Jongste aktiwiteit:

4.Rondeel dig vorms in Afrikaans: van triolet tot hybridanelle
vir

4.Rondeel dig vorms in Afrikaans: van triolet tot hybridanelle

Rondeel dig vorms in Afrikaans: van triolet tot hybridanelle

Ek was nou al soveel keer deur mense van aangesig tot aangesig, per epos, brief en telefonies gevra om iets te skryf oor die dig vorms wat soms in hakkies langs die titels van sommige van my gedigte verskyn, dat dit vir my duidelik begin word het dat daar ‘n behoefte voor is.

Die spreekwoord sê egter dat ‘n meester nie sy kuns uit lap nie.  (Nie dat ek myself enigsins as ‘n meester beskou nie.)  Ek het tot rondeel en verwante dig vorms gekom deur ‘n baie harde slyp skool van die lewe, waarvan ek nou verder hier gaan vertel. Die sleutel wat een van my gedigte in die hibridanelle / hybridanelle vorm op die Woes forum toon, (daar geplaas deur Piet Magriet), lap egter een van die geheime grootliks uit.

Terwyl ek die Huis van Afrikaanse Poësie (HAP) slypskool in Pretoria onder die mentorskap van Dr. Ian Raper bygewoon het in Capital Park, Pretoria het die digters daar groot druk op my begin plaas om verse in vrye vers vorm te begin skryf, deurdat hulle self deur die harde slyp skool van die lewe geleer het dat die aanvaarbare tendens gedraai het na hierdie vers formaat.

Veral die grootse digters Rosa Smit en Mandi Engelbrecht het saam met Ian vir my die skroewe aangedraai.  Dit was nog altyd my mening dat ‘n werklike vaardige digter van enige gereedskapstuk of tegniek gebruik moet kan maak en nadat ek omtrent ‘n honderd rymende gedigte op Woes geplaas het, het ek oorwegend vrye vers gedigte begin skryf, terwyl rymende gedigte aanhou insluip het in my verse.

Op daardie stadium het ek ook my gedig “Eendag voor die reën (of so sterf my rym?) geskryf, waarop ek heelwat negatiewe kommentaar ontvang het uit sekere geledere.

Een dag voor die reën (Of so sterf my rym?)

Dit is die hele middag bedompig en drukkend warm
en die wolke hang donker en swaar,
en dit is asof daar ‘n onheil skuil
agter die kleed wat die hemele bedek.

Ek wonder of ek heel nugter is of droom ek
en daar word gesê dat selfs Eugene Marais,
slegs een gedig gehad het wat die moeite werd was.
Ek betoog dat hy eerste ‘n Afrikaanse gedig publiseer,
en word daarop gewys dat Maleiers voor hom Afrikaans gepraat het…

Waar is sy Skoppensboer, Winternag en Dans van die reën
en ander gedigte dan almal nou heen
en ek wonder of een gedig dan ‘n digter maak of breek?

Daar word gevra om gedigte voor te dra
en ek is bang om AG Visser se Roos
aan te haal waarvan ek die woorde ken,
want moontlik is hy ook nie ‘n digter nie?

My gedig wat rym word so in stukke gesny,
dat daar baie min van oorbly
en ek wonder of dit enigsins nog sin maak?

Een van die digters prys iemand anders
omdat hy so vinnig geleer het om vrye vers te skryf,
en ek wonder op wie sy eintlik haar punt dryf.

Later word ‘n rymwoord ontrym
om spreektaal eerder te laat geld.
Iemand meld of ek nou die les leer,
en ek wonder wat presies besig is om te gebeur?

Ek hoor iemand sê terwyl ek die ander mense groet
– dat die opsny van my gedig my nie juis baie gepla het nie –
en ek stap huis toe terwyl die eerste druppels my ontmoet.

Hierdie gedig van my druk ook die idee uit dat ek nie kan verstaan hoe die werke van grootse vorige digters, nou nie veel of geen betekenis dra nie. (1i) Ek praat hier van mense wat hertzog pryse op hulle tyd gewen het, as die beste digters in Afrikaans.

Na ‘n elektroniese pos van my af het my groot leermeester en mentor, wat die beste woord meester is wat ek nog teëgekom het, my toe ook uitgedaag om hom en mense soos Rosa (wat ‘n meestersgraad het) dan nou iets te leer uit die digters voor die sestigers.  Die kern vraag was voortdurend vir my:  Watse bydrae het daardie digters tot die Afrikaanse taal gelewer?  Hierdie vraag het by my begin broei en ek het selfs begin wonder watse bydrae ek self tot die Afrikaanse taal lewer?

Met die skryf van vrye vers vorms met halfrym, binnerym en klank aspekte soos stiltes het my rym vermoëns wat van kinder tyd daar was, net nog veel sterker en prominent begin raak en het die keuse van die regte woorde in spreek taal vir my kardinaal begin raak.

Ek het ook begin merk dat die rondeel dig vorms weinig in die Afrikaanse rym arm taal voorkom en dat A.G. Visser en die onerkende baanbreker digteres Elizabeth CM Du Toit (1a), Breyten Breytenbach (1b), Antjie Krog (1c), Tom Gouws(1c) en Johann Lodewyk Marais (1d) met hierdie digvorms geëksperimenteer het.  Elizabeth CM Du Toit en AG Visser het egter nie van die geleerde kritici toe daarvoor erkenning ontvang nie. (1)  Die bekende digter Daniel Hugo se artikel: “Elizabeth CM du Toit: ‘n vergete digteres herwaardeer” (2) het vir my soos ‘n donderslag getref.

Een van die literatore het selfs so vêr gegaan om te meen dat in die Afrikaanse poësie geen voorbeeld van ‘n egte rondeel bekend is nie (3) en verwys na Louis Leipoldt se bundel “:Geseënde skaduwees” waarin twee gedigte voorkom wat die titel rondeel dra, maar nie keer reëls (refrein reëls daarin het nie.)  Hierdie skrywer haal dan J.H. Leipoldt se nederlandse gedig “De Knechts des Zomers” (4) en Han G. Hoekstra se Nederlandse gedig “De Ceder” (5) as voorbeelde aan.

In die verse van AG Visser is daar voorbeelde van ‘n triolet, rondeau en Orleans rondeel  vorme in sy debuut bundel en hy dui boonop die versvorme langs die titels aan. (5a)

‘n Geliefde mede digteres  het selfs gemeen dat ek met argaïese digvorms besig is, maar Dylan Thomas se bekende gedig “Do not go gentle into that good night” (wat waarskynlik een van die bekendste gedigte wêreldwyd is) en in die Villanelle vorm geskryf is, het by my bly spook.

Eers het ek rymende gedigte in die dertien / veertien reël formaat geskryf waar ek keer reëls (refreine) in dieselfde reëls as in die Oreleans ronddeel vorm ingebou het, maar het toe nog weg gebly van die ab rymskema om gewoond te raak aan die refrein idee.

Dit het ook onder my aandag gekom dat van die beroemde Afrikaanse digters uit die sestigers slegs rymwoorde in hulle gedigte herhaal in plaas van die hele reël. Ek voel selfs as mens jou slegs tot ‘n aantal lettergrepe of klemme bind, dit die soepelheid (vloeibaarheid) van ‘n gedig dood kan druk.

My Engelse gedigte het toe ook sterk aanvang begin neem en deur die publikasie daarvan op Engelse web werwe het ek vriende gemaak met grootste Engels skrywende digters.  Een van die groot digters Ronald Peat wat reeds verskeie kompetisies met sy Terzenelle en Villanelle gedigte gewen het,  (5i) het my bekend gestel aan die Terzenelle en Hibridanelle / Hybridanelle gedig strukture en my heelwat gehelp met my eerste engelse Hybradanelle genaamd:

Die singende valk (Vrye Vers vorm)

Ek het ‘n valk hoor skreeu,
alhoewel ‘n mite uit plaaslike legende
van hoog in die lug

soos ‘n goue warm straal
asof reg uit die son
teen dagbreek

verhewe het die note gekom toe ek
in die veld stap, met ware prag as hulle kern
het ek ‘n valk hoor skreeu

en dit was baie hoog en vêr weg
en slegs ‘n spikkel en amper deel van die son se gradiënt
asof uit die son

en met tye kon ek dit nie met my oog sien
waar dit in straal winde draai en aanhou verken
hoog in die lug

en dit was triomfantlik, amper gloeiend stralend
suiwer soos lig verander in klank
en slegs ‘n spikkel en amper deel van die son se gradiënt

en die lug was helder blou en die dag was droog
en ek was op die spoor van ‘n enkele leeu voor
ek ‘n valk hoor skreeu

en die prag wat ek vind
het my gevul asof ek ‘n vlieënde trompet hoor sing
suiwer soos lig verander in klank

en ek het daardie vlieënde jagter sien spioeneer
met kloue en bek reg om te deurboor
van hoog in die lug

en dit het my ore laat weerklink,
met ‘n resonansie,
het my gevul asof ek ‘n vlieënde trompet hoor sing

en so ‘n spesiale ding kon geen geld koop
of naboots, nie eens ‘n musiek stuk.
Ek het ‘n valk hoor skreeu
van hoog in die lug

sonder enige dissonansie
soos ‘n goue warm straal
met ‘n eie resonansie
teen dagbreek.

[Verwysing:  The Singing Hawk deur Roy Campbell.]

I. Die Triolet

Vir my is sekerlik die maklikste rondeel vorm die triolet (agtreëlig) wat lyk asof dit Elizabeth CM du Toit se gunsteling was, waarvan sy vyf geskryf het in haar debuut bundel en waarvan haar gedigte “Werklikheid” en “Gebonde” uitstekende voorbeelde is. AG. Visser het langs die titel van sy triolet “misère” aangedui dat dit ‘n triolet is en nog was dit deur die befaamde kritici misgekyk. (8a)  Mense het alreeds genoem dat van my gedigte in die Elizabeth CM Du Toit triolet vorm nie triolette is nie, kyk dan uit gebrek van kennis net na die Engelse triolet vorm.  Lees gerus Riccio (6), Van Gorp (7) en Daniel Hugo (8) se sienings oor rondeel vorms, voordat daar weer ‘n mening gewaag word.

In haar digbundel “Woud van nege en negentig vlerk” het Carina Stander twee triolette in haar gedig “Lobola” getitel I. ‘n Jong bruid vee selfs die agter plaas” en “II. Honger maak nie die rouste bone soet.”

Hierdie Franse digvorm het in die middeleeue ontstaan en bestaan uit agt lettergrepige versreëls waarvan die eerste as keer reëls (refreine) in die vierde en sewende reëls herhaal word en slegs twee rymklanke (ab) word regdeur gebruik met die volgende rymskem(s):

Du Toit  Triolet skema:  AB bA ba AB
Engelse Triolet skema:  ABaAabAB,

Hier is van my pogings as sleutels in hierdie rym formaat:

Opstekende storm (Elizabeth CM Du Toit Triolet vorm)

A Ek staan op ‘n krans waaronder die see donder dreun
B en water met swiepende vingers bruis
b en ‘n stormwind van die see af inswiepend suis.

A Ek staan op ‘n krans waaronder die see donder dreun,
b golwe breek met ‘n magtige gedruis
a deur verpletterende krag ondersteun.

A Ek staan op ‘n krans waaronder die see donder dreun
B en water met swiepende vingers bruis.

Op wag diens     (Engelse Triolet)

A Op wag diens hoor ek stewels knars,
B op en af stap,
a amper in ‘n mars.
A Op wag diens hoor ek stewels knars,
a die nat grond ruik vars
b en iewers is ‘n tent wat in die wind rond flap.
A Op wag diens hoor ek stewels knars,
B op en af stap.

II. Die rondeel

Die rondeel het groot bekendheid verwerf onder die Franse, Nederlandse en Vlaamse digters en veral die rondele van die Franse hertog Charles d’Orléans is baie bekend.  Hierdie tipe gedigte stel natuurlik hoë eise (9), met keerreëls (refreine) en die beperkte twee rym klanke (ab).  Ek het heelwat Nederlandse rondele gelees en dit het gelei dat ek veral beïndruk is met die poësie van die bekende Nederlandse digter Jean Pierre Rawie waarvan sy “verstock” ‘n uitstekende voorbeeld van die rondeel is wat gelei het daartoe dat ek self ‘n gedig met die titel verstok skryf.

Die Engelse rondeel is ‘n gedig van elf lyne in drie stansas maar in Nederlands en Frans het dit dertien of veertien versreëls

Elizabeth CM Du Toit Rondeel vorms: A1B1baabA1B1baabA1B1 (14 versreëls)
: A1B1baabA1B1A1bbaA1, (13 versreëls)

Orleans rondeel A1B1baabA1B1A1bbA1a
Nederlandse rondeel A1B1baabA1B1abbaA1

Verstok (Du Toit Rondeel vorm)

A1 Ek word deur elke meisie vermy
B1 en al die asters wat ek jaag
a wil nie een na my vry,
a al kan hulle ware liefde by my kry.
b Geen blomme of gedigte wat ek waag
a laat enige meisie kyk na my.

A1 Ek word deur elke meisie vermy
B1 en al die asters wat ek jaag
a hou by my verby,
a asof geen een ooit by my sal bly
b en dit klap my baie laag
b dat ek met geen vrou of maagd kan slaag
A1 en ek word deur elke meisie vermy.

Soos ‘n afgeknakte tak (Du Toit Rondeel vorm)

A1 Soos ‘n afgeknakte tak
B1 word ek neergebuig voor U my Heer
b en wil op my knieë aan U voete leer
a en ek’s in stukke uitmekaar geruk en swak
a en ek sien die sterre sprankel aan U hemel dak
b en die pragtige natuur wat U vereer.

A1 Soos ‘n afgeknakte verdorde tak
B1 word ek afgebreek voor U my Heer
b en U lotsbesluite slaan my teen die aarde neer
a en dit voel of ek in die duister moeras wegsak
b sonder dat ek dit enigsins kan keer
b en ek begeer ‘n teken, ster of wonderwerk om die onheil te besweer
A1 of altyd sal ek wees soos ‘n afgeknakte tak.

Daar is dinge wat mens nie kan vermy (Nederlandse Rondeel vorm)

A1 Daar’s dinge wat ‘n soldaat nie kan vermy
B1 soos die oproep instruksie wat mens wreed
b na ‘n ander wêreld bring en jou uit meet
a vir wie en wat jy moet word en bly
a en mens kan nooit ontvlugting kry,
b van geweld, doodslag, skuld en leed.

A1 Daar’s dinge wat ‘n soldaat nie kan vermy
B1 soos die oproep instruksie wat mens wreed
a met vlamme, koeëls en bomme laat ly
b en daar’s gebeure wat jy nooit kan vergeet,
b en dit word snags in drome uitgesweet
a al het jy en jou makkers onskuldiges bevry
A1 en daar is dinge wat mens nie kan vermy.

Het elke liefde vanaf die begin (Nederlandse Rondeel vorm)

A1 Het elke liefde vanaf die begin
B1 pyn wat geen een kan vermy?
b As mens daardie eerste impuls kry,
a is daar reeds leed gebou daarin?

a Hoe maak dinge dan nog sin
b dat jy soveel geluk bring aan my
A1 as elke liefde vanaf die begin
B1 pyn het wat geen een kan vermy?

a Is dit slegs jeug wat vry
b van alles staan en enige probleem oorwin
b of dompel die lewe mens blindelings in
a ‘n verhouding waarin die ek en jy
A1 self sorg vir hoe liefde is, vanaf die begin?

Die tyd flits te vinnig verby (Orleans Rondeel variasie)

A1 Ek voel die winter se eerste koue vingers aan my tas
B1 en die tyd flits te vinnig verby
b asof die laaste jare wag op my
a en ek knoop my baadjie stywer vas
a en weet ek kort eintlik ‘n ordentlike jas
b wat my van die koue kan bevry.

A1 Ek voel die winter se eerste koue vingers aan my tas
B1 en die tyd gaan te vinnig verby
a en wonder waar ek nog in alles inpas
a en alles is anders as wat dit eens was
b en dinge het ander en nuwe betekenisse gekry
b en ek’s moeg om teen die lewe voort te stry
A1 en ek voel my winter se eerste koue vingers aan my tas.

Adam en Eva [3] (Orleans Rondeel variasie)

A1 In die paradys was die wêreld ongeskonde
B1 en ek en Eva, net die twee van ons
b se harte het behoorlik gebons.
a Ons was nog sonder sonde,
a aan mekaar verbonde
b en die bye het orals rond gegons.

A1 In die paradys was die wêreld ongeskonde
B1 en ek en Eva, net die twee van ons
a het na ‘n verbode vrug gekyk en dit was ‘n pragtige ronde
b en ons het gelê op ‘n bed van dons,
b toe twee skielik, drie is: O, goeie kotteljons!
a Daar’s sonde en alles gaan ten gronde,
A1 maar in die paradys was die aarde nog ongeskonde.

III.  Du Toit Rondeau

Alhoewel ‘n weer net twee rym klanke gebruik en gewoonlik vyftien versreëls lank is, is Elizabeth CM Du Toit se gedig twaalf versreëls lank.  Streng gesproke is die notasie aB1B2aA1bC1A1B2B1aC1 vir die Du Toit Rondeau nie heeltemal korrek nie.  Die Rondeau is gewoonlik ‘n gedig van of tien of dertien lyne in Engelse verse en vyftien in Nederlandse, Vlaamse en Franse poësie. In Carina Stander se bundel “Woud van nege en negentig vlerke” is haar gedig “Om jou weg te bêre” ‘n besonderse goeie voor beeld van die Rondeau.

My gedig “Om iets pragtig te maak” is in die huidige rondeau formaat geskryf, maar my gedig “Soms verlang ek” is volgens die aanvanklike agtlynige rondeau op Guillame de Marchaut se metodiek geskryf.  I. D. Du Plessis se  “Rondeau” in sy bundel “The passing show” is ook volgens die heel eerste rondeau struktuur geskryf.

My vers is ook in twaalf lyne geskryf.  Die nie rymende herhalende lyne (aangeteken as C1) is ‘n halwe lyn en is ‘n herhaling van die eerste deel van die eerste lyn. Ek sluit my Engelse vers in hierdie vorm in aangesien dit die enigste Roundeau is wat ek nog geskryf het.
Om iets pragtig te maak (rondeau)

Om iets pragtig te maak, skryf ek snags woord op woord
dink hot en haar, van bakboord na stuurboord
verdwaal soms in my gedagtes in ‘n labirint,
probeer die weg na die regte woorde vind,
op die probleme van die lewe ‘n antwoord.

Soms ritsel my studeerkamer se gordyne in die wind
en ek weet my land is deurtrek deur geweld en moord,
maar vir die omgewing hou ek my opsetlik blind
om iets pragtig te maak.

Deur die nag dink en skryf ek onverstoord
staar soms in die duister deur die venster noord,
en selfs as my pen se ink naderhand my vingers tint
soek ek steeds soms na woorde soos ‘n onskuldige kind
wat tussen ‘n verskeidenheid ryp vrugte verdwaal in ‘n boord,
om iets pragtig te maak.

Soms verlang ek (rondeau op Guillame de Marchaut metodiek)

Soms verlang ek dat jy my ‘n soentjie gee
en vir jou liefde smag ek;
die ou lewe swiep my maar net gedurig mee
en gedurig moet ek dag op dag vertrek,
om ‘n nuwe wêreld te ontdek,
maar ek wil jou by my hê en soms verlang ek dat jy,
naby aan my is en sonder jou wil ek vrek,
soms verlang ek dat jy…

[Verwysing: Sien die gedig “Rondeau” deur I. D. Du Plessis in sy bundel “The passing show.”]

IV.  Die villanelle

‘n Villanelle is ‘n liriese of pastorale gedig van negentien lyne met net twee rymklanke (ab) regdeur. Dis meer ingewikkeld as ‘n rondeel en bestaan uit vyf drie reëlige strofes en ‘n vier reël slot strofe. ‘n Villanelle is dus vyf tersette en een kwatryn. Die eerste reël van die eerste strofe is die keerreël (refrein) in strofes twee en vier en die laaste reël (derde versreël) van die eerste strofe is die keerreël (refrein) in strofes drie en vyf.

Carina Stander skryf ook ‘n uitstekende villanelle getitel “Middelwater” in haar “Woud van nege en negentig vlerke” digbundel.

Riccio meen dat hierdie rondeel vorm maklik lyk totdat die skrywer dit lewe probeer gee
in ‘n natuurlike manier en dit nie meganies laat word nie. (11)
Villanelle rym skema = A1, b,A2/ a, b, A1/ a, b,A2/ a, b, A1/ a, b,A2/ a, b, A1,A2/
Elizabeth CM du Toit Villanelle skema: A1bA2abA3abA2abA3abA2abA1A2

Hier is die villanelle wat ek in Engels geskryf het na gelang van Dylan Thomas se “Do not go gentle into that good night,” wat by aanhou spook het:

Blaze through your days (Villanelle)

A1 Do not fade when life nears its end,
b old age should rage with the knowledge of its years,
A2 till its last power is spend,

a even if your days are just a godsend
b and longing brings its tears
A1 and you do not know to what end.

a Blaze through your days to transcend
b the expectations of others and their fears
A2 even if your reserves are spend.

a Do what you want to, even if it takes all weekend
b to carry it through and your body feels as if pierced by spears,
A1 even if you feel completely at an end,

a call on every one you hold dear and every fiend and friend
b before the last days nears
A2 while there is still time to spend

a to express your will, to let them comprehend
b that you are still living, even if things are too far in arrears
A1 and you my mother, live on to the end
A2 even if you hate or love me, until your last breath is spend.

[Reference: Do not go gentle into that good night by Dylan Thomas.]

Vlam deur jou dae (Vrye vers vorm)

Moet nie verwelk as die lewe naby aan sy einde kom,
ouderdom moet woed met die kennis van sy jare
totdat die laaste krag uitgeput is,

selfs as jou dae net ‘n gawe van God af is
en verlange trane bring
en jy nie weet waarom.

Vlam deur jou dae om die verwagtinge
en vrese van ander te oortref,
selfs al is jou reserwes reeds uitgeput.

Doen wat jy wil, al neem dit ‘n hele naweek
om deur te voer en al voel jou liggaam asof spiese daardeur steek,
selfs as jy heeltemal magteloos is.

Besoek elkeen wat jy bemin en elke vyand en vriend
voordat jou laaste dae verskyn,
terwyl daar nog tyd is om te spandeer

om jou wil uit te druk, om ander te laat begryp
dat jy nog lewe, selfs al het dinge reeds te vêr gegaan
en U my moeder, lewe aan
selfs al haat of bemin U my, totdat U nie meer kan.

[Verwysing: Do not go gentle into that good night deur Dylan Thomas.]

Hierdie winter (Villanelle)

A1 Die lug hang grou
b en die koue vreet saam met die reën
A2 en daar’s vanoggend mis wat om my vou.

a Ek’s nou doelloos leeg sonder jou
b en ek weet nie wat jou woorde meen,
A1 maar jy’t nou geen plek vir my en my lewe is grou

a Die leed hou
b soos ’n mantel om my heen,
A2 terwyl doelloosheid om my vou.

a My wange is nat en daar’s druppels wat daaraan vasklou
b en dis nie reën en dis nat geween
A1 en ek weet nie waar om lig te vind in die grou

a Alles is duister en wonder wat my toekoms inhou
b en jou hart is van steen
A2 terwyl pyn en duisternis om my vou.

a Ek soek na ’n hemel wat saffier blou
b in die toekoms oor ons lewens hang en soos die Heer se seën
A1 dwarsdeur donkerte en betekenlose grou
A2 soos ’n nuwe môre oop vou.

Uit ‘n boemelaar se hand (Villanelle)

A1 ’n Koerant waai uit ’n boemelaar sy hand
b en die koue kruip tot by sy hart
A2 en ’n vlam laat ’n stinkende zol brand.

a In die verte lê ’n kar se band
b en die bottel spiritus is nog net kwart
A1 en ’n  duif pik krummels uit ’n boemelaar sy hand.

a In die maanlig glinster sy enkele tand
b en daar’s ou smart
A2 wat in sy borskas saam met  ’n stinkende zol brand.

a Hy staan aan die kant
b van die pad, waar kinders hom tart
A1 en die bottel val uit  ‘n ou boemelaar sy hand.

a Blou vog loop oor die pad se rant
b en die ou man wat verward
A2 daarna gryp se stinkende zol laat sy hand brand.

a Vir hom is alles nou waardeloos soos sand
b en die lewe speel met hom sy eie part
A1 en ’n koerant waai uit ’n boemelaar se hand
A2 en ’n vlam laat nog ’n stinkende zol brand.

Ek het soldate gesien (Villanelle)

A1 Ek het soldate gesien
B met oë wydgesper en oop,
A2 wat in vrees, pligsgetrou hulle land dien

a en hulle was nog net seuns en bowendien
b van alle menswees ontknoop.
A1 Ek het soldate gesien

a vroeg oud, koud in hart en siel en buitendien
b by waansin verby en van  rede afgestroop
A2 wat in vrees, pligsgetrou hulle land dien

a sonder enige roem of aansien
b het hulle die vyand doodveragtend stormgeloop.
A1 Ek het soldate gesien

a seuns wat van hulle vrye wil afsien
b en vasgevang was in ‘n lewensloop
A2 wat in vrees, pligsgetrou hulle land dien

a seuns wat nie die redes van die oorlog insien,
b later deur politikusse uitverkoop.
A1 Ek het soldate gesien
A2 wat in vrees, pligsgetrou hulle land dien.

Ek het soldate gesien II (Villanelle variasie)

A1 Ek het soldate gesien
B met oë wydgesper en oop,
A2 wat in vrees, pligsgetrou hulle land dien.

a Hulle was nog net seuns en bowendien
b van alle menswees ontknoop
a en meganies soos ‘n geoliede masjien.

a Vroeg oud, koud in hart en siel en buitendien
b by waansin verby en van  rede afgestroop
A2 het hulle in vrees, pligsgetrou hulle land gedien.

a Sonder enige roem of aansien
b het hulle die vyand doodveragtend stormgeloop
A1 en jong dapper soldate het ek gesien.

a Seuns wat van hulle vrye wil afsien
b en vasgevang was in ‘n lewensloop
A2 om in vrees, pligsgetrou hulle land te dien.

a Seuns wat nie die redes van die oorlog insien,
b later deur politikusse uitverkoop,
A1 het ek as soldate gesien
A2 wat in vrees, pligsgetrou hulle land dien.

V. Lewis Turco se terzanelle vorm

Waarom ek terzanelle hierby noem is dat hierdie digvorm ‘n integrale deel uitmaak van hibridanelle / hybridanelle wat ek later in hierdie artikel bespreek.

Die terzanelle is ‘n negentien lyn gedig met vyf triplette, wat aaneensluit en ‘n finale kwatryn. Die middelste lyn van elke kwatryn is ‘n keerreël (refrein) en word die finale lyn van die volgende triplet, behalwe dat die middelste lyn van die vyfde koeplet herhaal word in die kwatryn en word gewoonlik in jambiese pentameter of  jambiese tetrameter geskryf alhoewel ek my nie laat bind deur die aantal reël lettergrepe of klemme nie, aangesien dit die vloeibaarheid van die gedig skade kan doen en die woorde op ‘n lyn vir my self ontstaan en ek glo soos Van Wyk Louw dat mens nie oor die struktuur of woorde moet bekommer nie, aangesien hulle aan jou gegee word, maar eerder moet seker maak watter gees jou lei. (10)

Die Stansa Patroon is as volg:
A1 B A2
b C B
c D C
d E D
e F E
f A1 F A2
of die laaste stansa alternatief:
f F A1 A2

(In hierdie patroon beteken hoofletters altyd om die lyne en ryme te herhaal.)

Ek wil met jou wees (Terzanelle)

Ek wil met jou wees
en die tye vat hulle gang,
maak dat ek die skeiding vrees,

gedurig na jou verlang
met die afstand wat ons skei
en die tye vat hulle gang

kom staan tussen jou en my
en ek weet nie wat om te maak
met die afstand wat ons skei.

As ek verlangend raak
dink ek net aan hoe lief ek jou het
en ek weet nie wat om te maak

want ek word jou belet
en as ek dinge in ‘n ander lig aanskou
dink ek net aan hoe lief ek jou het
asof ek jou dig teen my hou.
Ek wil met jou wees
en as ek dinge in ‘n ander lig aanskou
maak dat ek die skeiding vrees.

Daar’s tralies rondom my (Terzanelle)

Daar’s tralies rondom my
en met tye kan ek nie
die versperring, die dinge wat skei

breek en soos ‘n dier is ek afgehok, soos ‘n agie
kyk ek na die mense, dinge wat verbygaan
en met tye kan ek nie

my oë slaan
na anderkant die draad wat alles opbreek
kyk ek na die mense, dinge wat verbygaan

en met elke dag wat aanbreek
maak dinge minder sin, sonder ‘n nuwe begin
na anderkant die draad, wat alles opbreek

is ek afgehok sonder ‘n lewe met jou daarin
en weet ek nie waar om iemand te vind om my lewe te ontsluit,
maak dinge minder sin, sonder ‘n nuwe begin

en ewiglik dien ek ‘n vonnis uit.
Daar’s tralies rondom my
en weet ek nie waar om iemand te vind om my lewe te ontsluit,
die versperring, die dinge wat skei.

Goue persiese kat (Vrye vers vorm)

Jy loop tot reg by my
met jou gestreepte stert in die lug
en jagter van die hoogste graad

met goue gemmer hare
word jy ‘n masjien met kloue en slanke kurwes
met jou gestreepte stert in die lug

gereed met senuwees
tot die uiterste gespan
word jy ‘n masjien met kloue en slanke kurwes,

skielik met elektrisiteit, sluip jy tot die heining
staar jy vasgevang, reg om aan te val
tot die uiterste gespan,

wag jy geduldig soos ‘n laksman
met selfversekerdheid
staar jy vasgevang, reg om aan te val,

verloor belangstelling en sonder geluid
loop jy tot teenaan my
met selfversekerdheid
‘n jagter van die hoogste graad.

As ‘n swerwer op hierdie aarde (Vrye vers vorm)

Vêr van my geboorte plek
dryf die lewe my
as ‘n swerwer op hierdie aarde

wat nooit werklik vry is
na ‘n ander kus
dryf die lewe my

vêr van die een wat ek bemin
om bederfde lug in te asem
na ‘n ander kus

waar die dood sluipend orals wag
bekruipend soos ‘n wilde dier wat grom
om bederfde lug in te asem,

vêr van my huis en jou my liefling
op soek na die antwoorde van die lewe
bekruipend soos ‘n wilde dier wat grom

is ek nou vry van mens en vrou,
vêr van my geboorte plek
op soek na die antwoorde van die lewe,
as ‘n swerwer op hierdie aarde.

VI.  Hybridanelle

Die hybridanelle is ‘n agt en dertig lyn digvorm wat ontstaan het by Erin Thomas wat ‘n kombinasie is van die villanelle en Lewis Turco se terzanelle vorms.

Dit word geskep deur die villanelle en terzanelle stansa patrone saam te bring. Wat beteken dat die villanelle en terzanelle refreine en eindlyn skemas mekaar padda spring.  Die lyne se lengtes word nie vasgestel nie, maar moet tog nie te lank word nie.

Vir die een of ander rede hou ek meer van die A formaat en skryf hoofsaaklik gedigte daarin as ek hibridanelle / hybridanelle skryf. Volgens Erin Thomas begin ‘n hibirdanelle / hybridanelle  basies met ‘n villanelle terset en eindig dit met ‘n terzanelle kwatryn.  Nogtans word mens nie net tot twee rymklanke beperk nie.

Vorm A:
A1bA2 C1D1C2 abA1 cE1D1 abA2 eF1E1 abA1 fG1F1 abA2 gH1G1 abA1A2 hC1H1C2

Vorm B:
A1B1A2; C1dC2; bE1B1; cdC1; eF1E1; cdC2; fG1F1; cdC1; gH1G1; cdC2; hA1H1A2; cdC1C2

Vroeg lente (persiese kwatryn gereedskapstuk)

Here God, kan ons vir U teenwoordigheid vra,
dat alle blomme wat hierdie lente dra
‘n teken is van U groot genade
en laat U reën, son en wind bydra

tot die wonder wat die somer ontsluit
en laat daar nou gras, blare en blomme uitspruit
in die sieraad van kleure uit U hand

Vroeë lente (hibridanelle / hybridanelle)

A1 Here God, kan ons vir U teenwoordigheid vra,
b vir ‘n teken van U groot genade
A2  en laat U reën, son en wind bydra

C1 tot die wonder van die somer wat ontsluit
D1 in die sieraad van kleure uit U hand
C2 en laat daar nou gras, blare en blomme uitspruit

a en waar dit maar bra
b droog is, hoor my jeremiade.
A1 Here God, kan ons vir U teenwoordigheid vra

c dat voëltjies in boomtakke fluit,
E1 liede sing oor die wasdom wat U bring
D1 in die sieraad van kleure uit U hand

a dat alle blomme wat hierdie lente dra
b ‘n teken is, dat U steeds behoed teen die kwade
A2 en laat U reën, son en wind bydra

e tot nuwe lewe wat ontspring,
F1 laat selfs my eiewaan sterf, dat my lewe
E1 liede sing oor die wasdom wat U bring

a  en laat ek my na U wil gedra
b en verwyder alle besmetting, alle skade.
A1  Here God, kan ons vir U teenwoordigheid vra,

f dat ek aanhou kyk, na U hoog verhewe
G1 dat die foute van my jeug verdwyn
F1 laat selfs my eiewaan sterf, dat my lewe

a gerig word op die pad waarop U lei, U liefde oordra
b dat ek soos ‘n lig, ‘n ster skitter in U Pleiade
A2 en laat U reën, son en wind bydra

g dat my lewe helder vir U skyn,
H1 dat ander U karakter in my sien
G1 dat die foute van my jeug verdwyn

a dat elke woord en daad van my, U grootse liefde voordra
b aan die ganse mensdom, my kinders en my gade.
A1 Here God, kan ons vir U teenwoordigheid vra,
A2 en laat U reën, son en wind bydra

h dat almal weet watse wonderlike God ek dien,
C1 tot die wonder van die somer wat ontsluit,
H1 dat ander U karakter in my sien
C2 en laat daar nou gras, blare en blomme uitspruit.

[Verwysing: Vroegherfs deur NP van Wyk Louw.]

Verskynsel (Hibridanelle / Hybridanelle)

A1   Hoe donker is die nag
b     dat selfs die Suiderkruis vervaag
A2  ure lank voor die dag

C1  daarmee saam is ook al die ander sterre weg
D1  asof hierdie duisternis alles insluk
C2  en selfs die maan is onder hierdie beleg

a     en sterrekykers wonder wat op die mensdom wag
b     terwyl die donkerte hulle wetenskap en toerusting uitdaag
A1  en hoe donker is die nag.

c    Geen wetenskap kan dit verklaar en daar is iets oneg
E1  waaruit hierdie duisternis kom wat selfs die son verberg
D1  asof hierdie duisternis alles insluk

a    en die verskynsel trek die ganse mensdom se aandag
b    en daar’s politici wat wilde teorieë waag
A2  ure lank voor die dag

e    en godsdienstige leiers word vererg
F1  aangesien die sekulêre wêreld nie die impak sien
E1  waaruit hierdie duisternis kom wat selfs die son verberg

a     en hulle lê aanklag na aanklag
b     en daar word beraadslaag met die kernvraag:
A1   hoe donker is die nag?

f     Predikers verrys en meen dat die mens nie God reg dien
G1  en dat die oordeel nou op hande is
F1  aangesien die sekulêre wêreld nie die impak sien

a    en dat iets die aarde gaan tref met ‘n slag
b    en die mens se lot word luidkeels beklaag
A2  ure lank voor die dag

g     asof God die mens se lot beslis,
H1  asof die heelal stilstaan
G1  en dat die oordeel nou op hande is

a     en mense dink selfs aan ‘n buite ruimte aanslag
b     en vervaard word op en af gejaag.
A1  Hoe donker is die nag
A2  ure lank voor die dag

h     en die duisternis hou net aan en aan
C1  daarmee saam is ook al die ander sterre weg
H1  asof die heelal stil staan
C2  en selfs die maan is onder hierdie beleg.

Slot

Ek is geneig om met Daniel Hugo saam te stem dat Elizabeth CM du Toit nie die waardering wat sy moes kry geag was deur letterkundige kritici nie. (12)  Hierdie siening huldig ek ook oor die rondeel gedigte van AG Visser aangesien beide digters baanbrekers werk op die gebied van moeilike Franse digvorms in die rymarm Afrikaanse taal gemaak het.

Die vergete digteres
 
Die jare het so vinnig verby gegaan
dat niemand op haar ag slaan nie.
Literatuur historici sien Elizabeth CM du Toit se werk
as selfvertroetelend, beeldloos en te beperk.
Hulle sien nie hoe sy en AG Visser speel
met verskillende vorme van rondeel
en die jare het so vinnig verby gegaan
dat niemand op haar ag slaan nie.
Nog minder mense kan verstaan
waaroor triolet, rondeau en villanelle gaan
en sommiges glo dat dit glad nie in Afrikaans bestaan nie
en is verveel met haar gebruik van wit en geel en so aan
en dit is jammer dat niemand op haar ag slaan nie

Die Afrikaanse gedig “Ballade van die Grysland” van Dirk Opperman is baie soos die  hybridanelle, maar hou nie by Lewis Turco se terzanelle formaat..  Dit het ook regdeur die drie lyn formaat en in drie afsonderlike dele geskryf naamlik: I, II and III.  Die rymskema daarvan is: I:  aba cdc efe ghg  iji klk mnm,  II: O1pO2 P1qP2 rsr tU1t O2vo wxw yzy and III:  aa/bb/aa cc/dd/cc O2/ee/O1 O2/ff/o u/gg/U1 hh/ii/hh P1/jj/P2.

Dirk Opperman se gedig “Man met die flits” het ook ‘n intressante rymskema.  Dit het sewe lyne van twee versreëls met notering: A1a B1b aA1 cc dd bB1 ee.

Sy gedig  “Draaikewers”  is geskryf as dertien twee lyninge verse met rymskema: A1a B1B2 cc D1D2 B1B2 ee B1B2 ee ff A1a D1D2 B1B2 B2b.

‘n Letterkundige van formaat, wat ‘n grootse digter is het van my verneem of ek rym vorms soek in ‘n woordeboek?  Sy idee lyk vir my na ‘n bykans onbegonne taak.  Ek probeer my rymvermoëns druk sodat rymwoorde self vir ingewikkelde vorms voortspruit en glo deurgaans soos die groot leermeester (10) dat woorde aan my gegee word deur die almagtige skepper van hemel en aarde.

Nogtans het ek werk metodieke ontwikkel, soos die stukkie uit “vroeg lente” in persiese kwatryn formaat  wat ek hierby net ‘n gedeeltetjie van ingesluit het, waarvandaan ek dan die hibridanelle / hybridanelle vorm ontwikkel tot ‘n gedig in daardie versvorm.

Daar’s talle gedigte wat ek in die digvorms wat ek hier bespreek geskryf het, wat nie hier weergegee word nie, insluitende eie vorms wat ek nie hier bespreek nie. Hierdie paar voorbeelde moet dus nie beskou word as die kanon van my verse in hierdie vorms nie.  Wie is die digter eintlik om te bepaal watter gedigte van hom of haar eintlik die bestes is?

Voetnotas:

(1i) GJ Beukes sê van AG Visser: “A.G. Visser se waarde as digter is in die twintergerjare heeltemal te hoog aangeslaan.  Maar gesien die tyd van versanding in die Afrikaanse poësie toe sy eerste werke verskyn het, kan mens hierdie oorbeklemtoning van sy waarde begryp.  Toe na die vernuwing van 1934 het die slinger weer te ver na die ander uiterste teruggeswaai en is Visser se bedrae buite verhouding verklein en genereer…. Eers vandag, met meer jare wat tussenin verloop het, kan ‘n mens A.G. Visser se bydrae na juister waarde probeer beoordeel – selfs al mag dit nog nie die finale waardebepaling wees nie.”  GJ Beukes en FV Lategan. Skrywers en rigtings. JL Van Schaik, Pretoria, 1973. P42.

(1a) “Tog bly die genoemde literatore in gebreke om ‘n baie opvallende eienskap van die bundel uit te wys:  Du Toit se volgehoue en redelike vaardige hantering van min gebruikte versvorme in die Afrikaanse digkuns.  Ek bedoel die rondeel en die villanelle word gekenmerk deur patroonmatige herhaling van versreëls (die sogenaamde keerreëls) wat verstegnies en sintakties ‘n groot uitdaging aan die digter stel.  Verder stel albei vorme die beperking van slegs twee rymklanke per gedig.  ‘n Beginner wat die vorme aandurf, kan altyd op die simpatie en bewondering van mede-digters reken.”  Daniel Hugo. Elizabeth CM du Toit: ‘n vergete digteres herwaardeer.  Tydskrif VIR LETTERKUNDE 41 (1) / Somer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. 2004. P40.

(1b.) Breyten Breytenbach se Villanelle: vir Paul Verlaine “is nogal geforseerd en kripties.”  Daniel Hugo. Tydskrif VIR LETTERKUNDE 41 (1) / Somer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. 2004 P46.  Breytenbach, Breyten. 1984.Buffalo Bill – die tweede bundel van die ongedanste dans. Emmarentia: Taurus.

(1c) “Beide die gedigte van Krog en Gouws mis die wesenlike liriese aard van die villanelle vanweë te lang versreëls.”  Daniel Hugo. Tydskrif VIR LETTERKUNDE 41 (1) / Somer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. 2004 P46. Gouws, Tom. 1995. Troglodiet. Kaapstad: Human & Rousseau.  Krog, Antjie. 1989.

(1d) “Vir ‘n werklike geslaagde villanelle moes die Afrikaanse poësie leser tot 1997 wag, toe Johann Lodewyk Marais se gedig “Nonnetjie-eend” in die bloemlesing ons klein en silwer planeet verskyn het.”  .”  Daniel Hugo. Tydskrif VIR LETTERKUNDE 41 (1) / Somer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. 2004 P45.  Marais, Johann Lodeywyk & Zudderent, Ad.  (samestellers). 1997.  Ons klein en swierige planeet.  Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing. Pretoria. JL van Schaik.  Marais, Johann Lodeywyk. 2002. Aves – Gedigte.  Pretoria. Protea Boekhuis.

(1).  Gerrit Dekker meen Elizabeth CM Du Toit se poësie bevat “…jeugdige stemminge, dikwels nie sonder bekoring nie, maar die stemminge is vaal en yl en eentonig, net soos die telkens terugkerende adjektiewe en beelde wat dit moet suggereer. Telkens hoor ons van:  bleek, misblou, vaal, grys, wit en byna in elke gedig geel!” Dekker G.1961. Afrikaanse literatuurgeskiednis, Kaapstad: Nasionale boekhandel Bpk. P 269.

Elizabeth CM Du Toit se gedigte word nie eens bespreek in GJ Beukes en FV Lategan se “skrywers en rigtings” nie en daar word ook geen lig gewerp op die Triolet en Villanelle vorms van AG Visser nie. GJ Beukes en FV Lategan. Skrywers en rigtings. JL Van Schaik, Pretoria, 1973.

Rob Antonissen skryf:  “Elizabeth CM du Toit se in die verbygaan (1945) kan in die begin bekoor met presieuse belydenis, maar poseer met ‘n op die duur alte aaklige voorliefde vir bleek en “geel” kleure.”  Antonissen, Rob. 1973. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Kaapstad. Nassou Bpk. P 288.

In die 1980 weergawe van TT Cloete se “Die Afrikaanse literatuur sedert sestig” word Elizabeth CM du Toit nie eens gemeld nie.

Selfs JC Kannemeyer sê: “beeldlose natuurverse, liefdesgedigte met ‘n selfvertroetelende verdieping in eie leed en bespiegelende poësie met vae vrae oor die lewe.”  Kannemeyer, JC. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II. Pretoria. Academica. P209-210.

(2) Elizabeth CM du Toit: ‘n vergete digteres herwaardeer. Tydskrif VIR LETTERKUNDE 41 (1) / Somer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. 2004 P39-47.

(3) Lutting, M 1967. Digters en digsoorte. Johannesburg: Afrikaanse Pers-boekhandel P4-6.

(4) J.H. Leipoldt.  Verzamelde Werk I, Brusse, Van Oorschot.

(5) Han G. Hoekstra.  Panopticum, J.M. Meulenhoff, Amsterdam.

(5a) “In Visser se debuut bundel “Gedigte,” van 1925, staan daar ‘n voorbeeld elk van die rondeau (“Is dit dan reg?”), die Orleans-rondeel (“Man en vrou”)  en die triolet (“Misère”).  Visser doen selfs die moeite om by elke gedig die versvorm aan te dui.” Daniel Hugo. Elizabeth CM du Toit: ‘n vergete digteres herwaardeer.  Tydskrif VIR LETTERKUNDE 41 (1) / Somer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. 2004. P43.

(5i) Naamlik: “Thinking About The Sea (A Terzanelle for Jacques-Yves Cousteau)”, “The Swing “ (Terzanelle) en sy villanelle “Baby Sleepy Eyes.” Hy het ook ‘n afskrif van sy ruwe kopie van sy eerste poging tot ‘n hybridanelle (‘n grootse gedig) naamlik “The Light And Sound” aan my gestuur.

(6) Riccio, Ottone M. 1980.  The intimate art of writing poetry. New York: Prentice Hill Press.

(7) Van Gorp, H. e.a. 1980. Lexicon van literaire termen. Leuven: J.B. Wolters N.V.

(8a) Visser AG. 1981. Versamelde gedigte. Kaapstad. Tafelberg.

(8) Daniel Hugo. Elizabeth CM du Toit: ‘n vergete digteres herwaardeer.  Tydskrif VIR LETTERKUNDE 41 (1) / Somer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. 2004. P39-47.

(9) “Hierdie langer versvorme stel natuurlik hoë eise aan die digter se rymvermoë.” Daniel Hugo. Elizabeth CM du Toit: ‘n vergete digteres herwaardeer.  Tydskrif VIR LETTERKUNDE 41 (1) / Somer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. 2004. P42.

(10) “Ek wil vir jong skrywers (of altans: digters) byna die evangeliese raad gee: “wees nie bekommerd oor wat julle gaan sê of hoe julle dit moet sê nie – dit sal vir julle gegee word.”  Maar dan sal ek tog hierdie ander stukkie raad moet bygee:  “Ondersoek die geeste; kyk naarstiglik wie dit is wat jou die inspirasie gegee het;  moet nie jou eie gebreke as geinspireer beskou nie.”  N.P. Van Wyk Louw. Rondom eie werk. Tafelberg. 1970 P85.

(11) Riccio, Ottone M. 1980.  The intimate art of writing poetry. New York: Prentice Hill Press. P105.

(12) “Elizabeth CM du Toit is nie deur die literêre kritiek genoeg krediet gegee vir haar baanbrekerswerk met die aanwending van ingewikkelde klassieke Franse versvorme in ‘n rymarm taal soos Afrikaans nie.”  Daniel Hugo. Elizabeth CM du Toit: ‘n vergete digteres herwaardeer.  Tydskrif VIR LETTERKUNDE 41 (1) / Somer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. 2004. P46.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed