Jongste aktiwiteit:

34. Die kindergedig
vir

34. Die kindergedig

34. Die kindergedig

Wêreldwyd is daar liedere en gedigte vir kinders wat eeu oud is. Die kindergedig is gewoonlik baie eenvoudig van vorm, het dikwels halfrym en word in allerlei vorm variasies gevind. In Nederland het die 18de eeuse digter Hironymus van Alphen hom toegelê op kinderliedere, maar hierdie gedigte is modern gesproke baie min kinderlik van aard. Tog is sy gedigte “Jantje zag eens pruimen hangen” en “Kornelis had een glas gebroken” onder kinders bekend. Guido Gazelle en René de Clereq se kinder gedigte was meer geskik vir kinders en het ook ritme en klank gebruik om te beïndruk. Kinders is intelligent genoeg dat ‘n digter nie sy of haar verse tot groetekaartjie rympies of verse hoef af te plat nie.

In Suid-Afrika is C.J. Langenhoven se “Liefdes Onsin,” A.G. Visser se “Biesie, Biesie, Bame” en “Kokkewiet,” Toon van den Heever se verhalende gedig “Vir Eugene,” “Wonderlik” van J.R.L. van Bruggen en A.D. Keet se “Klaas Vakie” goed bekend. As kind het A.G. Visser se “Mensvreter” en die “Ruiter van Skimmelperdpan” natuurlik my hare op laat staan. Selfs Eugene Marais se “Mabalel” is goed bekend.

SJ Pretorius se gedigte “Die steenbokkie,” “Sonnet uit Malvern,” “Harlekyn van die dieretuin,” Barend J Toerien se “Eendvoëljag,” C.M. van den Heever se “Die dood van Simson,” “Krag,” Marié Blomerus se “’n Jakkals kruip uit die donker,” S.V. Petersen se “Kinderland,” H.A. Fagan se “Ek het geswerwe oor die oseaan,” “Die vissersknaap,” “Ouboeta,” Antjie Krog se “Ma,” “Omdat,” “Wiskunde,” A.D. Keet se “Moeder,” “Die lied van die koringboer,” Ina Rossouw se “Aandlied,” W.E.G. Louw se “In die stad,” “Nagliedjie,” “Matjiesfontein,” Ernst van Heerden se “Pearston,” “Stofsuier,” Marlene van Niekerk se “Winteraand,” D.J. Opperman se “Klara Majola,” “Dank,” “Vrees van die arbeider,” “Aaispaai,” I.D. du Plessis se “Rietfontein,” Marike de Waal se “Om sestien te wees,” N.P. van Wyk Louw se “Seekoeivlei,” Lina Spies se “Hemel” en Elisabeth Eybers se “Terugkeer van Klaas-Hannes” is maar net ‘n baie klein klompie van die garde gedigte wat geskik is vir kinders in die Afrikaanse letterkunde.

Mens moet onthou dat die lees van ‘n gedig vir ‘n kind ‘n genotvolle ervaring moet wees. Dalk probeer mens aan die kind dinge van die natuur, van God van die lewe in gedigte leer. Dit is raadsaam dat kinders gedigte hardop lees, om die eenheid daarvan tot ‘n reg te laak kom, om die klank effekte self te ondervind voordat enige aspekte van ‘n gedig bespreek word. Dis belangrik dat dinge uit hulle eie wêreld ook in van hierdie gedigte moet wees. Te veel kere in die verlede het gedigte by kinders ‘n tipe van straf, ‘n onding geword omdat hulle gedwing was om resitasies op te sê en gestraf was as hulle dit nie reg kon onthou nie, so was die wonder wêreld wat gedigte bring tot in die grond in verbrokkel.

‘n Klein klompie van my kindergedigte is as volg:

‘n Kat se droom

Hy strek uit op die grond
waar hy in die son lê
en die hitte op die lang hare
van sy rooi-goue gemmer pels
voel werklik goed
en die goue oë
van die Persiese kat sluit,
terwyl slaap dit weg neem
en lug sag deur sy
plat pienk neus vloei.

Twee skerp klein wit tande
punt uit verby sy lip,
net reg om te knip
en strepe is orals
soos die van ‘n tier.

Sy hele lewe lank
was hy ‘n goeie kat gewees,
het teen die baas
en sy vrou aangeskuur,
rotte, muise
en selfs slange gevang
en hulle as geskenke gebring
aan die mense
wat hy bemin.

Tog op hierdie dag
terwyl hy slaap
bid hy aan al die gode
wat katte ag,
om ‘n tier van ‘n dag te hê
en om dit moontlik te maak
om vir net een dag
te leef en te speel
as ‘n tier.

Die droom ontaard in ‘n nagmerrie
en twee venynige Rotweillers
jaag hom in ‘n boom op
en grom, blaf
en spring in die lug op,
maar terwyl hy slaap
word sy gebed verhoor
en ‘n woedende tier
storm van die boom af
en klou in die honde
se rigting uit
selfs nog voor dit
die grond raak.

Verskeur, bloeiend en tjankend
hardloop die twee honde
skreeuend weg
en laat weet elke ander hond
met vrees,
dat ‘n magtige tier los is.

Toe hy met die straat af gaan
is al die mense
wat hy ontmoet vreesbevange
en hardloop hulle in skok weg
en hy kan niemand vind
om mee te speel nie
en self die ander katte
is uiters bang
en bly op hulle eie.

Soos wat die dag aangaan
raak hy regtig honger
en drink water
uit ‘n wensfontein,
waar toeriste stop
om uit hulle karre
na hom te staar,
terwyl ‘n patrollie polisie
bang nader kom
om hom te probeer vang.

Om weer ‘n Persiese kat te wees,
lyk veel beter
op hierdie plek en tyd
en hy wens
en stamp per ongeluk ‘n munt
van die kant af
wat af in die poel in val.

Impundulu

As daar in die somer
stormwolke vergader
en kettings blouwit donder
vlammend neerkom, nader en nader kruip
vlieg Impundulu,
seil hy hoog in die lug op
met sy vlammende oë wat orals rondkyk

en iets het sy rusplek verstoor
in die reuse tamboti boom
wat in die klowe gewortel is,
in die hart van die aarde in,
wat op tak tot bo in die wolke,
die plek van die boonste water

en as die reën neer begin giet
asof eindeloos, sit die medisyne man,
die toordokter, die Inyanga
geheime kruie en speserye
wat uit die donker klowe kom
in ‘n kookpot
wat hy aan elke deurpos smeer
van die inboorling stat

en vertrou dat dit die vermoë het
om die donder voël weg te hou
terwyl die ontploffende stem daarvan nader kom
klein weerligstrale uit kroes,
vuur uitbreek waar dit staar
en die krag van sy kloue en bek
breek selfs die hardste klippe

en in die hutte van die stat
is die kinders te bang om selfs asem te haal,
bid hulle moeders en vaders
tot die almagtige God,
tot Unkulunkulu, die Groot-Groot Een
om die donder voël weg te hou.

[Verwysing: Impundulu deur A.G. Visser]

Anderkant toeka

Gerrie het na anderkant toeka gegaan
na ‘n wêreld waar die bome
reusagtig groot is,
waar klein dam so groot is
dat daar visse in bly
en mens by groot dam
bo in die berg kan verdwaal.

Eers het hy alleen met die ou boot
oor klein dam probeer roei
maar modder water het vinniger ingevloei
as wat hy van die wal af kon kom
en toe trek hy met ‘n groot gesukkel
maar die boot weer uit.

Hy het ‘n donkerbruin krap
groter as sy hand gekry
en dit van bo af gevang
en die dekseltjie onder
tussen die massiewe knypers
oopgemaak en ‘n spul
klein krappies het daar uitgepeul.

Daar was nie ander kinders
om met Gerrie te speel
en toe vat hy sommer pad
al deur die koppies
na groot dam toe,

maar toe hy die grondpad kruis
kom Gardiël met die groen John Deere
trekker verby gery
en stop en laai hom op die sleepwa
waar Gerrie by die traliewerk
staan en kyk
en die wind ‘n pad
regdeur sy hare waai
en by die lusernland
kom ‘n tarentaal hen
met ‘n klomp kleintjies verby
en dit klink asof sy bankrot skreeu

en Gerrie weet dat hulle arm is
maar nie soveel nie
en wonder waar sy
aan haar inligting kom?

Toe hulle by die stal stop
help hy vir Thomas
om die melkmasjiene skoon te maak
en sien hom blou walms uitblaas
nadat hy ‘n sigaret
van ‘n oranjegeel pakkie BB-tabak rol

en Thomas vertel van die tokkelossie
wat snags
as ‘n lelike mensvreter dwerg rondsluip
en stoute kinders
en stouter vrouens vang

maar Gerrie is nie bang
vir dié bog
en as die gedierte dalk kom
sal hy ‘n yster ghoen van sy rekker kry

en later glimlag Thomas breed
dat mens sy wit tande sien
terwyl die trekker wegry
en waai vir Gerrie
totdat hy so klein soos ‘n dwerg vervaag.

Die woorde van ‘n kind

Toe ons klein was
moes ek en my jonger broer
bedags by die Von Hörsten’s bly
as my ma gaan werk

en ons moes buite speel
en is gedreig
dat ons rokkies sou kry
as ons in hulle huis
in wou kom,

maar hierdie oorblyery
het dramaties geëindig
in my sesde jaar.

Een aand wou my ma weet
hoe dit met ons daaglikse
kuierry gaan
waarop ek vertel het,
dat alles soos altyd is
en my broer dat ek
baie stadig aan my kos eet.

Ek het gesê dat ek nie
van die kool hou nie
en dat ons alles moes eet
of pak sou kry
as daar enige iets
in die bord oorbly.

My ma het gesê
dat groente goed vir mens is
en ek het dit toe so aanvaar,
maar dit was nie die einde
van die storie nie.

As ‘n onskuldige kind
het my broer hierdie insident
aan een van die Von Hörsten
seuns oorvertel,
wat daarmee na sy Pa toe is.

Ek het in die koppie bo die huis gespeel
toe al die Von Hörsten seuns
skielik uit hulle plaashuis uitpeul
en in alle rigtings uit spat
en na my roep,
maar ek kon sien
dat daar vir my moeilikheid is
aan die manier wat hulle soek en skreeu.

Toe bly ek waar ek is
en wonder wat aan die gang is
en watter verskriklike ding
ek onwetend gedoen het?

In daardie heuwel
het van die veel ouer
en groter seuns
toe aangesluip gekom
en van agter af,
op my gespring
en my gegryp
en tot vlak
by hulle pa gedra.

Oom Hendrik was ‘n man
wat van niemand nonsens vat
en wou van my weet
waarom ek sy vrou
se kos nie wou eet
en waarom ek sê
dat haar kos sleg is?

Toe ek sê dat dit
nie so is nie,
het hy geskreeu
dat ek moet ophou lieg.
my met sy gekromde kierie
aan die nek nader geruk
en my daarmee geslaan.

Stotterend kon ek nie woorde kry
om onder hierdie omstandighede
te verduidelik nie
en toe skreeu hy
praat man praat
en hou op dink
wat om te lieg
en terwyl hy my aanhoudend slaan.

Toe sê dat ek
nie van kool hou nie
en het ek weer pak gekry
en is gesê om stil te bly
of die waarheid te praat.

Toe sê ek dat die Here my getuie is
en dat ‘n dag sal kom
wat sy woorde ook opraak
en heeltemal deurmekaar is.

Soos ‘n hond was ek weg gejaag
met ‘n gevoetsek
en het onder sy kierie weg
huis toe gevlug.

Die Von Hörstens het my ma opgebel
en haar van alles vertel
en sy het geweet
van waar my moeilikheid kom
en vir ‘n hele maand
moes my broer kool eet
omdat hy uit die huis
uit gepraat het
en ons het nooit weer
by die Von Hörstens oorgebly nie.

l’Envoi
Toe ek baie jare later
op Universiteit is
sien ek eendag
oom Hendrik Von Hörsten
op die kampus
en groet ons mekaar
en praat normaal
oor die dinge wat in die land gebeur
en oor ons families,

maar toe hy van my weg stap
praat ander studente met hom
en die eens bekende skrywer
praat in brabbeltaal
asof hy nie weet
wat om te sê nie
en heeltemal deurmekaar.

Daar is gesê
dat hy Alzheimers het,
maar tot vandag wonder ek
oor die krag
van die woorde
van ‘n kind.

Toe ons nog klein kinders was

Toe ons nog klein kinders was
so vyf en vier
was my Pa reeds
aan kanker dood
en moes ek en my broer
bedags by die Von Hörsten’s bly
as my Ma weg werk toe ry.

Oom Hendrik was ‘n boer,
maar het ook saam met sy broer Fritz
storieboeke geskryf
en sy string kinders
wat baie groter en ouer
as ons was
(vier seuns en twee dogters)
het ons besig gehou
want seuns moes uit die huis uit bly.

So kom dit toe dat ons bloots perdry
en perde help inbreek,
kuilvoer trap
en die tweede oudste Gardiël
het behoorlik ons gal gewerk,

ons op donkies gesit
terwyl die klomp hulle dik lag
en die goed nukkerig
in die klippe in hardloop
en my broer hom daar
half stukkend val.

Eendag word die mielieland
stoppel hoog afgesny
om voer vir die beeste te kry
en word die teel bul Kittennel
(wat swart en boosaardig was)
in die drukgang ingejaag
en Gardiël maak ons daardie bul klim
voor hy dit weer
op ‘n perd
die kamp in jaag.

Aan die anderkant van die land,
anderkant die grensdraad
waai sy broers ‘n rooi vlag
op en af en op en af
en Kittennel snork deur sy neus,
skud boosaardig sy lyf,
skop stof op
voor hy bokspringend
rigting kry
en met volle vaart
op die vlag afstorm.

Die stoppels flits onder
sy voete verby
en lyk soos spiese
wat regop staan
en ons is te bang
om daardeur gesteek te word
en ons ry Kittennel
en geen bul
kan ons daardie dag afkry.

Geen plek vir ‘n opsitkers

‘n Meisie stem wat saggies lag
sny deur die nag
en kom by my kamervenster in
en wawyd wakker
sluip ek (ses jarige kind)
na buite om die bron
van opwinding te vind.

Gardiël studeer by Martin
wat by ons loseer
en beide is in matriek
want hy kla dat sy oë brand
van die ou paraffien lamp
wat by hulle plaashuis
lig maak
waar elektrisiteit ontbreek.

Daar brand ‘n helder elektriese lamp
wat tien sentimeter
onder die plafon hang
en groot motte
vlieg donker bruin daarom
in hulle eie vlugbane vasgevang.

Nog ‘n staanlamp
gooi ‘n helder geel gloed
wat warmte in die koue
hoëveld se winter bring.

Ek sien hulle deur die ruit
koffie drink en beskuit eet
voordat beide van hulle
verder in boeke blaai

en kruip in ‘n struik bos in
sodat hulle my nie moet gewaar
en skielik beweeg iemand
reg langs my
en sien ek haar buk
en klein klippies optel
wat sy teen die kamervenster gooi.

Die venster swaai wyd oop
en ek hoor hulle te sag praat
sonder om enige iets te hoor
en die meisie lag weer klok helder,
voor sy na die voordeur loop
wat geluidloos oopgaan.

l’Envoi
Dit kon nie tien minute wees
voordat oom Hendrik (Gardiël se pa)
aangestorm kom,
die tuinhek woes oopgooi,
die voordeur
byna uit die skarniere uit loop,
en met ‘n kierie in sy hand
(wat sterker as ‘n besemstok is)
die lig in die dak,
die staanlamp
en vensterruit
in Martin se kamer
uitslaan

en ek houe
met doef geluide
op beide seuns hoor val
en die meisie
histeries gil
terwyl sy sommer ook
‘n paar kry
en hy brul
dat hierdie geen plek
vir ‘n opsitkers is.

Verkleurmannetjie

Ek het jou gitswart
met woede sien word
as jy dink dat jy gevaar moet trotseer
en die kleur van ‘n bruin kruik

as jy tussen brandende warm klippe rondkruip
waar jy my die vreemdeling dophou
met eienaardige rollende oë terwyl jy draal
en ek het jou groen sien word

as jy terugkeer na jou wegkruipplek in ‘n boom
waar jy jou grypende tone versigtig plaas
met jou pienk opgerolde tong wat blitsvinnig uitskiet
waarvan geen vlieg kan ontsnap,
sluipend as ellende vir die meeste insekte
terwyl jy verander in ‘n blaar of uitspruitsel.

Die steenbokkie

Daar vêr in die ruie veld
waar dassies in die rante sit
waar tarentale vir ‘n skoffel party hulle aanmeld
lê ‘n steenbok met ‘n kol op sy boude wit

onder die skadu van ‘n suikerbos
lê hy vas aan die slaap
herkou nog sy vroeëre kos
waar ‘n valk uit die blou lug ‘n vlakhaas opraap.

Later as die son laer oor die rantjie brand
strek hy hom uit en kom op sy donker swart voete
met sy donkerbruin oë, sy neus wat let vir sy aartsvyand
as hy geen gevaar bespeur kies hy ‘n veilige roete

na die koel water van die klein spruitjie
waar die gras soet, groen en welig groei
maak hy ‘n sagte klik-geluidjie
voel die son nog warm oor sy geelbruin pels skroei.

Migrasie

As die donder in die verte slaan
waar daar troppe wild in die makgadigadi panne staan
vat blouwildebees, hartbees en gemsbok pad
op ‘n reis wat dwarsoor riviere vol krokodille gaan

volg hulle die reën se reuk op die wind
om nuwe groen gras te vind.

In die voëlreservaat van Sandfischbaai

In die voëlreservaat van Sandfischbaai is dit verbode
om voëls te jag, te pla of te verpes
of selfs hulle vere te pluk vir die jongste mode,
want van hulle maak daar nes.

Daar’s pelikane wat rond waggel met vlerk oop gesprei
pienk rooi flaminke wat op hulle lang bene rond pik
om in die water ‘n eet ding te kry,
strandlopers wat rond hardloop asof hulle heen weer mik

en miskien vind jy daar dalk
as die honger vir jong voëls sy eetlus wek
‘n uitgegroeide vaal valk
terwyl ‘n jakkals eenkant sy lippe aflek.

Eendvoël jag

In die vlei roep hulle in ‘n swerm
en wild vlieg van hulle op
waar die riete hulle beskerm
en die ruigtes is beknop

voor ons wilde-eende sien
skreeuend vanuit die biesies en riet
swart voëls in ‘n groepie van sowat tien
wat in die lug opskiet

as ‘n skoot vroegtydig afgaan
en hulle wegvlieg in ‘n ry
met vlerke wat klap en slaan
voor ons nog ‘n skoot in kan kry.

In die stilte is daar ‘n paar bye wat zoem
by wilde blomme in die stroom
en ons jagtog is heeltemal verdoem
met die eendvoëls slegs ‘n jagter se droom.

Die jagparty

Een naweek kom ‘n jagparty
by Serfaas Lourens se plaas aan
en hulle bestaan uit familie, vriende
en dorps mense:
twee onderwysers,
die skoolhoof, prokureur,
‘n besoekende advokaat en landdros.

Die klomp is in jag mondering uitgedos
en met vier by viers ry hulle
deur die oop veld
verby die stroom waar daar bloekombome is.

Tarentale en fisante vlieg op
remme word aangeslaan,
dat die voertuie in ‘n stofwolk stilstaan
terwyl jagter op jagter afspring
en haelgeweer op haelgeweer knal.

Serfaas Lourens se seun
skiet met ‘n ELG-12 boor
met rooi LG patrone, so asof hy
die grootmanne ‘n ding wil wys

maar daar’s net stukke
wat hulle van sy tarentaal optel
en met dit rit terug
word hy tot by die opstal
deur sy pa uitgeskel
om die korrekte ammunisie te gebruik.

Die dood van Simson

Van die eens magtige man
wou hulle ‘n bespotting maak
en van die duisende daar wou elkeen wat kan
op hom spoeg, aan hom raak

en in sy blindheid het hulle hom gedwing
om voor hulle te dans,
om van hulle houe af weg te spring,
maar hy was hoog beswaar en wag om sy kans,

vra toe dinge effens bedaar
dat sy helper hom na die pilare toe lei
en hy bid tot sy God, maak homself reg en klaar,
as hy klaarblyklik net daar ‘n rusplek kry.

Toe spring die senings in sy lyf
waar hy beur met al sy krag
en sy arms span snaar styf
as die skare nou bevrees in stilte wag

voor die pilare wat die gebou steun kraak,
stukkend bars onder sy mag
en hy vir sy God van sy vyande ‘n einde maak
die tempel, die gebou neerstort met ‘n donderende slag

en in daardie laaste oomblik het Simson besef
dat God nog met hom is, toe sy wraak sy vyande tref.

[Verwysing:Die dood van Simson deur C.M. van der Heever.]

Baba Moses

As die mandjie die rivier in plas,
ek rond dobber, die water
se rimpeling my op en af wieg
die wind my weg
in ‘n rigting wil waai
is die lug helder blou bo my
sien ek die son wat wit warm neer bak
en daar is riete wat in die wind beweeg,
borrel nader op die water kom
en ek lê verstom
as iemand die water in plas,
riete van my mandjie weg buig,
‘n skaduwee oor my gesig val,
en terwyl ek my klein vuiste bal
sien ek ‘n adellike gesig
met die liefde van ‘n moeder na my kyk.

My eerste kettie

Na vele jagtogte
was my eerste kettie weg gesluit.
Dit het my tyd gevat
om dié ding te maak,

uit ‘n gevurkte bloekom tak te kerf,
met netjies geknipte rooi binneband te span,
die tong van ‘n ou skoen versigtig uit te sny
vir die velletjie daarvan.

Met die kettie kon ek byna enige ding raak skiet,
tot ‘n duif by ‘n venster verby vlieg,
ek ewe kordaat daarna mik
en duif en klip

dwarsdeur die sitkamer venster gaan
en gebreekte stukke glas om my lê,
my boude soos vuur brand,
ek my kettie verloor,

ek uit spaargeld ‘n nuwe venster
en stopverf moet koop,
die gebreekte glas uit moet bytel
en die ander ruit in moet sit en dit was net mooi dit.

Waar is hulle kinderland?

Die ganske wêreld van my kind wees
is dalk vir ewig verby,
aangesien vandag se kinders plesiere op ander plekke kry,
plekke besoek waarvoor elke ouer behoort te vrees,

so asof ouers nie reeds die skrif aan die muur kan lees,
is mispels, wilde perskes, stamvrugte goed wat in boeke bly
wil hulle die wêreld van kiewiete, kokkewiete en duiwe vermy,
is daar byna niks wat hulle nog kan genees

van sterk drank, dwelms en losbandige lewens
ken hulle nie rooi, geel en swart bessies
word die nugter ongenaakbare stad diep ingebrand
en die dinge wat hulle doen, hulle boer plekke is ongewens
het hulle nie ‘n benul van eiers in voël nessies,
lees mens net van tragedies en verval in die dorps koerant.

[Verwysing: Kinderland deur S.V. Petersen.]

Beeste in die reën

Alhoewel niks sonder ‘n einde is,
selfs reën wat vol hael neer hamer,
het dit soms so gevoel
met donderslae
wat uit die lug uit neer val
soos woedende sweep slae,
die tollies wat rondmaal
reg om weg te stormloop
in die rigting van die vlei
waar die dodelike tulpe groei.

Die perd runnik bang
trek haar voorste hoewe op
met elke bliksemstraal wat neerval
en jy laat haar galop
aan die kant van die beeste
om hulle af te keer
in die skuiling van die kamp in,

met die voorste onrusstokers wat jy afsny
en die hael wat hard neerval
voel soos bokhael uit die ou haelgeweer
en een reusagtige os snork
storm weg

bars regdeur klein boompies
waarvan die stamme sweepslag verby jou kop
en as jy die os woedend bereik
draai dit om en begin terug loop
in die rigting van die kamp,
kyk met groot oë na jou
so mak soos die van ‘n koei.

[Verwysing: Cattle in the rain deur Musaemura Zimunya.]

Son opkoms in Edenvale

In Edenvale bewe die oggend bries
deur ‘n klompie wilgerbome
en die oggend son skroei
rooi warm in die ooste
soos kole wat opvlam
uit ‘n groot konka
en die nag verdwyn
waar ‘n groepie werkers
hulle hande warm maak,
is die nag verspil
soos uitgebrande wit as.

[Verwysing: sunrise over edenvale deur Dikobe wa Mogale.]

Wat het ek geweet?

Selfs op naweke het my moeder opgestaan
om ontbyt voor te berei,
soos wat sy elke dag gedoen het,
middagete en aandete ook.

Sy het seker gemaak
dat ons betyds opstaan vir kerk,
geklee was in ons beste klere,
met blink skoene.

Die groot ou wit huis was ‘n toevlugsoord,
‘n plek waar ons graag wou wees
en sy het koekies gebak, gemmerbier gemaak
gedurende die somer vakansies

en alles het so uiteraard gekom
asof die lewe bestem was om so te wees
en wat het ek geweet
oor die harde opofferings
wat liefde eis,
die soberheid waarmee sy moes leef

om ons te stuur na ‘n privaat skool,
om verjaarsdag geskenke te koop
soos fietse, horlosies
en wat sy ook al paslik geag het.

Moeder

(na Elisabeth Eybers)

Moeder, by jou kon ek altyd ontvlugting kry,
as jy die mens binne in my verstaan
was my gees gedurig vry
terwyl die wêreld met sy woesteny voortgaan.

Ek was snags nooit bang,
het die bose besweer met gebed
maar in my aardse struikel gang
het u my selfs in my grootmens jare gered.

Voor u troue hart het elke blik van agterdog verdwyn,
terwyl u my verkenningstog in die digkuns ondersteun
as my trouste steunpilaar in stormnag en sonskyn,
kan ek op u oudag steeds op u skouers leun

terwyl ek vertrou en hoop op God se almag,
op die tyd van my bevryding bly wag.

[Verwysing: Terugblik deur Elisabeth Eybers.]

Dag op dag

Dag op dag het hy in afgebakenheid
in die oggend skemer in die stad sy pad gevind,
was hy byna doelloos gebind
om byna meganies in afsydigheid

vroeg soggens sy voordeur te ontsluit
en in sy liefde vir vrou en kind
die stad se woesteny te ondervind
om te werk in ‘n plek waar deure om hom sluit

en ingeperk, afgehok
na sy bes sy taak te doen
as slegs nog ‘n rat in die stad se masjien
tot die skel gelui van die vyfuur klok,
by die voordeur sy vrou se klapsoen
en die sononder wat hy op die rante sien.

Treurmare

Toe oom Hansie
(wat destyds my skoonvader was),
die aftog onverwags
op die golf baan blaas,

moes Riana & ek na skoonmoeder
in Baberton toe haas
om haar vir die begrafnis by te staan,
en Riana & ek moes gedurig skottelgoed was

en Riana & ek moes kos en verversings
help voorberei
vir die horde gaste
wat vir die treurmare kom,

help met die begrafnisbrief,
saam na die veearts gaan
met sy troetel hond,
‘n graf grawe vir daardie arme dier,

want vir daardie ou tannie
(my gewese skoonma),
moes die arme ding saam vort
op die dag wat ek haar man se kis
na sy graf help dra.

[Verwysing: Treurmare op 05.12.93 deur Stephan Bouwer.]

Ek was pas na die skool toe op pad

Ek was pas na die skool toe op pad
toe ek ‘n spoedlokval van verkeersmanne sien

waar twee aan die kant van die pad skuil
en net mooi by die hoek reg teen die erf,

agter die bloekomboom wegkruip
en teen die heining terug leun

en sit en gryns en peins en steun
of wat die tipe manne ook al doen

en by die hek kry ek ‘n klip in my skoen
toe ‘n grootse gedagte by my opdoen

en ongemerk sleep ek toe die sproeier nader
en sit dit in die nuwe bedding neer

waar ek die kraan vol oopdraai
en rustig in die pad skool toe stap

en twee papnat voor my uitspring,
ronddans en woedend skreeu

en ek hulle ewe onskuldig aankyk
asof hulle van mars af kom

terwyl my makkers
se motorfietse ongestoord verby brom.

Toe klein Jannie kattekwaad aanvang

Toe klein Jannie kattekwaad aanvang,
met sy rekker ‘n venster uitskiet
het hy geweet sy boude gaan brand
en gesien hoe sy pa die erf vir hom bespied.

In sy eie slaapkamer
gaan hy toe onder die bed skuil
en toe sy pa aan die deur hamer
het hy sommer lus om te huil.

Daardie ouer vind die kamer leeg
maar hy het die kind sien ingaan en steek vas,
voor hy dieper in die kamer in beweeg,
toe praat ‘n diep stem en die man is skoon verras:

“Piet, dis die Here wat praat:
gee op my woorde ag,
jy mag nie vandag
jou kind straf nie,
want dis my heilige sabbatdag.”

Blonde krul koppie

As hy jubelend die tuin in loop
lê die wêreld voor hom oop,
sien hy die son wat geel glimlag,
in die herfs, blare van takke afgestroop

kyk hy grootoog na die akkedis
waar dit in ‘n gaatjie in die muur is,
word sy aandag vasgevang
deur ‘n groot koi vis

wat van onder die water in die poel
hom met groot oë dophou en hy voel
met klein handjies in die nat
probeer die vis raak vat en die water is koel

terwyl hy ‘n klein paddatjie vang
die diertjie vasdruk teen sy wang,
dit uit sy hande uit spring
hy die wêreld aangaap, sy eie kattekwaad aanvang.

As ‘n kind wil hy alles ondersoek

As ‘n kind wil hy alles ondersoek
en as hy sy hand aan ‘n horlosie slaan
gaan die ding net daar staan,
karretjies stoot hy om sy kamer se hoek,

word later uitmekaar gehaal,
en nog wonder ek wat by hom kan hou,
daar lê orals stukke van plastiek en metaal
want hy breek alles waarom sy handjies vou

en my vrou se aan my: die kind aard na jou,
maar ek dink dis by haar waar hy sy streke kry.

‘n Kind is ‘n snaakse ding

‘n Kind is ‘n snaakse ding,
wat mens se duurste boeke vat,
sy eie tekeninge daarin af klad
en hier en daar woorde verwring

en toe daardie seun my gedigte in die hande kry
word vir sy meisie liefdes verse geskryf
is dit my eie woorde waarmee hy begin vry
wat hy woord vir woord afskryf

en daardie lêer is toe net weg
tot ek dit onder sy bed vind
en vir sy ma is dit verspot en sleg,
maar nie vir daardie kind

en ek wonder wat hy nou van my verse dink,
of hy nog soms my woorde plaas in sy eie ink?

Die argitektuur van kinders

‘n Stukkie wit papier
word in my hande in gedruk.
Pa, sal pa vir my ‘n vliegtuig vou,
een wat die wind kan skep?

Die ander kind wil ‘n toertjie vliegtuig hê,
wat in sy vlug om en om kan draai
en vir beide vou ek op versoek,
vir elkeen die vliegtuig wat hulle soek.

Later wil hulle dat ek karre teken,
maar prente maak
kan beide van hulle beter as ek
en terwyl ek met ‘n liniaal lyne trek

word ek deur die twee seuntjies dopgehou,
wat my afbeeldings van karre
net kopskuddend aanskou
en toe self met vuurhoutjie dose,

koppiespelde en kurkproppe
hulle eie klein karretjies bou, ‘n dag later
kom elkeen aangery met draad karre,
wat hulle by ‘n swart seuntjie kry.

Skool

Dis reekse en rye
aftrekkings en optellings
en stellings en nog meer stellings
en die lat steek soos ‘n swerm bye

en so raak ons al maller en maller
en vaar boonop vrot;
leer van Ballot
en Christaller.

Die meisies is mooi
en modelle en modelle omsingel my,
gedurig word ons gelooi
en daar’s vraestelle wat nooit ‘n einde kry:

dis waarom skool,
later by my goël.

Natuur en Skeikunde

Voor die groot bord boer
‘n onderwyser met ‘n hout plank
terwyl pragtige meisies vir my loer
en hier sit ek in my hout bank

waar ek kan sterf
terwyl die klas tyd uitrek,
daardie onderwyser in die klas rond swerf
vrees onder die skoliere wek,

sien ek wetenskaplike formules in wit kryt,
‘n vinger wat wys na my,
hoe dié meneer die bord veër neer smyt,
my pak gee tot ek die antwoorde reg kry

en ek wonder van waar hy af kom,
sien soms die satan in hom.

[Verwysing: Wiskunde deur Antjie Krog.]

Kind

Eens was ek soos ‘n tipe afgod,
kon niks verkeerd in jou oë doen
en my kar was beter as elke ander,
maar iewers het iets verander

het jy afsydig geword asof ek ‘n vreemdeling is
asof jy my nie meer wil ken nie
en tog met tye kyk jy nog na my
wil jy raad en hulp by my kry

en soms draai jy die volume
van jou hoëtrou stelsel heeltemal oop,
moet mens draaie om jou kamer loop
en toe ek dink dat iets heeltemal tussen ons skort
hoor ek jou aan jou maats by die swembad sê
dat jy nooit geen ander pa wil hê.

Jan-Hendrik

(na Elisabeth Eybers)

Jan-Hendrik is slegs sestien jaar,
en vaderloos het sy moeder die rottang gespaar
waar hy nou domastrant met god verdomp
sy taal die hele tyd afstomp

by elke keer wat daar by sy skool vuiste klap
is Jan-Hendrik die een wat eerste in die kring instap,
smiddae is daar ‘n sigaret in sy mond
en hy blaas rook wolkies in kringe rond.

Meisies string gedurig die een na die ander agter hom aan
en soms is daar ‘n kring wat om hom staan
waar hy met ‘n omgekeerde keps as hoed
met ‘n sonbril vir sy gebrek aan maniere vergoed

en tog is daar tye wat hy hartseer liedjies op sy kitaar speel
sy eie weemoed met die ganske wêreld deel,
as eienaar van ‘n nuwe bromponie ry hy op en af
asof die straat aan hom behoort terwyl die honde blaf.

Net as ek vrede mag verwag
na oomblikke van rustigheid smag,
kom Jan-Hendrik weer by my buurman aan
waar hy op spoed remme aanslaan

toet tot die hek voor hom oopgaan,
dan ewe kordaat breë bors staan
tot die kinders hulle suster gaan roep
en saam sit hulle en klets op die stoep.

[Verwysing: Terugkeer van Klaas-Hannes deur Elisabeth Eybers.]

Freek die eendstert

Daar was ‘n man
wat hulle Freek die eendstert genoem het,
‘n fors geboude motor fietser ryer
met baie lang hare,
sy werklike naam kon Frederik
of Fredie of Dirk gewees het,
(niemand weet nou wat dit was)
maar hy het kettings
en vuisysters gedra
wat hy in gevegte gebruik het
(en soms het sy kaal vuiste die ding gedoen)
as ‘n spel van kaarte, poel, snoeker
of veerpyltjies nie na wense gaan
het hy ‘n haakhoue geneem.

Daar was gerugte
dat hy polisiemanne deur winkel vensters slaan,
reg in die hospitaal in,

hy was ‘n hippie in die tyd
wat vrye liefde en dagga
vir sommiges aanvaarbaar was

en hy het baie vriende gehad,
sommer ‘n bende vol
wat met hom fees gevier het
saam met meisies by Brakpan dam
waar hulle sjampanje, bier
en brandewyn gedrink het
of watter drank hulle, hulle hande op kon lê

en vir al die skoolseuns was Freek
net dié man, ‘n bloudruk
van wat hulle wou word
en vir hulle was hy:
“Freek die man wat skedels breek,”

Van die ouers wou nie hê
dat hulle bevriend moes wees
met wat hulle eendstert skuim noem,
het selfs so vêr gegaan
om die kinders by die sondagskool te waarsku
teen Freek, hippies en eendsterte in die algemeen
en om ‘n eerlike en respektabele lewe te ly
en het bymekaar gekom om te bid
waar hulle God gesmeek het om in te tree
in die lewe van Freek
en tot vandag toe glo hulle Hy het.

Net vir die plesier daarvan
het Freek op ‘n dag winkel vensters gebreek
in die hoofstraat van Brakpan,
waar hy op die Polisie ingewag het
om hom te kom ontmoet
met knuppels en vuiste

en die verwagte groot fris geboude ses
het terug gestaan
en ‘n jong maer polisieman
het hom probeer arresteer
en die res van die verhaal is geskiedenis.

Freek het vir die jong polisieman geglimlag
sy reuse vuis gelig,
maar dit het regoor
die polisieman se kop gegaan
en hy het ‘n geweldige hou
op sy eie kakebeen ontvang,
was van sy voete af geslaan,
het bewusteloos in die straat neergeval,
het geboei in ‘n polisie sel wakker geword
en dit het hom heeltemal verstom
dat ‘n klein maer polisieman
hom so kon bykom

en dit was die laaste moeilikheid
wat die dorp, die polisie en mense
in plaaslike hotelle en kroeë
ooit van Freek gehad het
en wat van hom geword het
weet geeneen.

[Verwysing: The Efficacy of Prayer deur Casey Motsisi.]

Eens was daar ‘n seuntjie

Eens het daardie seun
met sy pa en ma in Sunnyside in Pretoria gebly,
voordat hulle ‘n groot woonhuis kon kry
waar hy ‘n bruin Labrador reun

wou hê en nou met ‘n leun op ‘n leun
bedel hy in die straat, is hy heeltemal vry
hou hy vuil hande uit terwyl motors verby ry
en soms gee hy ‘n kreun

as die dwelms uitgewerk is en hy begin smag
om weg uit hierdie wêreld te wees
speel hy hartseer liedjies op sy kitaar
dwarsdeur die dag tot diep in die nag
en wens vir ‘n plek sonder vrees
terwyl die verbygangers na hom staar.

Die pianis

Vir jare lank van sy geboorte af,
het hy haar in die voorhuis hoor speel,
terwyl sy brakkie buite blaf,
het sy haar musiek met hom gedeel,

het die note van eksakte Bach, op hom gewag,
was die lug gelaai met ou kwaai Brahms,
en selfs Debussy so dwars en oorkruis,
het sy hom die note van gewys,

van ou dowe Beethoven en vrolike Mozart;
het hy haar in plesier sien glimlag
terwyl sy vingers haar spel tart,
hy haar probeer naboots met ‘n mineur

totdat dit eendag gebeur
dat klank oorweldigend uit sy vingers kom,
hy homself verstom
en die wonder van ‘n Godgegewe gawe ontdek.

Ons het nuut ingetrek

Ons het nuut ingetrek
by die ou groot huis,
net duskant die kerkhof
op die gronde van die privaat skool.

Die bure skuins oor
het poue wat bedags
hulle stertvere sprei en pragtig lyk
en snags skreeu hulle oe-ha! Oe-ha!

Soms ry pa skool toe
met sy swart motor met die vinne,
soms stap hy met die grondpad
wat rooibruin by die rante verby kronkel

en in die middae doen hy nasien werk,
lees soms vroegaand gedigte,
vertel van Marco Polo en sy reis
en maak dat ek die wye wêreld wil verken

en toe eendag is alles anders,
moet pa na die hospitaal toe weg,
en kom nooit terug huis toe nie,
ons uit daardie huis uit trek
en weg gaan na ‘n ander een.

Al reeds ‘n man

Al reeds ‘n man en nog onvervuld,
met die wêreld wat aan sy voete lê,
is hy vol ongeduld
en sou sy lewe anders wou hê.

Voor hom string soldate op patrollie uit,
deur ‘n dor land waarvan die bosse krap merke laat
tot waar die paadjie by die hoofpad aansluit,
terwyl sweet in spore vloei oor sy gelaat,

as hy skielik so onverwags ‘n landmyn aftrap
in oomblikke sy lewe stol op ‘n bloedkol,
die slag vol skroot ongenadig klap,
sand en die geur van dood is die bosse vol

en hy was nog nie veel meer as ‘n kind,
in die radeloosheid van ‘n wrede wêreld verslind.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed