35. Die pantoen (pantoum) gedig op steroïds asook die tartoum
35. Die pantoen (pantoum) gedig op steroïds asook die tartoum
Die pantoen (Engels / Frans pantoum) is ‘n Malaise dig vorm wat in na die weste gebring was deur die Franse digter Victor Hugo. Dit het ontstaan uit die malaise “Pantun berkait,” wat ‘n reeks van ineen geweefde kwatryne is. ‘n Engelse vertaling van die “Pantun berkait,” het in William Marsden se “A Dictionary and Grammar of the Malayan language” in 1812 verskyn. Victor Hugo het ‘n ongerymde Engelse weergawe gepubliseer deur Ernest Fouinet in die aantekeninge tot “Les Orientales” waarop Franse digters soos Leconte de Lisle (vyf pantoens in sy “Poèms tragiques”) en Baudelaire se grootse gedig “Harnoie du soir” as pantoens verskyn het maar sy stansas het eerder abba gerym as die verwagte abab.
Amerikaanse digters soos John Asbery, Marilyn Hacker, Donald Justice, Carolyn Kizer, David Trinidad en Ronald H. Peat het gedigte in hierdie vorm geskryf. Ronald H. Peat se gedig “A Quickened Shade / A Pantoum,” is ‘n uitstekende voorbeeld van die pantoen. Hy skryf sy gedig in jambiese pentameter, wat egter nie ‘n vereiste tot die tipe gedig is nie. Donald Justrice se “Pantoum of the Great depression,” Carolyn Kizer se” Parent’s Patoum,” Oscar Hammerstein (onperfekte) “I Am Going to Like It Here en “Command,” deur Rachel Barenblat gee ook Engelse voorbeelde van hierdie digvorm.
Die pantoen is soortgelyk aan die villanelle of terzenelle deurdat daar herhalende lyne (keerreëls of refreine) is. Die tweede en vierde lyn van elke stansa word herhaal as die eerste en derde lyne van die volgende stansa. Hierdie patroon herhaal vir enige van die stansas behalwe vir die laaste stansa, waar die herhalende patroon verskil. Die eerste en derde reëls van die laaste stansa is die tweede en vierde van die voorlaaste stansa. Die eerste lyn van hierdie gedig is die laaste lyn van die van die finale stansa en die derde lyn van die eerste stansa is die is die tweede lyn van die finale stansa.
Die rympatroon is dus:
A1B1A2B2 / B1C1B2C2 / C1D1C2D2 / D1E1D2E2 / E1A1E2A2
(Hoofletters dui op herhalende refreine.)
Die pantoen het ‘n patroonmatige herhaling van versreëls (keerreëls / refrein reëls) wat verstegnies en sintakties ‘n groot uitdaging aan die digter stel.
Hier is my poging tot die normale rymende pantoen:
Vroegoggend as die eerste strale val (pantoen)
A1 Vroegoggend as die eerste strale val,
B1 as die son as ‘n bloedrooi bal hang
A2 ontwaak hierdie deel van die heelal
B2 met die son wat mens en dier vang.
B1 As die son as ‘n bloedrooi bal hang
C1 kwetter voëls met liedere wat hulle sing
B2 met die son wat mens en dier vang
C2 as hulle die goeie nuus van die vroeë more bring,
C1 kwetter voëls met liedere wat hulle sing
D1 begin insekte en bye op en af vlieg
C2 as hulle die goeie nuus van die vroeë more bring
D2 is daar skoenlappers wat op blomme sit en wieg,
D1 begin insekte en bye op en af vlieg,
E1 vou die kelke van doukelkies skielik oop,
D2 is daar skoenlappers wat op blomme sit en wieg,
E2 is daar miere wat in brigades op en af loop,
E1 vou die kelke van doukelkies skielik oop.
A1 Vroegoggend as die eerste strale val
E2 is daar miere wat in brigades op en af loop,
A2 ontwaak hierdie deel van die heelal.
In Carina Stander se digbundel “Woud van nege en negentig vlerke het ek op ‘n pantoen gedig struktuur afgekom in haar gedig “Rivier onder die water” waar sy ‘n ander vorm in die pantoen skep en hierdie struktuur op steroïds plaas deur van slegs a en b ryme gebruik te maak.
Ek het voorheen in een van Breyten Breytenbach se digbundels ook op hierdie soort pantoen afgekom en kan nie meer onthou watter gedig van hom dit was nie. Ek kan myself skop dat ek nie toe die rym struktuur bepaal het nie, aangesien ek op daardie stadium reeds met soortgelyke gedigte soos triolet, rondeel, rondeau en villanelle besig was.
Hierdie tipe pantoen het patroonmatige herhaling van versreëls (keerreëls / refrein reëls) wat verstegnies en sintakties ‘n groot uitdaging aan die digter stel en verder is daar slegs twee rym klanke dwarsdeur die gedig (a en b ryme). (Hoofletters dui op herhalende refreine.)
Die rymskema struktuur van hierdie pantoen vorm is as volg as mens die titel lyn uitlaat:
A1B1A2B2 / B1A3B2A4 / A3B3A4B4 / B3A5B4A6 / A5A2A6A1
As ek na die lettergrepe kyk van hoe sy haar gedig gestruktureer het, wil dit voorkom of daar geen vaste bepaling van die aantal lettergrepe per lyn is nie. Haar lettergrepe wissel van sewe tot twaalf per versreël.
Dit laat mens nogal aan die struktuur van ‘n terzanelle dink maar hier het mens egter met kwatryne te make waarvan refrein lyne vorentoe spring en die terzanelle is nie beperk tot twee rym soorte (a en b) nie. Die titel reël is ook die eerste reël van hierdie gedig.
Hier is my poging tot hierdie soort pantoen:
As die berg met al sy pieke in ligte laai staan (pantoen)
A1 versprei vlamme verder met verwoesting
B1 van waar die berg in ligte laaie staan
A2 tot waar dit tot by die einde van die bosse dring
B2 totdat alles wat dit bereik aan die brand slaan
B1 van waar die berg in ligte laaie staan
A3 terwyl brandslaners die eerste weerstand bring
B2 totdat alles wat dit bereik aan die brand slaan
A4 dat mense vlugtend uit die pad uit spring
A3 terwyl brandslaners die eerste weerstand bring
B3 en die vuur rol aan en aan
A4 dat mense vlugtend uit die pad uit spring
B4 in die rook nie mooi weet waarheen om te gaan
B3 en die vuur rol aan en aan
A5 waar mense kyk met aandoening
B4 in die rook nie mooi weet waarheen om te gaan
A6 terwyl sommiges op ontsnapping aandring
A5 waar mense kyk met aandoening
A2 tot waar dit tot by die einde van die bosse dring
A6 terwyl sommiges op ontsnapping aandring
A1 versprei vlamme verder met verwoesting.
In vrye vers is daar slegs drie stansas onder Afrikaanse digters. Mens skryf in die eerste strofes bloot reël een tot vier soos ‘n kwatryn onder mekaar. In die tweede stansa herhaal die eerste lyn, reël twee van strofe een en herhaal die derde lyn, reël vier van strofe een. Reëls vyf en ses van die tweede strofe is bloot versreëls wat mens skryf. In die derde en finale strofe is die eerste versreël, die tweede versreël van strofe twee. Is die tweede versreël, reël drie van strofe een. Is die derde versreël, die vierde versreël van strofe twee. Is die vierde en finale versreël, die eerste reël van hierdie gedig.
In vrye vers in Afrikaans skryf mnr. Muller die gedigte “Langafstand,” Ongaping van die moeë siel,” “onder die roesorjane net-kombers van jou bed se voeteent,” “Die klank van stekelrige fynbos wat geel en oranje teen die nagwind brand,” skryf Nikita van Chesallee haar gedig “Grys ou Stad,” skryf (Woes digters) Meraai vannie baai haar gedig “Cul-de-sac,” skryf Piet Magriet haar gedigte “Kringloop,” “Die reëndans,” “Chaos,” en Adelhaide haar gedig “My boete is betaal!!!”
Hier is my eie poging tot die pantoen in vrye vers:
Vêr was ek verdwaal in die groot stad (vrye vers pantoen)
Vêr was ek verdwaal in die groot stad Eerste versreël
in stege wat byna oneindigend om my kring Tweede versreël
met slegs die petrol dampe Derde versreël
wat byna omhelsend om my hang. Vierde versreël
In stege wat byna oneindigend om my kring Herhaal reël 2 (strofe 1)
kon ek geen ruimte vind in duisternis
wat byna omhelsend om my hang, Herhaal reël 4 (strofe 1)
kon ek nie eens die sterre sien,
kon ek geen ruimte vind in duisternis Herhaal tweede versreël van strofe 2
met slegs die petrol dampe, Herhaal reël 3 van strofe 1
kon ek nie eens die sterre sien: Herhaal reël vier van strofe 2
vêr was ek verdwaal in die groot stad. Herhaal eerste versreël van die gedig
Die tartoum bestaan uit vyf tersette en een sestet. Dit is soortgelyk aan die pantoen / pantoum in dat ‘n refrein reëls spring, alhoewel mens hier met tersette en nie stansas te doen het en dit in die laaste gedeelte (die sestet) herhaal word. Ek kan baie min inligting oor die oorsprong van hierdie struktuur bekom, aangesien daar meestal in Frans oor hierdie tipe gedigte geskryf word, dit wil egter lyk asof dit baie dieselfde oorsprong as die pantoen het.
Na die dood van sy moeder skryf Ronald H. Peat sy tartoum getitel “Mother’s Dark House / A Tartoum” wat gepubliseer word in die antologie “Sunflowers and Seashells/ Days Remembered” en uitgegee word deur Eber & Wein Publishing, Pennsylvania.
Aangesien ‘n tartoum geskryf word in vrye vers is die volgende eerder ‘n vers aanwysing of uitleg skema (Soos gewoonlik dui hoofletters refreine / keerreëls aan):
aB1C1 / B1D1E1 / D1F1G1 / F1H1I1 / H1J1K1 / J1C1E1G1I1K1
Hier is my poging tot die tartoum:
Die tuin in die rante (Tartoum)
a Teen die klip rant staan die ou wit huis,
B1 daar is rose, lelies en irisse wat blom
C1 tussen rots blokke opmekaar gehoop.
B1 Daar is rose, lelies en irisse wat blom,
D1 vetplante, aalwyne, vuurpyle groei
E1 soos tonge vol van vlammende uitbundigheid
D1 Vetplante, aalwyne, vuurpyle groei
F1 as rooi spikkels teen rotsblokke wat vlam
G1 asof die natuur God se skepping besing.
F1 As rooi spikkels teen rotsblokke wat vlam,
H1 as God se eie pragtige tuin
I1 blom proteas, wildeals en elke wilde blom
H1 As God se eie pragtige tuin,
J1 as kolle wat vol vuur glim blom aalwyne
K1 terwyl duiwe, vinke en kokkewiete vol vreugde sing.
J1 As kolle wat vol vuur glim blom aalwyne
C1 tussen rots blokke opmekaar gehoop
E1 soos tonge vol van vlammende uitbundigheid
G1 asof die natuur God se skepping besing
I1 blom proteas, wildeals en elke wilde blom
K1 terwyl duiwe, vinke en kokkewiete vol vreugde sing.