Jongste aktiwiteit:

Pa’s, waar is julle? (SILWER)

Pa’s, waar is julle?

Ons hoor so baie van die nuwe normaal, die na-Covid tyd waarin ons nou lewe. As ek so na die wêreld om ons kyk, sien ek egter ʼn ander neiging: weinig pa’s wat hulle kinders ondersteun. Ons lewe nou maar eenmaal in ʼn gebroke wêreld en die afwesigheid kan baie vorme aanneem. Egskeidings, enkelouers en pa’s wat net besluit om eerder die pad te vat is maar paar van die voorbeelde van sulke gevalle. Sommige pa’s is wel nie weg nie, maar so verskriklik besig om te werk, dat hulle die tyd wat hul kinders hul die nodigste het, mis. Dit is so dat die lewe duur is en dat die pa in baie gevalle die broodwinner is, maar daar moet ʼn balans gehandhaaf word.

Pappa – as jy nie daar is as ʼn primêre rolmodel nie, na wie kyk jou kind op vir leiding? So baie kinders kyk dan na die lewens van beroemdes, sportsterre, politici of selfs in sommige gevalle is dit die bendeleier wat as voorbeeld gevolg word. Die invloed wat ʼn pa op ʼn kind se lewe het, is geweldig belangrik. Die ma is die versorger, maar die pa behoort daar te wees om die ma in haar rol by te staan en te ondersteun.

Die skoolgaande kind het dikwels onderwysers wat ʼn rolmodel vir hulle word. Deesdae is die tendens egter ook dat daar meer onderwyseresse as onderwysers is, so word die probleem net erger. Dit is veral seuns wat sonder pa’s grootword wat dikwels ook meer tekens van aggressie toon in hulle optrede. In baie gevalle sukkel hierdie kinders ook met depressie en angstigheid.

Die wonderlikste is dat ʼn pa nie regtig veel hoef te doen om hulle kinders se superheld te wees nie. Pa’s wat tyd maak om saam hulle kinders te wees, vind ook baat by hierdie verhouding. Dogters kyk altyd na hulle pa’s as hulle rolmodel en eendag as hulle op die uitkyk is vir ʼn maat, sal sy ook die goeie eienskappe van haar pa soek.

Pa’s moet nie wag om die rol te speel nie. Begin sommer al kleintyd in jou kind se lewe – wees betrokke en belê in jou kind se lewe.

Daar word vertel dat Charles Francis Adams, groot politikus van die 19de Eeu graag dagboek gehou het. Een betrokke dag het hy geskryf: “Went fishing with my son, a day wasted.” Sy seun, Brook het ook dieselfde gewoonte gehad om in sy dagboek te skryf. Sy inskrywing vir daardie selfde dag was: “Went fishing with my father today, the most glorious day of my life.”

Die tyd wat jy saam jou kinders deurbring, voel dalk nou vir jou of dit verlore tyd is, maar dit mag die grootste belegging wees wat jy kon maak. Wees betrokke.

©Marlene Erasmus
31/05/2022
(462 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed