‘n gedig/verhaal kan vorm

Stansa:  Agtreëlige jambiese strofe met 3 kruisrymklanke.  Die eerste 6 reëls van ‘n stanza het gekruisderym terwyl die laaste 2 van gepaarde rym gebruik maak.

Stem:  Jou woordeskat gebruik bepaal jou stem op papier.

Toon:  Emosionele effek van jou woorde op die leser (atmosfeer, gevoel, stemming, vrolik, helder, hartseer ens) vinnig stadig, gejaagd, ongeduldig, hartseer ens. kan deur jou woorde weergegee word.

Vergelyking:  Wanneer daar ‘n verband gemaak word tussen twee dinge deur die woorde “soos” of “nes” of “net soos” te gebruik, byvoorbeeld: “soos sand aan die see is die nageslag van Abraham”. ’n Vergelyking word gebruik as ’n spreker twee sake of dinge van uiteenlopende aard op grond van ’n bepaalde ooreenkoms of bepaalde ooreenkomste met mekaar vergelyk of gelykstel, bv. “sy hart is so koud soos ys” By vergelykings word altyd verbindingskakels gebruik, nl. “soos”/ “nes”/ “net soos”.

Verplasing: in iemand anders se skoene; spreek namens daardie persoon

Versvoet: Die eenhede (Lettergreepgroepe) waaruit die metriese vers opgebou is. Daar word onderskei tussen stygende voete.

Vertel (“telling”): In die herfs verkleur die bome se blare in rooi, geel, oranje en bruin. Jy gee feite

*Beelding (“showing”): …herfsbome se blare in warm kleure gebrand. Jy skep beelde

Vokaal: of klinker bv. A, E, I, O, U

Woordekonomie:  Met so min moontlike woorde soveel moontlike inligting gee sonder dat jou sin stomp klink.

Woordskepping (Neologisme): Skep ‘n nuwe woord bv. Bitterbessiewreed.

 

Bronne:

HAT (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Odendal, Schonees, Swanepoel, Du Toit en Booysen – Perskor, Negende Druk 1991);

Gepaardgaande Afrikaanse Woordelys en Spelreëls;

Dignet Woordeboek (www.dignet.co.za, 2010) – skriftelike toestemming is van die samesteller ontvang;

Sakwoordeboek, A. P Grové;

Wikipedia, Google (verskeie vrye internetbronne per termdefinisies);

Versindaba;

Academia-edu (internet studiebron).

Afrikaanse sinonieme woordeboek met antonieme – Louis Eksteen 1988

Makro blokraaiselwoordeboek – LL Pansegrouw hersiene uitgawe 1993

Woordeboeke van die Afrikaanse taal (Staatsdrukkery PTA 1956)- Alle dele.

Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans – AP Grové – Bygewerkte en uitgebreide derde uitgawe

Asook bronne, soos individueel vermeld onderstaande aan verkeie terme in die dokument.

Hierdie inligting rondom Digterme bly die intelektuele eiendom van die bronne genoem en ook persone wat dit op die Internet geplaas het en INK deel dit slegs ter inligting en hulp.

Terme wat nie reeds opgeneem is in die lys nie kan gestuur word aan skryfafrikaans@ink.org.za sodat dit opgeneem kan word met erkenning aan u.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed