19. Die guzzle / ghazal
19. Die guzzle / ghazal
In hierdie tradisionele persiese vorm was die ghazal oorspronklik geskryf as tot vyftien gestruktureerde rymende koeplette met ‘n woord, woorde of ‘n kort sin wat soos ‘n refrein aan die einde van elkeen herhaal. Mens is beperk tot ses en dertig lettergrepe per koeplet.
Hiervan is die gedigte van die digter Hafiz ‘n baie goeie voorbeeld soos versprei onder die titel “Divan.” Hafiz is beide in Iran en die weste beroemd (vir sy vertaalde werke). Die taal is eenvoudig, liries en uit die hart. Sy gedigte vier op een vlak die plesiere van om te drink, te jag en liefde by die hof (paleis) van Shiraz. Op ‘n dieper vlak volgens sommige geleerdes reflekteer sy gedigte ‘n verbintenis tot eenheid met God. Van die gedigte is ook satiries tot huigelaars onder Moslem leiers. Sy liefde vir die algemene mens en verhoudings in die daaglikse lewe is nogal treffend.
Hier is ‘n voorbeeld van ‘n rymende gedig van my in die ghazal vorm soos wat Hafiz dit geskryf het:
In elke ding
In elke rots, mineraal, sand, wilde dier, blom en boom
vind ons ‘n opstandige droom, van oer af ingeplant.
In klip banke onder die aardkors, graniet, basalt banket,
is daar ‘n ingeboude verset, van oer af ingeplant.
In druppels in elke water stroom
kan mens die inerte energie nie intoom dis van oer af ingeplant.
om deel van die wolke, die see te wees,
sonder enige inperking of vrees, van oer af ingeplant
In wildsbok, roof voël en dier
jakkals hiëna, leeu en tier, is daar ‘n vryheidslus van oer af ingeplant
in gras, in die ritselende wind
is daar hoop en vertrou soos van ‘n kind, van oer af ingeplant
Strydom, waarheen wil jy vlug, waar wil jy gaan
vir ‘n vrye bestaan? Jy’s in hierdie land van oer af ingeplant.
Die riglyne vir die guzzle / ghazal in Hafiz se vorm is as volg:
1. Die onderwerp moet ten minste ‘n bietjie moet verander vir die volgende koeplet.
2. Dit rym maar het die refrein gedeelte of herhalende woord / woorde aan die einde van elke koeplet.
3. Die digter meld sy naam in die laaste koeplet.
4. Geskryf in tot ‘n maksimum van vyftien koeplette.
Die Robert Bly guzzle / ghazal struktuur
Daar is waarskynlik heelwat mense wat hierdie vorm in Engels gebruik, nogtans kon ek net gedigte van Robert Bly en Heather McHugh daarin vind. Robert Bly se digbundels: “My sentences with a thousand years of joy” en “The night Abraham falled to the stars” weerspieël hierdie tipe gedigte. Robert Bly se gedigte “It’s Already Too Late,” “The Bridegroom” en “Eating Blackberry Jam” in hierdie vorm is baie treffend. Heather McHugh se “Ghazal of the Better-Unbegun” is ook nogal redelik intressant.
Hulle benadering is ietwat anders as wat Hafiz dit oorspronklik gedoen het deurdat hulle rymlose gedigte skryf in stansas (dus vier versreëls) en hulle meer lettergrepe dus toelaat.
Nogtans is die belangrikste reëls vir die ghazal:
1 ‘n Maksimum van ses en dertig (36) lettergrepe per stansa, waarna die onderwerp ten minste ‘n bietjie moet verander vir die volgende koeplet.
2. Dit rym nie maar het die refrein gedeelte of herhalende woord / woorde aan die einde van elke koeplet.
3. Die digter meld sy naam in die laaste koeplet.
4. Geskryf in tot ‘n maksimum van vyftien koeplette.
Hier is ‘n gedig van my volgens Robert Bly se metodiek in die Ghazel vorm:
Dis klaar pure verniet (ghazal)
Ek weet dat donders soms uit die hemel val,
ek weet miere krioel as hulle nes breek,
swerm rond gereed om te byt,
maar dis klaar pure verniet.
As die son skyn gee ek nie om
as dit helder oordag reën maak dit nie saak
of ek nat word of nie, of jy nat word of nie
maar dis klaar pure verniet.
Ek ruik die vars tee wat jy brou
sien hoe die wind die gordyne laat wapper
asof dit huil oor ‘n verlore siel
maar dis klaar pure verniet.
Sal jy saamkom as ek in die reën dans,
ek weet dat daar iets onmisbaar is
om te dans as die son skyn en donder val
maar dis klaar pure verniet.
As ek Gert Strydom, in sonlig by die kerk natreën
dink party ou manne aan God se offer
is daar ‘n trefkrag as ‘n pragtige vrou nat is
maar dis klaar pure verniet.
[Verwysing: Geskryf volgens Robert Bly se metodiek.]