144 Die himne
144 Die himne
Volgens M. Lutting (1) kan ‘n himne gedefinieer word as ‘n ode wat God se lof en eer besing. Baie himnes kom in die “Psalms en gesange” voor en word in die eredienste van sommige kerke gesing en so sal mens byvoorbeeld na Totius se gedigte “Pslam 8” en “Psalm 130” (2) kan kyk. S. Ign. Mocke se gedig “Verwantskap” (3) is ‘n oorspronklike Afrikaanse himne en ek het dit as grondslag geneem om my eie himne te skryf.
Hier is my eie voorbeeld van ‘n himne:
Verwantskap (Himne)
(na S. Ign. Mocke)
Verder as wat die mens se wetenskap kan sien en reik
bring sterrestelsels en planete sonder tal aan U ‘n huldeblyk
en veel dieper as wat ons begrip ooit kan verstaan
is die weë wat U almagtige gedagtes gedurig gaan
en op U bevel kom nuwe sterre en planete tot stand,
word ander se laaste elemente finaal uitgebrand
waar U in onsterflikheid alles buite beperkings van tyd aanskou,
oor die onpeilbare ruimte waaksaam U hande hou,
U wette, beperkings, geregtigheid en liefde oral laat geskied
en aan my ‘n blote nietige mens uitkoms as ‘n koningskind bied.
Die donder wat blouwit knal
as reën uit U stoorkamers val
vertel van U sorg en almag oor en oor,
in die kleinste dinge kom U genade en liefde voor
en as blomme oral in die lente blom,
die son in die warm somer opkom
en sterre soos fakkels in U hemel glim,
die son ruis en verdwyn agter die verste kim
besef ek dat daar tussen alles ‘n verwantskap is,
dat U lig dring deur elke soort duisternis
en dan besef ek dat U polsslag in alle lewende dinge klop,
dat U in wysheid lewe gee en dit laat stop,
dat U die name van die wat U volg in die merke van U hande dra
en soos ‘n vader altyd luister na wat elkeen vra,
dat ‘n wil om U te dien hardbedraad is vanaf die oerbegin
en dat ‘n lewe sonder U gestroop is van alle betekenis en sin,
dat U ook U hande beskermend hou oor die selle waaruit elkeen bestaan,
dat U vooruit gaan om die weë van elkeen te baan
en as die winde van die noodlot onstuimig waai
weet ek dat ons lewens steeds in U groot plan wenteldraai.
[Verwysing: “Verwantskap” deur S. Ign. Mocke.]
Voetnotas:
(1) Lutting, M 1967. Digters en digsoorte. Johannesburg: Afrikaanse Pers-boekhandel P101.
(2) D. J. Opperman. 1980. Senior Verseboek. Kaapstad. Tafelberg Uitgewers. P78-79.
(3) S. Ign. Mocke Liedere van Salome, Afr. Pers-Boekhandel.