42 Die Argonelle en die Quotella
42 Die Argonelle en die Quotella
Die Argonelle is ‘n vers vorm met streng vereistes. Die Argonelle was baie jare terug deur Sylvia Argow van die “New York Poetry Forum” geskep. Leslie Alexis se gedig “Dreams Need a Hand,” is ‘n goeie voorbeeld van die Argonelle waar hy drome en die lewe teenoor mekaar stel. In Ronald H. Peat se gedig “Earth & Sky / An Argonelle” word die aarde en die lug teenoor mekaar gestel.
Die Argonelle is ‘n gedig wat vrae stel en beantwoord as teenoorgesteldes. Die gedig word in twee stansas van vyf lyne elk geskryf. Die gedig het die volgende rymskema xAbbA xCddC.
Rym skema definisie: x beteken geen rym. Hoofletters dui op herhalende refreine. Laer letters is gewone rymende lyne.
Lettergrepe per lyn is 2-6-8-8-6 vir die eerste stansa en weer dieselfde vir die tweede stansa. Hierdie vers vorm kan geskryf word in jambiese metrum aangesien die lettergrepe gelyk in elke lyn is, maar hoef nie in jambiese voet geskryf te word nie. Moontlik die Argonelle in vrye vers geskryf word as die vraag antwoord, stansa opponerende elemente en refreine behou word, maar dit wyk af van die oorspronklike vorm.
Die eerste stansa bestaan uit slegs twee lettergrepe met die eerste woord as “hoe” (in Engels “why”) en die tweede ‘n gedagte of emosie gevolg deur ‘n vraagteken. Die tweede lyn het ses lettergrepe. Beide die derde en vierde lyne het elk agt lettergrepe en rym gewoonlik met mekaar. Die vyfde lyn herhaal lyn twee. Die tweede stansa herhaal dieselfde formaat as die eerste stansa, maar is direk teenoorgesteld van die eerste.
Hier is my Afrikaanse poging tot die Argonelle:
Lief & Vrou (Argonelle)
x Hoe lief?
A sien ek jou oë skitter
b hemelblou vol met suiwer lig
b pragtig, diep en geheimsinnig
A sien ek jou oë skitter
x Hoe vrou?
C Is jou blik nou sielloos
d asof alle lewe ontbreek,
d jy altyd gevoelens wegsteek,
C is jou blik nou sielloos?
Daar is verskeie acrostic tipe gedigte. In die sewentigs het Sylvia Argow die naam Quotella gegee aan ‘n gedig wat van ‘n aanhaling gebruik maak en die aanhaling dan vertikaal af skryf, wat die begin woorde van die gedig bepaal.
Hier is my poging tot die quotella geskryf op ‘n aanhaling uit ‘n gedig van Ingrid Jonker:
Wat sal van my word? (Quotella)
WAT jou ingevaar het,
SAL niemand werklik weet nie,
VAN presies wat gebeur het.
MY indruk is toe alles vir jou te veel word,
WORD jy oortuig om die see in te stap.
DIE nag strek duister voor jou uit,
HOEKSTENE ontbreek as jy die water in plas,
VAN elkeen wat jy ken geskei.
MY pyn is minder as die in jou
HART en siel, deurtrek van pyn
BRING dit jou tot die afgrond,
NIKS kan jou toe meer terug laat keer nie,
TOT nou toe kon jy nog uithou, jy hou geen
STAND meer nie.
MY blik dwaal oor die see, voor ek terug kyk,
LANDSKAP op landskap doem voor my op.
IS daar nog grond onder jou voete?
MYNE hou nog stand.
VERHARD en uitgeput,
VERBETE probeer jy nog uithou,
VERBITTER neem jy ‘n laaste besluit,
MAAR miskien is alles nie so eenvoudig nie.
OOP lê die see vir jou toe jy dieper in loop.
[Verwysing: ‘n Aanhaling uit Ingrid Jonker se gedig “Ek dryf in die wind.”
“Wat sal van my word
die hoekstene van my hart bring niks tot stand
my landskap is myne verhard
verbete verbitter maar oop.”]