Jongste aktiwiteit:

37 Die Ballade “Supreme” en Dizain gedigte
vir

37 Die Ballade “Supreme” en Dizain gedigte

37 Die Ballade “Supreme” en Dizain gedigte

Die Ballade “Supreme” ontwikkel uit die Franse ballade van die 14de en 15de eeu en is baie soortgelyk aan die gewone Franse ballade soos behandel in stof en tegniek twaalf waar my gedig “Gee die bevel tot U kryg” in goeie voorbeeld is. Die gewone Franse ballade het egter net agt en twintig versreëls met die l’Envoi gedeelte wat eindig in vier versreëls.

In die Ballade “Supreme” is daar egter vyf en dertig versreëls bestaande uit drie tien versreël stansas met ‘n vyftallige versreël l’Envoi. Die rym skema van die Ballade “Supreme” word tot vier ryme beperk en is:

ababbccdcD / ababbccdcD / ababbccdcD / ccdcD.

(Hier dui die hoofletter D natuurlik ‘n keerreël / refrein lyn aan wat herhaal word.)

Hierdie versvorm word gewoonlik geskryf in versreëls wat agt of tien lettergrepe per lyn regdeur gebruik en kan in jambiese pentameter of tetrameter geskryf word, maar nogtans word die metrum vir die digter gelaat. Soos gewoonlik is die l’Envoi die hoof boodskap of ‘n samevatting van die gedig of ‘n laaste waarheid wat weergegee word.

Die gedig “a clown’s smirk,” van ee Cummings is ‘n goeie voorbeeld van die ballade “supreme.”

Hier is my poging tot die ballade “supreme:”

Nuusberig (Ballade Supreme)

a Slegs een persoon het die aanval oorleef,
b toe drie swart mans met masjiengewere
a die boer dood skiet, hard skreeu: “kom hier jou teef,”
b in die huis inbars, haar skop, stroop van klere
b en gaan soos besetenes te kere.
c Sy is toe styf vasgebind op die vloer
c waar hul haar verkrag, skreeu: “jou boere hoer.”
d In die hospitaal het sy erg gehuil
c kan skaars ‘n onderhoud behoorlik voer,
D is sonder haar goed, man en land en vuil.

a Nooit kan sy die swart verkragters vergeef
b selfs al buig sy haar neer voor die Here
a solank as wat die moordenaars nog leef,
b brand dit in haar soos pynlike vuil swere
b en slegs ‘n graf bly vir haar man ter ere,
c word sy weer in gedagtes weggevoer,
c dit voel of elke swart man vir haar loer
d niks kan sy vir sy lewe terug ruil,
c oorweeg dit baie sterk om op te hou boer,
D is sonder haar goed, man en land en vuil.

a In gedagtes het sy dit oor beleef,
b sy vrees vir ‘n seks siekte of sere,
a word snags skielik wakker terwyl sy beef,
b uit bygeloof vermy sy selfs lere,
b slaap soms slegs in haar pienk onderklere
c hoor takke ritsel, ‘n duif buite koer,
c dit voel asof iemand haar mond wil snoer,
d wil van die hele lewe af weg skuil,
c gee willoos aan al die beeste groenvoer,
D is sonder haar goed, man en land en vuil

l’Envoi
c maar die gemeenskap is met haar ontroer,
c wil selfs die rampokkers vang en ontvoer
d glo plase is met terroriste vervuil
c maar sy wil hierdie saak nie meer aanroer,
D is sonder haar goed, man en land en vuil.

[Verwysing: “Van die korrespondent” deur Bernard Odendaal. ‘n Berig in die Volksblad: 15/10/1998.]

Die dizain is ‘n Franse gedig vorm van tien versreëls, wat agt of tien lettergrepe per lyn regdeur gebruik met die rym skema: ababbccdcd. In Engels word hierdie gedig gewoonlik geskryf in jambiese pentameter, ander digters skryf dit in tetrameter maar nogtans word die metrum vir die digter gelaat. Hierdie gedig het oorspronklik uit die Franse ballade en spesifiek uit die Ballade “Supreme” ontwikkel, maar is veel eenvoudiger.

Die Franse digter Paul Verlaine se gedig “Dizain Mil Huit Cent Trente,” is nogal beroemd. In sy bundel “The Padre,” skryf Alan Reynolds gedigte in die dizain vers vorm van ‘n predikant wat sy eie lewe probeer lei. Andrew Lang skryf ‘n goeie voorbeeld van hierdie tipe gedig wat hy titel as “Dizain.”

Cyndi MacMillan se gedig “Five Things” handel oor kuns en die liefde tussen ‘n moeder en dogter. Johnny Sumler (Sleeping Kisses), Wima N. Neels (New Dephts With You), Crystal Wilkins (Thoughts of you), Tyler Vaughn (tears), Milissa Ross (Formerly Love), se gedigte handel almal oor liefde.

In Afrikaans skryf Joan Hambidge in haar bundel “vuurwiel” ‘n gedig getitel “Dizain.”

Hier is my pogings tot die dizain:

Onder die sterre kon ons stiltes vind (dizain)

a Onder die sterre kon ons stiltes vind
b met jou hand wat soms in myne verdwaal,
a katjiepiering se geur was op die wind
b met die maan wat glim met elke goue straal
b was jou lippe myne met ‘n eie taal,
c iewers het ‘n kokkewiet skril geroep
c en dit was ysig koud op die rooi stoep
d met ‘n ster wat skielik verskiet
c en ek het elke vorige wens herroep
d voor dit vinnig weg verdwyn in die niet.

Herinnerings van vyf en tagtig (dezain gedigte)

I. ‘n Macramé plant hang dig by haar bed

‘n Macramé plant hang dig by haar bed,
op die veerkombers lê sy uitgestrek,
soms asof in gedagte of gebed
as die swembad mens deur die venster trek
met baftablou water wat dit bedek,
binne lê bruin gebrand ‘n son godin
en haar oë sluk my lewendig in
as sy my verstaan, ken vir wie ek is
my van die begin hartstogtelik min
vir my lief is deur lig en duisternis.

II. Die somerson hang wit warm oor die see

Die somerson hang wit warm oor die see,
die sand is wit sag waar die see uit spoel,
haar glimlag en geselskap voer my mee
waar ek vasgevang met haar skoonheid voel
en later is die water lekker koel
voor ‘n groot golf haar bostuk skoon afklap
ek gou na die strand toe terug moet stap
om vir haar ‘n groot handdoek te gaan kry,
later is die vir ons albei ‘n grap,
veels te vinnig swiep die somer verby.

III. Sonop ry ons by Chapman’s piek verby

Sonop ry ons by Chapman’s piek verby
met die see langs op die pad wat kronkel
en sy is toe sommer baie lief vir my,
vêr weg is ‘n skip slegs ‘n klein spikkel
en haar glimlag en haar gesig sprankel
toe ons stop om die natuur te beskou,
haar ligblou bloes nousluitend om haar klou
en ek haar daar bo die smarag see soen
vir oomblikke haar styf teen my vashou,
sy my hart betower dinge aan my doen.

IV. By Houtbaai vaar ons by die hawe uit

By Houtbaai vaar ons by die hawe uit
en die wind waai haar roesbruin hare rond,
die see lê uitgestrek vanaf die skuit,
op rotse snork ‘n otter soos ‘n hond,
ander swetterjoel wild rondom hom rond
as die skuit heen en weer wieg word ons naar,
wens dan en daar die vaart is al reeds klaar,
sien ‘n groot haai wat sirkelend rond draai
is bly toe ons skielik begin wegvaar,
die klein boot ons by die oewer aflaai.

V. In Kirstenbosh het ons ernstig verdwaal

In Kirstenbosh het ons ernstig verdwaal,
nog wonder ek oor haar lippe wat glim
haar groenbruin oë wat af in my hart daal,
gevoelens wat dieper in my in klim
wat steeds daar nog lewe kry as ‘n skim
asof sy ewiglik deel van my bly
kom ek nie werklik heel van haar af vry,
bel sy my nog as ek dit nie verwag,
wil ek nie hê dit moet ooit einde kry,
hou ek altyd aan om na haar te smag.

Teen skemer kraak die ou sinkdak (dizain)

Teen skemer kraak die ou sinkdak
soos pa se Chev met sy vinne
of die bloekom se groot ou tak
en donker roep ma my binne,
lees pa ‘n opstel se sinne
waar hy opstel boek, op boek merk
soms tot laat in die nag in werk
en daar is jasmyn op die wind,
as die buurman skielik vertrek
en hy vir my ‘n tydjie vind.

Ma is ontsteld (dizain)

Ma is ontsteld waar sy stil staan en bid,
twee en sewentig rand is skielik weg
en sy weet nie waar het sy dit gesit
en sy wil nie nou met jong Sarah veg,
weet nie mooi hoe om die saak te besleg
maar sy vat my aan die hand en ons stap
na die stat sonder dat ek werklik snap.
Ma vra of sy dalk geld opgetel het
en skielik word die buitedeur toe geklap
voor ma haar geld kry, Sarah blink van vet.

Toe my inkomste so skielik opdroog (dizain)

Toe my inkomste so skielik opdroog
stroop Rose elke dag die groente tuin,
en as sy kom sit die son reeds al hoog,
sien ons doukelkies in pers uit basuin
en haar ou gesig lag goedig en bruin,
waar ons groen spinasie en boontjies pluk,
sy hand op hand in ‘n plastiek sak druk
en ek sien dat sy my met liefde dien,
van haar is in my hart nog ‘n afdruk
en ek hoop om haar eendag weer te sien.

Vermoor is wat tussen ons eens was (dizain)

Vermoor is dit wat tussen ons eens was,
toe jy my sommer so skielik verlaat,
vertrek sonder dat iets iewers inpas
was ek verpletter, vol pyn, sonder haat
verdwyn jy sonder dat ons dinge uitpraat
toe ek die essensie van ons liefde verloor,
verkwyn alle gevoelens en niks bly oor,
verby is herinnering en selfs verdriet,
sonder dat ek iets van jou kan opspoor
het jy soos ‘n ster skielik blink verskiet.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed