7. Vergelyking, metafoor, personifikasie en sintuie
7. Vergelyking, metafoor, personifikasie en sintuie
Laat ek eers noem dat die aspekte wat ek hier bespreek en ook in stof en tegniek 6, bespreek het, natuurlik by ‘n digter kom. Die goed is subtiel ingewortel. Mens besluit nie nou gaan ek dit of dat gebruik nie. Die geskrewe woorde weerspieël wat jy skryf. Ek het ook hierdie opinie uitgedruk in my skrywe oor eenvoudige en ingewikkelde poësie wat spoorloos van woes af verdwyn het. Elke gedig het ook nie al hierdie goed in nie. Sekere gedigte leen hulle meer daarvoor uit. Tog dink ek as mens aspekte bewus is wat groot digters se gedigte maak werk, jy jou gedigte en vermoëns ook slyp, al is dit onbewustelik.
“ ‘n Vergelyking is ‘n stylfiguur waarby twee dinge met mekaar vergelyk word byvoorbeeld so soet soos suiker. Dinge naas mekaar plaas om ooreenstemmings en verskille op te merk.” HAT.
‘n Digter werk met woorde en sit hulle so bedrewe aanmekaar dat hulle prente in ons gedagtes na vore bring. Een van die belangrikste stylfigure is vergelykings. ‘n Vergelyking vra dat ons een ding as soortgelyk aan ‘n ander stel, of toon in ‘n prentjie
en gebruik woorde: soos, so, dan, as
Al die volgende gesegdes is vergelykings:
So wit soos wol. So oud soos die berge So lig soos ‘n veer. So siek soos ‘n hond. So warm soos vuur.
In gewone spreektaal, gebruik ons algemene vergelykings soos sy is so vet soos ‘n vark of hy is so sterk soos ‘n os en hoop om ‘n duideliker prentjie van een ding te gee, deur dit met ‘n ander te vergelyk. Die vergelykings word egter vervlak en verslaan deur oor-gebruik, te veel gebruik daarvan. ‘n Goeie digter gebruik nie algemene vergelykings nie, uit vrees dat die leser se aandag gaan verloor.
Die metafoor vat ons een stappie verder as ‘n vergelyking. In plaas daarvan om een ding te sien soos iets anders, word ons gevra om een ding te sien dat dit die ander is en so byvoorbeeld:
Sy’t senuwees soos staal (vergelyking) en sy’t senuwees van staal (metafoor).
Vergelykings deur A.G. Visser in Afrikaans:
“Hy’t ‘n moesie tamaai,
Soos ‘n skurwe pampoen op die punt van sy neus.”
A.G. Visser in “Die mensvreter.”
“Koud is die Winterberg se top,
Met nooit ’n lentebloesem,
Maar kouer nog die hart wat klop,
Madonna, in jou boesem!” A.G. Visser in “La belle dame sans merci”
“Was jy ’n rosebloesem
En ek die roos se geur,
Hoe heerlik deur die lewe
Steeds rondom jou te swewe.” A.G. Visser in Princesse Lointaine
“Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!” A.G. Visser in Rosa Rosarum
“terwyl sy vir my blom
en haar kelke sprei oor my.” uit my gedig: Sy trek krassend ‘n vuurhoutjie.
“en haar oë skitter helder, blinker as sterre
‘n skakering van blou, wat besonder is” uit my gedig: Sy trek krassend ‘n vuurhoutjie.
“en sy bewe effens as ek haar nek beet kry
dit soen onder die lokke
wat soos gerwe blond hang.” uit my gedig: Sy trek krassend ‘n vuurhoutjie.
Kom ons kyk na ‘n gedig van my waarin daar ‘n aantal vergelykings en ‘n metafoor voorkom:
‘n Helse hoenderhaan
Hy’t ‘n erf vlak by die middestad,
net oorkant die biblioteek
waar hy ‘n hoenderhaan wegsteek,
toegespan aan die kant van die pad.
Versier soos die res van die besighede daar,
bedryf hy ‘n tipe drukkery
waar mens selfs fotostate kan kry
maar die haan kan sy stem nie spaar
en loop vry agter in die erf en pik,
spring op ‘n lusern gerf
staan daar ewe aandoenlik, ewe kordaat
en as hy kraai maak hy ‘n groter lawaai
as toeters van skepe wat verby vaar in die baai
en sy vere is belaai met ‘n donker swart glans
wat die middernag laat verbleek,
en sy kam is so rooi soos die hellevuur
waarop tien duisend duiwels dans
sy pote geklou soos die van ‘n raaf
en hy kraai uur op uur so uiters onbeskaaf,
as die tannies vir hulle middag slapies gaan
en waar hy ook versteek word
klim hy parmantig uit
en self van uit sy hoenderhok
en rig hy sy basuin geskel vêr en wyd
meer getrou
as die klok wat in die kerktoring slaan.
Personifikasie is ‘n spesifieke soort metafoor waar menslike eienskappe gegee word aan nie-menslike dinge. Dinge en begrippe kry persoonlike eienskappe soos byvoorbeeld:
stadig, stil loop die maan in die nag met haar silwer kleed.
“Die maanlig het die see gesoen” A.G. Visser uit “Eheu fugaces…”
“Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose” A.G. Visser uit Rosa Rosarum
Kom waar die lelie – die blanke, die reine –
Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,
Blou miosotis – die slanke, die kleine –
Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan. A.G. Visser uit Rosa Rosarum
Kom ons kyk na ‘n gedig van my wat grootliks van personifikasie gebruik maak:
‘n Blik van God
Dis skemer en daar’s sulke groot deurlugtigheid, Here
waar ek by ‘n poel sit dat die water
nie eens uit kring nie,
die oostelike lug is nog meer geel as oranje
het ‘n sagte warm omhelsing
en ek beweeg skaars bang dat my teenwoordigheid hier
die stilte sal verontrus of vernietig
lasterlik tot U teenwoordigheid sal wees
wat steeds nog draal
en die weerkaatsing van die opkomende son
is ‘n groot oranje bal op die glinsterende poel
en die blote prag van wilde aalwyne,
blommende suikerbosse herinner my
aan hoe Eden moes wees
en in die effense wind wat nou waai
bewe blare skaars
en hierdie plek, hierdie wêreld waarin U my trek
het geen bedreiging, geen pyn of terreur
net die grasie en luister van U ewige liefde
en die kobalt blou lug het suiwerheid daarin, ‘n varsheid
wat oorweldigend is.
[Verwysing: Glimpse of God deur Tatamkhulu Afrika.]
Meer as ander tipes literatuur dring digkuns op die sintuie van die leser aan, van sig, aanraking, klank, reuk en smaak.
Kom ons kyk na ‘n gedig van my waarin die vyf sintuie voorkom:
Sy trek krassend ‘n vuurhoutjie
Sy trek krassend ‘n vuurhoutjie
en onmiddellik fakkel daar lig
verhelder haar gesig
en die ou bekende geur vul die lug
van vars reën, vermeng met sperm,
‘n medisinale geur van naeltjie olie
en brandende tabak
en haar oë skitter helder, blinker as sterre
‘n skakering van blou, wat besonder is
en daar’s stoute vonke wat in dieptes dans
terwyl ‘n handjie vlinderend oor my bors
na onder gly
en sy bewe effens as ek haar nek beet kry
dit soen onder die lokke
wat soos gerwe blond hang.
‘n Tikkie likeur en soet rooi sjampanje,
is op haar tong en haar lippe
is sneeu sag, ontblotend
gevul met passie en vuur
en waar haar bors teen myne vasdruk
kan ek haar hartklop voel,
sien ‘n slagaarjie spring in haar nek
en voel hoe haar tepels
harder word onder my vingers
en buite hoor ons die trein aan snel,
al nader met sy klappende vaart
tot die gekletter van die wiele
klink asof dit reg by ons is,
maar dis kilometers weg
en snaaks hoe vêr
klank in die nag trek
en as dit op die ergste is
stap ons ‘n ander wêreld in,
vasgevang met mekaar
en vervaag dit skielik tot niks
terwyl die essensie van lywe,
van ek en sy al is wat seker is,
wat emosioneel en fisies
tot keper punt kom
terwyl sy vir my blom
en haar kelke sprei oor my.
Die sintuig van sig:
“Sy trek krassend ‘n vuurhoutjie
en onmiddellik fakkel daar lig
verhelder haar gesig”
Kyk hoe ‘n kleurryke, gevormde visie roep dit in die verbeelding op. Amper soos die fakkels wat die voortrekker jeug groepe gebruik het.
Die sintuig van klank:
“en buite hoor ons die trein aan snel,
al nader met sy klappende vaart
tot die gekletter van die wiele
klink asof dit reg by ons is”
Die klank van die naderende trein slaan op die oor.
Die sintuig van aanraking:
“en daar’s stoute vonke wat in dieptes dans
terwyl ‘n handjie vlinderend oor my bors
na onder gly
en sy bewe effens as ek haar nek beet kry
dit soen onder die lokke
wat soos gerwe blond hang.”
Aanraking en gevoel werk op die man, die meisie en die leser in, in hierdie lyne.
Die sintuig van reuk:
“en die ou bekende geur vul die lug
van vars reën, vermeng met sperm,
‘n medisinale geur van naeltjie olie
en brandende tabak”
Daar’s ‘n verskeidenheid van geure wat aangenaam en aardig is wat opgeroep word deur hierdie woorde.
Die sintuig van smaak:
‘n Tikkie likeur en soet rooi sjampanje,
is op haar tong en haar lippe
is sneeu sag, ontblotend
.
Kyk hoe soet direk inslag vind op die leser se sintuig van smaak.