28. Die Natuurgedig
28. Die Natuurgedig
Die gedig waarin die natuur beskryf of besing word, waar die digter deur die skoonheid daarvan getref word, of omdat die digter daar ‘n stemming voel, is feitlik eintlik eers te vind in die meer moderne tydperk.
In baie middeleeuse gedigte is die natuur beskrywing wat gegee word ‘n tradisionele aanloop tot die eintlike gedig en so stem daar toe ook verskillende gedigte van verskeie digters met mekaar ooreen.
Selfs in die Renaissance is daar nie eintlik werklike natuurgedigte nie. Waar die natuur voorkom is dit vir die digters om die mens iets daaruit te leer in oorwegend moraliserende metafore.
Eers gedurende die tydperk van die romantiek word die natuur besing vir sy eie skoonheid, wat soms gebruik was as ‘n spieëlbeeld van hulle eie sielelewe. Ook in die moderne tyd word digters getref deur die skoonheid en grootsheid van die natuur.
So sing Leipoldt sy verlange uit na die hantam wyk in sy gedig “’n Handvol Gruis,” so word die klaende roep van die rooivlerkspreeu die besef van die wreedheid van die lewe vir D.F. Malherbe in sy gedig “Die Rooivlerkspreeu,” is wit voëls in die skemer vir C.M. van den Heever “eensaam soos bannelinge” in sy gedig “Voëls in die skemering,” N.P Van Wyk Louw ervaar die rus van die aarde in winter reën as ‘n simbool van ‘n innerlike rypwordingsproses in die menslike gees in sy gedig “winter” en Elisabet Eybers het innerlike ontroering oor die stilte in haar gedig “Maartmaand in Johannesburg.”
Hier is net ‘n klompie van my gedigte wat die natuur besing en diere en kontak met wilde diere uitdruk:
Vier gebede by jaargetye in die Hoëveld
(in antwoord op N. P. van Wyk Louw)
I. Die lente loop uit
Die lente loop uit in groen amandel blare
in bloeisels wat spierwit verskyn in ‘n kobalt blou lug
waar die son skitterend wit sit, meer gloeiend as goue kandelare,
waar blomme verskyn en elke boom se skelet oorbrug
terwyl reën nou gereeld giettend val,
neer sif in elke bos en in die laan
dat geel en pienk bloeisels al
elke nuwe dag meer en meer uit gepof staan.
Here, laat hierdie tyd u huldeblyk word
en wat eens so doods en uitgewan was
nou vreugdevol as ‘n lofsang aan U verskyn,
laat vrugte kom van die seën wat U uitstort
dat my swak jeug nou groots, onaangetas
uitloop in ‘n lewe op U gegrond, U lig deur my takke skyn.
[Verwysing: Vier gebede by jaargetye in die Boland: Vroegherfs deur N.P. van Wyk Louw ]
II. In hierdie swierige lente
In hierdie swierige lente straal
‘n glorieryke son, so uitbundig en bly
dat ek vasgevang, verstom deur U wêreld dwaal
waar takke daagliks nuwe bloeisels kry:
blomme pragtig oortrek op amandel bome sit
perskes, appelkose en pruime in volle blom staan
in kleure van geel, pienk en spierwit
en insekte, bye en voëls kom in ‘n tower wêreld aan
waar vreugde nou jubelend sonder skryn
in elke blom vervul word, in my woorde
as U grootste seëning verskyn
waar U self glorie neer laat daal uit U hemel oorde
dat die ganske mensdom, van wasdom weet
die insekte, voëls en hele wêreld U glorie uit kreet.
[Verwysing: Vier gebede by jaargetye in die Boland: Uit hierdie ligte herfs deur N.P. van Wyk Louw.]
III. Nou is die aarde dae lank gloeiend
Nou is die aarde dae lank gloeiend
in die helder lig wat in ‘n wolklose hemel skyn
en die laaste bome is nog bloeiend
voor lente met die aanslag van somer verdwyn.
Alles is steeds uitgelate met blom op blom
wat geheime kragte onverpoos vind,
in volle wasdom tot smaaklike vrugte kom
vreugde, energie en smaak vasbind
in ‘n oes wat die Skepper self dien
glorieryk ons bring tot ‘n grootse belewenis
waar ons die towerkrag van Sy werke sien
en self besef hoe glorieryk, oorweldigend somer is:
dat dit wat eens kon blom
nou tot die beste vrugte kom, met takke vol alom.
[Verwysing: Vier gebede by jaargetye in die Boland: Winter deur N.P. van Wyk Louw.]
IV. Somer reën
Deurlugtigheid het oornag soos reën
op die dor vlaktes van my bestaan geval
en onverpoos en eens onopsigtelik het die seën
uit U hand verskyn tussen die donders wat om my knal.
Die wye wêreld is deurweek waar U waters gaan
toe my volwasse lewe skielik blom,
dit voor nuwe grootse horisonne staan,
oorbluf ek tot die besef van U getroue liefde kom.
Hier waar ek deur U genade oorweldig is
vermoed ek dat U alle paaie tot wasdom lei,
aangesien U krag, lewe, lig saamkom in deernis
waar elke lewe op ‘n tyd ‘n eie volheid kry
en selfs nietige skepsels deur U geag word
met U liefde wat op sondaars soos ek ook uitstort.
[Verwysing: Vier gebede by jaargetye in die Boland: Eerste sneeu deur N.P. van Wyk Louw.]
© Gert Strydom
Drie gebede gedurende lente
(in antwoord op N. P. van Wyk Louw)
I. Ek het hierdie vroeë lente nie verwag nie
Ek het nie verwag na die fel winter
wat blomme, gras en plante vernietig het
dat al so vroeg
sonder dat daar eers reën val, neerstort
die lente in al hierdie glorie sal kom
met bome wat bloei in helder wit en pienk kleure
blomme wat oop kelk, ontplooi
en om weer werklik lewend te wees.
Ek het nie hierdie seëninge verwag,
in die lewe se vroeë winter
dat alhoewel ek ingeperk is,
en nie deur eie gebrek
my loopbaan in stukke val,
my woorde, my verse
tot eie reg sal kom
en dit bring my om te weet
hoe groots U werklik is
dat selfs seisoene van die lewe
in U hand is.
II. My bloeisels kom nou uit U hand (hybridanelle)
Ek dank U God dat U my deur genade seën
om my tenger blomme te laat groei
dat U my woorde laat neer stort soos reën
oor laat stroom in stringe wat soos klokke hang
in internodiums, in litte met rose
in ‘n suiwer wit kleur wat die oog vang
dat U my met liefde afvaardig as een
wat waardig is om in U skaduwee te bloei.
Ek dank U God dat U my deur genade seën
nie soos die ander van my soort, maar behang
met geurlose knoppe wat oop gaan
in internodiums, in litte met rose
in stringe op stringe aaneen
en alhoewel sommige mense my stomp af wil snoei,
dat U my woorde laat neer stort soos reën
alhoewel mense spykers inslaan
spot dryf, my woorde, my verse in parodie hou,
met geurlose knoppe wat oop gaan
word my vermoëns gevorm op u slypsteen
alhoewel my stamme teen stormwinde stoei.
Ek dank U God dat U my deur genade seën,
U sterk hand beskermend om my vou
alhoewel hulle aan blomme soos rose, irisse en malvas dink
spot dryf, my woorde, my verse in parodie hou,
stuur U my verse na alle oorde heen
en dank ek U dat dit uit u hand uit vloei,
dat U my woorde laat neer stort soos reën
dat U lig soos diamante in elke druppel blink,
dat U my kelke nou laat oop bars
alhoewel hulle aan blomme soos rose, irisse en malvas dink
wat welriekend geure voort bring, is ek daarenteen
deur u getemper om met ‘n eie prag te gloei.
Ek dank U God dat U my deur genade seën
dat U my woorde laat neer stort soos reën
ongekunsteld, suiwer en vars
oor laat stroom in stringe wat soos klokke hang
dat U my kelke nou laat oop bars
in ‘n suiwer wit kleur wat die oog vang.
l’Envoi
III. In U skaduwee en sorg bloei ek
Ek dank U God
dat U my deur genade seën
om my tenger blomme te laat groei
te laat oorstroom in stringe wat soos klokke hang
in internodiums, in litte met rose
nie perske, pers of pienk kleure
soos die ander van my soort
maar suiwer wit
met geurlose knoppe wat oop gaan
en sommige mense dryf spot, hou my woorde,
my verse in parodie
maar my blomme kom uit U hand
en ek kan verstaan dat hulle dink
aan blomme soos rose, irisse en malvas
wat teen die elemente getemper is
en welriekend geure voort bring,
die lug parfumeer
maar in U skaduwee en sorg bloei ek.
[Verwysing: The blossoming deur Tatamkhulu Afrika. Vier gebede gedurende die jaargety in die Boland deur N.P. van Wyk Louw.]
© Gert Strydom
Die begin van lente
Dis asof die laaste rus van winter
nog nie verby is nie
asof dit eindeloos aanhou
en die veld is leeg gestroop,
die winter gras verbrand tot as
maar nog verklaar bloeisels
dat sap reeds in hulle takke, hulle are is
en alle ander dinge, wag op die lente reën.
Lente: eerste reën
Wolke versamel duister, onheilspellend en swanger
gevul met donderende-somberheid
en die baarmoeder van die aarde is afwagtend
vir die lewe gewende bestanddeel om neer te giet
om sade te verander na lewende spruite
en ‘n vars geur rys uit die grond
as reën neer plas, stort, val
soos ‘n rivier uit die lug.
Waar winter vure geswiep het
Waar winter vure geswiep het,
die veld tot as verbrand het
en dit swarter as die nag gelaat het
spruit groen gras, helder vroeë wilde blomme
na die eerste stortbuie
swewend op lang stamme
in wit, pers en pienk kleure.
Niks kan met die prag van lente vergelyk
Niks kan met die prag van lente vergelyk
met takke waarin blomme sit
in trosse van pienk, geel en wit
en elke dag het ‘n helder sonskyn kyk
en alles is suiwer en glansryk
met welriekende kelke wat oopvou, orals lewe dit
met nuwe energie, asof alles lewensvreugde besit,
in die takke sing voëltjies ‘n huldeblyk,
bye en vlinders kaperjol,
die lug is oop en saffier blou,
voëltjies vlieg heen en weer
en my hart is tot oorlopens toe vol
van elke liefdes blik van jou,
klop onstuimig amper buite beheer.
Lente (in antwoord op Gerard Manley Hopkins)
Lente het ‘n eie skoonheid
waar grasse en onkruid met borsel
en stam verskyn, groeiend in volle geilheid
en die hemel, die lug het ‘n deurlugtigheid
en insekte, voëls en diere is aktief besig,
die wind beef in elke bos, palmiet en riet
in die veld en by die vlei en selfs die klein sproei
sing magies sy siel uit
die hele natuur jubel van vreugde
asof alles nuut begin
sonder enige slinksheid of bedreiging
amper soos Eden voor die sondeval,
onskuldig soos die hart van elke klein dogter en seun
waarin die lig van God helder skyn.
[Verwysing: Spring by Gerard Manley Hopkins.]
Donderstorm
Ek het donder neer sien flits
en toe nog een
die reën hoor pletter,
skielik as ‘n stortvloed
uit die donker lug
en die meeste mense was verruk,
sommige aardige manne vies
om sonder beskutting na hulle karre te haas,
het dit gehaat om nat te word,
sommige sou net in die kroeë wou bly
om nog ‘n drankie of twee te kry,
maar hulle vrouens het gewag
en die reën het geval op hulle wat ek bemin
en die wat my haat,
as ‘n grootse teken van bo af
wat vry en regverdig neerkom,
uit die hand
van die almagtige God
Die arend
Ek het ‘n arend in die lugruim sien draai
op straal winde vasgevang
soos ‘n vlieër het hy daar gehang,
‘n spikkel hoog bo in die blou,
‘n ding wat aan die hoogtes vashou
wat weet waarheen daardie winde waai
en keer op keer in sy rondte draai.
Byna inspanningloos met ewewig
is hy meester van die lug,
totdat hy duik soos ‘n donderslag
en in snelle vaart
sy kloue na ondertoe ontbloot
en in ‘n oomblik dodelik
op sy teiken neerdaal.
Uil
Dis ‘n hoëveld aand en die uil roep
draal met flappende vlerke
uitgestrekte kloue en bek
en die oë daarvan gloei geel
onder die silwer maan.
Volg dit die steenbokskeerkring
nie moeg of uitgemergel,
volg dit die meganiek van die draaiende aarde
waar dit elke klein ding bepaal?
Grasieus vlieg dit aan
in helder sig
asof die duisternis helder daglig is
en vind dan ‘n nuwe rigting
fokus in op iets, ‘n klein muis of rot.
In die veld is ‘n rinkhals skielik op my
In die veld is ‘n rinkhals skielik op my
en voor dit my kan pik of met gif kan vang
is daar ‘n klip wat ek in die hande kry
en ek vermorsel die kop van die spoegende slang
maar waar dit omgetob rukkend lê
sidder die gras, die bosse en die veld,
is daar ‘n vervloeking wat dit met ‘n laaste asem sê
asof die sterwe daarvan iets ongehoord meld.
Die uitgestrekte aarde maal en kook
asof klipbanke op mekaar knars
as die leviatan met asem wat rook
uit die dieptes bars
waar dit skielik sinister na my tuur
en sewe slangkoppe spuug vuur.
Die aap
Met oer woede
grynslag ‘n groot aap vanaf ‘n swaai
en die oerwoud broei in sy hok
as dit spring en die swaai laat rammel
met sluimerende haat
kners dit op tande
slaan ‘n massiewe vuis teen tralies van die noodlot
en staar vererg asof dit skaars kan asemhaal
skud sy hele liggaam skreeuend
verlangend na tropiese bome
en smyt die swaai dat dit weerklink,
klap met sy hande na bye wat verby vlieg
en haat sy hok, bars uit in lastering,
verlang om te ontsnap, om vry te wees.
‘n Jagluiperd
Deur sommige gesien as die katjie
van die wilde kat familie,
maar dis geen grap
as daar op ‘n spoed van
een honderd en tien kilometer per uur
‘n meter en ‘n half lange jagluiperd
van sestig kilogram op jou afstorm
met ontblote tande
en uitgestrekte deurborende kloue
en die geelbruin pels met swart kolle
glans en ek sien die borsspiere
saamtrek in krag
en op patrollie, is ek gereed om dit neer te skiet
maar vries soos die Boesman spoorsnyer
met die finale rigting daarvan wat my afweer
van skiet
met die kragtige ligte masjiengeweer
en in gedeeltes van ‘n sekonde
flits die jagluiperd verby
op spoed op pad na ‘n rooibok
wat ek nie voorheen raakgesien het nie
waarvan die oë wyd gesper van skrik is
en in ‘n oomblik pootjie die jagluiperd dit
met kake wat om die keel daarvan sluit
en in ‘n wolk rooibruin sand
word dit neergetrek en lê die jagluiperd bewegingloos
totdat die wildsbok ophou spartel.
Op ‘n spoor
Ons is warm op ‘n vars spoor
en die Boesman spoorsnyer sê
dat die vyand nou naby aan ons is,
as ons deur digte bosse sny
en onder hoë bome deurloop
en as ek opkyk sien ek iets op ‘n tak,
daar gekamoefleer, gespikkel in die skaduwee in
en geel oë gluur af na my
gevul met woede, met energie
en verstom meer as enige iets anders
bring ek die geweer op teiken,
maar die gelaaide energie,
smelt met luilekker grasie
in die boom in
asof dit nie van my, van ons bewus is nie.
Ons loop deur ‘n oopte,
in die oop veld in, waar heup hoë gras verbrokkel
word deur ‘n klompie doring bosse.
‘n Massiewe leeu met ‘n swiepende stert
bars uit een van die bosse
en hardloop op volle vaart
en ons vries almal in ons spore
met wapens gereed
en dis asof
die ligte masjiengeweer se sneller my uitlok
om die dreigende dier uit sy spore uit te skiet
en op daardie oomblik is ek verlig
dat dit nie die luiperd is nie,
wat van een na die ander van ons
sal spring met groot spoed
en vinnig na mekaar
die lot van ons sal probeer doodbyt,
as ‘n ekspert bobbejaan jagter
dus ook ‘n spesialis met die doodmaak van primate
maar die spoorsnyer wys egter met ‘n handgebaar
vir ons om te wag toe hy die leeu sien
en die groep spesialis soldate
is gereed om te dood,
toe daardie leeu met swiepende stert reg voor my,
tot stilstand kom
en ek kan nog steeds die stink asem daarvan ruik
toe dit brul met kake wyd gesper
en skrik my maag soos ‘n magtige vuis tref
en ek kon dit neerskiet,
dit van die grond af blaas,
maar die woestheid, die prag van daardie gedierte
weerhou my asof ek besig is om net te droom
en ek kyk na die geel tande, die pienk rasper tong
en is totaal bewegingloos,
probeer om die gedierte neer te staar
en skielik draai dit om,
loop terug in die veld,
die bosse in, soos ‘n mak katjie
verdwyn dit in die gras, smelt daarin weg.
‘n Wilde kat
Die geel rooi kleur van ‘n rooikat
vermeng soos natuurlike kamoefleering
met die geelbruin winter gras
en toe die kop beweeg,
vang gepunte ore
met swart klosse my oog.
Agtien kilogram haat
vir die mens en opgeboude ergernis
sis en grom vir my
en wit tande,
probeer om die lug
stukkend en dood te byt.
Vêr te swak om te beweeg
van ‘n jagter se onberekende kwesskoot
en gekoek deur bloed wat uit
longe syfer
klou ‘n poot deur die lug,
reg om my te tref.
Geen voëls, klein soogdiere
of bokkies sal ooit weer
onder sy kloue en tande kom nie
en terwyl die lewe wegkwyn
met die ondergaanende son,
sien ek haat gluur
uit geelgoue oë.
‘n Gawe van my
wat ek nie werklik verstaan nie,
laat my hand uitstrek
om die sagte geelrooi kop
tussen die gepunte ore te streel
en iets verander
in daardie dodelike kat
en vir die laaste oomblik
het dit vrede
en tot vandag kan ek sweer
dat dit soos ‘n klein katjie was
wat ek streel
terwyl die lewensgety wegvloei.
Vandag vind ek myself
in ‘n soortgelyke situasie
met ‘n vrou
wat groot haat op my rig
wat onvoorspelbaar verskyn
en wat ek nie kan verstaan nie
en miskien kan broederlike liefde
en selflose dade en sagtheid
in die aangesig van raserny,
stadig die ergernis
van mal woede weg laat vloei.
[Verwysing: “Gentling a Wildcat” deur Douglas Livingstone.]