Oproep tot plig.
Oproep tot plig.
Die aand van 15 Desember 1838 was gekenmerk deur ʼn atmosfeer van spanning en onsekerheid. Die lug was swaar van die hitte en die son het stadig ondergegaan, sy laaste strale het die Natalse landskap in ʼn rooi-oranje skynsel gehul. Die warm winde het sag oor die droë vlaktes gewarrel.
Die stilte het neergedaal, kompleet asof die natuur self bewus was van die naderende konflik. Soos die voëls na hulle rusplekke teruggekeer het, het naggeluide die lug begin vul. Die reuk van stof en droë aarde het swaar oor die vlaktes gehang.
Vic Potgieter het eenkant gesit en na die laer gestaar. In die laer, waar die Boere en Zoeloe-ACkrygers hulleself voorberei het vir die slag van die volgende dag, was daar ʼn mengsel van angstige opgewondenheid.
In die laer het die Boere en Zulu-krygers met gedempte stemme gesels. In die swak lig van die kampvuur kon die gespanne gesigte van die mans gesien word. Elkeen was verdiep in hulle eie gedagtes. Die manne het saggies gepraat en strategieë bespreek. Die geluid van perde wat onrustig beweeg het, het gemeng met die geluid van wapens wat in gereedheid gebring is vir die veldslag van die volgende dag.
Die volmaan wat stadig, bleekwit opgekom het, het die landskap in ʼn sagte skemer gehul. Die aand was ʼn mengsel van emosies, van hoop en vrees wat diep in die harte van die mense geskuil het. Die intensiteit van die naderende stryd het die mense stil gestem.
Vic het stil voor sy tent gestaan, sy blik vasgenael op die vlamme van die kampvuur. Hy het sy hande is sy sakke gesteek en hardop gesug. Sy gedagtes het gedwaal na sy gesin, sy pragtige jong vrou en twee-jarige seuntjie. ʼn Hartseer trek het oor sy gesig geval, terwyl hy besef het hoe lief hy hulle het.
Emma, sy vrou, het hom met ernstige oë aangekyk toe hy haar ingelig het dat hy deel gaan wees van die mans wat aan die veldslag teen die Zoeloes sou gaan veg. Hy het haar nader getrek en haar gerus gestel.
“My vroutjie, dit is my plig as burger van ons land.”
ʼn Swaar gevoel van verantwoordelikheid het oor hom gestroom, wetende dat sy teenwoordigheid ʼn impak op sy gesin se veiligheid sou hê.
Vic het diep asem gehaal en aan die naderende stryd gedink. Hy het geweet dat die Slag van Bloedrivier ‘n keerpunt in die land se geskiedenis sou wees, nie net vir homself nie, maar vir die hele nasie.
Hy het bekommerd gekyk hoe die mis neerdaal op die ossewaens wat in ʼn laer getrek is.
Vroeg die volgende oggend het almal bymekaar gekom om ʼn gelofte voor God af te lê. Hulle het onderneem dat, sou hulle gespaar word, hulle ʼn kerk sou bou om om die dag as Sabbat te herdenk. Hulle het ook onderneem om dit so aan die nageslag oor te dra.
Met die skemering van 16 Desember het die swaar mis opgeklaar. Kort voor lank was die laer omring met 10 000 Zoeloe krygers. Ndlela en Dambuza het hul aangevoer, almal met kort steekassegaaie, Daar is op skilde geslaan, gegil en op die laer afgestorm.
Vic het met 150 manne die Zoeloes aangeval. Die Zoeloes het omgeswaai en op vlug geslaan, maar by die sloot digby die rivier is hul oorrompel. Die aanslag was so erg dat die bloed die rivier in rooi verkleur het.
In die laatmiddag het die manne teruggekeer na die laer. Hulle het die rivier herdoop na Bloedrivier. Eerbiedig het almal afgesak op hulle knieë om die Vader te dank.
Die Voortrekkers het slegs drie manne gehad wat beseer is in die aanslag.
Vic het aan sy vrou en kind gedink toe hy na die lofliedere geluister het wat weergalm het. Dankbaar het hy sy oë opgeslaan na die hemel.
©MarleneErasmus
31/12/2023
(641 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2023 – Veldslag projek