Leestekens in Digkuns
ALGEMEEN
Leestekens was baie noukeurig in digkuns aangewend voor hierdie eeu, omrede Afrikaans as ‘n taal nog ontwikkel het en alles rigied moes wees. Ons as moderne digters is die taalrebelle wat in digterlike vryheid glo, daarom skryf baie digters vandag in vrygees – sonder leestekens en soms ook alles in kleinletters, behalwe wanneer ons iets wil personifieer of wanneer ons van eiename gebruik maak. Indien leestekens of hoofletters in gedigte gebruik word, moet dit dus korrek aangewend word. Hier is ‘n paar riglyne…
PUNTE (.)
‘n Punt kom aan die einde van ‘n sin, gedagte of idee in digkuns. Let wel: nie aan die einde van elke versreël nie. Indien jou gedig goeie ritme het en in geskikte strofes verdeel word, sal dit nie nodig wees om van punte gebruik te maak nie. Die punt word ook aangewend om die leser ‘n pouse te gee.
KOMMAS (,)
‘n Komma word soms by ‘n uitgebreide sin, idee of gedagte aangewend. Wees versigtig om die komma nie oorbodig aan te wend en sodoende jou gedig se vloei te beïnvloed nie. Kommas belemmer ook soms enjambemente. Die komma kan ook aangewend word om die leser ‘n pouse te gee; wat ‘n korter pouse as die punt is. Die komma kom veral voor by ‘n polisindeton.
KOMMAPUNTE ( ; )
Die kommapunt word aangewend in die middel van ‘n sin, idee of gedagte. Die dele voor en na die kommapunt is verwant aan mekaar. Daar volg gewoonlik ‘n uitbreiding op die eerste sin, idee of gedagte na die kommapunt.
DUBBELPUNTE ( : )
‘n Dubbelpunt word aangewend wanneer daar ‘n reeks sake volg. ‘n Dubbelpunt word ook aangewend voor ‘n aanvulling of verduideliking. Die dubbelpunt word ook gebruik voor direkte aanhalings.
AANDAGSTREPE ( – )
Belangrik: Die aandagstreep is langer as die koppelteken. Die aandagstreep kan as parentese (inlassing) aangewend word in die plek van hakies in die middel van ‘n sin. Die aandagstreep dui ‘n skielike onderbreking in die sin aan.
UITROEPTEKENS: (!)
Uitroeptekens word gebruik om verskeie emosie aan te dui. Wees versigtig vir oormatige gebruik van die uitroepteken, want dit kan ‘n effek van uitgelate woorde skep – asof daar sterker woorde ontbreek.
VRAAGTEKENS (?)
By enige vraag wat gevra word.
AANHALINGSTEKENS ( ” ” )
Wanneer iemand direk aangehaal word. Dit word ook in dialoog aangewend wat in narratiewe en dramatiese poësie voorkom.
GRAVIS-AKSENTTEKEN ( ` )
Hierdie is ‘n diakritiese teken wat op ‘n vokaal geplaas word. Dit lê klem op die uitspraak van die vokaal, bv. appèl, première, nè.
AKUUT-AKSENTTEKEN ( ´ )
Hierdie is ook ‘n diakritiese teken wat op ‘n vokaal geplaas word, maar sy funksie is om ‘n spesifieke lettergreep by uitspraak te beklemtoon, bv. dié, hiérdie, nóg dit, nóg dat.
HAKIES ( )
Hakies word soms in digkuns aangewend om dubbelsinnigheid van idees, gedagtes of woordspeling uit te lig, bv. “die (s)waarheid hang in my gedagtes”. Hakies kan ook aangewend word om ekstra uitbreiding van ‘n idee of gedagte weer te gee, maar sou die hakies nie daar wees nie, moet die versreël steeds sinvol gelees kan word. Soms word die aandagstreep ook in die plek van hakies gebruik. Die hakies se hoofdoel is om as parentese (inlassing) te dien.
HOOFLETTERS
Moet nooit elke versreël met ‘n hoofletter begin nie. Dit skep verwarring by die leser. Begin slegs elke nuwe idee of gedagte met ‘n hoofletter (sou jy verkies). Moderne (vrygees) digters skryf deesdae sommer alles in kleinletters. Eiename word altyd met ‘n hoofletter geskryf, bv. God, Kaapstad. Wanneer die digter doelbewus iets of iemand wil degradeer, word eiename met kleinletters geskryf. Wanneer hoofletters saam met punte in ‘n gedig aangewend word, moet dit korrek aangewend word en deurgaans aangewend word.
ELLIPS ( … )
‘n Sin word onvoltooid gelaat, want die leser moet dit self voltooi. Die ellips het altyd net drie punte … Die stippels word aangewend wanneer die digter ‘n langer pouse aan die leser wil gee en die leser wil kans gee om oor iets na te dink. Dit word ALTYD met DRIE punte geskryf – nie meer of minder nie. Moet ook nie hierdie leesteken oormatig gebruik nie.
DIGTERLIKE VRYHEID
Dit bly jou as digter se keuse of jy wel leestekens in jou gedig wil gebruik of nie. Indien jy wel daarvan gebruik maak, is bogenoemde riglyne baie belangrik. Wanneer leestekens korrek aangewend word, kan dit meer orde in jou gedig skep. Om ‘n goeie idee te kry of leestekens moet bly of gly, kan jy jou gedig hardop lees en luister na die effek wat die leestekens skep.