41 Die Idille
41 Die Idille
Die oorspronklike idille was ‘n kort, eenvoudige en beskrywende selfstandige gedeelte wat die landelike lewe idealiseer in ‘n veel langer epiese gedig. Hierdie tipe gedig het ‘n landelike konnotasie gekry met die werk van digters in die tweede en derde eeu v.c. soos Bion, Thoecritus en Moschus. Digters in groot stede en howe van koninkryke het dikwels ‘n prentjie van die eenvoudige en onbedorwe lewenswyse van boere, vissers en herders geskets. Mens vind ook die idille in die agtiende eeu soos byvoorbeeld “De Verjaarsdag” van ACW Staring, “Hermann und Dorothea” van Goethe en “Evangeline” van die Engelse digter Longfellow. In sy gedig “Idylls of the King,” het Alfred Lord Tennyson die vroeë betekenis van die woord idille tot ‘n eie reg laat kom.
Die Idille is ‘n kort beskrywing in vers vorm of prosa van ‘n prentjieagtige skets of gebeurtenis, veral in die landelike lewens bestaan. Dit is ook ‘n episode wat in hierdie tipe omstandighede afspeel, veral as ‘n liefdes verhaal. (1)(2)
Die Idille word beskou as ‘n kort eenvoudige gedig, veral een wat die daaglikse lewe in die natuur of landelike omgewing beskryf, wat ‘n tikkie romanse daarin het, of ‘n soortgelyke samestelling wat in prosa geskryf is; ‘n gebeurtenis of of skets prent wat ‘n bewonderenswaardige onderwerp vir so ‘n gedig skets. Die Griekse woord “eidullion” beteken klein prentjie. (3)
Die HAT beskryf ‘n idille as ‘n “gedig waarin die geïdealiseerde landelike lewe beskryf word. ‘n Liefdesverhouding gekenmerk deur opregtheid en onbevangenheid.” (4)
Hierteenoor stem ek nie met M. Luitingh saam dat ‘n idille noodwendig ‘n gedig van epiese lengte is nie. (5) Dit het later selfstandig ontwikkel tot ‘n veel korter gedig, soos wat ek hierbo aandui.
In Afrikaans het Jan FE Celliers sy beroemde “Martjie” geskryf wat ‘n besonderse goeie voorbeeld van die idille is waar die Sondagsrus byvoorbeeld so pragtig op ‘n Bolandse plaas geskets word, met die heimwee van die stedeling wat ook tot uiting kom. Celliers het egter teruggegaan na die oorspronklike epiese vorm waaruit die idille kom.
In sy versroman “Die onderwaterweg,” skryf Louis Esterhuizen ‘n gedig wat hy “(Idille)” noem waarin die “kleur aan oordadige blomme” en “bome vol voëls” al is wat mens aan die natuur herinner. Daar is geen sprake van ‘n landelike prentjie wat hier geskilder word nie en ek wonder sterk of hierdie gedig voldoen aan die idee van ‘n idille aangesien die natuurbeelde maar baie yl is. Mens kan seker ‘n gedig betitel hoe jy dan ook wil. Sy gedig “Suiker,” in dieselfde versbundel is vir my egter ‘n veel beter voorbeeld van ‘n idille aangesien die landelike so pragtig ineenvloei met die liefde van die twee mense, waar mens die vrou kan sien in jou geestesoog wat die suikerriet dra.
My gedigte “Sondag oggend,” “Nou trek skaduwees lang lyne” en “‘n Sondag in Pretoria” het elemente van die idille maar is nie in die werklike sin van die woord idilles nie, aangesien die landelike elemente ontbreek alhoewel die gedig “Nou trek die skaduwees lang lyne” baie naby daaraan kom:
Sondag oggend
Straataf slaap die bure laat,
party maak gereed vir ‘n laat ontbyt
langs die braaivleis vuur
aangesien niemand voor agt vir werk hoef te roer
ander wil iets uniek doen
soos om op ‘n dam te gaan waterski,
rugby of krieket in die straat te speel
of die kinders en vrou
uit te vat om te gaan eet
of hulle volg die kerkklok wat beier
na die plek van aanbidding,
maar wie kan sê
wat die prokureur bou
agter sy tralies,
dalk ‘n ruimtetuig na Mars?
Nou trek skaduwees lang lyne
Nou trek skaduwees lang lyne
terwyl die son laer sak,
die buurman sy eerste botteltjie knak,
teen die rant sit rooi aalwyne
soos spikkels, ou tannies staan in deurkosyne
en op ‘n huis se dak
lê katte in die son en bak,
daar’s ‘n buurvrou wat na straat loer deur gordyne
en ek wonder of ek jou vanmiddag gaan sien
as die eerste motors van die werk af kom,
die straatligte begin brand
en dis met skemer nog ‘n groot miskien,
in die straat speel kinders van elke ouderdom
en ‘n ouerige paar stap verby en hulle is hand aan hand.
‘n Sondag in Pretoria
Met kort mou hemde aan,
is daar mans wat met bier bottels staan
waar ‘n rokie by ‘n braaivleis vuur trek,
geselsend die braaier bystaan
en een water uitstrooi as die vuur te erg opvlam,
die vleis elke nou en dan bydam
om dit met ‘n klein knyp tang om te draai
en die manne drink hulle dop en dam
terwyl die klein goed rond baljaar
soms gillend met mekaar
verby hardloop
en op bevel stiller speel en bedaar
en ‘n entjie weg sit die vrouens en klets,
vertel dinge wat mense in ‘n ander lig skets
en lag byna onderduims saam
maar die ouer dames is nog ouderwets
ryg bevele uit op die buite tafel reg te kry,
sê aan een waarom dit beter is om tuis te bly
as om in die goddelose stad te werk
en ‘n paar raak met mekaar aan die stry.
My volgende gedigte is na my mening beter pogings tot die idille:
Idille
Soms was daar dae wat die son
warm in die somer middag hang,
as ons luilekker langs mekaar kon lê
met die geur van jasmyn, katjiepiering
en laventel wat in swiep op ‘n warm wind.
Soms was daar dae wat ons tortelduiwe
in die groot ou peperboom kon hoor koer,
hoe die klokkies op die stoep
die wind se refrein jubelend speel
as ons saam na mekaar lê en kyk.
Soms was daar dae wat jou vingers
deur myne vleg, my hand op jou bors vasdruk
terwyl jou hare roesbruin oor my bors uitsprei,
jy my met die vuur van passie vir oomblikke beskou,
voor ons tederlik vir ‘n ewigheid in mekaar versmelt.
Soms was daar dae wat die donder buite klap,
die honde bang in die huis in vlug,
ons die reën kon ruik, sien hoe die woeste wind
rukkend deur die aartappelbome gaan,
maar oor ons het ‘n rustige reënboog bly hang.
Vrede, ‘n tipe dieper rus was orals
en die tuin was pragtig soos Eden,
die stad se rumoer iewers vêr weg
as jy my met al jou liefde bemin
was oomblikke en dae gelukkig, goed en reg
maar nou is dit slegs idilliese herinnerings
wat dae, nagte en ‘n vergete lewe
soms met tye terug wil bring,
as ons wêrelde uit mekaar uit leef,
in die dolheid van die stad vasgevang.
Terwyl lusern blom in die lande
Terwyl lusern blom in die lande
het ek die son aanskou oor die rante
het jy ‘n kitaar gehou in jou hande
met die hitte wat val aan alkante
was daar dassies wat aan die koppies vasklou
waar die son ‘n groot skaduwee gooi,
opskarrel waar daar rotse vernou
was daar aalwyne blommend rooi.
By die rivier waar vink op vink
in ‘n glorieryke somerdag
by hulle nessies oor die water rinkink
het jy uitbundig vir my flou grappe gelag,
net waar ons met mekaar kon vry
tussen die mielies in verste landjie
waar die blou lug kobalt oor ons sprei
of bo op die hoogste randjie
het die somer ons glorieryk gevang
in die tye van ons verlede
het jou strooihoed oor jou kop gehang
en nou in hierdie wonderlike hede
is ons beide gelukkig en tevrede,
is dit of ons somer nooit ‘n einde kan kry,
bid ons saans as ‘n paartjie ons gebede
dat ons dae altyd so sonnig moet bly.
Lieflik in sy oë
‘n Boer loop na sy perd en dis weer lente
en die aarde is sag onder sy voete na die reën.
In die verte ploeg ‘n rooi Massy Ferguson trekker,
trek netjiese lyne en hy’s nog die baas
en dis vroeë lente met alles lewend wat juig
Sy seun is daar besig om die land te ploeg
en dis asof hy nou moet toegee,
voor die jongman wat lewendig en sterk is,
net aan moet gaan
maar hy het nog krag
en sy oë meet die geploegte veld,
die geur van die vars aarde
omsingel hom, amper soos ‘n teken
van nuwe geboorte
en sy jong vrou kyk op
en glimlag met oë vol beloftes
as hy die saal vastrek,
‘n voet in die stiebeuel sit en op reik
na die saal se knop
en vir oomblikke kyk hulle na mekaar
en haar blik is uitlokkend, geesdriftig
haar hare waai in die wind soos skuim op die strand
en die vurige arabiese perd ken sy baas goed,
tree met liefde op,
waar dit onder hom trippel
voor hulle weg galop.
Om hom strek die velde vêr uit,
terwyl ‘n rooi stofwolk
agter die trekker opslaan
in die verte is daar beeste wat rustig wei,
tarentale wat naby die vlei skreeu
en hy wonder of die middagete
reeds gereed is?
en die lewe is groots en die son, wind en lug
is bekend soos enige ander dag,
waar hy hoog in die saal sit
en hulle ontmoet hom as bondgenote,
voor hy omdraai
terug ry na ‘n vrou wat lieflik in sy oë is
en soos altyd is dit die rustigheid
wat in sy hart inklim.
Voetnotas:
(1) The concise Oxford Dictionary, Oxford University Press, 1956
(2) Microsoft Encarta encyclopaedia dictionary.
(3) Odhams Dictionary of the English Language, Odhams, Watford
(4) Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, Perskor uitgewery (1970)
(5) “’n Epiese gedig soos Martjie, van Jan Celliers noem ons ook ‘n idille, omdat die ‘n verhaal gee wat speel onder eenvoudige, gelukkige mense wat ‘n rustige lewe lei in ‘n landelike omgewing.” Luitingh, M. 1967. Digters en digsoorte. Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel. P134.