64 Die kyrielle
64 Die kyrielle
Die kyrielle was ‘n baie gewilde Franse versvorm en dateer uit die middel eeue. Dit word in kwatryne geskryf wat ‘n herhalende refrein insluit en soos gewoonlik met Franse digkuns word die metrum lettergrepig bepaal. Die tradisionele kyrielle bestaan in versreëls van agt lettergrepe elk.
Die rymskema is aabB/ ccbB / ddbB ….
As ‘n alternatief mag die rymskema abaB / cbcB / dbdB… wees.
(soos gewoonlik dui hoofletters refrein versreëls aan)
John Payne se gedig “A Little Pain” en Ryter Roethicle se gedigte “Broken Wing,” “Cycles,” “Dichotomy,” “Evensong,” “Heart of Stone,” “Just Below,” “Just One Look,” “Sailor Death,” “Sands of Time,” “Sweet Thunder,” en “Clarity” is goeie voorbeelde van hierdie soort versvorm.
Hier is my poging tot die kryrielle in die tradisionele Franse vorm.
‘n lied van weemoed (kyrielle)
As sterre verskyn in die nag
is in my tuin nog ‘n soort prag
as die aandblom suiwer oopgaan,
as liefde tussen ons bestaan.
Daar vergeet mens alle pyne
omring deur geel wit jasmyne
selfs as hartseer jou oë betraan,
as liefde tussen ons bestaan.
Daar is die geur van laventel
wat sag op die aandwind wentel
as ek my oë na God opslaan,
as liefde tussen ons bestaan.
In tye van seer verlange
is daar nog steeds twee-gesange
onder die groot ou goue maan,
as liefde tussen ons bestaan.
Daar sien ek sterre blou skitter
word ek nooit ooit verbitter
selfs as die dood skielik toeslaan,
as liefde tussen ons bestaan.
Steeds sweef daar ‘n herinnering
of dit jou weer kan terug bring,
al gaan my dae allenig aan,
as liefde tussen ons bestaan.
In die meer moderne weergawe van die kyrielle word dit geskryf in rymende koeplette of kwatryne. Dit gebruik die frase “God hê genade” (“Lord have mercy”) of ‘n variant daarvan, as ‘n refrein as die tweede lyn van die koeplet of die laaste lyn van die kwatryn. So ook kan die woorde “O, God hê genade vir my” (“Oh God, be merciful to me”) of selfs enkele gebruik word in die refrein. In die moderne vorm word dit gewoonlik in jambiese pentameter geskryf.
Thomas Campion se gedig “A lenten Hymn” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie tipe vers.
Die rymskema in die kwatryn vorm is aabB/ ccbB / ddbB ….
(soos gewoonlik dui hoofletters refrein versreëls aan)
Hier is my poging tot die kyrielle in die moderne vorm:
Waar die wêreld my neer fel (Kyrielle)
Waar die wêreld my heeltemal neer fel,
vra ek dat U my weer eens op moet stel,
dat U werklik gewaar dat ek steeds ly
O, God hê grootse genade vir my.
As my hele wêreld skielik wankel,
sien ek U sterre as bakens sprankel;
ek smeek U Here gaan my nie verby
O, God hê grootse genade vir my.
In my land is daar woesteny, onlus,
vure wat niemand maar U kan uitblus;
soms wonder ek ellende einde gaan kry
O, God hê grootse genade vir my.
My lot is die slotsom van afvalligheid,
nog sien ek daagliks U aanwesigheid;
ek wil die laaste van my sonde bely
O, God hê grootse genade vir my.
As ek eens voor U aangesig mag staan,
sal ek steeds my oë na U toe opslaan;
jubelend in U teenwoordigheid bly
O, God hê grootse genade vir my.