Jongste aktiwiteit:

18. Die lied
vir

18. Die lied

18. Die lied

Die oudste, spontaanste en eenvoudigste vorm van liriek is die lied. Die lied is gewoonlik ‘n eenvoudige gedig waar die stemming van ‘n oomblik soos die verrukking in ‘n oomblik, die skoonheid van die natuur, of van sy geliefde, of smart, verlies of afskeid in woorde uitgespreek word.

Die liriese gedig was oorspronklik bedoel om uitgesing te word, met begeleiding van ‘n lier, ‘n antieke snaar instrument. Van die gedigte was dan in liedere boeke gepubliseer soos byvoorbeeld die Nederlandse gedigte van P.C. Hooft, Vondel en Bredero.

Daar was ook gebeurtenisse, wat emosies wek, as liedere besing en so kan die lied dus ook ‘n sterk verhalende karakter hê en verband hou met die epiese gedig, maar die liriese inslag is egter dan oorweldigend sterk deur die digter se stemming.

Liedere kan onderskei word as Volksliedere en kultuurliedere. Die volkslied is gewoonlik die skepping van iemand wat onbekend is en wie se naam oor tyd vergete geraak het, na sy lied van mond tot mond oorgedra is. Die vorm is eenvoudig, soms kunsloos en slordig. Baie maal word ‘n volkslied gedig op ‘n bekende melodie wat maak dat dit maklik sing. Met loop van tyd kan die teks veranderinge ondergaan en dit kan op verskillende plekke met teks verskille bestaan. Daar is baie ou volksliedere soos byvoorbeeld die Afrikaanse gedig “Die Nonnetjie en die Riddertjie,” wat ooreenkom met ‘n gedig uit middeleeuse bronne.

Soms is volksliedere later gedig na aanleiding van aktuele gebeurtenisse, waar die volkslied die rol vertolk het van koerantberigte om nuus oor te dra. So het daar gedurende die tweede wêreld oorlog straatliedere ontstaan, toe die pers en draadloos deur die bevolking gewantrou was tydens die Duitse besetting van talle lande. In Nederland het daar byvoorbeeld talle anti-Duitse straatliedere ontstaan, waar die name van die digters eers na die oorlog bekend geword het.

In Afrikaans is daar verskeie volksliedere soos byvoorbeeld “Jan Fiskaal,” “Sannie Beyers,” “Siembamba” en “Daar kom die wa.” Daar is egter party beroemde digters waar die gedigte die volk so getref het, dat dit as liedere deur die massa mense aanvaar is. So is byvoorbeeld in Nederland die gedigte van J.P. Heye, in Vlaandere die gedigte van René de Clercq en in Afrikaans van A.G. Visser en C.J. Langenhoven bekend (onder andere “Die stem van Suid-Afrika.)

Onder moderne digters kan mens soms die neiging waarneem dat sommige van hulle gedigte sangerig is en aansluit by die eenvoud van die volkslied. Voorbeelde hiervan kan gevind word in D.J. Opperman se gedigte “Klara Majola” en die bekende “Sproeireën.”

Ander liedere soos Ernst van Heerden se gedig “Lied vir Salome,” is minder eenvoudig. Die kultuurlied is die werk van ‘n digter wat die tegnieke van die vak verstaan. Van die verskillende eenvoudige melodieuse gedigte van C.L. Leipoldt waarin hy die stemming van die oomblik besing kan as kultuurliede beskou word en verskeie van hulle is op musiek gesit. Hierdie gedigte het nie die nalewe toon en woordgebruik van volksliedere nie. Gedigte soos “Die Swaels” en “Kom gee vir my Polfyntjie” van C.L. Leipoldt en “Die Speelman” en “Kom vannag in my drome” van N.P. Van Wyk Louw kan as kultuurliedere geklassifiseer word. Nogtans is dit ‘n gevaar om gedigte of digters onder ‘n spesifieke kassies en hoofde in te hok.

Hier is ‘n gedig van my wat as ‘n lied beskou kan word:

Lied aan Minette

Elke nag is sy by my
as ek my oë sluit
is sy daar om soentjies te kry
om vir liefkosing te pleit,
sluip-sluip sy versigtig in
en vertrek voor die dag begin.

Met oë saffier blou
wat tot verby my dieptes sny
kom sy my vashou
terg en giggel sy
sluip-sluip sy versigtig in
en vertrek voor die dag begin.

Gee my die nag met skitterende sterre,
die goue tower maan, as sy van vêr af kom
om haar slanke arms om my te slaan
en as my mooiste blom
sluip-sluip sy versigtig in
en vertrek voor die dag begin.

In haar liefkosings is ek vervloek,
is ek geseën deur die krag van liefde
wat aanhoudend na my soek
val soos die reën
en elke nag is dit dieselfde,
sluip-sluip sy versigtig in
en vertrek voor die dag begin.

Met ‘n Franse vlegsel styf vasgebind
wat heen en weer swiep met elke stap
of op haar boude ritsel soos die wind
sluip-sluip sy versigtig in
en vertrek voor die dag begin, terug na ballingskap
word sy deur die oggend verslind.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed