Jongste aktiwiteit:

‘n Kopkrappery oor koppeltekens
vir

‘n Kopkrappery oor koppeltekens

‘n Kopkrappery oor koppeltekens

deur Sophia Kapp 
Een van die skryftekens in Afrikaans wat puristiese teksredigeerders hoofbrekens kan besorg, is die oorbenutte koppelteken. Dit is, in sekere spellingomgewings, ‘n broodnodige ortografiese hulpmiddel, maar die koppelteken het in die hande van skoolkinders en spellingonkundiges ʼn paar toepassings gekry waarvan taalkundiges soms met verstomming kennis neem.

Ek kom agter onseker spellers gebruik die koppelteken soos wat ek op skool my handskrif gebruik het om my rekenkundige geknoei in wiskunde-eksamens te kamoefleer: As ek nie seker was of my antwoord reg was nie, het ek so lelik geskryf dat dit bykans enige syfer kon voorstel met die hoop dat die onderwyser met genade sou besluit dit wat ek daar neergegriffel het korrek is. Skrywers wat onseker is of ʼn woord vas of los moet wees, gebruik die koppelteken as ʼn soort goue middeweg met die hoop dat die spellingnazi’s hulle onkunde oor die hoof gaan sien. Les: Die gekrap op my wiskundeantwoordstelle het nie vir my op skool gewerk nie. Die koppeltekenkamoeflering gaan nie ook nie nou werk nie.

Die rede daarvoor is eenvoudig: ʼn Koppelteken koppel woorde of woorde en simbole om samestellings te maak. So ʼn samestelling is vas. Die koppelteken gee nie te kenne ʼn ding is losserig of vasserig of in ʼn staat van vaswording nie, die koppelteken sê die ding is vas. Die rede vir die koppelteken by samestellings is dat daar een of ander beletsel is teen die vas skryf van die strukture. Dié redes (reëls) vir die gebruik van die koppelteken word in hoofstuk 12 van die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls gegee, en afwykings daarvan is spelfoute.

Die belangrikste omgewings waarin koppeltekens gebruik word, is die volgende. Let wel: Dit is nie ʼn omvattende lys reëls nie, daarvoor moet ʼn mens steeds die AWS raadpleeg. Dit is slegs ʼn hulpmiddel waarmee ʼn mens die grootste slaggate kan systap:

By samestellings waar daar ʼn opeenvolging van letters (klinkers of klinkers en medeklinkers) is wat leesverwarring kan veroorsaak

Hierdie een veroorsaak probleme omdat mense die tweede deel nie raaklees nie of verkeerd verstaan. “Leesverwarring” beteken nie “kinders onder tien gaan die woord moeilik lees” nie, dit beteken “almal in die taalgemeenskap gaan die woord moeilik of verkeerd lees”. Voorbeelde van samestellings wat koppeltekens onder hierdie reël kry, is:

  • bo-op, na-aap, see-eend
  • grafika-inligting, ete-uitnodiging, ski-uitrusting, wynproe-uitstappie
  • bo-ent (anders is dit  boent), aftrek-kieslys (anders lees ʼn mens dit aftrekkies-lys), sand-aal (anders is dit sandaal) en die immergroen porno-ster (wat joernaliste vir hulle eie vermaak  pornoster bly skryf)

Die reël hou in dat opeenvolgende vokaalletters wat nie ʼn diftong voorstel of op een of ander manier verwarring skep nie, nie ʼn koppelteken afdwing nie. Daarom skryf ons die volgende sonder koppeltekens:

  • handearbeidnaywersyaansigblouoognooi

By verbindings met konstruksies wat nie woorde is nie

Die beginsel bly dieselfde: Dis eintlik ʼn samestelling, maar dit kan nie vas geskryf word nie, want ʼn mens kan nie woorde en syfers, simbole, afkortings, akronieme, ens. direk vas aan mekaar skryf nie:

  • V8-enjin, G5-kanon, BTW-aanslag, SADOU-vergadering
  • verbindings-s, leerder-IK, slot-%

Die spasies wat taalkundig verpligtend is in die eerste deel van so ʼn verbintenis bly behoue wanneer die woord bykom:

  • 9 mm-pistool, 12 dosyn-resep
  • graad 9-leerder, nommer 5-skoen

By hoofletterwoorde wat woorddele of voorvoegsels vooraan kry

  • oud-Matie, nie-Katoliek, non-Reformatories, rugby-Springbok
  • anti-Trump, pro-Amerika, on-Afrikaans

By reduplikasies, ook dié wat geflekteer, afgelei of in samestellings is

  • doef-doef, nom-nom, koer-koer, nou-nou
  • hoep-hoepe, boetie-boetierig, woer-woer-skop

Woorde wat nie volledige reduplikasies is nie, kry nie koppeltekens nie:

  • netnou, harlaboerla, tjoeftjaf, sigsag

By bepaalde betekenisverhoudings

  • Durban-Pietermaritzburg-pad, aan-af-skakelaar, 2018-2019 (die boekjaar), 2010-2019 (van 2010 tot 2019), skriba-kassier, soet-suur

Let veral op soet-suur. Moenie deurmekaar raak met so ʼn byvoeglike naamwoord wat ʼn mengsel voorstel (soet-suur is een smaak iewers tussen soet en suur) en ʼn kombinasie van bywoord + byvoeglike naamwoord (bitter suuris vreeslik suur) nie.

By woordgroepe wat betekenisverandering ondergaan het, as geheel een ding benoem en selfstandig optree

  • piet-my-vrou (ʼn voëltjie), klem-in-die-kaak (ʼn siekte), hen-en-kuikens (ʼn plant)

By woordgroepe van drie of meer woorde wat gewoonlik los geskryf word maar dan met nog ʼn woord verbind om ʼn samestelling te vorm

  • huis-toe-gaan-tyd, kaas-en-wyn-onthaal, dop-en-tjop-paartie, tref-en-trap-ongeluk

By woordgroepe uit vreemde tale (veral Latyn); die woordgroepe bly los, maar word met ʼn koppelteken vas aan die Afrikaanse woord geskryf

  • bona fide-boere, ad hoc-orkes, pro bono-verteenwoordiging, audi alteram partem-reël

By geografiese eiename waarvan een deel ʼn onverboë byvoeglike naamwoord, ‘n rigtingbenaming, ʼn voorsetsel of ʼn plekaanduidende bywoord of selfstandige naamwoord is

  • Groot-Brittanje, Klein-Karoo
  • Suid-Afrika, Wes-Kaap, Beaufort-Wes, Barkly-Oos, Noorder-Paarl
  • Benede-Ryn, Waterval-Onder, Bo-Kaap, Midde-Ooste

Onthou dat verboë byvoeglike naamwoorde by geografiese eiename los geskryf word:

  • Dooie See, Koue Bokkeveld, Stille Oseaan

By saamgestelde titels en range

  • prokureur-generaal, generaal-majoor, direkteur-generaal

Onthou dat voorbepalings by sulke titels en range wat die titel of rang binne ʼn hiërargie (bo of onder) plaas, nie koppeltekens kry nie:

  • adjunkdirekteur, visepresident, onderhoof, stafsersant, assistentsjef

Een van die taalomgewings waarin ʼn koppelteken nie korrek is nie, is ná nie-, non-, eks- en oud-. AWS 12.27 bepaal uitdruklik dat ʼn mens net ʼn koppelteken ná hierdie konstruksies plaas as daar ʼn ander rede vir die koppelteken is (soos ʼn hoofletter of ʼn syfer). Die volgende is dus korrek:

  • niefiksie, nonkonformis, ekskêrel, oudleerder
  • nie-Europees, non-Katoliek, eks-Amerikaner, oud-Tukkie

Waarskuwing: ʼn Opsomming soos hierdie is nuttig, maar dis nie reëls nie en kan nie aangehaal word om spellingbesluite te regverdig nie. Die enigste bron wat vir ʼn mens in ʼn spellinggeveg grofgeskut bied, is die AWS. Skaf dit gerus aan – die digitale weergawe is op Pharos se webblad vir ʼn appel en ʼn ei beskikbaar.

VivA-groete

Sophia




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed