Jongste aktiwiteit:

27. Die historiese gedig
vir

27. Die historiese gedig

27. Die historiese gedig

Die historiese gedig handel oor ‘n persoon of gebeurtenis uit die geskiedenis. Dit is vanselfsprekend dat daar gedurende tye van oorlog, tye van bedreiging ‘n aantal gedigte ontstaan. So het in Nederland Valerius se “Gedenkklank” reeds in 1626 ontstaan. Die Nederlandse digter Vondel het ook talle historiese triomf gedigte geskryf, waarin die belangrikste gebeurtenisse van sy tyd besing word. In Suid-Afrika het die Anglo-Boere oorlog, die stryd met die Zoeloes en die Groot Trek talle gedigte geïnspireer. Jan Celliers se gedig “Dingaansdag” verheerlik die dapper Voortrekkers. Toon van den Heever en Theo Wassenaar se gedigte “Hloma-Amabutho” en “Ritrympie” is oorwegend verhalend. A.D. Keet druk die ideale uit wat die voortrekkers besiel het om te trek in sy gedig “Voortrekkerslied” en C.M. van den Heever se gedig “Louis Trichardt se Einde,” bind die historiese persoon se ideale en ervarings met die digter se lewensgevoel en verlange.

My gedigte oor die Suid-Afrikaanse grensoorlog en oorlogsgedigte in die algemeen, sal ek in ‘n ander artikel bespreek. Hier is net ‘n klompie van die groot aantal gedigte wat geskiedkundige gebeure en persone behels wat ek geskryf het:

Op ‘n stormagtige winter oggend

Op ‘n stormagtige winter oggend,
loop ek langs Bloubergstrand
en uit die sagte vallende reën
verskyn ‘n figuur op ‘n perd
wat uit die mis uit kom
en van die see
na die land toe ry.

Die golwe slaan met al hulle mag,
maar niks kan
daardie ridder
en sy perd aanraak.

Daar was meer
as slegs ‘n man en perd
daar vasgevang
en die vlak water
hang in ‘n sproei
en nat sand
en seegras vlieg weg
toe die hoewe
op die sand neerslaan.

Net vir ‘n oomblik
kyk die ridder my in die oog
en integriteit en dapperheid
was diep in sy gesig ingesny.

Ek kon die groot perd hoor asemhaal
voordat hulle omdraai
en met volle vaart
terug die see in jaag,
waar in die verte
die mas van ‘n sinkende seilskip
op en af dobber
in die geweldige golwe.

Bloedrivier

In hulle duisende het hulle vergader
en hulle spiespunte blink,
terwyl die son se eerste strale
oor die vlakte vou.

In die laer drink die manne koffie,
eet biltong en vergader
om uit die woord van God te lees,
te bid en ‘n heilige gelofte
met die Almagtige God te sluit
om ‘n oorweldigende vyand te stuit.

Uit die mis ruis hulle op
en die impi vorm
in al sy geveg linies in,
soos ‘n stormsee
waarvan die golwe
dreigend regmaak om te verpletter.

By elke wa is daar doringtakke
en daar’s vier honderd en sewentig boere
met hulle voorlaaiers gereed,
terwyl vrouens en kinders
lood by vure smelt
en hulle vreesloos op die vyand wag.

Vyandelike oorlogskrete hang bloedstollend
en Abatagati weergalm
soos donderslae uit duisende kele,
terwyl die impi op die waens
moorddadig afstorm
en spiese soos ‘n swerm bye
die lug vul
en dodelik neerdaal.

Skiet, laai en skiet
word aanhoudend herhaal
en geweer lope gloei rooi warm,
terwyl duisende byna onkeerbaar
aanhou afstorm om te steek
en dood te slaan.

Tog hoor die Heer
en word duisende
in hulle spore gekeer
en voor die duister nag kom
is die rivier se water rooi van die bloed
en op die slagveld
sterf drie duisend Zulu krygers
en Umhlela en Dambuza
en hulle hele impi
is verslaan
en niemand kan as oorwinnaars
na Dingaan toe teruggaan.

[Verwysings: Abatagati=> “Saan dood die towenaars.” Umhlela en Dambuza=> Kapteins van Dingaan.=> Dingaan se generale. Impi=> Zulu leer. By Isandlwana is 1329 Britse soldate dood en by Rorke’s Drift was elf mense as helde vereer en nog kon hulle nie die dood keer, waar slegs drie voortrekkers by Bloedrivier gewond was en hulle geloof teen ’n oormag in God gegrond was. Uit die name van die persone in die laer by Bloedrivier teenwoordig is ek vas oortuig dat ‘n eie voorsaat van my by Bloedrivier, die aanslag van die Zoeloes oorleef het.]

‘n Dapper boerseun

By Italeni kry die bosse lewe
en krioel met ‘n magdom Zoeloes,
waarvan die spiese glim
en sommige is teen die hang
van ‘n heuwel
en ander op die vlakte.

Bloed en vet
is oor hulle gesigte gesmeer
en hulle is opgesweep
en in ‘n bloeddorstige trans
en skreeu uitlokkend
en trippel met ‘n ritteltit oorlog dans
en knop kieries en skilde
word omhoog gegooi
terwyl spiese blitsig deur die lug steek.

In die wolklose helder blou lug
vlieg ‘n Arend skreeuend verby,
terwyl boere ruiters
met gewere gereed ry.

Pa en seun galop langs mekaar
en perde hoewe hang donderend,
so vêr as wat hulle gaan.

Toe die eerste Zoeloes in trefafstand is,
word daar op hulle losgebrand
en die voorste krygers val,
die res swaai om
en storm weg die bosse en klowe in.

Die kommando breek in kleiner groepe op
en die vlugtende Zoeloe impi
word agterna gesit
en Dirk ry sy aan sy met sy pa
om die Malan broers te hulp te snel
waar hulle in ‘n kloof vasgekeer is.

Skielik is ‘n hele impi moorddadige Zoeloes
reg rondom hulle
en Piet Uys se geweer weier
om af te gaan,
hy stop om dit reg te kry
en uit die lug val ‘n spies
wat dwarsdeur hom steek.

Hy sê aan sy manne om te ry
maar Dirkie wil bly
en hy ry net ‘n honderd tree weg,
toe hy die krygskreet
van ‘n klomp Zoeloes hoor
wat op sy Pa afstorm.

Perd en seun word een,
perd en seun
bars galoppend tussen Zoeloes deur
en hy skiet drie plat,
maar hy word moorddadig
van sy perd af gesteek
en een voorlaaier wat breek
kan nie ‘n horde spiese keer nie.

Pa en seun lê daar bymekaar
terwyl ‘n Zoeloe impi in vreugde
op en af by hulle dans
en in die helder blou lug
vlieg ‘n Arend skreeuend verby
terwyl die dood
twee dapper manne kry

Soms as die onweer met skemerte
oor daardie lang bergrand opsteek
hoor mens perde hoewe
oor die aarde dreun
en ‘n geweer wat donder
terwyl skaduwees
dreigend nader beweeg
en die kreet van ‘n Arend
weergalm oor die kranse heen.

[Verwysing: Die helde verhaal van Dirkie Uys.]

Louw Wepener

Toe Wepener teen Tabo Bosigo uitklim
het staal assegaai punte
teen die hang geglim.

Sy roer het sy eie donder geslaan
waar hy teen ’n horde
van die vyand staan.

Skiet, laai en skiet
terwyl assegaaie skitterend
soos reën uit die lug neergiet

en die Almagtige
van ’n dapper man ’n offer vra,
om soos Sy Seun ’n eie kruis te dra.

[Verwysing: Ter nagedagtenis van Kommandant Louw Wepener deur F.W. Reitz.]

Die slag van Isandhlwana

In die skaduwee van ‘n wilde vye boom
waar die Tugela rivier in die oseaan in vloei
het verteenwoordigers
van Britse koningin Victoria
aangedring dat die Zoeloes
hulle onafhanklikheid prys gee.

Die Zoeloe koning Cetshwayo
sou nooit weer sy impi stuur
om oorlog met die Boere te maak nie,
maar die Britte sou sy impi
met spiese deurboor
en met knuppels pap slaan
en hy het sy generaal
Nishingwayo KaMahole Khoza beveel
om die Britse invallers te keer.

Die Zoeloe bevelvoerder
het die oorlog by Bloed rivier goed onthou
waar vier honderd en sewentig
Boere geveg het
van agter hulle waens
wat hulle teen mekaar getrek het
om ‘n amper ondeurdringbare
lager fort te vorm
waar slegs drie Boere beseer is
en hulle voorlaaier gewere gebruik het,
om drie duisend Zoeloe krygers te dood
en duisende meer te beseer

en hy het geweet
dat die Zoeloes daar te staan gekom het
teen ‘n vyand wat geslagte lank opgelei is
in harde omstandighede
om oorlog te voer
teen verwoede mense en wrede diere,

dat hulle skerpskutters
en uitsonderlike perderuiters was,
wat glo in ‘n almagtige God
met wie hulle ‘n gelofte afgelê het
terwyl hulle vir Sy hulp vra
en sommige krygers het verslag gelewer
van geeste wat die Boere daar gehelp het,
maar miskien was dit hoe bygelowe gaan.

Hierdie Britse soldate
was geklee in rooi en blou kostuums
asof op pad na ‘n fees,
het glad nie gehard gelyk nie
en selfs onder die vyeboom
was hulle rooi van sonbrand
en alhoewel hulle waarskynlik
vir die dieselfde god bid
as die Boere,
het sy tolke aan hom vertel
dat hulle nie so toegewyd lyk nie

van ‘n koninkryk praat,
die krag van hulle nuwe gewere,
gekom het vir ‘n avontuur,
en hy’t besluit om hulle een te gee.

Nishingwayo het die Britse bevelvoerder
deeglik deurgekyk
gesien hoe Lord Celmsford sy manne
oor die Buffel rivier beweeg
na Isandhlwana berg toe
waar die landskap
misleidend oop en uitgestrek lyk
en aan die voet van daardie berg
het die Britte hulle kamp opgeslaan.

Die Zoeloe bevelvoerder
het sy impi in laat sluip
in ‘n nou vallei
wat met die berg oploop
waar hulle gewapen was
met assegaaie en knuppels
en leer skilde gedra het

en toe stuur hy ‘n klein groep
om die Britte
uit hulle kamp te lok
en dit vrugteloos te laat volg.

Die toor doktors
het die Zoeloe bevelvoerder
teen ‘n aanval gewaarsku,
maar ‘n verkenning patrollie van die Britte
het per ongeluk
op die voorste Zoeloe posisies afgekom.

Nishingwayo het sy geestelike leiers geïgnoreer,
sy impi in oorlog formasie gekry
en op laat vorm soos ‘n stormende buffel bul
met ‘n bors en twee horings
teen die verwarde Britse kamp.

Lord Chelmsford en sy manne het geglo
dat die geveg formasie van ‘n vierkant
enige aanval kan weerstaan,
met hulle martini-henry gewere,
maar by Isandhlwana
het daardie vierkant gebreek,

versplinter onder die aanval
van duisende Zoeloes
wat met skitterende spiese en knuppels
in beweeg soos ‘n groot donderslag
en hulle oorverdowende oorlog krete
Ngathi impi en Abatagati gil

wat klink soos weerlig
uit duisende kele
en swerm op swerm spiese
het die lug gevul
en die son laat verdwyn

en die Zoeloe oorlog formasie
het die Britte uitgewis en toegestroom
soos ‘n geweldige vermorselende golf
en alle weerstand weg geswiep.

Stekend, snyend en slaanend
het daardie groot impi
dwarsdeur die Britte gegaan
en geen een by Isandlwana gespaar,
swaar gelaai met buit weg marsjeer
met sommige krygers
wat die gewondes saam help
en nog hulle oorlog liedere sing

en slegs twee regimente
onder Dabulamanzi
het die vlugtende oorlewendes agtervolg
na Rorke’s drif sending stasie toe
wat maar net ‘n byvertoning was
van daardie groot slag
waar die Britte verloor het.

[Verwysings: Impi= Zoeloe leër. Assegaai = spies. By Isandlwana was 1329 Britse soldate gedood en elf soldate was vereer by Rorke’s Drif as helde met Victoria kruise. Ngathi impi=> “Oor ons, is daar oorlog.” Abatagati=> “Vermoor die towenaars.”]

Die slag van Majuba

Met Generaal Majoor George Pomeroy in bevel
het die Hussars, Gordon Highlanders, 60ste gewere
en ‘n kontingent van die Britse vloot brigade
op Majuba berg geklim
en in die geveg
het hulle by die agterkant af gevlug.

Met skemeroggend het die Britse leer
die steil berg ingeneem
en die Boere kommando se kamp
was op die plein aan die onderkant
en Generaal Majoor George Pomeroy,
was net ‘n bietjie te gerus
met hulle posisie op die piek
en die Boere se lot het in hulle hande gerus,
of so het hulle geglo.

Die Boere het Britse soldate
bo op Majuba berg die Union Jack
sien waai
en onder beskutting,
het hulle die steil hange begin klim.

Op ‘n Februarie somer dag
het die boere kommando
met hulle plaas klere
in die veld, die bergrant ingesmelt.

Elke klip, split en reet,
elke veldkrans en teenwal
was ‘n natuurlike wegkruip plek
om beslag op daardie Majuba berg te lê.

Die Britse infanterie het rooi baadjies
en blou broeke gedra,
met wit spits helms op hulle koppe
en was ‘n goeie voorbeeld
van ‘n invallende super land se miletêre mag.

Hulle het gewonder
watse skade kan ‘n burgermag in jasse,
broeke en plat hoede
met jag gewere kan doen,
teen ‘n ryk
se goed opgeleide soldate?

Wat hulle vergeet het
was dat hulle, hulleself rig
teen ‘n nasie van uitsonderlike mans
wat barbare en wilde diere beveg het
om ‘n lewe te maak
en elkeen ‘n skerpskutter was.

In integriteit het die Boere gebid
en vertouend op God,
daardie berg
in helder daglig geklim.

George Pomeroy was dood geskiet,
reg deur die kop
en toe akkurate skote knal,
terwyl vuur en beweging taktieke
daardie berg in ‘n plek van slagting verander
het Britse soldate een vir een gesterf
en probeer vlug
teen die agterste bergrand af.

Al Groot Britanje se vorige oorwinnings
het nooit daardie koninkryk voorberei,
vir die behandeling wat dit toe kry,
van ‘n groep hard gedryfde boere
wat in die krag van God glo
en met moderne gewere skiet.

[Verwysing: Die slag van Majuba. Slag tussen die Transvaal (ZAR) republiek en Groot Brittanje op 27 Februarie 1881 in Suid-Afrika, wat die eerste Anglo-Boere oorlog besleg het. Drie groepe boere was gelei deur Veld Kornet Stephanus Roos, kommandant D.J.K. Malan en kommandant Joachim Ferreira teen Generaal Majoor George Pomeroy. Daar was tussen 400-500 Boere in ‘n burgermag teen 405 Britse infanterie. Aan boere kant het 1 gesterf en was 5 verwond en van die Britte het 92 gesterf (insluitend hulle Generaal), 134 verwond en 59 is gevange geneem.]

Voor ‘n vuurpeloton

Japie verbrand hom amper
as hy koffie uit stort
en dis nog donker,
as daar vier uur een oggend
Britse soldate
op die Greylings se plaas opdaag

Daar’s ‘n boerseun
wat teen ‘n plaashuis
se muur staan
en Britse kaptein Jack Seeley
wil weet waarheen
sy vader se
Boere kommando gaan?

Japie Greyling weier om
enige iets daaroor te sê
en Jack Seeley
beveel sy manne
om op Afrikaner seun aan te lê.

Ses Britse Martini Henry gewere
word op ‘n tien jarige kind gerig
en hy hoor hoe slot
na slot agter ‘n koeël toeslaan.

Ek vra jou ‘n laaste keer,
sê die onverbiddelike Brit
en ‘n Boere seun kyk
in die dood vas,
maar nog is daar niks
wat hy oor sy mense verklap.

Die Britse kaptein hou aan
om senuweeagtig op en af te stap
en die blou oë
van ‘n Boere seun
sny regdeur hom
en die kind sê
laat die dood dan maar kom,
maar praat sal ek nie.

Al die Britse soldate
staan verstom oor die moed
wat uit ‘n Afrikaner kind uit kom
en op bevel
word die gewere laat sak
voordat hulle, hulle ry kry
en Japie Greyling
lewend agter bly.

[Verwysings: Geskiedkundige helde verhaal van Japie (Jacobus Johannes Cornelis) Greyling gedurende die tweede Anglo-Boere oorlog. Die gedig “Japie Greyling” deur J.F.E Celliers. Die boek “Fear and Be Slain” deur Jack Seeley.]

Die bergpas

Daar’s koeëls wat vonk strepe
op die klippe langs hom trek
en in die nek
staan Jan Pieterse
en tien manne,
om die Engelse terug te hou.

Die rook van skote wat klap
hang soos mis om hom
en geweer slot na geweer slot,
word keer op keer oorgehaal
en Jan Pieterse en sy manne
skiet fyn terwyl die oggendskemer kom

Onder gaan ‘n Boere kommando
deur die rivier se drif,
daar’s perde pote wat klap
en ‘n liddiet bom,
ontplof soos ‘n vlammende ster
in die grou lug
voor die son nog opkom.

Die stof gaan lê,
die kommando ry weg
en Jan Pieterse het net een makker,
wat saam met hom lewendig is
en hulle gee die perde vrye teuels.

Dis net Jan Pieterse wat daar wegry
en hy swaai om,
jaag terug in die koeëls
en liddiet bomme in
om sy maat te kry.

Met sy gewonde makker
wat oor sy saalboom hang
kan Jan Pieterse en elke Engelsman
die son se eerste rooi strale daar vang
en sy perd stap stadig aan,
asof geen koeël hom daar kan raak
en niks ‘n Boere held dood kan maak.

Die Engelse hou op skiet
en juig oor die dapperheid
van ‘n vyandelike Boer,
wat met roer in sy hand
weg oor die horison verdwyn.

[Verwysings: Die historiese helde verhaal van Jan Pieterse gedurende die tweede Anglo-Boere oorlog. Die gedig “Rit-rympie” deur Toon van den Heever.]

Gideon Scheepers

Daar’s ‘n Boere kommandant
wat by Magersfontein sy staal wys
en die Britte help verslaan
en by Paardeberg dwarsdeur
Britse soldate te perd ry
en hulle kan nie
‘n vinger op hom lê nie.

Toe sy kommando die kaap kolonie binne gaan
word spoorlyne flenters geskiet
en Britse treine staan en wag
en is daar baie Kaapse Boere
wat by hom aansluit
om die oorweldigende Britse mag
te help stuit.

Die Britte deel gewere
aan die swart bevolking uit
en laat hulle op boere plase los
om vrouens en kinders te vermoor
en te verkrag,
vir Gideon Scheepers is dit genoeg,
dit tref hom soos ‘n helse hamer slag
en elke swarte wat sy kommando gewapen vang,
word opgehang.

Toe dit gebeur
dat die Britte vir Gideon Scheepers
siek in die veld kry,
fusilleer hulle hom
en hy word iewers in die veld
in ‘n ongemerkte graf
in die aarde in gedruk
en selfs vandag nog
weet niemand waar
Gideon Scheepers lê.

[Verwysing: Die heldeverhaal van Gideon Scheepers gedurende die tweede Anglo-Boere oorlog.]

Vier jong mans (‘n antwoord op Ted Hughes)

Die ou wit en bruin foto
wat effens vervaag na meer as ‘n eeu
van my oupa en sy broers
wys vier jong mans

met opregtheid en patriotisme
oor hulle gesigte geskryf,
geklee in buitgemaakte kaki uniforms,
met leer gordels oor hulle heupe,
plaas hoede op hulle koppe
en bandeliers gekruis oor hulle borse,
buitgemaakte Martini Henry gewere
met bajonette in hulle hande

en ek is goed bekend
met die groot ou eikeboom waar hulle staan
en een is ‘n toonbeeld van sy parmantige beste,
een skerp en bewus,
een ernstig en opreg en al drie van hulle
lyk amper soos van my nefies

met die middelste een wat sy oë effens sluit
teen die skerp lig
met ‘n kuif wat onder sy hoed uitpeul
en hy kon ek gewees het
en die ooreenkoms is baie treffend.

Op slegs sestien, sewentien, agtien en negentien
het hulle as broers op perde oorlog toe gery,
en elkeen het garing dun terug gekeer
deurdat hulle sonder kos in die veld was,
met die velle van hulle hande af gebrand,
van blase wat in oop wonde verander het,
van skiet met wit warm geweerlope
teen oorweldigende groot hoeveelhede
vyandelike Britse soldate
en almal van hulle skerpskutters en jagters,
maar blote plaas seuns.

[Nota: Die foto is van my oupa Danie Brand en sy broers. Six young men deur Ted Hughes.]

Koningin Victoria

Toe klein Victoria speel
by die meer in Claremont Tuine
as ‘n kind lank voor sy koningin geword het,
het sy toe ‘n groot swaelstert skoenlapper gevang
en toe die goue vlerke met swart are
afgetrek
of was sy, onskuldig van so ‘n ding?

Toe klein Victoria speel
by die meer in Claremont Tuine
as ‘n kind lank voor sy koningin geword het,
het sy die blomme vertrap,
die wit en geel waterlelies
uit die meer uit geruk
of was sy, onskuldig van so ‘n ding?

Toe klein Victoria ‘n magtige koningin word
het haar regering oorlog verklaar
teen die Oranje Vrystaat
en Transvaal republieke?

Het haar soldate vroue en kinders
in konsentrasie kampe ingedwing,
waar twintig duisend gesterf het?

Het haar soldate drie duisend
Christen boere gedood na hulle, hulle plase vernietig het?

En het haar regering
verliese van agt en twintig duisend
aan eie soldate gelei?

of was sy toe, onskuldig van sulke dinge?

Fusillade

Die hemel is helder blou
waar Afrikaner wagte die slagoffer aanskou
terwyl hulle hom na die slagpale lei
‘n Afrikaner man wat fier rigting hou.

Sy blik is stroef terwyl hy die noodlot aanvaar,
sy oë kyk dwarsdeur hulle wat na hom staar,
asof dit sy wete is dat hy ‘n prys moet betaal
geproklameer deur ‘n Britse amptenaar

wat in sy siel Afrikanerskap verraai
sy eie suile na die beste winde draai
en Jopie Fourie se oë sluit vir homself,
sy land en sy broers wat hom hier afmaai.

Geblinddoek sien hy duisternis,
maar weet dat sy lewe reg is
voor die skepper God
en daardie oomblik kry nuwe betekenis,

rek vir ‘n ewigheid uit,
iewers blaas ‘n skril fluit
gewere word sekuur gelig
en as die skote knal
is daar ‘n boerseun wat val
en buskruit hang swaar in die lug.

[Verwysing: Fusillade van Jopie Fourie op bevel van Jan Smuts. Fusillade deur Ernst van Heerden.]

Jakobus Le Grange Marais (in antwoord op Christopher Hope)

Een vroeë aand terwyl ek vir ‘n trein wag
loop ek in die ou stasie kroeg in,
om ‘n koue appel bier te koop om my dors te les
in die drukkende
dertig grade Celsius somer hitte

en sien ‘n baie ou kreupel man
wat ‘n glas witwyn stadig drink
en hy praat met homself
en stotter soms oor sy woorde.

Toe hy na my opkyk
is daar vuur in sy oë en dis amper
asof hy my herken, vanuit ‘n droom
‘n profesie of iets

en skielik is sy gesig kalm
terwyl hy my oorroep vir ‘n gesprek
en ek bestel ‘n bottel brandewyn vir hom
en nog ‘n Hunters Gold vir my.

Hy kla dat die tye swaar is
met een hand wat beduie na sy bene wat af is,
wat hy in ‘n treinongeluk verloor het
en kla oor Afrikaners wat mekaar ignoreer
en net vir hulleself leef,
terwyl die nasie die pad byster raak

en sê toe skielik maar man,
jy weet dit reeds,
het dit self ondervind
as ‘n geleerde man sonder werk

maar laat ek jou iets vertel oor vergange se dae
selfs voor die Boere oorlog
(waar die Britte vroue en kinders vermoor het
in konsentrasiekampe),
baie Afrikaner boere is tereg gestel
by Slagtersnek
en dit was ‘n verskriklike, verskriklike tyd

en daarna het daardie heilige Engelsman John Phillip,
in ons sake gekrap
en nou spook daardie vent al weer
en loer by die vensters in

en ek skud my kop, sukkel om te verstaan
presies wat die ou man sê
en hoor iets van
Engelse mense wat kop in een mus is
met die huidige regering
en vroue wat as base heers
terwyl geleerde Afrikaner mans werkloos is

en hy hobbel op sy stoel en val amper af
en ek spring op om hom te help
toe hy sê om nog brandewyn en ys te skink
en kla dat niemand nou
die impies tee hou nie
en wys ‘n vinger na my

en ek dink dat hy gesê het
maar jy sal doen, of dalk
niemand ‘n idee het om enige iets te doen
en toe hy vooroor leun
is sy asem snaaks genoeg suiwer

en ek hoor hom iets stotter
dat selfs oom Paul in kerkstraat weet
dat alle Afrikaner mans
een van die dae brand arm gaan wees

en ek sê vir hom:
“My vriend, ons is al reeds
met die nuwe swart regering,
maar die meeste Afrikaners
besef dit net nog nie.”

Toe glimlag hy vir my
en hou sy glas rotsvas, in ‘n finale saluut
bring dit tot sy lippe
en verdwyn toe in die niet,
dematerialiseer daar reg voor my.

[Verwysing: Kobus Le Grange Marais deur Christopher Hope.]




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed