Jongste aktiwiteit:

‘n Paar wenke vir my medeskrywers – Dirk Loriet (Netwerk 24)
vir

‘n Paar wenke vir my medeskrywers – Dirk Loriet (Netwerk 24)

Dirk Loriet is ‘n voormalige taalversorger vir Beeld, Hoofsub en rubriekskrywer vir Rapport, stigters-redaksielid van Sunday Sun, produksieredakteur van Sunday Sun, konsulant tydens die stigting van Daily Sun, redakteur van Son, inhoudsredakeur, kreatiewe redakteur en waarnemende redakteur van Sondag, joernalis vir News24 en taalversorger vir The Citizen. Hy het ook in die verlede as dosent vir Damelin gewerk en by geleentheid as gasdosent by die nw-universiteit diens gedoen. Artikels, kortverhale en ander bydraes deur hom is al in verskeie tydskrifte en kortverhaalbundels gepubliseer en hy het een roman op sy kerfstok. Hy is op die oomblik ‘n rubriekskrywer vir The Citizen en uitgewer vir ‘n landboutydskrif.

As jy dekades lank dosyne Levi 501s in redaksiekantore, uitgewerstoele en agter jou eie roman-rekenaar deurgesit het, leer mens ‘n paar goed van skryf.

Jy begin stelselmatig met ander skrywers praat, jy tel hier en daar ‘n wenk op, en stelselmatig begin jou werk tegniese afgerondheid toon wat ‘n groot verskil aan die produk maak wat jy uiteindelik op die toetsbord uittimmer.

As mens, soos ek, elke week ure lank met ander skrywers se werk deurbring, begin mens goed raaksien – maar tegniese afgerondheid wys alyd die heel duidelikste.

Ongelukkig leer kinders nie daarvan op skool nie. Toe ek nog ‘n skoolseun was, het ons nogal baie geleer oor die tegniese elemente van poësie. Maar prosa het nog altyd so ‘n gevoel van ‘die donker kunste’ daaraan gehad. Jy het die idee gekry dat skrywers net skryf en hoop vir die beste. Dat daar
nie tegniese gereedskap is om korverhale of romans te skaaf tot perfeksie nie.

Dis jammer, want ek het al agergekom dat die meeste jonger skrywers en baie amateurs smag na inligting oor hierdie gereedskap, en dat dit eenvudig nie beskikbaar is nie. Ander jong skrywers en amateurs, aan die ander kant, glo hulle is die godgegewe geskenke aan die skryfkuns en hulle kan niks leer nie. Diesulkes kan natuurlik hierdie wenkies van my ignorer – dis bedoel vir die ouens wat nog iets kan leer en graag wil verbeter. ☺

Hierdie is wenke soos ek dit oor drie dekades in die skryfberoep opgetel het. Maak daarvan wat jy wil. Ek deel graag en as net een of twee wenke vir iemand van nut is, laat dit my hart warm klop.
Let wel: hierdie is nie muwwerige, slim akademiese raad nie. Dis sommer tips deur ‘n skrywer in ‘n
overall – regte blouboordjie-wenke reg uit die werkswinkel.

Gereedskap

Die gemiddelde storie is presies dit – gemiddeld in inhoud, gemiddeld in trefkrag, maar ook gemiddeld as dit by die gehalte van die skryfwerk kom. En daarmee sê ek nie dis swak nie – die woordkeuses is redelik, die struktuur van die storie is solied en jy kan sien die feite is goed nagevors.
Maar dit het net niks wat dit laat uitstaan nie, dit glinster nie soos ‘n sissie-vampiere in die Twilight-reeks nie.

Dit gaan nie altyd oor ervaring of senioriteit nie. Party mense skryf jare lank, maar hulle skryf bietjie soos ek dans – lomp en sonder ritme. Party baie senior hoofredaksielede waarmee ek oor die jare by koerante te doen gekry het, het Van Gogh se oor vir goeie skryfwerk terwyl ‘n intern waarmee ek ‘n paar jaar gelede gewerk het, tot vandag toe nog een van die mense is wie se werk vir my van die heel meeste rou, natuurlike skryftalent toon.

En nee, mens kan iemand nie oplei om ‘n goeie skrywer te word nie. Maar die regte leiding, die slyp van vaardighede en bowenal natuurlike aanvoeling is die enigste eienskappe wat gaan bepaal of jy werklik goed gaan word of nie. Maar tegniese bedrewendheid kan baie help.

Daar is stringe elemente van skryfwerk wat ons wil bespreek, maar ek gaan net vyf van die belangrikstes hier ophaal. Ek noem dit die Goue Vyfling: tempo, vloei, trant, ritme en oorgange.
Vir my sorg die korrekte gebruik hiervan vir ‘n groot sprong in die kwaliteit van iemand se werk. Lees dit noukeurig en pas toe wat jy dink jou skryfwerk kan help. En vrae is natuurlik welkom.

Tempo

“I like to listen. I have learned a great deal from listening carefully. Most people never listen.”
― Ernest Hemingway

Tempo kan omskryf word as die spoed waarteen ‘n leser die inligting absorber. Dit gaan nie net oor die tyd wat die leser aan die storie as geheel afstaan nie, maar ook oor die tyd wat die leser aan elke individuele punt in die storie spandeer.

As die skrywer sy werk reg gedoen het, lees sekere stories vinnig terwyl ander stadiger lees.

Dink byvoorbeeld aan ‘n skinderstorie oor ‘n sappige skandaal. Dit lees op ‘n manier wat die sinne vining op mekaar laat volg. Die hele storie kry so ‘n trant van uitasem opgewondenheid.

‘n Goedgeskryfde storie wat die leser na sy asem laat snak met bloeddorstige of
ontstellende feite, kry weer so ‘n afgemete, berekende pas.
Vergelyk byvoorbeeld die snelle pas van ‘n celeb-skadaal in Rapport teenoor die afgemete, stadige, ernstige tempo van ‘n storie oor ‘n plaasmoord.

Daardie tempo is nie toevallig nie – dit is jou verantwoordelikheid as skrywer om dit daar te plaas. Nie net probeer jy ‘n verskillende tempo in verskillende soorte stories inwerk nie, maar jy soek ook ‘n verskillende tempo in verskillende dele van dieselfde storie.

Jy wil tog hê die leser moet bietjie meer tyd afstaan aan belangrike idees en vinniger lees aan minder belangrike punte, maar punte wat tog belangrik is om die hele storie duideliker te maak.

Die behendige skrywer benut eintlik dieselfde vaardighede as ‘n digter deur slegs die heel kragtigste woorde te kies.
Op hierdie manier kan ‘n skrywer die woordtelling laag hou, maar net soveel betekenis oordra as wat ‘n minder vernuftige skrywer met twee maal soveel woorde kan doen.

Tempo is nie ‘n maklike skryf-element om onder die knie te kry nie, maar met genoeg oefening en veral genoeg aanvoeling word dit ‘n ware bate vir die skrywer en gee dit vir hom ‘n instrument waarmee hy teks kan laat glinster.

As die skrywer is jy in die posisie om jou leser nie net te manipuleer om vinniger of stadiger te lees nie, maar ook sy sesde sintuig te voer met die idee oor wat belangrik is en wat minder belangrik is bloot met die woorde wat jy kies.

Die meeste amateur-skrywers dink nooit twee keer oor tempo nie. Heng, die meeste van hulle verstaan glad nie die gebruik van tempo nie, laat staan nog die manipulasie van die leser daardeur. Hulle raak so behep met die storie dat hulle nie besin oor hoe mens daai storie effektief moet vertel nie.

Alles goed en wel, maar hoe manipuleer jy die tempo van dit wat jy skryf?
Die antwoord is in lengte. Die lengte van woorde en sinne. Kort woorde en sinne versnel die leestempo, terwyl langer woorde en langer sinne gaandeweg die rem aandraai.
Kyk na die paragraaf hier bo. Sien jy hoe jy die eerste helfte vining lees, maar stadiger lees as jy die tweede helfte bereik?

Kyk na die volgende voorbeeld:

Sy skiet orent,

Sy staan uit haar stoel op.

Sy verskuif haar gewig en klim rustig uit haar sitplek.

Sien jy hoe dit nie net die lengte van die sinne is wat verskil nie, maar ook die tempo waarteen jy dit lees?

‘n Vernuftige skrywer sal ook die tempo in dieselfde sin laat verskil, deur byvoorbeeld stadig te begin om die trefkrag laat in die sin te verhoog.
Jy moet egter in gedagte hou dat jy nie geweldig baie speling het nie. As jy die pas te stadig maak, het die modern leser die manier om net hier en daar in die storie grond te vat en hulle koppe toe te laat om self die spasies tussenin te vul.

Tempo is ook baie belangrik in aanhalings deur karakters in jou storie. Dit is byvoorbeeld onwaarskynlik dat ‘n tantetjie wat ‘n ooggetuie van die tref-en-trap-ongeluk was, in kort, bytende sinne sal praat. As jy egter ‘n parate polisiebevelvoerder of bendeleier aanhaal, is dit presies die tempo wat hulle sal gebruik!

Oor die algemeen beveel ek aan dat jy jou storie teen ‘n gemaklike pas begin en dan versnel of rem na gelang van die inhoud van die storie em die effek wat jy wil behaal. As jy te stadig wegspring, kan jy jou leser sommer met die aanvang van die storie verveel. Begin jy weer te vining, kan jy jou leser afskrik.

Gebruik jou tempo om die leser in die storie in te trek!

Ritme

I don’t like to write like God. It is only because you never do it, though, that the critics think you can’t do it.
― Ernest Hemingway

Wanneer jy jou storie klaar geskryf het, tree die deel van skryfwerk in werking wat waarskynlik die swakste verstaan word. Vir swakker skrywers is dinge nie te moeilik nie – jy lees net vining deur jou storie en kyk of daar nie ernstige tik- of spelfoute is nie.

Maar goeie skrywers verstaan die aanvanklike skryf van die storie was die makliker deel. Spelling en skoon teks is net ‘n klein deeltjie van waarna jy omsien as jy eers deur die eerste weergawe van jou storie werk.

Selfs belangriker is die klank van die storie: die ritme.
Gesproke Afrikaans het ’n ingeboude jambiese ritme: di-DUM di-DUM de-DUM di-DUM.
Ryg ’n klompie van hierdie jambes versigtig in ’n ry agtermekaar en jy het ’n sin met ’n duidelik waarneembare ritme:
Die osse stap aan deur die stowwe,
Geduldig, gedienstig, gedwee

Of kyk na hierdie voorbeeld:
Want die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun,
En dit vlam uit sy neus en sy oog;
Styf en stram sit die ruiter na vore geleun,
En die bloed uit sy nek spuit ‘n boog;

Aha! Sal jy dalk sê. Daardie is gedigte. Ritme is maklik in poësie.
Wel, nie heeltemal nie. Ritme is noodsaaklik in enige goeie skryfwerk.

Ons is geneig om die grense tussen poësie en prosa te oorbeklemtoon. Dis dieselfde taalreëls en baie van dieselfde tegnieke wat geld. En jy probeer in albei vertakkings van die skryfkuns so kort moontlik skryf, maar met geweldige slaankrag.

Dis nie maklik om ritme in jou skryfwerk in te bou nie.
As jy praat, is dit maklik om ’n bepaalde ritme in jou woorde en sinne in te bou.
Party skrywers behou daardie natuurlike ritme, selfs al pleeg hulle taal heeltemal geluidloos, soos met skryfwerk. Dis die mense wie se skryfwerk van nature uitstaan bo ander.
Maar ander skrywers weer, is heeltemal doof vir ritme as taal geskryf word en hulle kan dit nie hoor nie. Die lei tot lompe, klonterige skryfwerk.

So ‘n stuk skryfwerk is nie noodwendig swak nie. Maar dis ook beslis nie goeie skryfwerk nie. Die skrywer sien nie daai klonterige ritme raak nie, maar die leser voel dit aan, glo my!
’n Ander rede hoekom ritme baiekeer in ’n berig makeer, is dat sinne te lank is en die skrywer nie die leestekens gebruik het wat nodig is nie.

Die een wenk wat dikwels werk vir skrywers wat nie die verlangde ritme in hulle berigte kan inbou nie, is om die kopie hardop te lees. Ernstige ritmeprobleme word dan sommer gou duidelik.

Dis ook ’n goeie idee om die lengte van jou sinne af te wissel. Die idee is dat jy dit vermy om in een standard sinstruktuur te verval en dat jou storie die duidelikheid van kort, eenvoudige sinne en die rykheid van komplekse sinne elegant afwissel.

En gebruik sinsfragmente. Daar is ou verstokte fossiele wat meen dis verbode om sinsfragmente te gebruik. ’n Sin moet glo ‘n werkwoord en ’n selfstandige naamwoord hê. Bog!
Ons praat nie altyd in mooi volle sinne nie – fragmente is deel van ons spreektaal en ons skryf soos ons praat – gaan kyk maar na die bladreëls. Daar is niks wat die ritme van ’n storie aan die brand kan skop soos ’n paar sinsnedes in plaas van volle sinne nie

Die bykomende voordeel is dat dit die tempo terselfdertyd bietjie woema gee.

Trant

Actually if a writer needs a dictionary he should not write. He should have read the dictionary at least three times from beginning to end and then have loaned it to someone who needs it.
― Ernest Hemingway

Die trant is die gevoel wat die storie in die leser wakker maak deur die doeltreffende gebruik van emosie, ironie en innuendo. Die trant behoort by die inhoud van die berig te pas: ’n emosionele storie oor menseregtevergrype behoort byvoorbeeld met ’n ernstige trant van rede en regverdigheid geskryf te word en die skrywer behoort sarkasme en neerhalendheid te vermy.

Die trant van enige stuk skrywery behoort reaksie by die leser uit te lok. Ek praat nie hier van onderwerpe wat op sosiale media gekies word met die doel om terugvoer uit die leser te dwing nie. Dit werk eenvoudig nie so met alle stories nie – die leser kan nie altyd dadelik terugvoer gee nie. Die reaksie waarvan ek praat, is meer intern; jy behoort die trant van die storie te gebruik om die leser aan jou kant te kry.

Maar wees in jou pasoppens, trant kan ’n bitter gevaarlike instrument wees. Jy het potensieel soveel keuses in terme van trant as wat die skilder op sy palet het. Trant – hetsy bedoel of onbedoel – gee ’n skakering aan enigiets wat jy skryf. Kies jou trant dus versigtig!

Die sleutel tot die perfekte trant is woordkeuse. Noukeurig gekose woorde is presies in hulle betekenis en uitlokkend in die konnotasies wat jy verwag die leser gaan met die woord maak.

Vloei

I wish I could write well enough to write about aircraft.
― Ernest Hemingway

Vloei is verwant aan ritme, maar verwys na die betekenis van die woorde en sinne, eerder as die klank daarvan.

Die leser se oor is sensitief vir ritme, maar sy verstand is sensitief vir vloei.
Wanneer skryfwerk goed vloei, is daar ’n deurlopende progressie van die gedagtegang met een idee wat natuurlik tot die volgende lei.

Die leser skuif sy natuurlike neiging tot skeptisisme eenkant toe en word in die skrywer se wêreld ingetrek.

Die leser is ‘n snaakse skepsel. Ons as skrywers dien ons lesers, maar ons het ‘n liefde-haat verhouding met hulle, veral oor een gewoonte wat lesers het – sodra ‘n storie hulle nie boei nie, hou hulle op lees. En ons wil tog hê hulle moet elke storie tot reg aan die einde lees. Elkeen van ons woorde is immers ‘n pêrel, of hoe? 😉

Onthou, as die gedagtegang deur die storie geleidelik en ononderbroke vloei, is daar veel minder geleentheid vir die leser om uit jou storie te ontsnap.

Natuurlik weet die leser gewoonlik nie van goed soos vloei nie. Hy hoef ook nie. Maar as iemand sê ’n stuk skryfwerk is boeiend, weet jy dis maar die vloei waarvan die leser praat.
Om beheer oor die vloei van ‘n storie te kry, moet jy effektiewe paragrawe kan skryf. Elke paragraaf moet slegs een idee bevat wat regstreeks met die hoofpunt van die storie te doen het. En daardie paragraaf moet so geskryf word dat dit die idee verstaanbaar en sonder enige verwarring stel.
En dan moet elke paragraaf op so ‘n manier geskryf word dat dit outomaties tot die volgende paragraaf lei.

Maar dit is waarmee ons in die volgende hoofstuk gaan handel, want terwyl vloei ’n neef van ritme is, is hy en oorgange bloedbroers.

Oorgange

“I write one page of masterpiece to ninety-one pages of shit. I try to put the shit in the wastebasket.”
Ernest Hemingway

Dis alles goed en wel om ‘n paragraaf te hê wat een idee deeglik saamvat, maar, soos ons gesê het toe ons vloei bespreek het: dit help nie jy het ‘n klomp onafhanklike paragrawe met onafhanklike idees nie.

Daardie paragrawe moet aanmekaar gebind word, eerstens deur ‘n gedagtevloei wat sinvol van een idee na die volgende vloei om ‘n eenheid te vorm. Maar daar is ook woorde wat jy aan die einde van een paragraaf of die begin van die volgende kan gebruik om die eenheid te versterk en die leser onbewustelik dieper in die storie in te trek.

Ons noem dit oorgangswoorde. Daar is verskeie soorte oorgange wat om verskeie redes gebruik kan word, maar ons bepaal ons hier by paragraaf-oorgange. Onthou, paragraaf-oorgange is geweldig handig om jou kopie te laat sing, maar moet dit nie in elke paragraaf probeer ingooi nie – slegs waar die storie rukkerig vloei.

Jy moet immers op ander plekke genoeg vertroue in jou logiese gedagtevloei hê om die storie te laat glad loop.

Voorbeelde van oorgangswoorde:
Die Bulls het in die eerste helfte gesukkel om op dreef te kom.
Die slotte kon eenvoudig nie hulle eie lynstaanbal wen nie.
Hier is twee sinne wat nie logies op mekaar volg nie en op die oog af nie regtig veel met mekaar te doen het nie. In jou storie sou jy daardie sinne (of paragrawe) met oorgangswoorde aanmekaar bind.
Die Bulls het in die eerste helfte gesukkel om op dreef te kom.

Dit is beklemtoon deur die manier waarop die slotte eenvoudig nie hulle eie lynstaanbal kon wen nie.
Of
Die Bulls het in die eerste helfte gesukkel om op dreef te kom.
Hierdie geploeter is onderstreep deur die manier waarop die slotte gesukkel het om hulle eie lynstaanbal te wen.
Of
Die Bulls het in die eerste helfte gesukkel om op dreef te kom.
Terselfdertyd kon die slotte eenvoudig nie hulle eie lynstaanbal wen nie.
Daar is ‘n spul oorgangswoorde wat vir verskeie redes gebruik kan word:
Om meer inligting te gee: Woorde soos ook, daarby, net so belangrik, verder, daarmee, en.
Om idees te vergelyk: Op dieselfde manier, Net so,
Om ‘n toegewing te maak: Ek stem saam dat, in ooreenstemming, duidelik, Op soortgelyke wyse
Om kontras uit te lig: Terselfdertyd, daarinteen, hoewel, in teenstelling met, aan die ander kant, tog.
Om ‘n voorbeeld te gee: Dit word geillustreer deur, met ander woorde, byvoorbeeld.
Om tyd of idees in konteks te plaas: Daarna, voor dit, in die toekoms sal, later het hy, tot nou toe het, terselfdertyd, soms.
Om iets te noem wat uit die vorige idee spruit: In ooreenstemming, dit lei daartoe dat, gevolglik, daarom
Om proksemiek aan te toon: Langs dit, tussen hulle, agter, in die agtergrond, daarnaas,
Om idees op te som: Uiteindelik, kortliks, dit kom daarop neer dat.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed