Wenke by digkuns – Jopie Koen
WOORDEKONOMIE: ‘n Gedig behoort altyd gekenmerk te word deur die gebruik van woordekonomie. Probeer om sover moontlik so min moontlik woorde te gebruik om ‘n gedagte mee uit te druk. Dit beteken nie dat alle gedigte kort moet wees nie, moet net nie onnodig baie woorde gebruik om gedagtes mee uit te druk nie. Die digter Johann de Lange het by geleentheid gesê ‘n mens moet bereid wees om jou “heel mooiste woord of reël” uit ‘n gedig te haal indien die gedig daarby kan baat vind.
VERSKIL TUSSEN PROSA EN POËSIE: Wees versigtig om nie ‘n stuk prosa bloot in korter reëls te skryf en dit dan as poësie te beskou nie. Poësie behoort altyd gekenmerk te word deur bindingsmiddele waarvan daar te veel is om almal hier op te noem. Enkele daarvan is die volgende: Rym, langer en korter reëls, die gebruik van strofes asook klanktegnieke soos bv. alliterasie (kleure en klanke). Dit spreek natuurlik vanself dat al die verskillende bindingsmiddele nie in elke gedig aangetref word nie.
ONNATUURLIKE WOORDORDE: Vermy die gebruik van onnatuurlike woordorde ter wille van onder andere rym. ‘n Gedig moet nog steeds verstaanbaar wees net soos normale spraak, gebruik dus steeds die normale orde van woorde.
SKAAF AAN ELKE GEDIG: Hoewel dit soms gebeur dat ‘n gedig met die eerste skryf byna afgerond op die papier beland, is dit die uitsondering meer as die reël. Wees altyd bereid om aan jou gedigte te skaaf en te verander ten einde ‘n beter eindproduk te kry. ‘n Goeie gedig sal nie breek nie.
DIE GEBRUIK VAN RYM: Rym behoort altyd met groot omsigtigheid hanteer te word. Net soos rym ‘n wonderlike hulpmiddel kan wees in ‘n gedig, kan dit ook afbrekend wees indien dit verkeerd hanteer word. Een van die belangrikste riglyne by die gebruik van rym, is dat die leser rym byna net op ‘n onbewustelike vlak behoort waar te neem. Rym moet dus onopsigtelik wees en nie oorheersend nie. Rym bly slegs net een van baie hulpmiddels wat die ondersteuning van die woorde of boodskap in die gedig as funksie het.
DIE REGTE WOORD: ‘n Gedig behoort sò geskryf te word dat elke woord wat daarin gebruik word, onvervangbaar is. Dit is een van die redes waarom ‘n gedig nie sommer net gebeur nie, die skryf van ‘n gedig is werk wat tyd neem juis omdat die skryf van ‘n gedig grootliks bestaan uit die soek na woorde – en nie sommer die eerste beste woord wat voorkom nie – presies die regte woord. Sheila Cussons verwys na hierdie proses in haar gedig “Akwaties.”
AKWATIES
Ek wil woorde hê, subtieler
as woorde, subtiel soos
‘n blik of ‘n fyn gebaar,
iets vinnigs en onverwags
soos ‘n nat paddatjie
op ‘n boek. Hoe geniaal kan
‘n oog nie kyk, ‘n hand bedui,
hoe dadelik spring begrip.
O borrels, blink borrels, ondertaals.
SKRYF FUNKSIONEEL: André Brink het by geleentheid oor die skryf van prosa die volgende gesê: “Alles wat nodig is moet daar wees en alles wat daar is, moet nodig wees. In elke moment van die verhaal staan die hele verhaal op die spel.” Dieselfde geld ten opsigte van die skryf van gedigte. Alles wat jy in jou gedig gebruik, moet funksioneel wees – dit geld elke woord, reël wat oopgelaat word, elke hoofletter en elke leesteken. Juis om hierdie rede en as gevolg van die feit dat ‘n gedig so kompak is, is dit belangrik om te onthou dat alles wat jy in die gedig doen, vir die leser iets moet sê. As jy dus dwarsdeur die gedig streng hou by ‘n sekere patroon (byvoorbeeld net tweereël-strofes) en skielik gebruik jy ‘n strofe met drie reëls, kan die leser met reg soek na ‘n rede vir die afwyking.