Jongste aktiwiteit:

WAT MAAK VAN ‘N GEDIG ‘N GOEIE (WEN)GEDIG? – Driekie Grobler
vir

WAT MAAK VAN ‘N GEDIG ‘N GOEIE (WEN)GEDIG? – Driekie Grobler

Uittreksel uit die Tolbos van die GHA (Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans).
WAT MAAK VAN ‘N GEDIG ‘N GOEIE (WEN)GEDIG?
Daar is verskeie faktore wat ‘n rol daarin speel of jou gedig uitstaan of nie.
Alhoewel daar heelwat vryheid in dig/skryfkuns bestaan, veral in ons moderne tyd waar mense wegbeweeg van tradisionele skryfstyle, is daar tog sekere elemente en reëls wat bepaal of jou gedig uitstaan of nie (veral in kompetisies).
Daar is verskillende elemente wat kan bepaal of jou gedig die toets slaag of nie, waarvan die belangrikste is:
(a) Ritme – Dit is amper die heel belangrikste element, want as jou gedig nie vlot en lekker lees nie, gaan dit nie veel aandag trek nie.
(Mens lees daagliks honderde gedigte van digters op Facebook, met beperkte tyd – almal se probleem), en kan reeds na die derde/vierde reël bepaal of dit die moeite werd is om die hele gedig deur te lees of nie, dus is die inleiding van jou gedig van kardinale belang. Dit moet die leser vasvang en nuuskierig/lus maak om die res van die gedig ook te wil lees. Dan moet dit voortvloei en opbou tot by ‘n goeie slot, wat maak dat jou woorde lank na die lees daarvan nog in die leser se kop sal bly draai.
– ‘n Gedig kan hóé goed geskryf wees, maar as dit stotterend en moeilik lees en nie vloei nie, gaan dit beslis nie aftrek kry nie.
– Net so kan die mees eenvoudigste gedig ‘n treffer wees wanneer dit vloei, lekker en glad lees.
– Dit is dus baie belangrik om jou gedig vir jouself hardop te lees, want dit is slegs dan wanneer jou oor duidelik genoeg die ritme daarvan kan opvang en hoor.
– Soms is dit net ‘n klein woordjie op die verkeerde plek wat die ritme kan versteur.
(b) Woordkeuse – Ons het gewoonlik baie om te sê en dis soms moeilik om kerngedagtes in slegs enkele woorde saam te vat, daarom is dit uiters belangrik om jou woorde sorgvuldig en doelgerig te kies.
– Met goedgekose woorde kan jy met min baie sê. Laat elke woord gewig dra en iets beteken en raak ontslae van onnodige, niksseggende woorde.
– Die gebruik van sinonieme en neologismes (nuutgeskepte woorde met dieselfde betekenis) kom baie handig te pas.
– Metafore (slim verwysings/figuurlike uitdrukkings wat op vergelyking neerkom) speel ook ‘n groot en belangrike rol in gedigte en gee jou geleentheid om jou denke op ‘n kreatiewe wyse uit te druk.
– Jy kan vir jou gedig ‘n totaal nuwe baadjie aantrek met goeie, interessante woordkeuses, maar wees versigtig om nie te veel vreemde woorde te gebruik wat dit vir die algemene leser moeilik maak om te verstaan waarvan jy praat nie. Jou gedig moet ‘n storie/boodskap/gedagte oordra, dit moenie ‘n woordeboek ontsluit nie.
(c) Styl en Versorging – Die versorging, afronding en aanbieding van ‘n gedig is baie belangrik. Maak seker van die styl waarin jou woorde gemaklik kan inpas, sonder om jou eie unieke manier van skryf te belemmer. Maak ook seker dat jou gedig netjies, foutloos en goedversorg aangebied word.
(d) Gebruik van leestekens – Leestekens is geskep vir ‘n spesifieke doel en kan (wanneer dit korrek aangewend word) van groot waarde wees. Deur die korrekte leestekens op die korrekte plekke aan te bring, kan dit maak dat die leser die gedig presies lees en interpreteer soos wat jy dit wil deurgee, met rusperiodes, spasies, ens. op die regte plekke. Dieselfde reëls wat in gewone skryfwerk geld, geld ook in digkuns.
Waarna kyk beoordelaars spesifiek?
Dit is eerstens belangrik om te onthou dat beoordelaars ook maar net mense is, elkeen met hul eie, unieke smaak, wat ‘n rol speel in hul voor- en/of nakeure by die lees van gedigte. Alhoewel hulle objektief moet bly, verskil hul keuses van persoon tot persoon, en daarom moet jy nie die kwaliteit van jou gedig daaraan meet nie. In een kompetisie kan jou gedig ‘n wengedig wees, in ‘n ander kompetisie heeltemal uitval. Daarom is dit raadsaam om ‘n span beoordelaars te hê, sodat daar ‘n wyer en meer regverdige oordeel van verskillende smake en voorkeure kan wees.
Die volgende punte is egter baie belangrik by die beoordeling van enige gedig:
– hoe goed word die tema omskryf en aangebied;
– is daar ‘n goeie inleiding wat opbou en deurvloei tot by ‘n hoogtepunt slot;
– lees die gedig vloeiend en verstaanbaar;
– hoogstaande, goeie of algemene woordgebruik;
– kreatiwiteit en aanwending van taalreëls, digstyl;
– algemene versorging van gedig: spelling.
Dit is altyd raadsaam om vorige wenners van ‘n kompetisie se gedigte te gaan lees, dit gee jou ‘n idee van ‘n spesifieke kompetisie se voorkeure en styl.
Sien kompetisies as ‘n waardevolle leerskool, nie noodwendig om te wen nie, maar om jou gedigte gepubliseer te kry.
©Driekie Grobler



Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed