Poësie in die kubermark: ´n verhandeling oor die ligitimiteit daarvan.
Ek behoort een vraag te vra, en dan poog om dit te beantwoord. Het die sosiale forums tot die kwaliteit van poësie bygedra, of net die deur oopgemaak vir ´n aanlyn talentsoek operasie waar vriende vir mekaar lieg oor kwaliteit en waarde?
Ek waak ook daarteen om té omslagtig te redeneer, maar skuld dit aan myself om vir eens en altyd hierdie saak by die spreukwoordelike horings te pak. ´n Interessante plek om te begin is dalk ´n uittreksel uit Bibi Slippers se opiniestuk op Litnet (1)en ek haal aan: ´Al val die lys van gewildste gedigte nie heeltemal in my smaak nie, is ek is bly dat dit gesprek oor digkuns aanmoedig… Wat vir my jammer is, is dat die gesprek tot dusver lyk of dit die kloof tussen digters en poësielesers net nog groter maak. Een leser beskryf die hedendaagse digter as “’n koue, kritiese, vyandige randfiguur”. Met “kritiese” en “randfiguur” het ek nie eintlik ’n probleem nie, maar ek wonder oor die “koue” en “vyandige”. Is dit regtig so? En indien wel, is dit ’n probleem om as koud en vyandig ervaar te word?´
Met dit in gedagte, kan die teenoorgestelde van die ´maatjielesers´ gesê word? Dat hulle juis nie koud en vyandig genoeg is nie, al is dit soms nodig?
Ek sou graag wou, ter wille van behoorlike huishouding, weet wie die leser of bydraer is wat na digters as randfigure sou verwys, maar kon nie vir die beste pogings ´n skakel daarna vind nie.
Ek wil nie noodwendig daarvan verskil nie, maar ek wonder of dit nie meer waar is vir die deelnemende digters wat spelfout-belaaide, akademies-korrupte, slordige en afgejaagde werk die kuberruimte instuur nie, en dan koorsangers het wat selfs slegter oordeelsvermoeë as hulself het? Die komplimentêre brigade is vir my die randfigure wat meer skade doen as wat nodig is. Hulle blaas die beuels totdat hul bek na koper stink, en daardeur vir die kuberdigter ´n valsboom van hoop skep. Daar is geen gevaarliker ´talentvolle´ as die een wat dink hy/sy is goed onderwyl dit so wyd soos die Heer se genade verwyder is van die waarheid nie.
In ´n artikel (2), ook op Litnet, oor die bekendstelling van ´n aanlyn digakademie verwys Nini Bennett na digters op sosiale media: ´het daar ook subgroeperinge op blaaie begin ontstaan waar gebruikers poog om gedigte te skryf. Dié skrywes het eerstens ten doel om te sosialiseer, en moenie met letterkunde verwar word nie.´ Sou dit die deursnit opinie wees, of is dit ´n teken dat snobisme en purisme ook hiér sy aaklige kloue ingeslaan het? Is sy ware- of duiwelsadvokaat? Dit moet hierin beantwoord word, en juis daarom is hierdie debat nodig. Ek dink vir die grootste meerderheid is Bennett egter heel op die merk, maar met die ongesonde luide skare, wat eintlik nét so min van goeie digkuns weet, word ´n valse beeld van talent by dié sogenaamde versmakers geskep.
Louis Esterhuizen verwys in enkele sinne (3) so na die onderwerp van aanlyndigters: ´En natuurlik plaas die klem op produksie eerder as gehalte die digkuns vierkantig binne die raamwerk van ons verbruikerskultuur waar “kits” en lighartige “entertainment” die wagwoorde is. Of dit ‘n probleem is? Ek weet nie … Dalk mag die poësie van veer verander, maar dat dit ‘n gevogelte is wat gaan (kan) oorleef te midde van snelveranderende tegnologie en lesersvoorkeure, is nie te betwyfel nie…´ en verder waarin hy ook ´n blog van Leo van Sterren aanhaal: ´Inderdaad. Kwantiteit was immers nog nooit ‘n waarborg vir kwaliteit nie. Van der Sterren stel dit soos volg: “Het streven van de dichter om door en met zijn gedichten de status van onsterfelijkheid te bereiken is vervangen door de zucht om zoveel mogelijk teksten de openbare ruimte in te plempen. De kwaliteit van die teksten, niemand maalt er nog om. Maar het lot van onsterfelijkheid is slechts een miniem groepje van uitverkoren dichters beschoren. En dan nog maar met één of enkele gevleugelde woorden die tot algemene zegswijzen zijn uitgegroeid.´
Hieruit blyk dit dat dieselfde uitdagings óók in ander dele van die wêreld ervaar word, omdat ek aanneem Van der Sterren in Nederland woon. Met ´n verwysing na Mellet Moll in die skrywe, het dit dan ook so gebeur dat Moll hierop kommentaar gelewer het, en so lees sy reaksie (4) : ´ Die sosiale media het ‘n stem gegee aan die massas, heelparty is mense wat wil dig. Hulle doen dit om verskeie redes, en uiteraard wissel die gehalte van beginners tot en met gevestigde digters. Dis wat dit so populêr maak: die vermening van stemme en die feit dat elke een wat deelneem, ‘n siel is wat vir die kunsvorm gewen word. Dis mense wat belangstel in die geskrewe woord, wat bundels koop en wat Afrikaanse poësie sien floreer. Dit verbreed die landskap en maak toegang daartoe vir elkeen moontlik. Ons het met verloop van tyd gegroei tot ons huidige formaat en grootte. (…) het vandag meer as een blad op die sosiale media, veral omdat dit belangrik geraak het om te onderskei tussen veral die beginners, wat uiters sensitief is vir literêre kritiek, en ons tweede blad, (….) waar literêre kritiek gelewer word en geskaaf word aan werk met die doel om te verbeter.´
Ek kan natuurlik meer breedvoerig ingaan en meer akademiese opinies hierop gaan na-lees, maar uit die reeds gekwoteerde verwysings is dit duidelik dat die grootste deel van opinionista´s dieselfde standpunt handhaaf. Daar is ongelooflik baie poësie wat op sosiale media geplaas word; dat kwantiteit soms meer belangrik is as kwaliteit en dat ´n groot gross van daardie digters uiters sensitief is vir kritiek, hetsy positief of negatief.
My beskeie mening bly ten spyt en my kritiek is nie so-seer teen die hoeveelheid digwerk nie, maar eerder teen die oneerlike gehore. Omdat daar vir solank vir so baie gelieg is oor hul vermoë, word dit vir die ernstige moderators (en helpers) elke dag moeiliker om op die eiers te loop daar waar die koue en skugter siele van die onleerbare digters geberg word.
Ek neem dit net vir myself: as iemand my beste belange op die hart dra, sal hulle vir my sê as daar ´n snotbel uit my neus uithang, en ek verwag dieselfde van my lesersgehoor en vriende: wys my op dit wat verkeerd, aanstootlik en net bloot kaf is.
Miskien is hierdie ´n oorlog wat ek binne-in myself moet veg, vir nog ´n kort rukkie en alleen en in stilte, want:
Daniël Hugo sê dit dalk die beste, en hiermee sluit ek af: ´die digter sal onvolmaak bly skryf tot daardie dag van die leeu en die lam, die kat en die duif.´
Eduard Smith
(1) : http://www.litnet.co.za/100-bedonderd/
(2) http://www.litnet.co.za/poolshoogte-die-bedryf-van-n-aanlyn-digkunsakademie/
(3) http://versindaba.co.za/2012/09/17/louis-esterhuizen-inderdaad-reen-dit-digters-en-gedigte/
(4) http://versindaba.co.za/2012/09/17/louis-esterhuizen-inderdaad-reen-dit-digters-en-gedigte/
4 Kommentare
-
Koekekranka
Jy weet, ons op hierdie webtuiste koester, dalkies letterkundig -menende in staat (en ek bevoel na lesing van jou kennige inset duidelik dalkies mistastend?) uit eie ervaring iewerwaar 'n glipsigheid! Ek glo soos 'n blindemol dat jy hier meer beet het as wat jy insiggewend dalk gemeen het om uit uitwis van irritasie te kweel.... Doet so voort ter bevryding , maar veral verbreding van ons skat:Afrikaans!
-
Viooltjie
Dankie vir die interessante artikel, Eduard. Dit is seker iets waaroor lank gedebatteer kan word. Dis 'n moeilike onderwerp om te bespreek sonder om op tone te trap. Maar wat 'n mens se opinie ookal is oor die gehalte ens. van skrywe op die kuberruim, dink ek ons kan almal saamstem dat dit meer voordele as nadele vir die Afrikaanse taal inhou. :-) Ek het jou artikel baie geniet. Dankie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Jy het hierdie stuk baie goed nagevors Eduard, ek het dit baie interessant gevind, dankie vir die deel daarvan