119 Die koevert koeplet sestet
119 Die koevert koeplet sestet
Die koevert koeplet sestet is ‘n veel strenger versvorm as die sraaf stansa (“stave stanza”) en in hierdie seste gebruik die eerste en laaste versreëls dieselfde refrein en rym die tweede en vyfde versreëls met die refrein, wat slegs die middelste koeplet laat om die rym te verander.
Die rymskema vir ‘n drie stansa gedig is:
A1abbaA1 / A1accaA1 / A1addaA1 … (soos gewoonlik dui hoofletters ‘n refrein aan.)
Maryse Achong se gedig “Carnival Fever,” Divena Collins se gedigte “Embracing Spring,” “First Refusal,” “My Italian Nonna” “My Spirit Returns,” “Path of Dreams,” “Sacred Egyptian Feline,” “Silence Was Golden,” “Whisps of Whiskers,” “Winds of Fantasy,” en Ryter Roethicle se gedigte“ The Night Is Dark,” “As Rain Descends,”
“Ferrari,” “Just Memories,” “Lady and Knight,” “Monday Bloody Monday,”
“My Spirit Returns,” “Pan’s Magic,” “Rain (Fat Chance),” “Value of Love,” “Wind Thoughts” en “Yesterdays Dreams” is goeie voorbeelde van hierdie versvorm.
Hier is my pogings tot koevert koeplet sestette:
Die bedelaars (koevert koeplet sestette)
Toe my kar by die rooi verkeerslig stop
merk ek die kind met horrel bene op,
die arme klein ding sukkel om te loop
maar sy mond is wyd in ‘n glimlag oop
en hy hou my ewe groot oog daar dop,
toe my kar by die rooi verkeerslig stop.
Toe my kar by die rooi verkeerslig stop
is die kind honger, trek my keel op ‘n knop
as die kind se groot bruin oë op my brand
sien ek toe sy bewende klein vuil hand
en daar is ‘n vuil verband om sy kop,
toe my kar by die rooi verkeerslig stop.
Toe my kar by die rooi verkeerslig stop
het die gesiggie skielik trane daarop
koop ek soos ander my gewete los;
gee geld vir melk, brood en ander kos,
voel die ruimte reg om my te beknop,
toe my kar by die rooi verkeerslig stop.
Toe my kar by die rooi verkeerslig stop
maal swart kinders in ‘n groterige trop,
waar hulle allerhande goed wil smous,
sommige jou met kleingeld probeer flous,
een is die leier, ‘n regtige klein drifkop,
toe my kar by die rooi verkeerslig stop.
Toe my kar by die rooi verkeerslig stop
wil twee swart tieners my dadelik fop,
sproei een seep water oor die kar se ruit,
as die ander dit afvee en sag fluit
voor een hard op die kar se dak bly klop,
toe my kar by die rooi verkeerslig stop.
Suid-Afrika is ook my land (koevert koeplet sestette)
Suid-Afrika is van geboorte my eie land
en my mense kan vlug na ‘n eiland
maar my eie kultuur en taal bly heilig
al is hierdie plek glad nie meer veilig,
vertrou ek nog steeds op ‘n veel hoër hand,
Suid-Afrika is van geboorte my eie land.
Suid-Afrika is van geboorte my eie land
al gee die struikelende regering weerstand,
wat my met onregverdige wette onderdruk
al kan niks die verbrokkeling meer reg ruk
al is ek nie teen hierdie aanslag bestand,
Suid-Afrika is van geboorte my eie land.
Suid-Afrika is van geboorte my eie land
al is sommiges teen my mense domastrant,
kom ek self uit ‘n edele afkoms
is ek trots op my Afrikaner herkoms,
al word mense en geboue afgebrand,
Suid-Afrika is van geboorte my eie land.
Suid-Afrika is van geboorte my eie land
met geen ander plek het ek so ‘n diep band
en al het in hier nooit weer enige werk,
glo ek aan God en ‘n Christelike kerk,
hou God self my eie weë steeds in stand,
Suid-Afrika is van geboorte my eie land.
As die ou suidoos storm sterk begin waai (koevert koeplet sestette)
As die ou suidoos storm sterk begin waai
is daar papiere wat hemelhoog rond draai,
om hoeke verloor mense hul ewewig,
trek huisvroue hul huise se hortjies dig,
word om uit te gaan, baie sterk afgeraai;
as die ou suidoos storm sterk begin waai.
As die ou suidoos storm sterk begin waai
wieg die golwe gevaarlik teen die kaai
sodat skepe op en af begin wieg,
kan hierdie weer mens soms vang en bedrieg,
is die water groen en grys in die baai,
as die ou suidoos storm sterk begin waai.
Die dinge van die weer (koevert koeplet sestette)
Soms is mens uitgelewer aan die weer
donder dit blou wit, kom reën in buie neer
glinster daar vroeg in die môre druppels dou
of brand die son wit in die helder blou
kan mens van koue nie die gebibber keer,
soms is mens uitgelewer aan die weer.
Soms is mens uitgelewer aan die weer
is dit asof niks die natuur kan beheer
word plekke erg oorstroom en erg verspoel
is dit of jy die impak self kan voel
as wetenskaplikes doelloos debatteer;
soms is mens uitgelewer aan die weer.
In die Namib woestyn (koevert koeplet sestette)
In die roesbruin, soms wit Namib woestyn
sien mens sand aan die horison verdwyn
lyk dit of als tot die dood uitgedor is,
bring die prag van die wêreld betekenis
waar die witwarm son ongenaakbaar skyn;
in die roesbruin, soms wit Namib woestyn.
In die roesbruin, soms wit Namib woestyn
ken mens genadeloos dors se diep pyn,
as jy nêrens na water toe kan gaan
die wind woes van oral om jou toeslaan,
dit lyk of als uiteindelik wegkwyn
in die roesbruin, soms wit Namib woestyn.
In die roesbruin, soms wit Namib woestyn
draai die wind stofwolke in ‘n gordyn,
gedurig verander die landskap van sand
of dit rond geskuif word deur God se hand
beslis Hy die rigting daarvan haarfyn,
in die roesbruin, soms wit Namib woestyn.