143 Die Epigram
143 Die Epigram
Die Grieke het die woord epigram as byskryf beskou en dit was aanvanklik ‘n kort opskrif op byvoorbeeld ‘n graf, by ‘n kunswerk of toewyding geskenk, (1) maar die latynse digter Martialis maak die epigram ‘n kort satiriese gediggie wat betrekking het op bepaalde toestande en of op ‘n persoon of persone.
Martialis se werk het in die 17de eeu in Nederland en ander Europese lande byval gevind en so het die hollandse digter Roemer Visscher heelwat gedigte in die trant van Martialis geskryf en in die agtiende eeu was die epigram gebruik vir ‘n kort samevatting van wysheid en of gevoelens en tans word die epigram gebruik as ‘n hekeldig of puntdig.
Moderne epigramme hekel, prys, moraliseer of spreek wysheid uit in ‘n beknopte versvorm met dikwels ‘n wending aan die einde van die gedig.
A.G. Visser se “Borsbeeldjies” (onder andere ‘’n Teoloog,” “’n Predikant,” “‘n Geneeskundige,” “’n Volksleier,” “Boer en Brit,” “’n Jong dame,” C.J Leipoldt se “Die guns van ‘n vors of Skoolgeleerde,” “Jy dink en dink,” “Jy’s ‘n groot Staatsman en “Die Krans” en “Ryk-arm” van T.J. Haarhof is bekende epigramme in die Afrikaanse letterkunde.
Hier is ‘n paar epigramme wat ek geskryf het:
‘n Predikant
(na A.G. Visser)
Op ‘n tyd kon hy interessant preek,
van die kansel af al wat ‘n mens is verwonder
maar nou dat hy kragtelose woorde spreek
begin mens oor sy verhouding met God wonder.
[Verwysing: “’n Predikant” deur A.G. Visser.]
‘n Volksleier
(na A.G. Visser)
Na sy vrylating het die hele land hom vertrou
toe hy die toekoms van ‘n reënboog nasie vasvat,
mense se lewens en werk geleenthede in sy eie hande vashou
maar nou wonder ek waarheen alles is
terwyl die hele land uit mekaar uit spat.
[Verwysing: “’n Volksleier” deur A.G. Visser.]
‘n Teoloog
(na A.G. Visser)
Hy is op universiteit hoog geleer
maar het iewers die godheid van Jesus verloor
en ek wonder watter god hy nou eer
waar hy ander nou tot sy denke aanspoor?
[Verwysing: “’n Teoloog” deur A.G. Visser.]
‘n Tandarts
By die plaaslike staats kliniek
wil sy eerder tande trek as stop
en al is jy baie siek
merk mens geen medelye op.
Ek het uitgevind
Ek het uitgevind hoe eensaam
dit soms saam met jou is,
dat ons beide uit twee wêrelde kom,
dat onbegrip met tye heers
en ek gewonder
hoe om met so ‘n lewe aan te gaan
waar die paar mooi dinge wat ek doen
met tye verpletter word
en het tot die slotsom gekom
dat liefde iets is
wat geluk aan enige situasie bring
en sonder jou is my hele wêreld leeg.
Voetnotas:
(1) Lutting, M 1967. Digters en digsoorte. Johannesburg: Afrikaanse Pers-boekhandel P124