Jongste aktiwiteit:

26. Die sendbrief of Epistel
vir

26. Die sendbrief of Epistel

26. Die sendbrief of Epistel

In grieks was die woord Epistel of sendbrief bekend as ‘n “epistellein” wat beteken “om te te stuur aan.” Die sendbrief of epistel was gesien as ‘n formele en leerryke brief wat geskryf is vir publikasie in vers vorm.

Daar is gewoonlik twee soorte sendbriewe. Een is gebaseer op morele en filosofiese temas soos die “Epistles van Horace” die ander op sentimentele en romantiese temas soos byvoorbeeld Ovid se “Heroides.”

Die sendbrief formaat was bekend onder die antieke Babiloniërs, Assiriërs, Egiptenare, Grieke en Romeine. Die Griekse filosowe Aristoteles en Epicurus is bekend dat hulle daarvan gebruik gemaak het.

Een en twintig boeke van die Nuwe Testament is sendbriewe geskryf deur die apostels aan lede van die vroeë kerk. Vanaf die Renaissance het die epistel / sendbrief in vers en prosa vorm ‘n prominente plek in letterkunde beklee.

Voorbeelde van letterkundige epistels / sendbriewe is “Lettres provinciales” deur die Franse filosoof Blaise Pascal, die “Drapier letters” deur die Britse satires Jonathan Swift en “Epistle to Dr Arbuthnot,” in vers vorm deur die Engelse digter Alexander Pope.

In sy “Epistle to Neruda” meen Yevgeny Yevtushenko dat Pablo Neruda na sy dood steeds sy gedigte eenvoudig en kalm oordra aan mense soos ‘n stuk brood. Dat baie digters vals paaie volg, maar as die digter by die mense soos ‘n tipe van gewete bly (soos wat Neruda se gedigte doen) kan niks digkuns vernietig nie.

“Epistle to Neruda” deur die russiese digter Yevgeny Yevtushenko het my so beïndruk, dat ek self ‘n gedig as ‘n sendbrief vir N.P. van Wyk Louw geskryf het. Sedertdien het ek ook gedigte as sendbriewe vir Ernst van Heerden, Dirk J. Opperman en A. G. Visser geskryf:

Die byna evangeliese advies wat hierdie sendbriewe van my oordra is by N.P. van Wyk Louw (1) ondersoek eerder van watter gees jou inspirasie afkomstig is, as om te wonder waar jy die woorde gaan kry. By Ernst van Heerden (2) die geskrifte van ‘n groot digter kan groots wees maar mag ook op plekke plat val, by Dirk J. Opperman (3) “kyk eerder na die verse nou dat dit geskryf is” en die grootsheid wat daarin lê as na die digter se lewe en by A. G. Visser (4) dat sy gedigte op die vlak van die algemene mens geskryf was, daarom was dit so gewild. (Sy bydra wat hy as ‘n baanbreker in die moeilike rondeel tipe Franse rym vorms gelewer het, was vir my van groot nut en hy het nooit behoorlike erkenning daarvoor ontvang nie.)

Sendbrief vir N.P. van Wyk Louw

Ek sien die wyse ou man
op en af in sy studeerkamer stap
met ‘n warm vuur wat in die kaggel brand,
waar manuskripte wanordelik lê
in ‘n orde wat net aan hom sin maak,

besig om verse van ander digters te lees,
altyd op soek na iets,
soos ‘n godsdienstige fanatikus na waarheid soek

besig om ander digters te help, soos die groot mentor
(wat hy steeds na sy afsterwe is)
besig om buitengewoon grootse gedigte te skryf
gelowig dat ‘n digter
iets soos ‘n profeet, ‘n soort heilige is
wat beide na waarheid soek
en die afgrond uitdruk,

wetend dat poësie geen stryd is,
dat woorde, die struktuur daarvan
self kom asof gegee,
soos ‘n kommunikasie
ontvang van die gode af

met die evangeliese advies
om eerder te ondersoek
van watter gees
die inspirasie af kom.

[Verwysings: Epistle to Neruda deur Yevgeny Yevtushenko. Rondom eie werk deur NP Van Wyk Louw P84-85. Tafelberg Uitgewers: 1970.]

‘n Sendbrief vir Ernst van Heerden

In van jou gedigte lees ek meesterlik
hoe die mens, sy menswees trotseer
die bokser sy vuishoue plant,
op ‘n tyd met die kruit vloer kennis maak

Die vlieënier die hoogste hoogtes peil,
‘n man vir ewig sy teregstelling afwag,
oomblikke in jare uit rek
en soos ‘n spioenasie diens

‘n vyandelike agent onder ‘n soeklig intrek
ontleed ek jou verse
om aan myne te skaaf, te vyl en te slyp
en tussen dit alles
het jy iewers diep in my hart ingekruip

en word ek daarvan bewus
dat geweldig baie van jou verse
meesterlik is,
maar dat sommige nes myne plat val.

‘n Sendbrief vir Dirk J. Opperman

Laat ander hulle oor jou lewenswyse uitlaat
woorde skryf gevul met jaloesie en haat
jou verse sal ek verken
vir die grootsheid waarby ek self kan baat.

Jou man met die flits wat na antwoorde soek,
die wag waarvan die kole,
in God se konka brand,

die joernaal van Jorik
wat my volk se verhaal vasvang

en bowenal die ballade van die grysland
waar die struktuur my tot eie pogings dwing,
terwyl die grysland nou wêreldwyd uitkring

brand soos die sewester bo my
wat my op my eie weg na die lig toe lei
terwyl ek in jou woorde
konkrete dinge kry.

‘n Sendbrief vir A. G. Visser

Laat van die grootste digters in Afrikaans
jou gedigte as nietig verklaar,
jou gedigte praat tot die man in die straat,

geen ander Afrikaanse digter
se gedigte was nog so gewild geag
as soos joune nie

en laat die ander jou pionierswerk miskyk
waar jy in die moeilikste Franse rym vorme skryf,
so asof dit net nog ‘n gedig is

hulle het nie eens besef dat jy in
triolet, rondeau, orléans rondeel
en villanelle in ‘n rym arm taal skryf nie,

ek het jou gedigte
en die van Elizabeth C. M. du Toit gebruik
as die boustene om deur al die rym vorme
van triolet tot by hybridanelle te kom.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed