Riglyne ten opsigte van kommentaarlewering op gedigte – Deur Milla
Die skryf van so ‘n artikel mag onvermydelik voorskriftelik, beperkend asook neerbuigend voorkom en derhalwe speelruimte vir individuele talent heelwat inperk, want eintlik is daar geen reëls in die skepping van poësie nie. Die doel hiervan is egter om diegene wat daarin geïnteresseerd is om goeie kommentaar te skryf en nie seker is waarna om op te let nie, leiding te gee en behoort derhalwe in daardie lig beskou te word.
Die doel van kommentaarlewering behoort opbouend van aard te wees en nie om aspirant / opkomende skrywers te ontmoedig nie.
Hierdie artikel is by verre nie die alfa en omega van kommentaarlewering nie en behoort slegs as ‘n gids te dien. Dit gee nie voor dat dit volledig is nie, dus sal soortgelyke artikels waardeer word.
Voordat jy kommentaar lewer
Dit is die leser se plig om homself te vergewis met die inhoud van die gedig, m.a.w. jy moet alle onbekende gegewens en woorde naslaan.
Gedigte bevat verskeie letterkundige aspekte en dit is dus belangrik om te verseker dat jy die doel en funksie van die komponente en elemente wat digters gebruik ken en verstaan. Enkele voorbeelde daarvan is:
Titel – hoe dra dit by tot die gedig
Alliterasie
Assonansie
Metafoor
Beeld
Herhaling (bv. om betekenis te versterk)
Rym / binnerym / eindrym
Ritme
Digsoorte (bv. sonnet, ballade, haikoe, vrye vers, ens.)
Simbole (assosiasie)
Tema
Taalgebruik / taalversorging
Intertekstualiteit
Personifikasie
Paradoks
Ironie
Opsetlike onderbeklemtoning of oorbeklemtoning
Lees die gedig ‘n paar keer hardop. Dit sal jou help om dinge te hoor wat jy nie normaalweg sou begryp het deur bloot die gedig te lees nie, bv. rym en ritme.
Beoordeel die gedig as ‘n geheel
Verdeel die gedig in losstaande gedeeltes bv. twee reëls en strofes en dink na oor die letterkundige aspekte, taalgebruik en sintaksis; hoe die gedig georganiseer is.
Vra jouself vrae, bv. maak die metafore vir jou sin, kan die gedeelte waarna jy kyk na jou mening verbeter word.
Let op na elemente wat jou hinder, bv. die gebruik van cliché’s, onnodige herhaling, retoriese vrae, verveel iets jou, is die taalgebruik swak, kan die gedeelte waarna jy kyk na jou mening verbeter word.
Fokus op die volgende
Perspektief: op watter manier vestig die digter ‘n spesifieke stem, persona of spreker; hoe gee die digter ‘n duidelike, doelgerigte toon aan; word die elemente van ‘n gedig doeltreffend ingespan om die doel van die gedig duidelik na vore te bring; bestaan daar ‘n vars en verrassende beskouing van die buitengewone in die gewone.
Kompleksiteit: tot watter graad bereik die digter spanning in woorde en idees d.m.v. uitdagings, konflikte, paradokse, dubbele betekenisse, onvoorskiftelik vs. voorskriftelik, balans, parallelle en kontraste.
Woordekonomie (verdigting): bestaan daar onnodige reëls en woorde en/of is daar juis bondigheid van idees en gevoelens; is die gedig voldoende gestroop, of vereis die gedig juis nie gestrooptheid nie.
Klank: hoe vaardig maak die digter gebruik van ritme / rym / konsonansie / alliterasie / herhaling.
Oordrag en verbeelding: is daar ‘n vars benadering; word gebruik gemaak van ongewone, nuwe woorde, sensoriese detail, besonderse beeldspraak om abstrakte gevoelens en idees oor te dra.
Ruimte: skep die digter visuele konsepte d.m.v. die rangskikking van woorde, frases, reëls, spasiëring, enjambement, leestekens, hoofletters of kleinletters en patrone.
Kunstige eenheid: visuele uiteensetting om inhoud te ondersteun; tipografie of ander kenmerke wat betekenis uitbou en verhef; klank of beeld of vorm wat ‘n wenk/aanduiding gee van stemming/bui; individuele elemente wat mekaar aanvul.
Interpretasie: hoe word die tema ontwikkel; kon jy die digter se doel met die gedig begryp, wat die gedig probeer oordra (bedoeling), die dieper, subtieler betekenis daarvan insien, bepaal waarop die gedig afstuur.
Struktuur: ‘n Verskeidenheid strategieë kan gebruik word om struktuur aan ‘n gedig te verleen en die leeservaring tot by die slot te rig:
hoe dra verskillende elemente by tot die ontwikkeling, uitbou en slot van die boodskap / tema / betekenis, m.a.w. is daar ‘n duidelike verloop (begin / klimaks / slot)
hoe word die tema ontwikkel: op ‘n formele wyse, bv ‘n probleem / ‘n argument / ‘n stelling word in 8 reëls en die antwoord of oplossing in 6 reëls geskryf; of
is daar ander aspekte wat die tema domineer en rig, bv. die stem in die gedig (digter self of ‘n persona), konflikte, dubbelsinnighede, onsekerhede, hoe word spanning opgebou, of
is daar ‘n totale afwesigheid aan struktuur en ontaard dit in ‘n gebrabbel?
duidelike versvorme, stanza’s, kwatryne, ens.
Skryf jou kommentaar
Noudat jy oor bogenoemde besin het, kan jy die volgende gebruik om jou te help om funksionele, opbouende kommentaar op ‘n gedig te lewer:
- Enige kunswerk veroorsaak ‘n sekere gevoel, ‘n reaksie of dra by tot die leser se leerervaring. Watter effek/impak het die gedig op jou gehad:
Watter gevoel het jy ervaar terwyl jy die gedig gelees het. Bv. het dit jou koud gelaat, of sou jy dit weer en weer wou lees. Het dit jou laat huil, jou aan iets herinner wat jy reeds ervaar het, het dit jou naby of ver van die digter se ervaring laat voel.
Het dit jou ingelig, nuwe insigte gegee, is jy geraak deur die intensiteit van die gedig, het dit jou nuuskierigheid geprikkel, ‘werk’ die gedig vir jou op verskillende emosionele vlakke?
M.a.w. wat is jou eerste indruk van die gedig. Sal jy van nou af anders kyk na die wêreld om jou a.g.v. die onderwerpe wat vertoon in die gedig: bv. iemand beskryf die brûe oor die kanale in Amsterdam as krammetjies (staples) – sal jy nou elke keer as jy na krammetjies kyk en dink aan die brûe oor die kanale in Amsterdam?
- Watter strategieë / tegnieke en struktuur deur die digter aangewend is opvallend:
Bv. alliterasie / binnerym / versvorm / assonansie / herhaling / musikaliteit / ritme / is dit snaaks / ironies / morbied / liries / vars / oorspronklik / grensverskuiwend (ens. – die basiese elemente van die gedig) en werk dit vir die gedig.
Hoekom is dit geskik vir die gedig / hoekom werk dit vir die gedig / of werk dit glad nie. Wat stel jy voor? Dra die digvorm by tot die gedig se inhoud? Is die strategie en tegnieke geslaagd of nie? Het jy waardering vir die werk wat die digter ingesit het d.m.v. strategie en tegniek?
Is jy beïndruk met die vaardighede van die digter in hierdie verband (al hou jy nie van die gedig nie?) Dra die titel by tot die gedig. Is die inhoud outyds en pas dit die gedig of is dit outyds en derhalwe holrug en vervelig?
- Interpretasie:
Het die gedig ‘n lewe van sy eie al verstaan jy nie presies waaroor die gedig gaan nie? Al het jy geen idee wat die intensie van die gedig is nie, kon jy ten minste jou eie interpretasie daaraan heg? (Mens hoef nie ‘n gedig te verstaan of die digter se intensies nie – derhalwe (en meestal) word gedigte aspris kripties en ‘in raaisels’ geskryf – want dit vra van die leser om sy eie interpretasie te vorm).
So die vraag is: kon jy die gedig op die een of ander manier interpreteer al het jy dit nie verstaan nie, of die digter se intensie nie verstaan nie. Anders gestel: watter afleiding het jy gemaak oor die inhoud van die gedig / waaroor gaan die gedig / wat dink jy probeer die digter oordra.
Die belangrikste is: die digter se intensie met die gedig is nie noodwendig die belangrikste nie – jóú interpretasie van die gedig is wat tel – kon jy dus dit ‘interpreteer’ tot ‘n boodskap / ‘n beeld / ‘n ontbloting / ‘n Kairos oomblik / ‘n nuwe insig / het jy iets geleer daaruit?
Lees jou kommentaar versigtig voordat jy dit plaas en verseker dat jou kritiek opbouend is en dat elke stelling gemotiveer is. Dit staan jou ook vry om enige vraag aan die digter te stel om duidelikheid oor ‘n sekere aspek te kry