Jongste aktiwiteit:

10. Odes en elegieë
vir

10. Odes en elegieë

10. Odes en elegieë

Die griekse woord “odè” beteken sang, wat ‘n wyer betekenis tot die ode trek as hoe ons dit gebruik. Die ode is ‘n liriese tipe gedig en soos alle liriese gedigte word die ode gekenmerk deur twee algemene eienskappe naamlik subjektiwiteit en die gebruik van musikale woord / klank/ ritme kombinasies. Die subjektiwiteit ontbloot die persoonlikheid van die digter. Die digter is nie ‘n onbetrokke persoonlikheid soos wat hy of sy byvoorbeeld in ‘n ballade sal wees nie, maar ons is duidelik daarvan bewus dat ons deel in die digter se gedagtes, bloot gestel word aan die gevoelens en deur die digter se oë moet kyk.

Alhoewel moderne liriese digkuns nie vergesel word deur ‘n lier, of musiek instrument nie word die musiek kwaliteit nie weg gegooi nie. Hierdie vers soorte het die voorneming om musikale woord / klank/ ritme kombinasies in te sluit wat mooi op die oor val en dus musikaal is.

Verder het ‘n ode ‘n waardige, soms majestieeuse toon en is bedoel as ‘n lied van sielsverheffende jubeling, wat fokus op ‘n enkele persoon, voorwerp of abstrakte ding en daarin word die digter se bewondering en geesdrif uitgedruk. Bekende odes is Shelley se “Ode to the West wind,” Keats se “Ode to a Nightingale,”To a Skylark,” “To Autum” en “Ode On A Greacian Urn.” Die Nederlandse digter Vondel het ‘n ode oor die Rynrivier wat hy “De Rijnstroom” genoem het. Van Wyk Louw se gedig “Aan die Skoonheid,” is ‘n besonderse mooi voorbeeld van ‘n moderne ode. Beide die liriese toon en die woordgebruik laat hierdie gedig inpas by die beste tradisie van die ode.

Terwyl tradisionele odes gewoonlik algemene stansas en duidelike struktuur het, het moderne odes stansas waarin die lengtes verskil en die struktuur ook verskil, alhoewel hulle gewoonlik nog ‘n rymskema volg. Daar is wel odes wat geen rymskema het nie soos byvoorbeeld Kate Jones se “An Ode To A Delectabel Bore!”

Hier is ‘n klompie gedigte wat ek as odes geskryf het:

Die skeepvaart ode

Toe die skip wegvaar
die kaai verlaat, al verder weg is,
‘n roete vaslê die see in
na iewers mik anderkant die blou oseaan
het ‘n herinnering in my geheue gedraal
oor ‘n tyd toe ek hierdie wegvaart
reeds voorheen ondervind het
weg gevaar het die wye wêreld in
van ‘n tydlose plek nie verdeel deur ruimte
miskien iewers in ‘n ander sterre stelsel
maar tog ‘n plek wat bestaan

waarvan alle kaaie afdrukke is
verbintenisse na wêrelde
buite ons eie atmosfeer
en teen oggend skemer
is die stilte diep oorweldigend
op die pier
asof alle klanke vir ‘n tyd uitgewis is
en met die opkomende son
brul klank donderend
in vragmotors en treine wat nader kom
in masjiene waarin energie lewendig word
en fabrieke wat opdein in wolke rook.

[Verwysings: The maritime ode deur Fernando Pessoa (de Campos). The maritime ode deur Roy Campbell.]

Aan Lente (in antwoord op John Keats)

As die laaste impak van die winter verdwyn,
die son helderder begin gloei in sy hunkering,
koue dae verdryf word deur sonskyn ,
kom jy in jou pragtige betowering
met vreugdevolle aanskyn
in swierig verowering
laat jy alles nuut uit spruit
en huppel soos ‘n jong kind wat kaperjol
sprei jy jou bruidskleed wyd uit
hardloop jy jolig en dol
sodat insekte, voëls jubelend by jou aansluit.

Almal word deur jou swierigheid vasgevang
as bloeisels spierwit, goudgeel, blosend pienk aan takke sit
insekte, voëls, die wind, die weer jou bemin, jou aanhang
asof alles in jou teenwoordigheid groot vreugde besit
hoor ek jou stem in elke fluistering
terwyl jy rond huppel, jou hare sprei en pronk,
as ‘n meisiekind slank en rein arms vol liefde bring
vol lewe, passievol en tog bloedjonk
heeldag tot oorlopens toe sing
van liefde dronk
jou arms na my uitstrek, dit wyer laat uitkring.

Vir jou hef almal ‘n loflied aan,
die wind, voëls en insekte sing bly
asof jy alles se voete plat slaan
van die groot betowering, wat alles lewend by jou kry
asof jou heerskappy nooit verby kan gaan,
skielik voel alle lewende dinge uitbundig vry
en jy is so onskuldig, sonder argwaan
maar vir my bly jy
‘n liefdes kind wat met jou skoonheid verblind
en selfs die eerste reën aanbid jou as dit neerslaan
wil vertroeteling in jou vind.

[Verwysing: To Autumn deur John Keats.]

Aan Somer (in antwoord op John Keats)

Seisoen van helder getinte hemele en groot vrugbaarheid,
intieme liefling van die woeste son,
ewig draer van vrugte in groot hoeveelhede om te seën,
van die heel begin was jou skoonheid geweef
om in uiterste minsaamheid te voorsien
deur die Ewige Een
as aller lieflikste, in absolute glans
en ewiglik
as volgend op die delikate lente
met soetheid, luister en welriekendheid naby jou kern
as lente jou grasieus in wuif.

Selfs kinders wandel getref deur jou boorde
in eerbied tot smaak, aan reuk en jou grootse skoonheid
volgend op die grootse moeder, wat jou ag in die hoogste aansien,
maar ek sien jou as uiters puntig en vêr verby lieflik
die volwasse bruid wat ewig bloeiend is, ewig vol vrug
en verruklik, waad jy deur die lewe
altyd liefdevol, nooit knorrig
met die met die lug, die son, die wind in jou hare
en jy maak jou paleis tussen bedding op bedding blomme
as ‘n onverganklike koningin bedek in lieflike groen
in vervulling van jou pligte, in die ure wat verby gaan.

Die liede, die vreugde van bloeiing,
word in jou teenwoordigheid gesing, met donder en reën
word uitgesing, weg geswiep, verwelk
terwyl jy pynloos voortbring
en al die elemente sing van jou groot glorie
en nooit soos die van lente nie
met selfs insekte, voëls wat saam
jou lof besing, met stemme wat opklink
terwyl jy hoogty vier oor jou gebied,
terwyl jy elke lewende ding voed en versorg
en by jou verbygang, bly jy die soetste herinnering.

[Verwysing: To Autumn deur John Keats.]

Ode aan die son

Jy wat heldhaftig elke liewe dag die duisternis oorwin
vlammend jou teenwoordigheid aan die wêreld bekend maak
met jou helderheid selfs deur banke mis dring
as jy oor insekte, diere, selfs die ganske mensdom waak
net vir ‘n tyd word jy verdof, verduister, asof uitgeblus
deur donderwolke wat dreigend saampak, of die maan
wat jou silwerwit laat kring in ‘n fotosfeer
en as mens met jou diamantring vasgevang staan
is dit asof jy vir slegs oomblikke rus
en alles is van jou afwesigheid bewus
voor jy weer in volle glorie terugkeer.

Smorens as jy my wakker maak, deur die venster bars
jou strale liefderyk oor my wang val
is die oggend reeds verwelkomend vars
en as jy hemelwaarts styg in ‘n wit-warm bal
kan mens die tyd aan jou bepaal
terwyl kinders na skole stroom
mense begin met hulle dagtaak
jy skroeiend brand, ure lank asof jy draal,
voëls kwetter in takke van byna elke boom
en mense ingedagte droom in hulle middag loom
en later weer pligsgedrewe wakker raak.

As jy laatmiddag sak, gloeiend hang
‘n skouspel maak van jou afskeid
en glansryk die oë vang,
mense huis toe gaan om te rus van hulle arbeid
met die skemerte wat insluip
word mens bewus
hoe essensieel jou teenwoordigheid is
terwyl mense rondskarrel, sommiges rond sluip
en ander lus is om knus
teen mekaar die aand te spandeer met wyn of selfs spiritus
in parke sit en drink en hoop op ‘n nuwe môre in harte inkruip.

‘n Elegie is ‘n soort liriese gedig wat nie ‘n tipiese rym struktuur het nie, maar word gedifineer volgens die inhoud daarvan. ‘n Elegie is ‘n tipe rou gedig, wat ook ‘n eensame gevoel kan uitdruk, gewoonlik druk dit hartseer, weemoed of smart uit oor ‘n gestorwe persoon of persone of die verlies van ‘n voorwerp of plek.

Dit kan ook droefheid uitdruk oor die lot van ‘n land of volk of van die mensheid. Die bui in ‘n elegie is gewoonlik ernstig, melancholies en die ritme is gewoonlik stadig bewegend om te hou by die gevoel van die gedig. Dit is ook gewoonlik indringend of kennelik. In die meeste elegieë onthou die digter plekke en insidente wat met die persoon wat gesterf het verbind kan word. In tradisionele elegieë sluit die digter met tye ‘n sin van uiteindelike triomf of hoop of ‘n uitdrukking van sy geloof van ‘n toekomstige lewe in.

Gray se “Elegy Written in a Coutry Churchyard,” William Wordsworth se “She Dwelt Among The Untrodden Ways,” Oscar Wilde se “Requiscat,” Oliver Goldsmith se “Elegy On Madam Blaize,” M.K. Josheph se “Elegy In A City Railyard” en Thomas Shapcott se “Elegy For A Bachelor Uncle” is almal grootse Engelse elegieë.

Bekende Nederlandse elegieë is “Egidius waer bestu bleven een” en die bekende “het menschelyk leven” van Willem van Haren: In Afrikaans is daar ‘n aantal bekende elegieë soos Leipoldt se “roulied vir A.G. Visser,” A.G. Visser se “Laetitia,” wat geskryf is na sy eerste vrou dood is en Totius se gedigte oor die dood van sy twee kinders. N.P. Van Wyk Louw se “O wye en droewe land” uit sy “die dieper reg” en Elisabet Eybers se sonnet “dus is die dood” is ook elegies van aard.

Hier is ‘n klompie elegieë wat ek geskryf het. Die meerderheid gaan natuurlik om Minette:

Die dag sterf in plaaslike dorp

Roos kelk pienk, oranje wat tintel in wit-grys
die aand se skemering vevaarg weg,
die soldate, van generaal afwaarts,
die regsgeleerde, die stad lewerik,
rekenmeester, die kantoor nar
verdwyn in die omsluitende duisternis,
die hawelose man, die rondlopers sit rokend
in die munisipale park,
met ‘n paar macho manne wat grappe maak
in die gepakte kroeg, die aandster
skitter haar hallo, skyn neer
regoor die verlate dorp.

Crème likeur, donker rooi wyn
warrel in glase van verliefdes,
minnaresse, in die hande van mans,
‘n paar lieflike vrouens
en ‘n paar plaaslike varke
wat rinkink en uiteet
en sommige is koud soos kadawers,
ingestel om meer te kry
as die waarde van hulle geld
van die wat hulle bemin
en gooi meer en meer
whiskey en wyn.

Bande brand as uit die pad,
lig krimp weg saam met die dag
verkeersligte skyn helder groen, amber en rooi
sommige dronkes, sommige vegtende mans
hits mekaar aan in die plaaslike kroeg
terwyl prostitute rondloop gereed om te speel
en hulle vra, “haai, hoe lyk dit?”
gereed om enige betalende man bed toe te vat
om enige manier te lê, selfs aweregs, omgekeer
maar die meeste plekke is heeltemal verlate
behalwe die plaaslike huise
waar ligte glim, mense vergader
met hulle wederhelwe
afgehok agter tralies, staal palissades
met honde wat patrolleer,
met geen polisie motors wat rol
of enige iemand wat rond wandel.

Die luglyn verskrompel tot donker nag
en straatlig na straatlig
verskyn soos goedkoop kosmetiese juwele
met gordyne wat in vensters klap soos handdoeke
wat op die wasgoedlyn vergeet is
en alles neig na rus
terwyl busse, trokke, treine en masjiene
hulle beste doen om te werk
en alles menslik verdwyn en is weg
terwyl onbekende ligte aanhou verbygaan
in die donker lug verby beweeg.

My GI Jane

Ek het ‘n klein blou dankie Jannie briefie
van my liefie, sannie, gekry
en was van alle vroumense vry
en het gedink dat dit sekerlik lank so gaan bly;
toe my GI Jane
in Luhatla verskyn.

Ons het dag na dag
vir die res van ons konvooi gewag,
toe ek in haar in vasloop
en sy ‘n gesprek met my aanknoop.

Sy was ‘n intelligensie kaptein
en baie goed deur die weermag getrain
en te mooi op die oog
en toe is meer as net my moraal hoog
en sy het van die hitte gesweet
en te goed geweet
hoe om te verskyn en te verdwyn.

Toe ek een middag in die lapa stort
is daar iets kort,
wat my sommer in my bene lam laat word
en ‘n sagte hand wat op my rug brand
en toe staan sy daar
waar ek haar Eva’s pakkie mooi gewaar
en vra my om haar rug te was
en toe kom ek sommer vinnig in pas.

Sy was later net weg soos die wind
en ek kon haar nêrens vind
en was deur die oorlog gebind
en in my gedagtes bly net haar groot oë
wat na bo,
na die sterre kyk.

Ek en jy, wat nie by my kon bly nie

(Vir Minette…van wie ek net gedagtes oor het)

By die graf se donker gat was dit jy wat
my rou trane af kon vee
en weer nuwe hoop kon gee,
by die doodsvallei
waar ek uit my
eie wil moes skei
was dit jy
wat my aan die hand kon vat
en weer na my sinne kon lei;
maar ‘n ambulans flits skreeuend verby
en agterin is ek en jy
en ‘n vreemde Dokter kyk weg van my
en jou lewe flits voor my oë verby
en ek sien weer ‘n donker gat
terwyl ‘n traan druppel nat
op jou bleek wang val
en glinsterend daar bly hang.
Dis ek wat
jou aan die hand vat
en tevergeefs my oë sluit en smeek en vra,
voor hulle jou met ‘n kombers bedek en wegdra…

Elegie vir Minette

(Mooiste roos in my gedagte tuin
voor jou prag en herinnering verdwyn.)

As ek die glim in jou lag
kon vaslê vir net een dag
en die broos sag
glans van jou haar
by my kon skaar
en die kuil
en die roos op jou wang
vas kon vang
en jou dartelende blik waar dit skuil
hier by my kon verwyl
en ek die vlam in jou hart
vas kon vat
sou ek jou dalk behou;
maar nou gee ek jou aan die droom van die nag
om as bruid te trou
op vir my hierdie bitter dag
en nou gee ek jou hand
aan sand tot sand …

Aan Minette (Terzanelle)

Met jou beeldskone gesig,
en helder blou oë
kon jy enige tyd my lewe ontwrig

en ‘n enkele woord het my in jou liefde laat glo
en jou sagte lippe, die blos op jou wang
en helder blou oë

het my vasgevang
en die klank van jou stem
en jou sagte lippe, die blos op jou wang

het my hart omklem
en jou sagte hand wat om myne vou
en die klank van jou stem

laat my nou net met rou
en die onthou van hoe wonderlike jy was
en jou sagte hand wat om myne vou

is deur die noodlot uitgeblus, gemaak tot as.
Met jou beeldskone gesig
en die onthou van hoe wonderlike jy was
kon jy enige tyd my lewe ontwrig.

‘n Hibridanelle vir Minette

My lief, die noodlot het ons geskei
en nou gaan my lewe doelloos aan,
en jy is in ‘n ander plek, vêr weg van my.

Ek is nou seisoene en ‘n leeftyd van jou weg,
maar steeds asof vir altyd aan jou verbind
en alhoewel ek ‘n ander mens is, bly jy aan my vasgeheg

en sawens is jy naby
as ek my oë na die sterre opslaan.
My lief, die noodlot het ons geskei

en slegs in my drome voel my lewe reg
as jy soos ‘n lenteblom by my is,
word ek nie deur die dag se helder lig verblind,

is dit waar ek weer nuwe betekenis kry,
ek jou kan voel in materie as mens as jy by my staan,
en jy is in ‘n ander plek, vêr weg van my

by ‘n plek waarvan ek nie die omvang wis,
in die kloue van die dood vasgevang,
as jy soos ‘n lenteblom by my is

en soms wens ek jy wil by my bly,
dat jy nie met die oggend lig weggaan.
My lief, die noodlot het ons geskei,

so asof mens se lewe altyd in die balans hang,
asof mens ewiglik uitgelewer is aan ‘n Godsbesluit,
in die kloue van die dood vasgevang,

lewe ons voort, bandeloos of opreg
totdat die dood ons verslind
en alhoewel ek ‘n ander mens is, bly jy aan my vasgeheg

kry ek nie jou gees, jou menswees uit my uit
maar voel steeds jou liefde na my uitreik.
Asof mens ewiglik uitgelewer is aan ‘n Godsbesluit,

snel die lewe veels te vinnig verby,
selfs as mens jou hande in gebed saamslaan.
My lief, die noodlot het ons geskei
en jy is in ‘n ander plek, vêr weg van my

maar dis steeds asof jou helder blou oë na my kyk.
Ek is nou seisoene en ‘n leeftyd van jou weg
maar voel steeds jou liefde na my uitreik
en alhoewel ek ‘n ander mens is, bly jy aan my vasgeheg.

Kariba meer

Uiters gelukkig, by die rand
van Kariba meer
soos die grootse Livingstone,
was ons pioniers
kykend na die stuk water
wat die rivier insluk.

Afkomstig van plase
het ons nooit vars water
die horison sien ontmoet nie
en in dieptes weg sien val
soos by die kant van die huisboot.

Jou blonde lokke wat in golwe hang,
Wat die son vasvang in hulle glinstering,
blou oë meer helder as die diep blou lug,
gesig gloeiend met afwagting,
liggaam gebrand tot mahonie hout bruin,
ferm borste swellend
en met elke asemteug wat jy neem
het jy gelyk soos ‘n godin
by die skepping.

Elke tree afgemeet tot perfeksie,
in beweging steeds die gimnas
het jy gedans op daardie dek
vry in die vars bries
die lug, die koel water geniet
wat jou tepels hard gemaak het
laat deurskyn het
dwarsdeur die wit bikini top,
maar op daardie dek
was net jy en ek
en ons het mekaar lief gehad
asof daar
geen môre sou wees nie.

Vislyne met katrolle,
hoeke, lyne en sinkers
het hulle weg in die water in gevind
met erdwurms, mielies
en die kok se geheime deeg
en ons het emmers vol gevang
van die grootse karp
wat ek ooit gesien het
en jy was in jou element
en ons was werklik lewendig
en daardie vakansie
het soos die paradys gevoel.

Miskien was die gode
nie gelukkig met ons offers nie,
of het daardie luilekker dae,
wat amper eindeloos gevoel het
gegee gewees, as ‘n laaste totsiens.

Ons was skaars terug
steeds op ‘n hoogtepunt
van werklike geluk
toe jou lewe geneem is,
geblus in ‘n splits van ‘n sekonde
en die werklikheid
van om menslik te wees
het my deurboor.

[Verwysing: Aan Minette, van wie daar net herinneringe is.]




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak