OUMA SE DROOM
Dis nog vroeg en ek is dik deur die slaap. Ek staan seker al ‘n kwartuur lank onder die stort in die hoop om wakker te word, maar die warm water maak my net lomerig en lus om terug te klim in my bed. Hoekom alweer ek? Die onsmaaklike taak om Ouma haarkapper toe te vat, is gisteraand aan eettafel na my kant toe gegooi. Verstaan my mooi, ek is baie lief vir my ouma en ek weet sy kan nie help vir haar toestand nie, maar dis net so blêrrie ongerieflik. Here, vergewe my gedagtes, maar om ‘n kêns ouvrou te vat vir ‘n perm is nie ‘n nice manier om ‘n Maandag mee te begin nie. Ons studente is in die middel van eksamen. Ek skryf eers weer oor drie dae, maar elke afdag is kosbaar. Dis laatlê en asemhaal voor die groot leerproses hervat vir die volgende vraestel. Kopskoonkry en jouself omring met dinge en mense wat jou binneste weer rustig maak. Vyf minute in Ouma se geselskap put my uit. Sy praat dieselfde goed oor en oor en jy kan haar nie vir ‘n oomblik alleen los nie, anders klap haar kop vas en vat sy die pad. Soos die keer met Pa se vyftigste verjaarsdag. Ma het vriende en familie oorgenooi vir ‘n braai. Ouma en Oupa woon in ‘n aftreekompleks nie ver van ons af nie en hulle was ook hier vir die party. Halfpad deur die aand het Oupa benoud kom sê dat Ouma weg is. Met al die mense, musiek en dinge het niemand agtergekom toe sy die voordeur oopmaak en uitloop nie. Die partytjie was dadelik op ‘n einde, want ons moes na Ouma gaan soek. Tienuur daai Saterdagaand kry ons haar in ‘n parkie, drie blokke van ons huis af. Sit en swaai in die donkerte soos ‘n kind.
Ek draai die kraan toe en klim traag uit die stort. Ek pluk die handdoek van die reëling en droog af. Ek sal my dinges moet roer. Ek moet nog vir Ouma by die aftreekompleks gaan oplaai. My ouer suster het haar eie haarsalon, maar sy weier om Ouma se hare te doen. Sy sê Maandae is haar besige dae en sy wil nie hê Ouma moet haar ander kliënte pla nie. Ek dink sy kry net skaam vir Ouma en is bang die dorp se tannies gebruik Ouma vir ‘n onderwerp saam met al die ander skinderpraatjies wat in die salonne hang. Ons ouboet moet kastig saam met sy aanstaande gaan skoene soek vir die troue. Hulle trou Saterdag en dis nou juis die rede dat Ouma vandag ‘n perm moet kry. Ma en Pa werk altwee, so dis natuurlik buite die kwessie vir hulle om vir Ouma rond te ry. So die gelukkige wenner, is ek. Terug in die kamer, gooi ek ‘n ligte somersrokkie oor my kop en bondel my lang hare in ‘n morsige bolla. Wonder wat ek met my hare gaan doen vir die troue? Ek tel my beker op en sluk die laaste koffie daaruit wat koud geword het terwyl ek in die stort was. Ek druk my voete in ‘n paar sandale en gryp my Golfie se sleutels, beursie en selfoon. Here we go.
Die Maandagoggend verkeer is mal. Die bestuurders in die ander voertuie lyk ook maar nog net so deur die slaap soos ek. By die kompleks teken ek in en ry deur in die nou al bekende paadjie af na Ouma-hulle se straat. Niemand wil ooit vir Ouma rondry nie. Selfs nie Oupa nie. Al wanneer hy saam met Ouma in ‘n kar is, is as hulle elke Sondagmiddag vir ons kom kuier. As Ouma iets nodig het of op ‘n plek moet wees, is dit altyd ek en my Golfie wat verby moet kom. Ek hou stil voor die huisie, net so wit en eenvoudig soos al die ander. Die voordeur staan oop.
Oupa weet ek kom haal haar, daar is vooraf met hom gereël. Ek klim uit, sluit en loop by die huis in, maar daar is nie ‘n siel insig nie. Ek roep na hulle. Kyk rond in die kombuis en klein sitkamertjie. Daar staan ‘n bakkie met iets wat lyk soos half geëete hawermout. Ouma verskyn met ‘n dowwe geskuifel uit die gang. “Hallo en wat maak jy hier?” groet sy.
“Ek kom Ouma haal vir Ouma se hare. Is Ouma gereed?” Sy lyk nie gereed nie.
Sy het ‘n ou sweetpakbroek aan, pantoffels en ‘n wit trui wat hopeloos te groot hang aan die klein skouertjies. Die gerimpelde gesig is ook nog nie eens gewas nie, sien ek. “Wat makeer my hare dan?” vra Ouma en glimlag dom.
“Ons gaan Ouma laat mooimaak vir Boeta se troue. Ouma weet mos.”
Sy skuifel- skuifel kombuis toe en kyk by die venster uit. So asof sy my nie hoor of raaksien nie. “Waar is Oupa?” vra ek.
“Nee jong, ek weet nie.” antwoord Ouma en kyk weer na my. “Wat maak jy hier?”
Ek sug. “Ek het Ouma kom haal. Ons gaan haarkapper toe. Hoe weet Ouma nie waar Oupa is nie?” Die grys koppie skud heen en weer.
“Hy is net hier uit. Kuier seker weer by die buurvrou.” Die irritasie krap aan my maag. Ek loop deur die huisie, kyk buite om die huisie en in die garage. Hulle kar staan nie daar nie. Oupa het gery. Vervlaks! Hy het geweet ons kom haar haal en hy is nie veronderstel om haar alleen te los nie. “Oupa het gery, Ouma. Weet Ouma waarheen?” vra ek. Sy staan nog steeds in die kombuis voor die venster.
Hande in mekaar gevou. “Kyk in die kamer. Hy sit en lees daar ‘n koerant of ‘n ding.” sê Ouma. Ek byt op my tande.
“Oupa het gery, Ouma. Hy is nie hier nie.” Ek soek na ‘n stukkie papier en ‘n skryfding. Sal maar vir hom ‘n briefie los. Ek moét nou ry, anders gaan ons nie betyds wees vir Ouma se afspraak nie. “Het Ouma al geëet vanoggend?” vra ek en sit die nota so neer dat Oupa dit dadelik sal raaksien.
“Nee.” antwoord Ouma.
“Wie se pap is dit dan dié?” vra ek en beduie na die bakkie.
“Nee, ek weet nie.” glimlag ouma.
“Wil Ouma ander klere aantrek voor ons gaan?” vra ek.
“Hoekom? Waarheen gaan ons dan?” sy glimlag nog steeds. Ek dink nie dis ‘n vriendelike glimlag nie, sy doen dit omdat sy nie weet wat anders om te doen nie. “Ons gaan gou Ouma se hare mooi maak. Wil Ouma iets anders aantrek of is Ouma warm genoeg?” Die ongeduld pluk nou aan my stembande. Ek haat hierdie situasie waarin ek forseer word. “Nee, ek is reg.” sê Ouma.
“Nou kom dat ons ry, Ouma.” sê ek en vat haar hand. Ons loop by die voordeur uit. Ek trek dit agter my toe. Sal maar nie sluit nie, netnou kan Oupa nie terug in nie. Sal eintlik sy verdiende loon wees. Ons het al hoeveel keer vir hom gesê om nie vir Ouma op haar eie te los nie.
“Waarheen gaan ons dan nou?” vra Ouma toe ek die Golfie se enjin aanskakel. “Haarkapper toe, Ouma.” Ma sê altyd dit help nie om moeilik te raak nie. Antwoord maar net weer en weer dieselfde ding.
“Maar daar is niks fout met my hare nie.” sê Ouma verontwaardig.
“Ek weet, Ouma, maar ons gaan dit ekstra mooi maak. Vir Boeta se troue Saterdag.” Ek wag dat sy moet vra wie Boeta is of met met wie trou Boeta, maar sy doen nie. Ons ry in stilte by die kompleks uit. Ek is klaar vyf minute laat en vleg versigtig deur die verkeer. Ons laat doen gewoonlik Ouma se hare by ‘n vrou wat ‘n haarsalon by haar huis het. Dis makliker, want daar is minder mense en die vrou is baie geduldig met Ouma. “I dreamed a dream in times gone by.” sê Ouma saggies.
“When hope was high and life worth living.” voltooi ek. Dis ‘n liedjie wat Ouma gereeld sing of opsê wanneer sy verbouereerd voel.
“Waarheen gaan ons nou?” vra sy. Ek trap die petrolpedaal dieper in. Jesus, help my deur die oggend asseblief. “Haarkapper toe.” antwoord ek.
Ek hou stil in die straat voor die haarkapper se huis. Help Ouma met moeite uit die Golfie en oor die straat. Die haarkapper groet vriendelik toe ons die deur oopstoot. “More tannie. Lekker om tannie weer te sien.” sê sy vir Ouma, maar Ouma maak of sy haar nie hoor nie. Ek skud my kop verksonend en die haarkapper knik om te wys sy verstaan. “Sit solank daar op die bankie, ek is nou by julle.” sê sy en draai om om verder te knip aan ‘n vrou se reeds te kort hare. Ek en Ouma gaan sit op die harde bankie in die hoek. Spesiaal daar geplaas vir wagtende kliënte. Die salon is nie so stil soos ek gehoop het nie. Al is dit nog vroeg, het al vier die haarkapper se stoele ‘n lyf in. “Nou wat maak ons hier?” vra Ouma. Die vrou naaste aan ons loer onderlangs na Ouma. Haar kop is vol silver velletjies. Lyk of sy highlights kry.
“Ons kom maak Ouma se hare mooi.” fluister ek vir ouma in die hoop dat sy die skimp vang en ook sagter sal praat. Ek gryp ‘n tydskrif van ‘n hoop af en druk dit in Ouma se skoot. Ek weet sy lees lankal nie meer nie, maar die prentjies sal haar besig hou. Die haarkapper is byna klaar met die vrou met die kort hare. Sy het twee bruin vroutjies wat haar help om hare te was, droog te blaas en die geknipte hare weg te vee. Haar ma help ook soms uit, maar ek sien nie die tannie vandag hier nie. Ouma blaai lusteloos deur die tydskrif. Kyk na niks in besonder nie. Gou is sy deur dit en moet ek ‘n nuwe een aangee. Die vrou onder die velletjies foil kyk aanmekaar na Ouma se kant toe. Ek besef dadelik dat Ouma se sweetpakbroek-en-pantoffel uitrusting haar seker interesseer, want syself is geklee in ‘n swart stywe broek en rooi hoë hakke. Seker oppad na ‘n funksie toe of iets.
Die haarkapper haal die swart oorseil van die korthaar vrou se skouers af. Die vrou bekyk die kapsel van alle kante af, bedank die haarkapper, staan op en loop saam met die haarkapper na die till toe. Een van die bruin vroutjies kom dadelik met die besem nader en begin vee. Ouma kyk van die tydskrif af op. Die vrou met die besem het haar aandag getrek. “Kyk net hoe groot is haar agterstewe.” hak ouma kliphard af. Eers toe ek na die vroutjie kyk, sien ek vir die eerste keer die rondelyfie wat in ‘n te stywe denim ingedruk is. “En die dik bene! Hoe kom sy weer uit daai broek uit?” Ek het lus en kruip onder die harde bankie in! Die vrou onder die foil kyk na ons. My gesig slaan aan die brand. Ek kyk vining om te sien of die vroutjie met die besem gehoor het, maar ‘n droeër oor een van die ander vrouens se koppe dreun gelukkig hard genoeg. Ouma se woorde het net my ore en die vrou met die foil bereik.
“Wat sien Ouma wat mooi is in die boek?” probeer ek die onderwerp verander en Ouma se aandag van die bruin vrou met die stywe broek weglei. Ouma antwoord nie, blaai net weer deur die boek vol huis en tuin prentjies. Ek sug van verligting. Ouma kan mens soms lelik in die skande steek. Sy sê net wat in haar kop opkom, van enige iets of iemand. Sonder filter, sonder klankdemper, sonder nadink oor die gevolge. Nes ‘n klein kindjie. Die vrou met die kort hare groet die haarkapper en loop by die salon uit. “So ja tannie,” sê die haarkapper toe sy nader loop. “nou is dit tannie se beurt. Kom ons gaan was eers gou die haartjies.” Ouma kyk op van die tydskrif af na die haarkapper en dan na my. “Waarheen gaan ons nou?” vra sy. Sy lyk bang. “Ons gaan nou Ouma se hare mooimaak.” sê die vrou. Dankie Jesus, dis een minder antwoord wat ek moet gee. “Maar daar is niks fout met my hare nie. Ek wil huistoe gaan.” sê Ouma opstandig. Die vrou onder die foil kyk weer. “Alzheimers.” fluister die haarkapper vir haar en beduie met haar wysvinger na haar kop. Ek het mense dit al dikwels sien doen en dit maak my so befoeterd. Die gebaar wat aandui dat iemand mal in die kop is. Dis okay as ék dit doen, maar ander mense moenie so van my ouma praat nie. Sy kan nie help nie. Hulle weet nie wat dit is om so te wees of wat dit is om saam met so ‘n persoon te leef nie! “Kom Ouma.” sê ek en vat die tydskrif by haar. “Ouma se hare is mooi. maar ons gaan Ouma net nog mooier maak. Vir Boeta se troue, onthou?” Ek help Ouma op. Sy loop gedweë agter my aan na die wasbak waar ‘n ander bruin vroutjie wag. Die haarkapper sê sy is nou met ons en gaan solank aan met die vrou onder foil. Ek en die bruin vroutjie help Ouma op die stoel voor die wasbak. Gooi die handdoeke oor en verstel die stoel tot sy gemaklik sit. Onderlangs hou ek die haarkapper en die foil tannie dop. Druk ingesprek en hulle kyk kort-kort in ons rigting. Die droeër se gedreun maak dat ek nie kan hoor wat hulle sê nie, maar ek weet waaroor daardie gesprek gaan.
“My boude is te groot vir die stoel.” onderbreek Ouma my gedagtes. Ek kan nie help om te glimlag nie. Die vroutjie agter die wasbak glimlag ook. Sy paai Ouma, vertel haar sy kan onstpan. Sy sal saggies werk. Almal ken nou al vir Ouma. Eendag kom sy in, dan is die water te warm of te koud. Of sy gil dat hulle haar seermaak of sy kla hulle werk te sag. Hulle weet nou al hoe om haar te hanteer, nes ons. Jy hoor maar wat sy te sê het, maar gaan normaal voort sonder om jou regtig aan haar versoeke te steur, want hulle verander elke minuut. Maar vandag is Ouma rustig en ek stuur ‘n skietgebed na Bo. Sy sit stil deur die hele kopwas-sessie. Kla nie eenkeer nie.
Ek staan langs haar. Soos altyd. Moes dit van die begin af so doen. Wasbak, stoel, knip, perm, terug wasbak toe en dan weer terug stoel toe vir droogblaas en kam. Heel pad piekel ek so saam met Ouma. Solank sy jou by haar sien, is sy rustig. Los jy haar op haar eie tussen die vreemde mense, maak sy amok. Soos die keer wat sy die conditioner oor die spieëls gespuit het. Dit was die eerste keer wat ek haar moes bring en ek was nog nie so gekonfyt met Ouma en die haarsalon ritueel nie. Ek het op die harde bankie in die hoek bly sit en tydskrifte deur geblaai. Toe hulle Ouma se hare was, spring sy skielik van die stoel af op en skel die vroutjie wat haar hare was uit. Ouma het vas gegelo die vrou het in die tuin gewerk voor sy ingekom het en met haar vuil hande aan Ouma se kop begin werk. Toe gryp sy die naaste bottel en druk dit so hard dat die conditioner in dik strepe deur die lug trek.
Ek is dankbaar vir mense soos die personeel hier by die haarsalon. Hulle stap die pad saam met ons en Ouma. Hulle doen moeite om Ouma te akkommodeer ten alle tye en in alle situasies. Nes ons ook doen. Ek kan nou verstaan hoekom my suster nie Ouma in haar salon wil hê nie. Dis nie net oor die skaamkry nie. Dis ‘n ontwrigting. Vir haar, haar besigheid en vir Ouma. Want solank Ouma in ‘n omgewing is waaraan sy gewoond is of bekend is mee, is sy fine. Dis in nuwe plekke en vreemde spasies dat sy snaaks raak. Bang, benoud en onseker. Soos ‘n kind in ‘n groot winkelsenstrum wat van sy ma af weggedwaal het.
Ouma se hare is klaar gewas en ons beweeg na die volgende stasie. Hierdie staan gaan lank wees, want daai krullertjies vat nogal ‘n tydjie om in te draai. Weer help ek en die vroutjie haar op die stoel, verstel en skuif reg tot sy gemaklik sit. Die haarkapper haal die laaste stukkie foil uit die ander vrou se kop en stuur haar wasbak toe vir afwas. Dan kom staan sy agter Ouma. “Daarsy Oumatjie. Nou kan ons met jou begin.” sê sy. Hoekom praat almal met haar in verklein woorde? Oumatjie het ‘n mooi truitjie aan. Watter kossies wil Oumatjie eet vandag? Hoekom lyk die ogies dan so hartseer? Dit irriteer my grensloos. En dis mý ouma, sy is niks van die ander nie. Nie almal hoef haar so te “Oumatjie” asof hulle deel is van ons familie nie. Of dalk is hulle? Dalk is hulle in medelye en probeer verstaan deel van ons én haar.
Die haarkapper begin met die perm op Ouma se kop. Sy maak verskoning vir die koue stink vloeistof wat sy op die fyn haartjies spuit. Ouma hou haar dop in die spieël . Sê niks. Wonder wat dink sy? Ek haal my selfoon uit my rok se sak en vang op op die nuutste sosiale media nuus. Gou-gou is Ouma se kop vol van die klein bont krullertjies. Die haarkapper draai weg en gaan voort met die ander dames se koppe. Ek gee weer vir Ouma ‘n tydskrif aan vir prentjies kyk, want sy begin vroetel met die handdoek wat om haar kop gedraai is. Sy gee twee blaaie en klap dan die tydskrif toe, gooi hom op die kassie voor haar neer. “En nou, Ouma?” vra ek.
“Ek mis my man. Wanneer kan ek hom weer sien?” Ek vat die tydskrif en sit dit netjies terug op die hoop. “Nou-nou, ons is amper klaar hier.” paai ek.
“I dreamed a dream.” sê sy sag.
“Wat dink Ouma van die rok wat Ma vir Ouma gekoop het vir Boeta se troue?” probeer ek haar aandag terug kry in die werklikheid. Tevergeefs. Ouma zone heeltemal uit. Ek sien sy skuif-skuif rond op haar stoel, trap onder teen die muur vas en gly af. “Ouma moet stilsit, anders gaan Ouma afval” waarsku ek. Sy glimlag stout en hou aan. Sit regop en gly dan weer af tot op die punt van haar stoel. Nes ‘n stout kind. “Ouma gaan val.” sê ek streng.
“Is nie” praat sy teë. “My boude is net te klein vir die stoel.”
Liewe Vader, ek het al gehoor mense praat van oumense wat weer soos kinders word, maar dis heeltemal anders as jy dit eerstehands beleef. Daar is so baie mense wat kla oor die grootmens wêreld en dikwels terugwens na hulle sorglose kinderjare. Is dit dalk ‘n wens van Ouma wat waar geword het? Haar brein het ge-reverse na ‘n tydperk van dom en afhanklik wees. Mense met dié kopsiekte word weer kinders. Met kinders word daar geraas en met moeite en geduld geleer van die wêreld om hulle. Wat maak Ouma dan soveel anders? Net die ouderdom. Hoekom kan ons nie so verdraagsaam wees met Alzheimer-oues soos ons met klein kiddies is nie? Of is dit omdat Alzheimer ‘n siekte is, ‘n toestand waarvoor die oningeligtes vlug, want netnou moet hulle help of netnou steek hulle aan.
Ek bid die minute in die salon verby. Ouma se krullertjies word uitgehaal, hare gespoel en drooggeblaas. Die netjiese kapsel laat lyk haar sommer ‘n jaar of wat jonger. As ek vining na haar kyk, kan ek my verbeel dis die ou ouma van vyf jaar terug. Voor die groot vergeet sy tol geneem het. Ons ry in stilte huistoe. Ouma vra nie vrae nie, dream ook nie dreams nie.
Voor hulle huisie in die aftreekompleks hou ek weer stil. Die garage staan oop en ek sien hulle karretjie daarbinne. Oupa is terug. Die oggend het my moeg gemaak, ek het nie nou lus vir baklei met hom nie. Sal dit maar los vir Ma om te doen. Ons klim uit en ek help Ouma oor die tuinpaadjie tot in die huis. Oupa staan en lees koerant in die kombuis. Die half geëete pap staan nog steeds daar. Die lepel stokstyf in die koue hawermout. “Hallo Oupa.” groet ek. “Dagsê.” Hy vou die koerant toe en kyk na ons. “Wat het jy met jou hare aangevang?” vra hy vir Ouma.
Hulle het my mooi gemaak.” sê Ouma en glimlag vir Oupa. Sy loop opgewonde na hom toe, armpies uitgestrek vir ‘n drukkie, maar Oupa bly staan met sy hande op die koerant. “Hoekom doen julle dit?” vra hy vir my. Ignoreer vir ouma wat styf teen hom gaan staan. “Dis vir Boeta se troue Saterdag, Oupa.” antwoord ek.
“Sy gaan nie so saam met my nie.” brom hy. Is hy nou ernstig of grap hy?
“En hoekom nie?” vra Ouma verontwaardig.
“Nie met daai hare nie.” sê Oupa kwaai.
“Ai nee man, oupa. Ouma lyk pragtig.” sê ek met ‘n frons wat ek tot in my kroontjie kan voel. Wat gaan met Oupa aan? Ouma lyk sommer afgehaal en staan weg van oupa af. “Toemaar Ouma, Oupa terg net. Hy dink Ouma lyk sexy verby.” probeer ek troos en gee vir Oupa ‘n dringende kyk. Ek hoop hy kan sien hoe my oë hom waarsku om nie so lelik met ouma te wees nie, maar hy kyk dit mis.
“Sy gaan nie so saam met my nie.” hou hy vol.
“I dreamed a dream.” prewel Ouma.
Ag Vader van genade, behoede my. Ek het Ouma deur die oggend en die salonepisode gehelp, ek het nie nou lus vir ‘n hardkoppige oupa ook nie. Ek sal dié een ook vir my ma los om mee te deal. Dit is afterall háár ouers. “Wel, die hare is nou gedoen Oupa, en ek dink Ouma lyk pragtig. Ek moet nou weer gaan. Moet gaan swot vir die volgende toets. Koebaai.” Ek plak ‘n soen op sy wang, gee vir Ouma ‘n drukkie en maak dat ek weg kom.
Oppad terug huistoe, hak Ouma se liedjie in my kop was. I dreamed a dream in times gone by. Dit gaan oor drome wat verlore is, tragies. Ek het die movie al gesien en my in ‘n mik gehuil. Maar ek dink Ouma klou vas aan die woorde oor meer as net drome wat verlore is. Ek dink hierdie hele ding voel vir Ouma soos ‘n droom.
‘n Nagmerrie waarin sy vasgevang en vasgebind is in ‘n toestand waaruit sy nie kan ontsnap nie. Vader van genade én drome. Mag ek myself nooit in so ‘n nagmerrie bevind nie.
2 Kommentare
-
neels
Helena hierdie is werklik goed geskryf. so goes dat mens jouself in die situasie kan inleef
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die ‘n Stem vir Gesondheid projek