Jongste aktiwiteit:

36. Die oorlog gedig
vir

36. Die oorlog gedig

36. Die oorlog gedig

Hierdie onderwerp dek so ‘n wye veld dat ek dit vir later wou laat om meer deeglik daarna te kyk, maar huidige tendense (wat ek later hier gaan bespreek) noop my om nou daaroor te skryf. Dus is hierdie slegs ‘n vlugtige blik oor oorlog poësie.

In sy Iliad skryf Homerus (Homer) oor die oorlog tussen Griekeland en Trojane en is ons welbekend met die heldhaftigheid van Achilles, hoe hy Hektor oorwin en die maak van die houtperd om die stad Troje binne te dring.

In vele van Shakespeare se vers dramas kom oorlog telkens voor, maar sy “Before Agincourt” dra vir my betekenis.

Gedurende tye van oorlog ontstaan daar verskeie gedigte. So het in Nederland gedigte ontstaan in die stryd met Spanje soos byvoorbeeld Valerius se “Gedenkklank” van 1626. Die nederlandse digter Vondel skryf ook talle “triomsange” in die sewentiende eeu. (1)

In Afrikaans word die moord op Piet Retief en sy manne uit die Zoeloe perspektief pragtig deur Theo Wassenaar in sy gedig “Hloma-Amabutho” uitgedruk. Die slag van Bloedrevier word uitgedruk in Jan FE Celliers se gedig “Dingaansdag.” Talle gedigte word in Afrikaans geskryf oor die stryd met Engeland. Toon van den Heever se gedig “Ritrympie” waarin die Britte hulle helms in die lug opgooi vir ‘n Boere kryger se dapperheid is alom bekend.

Celliers se oorlogspoësie vorm ‘n baie belangrike deel van sy digkuns. (2) So is dit begryplik dat iemand wat self in die Anglo-Boere oorlog geveg het waar die vryheid verlore gegaan het, nie die hoop sou verloor vir terugwinning. So skryf hy gedigte oor Presidente Kruger en Steyn en generaal De Wet. So word sy gedig oor Kruger as ware ‘n woord monument. Sy oorlogs gedigte “Komaan!”, “Trou!”, “Die stryd” en die sarkastiese “Papbroekland” tref veel harder as die huiwerende “Die brand,” “Die ou murasie” en “Die Kampsuster.”

Netsoos Celliers vertoon Totius se gedigte medelye met die smart van die Afrikaner volk gedurende die tweede Anglo-Boere oorlog, maar hy wou bokant die weemoed styg. (3)
In sy gedigte “Slagveld – Majuba,” “Die besembos,” “Ek leef en sal lewe” en “My doodkry is min” word die lyding van die kind, man en vrou uitgedruk en ook die begeerte om uit moederloosheid op te staan

C Louis Leipoldt se dramatiese monoloog “Oom Gert vertel” druk die verhaal uit van ‘n ou man wat vertel van die teregstelling van twee jong Kaapse Rebelle. Hierdie monoloog en ander oorlogsverse is ‘n hoogtepunt in sy liriek as gevolg van die suiwerheid van vormgewing en die intensiteit van elke belewenis. So gaan sy verse verder as die stryd tussen Boer en Brit en word ‘n universiëlle afkeer van die mens vir geweld en onreg. (4) Sy verbittering vind gestalte in sy gedigte “Die koper kapel,” “’n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie,” “In die konsentrasiekamp,” die tragiese “Aan ‘n seepkissie,” “Japie” en sy hartstogtelike “Vrede-aand.” Tog was die oormag oorweldigend wat in die ontnugtering van sy volgende woorde staan:

“My land is nie meer myne nie;
My volk is doodgestry,
My moed is nie meer heldemoed –
O God, vergewe my!”

In teenstelling met poësie van sy tydgenote skryf Eugene Marais slegs twee gedigte oor die Anglo-Boere oorlog naamlik “Die oorwinnaars” en “1902.” Hy was egter nie onverskillig ten opsigte van die stryd teen die Britte nie en wou as leier van ‘n geheime ekspedisie, plofstof uit Antwerpen na die Boere kommando’s bring. (5)

Toon Van den Heever beeld nie die oorlogsmart uit nie maar ‘n geestes stemming wat styg bo die van die nasie. (6)

As uitnemende volksdigter het AG Visser volgens Eugene Marais al sy gedigte binne minder as ‘n jaar geskryf en is sy vaderlandse verse ‘n voortsetting van Totius en Celliers. Van sy bekende oorlog gedigte is “Nimmer of nou,” “Vry!”, “Voorslag,” die bekende “Die ruiter van Skimmelperdpan” en “Die jongste burger.” (7)

Ek het self verskeie gedigte oor die Anglo-Boere oorlog geskryf wat ek hier slegs in die verbygaan noem aangesien ek hier eerder van my gedigte oor die grensoorlog wil plaas. Nogtans druk my gedig “Deur die oë van ‘n Veldkornet (Epos)” die Anglo-Boere oorlog uit deur die oë van veldkornet Jacobus Johannes Potgieter gebaseer op sy eie geskrif, (8) wat hy nagelaat het en u kan dit op die Woes webblad lees. Hierdie gedig is ‘n ooggetuie verslag oor verskeie skermutselings en veldslagte tussen die Boere en Britte en ondervindings in twee konsentrasiekampe (waar duisendes sterf as gevolg van siektes en besmette kos), dit het ook te make met verraaiers aan Boere kant.

Vir die Boere was die oorlog met die Britte ‘n vryheid stryd. Verskeie Europese lande het die oorlog met die geweldige verwoesting van eiendom, geweldige sterftes van vroue en kinders in die konsentrasiekampe en geweldige oormag van die Britte as despoties aan die Britse kant beskou. (9)

Met Jameson se inval skryf die hofdigter Austin in die London Times ‘n gedig om die aandag weg te lei van die beplande staatsgreep af:

“When men of our own blood pray us
To ride to their kinsfolk’s aid,
Not Heaven itself shall stay us
From the rescue they call a raid …
There are girls in the gold-reef city,
There are mothers and children too,
And they cry: ‘Hurry up! For Pity!’
So what can a brave man do.”

Ter selfde tyd skryf Rudyard Kipling sy beroemde gedig “If” wat gebaseer is op sy heldeverering vir Jameson, met die Britse mobilisasie sy gedig “When you’ve shouted ‘Rule Britannia” en sy gedig “Dirge of the dead sisters” oor verpleegsters wat in die oorlog gesterf het.

Thomas Hardy skryf sy gedig “A wife in London” wat handel oor ‘n eensame vrou wat in London op haar man wag terwyl hy in Suid-Afrika veg en sy bekende “Drummer Hodge” en Edgar Wallace (‘n mediese ordanans) skryf sy gedig “War”

Met die beleëring van Ladysmith word die “Ladysmith Bombshell,” gepubliseer om die moraal van die troepe te probeer verhoog en bestaan uit sprokie prente, gedigte en militêre bevele. Deur onbekende digters verskyn in hierdie geskrif: “The Borough of Ladysmith was Shelled on November 2, 1899,” “Long Tom O’ Pepworth’s Hill,” “Maloney,” “To General Slim Piet,” “The Shells,” “Nevermore” en “Song of the Besieged.”

Gedurende die slag van Magersfontein skryf een van die soldate van die Black Watch afdeling:

“Wire and the Mauser rifle, Thirst and the burning sun,
Knocked us down by the hundred, Ere the long day was done …
All day in the same position, Watching our own shells burst,
Lying with our dead men and wounded, Lips swollen blue-black with thirst.”

Dat die Britse publiek deeglik bewus was van wat in die konsentrasiekampe gebeur het met kinders en vrouens na die besoeke van Emily Hobhouse getuig hierdie woorde van ‘n onbekende Britse digter:

“All summoned her away….
O Englishwoman, tall and fair,
O Englishwoman, calm and brave,
Within the breach thou standest there
Those innocents to save!
Thou standest there with outstretched arms,
Like some Madonna, strong to bless,
To sooth their childish wild alarms,
And comfort their distress.
They seem’st to say, in accents low,
“If on these babes ye mean to tread,
Then ye must o’er my body go,
And trample on my head….
If at these babes ye dare to strike,
Ye strike at England’s heart as well;
Then hang and starve us all alike,
Complete your deeds of Hell!”

Die mees bekende oorlog digter is waarskynlik die Britse digter Wilfred Owen wat gedurende die Eerste Wêreld oorlog gedigte geskryf het. Nog is daar soldate wat gedigte oor hulle ondervindings in die oorlog skryf en ander wat teen oorlog skryf. Wilfred Owen, Rupert Brooke, Edward Thomas, Isaac Rosenberg, Charles Sorley, Ivor Gurney en Siegfried Sassoon is almal bekende oorlog digters. Beide Siegfried Sassoon en Wilfred Owen is egter bekend vir hulle anti-oorlog gedigte. Owen se gedigte druk die afgryse van oorlog uit en sy gebruik van halfrym gee aan sy digkuns ‘n disonante steurende kwaliteit. Van Wilfred Owen se meer bekende werke is “Anthem for Doomed Youth,” “Dulce et Decorum Es,” “The next war,” “Sonnet (On seeing a piece of heavy artillery brought into action),” “Futility,” “The end,” “At a Calvary near the Ancre,” en “Strange meeting.” Siegfried Sassoon se “How to Die,” “Repression of War Experience” en “Aftermath” is ook vir my uiters treffend.

Die kanadees John McCrae se gedig “In Flanders Fields,” is op hulle tien dollar noot. Die Franse digter Théodoreo Botrel was in 1915 aangestel om onder die Franse in weermagkampe gedigte te lees en te sing.

Gedurende die Spaanse burgeroorlog bly die Suid-Afrikaanse Engelse digter Roy Campbell seker die bekendste digter. Sy gedigte “Toledo, July 1936” en “After the Riots, Toledo, March 1936” bly vir my uitstekende werke. Sy gedigte “Heartbreak camp” en “The skull in the desert” wat hy gedurende diens in die Tweede Wêreld oorlog geskryf het, het by my ook gedigte geïnspireer.

Gedurende die Tweede wêreld oorlog het daar pragtige gedigte van Robert Graves (Country at War), Stephen Spender, TS Eliot, Alun Lewis, Keith Douglas en Karl Shapiro gekom. Herbert Read se “The Happy Warrior” is ook ‘n bekende gedig. William ButlerYeats se gedig “On Being Asked For A War Poem” is ook goed bekend. “At the dark hour” deur Paul Dehn, “Meeting Point” deur Louis Macneice, “The Shadow Of Cain” deur Edith Sitwell, “The hand that signed the paper” deur Dylan Thomas, “Where are the War Poets?” deur C. Day Lewis, “War Poet” deur Sidney Keyes, “On Being Asked for a War Poem” deur W.B. Yeats en “War Poet” deur Donald Bain dra ook vir my betekenis.

In NP van Wyk Louw se bundel “Gedagtes, liedere en gebede van ‘n soldaat 1935-1937” val sy gedigte “Van die gekwestes wat op die slagveld lê” en “Klein gebed: van die hande wat verag word” mens op, maar vir my is sy gedig “Miskien ook sal ons sterwe” werklik ‘n grootse gedig.

In Uys Krige se bundel “Die einde van die pad,” kom daar nege oorlog gedigte voor, wat geïnspireer is deur sy deelname in die Tweede Wêreldoorlog. Sy gedigte “Die soldaat,” is simbool van die eensaamheid van die mens, waarby sy gedig “Die pad deur die woestyn” aansluit. Sy gedig “Die einde van die pad” is ironies en weemoedig en terwyl hy siek is skryf hy sy gedig “In die siekte vertrek.” Nogtans is sy mees bekende oorlog gedig sekerlik “Lied van die Fascistiese bomwerpers,” wat handel oor die Spaanse burgeroorlog.

In van Ernst van Heerden se gedigte van die soldaat groei die leed van die enkeling uit tot die klag van die ganske mensdom:

“Laat hierdie nag geen storming ken,
alleen die roering van haar stem;

Laat elke oorlogskreet verruis,
net vrede heers in hierdie huis,

die daeraad ver verwyl en wag
op die drumpel tussen berg en nag;

laat sif die milde ritselreën,
die kamer stil wees, ons alleen;

laat al die moordlus knak en stort,
ons hartstog enkel mildheid word…

en kom die môre met sy vrees,
laat dan ons afskeid dapper wees.”

Sy gedig “Na die front,” het ook die universiëlle simbool van die soldaat wat moet vertrek. In “Fussilade” roep die veroordeelde oomblikke van geluk op, met die mistieke waarneming van ‘n grondelose lig waar die veroordeelde die oomblik voor die skiet bevel beleef as ‘n ewigheid.

James Love skryf gedigte oor die Falkland oorlog en het as ‘n valskerm soldaat diens gedoen in Duitsland, by die Falkland eilande en in die Franse vreemdeling legioen. Sy gedigte “What I miss most,” “May 82,” “One More,” “PTSD,” “Baby’s got Blue Eyes,” “The Thirty Yard Dash,” “Warm Dusky Nights,” “First Light,” “The Dying Man,” “Lament of the Dead,” “Left a Bit and Left a Bit,” “Je Touche Moi,” “Fitzroy,” “Forget Me Not,” “The Survivors,” “The Dying Man” is redelik bekend.

Tony McNally was op negentien jarige ouderdom as ‘n Britse soldaat na die Falkland eilande gestuur om Rapier missiele te beman wat die landende Britse troepe verdedig het. Sy gedigte “Annabelle,” “Angels Wings,” “Cleanse me,” “Men Who Sit On Chairs,” “PTSD,” “Why do they look at me that way?,” “Human Waste,” “The Carrion crow,” “My friend the dark,” en “Violence” is redelik bekend.

My probleem met Ernst van Heerden kom in sy gedig “skietgoed” in sy bundel “Kwadratuur van die sirkel” waarvan ‘n deel dinge te sê het oor die grensoorlog. Waar JC Kannemeyer die hede met granate en landmyne in Mulilo se bos as die wreder werklikheid sien, (10) maak van Heerden vir my die toekenning van die dapperheid medalje (die Honoris Crux) bespotlik en so ook die diens wat ons verplig was as om as nasionale dienspligtiges en burgermag soldate te doen:

“Onder wasgoeddraad se onderhempies deur
klouter klein poenskop Krisjan van De Wet
langs koue waters van die balie,
gooi kole in die erdvarkgat en skiet
pif-paf op kronkels van die rooikopslang.

By geroeste konkas, Wagter met sy blaffies,
skreeu die makkers: “Honoris Crux is joune!
Jy’s veilig deur met ‘n granaat in die vuis –
nou hol vir die vale in Mulilo se bos,
omseil met jou tekkies die landmyn se brul!””

Daar’s deesdae ‘n tendens om die bosoorlog af te maak soos bo deur Ernst van Heerden, soos in “Stigtingsdag” deur Johan Myburg waar hy die brigades kubane afmaak tot slegs sages van seges:

“maar duisend-en-een angolese verhale
van brigades kubane
sages van seges waarvan
waarheid maar vaag is.”

So word daar by “Freedom park,” ‘n monument gebou as oorwinnaars oor Suid-Afrikaanse magte deur die Kubane en hulle Russiese leiers waar hulle tragies en hopeloos verloor het. Word oud burgermag soldate op ‘n manier afgemaak as misdadigers, so asof ons nie uit dwang ons burgerlike pligte verrig het nie, van ons nie gesterf het nie en ons nie ook volwaardige Suid-Afrikaanse burgers is nie. Miskien moet Ernst van Heerden, Johan Myburg en die huidige regering hulle oor die ware feite vergewis voordat hulle die dinge sê wat hulle doen. Daar is digters in die VSA wat my sê dat dieselfde tipe ding gebeur het met Amerikaners, wat vir diens opgeroep was en verplig was om in Viëtnam te veg.

Ek is verskriklik beïndruk met Bernard Odendaal se drie gedigte “Kraal,” “Ingegraaf in hinderlaag” en “Krabbelinge van ‘n hakkejag” wat hy onder die hoof titel “Sitraps van ‘n veegoperasie: Ovamboland, 1979” in sy bundel “Onbedoelde land” skryf.

Ek is ook redelik beindruk met Pieter Strauss se gedig “rendezvous.” Waar hy sy militêre diens gebruik om ‘n verhaal terug te trek na die “Witbooi” mense in Namibië.

In Johann Lodewyk Marais se gedig “Op die eiland (naby aan land) vir digters” bind hy die militêre lewe en in sy gedig “soldate op wag,” met NP van Wyk Louw se “Gedagtes liedere en gebede van ‘n soldaat.”

Daar is soveel goeie oorlog gedigte wat op die Woes webwerf geskryf word, dat ek al die skrywers en gedigte onmoontlik hier kan noem en daarvoor vra ek verskoning. Nogtans het gedigte van Lentulus en Skymaster my nogal opgeval en word ek genoodsaak om hulle hier te noem.

Die Engelse Suid-Afrikaanse digters Christopher van Wyk se gedig “A War Poem” en en Kelwyn Sole se “Seqence for solo voice” is vir my ook baie treffend.

Lentulus se gedig “Bos oorlog Blues” van twee moerige militêre polisiemanne wat vir Pielietjies De La Rey noodsaak om aan die bosoorlog deel te neem, is vir my een van die grensoorlog gedigte op die Woes-webblad wat uiters treffend is. Dit bring self herinneringe terug aan waar ek verplig tot militêre diens was gedurende die grensoorlog en waar drie militêre polisiemanne my woonplek deursoek het vir sogenaamde diensplig ontduikers wat van hulle af gevlug het en nie ‘n lasbrief kon toon nadat hulle reeds my woning deursoek het nie. Verder kom die bomskok waaraan moontlik alle oud soldate ly ook baie goed na vore in hierdie gedig.

Verskeie van Skymaster se gedigte handel oor die grensoorlog, maar sy artikel reeks oor die aanval op Cassinga deur valskermsoldate bly vir my ‘n hoogtepunt deur die akkuraatheid en vakmanskap daarvan.

Ek probeer die gruwelikheid, die rou werklikheid en die menslikheid in dit alles uitdruk en soms ook ‘n prentjie van die impak op die plaaslike bevolking gee. Dat politici ‘n duisend keer moet dink voordat hulle onskuldige seuns (jong manne) na verminking en hulle dood stuur. Nogtans moet ek erken dat daar tye is wat oorlog die enigste oplossing is. Wat maak mens as bomme in strate ontplof, as jou vrou oor ‘n landmyn op julle plaas ry, as terroriste mense op plase uitmoor?

In my gedig “Oortref in pantser en soldate” skryf ek dat in teenstelling met Shakespeare se “Before Agincourt” waar die min getroue soldate ‘n oormag oorwin en as helde beskou word, Suid-Afrikaanse soldate by Cuito Cuanavale seëvier maar dit hulle ontken word, hulle deur die huidige regering se leuens en propaganda eerder vertrap word as ‘n niksseggende minderheid wat verloorders is.

Vir ‘n geruime tyd publiseer ek reeds gedigte oor die kerkstraat bom (elke keer op die twintigste Mei), wat my onder ‘n sekere groep mense baie ongewild maak, aangesien ek toon dat hulle hande bloed bevlek is en sluit slegs twee van daardie gedigte hierby in.

Self soek ek gewoonlik nie op Woes reklame vir my gedigte nie en glo dat mense dit op hulle eie sterkte moet lees en evalueer volgens meriete. Gedigte moet vir hulleself praat en daarom gaan ek nie verder my hier uitlaat oor my betrokke gedigte wat hier weergegee word nie.

Na ek reeds letterlik honderde oorlog gedigte geskryf het, kan ek hulle ontmoontlik hier insluit en poog maar om van die nuwer gedigte en van die wat ek as belangrik beskou as voorbeelde hier te hê:

Op ‘n hakkejag (haikoes)

Die ruigtes is stil
vrees vlieg op met bleshoender;
elk geweer gereed.

*

Radionet kras,
koordantenne op in boom;
halte niksseggend.

*
Toegerus met slegs
ligte skelet-singelband;
spoor karig getrap.

*
Die son brand hel warm,
loodswaar word geweer, patrone;
verbind tot kompas.

*

Boendoe nag gevul
met verkenning van die hart;
halfrantsoen is sleg.

*

Water is klaar met dors
vergesel deur wind en son;
geen spoor word gevind.

*

Soos naaldekoker
swiep helikopter op ons;
uit die veld en bos.

*
Vyand het verdwyn:
in situasie rapport;
deursoek steeds die hart.

[Verwysing: krabbeling van ‘n hakkejag deur Bernard Odendaal.]

‘n Stryd om oorlewing

(in antwoord op Ernst van Heerden)

Die dag het skaars begin
of goewerneur Van der Stel
se koets trek in

op soek na koper
of silwer om te myn,
maar hy laat sy dragonders
oor die rante verdwyn

wat elke met sy snaphaan
op ‘n jagtog in die ruigtes gaan.

By Bloedrivier kon geen voorlaaier
of klein griet
der duisende Zoeloes
alleen platskiet,

toe sluit pioniers
‘n verbond met God
glo in Sy krag,
Sy woord en gebod

en toe die Britte goudkoors kry,
kon die Boere republieke
nie die oorlog vermy,

leer generaals De Wet
en De La Rey hulle ‘n les
en selfs kinders en vrouens
word in konsentrasiekampe verpes.

Veel later word ek geforseer
om op patrollie te gaan
om die landsgrens te bewaak
teen terroriste wat toeslaan,

word met AK-47’s
n RPG-7 vuurpylrigters op my geskiet
as bosse, grense en plaaslike bewoners
aan hulle dekking bied,

en toe kubane met ‘n oormag pantser kom
om ons te verwoes
sien ek ‘n pantserkar wat uitgeskiet is,
stuit ons die mengelmoes

en van die helde wat daar verering kry
dring ‘n landmyn veld in
om ‘n tenk en gewonde kameraad
onder vyandelike vuur uit te bring.

[Verwysing: Skietgoed deur Ernst van Heerden.

“Onder wasgoeddraad se onderhempies deur
klouter klein poenskop Krisjan van De Wet
langs koue waters van die balie,
gooi kole in die erdvarkgat en skiet
pif-paf op kronkels van die rooikopslang.

By geroeste konkas, Wagter met sy blaffies,
skreeu die makkers: “Honoris Crux is joune!
Jy’s veilig deur met ‘n granaat in die vuis –
nou hol vir die vale in Mulilo se bos,
omseil met jou tekkies die landmyn se brul!”” ]

Die geveg by Cuito Cuanavale

I. Oortref in pantser en soldate

(in antwoord op William Shakespeare)

Oortref in pantser en soldate
het ons die vyand trotseer,
FAPLA en Kubane onder Russiese leierskap
en die manne saam met my
was uiters bekommerd en het gewens
dat die volle sewende divisie ontplooi was.

Ek het aan die manne in my pantserkar gesê
dat as ons ter vergeefs hier moet sterf,
die slagting onder ons kleiner sal wees,
maar as ons hier oorwin
sal die ganske wêreld weet
dat ons dapper en eerbare manne is,
wat bekwaam is
om enige vyand te vernietig
wat teen ons te staan kom.

Vermoei het aan die manne gesê
dat ons voorvaders
te staan gekom het teen
‘n oorweldigende vyand,
teen Dingaan gewen het
want hulle was in die hand van God
en so was ons.

Kolonel Deon Ferreira het ons reguit in gestuur
vanaf Rundu,
waar ons noordwes rigting vat
(na die grens oorgesteek is)
om die 47ste vyandelike (pantser) brigade te onderskep.

Ter selfde tyd het UNITA
die 16de FAPLA (infantrie) brigade
noord van die Lomba rivier trotseer
wat Cunjamba probeer inneem het.

Met ‘n aanslag direk uit die suide,
het ons die vyandelike
47ste FAPLA / Kubaanse brigade verras
dit geheel en al uitgewis
by die kruising
van die Lomba en Cuzizi riviere

deur te veg met pantserkarre teen tenks
met ‘n vinnige aanval
om daarna op spoed weg te jaag
soos wat ‘n kommando
van ons voorvaders gedoen het
gedurende die Anglo Boere oorlog,
het ons dag en nag geveg
tot die veld, die lug vol bloed en ingewande was

en toe meer druk kom,
meer vyandelike pantser ingerol
het ons eie tenks by die geveg aangesluit,
het houwitser kanonne in ondersteuning gevuur
van baie myle weg,
ondersteun deur verkenning kommando soldate,
vir akkurate teiken aanwysing.

Dit was die grootse slagting,
en soos gevegte gaan, ‘n verskriklik, verskriklike ding
vir ons vyand
terwyl ons hulle weg vee
en tien verlate vyandelike tenks vind
in die bos agter gelaat, in uitmuntende kondisie
met die manne wat hulle beman wat weg gehardloop het.

Direk na hierdie oorwinnings
het ons magte saam met die van UNITA
die oorblywende FAPLA / kubaanse magte
in die Lomba-Cuzizi-Conzumbia gebied vernietig
en daarna die ander brigades
een honderd en twintig myl terug gedryf
in bloedige gevegte tot by Cuito Cuanavale

l’Envoi
en nou het die nuwe regering
op ‘n koppie buite Pretoria
‘n monument opgerig
wat hulle vryheid park noem

om ‘n oorwinning te vier,
wat hulle dink dat hulle met leuens
die geskiedenis kan verander,
probeer hulle selfs kubane vind
om hulle name op ‘n eervolle muur te plaas
as helde en oorwinnaars

terwyl hulle verloor het
teen ‘n verskriklike koste van manne en masjiene
en ongelooflik
glo sommige mense hulle.

[Verwysings: Before Agincourt deur William Shakespeare.]

II. Sages en seges in Angola waarvan die waarheid vaag is

(in antwoord op Johan Myburg)

Geen mens wat nie daar was,
kan die omvang snap, van die impak
van kubaanse brigades,

die lugbrug wat die Russe
met nuwe pantsertuig uit Moskou bou,
die dodelike gevaar wat ‘n aanval
van die die 47ste (pantser) , 59ste (gemeganiseerde),
16de (infantrie) , 21ste(infantrie)
en die 25ste(infantrie) brigades inhou,

as byna ‘n honderd T-55 tenks
en honderde BTR-pantserkarre
skietend uit bosse bars,
(deur MIG-23 vegvliegtuie ondersteun)

weet hoe dit is as Ratel-90 pantserkarre
tot stilstand moet kom
om op bewegende,
skietende tenks te vuur
en in daardie helse uur

was die waarheid van ‘n reuse oorwinning
teen Kuba glad nie vaag,
was die hele 47ste FAPLA / Kubaanse (pantser) brigade
totaal uitgewis,
vier en negentig vyandelike tenks uitgeskiet,
byna driehonderd pansterkarre tot skroot gemaak,
vier duisend sewe honderd vyf en tagtig vyande gedood,
nege MIG vegvliegtuie afgeskiet

teen die verlies van slegs
drie Suid-Afrikaanse olifant tenks,
elf pansterkarre en troepedraers,
een Mirage vegvliegtuig
en een en dertig Suid-Afrikaanse soldate.

Wie die waarheid van hierdie sege as vaag ag
het nie die vaagste benul
van wat daar gebeur het nie,
(het seker as ‘n predikant
iewers in die agterhoede weggekruip,
of lekker by die huis gesit),

glo die huidige regering en die Kubane
se vals propaganda,
is sonder enige behoorlike kennis
en betwis die dapperheid
van die onoorwonne soldate van
61 gemeganiseerde
en 32 Suid-Afrikaanse bataljonne.

l’Envoi
Tog te vreemd
dat die kubaanse generaal Ochoa Sanchez
(wat die opper bevelhebber in hierdie konflik was)
in Kuba tereg gestel is.

[Verwysings: Stigtingsdag deur Johan Myburg:

“maar duisend-en-een angolese verhale
van brigades kubane
sages van seges waarvan
waarheid maar vaag is”

Battle at Cuito Cuanavale: “The results of the campaign up to April 1988 were 4,785 killed on the Cuban/Faplan side, with 94 tanks and hundreds of combat vehicles destroyed, against 31 South Africans killed in action, 3 tanks destroyed (SADF tanks entered the war after the Lomba River campaign) and 11 SADF armoured cars and troop carriers lost. A total of 9 Migs were destroyed and only 1 SAAF Mirage shot down.” (General) Jannie Geldenhuys. (1994): At the front. Jonathan Ball Publishers. P240.

“The South African force, under the command of Colonel Deon Ferreira, was tasked with carrying out three operations (1) Operation Modular – The aim of which was to halt and reverse the FAPLA / Cuban advance on the UNITA strongholds of Mavinga and Jamba, (2) Operation Hooper – The aim of which was to inflict maximum casualties on the retreating FAPLA / Cuban forces after they had been halted and (3) Operation Packer – The aim of which was to force the FAPLA / Cuban forces to retreat to the west of the Cuito River.” Nortje, Piet (2003). 32 Battalion. Zebra Press.

“In early October the Soviet-Fapla offensive was smashed at the Lomba River near Mavinga. It turned into a headlong retreat over the 120 miles back to the primary launching point at Cuito Cuanavale. In some of the bloodiest battles of the entire civil war, a combined force of some 8,000 UNITA fighters and 4,000 SADF troops destroyed one Fapla brigade and mauled several others out of a total Fapla force of some 18,000 engaged in the three-pronged offensive. Estimates of Fapla losses ranged upward of 4,000 killed and wounded. This offensive had been a Soviet conception from start to finish. Senior Soviet officers played a central role in its execution. … Huge quantities of Soviet equipment were destroyed or fell into UNITA and SADF hands when Fapla broke into a disorganized retreat… The 1987 military campaign represented a stunning humiliation for the Soviet Union, its arms and its strategy. … As of mid-November, the UNITA/SADF force had destroyed the Cuito Cuanavale airfield and pinned down thousands of FAPLA’s best remaining units clinging onto the town’s defensive perimeters.” Crocker, Chester A. (1992) High Noon in Southern Africa: Making Peace in a Rough Neighbourhood. (Crocker was U.S. Assistant Secretary of State for African Affairs during the Reagan Administration.)

John Turner claims that: “following their losses, the Cubans were convinced that further military confrontation with the SADF would not succeed.” Turner, John W. (1998). Continent Ablaze; The Insurgency Wars in Africa, 1960 to the Present. Cassell Plc.

Comments made by a Soviet adviser to the Cubans in Angola: “The people’s armed forces for the liberation of Angola have not been able either, even with the help of the Cubans, to decisively defeat the enemy and drive him out of the territory or the country.” M. Ponomariov, Krasnaya Zvezda Magazine; 20 May 1988.]

Aan die vyandelike 47ste FAPLA / Kubaanse brigade (Fay Slimm vorm / decanelle)

(na Thomas Hardy)

Soos wat hul tussen die bosse in die veld sneuwel,
netsoos gevind,
word hope kubaanse soldate in die grond begrawe
onder die wind,
met diere wat rond grou, soms ‘n voet of stewel
kry om te verslind;
na die slag van kanonne was die aarde oopgegrawe,
in rou verblind
met leeus, hiënas en jakkalse bo op ‘n hoë heuwel
en ek ‘n kind.

[Verwysing: Drummer Hodge deur Thomas Hardy.]

Gesang van die 47ste Kubaanse / Fapla Brigade

Wie behalwe julle moeders in Havana
en sommige in Luanda
rou julle verlies of weet
dat julle in oorlog omgekom het
so asof die menslike lewe
niks gewyd inhou nie

uitgewis is
deur een van net twee bataljonne
by die samevloeiing van die Lomba
en Cuzizi riviere,

dat julle Ratel pantserkarre
gehoor het wat op spoed in jaag,
die gebrul van Olifant tenks
en die donder van hulle kanonne
of die huilende geweeklaag van masjiengewere
nog het julle seker nie gebede gesê
voor dodelike projektiele uit die lug uit val.

Wat se berou voel julle opper leier
as julle moeders, vroue en kinders
kerse opsteek
(wie nooit ‘n kans gehad het
vir ‘n behoorlike totsiens nie)
en nou reeds weet
dat julle nooit huis toe sal kom nie.

[Verwysings: “Anthem for Doomed Youth” deur Wilfred Owen. “During the battle, 62 of the 72 deployed T-55 tanks were either destroyed or captured, while the remaining 10 were found abandoned afterwards. The South Africans had two of their tanks put out of action, but were able to repair both.” Nortje, Piet (2003). 32 Battalion. Zebra Press. p. 88.]

Uitwissing

(na Ernst van Heerden)

Iewers in die bosse
het ons daardie koue winternag uitgekamp
en later in die donkerte
het die koue ysig deur ons beendere begin vreet

op patrollie moes ons toe veel beter weet,
maar om die koue te breek,
het ons toe ‘n vuurtjie aangesteek
terwyl manne eers met gewere paraat lê

was ons deeglik bewus dat dit aan die vyand
ons plek en teenwoordigheid uit sou wys,
maar na dae sonder enige vyandelike kontak
en dik van koue blikkieskos

is daar toe ‘n kampvuur gemaak
waar die hout sis en knetter
en ‘n slang brandend uit sy gat peul
in die hel brand saam met

ruspes, insekte en torre
en toe ons nog ‘n stomp nader sleep
krul wurms, miere in die pulwer as
in die vuur wat knetter en sis

en ons het die toneeltjie
met hande uitgestrek oor die hitte
gestaan en gade slaan
toe ‘n vyandelike vuurpyl granaat

met ‘n helder rooi boog nader suis
in helle gloed met skroot ontplof,
en waar dit tref alles vernietig
in stukkies sand en stof.

[Verwysing: Uitwissing deur Ernst van Heerden.]

Die oorgawe

(in antwoord op Ernst van Heerden)

Geen baarlike duiwels was losgelaat as vyand
geen harpy, griffioen, of demoniese,
geen pantser of meganiese
legioene het ons oorweldig as opponerende kant

as oorwinnaars het ons van die grens en Angola teruggekeer
die offers wat van jong seuns geëis was betaal,
in tye van oorlog in ons beste jare verdwaal,.
al ons vyande of gedood of bloedig beseer

maar toe het ‘n kaalkop man om sy eie glorie
ons land weggee,
(hierdie is geen allegorie),
het hy saam met satan self planne gesmee

het die onderdrukking
van regstellende aksie onder ‘n bose regering losgebars
verloor ons, ons selfbeskikking
word blankes in armoede in gepars

vier swart rassisme hoogty
terwyl slegs swart mense werke kry
en die plase, besitting en die lewens
van blanke landgenote bevry.

[Verwysing: Staatsgreep deur Ernst van Heerden.]

Gebed van ‘n soldaat vir sy lewensmaat

As hierdie nag tussen ons daal
en buite storms knetterend val,
donder soos kanonskote knal
laat daar dan deurlugtigheid neerdaal

en ons in hierdie gewyde uur, van die wêreld afdwaal
met vreugde en vrede en hunkeringe sonder tal
en leiding en pyn verdwyn, in vergetelheid verval,
laat ons dan die beste uit hierdie tydjie haal

ons liefde tot verby keerpunt laat kom
terwyl die oorlog vir ander voort woed
en al is ons in woorde stom
laat ons liggame praat in vlees en bloed
laat ons innerlike vreugde bekom
tot ons weer mekaar moet groet.

Tydens hierdie donker uur

Ons liefde het as ‘n geheim ontstaan
as ‘n gelofte tussen jou en my
en in stilte bemin ons mekaar
en ek voel jou pols in jou tepel klop
met slegs ‘n sug vanaf jou teer lippe,
maar jou oë kan woorde praat
hulle eie sinne sê
en ek voel die taal van jou liggaam aan
van jou hele wese as jy om my vou
en alhoewel oorlog ‘n ding is wat verdoem,
gevul is met weemoed, met ‘n onbekende môre
het dit ons bymekaar gebring,
miskien om aan die lewe te klou terwyl die lig vervaag
en jou bemining
in hierdie nag, hierdie uur van duisternis
sal ewiglik by my bly.

[Verwysing: At the dark hour deur Paul Dehn.]

Die ontmoetings punt

Tyd het van my af ontsnap
asof dit iewers anders is
en ek was nie meer die kind
wat ek gewees het
toe ek oorlog toe is
en die mens wat ek voorheen was
en tyd het my verlaat
om iemand anders te word

Voor ons afskeid was ons twee mense
met gedeelde gedagtes, gedeelde drome
twee mense met ‘n soortgelyke lotsbestemming
wat klop as die hart van slegs een

maar tyd het van my af ontsnap,
asof dit iewers anders is
die ganse wêreld het verander
en toe behoort jy aan ‘n ander
asof tyd ons lotsbestemming verlaat het

en ek het ‘n pragtige meisie na my sien kyk,
gewonder oor wat sy sien
terwyl ek ‘n drankie aan haar bring,
haar sigaret aansteek
en tyd het tot stilstand gekom, dit het heeltemal verval
terwyl sy op satyn lakens vrede aan my bring

en dood maak, die sin van lewe en dood,
waarom goeie manne val en ek aanhou leef
kon ek nie verstaan nie
en jy was weg,
sy’t my haar hand gebied
en my gelei na ‘n lekker warm bed
en tyd het van my af ontsnap
asof dit iewers anders is
terwyl sy nog daar is
afgeêts teen die venster
en buite het die reën geval
en vir oomblikke was ek vry
van hierdie wêreld met ontbering en pyn.

[Verwysing: Meeting Point deur Louis Macneice.]

Te veel keer het ek uitgebak in warm pantser (Fay Slimm vorm)

Te veel keer het ek uitgebak in warm
pantser,
te veel keer konvooi gery op pad na
die hel,
te veel keer inoefening moes bywoon
as spel,
voor oorlog dodelik as ‘n slagting
uitbreek,
burgerlikes stom geslaan en onskuldig
sien kyk,
hoe oorlog alles om hulle verwoes,
afarm
as hulle binne verwoesting aan leef,
droewig
sonder hoop nog ‘n bestaan probeer voer,
mielies
plant, dolle boerbokke na ‘n tak kraal
aankeer,
as ons dwarsdeur bars, op volle vaart skiet,
vyande
in hakkejag operasies trotseer
en dood.

Afrika kind

Anderkant die kaplyn
bly jy in een
van ‘n klompie pondokke,
waar bokke blêrend
van die doringbosse
staan en vreet.

Jy hardloop nuuskierig tussen
die pikkende hoenders verby
en jou groot bruin en wit oë
hou my dop
as ek die LMG met ‘n ander hand vasvat
en warm druppels water
uit ‘n groen waterbottel kry.

Jou hande is vuil van modder gekoek
en jy dra ‘n vuil wit t-hemp
en ‘n toiingrige stukkende broek,
maar daar’s ‘n glimlag
wat verby jou ore sprei
as ek ‘n energie stafie
en ‘n hondebeskuitjie vir jou gee.

Jy stoot ‘n draadkar
al agter my aan
en praat in jou eie taal
so vêr as wat ons gaan
en daar’s verwondering
in jou groot oë,
as ek dit rekker by jou vat
en die duif waarna jy
al ‘n rukkie mik
met een skoot uit
die lug uit skiet.

Jy bring die voël vir my
en ek beduie dat jy
dit maar moet kry
en jy is nog meer bly
en net voor ek saam
met my troepe wegstap,
vat jy ‘n stok
en beduie na die bos
voor jy ‘n vinger dwars
oor jou keel trek.

Ek hoor nog jou kinder lag
en sien jou in die verte verdwyn,
terwyl ons met ‘n ander roete
sirkelend om daardie bosse loop.

Later het ‘n ander patrollie
landmyne daar afgetrap
en was daar geen kind,
om saam met hulle te stap
en dit net nog ‘n verlate stat.

Waag sprong

In die vroeë môre terwyl die son
met sy eerste strale oor die horison klim
is die nag nog donker uitgestrek

en ek haal deur die masker asem
sien die lig van rooi na groen flits
voor ek deur die opening
na onder na die aarde val

daardie oomblik as deel van die lug
met die wind wat byna oorverdowend suis
die aarde wat teen terminale spoed
vinnig duideliker, groter word

rek byna eindeloos uit
terwyl adrenalien aan reaksies
blitse snelheid gee
en die valskerm naby aan die grond

skielik oop flap
dit voel asof mens
terug in die hemele in geruk word
en jou oë die terrein onder jou fynkam

vir enige tekens van vyandelike soldate,
jou reaksies gereed word
vir die landing wat
binne oomblikke moet volg

waar die vyandelike kamp
slegs ‘n paar kilometers weg is
en jou lewe, jou hele bestaan
aan ‘n haartjie hang

en jy in die hand van die Here is
jou van sy grootsheid,
die prag van die natuur
en die waarde van lewe vergewis.

Insersie

(in antwoord op Pieter Strauss)

Met die maan wat vannag vermis is,
asof dit iewers heen gedros het
en die sterre uitgedoof
deur donker wolke
en net elke nou en dan
‘n donder wat bleek wit na onder knal
word ek losgelaat van hel hoog
en is amper ‘n masjien
wat deur ‘n masker asemhaal
waar ‘n tenk aan my rug vasgeskroef is
en van hoër as die horison neerval
en met elke vyandelike wag, wagtoring
radar stasie gespits
teen vreemde penetrasie, indringing
val ek hipersnel, asof ek by tyd verby gaan
en die lewe, die hele wêreld rondom my stil staan
totdat ek meganies herinner word
dat die grond amper te naby is
en die valskerm oop flap,
my terug in tyd in ruk
met die grond wat byna aan my stewels raak.

[1. rendezvous deur Pieter Strauss.]

HALO (Hoë (Altitude) hoogte, lae opening) vryval insersie

Dalend deur ruimte met bruisend lug
val jy uit ‘n vliegtuig asof vlieënd op vlerke
met wind wat orals blaas, sweet in jou hare

met die oggend gloed wat uitstraal tussen dinge
en die son wat oor die horison kruip in ‘n rooi bal
val jy uit ‘n vliegtuig asof vlieënd op vlerke

met suurstof wat deur ‘n masker voer voel jy klein
sien jy die aarde wat nader kom met spoed
en die son wat oor die horison kruip in ‘n rooi bal

en jou oë hou die altimeter dop wat tol, neem kennis
implisiet vertrouend op die toerusting
sien jy die aarde wat nader kom met spoed

val jy teen terminale snelheid met vrees
en voel die afstand aan
implisiet vertrouend op die toerusting

met vyandelike weerstand wat jy afwag trek jy die tou
dalend deur ruimte met bruisend lug
en voel die afstand aan
met wind wat orals blaas, sweet in jou hare.

Die baret moes my eenheid verraai het

Tot vandag weet ek
dat die baret,
my eenheid verraai het
en die skouer kentekens
ook ‘n storie vertel het.

Moeg en amper aan die slaap op my voete
na die lang militêre vlug
van die operasionele gebied af,
was die reën vars
en dit was ysig koud
waar ek die laaste stukkie.
huis toe ryloop

Veertien dae pas
het soos ‘n groot seën gekom
en om net weg te wees
en terug in die republiek
was werklik groots.

‘n Splinternuwe blou BMW
het langs my gestop
en my hart het van lekkerte
sommer vinniger geklop
en die mense
was baie vriendelik
en dit was warm in die kar.

Dit het gelyk na ‘n pa, ma
en pragtige agtien jarige dogter,
maar hulle was uitlanders
en het hulleself as Amerikaners voorgestel.

Die meisie het werklik van my gehou
en hulle aksente was swaar Amerikaans,
maar iets was net nie reg nie
en ek kon nie my vinger daarop lê nie
en miskien was hulle
net ‘n bietjie te veel Amerikaans.

Die man het opgemerk
dat hy dit snaaks vind
dat ‘n offisier ryloop
en ek het gemeen dat NAVO
waarskynlik soortgelyke rang strukture het
en het verduidelik dat my kamp
weg in ‘n oorlog sone is
en dat daar geen manier is
om my motorfiets
al die pad daarnatoe te vat nie.

Die ouer vrou het die motor bestuur
en die man het gefrons
vir die balkies
op die bors van my bosbaadjie,
asof die kombinasie van hulle
nie vir hom sin maak nie.

Dis ‘n ander ding
om gesekondeer te wees
aan verskillende eenhede
en van hulle opleiding af te lê
en ek was skielik oortuig
dat vir Amerikaners hulle waarskynlik,
‘n bietjie te veel van ons weermag weet
en dat hulle moontlik
intelligensie agente van die vyand is.

Die meisie het my soos ‘n held behandel
en wou oor my eenheid weet
en iewers het vrae oor eenheid sterkte
en teiken afstande
in die gesprek ingekruip,
maar ek het die geselskap
in ‘n ander rigting gestuur.

Die man wou weet
of ons werklik
die oorlog sou wen
as die vyand sterk pantser aanwend.

Ek het gemeen dat ons sou wen
teen enige ding wat hulle bring
en dat dit veel beter sou wees,
as die Kubane net oppak
en huis toe gaan
en die man het vir my kopskuddend gelag.

Miskien was daar iets profeties
aan daardie woorde van my
soos wat later bewys was
by Cuito Cuanavale
en ek het hulle vertel,
hoe my voorsate
met ‘n twintig duisend sterk boere burgermag
die Britte wat vier honderd en vyftig duisend was
drie jaar lank op hulle plek gehou het.

Min het hulle geweet
dat my woorde baie meer sê
en dat Ratel-90 bemannings,
dieselfde taktieke
van vinnige beweging
en akkurate vuur gebruik
en groot dapperheid
om met vyandelike tenks te handel.

Daar’s iets baie dapper
om met ‘n Ratel pantserkar
dood stil te stop
om die kanon te stabiliseer
om ‘n skoot af te trek,
terwyl ‘n vyandelike tenk
wat in beweging kan skiet
op mens afpeil;
maar daardie stukkie inligting
het ek vir myself gehou.

Basiese opleiding uit die oë van ‘n troep

Uitgekamp op ‘n vlakte
is daar rou rekrute twaalf kompanies sterk
wat op en af hardloop na elke draadlein,
deur asgate, doringdraad en glasstukke kruip
met lewendige koeëls wat oor hulle koppe fluit
en instrukteurs wat die hele tyd vloek en skreeu
en hulle swakker as diere behandel
en met sarkastiese opmerkings aanjaag.

Nasionale dienspligtiges opgeroep
soos miere wat in ‘n groep krioel
verloor enkelingskap,
word net nommers,
word gebabier
met hare prisonier styl en lengte
en aangetrek in bruin oorpakke
en kry groen plastiek mosdoppe
op hulle koppe.

Die kos is maagtrekkend sleg
en loop op ‘n blik
skinkbord in alles in,
en gee aan almal maag griep.

Elke peleton het ‘n PTI-korporaal
wat hulle die hele dag lank
laat hardloop,
val en kruip
en lag as enige een bloei.

Met tye wonder mens
van onder watter klip,
of uit watter gat
het daardie swernoot gekruip?

Sommige inspeksies
is in die middel van die nag
en laat kaste en beddens
op die grond omgekeer,
alhoewel alles
net reg en skoon en skerp is
met straf wat direk
daarna volg.

Dis ‘n helse ding
met maatjie oefeninge,
vragmotor bande en pale
tot een dag,
wat elkeen super fiks is
en lag vir die idioot
met die strepe.

Ek het meer as ‘n dosyn van die bom van bomme gelaai sien word

Ek het meer as ‘n dosyn
van die bom van bomme gelaai sien word
vanaf draag planke
uit ‘n groot Hercules vliegtuig
wat blink in geel koper intensiteit
met die lood punte wat eienaardig koud lyk
in die bom ruimtes
van Buccaneer bomwerpers
by Rooikop lugmag basis
en het met ander spesiale mag soldate
daardie nag wagdiens gedoen

en ek wonder nog
of daardie bomme net atoombomme was,
of was hulle waterstof, miskien neutron
of ‘n nuwer generasie van iets erger?

Terwyl reën neer sif
het elke stukkie metaal geglim
onder helder ligte
en in my hart
kon ek reeds dié land,
die hele aarde se dood aframmeling voel
asof die derde wêreld oorlog
op die punt was om te begin
en geen Sassoon, Wilfred Owen
of selfs Alun Lewis
kon so gevoel het nie

om vasgevang te wees as ‘n burgermag soldaat
op die gier van politici
wat die mag het
om miljoene, self biljoene lewens uit te wis
terwyl hulle slegs blote mense is.

[Verwysing: A War Poem deur Christopher van Wyk.]

Ek het mans gesien

Ek het mans gesien wat hulle broeke natmaak
as die eerste koeëls om hulle vlieg
in hulle eerste kontak met die vyand
en ek het mans gesien,
wat uit hulle miletêre stewels geskiet is
en gebreek en bloed bevlek lê

Ek het mans gesien wat tot as verskroei is
deur wit fosfor in ‘n uitgeskiete Ratel
en ek het mans gesien,
wat ledemaatloos deur landmyne gelaat is.

Ek het mans gesien wat die beste maak
met wat die lewe aan hulle gee
en sien veg om te oorleef
teen die noodlot in
en oorwinning sien kry,
teen ‘n oormag
en nog het hulle die ou leun geglo:

Dulce et decorum est
pro patria mori

[Verwysing: Dulce et decorum est deur Wilfred Owen.]

Die skaduwee van Kain

(‘n antwoord op Edith Sitwell)

Die mens het hom nie gesteur aan die wolk,
die wolk wat lyk soos ‘n hand van ‘n mens
en ek het weerlig uit die lug sien val
en dit was mens gemaak,
donder wat ontplof in vlamme
het neergekom en weer gekom

en in die duister wolke van dood
was die son uit geklad
die helder kobalt lug was weg geskeur
en manne het gesterf
asof hulle poppe is,
uit klei gemaak

maar op die hande van die lewendes
het die merk, die skaduwee van Kain oorgebly
as doders van hulle naaste, slagters
van ‘n vyand
besluit deur politici
wie se hande met bloed bevlek is

en hierdie soldate was eens jonk,
net seuns direk uit die skool
wie se man wees, menswees gesteel is
en hulle was nou
bosbefokte half mal soldate
wat slegs vrede wil hê,
wat deurlugtigheid nodig het
en het op hulle knieë gekniel voor die lewendige God
op soek na Sy teenwoordigheid
met hulle terugkoms uit die bos,
van oorlog af, die vure van die hel

smekend om vergifnis
vir die neem van dodelike skote
vir die lansering van vuurpyle, mortiere
en die gooi van handgranate
om lewendig te bly
en hulle was nou verskeur in liggaam en siel
en nooit selfvoldaan
en het hulle lewens toegewy
aan die Grootse generaal
nie wetend hoe om hulle eie lyding,
herinneringe en oorweldigende skuld te verdryf nie
en sommiges het geween

en hulle het vertrou
dat die poorte van die hel
en ewige verdoemenis
uit geblus is, gedemp is
deur die bloed van die Een
wat vir almal gesterf het
wetend dat Hy nie ter vergeefs gesterf het nie
en het aan Hom hulle pyn geoffer,
in Sy skaduwee gestaan
as sterflike manne
getrou aan die lewende koning
as die dag van oordeel kom,
netsoos die dief aan die kruis.

[Verwysing: The Shadow Of Cain deur Edith Sitwell.]

Gesigte van soldate

Miskien het ek die gesigte
van ‘n duisend soldate gesien
wat vir oorlog voorberei
en sommige met stroewe beslistheid, selfs toewyding
om gereed te wees, het gewere skoon gemaak,
alles wat hulle saamdra nagegaan

en sommige het opgetree asof hulle nie omgee
ander het naragtig opgetree
hulle gesigte komieklik getrek
en dan was daar ek
en tot vandag wonder ek
wat ander gesien het
as hulle na my kyk

of was die lyne reeds in gebytel
wat doodmaak op die siel laat
of was my oë net bar of leeg
of was hulle rasende met innerlike vuur?

Wie sal ooit weet?

Ek het manskap Spencer oorlog toe sien gaan

Ek het manskap Spencer oorlog toe sien gaan
en sy oë was eensaam of so het ek gedink
aangesien hy nooit ‘n brief ontvang het
op daardie godverlate kamp
en hy was altyd ingedagte,

besig om sy Bybel te lees of sy geweer skoon te maak
asof hy in ‘n wêreld van sy eie was
en ek was oor hom bekommerd
en het gewonder
of iets by die huis verkeerd is?

Maar toe ons terug in die samelewing kom
en tuis uitklaar
het die pragtigste vrou hom daar hallo gesoen
en het ek besef
dat hy nie die lewe en oorlog verstaan nie
en die doodslag wat dit bring

en om die eerlike waarheid te sê,
nog minder het ek.

Die dobbelaars

Een reënerige nag in ‘n grens kamp
in die operasionele gebied
het ek verby ‘n tent geloop
en terwyl die wind een kant oop flap
het ‘n donder straal neergeslaan
in ‘n boom reg langs my
knetterend met blou vonke wat spat

en ek het jong soldate gesien,
‘n groep troepe
omtrent so oud as ek
wat rondom ‘n tafel sit
geklee in militêre onderhemde
en lang bruin militêre broeke
wat brandewyn uit ‘n bottel drink
wat hulle
van hand tot hand aangee
en ek het gedink
dat hulle waarskynlik kaart speel
of besig is met die een of ander dobbel spel

toe ek die klik geluide hoor
van die silinder van ‘n rewolwer wat spin
en ‘n dowwe slag in ‘n leë kamer
en het geweet met watter spel hulle besig is

en ek het ingeloop
die rewolwer geneem
uit die hand van die volgende een
nadat dit reeds gespin was,
na die grond gemik
reg langs die ingang en die sneller getrek
en die rewolwer het afgegaan
met ‘n koeël wat nat sand op laat slaan.

Naakte vrees het soberheid gebring
en daardie manne was stil
met hulle oë op my offisier sterre
en ek het die rewolwer gevat
en eers gedink
om die hele lot te arresteer
maar het hulle oorgelaat aan die sersant
wat my in gevolg het,
nadat ek hulle met ‘n ernstige vermaning
uitgetrap het.
.
Die volgende dag
het ons aksie geslaan,
was ons uitgevlieg in helikopters
reg in die oorlog in
en by die aflaai sone
het twee vuurpyle oor my kop gesuis
net nadat die laaste helikopter weg was

en die spel was steeds aan
vir die dapper jong mans
wat saam met my was,
Russiese roulette
met ‘n koeël deur die kop
uit ‘n AK-47
of in plaas daarvan
om aan te leef.
deur die onakkurate vyandelike skote,

[Verwysing: The gamblers deur Anthony Delius.]

Oorlog digter

Hulle wat nie self die stryd stry,
wat menslik fouteer
het die mag om seuns
met onskuldige edele ideale
en drome op te roep
hulle lewens radikaal te verander,
in hulle mens wees, in hulle bestaan
te verander van lewendig en gesond
na sterwend of gewond

en toe word elke blanke jongman forseer
om tronkstraf uit te dien,
of landsplig in te sien
en die plek van ongeregtigheid te verdedig
teenoor iets veel slegter, iets meer boos en erger

en watter digter het die vermoë
om die stigters van oorloë,
die weg te wys?

In ons menslike haas sien ons slegs
klein gedeeltes, van die veel groter geheel:
nie hoe elke ding, elke faset
van stryd van die lewe hier afspeel

en aan my is ‘n pen uitgedeel
om slegs te skryf, wat ek ervaar,
hoe ek dit ondervind
en selfs met tye te naby aan die stryd
word ek verblind, verblind deur nasionale trots
en eiewaan, om verder te kyk as my eie bestaan

en word morele waardes,
dit wat werklik reg en edel is
slegs bepaal deur God
wat geregtig op Sy troon sit.

In my oorlog gedigte, word ondervindings
van edel jong manne uitgedruk,
wat forseer is om te staan,
ander moes dood om self lewendig te bly,
sonder enige ander keuse

wat heldemoed openbaar het
maar nie daarvoor vergoed is nie,
wat getrou was aan hulle taak,
alhoewel hulle dit nie as edel
of agbaar of goed beskou het nie
en sommiges selfs hulle lewens neergelê het
as offers, vir al die mense van hulle land.

[Verwysings: The hand that signed the paper deur Dylan Thomas, Where are the War Poets? deur C. Day Lewis, War Poet deur Sidney Keyes, On Being Asked for a War Poem deur W.B. Yeats en War Poet deur Donald Bain.]

Die Cassinga sprong

Ek het vrees en spanning gelees
op die gesigte van valskerm soldate
voor en agter my
toe die rooi lig
in die Hercules begin flits
en ons tot aksie stasies gaan

en nog steeds net bo die toppe
van langer bome byna verby skuur
op omtrent twee honderd voet
en die meeste van ons
was slegs twee weke terug
nog by die huis
besig met siviele werk.

‘n Valskermsoldaat het regoor my gekots
in geel stinkende half verteerde kos
en die kots reuk
het my ook naar gemaak
terwyl die vliegtuig steil hel
met sy laaste bewegings
om tot spring hoogte
van agt honderd voet te kom.

Sampioen wolke
gelaat deur ontploffende bomme
het vanuit Cassinga opgeslaan
en in loopgrawe
het ek mense na ons sien skiet
en skielik het bomwerpers
deur ons formasie geduik.

Die stokke voor my het gespring
en by die oop deur het lug
in my gesig gedruis
terwyl my maagkuil gevoelloos word
en ek in die ruimte in stap
en vallend, steeds vallend
‘n vuurpyl gedrewe granaat sien ontplof
naby die vliegtuig bo my
waar dit wegswenk.

Terwyl die valskerm oop wip en my opruk
het ek die diep gebrul
van ‘n lugafweer kanon gehoor
wat van onder af skiet

en dit was duidelik
dat ons later gespring het
as wat ons moes
of dat die val sone te klein was
om ‘n volle stok
van twee en dertig valskermsoldate
op ‘n slag te neem.

Ons het omtrent vyf honderd meter
verder suid neergekom
as waar ons moes
en ‘n sterk wind
het uit die noordooste gewaai.

Ons het in ‘n bosbegroeide terrein geland
wat groepering baie moeilik gemaak het
en ek het tussen die bome vuur getrek
nog voordat ek grond vat.

Onmiddellik toe ek die grond tref
het ek terug geskiet
en die vyandelik vuur
het meer sporadies geword

en ons het die groep geboue aangeval
wat intelligensie geïdentifiseer het
as die vyandelike ingenieur kompleks

en ons eie B en C kompanies
daar teengekom
en het vir ‘n rukkie op mekaar geskiet
voordat ons besef het
dat dit eie magte is.

Saam met die ander soldate gegroepeer
was ons net besig
om die ingenieur kompleks in te neem
toe ons onder vuurpyl aanval
van RPG-7’s kom

en moes ook die bemanning
van ‘n B-10
terugslaglose kanon vernietig
waar ek ‘n aantal handgranate gegooi het

en toe ontplof die ammunisie store
in die geboue kompleks
maar slegs een valskermsoldaat
was daar gewond.

Daarna het ons toe
ons stoplyn posisies ingeneem
om die ontsnap roete
suid van Cassinga te blokkeer

en die anti-tenk peloton
word toe weggestuur
om ‘n tenk lokval op te stel
op die pad wat van Techamutete af kom.

Teen daardie tyd
het ek ‘n vyandelike LMG opgetel
met meer as genoeg ammunisie daarvoor
en het ek van die heup af geskiet
op enige beweging wat ek sien
en tot daar was dit so maklik
as om koek te eet.

Toe ontvang die kompanie bevelvoerder instruksies
en laat ‘n groep manskappe by die stoplyn agter
en neem omtrent twintig van ons
saam met hom
na die vyandelike voertuig park
waar daar ‘n groot groep burgerlikes
in die omliggende bosse in gevlug het.

Daar het ek met die LMG losgebrand
in die rigting
van die lugafweer kanonne
wat neergelaat was
en ons het loopgrawe ingegaan,
daar burgerlikes gekry
en swaar vyandelike vuur
het direk van agter hulle af gekom.

Dit het ‘n kwessie van oorlewing geword
en selfs die vroue wat ons teengekom het
was gewapen
en in vyandelike uniform
en ek het handgranate
in die volgende been van die loopgraaf gegooi
en aanhoudend gevuur vanaf my heup,

was met bloed bespat
deur ‘n vrou se liggaam
wat reg uit die muurtjie uit geblaas is
met haar verflenterde oorblyfsels
nog in ‘n groen uniform.

Toe word ek weer naar,
het onbeheerbaar gekots,
het begin huil, met trane
wat teen my wange afloop

maar het soos ‘n masjien aan beweeg
en vyandelike soldate gesien
wat uit die loopgrawe storm
om die gevallenes te vervang
by die drie lugafweer kanonne
met heldhaftigheid
wat naby aan besetenheid was.

Die geveg was erger as verwoed
en wreedaardig barbaars
en ek kon op ‘n slag
slegs een been van die sloot
wat sigsag skoon maak
met ondersteunende vuur
van buite af.

Daar was die geskreeu en gehuil
van vroue en kinders
tussen die vyand
en ek moes dood maak of self sterf
en ‘n rilling het teen my rug af gegaan

en die rumoer was verskriklik
met mortier bomme
wat by die lugafweer kanonne neerkom,
vuur uit amper enige rigting daarteen
en koeëls wat die wande
van die loopgraaf
reg langs my verskeur

en ek het amper verstik in die rook,
grond en kordiet dampe wat my omvou
en uiteindelik was daardie loopgrawe skoon
en het die lugafweer kanonne ophou skiet.

[Verwysings: LMG= Ligte masjiengeweer. Lees my gedigte Cassinga en Vleuels van die noodlot vir ‘n groter uitleg van hierdie slag waar valskerm soldate te staan gekom het teen Kubaanse pantser.]

Dis stil, doodstil in die veld

Dis stil, doodstil in die veld
selfs die krieke en sprinkane
maak geen geluid

en die tjopper vervaag
laat my en Jannie
en ‘n paar ander manne

met ‘n Boesman spoorsnyer
vars op ‘n vyand spoor
en skielik loop ons
reguit in ‘n lokval in, word vasgekeer

en Jannie is dood, deur die kop geskiet
en drie ander ook en dit voel asof ek in die hel is
en ek praat met myself

probeer om kop te hou, terwyl ek op die vyand vuur,
skiet sommiges dood en gooi twee granate
om hulle in kennis te stel van my ernstige intensies

en die vyandelike geskiet stop, ook die
van ek en my manne en ek ruik dood
en is naar tot by die punt waar ek wil kots

en dis stil, doodstil in die veld
selfs die krieke en sprinkane
maak geen geluid.

Anderkant vyandelike linies

Bo my is daar ‘n oniks lug
en die teeragtige nag
taan vinnig weg
en ek hoor die gebrul
van vyandelik pantser
en die gekners van tenk spore
wat weerklink en baie naby
aan my is.

‘n Elektroniese sein reik
duisende kilometer vêr
en gaan in ‘n nag in
wat vol helder wit sterre is
soos ‘n donder flits
wat val in ‘n donker swart hemel
en uit tak
na waar dit moet gaan
na ‘n plek waar Jakaranda bome
pers in blom staan.

Ek stel my verstand teen die noodlot
en kruip dieper onder dekking
van ‘n doringbos in
en gord my gees
om die vyand te trotseer
en ons lê en wag
en daar’s drie van ons
teen ‘n horde vyandelike pantser.

Die oggend skemer is nog grys
en hulle kom baie naby
en die lug is gevul met
‘n donderende klank
as die eerste tenks
en pantserkarre verskyn
soos honger drake
wat na ‘n feesmaal kom.

Ek kyk op in ‘n indigo blou lug
en arende en aasvoëls
buig neer uit die son
en daal neer met dodelik haas
en vervorm in cheetahs
en Mirage vegvliegtuie
en die radio
laat my met hulle praat
en die einde van lewe
en verskriklike chaos
word onverwags ontketen.

Slegs die roofvoëls
red my van die haat
van groot staal monsters,
wat reg is om te vertrap
en te vermoor
en missiel en vuurpyl pyle
skiet dalend neer uit die lug
en daar’s rooi en geel vlamme
wat orals lek.

Na ‘n rukkie donder
die oorlog vliegtuie
weg na die Suide
en die vuur vervaag
en rondom ons is daar
omgekeerde en vernietigde wrakke
van die mens se oorlog masjinerie
en ‘n slagting van mense
en die reuk van die dood
sny dwarsdeur my asem,
asof dit my wil versmoor
en ek kots en voel onmenslik
en barbaars wreed
en my kamerade glimlag dapper
en sê baie wel gedaan
en om my
is alle ander lewe weg
behalwe die drie van ons.

Die militêre polisie

Een middag
toe ek net van die werk af kom
was daar ‘n klop aan die voordeur

en drie militêre polisiemanne
met plat oranje hoede
en oranje arm kentekens

het aangedring om in te kom
en wou my huis deursoek
aangesien iemand aan hulle gesê het
dat ek bevriend is met ‘n man

vir wie hulle ‘n arrestasie bevel het
omdat hy nie vir ‘n kamp opgedaag het nie
en die sotte het gedink
dat ek hom daar wegsteek.

As ‘n lid van die burgermag
het ek die militêre polisie verpes
en geweet dat hy eintlik veilig van hulle af is
en het aan hulle die hek gewys
wat hulle werklik kwaad gemaak het,

maar hulle was heeltemal woedend
toe ek hulle vertel
waar om hom te kry

en dat hulle na die naaste
polisie stasie kon gaan
waar hy aan diens was.

Jan Alleman (hybridanelle)

Op George sit oom PW Botha lekker in sy huis
en op sewentien is Jannie te jonk om ‘n kar te kry
toe sy oproep instruksie Jannie vir ‘n kamp aanwys

en die lewe is sommer lekker goor,
Jannie word geleer van sy heilige geweer
en hy sien hoe mense heeltemal kop verloor

en in Jannie se lewe gebeur niks per abuis
en hy’s oud genoeg om ‘n troepe trein te ry.
Op George sit oom PW Botha lekker in sy huis

en hoe Jannie ook al probeer
tik die tyd te stadig aan,
Jannie word geleer van sy heilige geweer,

moet die kamp van kant tot kant deurkruis
en as hy nie wil, moet hy drie jaar lank in ‘n tronk bly.
Toe sy oproep instruksie Jannie vir ‘n kamp aanwys

kom Jannie teen Ovambo’s, Kubane en Russe te staan
is hy vêr van die huis en mense af,
tik die tyd te stadig aan

word uitgelewer aan vyandelike soldate, ondiere en elke bosluis
terwyl oom Botha en sy vet kabinet vry vir hulleself ‘n lewe kry.
Op George sit oom PW Botha lekker in sy huis,

‘n nuwe straler word vir hom aangeskaf
en Jannie en almal by hom is bosbevok
is hy vêr van die huis en mense af,

uit sommige makkers se are is daar bloed wat rooi bruis
en van vyandelike geweervuur is niemand vry.
Toe sy oproep instruksie Jannie vir ‘n kamp aanwys

word daar grotendeels vir die hele land gejok,
die weermag is lekker en doller as mal
en Jannie en almal by hom is bosbevok

gedurig in die veld buitenshuis
en net ‘n nommer en ‘n jou en jy.
Op George sit oom PW Botha lekker in sy huis
toe sy oproep instruksie Jannie vir ‘n kamp aanwys,

vyandelike skote reg rondom hom knal
en die lewe is sommer lekker goor,
die weermag is lekker en doller as mal
en hy sien hoe mense heeltemal kop verloor.

Op ‘n reënerige nag

Deur digte mis en reën
met die wind se geween
om die gebou se hoek
loop hulle met nat deurweekte hemp en broek.
Dit is die groep soldate van my
wat so skeef, skeef deur van die geboue sny.

Goddank dit reën, dink ek,
terwyl ‘n bliksemflits verby trek
en dat hierdie weer
dalk vir die hulle sal keer
om in hierdie nag iemand dood te maak.

Wat maak ek hier met my manne saam,
wonder ek en kyk dan stip
na waar ‘n vlam skielik agter ‘n venster brand
en swaai dan my hand en waar van my manne
by rokende konkas verby sny en orals rondom my
slaan hulle dekking en val hulle plat
sodat modder regoor hulle spat
voordat ‘n petrolbom vanuit ‘n venster vlammend bars
en ‘n AK hees begin knars.

Die kind met die AK se tyd is om,
en ons is almal koud en deursop nat
en nie eens die vlae reën
kan ons skoon was
en die sissende konkas met die rokende as
verdryf nie die skril geween
van daardie kind se ma
en niks verdryf ooit die drome wat my pla nie.

{AK = vyandelike AK-47 submasjiengeweer
Petrolbom = Bottel vol petrol wat aan die brand gesteek word met ‘n petroldeurweekte lap en dan gegooi word om in ‘n vlamme massa te ontplof..}

Jonas Savimbi

In Angola is ‘n graf met ‘n man daarin
wat nat trane kon huil,
toe wit soldate by die dood gaan skuil het
en hulle lewens verruil het
vir ‘n nuwe begin.

In Angola is ‘n graf met ‘n man daarin
wat hoop aan van sy mense kon bring,
wat nou nog liedere oor sy dade sing.
In Angola het sy eie mense daardie man verraai
en so sy lewensboek se bladsy omgeblaai.

Daardie man kon om vrede bid
en saam met wit soldate om ‘n kampvuur sit.
In Angola het ‘n man met ‘n geweer
vrede probeer bring
en daar kon hy geen geweer keer…

Aan iemand wat ek bemin het

(in antwoord op Kelwyn Sole)

I. Geure van jasmyn

Geure van jasmyn, katjiepiering
en laventel sluip in
deur die kamervenster
en dit ruik na ‘n parfumerie

terwyl strale op strale oor die bed marsjeer
klim oor jou arms, liggaam en bene
waar ons uitgestrek
teenaan mekaar lê,

ons ignoreer die klanke van die straat
waar karre verby jaag,
die geblaf van honde
wat skel op vreemdelinge wat verby gaan,

slegs as jy wakker word,
trek ek die gordyne dig
as ons die koue van die skemer voel
en verenig in liggaam en siel.

II. Op die stoep kyk ons na die son wat sak

Op die stoep kyk ons na die son wat sak
terwyl soet St. Anna wyn
in ons glase vonkel
en daar’s ‘n intiemheid
‘n soort van rus

in die ondervinding van vroeë aand
terwyl ligte geel en wit in die verte skyn,
die onderkant van die wolke byna robynrooi is,
die swart reeds sommige wolke verdonker
terwyl ander sneeuwit bly

die duister vang ons
met ‘n ronde vol maan
en soos stoute kinders
sluip ons by ons huis in,
sluip ons in ons eie kamer in

terwyl vreugde soos sjampanje borrel
is ons uiters intiem saam
versmelt in een liggaam
as jou hand later nog oor my rug streel
soos ‘n skoenlapper

wat skaars hier en daar raak
besef ek dat jy die beste deel van my is,
met jou sagte soet lippe
wat skaars aan my wang raak,
jou warm asem teen my wang.

III. Terwyl die nag gebore word

Terwyl die nag gebore word
kruip die donkerte in ons huis in,
sluip dit na ons slaapkamer,
waai ‘n skielike bries

vêr weg teen die horison
naby die Magaliesberge
flits blouwit blitse
soos kanon vuur

terwyl ons die geur
van reën, van die nat aarde kan ruik
op die bries wat sterker waai,
die klein aartappel bome heen en weer ruk

jou gesig is vol van skrik
in die glans van ‘n donderstraal
wat net buite die venster val
en jou oë lyk groot en wit

terwyl ek jou teen my vasdruk
en jou arms vou om my, omhels my, trek my
nog nader en skielik
is die nag koud

terwyl groot druppels reën neer giet,
plas tot die reën stroom soos ‘n vloed
en ons vind troos in mekaar
versmelt met passie.

IV. Die wekker maak my wakker

Die wekker maak my wakker
as dit nog skemer is
en met die vallende reën
is die vroeë oggend nog donker
asof die nag draal.

Buite wuif die groot jakaranda bome
in die storm wind
laat val pers blou blomme
soos ‘n stortbui konfetti
en die straat glinster

terwyl karre
water plas in ‘n sproei
en ons moet gereed maak
vir die nuwe dag
en effens lui strek jy jou uit,

trek my terug in die bed,
trek my nader aan jou,
trek my in jou hitte in
terwyl ons lippe, liggame en ledemate
vervleg om een te word.

V. Ons maak ‘n middagete afspraak

Ons maak ‘n middagete afspraak
in ‘n restaurant net duskant kerkstraat
op ‘n herfs dag
op die twintigste Mei

en jy glimlag,
lig ‘n glas sjampanje,
as daar so naby dat ons die wind daarvan kan voel
‘n geweldige ontploffing verbryselend uitbars,

onskuldige mense in Kerkstraat verpletter
met dodelike skerp stukke glas en beton
en ek trek jou af na die grond toe
om dekking te slaan agter die klein tafeltjie

waar ons geëet het,
die lug is skielik vol
met die klank van mense
wat in pyn en angs skreeu

en ons haas na buite,
gaan in Kerkstraat in
en daar’s bloed en ingewande orals
met bevreesde, skreeuende, verbryselde
en gewonde mense

waar ook al ons kyk
en jy huil met die gewaarwording van ontsetting,
in blote skok en vrees
en die wêreld het verander in amok.

[Verwysing: Seqence for solo voice deur Kelwyn Sole.]

In die tyd wat dit neem om ‘n roomkleurige kar te parkeer

Op ‘n herfs dag in die tyd
wat dit neem om ‘n roomkleurige kar te parkeer
ontplof ‘n verwoestende bal van vuur, van vlam
ontplof dit verbrysellend
in Kerkstraat, Pretoria
op die twintigste Mei negentien drie en tagtig,

veroorsaak dit skrapnel wat rondvlieg,
versplinterende, verbrokkelende
vlieënde stukke glas
van al die gebou langs die straat,
in ‘n dodelike glinsterende reën

vermoor dit, vermink en blaas aan stukke
die onskuldige mans, vroue en kinders
wat in die straat verby gaan

vir ‘n politieke oogmerk
met ‘n helse harde slag
van applous
asof die hele menslikheid
besete word
laat dit bloed, ingewande, ledemate
en die oorlewendes in verskriklik pyn.

Voetnotas:

(1) Luitingh, M Digters en digsoorte, Afrikaanse boekhandel. P75.
(2) Beukes, G J, Lategan FV, Skrywers en rigtings, JL Van Schaik (1973) P11.
(3) Beukes, G J, Lategan FV, Skrywers en rigtings, JL Van Schaik (1973) P3.
(4) Beukes, G J, Lategan FV, Skrywers en rigtings, JL Van Schaik (1973) P15.
(5) Beukes, G J, Lategan FV, Skrywers en rigtings, JL Van Schaik (1973) P22
(6) Beukes, G J, Lategan FV, Skrywers en rigtings, JL Van Schaik (1973) P34
(7) Beukes, G J, Lategan FV, Skrywers en rigtings, JL Van Schaik (1973) P45
(8) “Die JJ Potgieter Manuskrip: Eric Swardt.”
(9) Kannemeyer, JC Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 Human & Rossouw (2005) P60.
(10) Kannemeyer, JC Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 Human & Rossouw (2005) P220.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak