Ou Liefde
Brons 1464 woorde
Ou liefde
Magriet glimlag vir die kelnerin wat die spyskaart voor haar neersit.
“’n Cappuchino asseblief, met room. En as jy vir my twee suikers ingooi en roer voor jy die room opspuit, kry jy sommer ʼn ekstra fooitjie.”
“En dan eet sy die room af met haar teelepel!” grinnik Willem. “Bring sommer vir my dieselfde en twee lekker dik snye sjokoladekoek.”
Willem steek sy hand uit oor die tafel en lê dit oor Magriet se hande.
“Kan jy dit glo. Hier sit ons, agt-en-twintig jaar na daardie rampspoedige dag en bestel presies dieselfde!”
Magriet kyk na die man aan die oorkant van die tafel. Die jare het aan hom gevat. Sy digte, amper rooi hare, is nie meer so dig nie. Plooie langs sy oë vertel van tyd wat verloop het sedert sy hom laas gesien het. Sy was verras toe sy ʼn week gelede ʼn boodskap op Facebook oopmaak en sy naam sien. Nog groter die verrassing toe sy besef hulle bly al vir jare in dieselfde stad. Sy voorstel dat hulle vandag ontmoet vir koffie het haar met vrees vervul. Die geheim waarmee sy vir meer as die helfte van haar lewe saamleef, sal moet uit. Sy het oorweeg om die boodskap te ignoreer maar haar hart het anders besluit. Sy móés hom weer sien, al was dit dan net om finaal totsiens te sê.
“Ek kon vir baie lank nie tjoklitkoek eet nie. Dit het so dik in my keel geword… Hoe gaan dit met jou ma? Leef sy nog?” verander Magriet die onderwerp.
Willem lag. “Ja jong. Onkruid vergaan mos nie. Onthou jy hoe sy dit altyd gesê het daai tyd toe sy so siek was? Antie Jacoba laat haar deur niks onderkry nie, maar ek moet sê, my en jou storie destyds het haar geroer. Jy moet onthou jy was meer as net my meisie. Jy was die dogter wat sy nooit gehad het nie. Sy het my omtrent geskel. Gevra hoe ek verwag dat enige vrou met my sou wou opgeskeep sit as ek nie eens ʼn ordentlike werk gehad het nie, dat dit geen wonder was dat jy my onder my gat geskop het nie.”
“Ek dink dit was dalk vir my die heel moeilikste deel destyds. Ek het nie net met jou uitgemaak nie, maar ook met jou ma. Sy was so goed vir my. My hart wou breek.” Magriet voel hoe die trane haar keel toetrek.
“Ek het jou gaan soek hoor. Seker so twee jaar na ons uitgemaak het. Ek het deur die dorp gery en by die skool gaan navraag doen, of jy nog daar is. Ek het nie geweet of jy my sou wou sien nie, toe gaan sit ek eers by die Wimpy en drink een koppie koffie na die ander in ʼn poging om moed bymekaar te skraap. En raai wie stap toe in die straat verby met ʼn klein dogtertjie aan die hand. Dit was nogal ʼn skok vir my, dat jy my so gou vervang het met iemand anders.”
“Ai Wimp.” Magriet vee oor haar wang waar ʼn baie onwelkome traan probeer staanplek vind. “Vertel nou eers, wat het als met jou gebeur in die tyd wat verloop het? Is jy getroud? Kinders?”
Willem sluk sy laaste mondvol koffie af voor hy antwoord.
“Ek dink jou uitmaak met my was ietwat van ʼn wake-up call. Veral na my ma my ook nog so geskel het. Ek is weermag toe, het by die staande mag aangesluit. Na my basiese opleiding is ek Suid-Wes toe maar het ten minste eenkeer per jaar huis toe gekom, na mamma toe.” Hy lag. “Op een van die kuiers het ek vir Leilanie ontmoet en ons is later getroud. Ons het een dogter, Leatitia … Wag, ek het ʼn foto.” Hy vroetel sy selfoon uit sy broeksak en plaas die foon voor Magriet. “Die klein merrie is na skool Nederland toe om te gaan au-pair en het sommer daar gebly – natuurlik daar ʼn man ontmoet.”
Magriet voel hoe haar hart ruk toe sy na die foto kyk. “Sy’s pragtig! Duidelik haar pa se kind. Is jy nog steeds in die weermag?”
“Nee jong. Na ’95 was dinge nie meer dieselfde nie. Ek het my ontslag uit die army gekoop en teruggekom States toe. Sommer my ontslag uit my huwelik ook.” Hy gee ʼn skewe glimlag. “Ek het ʼn vragmotor gekoop en begin transport werk doen vir ʼn paar boere. Leilanie het nie baie van dit gehou nie. Dit was vir haar lekker om haarself voor te stel as mevrou Kaptein Faure en toe is sy ewe skielik mevrou Lorriedrywer Faure. Ons is drie jaar gelede geskei. Selfs die feit dat ek nou ʼn vloot vragmotors besit, was nie goed genoeg vir haar nie. Maar nee heiden, hier sit ek net oor myself en praat. Wat van jou, Griet? Het jy toe die ideale man gekry?”
Magriet vee-vee die krummels in haar bordjie bymekaar. Sy kon die tikkie bitterheid in Willem se stem hoor. Wat gaan hy doen, hoe gaan hy reageer op dit wat sy hom eenvoudig móét vertel? Sy kyk stadig op, ʼn rou seer in haar oë, steek haar hand uit na haar selfoon en maak ʼn leêr in haar foto-album oop.
“My dogter,” gee sy vir hom die foon aan.
“Maar …” Willem kyk onbegrypend na Magriet. “Dis dan Leatitia …”
“Nee Wimp, dis Willemien. Mý dogter.” Magriet probeer nie eens om die trane wat nou uit haar oë stroom te keer nie. “Ses weke na ek met jou uitgemaak het, het ek besef ek is swanger. Daai laaste aand … Ek het nie geweet wat om te maak nie. Hoe kon ek, na ek jou van my weggestuur het, weer terugkruip? My pa … hy sou dit nooit toelaat nie. Ek was minderjarig. Hy was so dankbaar destyds toe ek met jou uitmaak, dat ek uiteindelik, volgens hom, gesien het dat jy nie goed genoeg is vir sy dogter nie. Ons buurman, Gerhard, se vrou is ʼn paar maande voor dit oorlede. Hy het ʼn klein seuntjie gehad. Ek het dikwels daar gekom, die mannetjie opgepas as sy pa dringend iewers heen moes gaan. Ek het vir Gerhard vertel van my swangerskap en hy het voorgestel ons trou. Sy seuntjie kry ʼn ma en my kind ʼn pa. Dit was sy voorstel dat ons haar Willemien noem – jou naam. Hy was goed vir ons tot sy dood sewe jaar gelede.” Sy kyk na die man wat stom oorkant haar sit. “Ek is jammer Willem, so verskriklik jammer. Ek het jou kind by jou gesteel, jou ontneem van …”
“Griet, nee.” Willem steek sy hand uit en vee die trane op haar wange weg. “Natuurlik is dit vir my ʼn skok en ek sal so graag vir jou wou kwaad wees maar dis water onder die brug. Ons kan niks aan die verlede verander nie. Jy het gedoen wat jy gevoel het is reg.” ʼn Glimlag breek oor sy gesig. “Weet sy van my?”
“Sy weet. Gerhard het haar grootgemaak as sy eie dogter en hulle was ontsettend lief vir mekaar, maar hy het seker gemaak dat sy weet sy het iewers nog ʼn pappa, een wat sy dalk eendag sal kan ontmoet.”
“Daai eendag het gekom. Hemel, kan jy my ma al sien as ek nie net met jou nie, maar ook nog ʼn kleindogter by haar opdaag? Ek sweer sy skryf my terug in haar testament!”
Magriet kyk in ongeloof na hom. “Bedoel jy dit Wim? Bedoel jy dat jy my kan vergewe vir agt-en-twintig jaar?”
“Ja Mygrietjie,” die ou troetelnaam glip oor sy lippe. “ʼn Duisendmaal ja. Mens kry net eenmaal in jou lewe so lief soos ek jou destyds gehad het. Ek kon jou nooit vergeet nie. Ek het probeer om Leilanie lief te kry. Myself selfs met tye verbeel dat sy jou plek in my hart ingeneem het. Maar ek het vir myself gejok.” Sy hande vou weer om hare. “Ons het soveel tyd gemors, Griet. Tyd wat ons nooit weer kan terugkry nie. Weet jy hoeveel keet het ek myself verbeel ons sit so oorkant mekaar by ʼn tafeltjie? Hoeveel keer ek gedroom ons is nog bymekaar? Ek het jou gesoek in elke gesig in ʼn winkelsentrum, my verbeel ek hoor jou stem agter my.”
Magriet sien hoe sy oë blink. Haar hande knel om syne.
“Hoe lyk dit, Griet? Gaan ons, nou dat ons albei ouer en wyser is, weer probeer? Ons word een van die dae vyftig, ons het nog jare voor om op te maak.”
Sy steek haar vinger uit en vee die traan wat oor sy wang loop af. Dan laat rus sy haar hand in antwoord op sy wang. Sy knik. Haar stem kan sy nie nou vertrou nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2022 – Liefde (OOP) projek