8. Blanko verse en sonnette
8. Blanko verse en sonnette
Blanko verse se kenmerk is dat dit glad nie rym nie, maar het nogtans duidelike ritmiese kwaliteite en dus kwalifiseer dit as verse, eerder as prosa. Die meeste van Shakespeare se dramas is in blanko verse geskryf en John Milton se “paradise lost,” is ‘n uitstekende voorbeeld daarvan.
Hier is die naaste wat ek daaraan in my eie verse kon vind:
As jy my stem hoor
As jy my stem hoor
en insien hoeveel ek jou lief het
die intensiteit daarvan besef
sal al die gisters en môres
gevul wees met tye spandeer
en in komende woorde en dade
is niks nodig
om aan jou oor te dra
hoeveel jy vir my beteken.
Italiaanse sonnette was in die dertiende eeu ontwikkel, tot hulle klassieke struktuur deur die digters Dante en Petrarca. Petrarca se sonnette was gedigte met veertien reëls wat verdeel in ‘n oktaaf (‘n stansa van agt lyne) en ‘n sekstet (‘n slot stansa van ses lyne) gemerk in ‘n pouse tussen hulle as ‘n beweging in die gedig. Die oktaaf rym as ABBA / ABBA en die sekstet as CDE / CDE. Dit kan ook geskryf word as ABBA / ABBA en CD/CD/CD Elke gedig van Petrarca was ‘n liefdes gedig aan ‘n vrou wat nie sy liefde beantwoord het nie. Die Afrikaanse digters Leipoldt, Totius, Toon van der Heever, Wasserman en Elisabet Eybers het ook van hierdie soort vers gebruik gemaak. Sekere skrywers meen dat Gerard Manley Hopkins se gedig “Spring,” ‘n moderne sonnet is maar dit voldoen eintlik volledig aan die vereistes van ‘n Italiaanse sonnet.
Sommige skrywers sien die liriese sonnette as ‘n gevoelsgolf wat op du in kwatryne en in tersette uiteenvloei. D.F. Malherbe se gedig “slaap” is ‘n mooi voorbeeld hiervan. “Vroegherfs” van N.P. Van Wyk Louw is ook ‘n goeie voorbeeld hiervan waar die eerste gedeelte die skoonheid van herfs in die landskap beskryf en van die negende versreël die bede deurbreek dat onnodige versiering die eie lewe ook ontneem moet word. In S.J. Pretorius se “Lente” gee die kwatryne ‘n beskrywing van die werklikheid en trek die sekstet ‘n gevolgtrekking daaruit.
Hier is twee gedigte van my met die Italiaanse sonnet rymvorms:
Niks kan met die prag van lente vergelyk
a Niks kan met die prag van lente vergelyk
b met takke waarin blomme sit
b in trosse van pienk, geel en wit
a en elke dag het ‘n helder sonskyn kyk
a en alles is suiwer en glansryk
b met welriekende kelke wat oopvou, orals lewe dit
b met nuwe energie, asof alles lewensvreugde besit,
a in die takke sing voëltjies ‘n huldeblyk,
c bye en vlinders kaperjol,
d die lug is oop en saffier blou,
e voëltjies vlieg heen en weer
c en my hart is tot oorlopens toe vol
d van elke liefdes blik van jou,
e klop onstuimig amper buite beheer.
Liefde
a Wat is die liefde, ‘n byna onverstaanbare ding
b wat mens amper dol oor iemand maak,
b terwyl jy net meer en meer betrokke raak
a en iets romanties sien in elke skemering
a byna haar stem hoor in elke fluistering
b selfs in beelde anderkant die vaak,
b geluk uit die kelke van die gode smaak
a asof deur iets heeltemal bonatuurlik omring
c dit jou op nuwe onbekende paaie lei
d met iets besonder uniek in elke kus,
c wat ‘n eenheid maak van die ek en jy
d ekstaties met absolute saligheid sus,
c so asof niks mens van mekaar kan skei
d en dit ‘n verbond is, tot en by die finale rus.
Engelse of Shakespeare sonnette het in Engels ontstaan deur die Earl van Surrey en Sir Thomas Wyatt, maar was briljant ontwikkel deur William Shakespeare. Shakespeare se sonnette was geskryf in drie kwatryne met stansas van vier lyne elk en ‘n sluitende koeplet naamlik: abab/cdcd/efef/gg. Shakespeare se tema was gegrond op aspekte van liefde, alhoewel ander Engelse digters soos Milton, Wordsworth, Byron, Keats en Hopkins die sonnet gebruik het vir beskrywings van die natuur, godsdienstige liedere, die stryd van die siel en ander uiteenlopende onderwerpe. Klassieke en Shakespeare sonnette volg ‘n jambiese ritme. Jambiese ritmes het twee lettergrepe met die klem altyd op die tweede lettergreep. “’n Jambiese versvoet is bestaande uit ‘n swak beklemtoonde lettergreep, gevolg deur ‘n sterk beklemtoonde lettergreep soos in be-waar’.” HAT
Ander Engelse digters het egter veel groter vryheid in hulle verse ingebou.
Engelse sonnette is baie minder strak as Italiaanse sonnette met ‘n eenstemminge gedagte sonder onderbreking en slotreëls wat uiters kragtig met gelyke ryme afsluit. Hierdie slot koeplet is gewoonlik die gevolgtrekking van die gedig. Elisabet Eybers se gedig “Herfs” is ‘n goeie voorbeeld hiervan.
Hier is ‘n vers van my met die Engelse sonnet rym skema:
Wag ek steeds op ‘n nuwe dagbreek
a Ek kan my liefde vir jou nie keer
b wat eindeloos uitvloei
a soos golwe buite my beheer
b en selfs as storm winde loei
c bly my hart getrou
d soos branders wat gedurig swiep
c bly ek lief vir jou, wat my lewe sonnig hou,
d slegs aan dit wat tussen ons is verdiep
e en as ek myself te pletter slaan
f die lewe my skuimend oor ruwe rotse breek
e is jy soos die son altyd daar, kan ek jou nie afstaan
f wag ek steeds op ‘n nuwe dagbreek:
g ‘n plek waar son en see ontmoet,
g jy my as jou beminde begroet.
Baie digters hou nie streng by die vereiste rymskema van die sonnet nie en veral in moderne gedigte is die rymskema gewoonlik vry. Nogtans is daar gewoonlik in moderne sonnette ‘n verbinding in kwatryne deur ‘n herhaling van eenderse rymklanke. Veral as die oktaaf en die sekstet deur enjambemente verbind word, gaan tiperende vorm van die sonnet verlore en kan die hele gedig een deurlopende stroom word soos in Olga Kirsh se “’n Enkele oomblik het ons verstout…”
Sekere skrywers meen dat uit ‘n ontbinding van die sonnet rymvorm ‘n goeie gedig kan ontstaan, maar dat dit feitlik nie meer ‘n sonnet genoem kan word nie. Hiermee wil ek verskil. As mens in vrye vers ‘n veertien reël gedig skryf wat al die ander dinge wat met ‘n sonnet geassosieer getrou nakom, behalwe natuurlik rym soos my gedig “My minnares se oë” ‘n goeie voorbeeld van is, bly dit myns insiens ‘n sonnet.
Hier is twee van my gedigte in die meer moderne sonnet vorm:
Jy blom gedurig in ‘n eindelose lente (in antwoord op William Shakespeare)
Tussen jou prag en die van ‘n lentedag
kan ek ooreenkomste kry
as lieflike voëls sing,
reën nuwe lewe bring
en tog gaan die seisoen te vinnig verby
maar nog is jy aangenaam en vol liefde,
‘n wese sonder enige blaam, edel en rein
en terwyl die son helder skyn,
die lug kobalt blou is, het jou oë ‘n donkerder tinteling
en as die nag die dag verslind
sprankel jou oë met groter luister
as enige ligte van die wye duisternis:
en jy blom gedurig in ‘n eindelose lente,
met ‘n diep prag wat eg is, wat ek in jou vind.
[Verwysing: Sonnet 18 “Shall I compare thee to a summer’s day?” deur William Shakespeare.]
My minnares se oë (in antwoord op William Shakespeare)
My minnares se oë het ‘n blouer skakering
as die kleur van kobalt lug,
koraal of tamatie kan nie vergelyk
aan die liefkosing van haar lippe nie
en die aanraking van haar vinger punte
is sagter as enige bries
en die kleur van haar hare is meer besonder, uniek
as enige gras, of wat metaal drade kan hê
en haar borste en tepels
het ‘n groter suiwerheid, aanlokking
as enige sneeu of selfs lente knoppe
en die skoonheid in haar, is meer welriekend
as blomme, as wat selfs rose vertoon
as ons ware behoefte vir mekaar ontvou.
[Verwysing: Sonnet “My mistress’ eyes” deur William Shakespeare]