Sistematies of dinamies?
Baie gedigte wat vir bundeling, tydskrifopname of Internetblaaie ingestuur word, is vandag nog (2016) hardnekkig sistematies, met metrum en rym. Ons let egter veel eerder op ritme as die “asemhaling van betekenis” (Van Wyk Louw), op komposisie van panele en strofes, reëldelings, spreektaligheid en die onmiddellikheid van ’n teks en sy komponente. Uiteraard kan gevra word wat die konsepsuele “noodsaak” (Opperman) is, die stemtoon en die graad van affek. Ons vermy die konvensionele as geyk, minder informatief (want voorspelbaar) en ons vrees die “dullness” wat (volgens Robin Skelton) al is wat kuns kan doodmaak. Die konvensionele het natuurlik ‘n plek, maar die “gevormde betekenis” (DH Rawlins) sal bepaal of dit geskik is. Maar: dis kuns, en dit ontgin en draai stellighede op hulle koppe!
Wat sê jy daar?
In baie skryfkursusse is daar praktikums, waar jy per soort, formele eienskap of kategorie skryf. Dis iets wat maklik agterstevoor kan gebeur. Die impuls of aandrif tot ’n gedig kan ’n “donker embrio” wees (TS Eliot), ’n ritme of string woorde se ritme, iets monumentaals wat gehoor is, en tref oor die ironie, insig in karakter of waardes, ens. Duiselende ander. Insluitende ‘n idee of stelling wat dokumentêr is, of ideologies. Maar te veel word dié abstraksies as die kern van die poësie beskou, die res net klere of strikke in die hare. Dan praat jy saam met (net) die joernalistiek en sy formele (kunsstemmer-) eweknieë, en nie met die dramaturg, skilder, beeldhouer en ander kunsstemmers nie. Nou sal dit sekerlik kom met vorm en opgaan in ’n vormlike proses; “afloop op sy eie smelting soos ys op ’n warm plaat”, stygend of dalend, kontrapuntaal, onbestemd (vgl. M Perloff, The Poetics of Indeterminacy) – hoe ook al. En as jy taal verander (FA Ponelis, Sintaksis II) dan verander jy betekenis, en die moontlikheid van die leser se konstruksie daarvan.
Stof en soort
Dan lyk dit of ’n antwoord is om ’n “tema” te gee. As geheel, “the theme blossoms forth from the entire process of the poem” (Brooks en Warren, Understanding Poetry). Ten laaste onthou ons ook die wysheid van G. Adé: dat die literatuur hom soms aan sy tegnieke laat herken, maar nooit daartoe gereduseer kan word nie”.
Prufrock, Jorik, Raka en ander karaktertekeninge, veral na die kenterings wat agterna as “modern” en “postmodern” beskryf is, het ook antihelde opgelewer. Jy sou kon beskryf (beeld, wys, tonele toon) hoe ’n outjie (vaal seun) tot omie oorgaan sonder ooit “danige lieflikheid”, mag, krag of interesse. Niks musiek gemaak of groot afgrond geken nie: watter afgrondelikheid moet d’t wees, soos Auden skryf oor al die maniere waarop jy iemand kan doodmaak. Die ergste is “to put him in the middle of the Twentieth Century/and leave him there”. Ons onthou die paradoks van kuns: dat die roete na die universele via die mees spesifieke en uitsonderlike gaan. En weer sien en hoor hoe die groot digters in Afrikaans, soos Van Wyk Louw, Opperman, Eybers, Blum, Breytenbach, Krog, Stockenström, Cussons, Kombuis en ander die digters van die konkrete en die klank is.
Ian Raper